Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all 1806 articles
Browse latest View live

Hans gee Herklaas horings deur Rudie van Rensburg

$
0
0

Titel: Hans gee Herklaas horings
Skrywer: Rudie van Rensburg
Uitgewer: Queillerie, 2020
ISBN: 9780795802324

Rudie van Rensburg het al agt gewilde spanningsverhale geskryf: Slagyster, Kopskoot, Judaskus, Pirana, Kamikaze (die 2018-wenner van die ATKV Woordveertjie vir spanningsfiksie), Ys, Medusa en Vloek, en die komiese roman Hans steek die Rubicon oor.

In sy nuutste komiese roman, Hans gee vir Herklaas horings, is Hans van Kraaienburg, verlosser van Huis Madeliefie se oumense, terug. Sy vriend, Vasie, nooi hom vir ’n vakansie op Hermanus, as gaste van dié se neef Herklaas. Die uitnodiging kom op die regte tyd, want dinge by Huis Madeliefie dreig om handuit te ruk en ’n wegbreek is dalk net wat Hans nodig het.

Daar gekom, vind hulle Herklaas is in ’n benarde situasie: Die Overstrand se rykste skobbejak, Grond Graaffwater, wil sy blyplek koop en herontwikkel in ’n luukse hotel – maar Herklaas wil nié trek nie. Toe Grond se kriminele handlangers tot aksie oorgaan, besluit Hans dat Herklaas ’n stel horings moet kry om Grond trompop te loop.

Rudie skryf op sy webwerf oor die vorige Hans-avontuur: "Op 90 is Hans nog hups en springlewendig. Sy orige kinders maneuvreer hom egter vanuit hul tuistes oorsee uit sy lekker ou huis in die Kaap en in Huis Madeliefie in. Maar Hans skop nog kliphard, en gou lei hy ’n ouetehuisopstand teen die onhoudbaar drakoniese matrone – ’n afgetrede tronkbewaarder ...

"Dis daggakoekies, ontkleedansers en vet sports net waar jy kyk in hierdie hoogs komiese roman oor oudword op eie terme."

En dis juis waar ek my resensie oor die tweede Hans-avontuur wil aanhaak. Daardie "oudword op eie terme". Mag ek ook kan oudword soos Hans van Kraaienburg – sonder die safaripak en Crocs natuurlik – maar met dieselfde onblusbare lus vir die lewe; vir lekker uiteet, ’n whisky drink en nie gaan lê nie, selfs nie eers as almal om jou kla en kerm nie. My terme.

Ek het die voorreg gehad om twee maal die gespreksleier te wees by Rudie se misdaadromanbekendstellings. Ek kan dus nie sy boeke lees sonder om sy rustigheid te herroep, maar ook daardie vonkel in sy oog as hy iets komies gaan kwytraak nie. In my geestesoog is Hans van Kraaienburg dalk ’n baie ouer Rudie, en dit maak die boeke vir my nog lekkerder om te lees.

As ek reg onthou, was Hans se eerste avonture aanvanklik ’n kortverhaal. Die vollengteroman was ’n topverkoper en ek vermoed die nuwe een gaan in sy voetspore volg. Met alles en almal wat so neerslagtig is oor inperking en die politiek, is dié humor beslis wat die dokter voorgeskryf het.

Ek het ’n paar ouer vriende in tehuise vir bejaardes of bloot veiligheidskomplekse met beheerrade. Hul klagtes van mede-inwoners is baie gereeld net so belaglik of bisar soos dié waarmee Hans te make het in Huis Madeliefie. En hoe skreeusnaaks is sommige hiervan nie. En Hans se uitdrukkings en beskrywings laat jou ook gereeld trane afvee, soos die plakkaat in die mansbadkamers: "Staan nader as jy korrel. Onthou, jy het ’n kortsnoet-pistooltjie in jou hande, nie ’n langloopgeweer nie."

Of Vaaltuin Marais se baberbek en sy sketterstem; Voëltjie Trollip met sy jakkalsdraffie en enkele haar op sy kop wat "heen en weer wieg soos ’n lugdraad"; of Klaas Beandie se broekspype wat weer minstens ’n voet bo sy skoene sit – lyk of hy altyd te diep in sy broek spring.

Dan is daar ander kwinkslae, soos die beskrywing van die tattoo parlour: "Sy arms lyk vir Hans soos ’n kaart in ’n skoolatlas." Of die kleinkind wat voortydig swanger geword het met "die bal geskop het voor die fluitjie geblaas het" en "hy en dié kêrel breek nie brandhout van dieselfde tak nie". Sommige is so oorspronklik, jy lees twee maal om te verseker jou oë bedrieg jou nie.

Hans se stres oor die tehuis laat jou ook lag, al is dit net oor die manier waarop hy dinge verwoord.

Die skurk, Grond, en sy vrou, Bernadette, is weer eens bewys daarvan dat geld nie klas koop nie. Hul goue sweetpakke, pruike en liefde vir oordadigheid maak hulle eintlik meer lagwekkend as skrikwekkend.

En beskrywings soos "die onooglike moeisie op haar wang wat deur de jare al hoe meer soos ’n vrugtetor begin lyk" en "haar swaar grimering wat soos Spaanse pleisterwerk ouderdomskrake moet verdoesel" skep baie duidelik die prentjie van dié twee.

Vir die kritiese leser is daar natuurlik hopeloos te veel dinge wat te goed is om waar te wees of toevallighede wat die storie beter laat vlot, maar vir hulle wil ek byna woorde in Hans se mond lê en sê: "Sluk ’n chill pill."

Skink ’n glas wyn, krul op in jou gunstelingstoel en laat die trane lekker loop vir Hans-hulle se eskapades. Ek hoop daar is nog vele Hans-boeke vorentoe.

The post <em>Hans gee Herklaas horings</em> deur Rudie van Rensburg appeared first on LitNet.


Die opstand van Poppie Nel deur Hans du Plessis: ’n resensie

$
0
0

Foto van Hans du Plessis: LitNet

Die opstand van Poppie Nel
Hans du Plessis
Lapa Uitgewers, 2020
ISBN 978 0 7993 9989 9

Met Die opstand van Poppie Nel skryf die gewilde en gerespekteerde skrywer en digter Hans du Plessis ’n belangrike roman: Geslagsgebaseerde geweld het sedert die inperking geëskaleer en bly een van die brandpunte van ons zeitgeist. Geweld teen vroue kom in alle gedaantes voor, en in dié roman maak die leser kennis met die sielkundige en seksuele trauma wat vroue binne religieuse kultusse (sektes) beleef.

Die inleidende motto tot die verhaal is die FAK-liedjie "Staan, Poppie, staan":

Staan, Poppie, staan
en laat jou gedagte gaan
dat jy vir my kan sê
hoe diep die liefde lê.

Die woorde resoneer met die titel, waar die woord "opstand" verwant is aan opstaan teen iets / in verset kom teen iets. ’n Vrou se hand in ’n verweerposisie en die suggestie van spinnekopdrade is ’n voorafskaduwing van die web van verraad en leuens waarin Poppie haar gaan bevind. Tematies skakel die werk met Christine Barkhuizen-le Roux se roman Getuie (2012), wat die wanpraktyke van die Jehovagetuies as kultus aan die kaak stel.

Die verhaal se teenswoordige tonele speel in Hengelaarskroon, naby Eersterivierstrand in die Tsitsikamma, af. In tandem met die teenswoordige loop ’n parallelle verhaallyn: terugflitse van Poppie as kind, en haar betrokkenheid by die kerk en die pastoor. Die 60 hoofstukke se progressie in die hede, sowel as die verloop van Poppie se grootwordjare, speel afwisselend só uit. Diaken Gawie Galant vertel vir ds Lukas van Poppie se trauma, en rig ’n versoek dat hy simpatiek na Poppie sal luister. Net dit. Want Gawie ken vir Markus, Poppie se broer, en dié het baie te vertelle van die "snaakse" kerk waarteen hy hom vir jare bly verset het. Ds Lukas het op sy beurt sy eie pyn en katarsis wat hy moet deurwerk nadat sy geliefde Amanda hom verlaat het.

Op ’n dag in November begin Poppie vir ds Lukas haar verhaal te vertel. Haar en broer Markus se pa, Matewis, is ’n messelaar van beroep, en die enigste band wat Poppie met haar vader kan vorm, is om "ystergoeters vir hom in die garage vas te hou". Matewis is egter ’n afwesige, skisoïede vader wat sy inspirasie put uit die kultuskerk waarby hy aangesluit het. Hy ontvang openbaringe en visioene van God, die engele en die hemel self. Die voorklimaat in Poppie se kleinkinderjare is een van kontaminasie en kritiek: Omtrent alles is sonde/verkeerd. Poppie het weinig en later géén maatjies nie. Uiteindelik koop Poppie en Markus se moeder, Levona, in op die idee om kerk toe te gaan. En nie te lank daarna nie is die Nel-gesin ingetrek – ten volle geïndoktrineer – deur die pastoor en sy sekte. Die Nels doen afstand van hulle TV-stel (dis wêrelds en boos) en selfone (dis die duiwel se sein), en weier om ’n rekenaar te besit, al vereis die kinders se skooltake andersins. Poppie en haar ma dra lang, vormlose rompe met lang moue (want ’n vrou mag nie haar ontblote arms wys nie) en manskoene. Grimering is taboe. En swem is sonde; maar as Poppie smiddae van die skool af kom, is die pastoor besig om die "bekeerdes" in hul swembad te doop. Hierdie absurde scenario’s sorg vir afwisseling en welkome humor. Sedert ’n engel vir ma Levona ’n boodskap gebring het dat alles voortaan anders sou wees, word die Nels gemarginaliseer tot randfigure: Poppie se gewese maatjie, Lindie, sê: “Ek speel nie meer met jou nie, my ma sê die Nels is gevaarlike mense” (35). Ná ’n visioen uit die hemel skilder pa Matewis ’n Dawidster op hulle garagedeur, natuurlik tot groot spot en hoon van die buurt se verbygangers.

Poppie raak al meer geïsoleer; die teenswoordige wêreld wemel van die sonde en sy leef in ’n konstante vrees om te oortree. Die metafoor om te bly staan vorm ’n leitmotief: “‘Jy sal maar moet bly staan, my kind, vas bly staan ter wille van die boodskap,’ sê haar pa voordat hy die Bybel vat en vir hulle twee lang hoofstukke uit Openbaring lees” (41).

Die onskuldige volksliedjie in die inleidende motto, wat volksbesit is, suggereer ook dat die seksuele misbruik van kinders algemeen voorkom – en op ’n wrang manier ook ’n soort "volksbesit" is.

Die koeël is deur die metaforiese kerk. Du Plessis laat niks oor aan toeval nie. In ’n onderhoud met Christa Steyn Bezuidenhout op Maroela Media noem hy dat Poppie ’n marionet (van die kerk en pastoor) word: “Poppie is inderdaad ‘n poppie in die hande van die pastoor en sy word soos ’n marionet gemanipuleer. Sy is ook nie die enigste pop in die pastoor se hande nie. Daarom die name uit Liewe Heksie – Levona, Matewis en professor Karel.”

En:

“Poppe kan nie staan nie, jy weet mos.”

“Is nie, Liewe Heksie staan dan en sy is ’n pop.”

“Nee, sy kan nie self staan nie, want sy is ‘n marionet.”  (12)

Poppie het grootgeword in "Verkeerdestraat 777" (27); let op die kontras en numerologiese simboliek in dié adres. Nêrens in die roman word die pastoor se naam genoem nie – slegs op bl 220 wanneer Poppie vir die eerste maal teen hom opstaan en hom in sy maai stuur: "Nooit weer hoef ek na een van jou boodskappe te luister nie, Niek, en ek hoef nooit weer een daarvan te glo nie." In die Afrikaanse omgangstaal is "Niek” ’n verwysing na die duiwel. Ook Poppie se regte naam, haar ware identiteit as Maria Nel, tree na vore as sy die houvas wat die pastoor op haar het, verbreek.

Intussen worstel ds Lukas om die verraad van Amanda, wat met die ryk ouderling Botes weggeloop het, te verwerk. Hy slaag egter daarin om Poppie, sku en diep verwond, oor haar disfunksionele kinderjare te laat praat.

Poppie is talentvol: Sy sing soos ’n engel en kan goed klavierspeel. Ontredderd en op soek na ’n vaderfiguur, terwyl pa Matewis ronddobber tussen werke, word sy uiteindelik deur die pastoor raakgesien. Die "vername man" praat met haar! En vra of sy ’n paar liedjies saam met hom sal opneem. Poppie is nou "’n uitverkorene van God, volledig in diens van die kerk en die pastoor." Die draaipunt kom egter wanneer sy in graad 9 saam met die herder op pad na ’n skoledebat was. Ek wil nie die verhaal verklap nie, maar haal Du Plessis in genoemde onderhoud aan: "... word Poppie deur hul charismatiese pastoor vir sy eie gewin gemanipuleer en seksueel misbruik". Poppie se doop in hul swembad is in alle opsigte ’n groteske ontering van dié sakrament. Die gewetenlose sekteleier het Poppie in sy web; skaars die begin van haar skreiende breinspoeling en trauma. Om dinge te vererger, help die pastoor die Nels finansieel – en Poppie betaal die prys. Pa Matewis word ondertussen gediagnoseer as skisofreen, wat sy visioene binne ’n rasionele konteks verklaar. Die roman vra indringende vrae oor wat die "waarheid" is – en die skokwaarde lê in die normalisering van die leuen en van aberrasies in die algemeen, alles natuurlik geboekstaaf en geregverdig uit die Bybel. Die donker onderwêreld van ’n kultus beland onder die vergrootglas. Die verhaal is soms diep ontstellend, soos vertel uit die fokale punt van Poppie, ’n onskuldige kind wat op naïewe wyse die sogenaamde waarheid as delusies opdis. Die roman vra indringende vrae oor die verdraaiing van eksegese tot leuens, waanbeelde, fantasie en illusie. Hierdie sektariese praktyke word vreesloos oopgeskryf en ’n objektiewe werklikheid word verruil vir visioene en openbaringe, wat op sy beurt vrae laat onstaan oor die massapsigose van die kollektief, die kultus. Die pastoor, as prototipe van ’n sjarmante, gladdemond, gewetenlose kultusleier word uitstekend verbeeld.

Die see word in die roman ook ’n “karakter” uit eie reg; dit dra by tot die inkleding van Poppie en Lukas se emosies; dit skep atmosfeer; tree op as katalisator van die narratief en bied op panoramiese wyse vertroosting. Du Plessis verdien lof vir die treffende en poëtiese stelwyses wat dwarsdeur die boek voorkom, byvoorbeeld:

“Is die mis altyd so verskriklik dig hier by julle?” vra sy.

“’n Mens sal op jou eie werf kan verdwaal.”

“Dit het nog altyd met my gebeur.”

Maar dit is asof elkeen met homself praat, twee monoloë, asof hulle mekaar in die mis verpas het. (72).

Asook: “Die mis hang ’n kantgordyn oor die oggendsee, selfs die naaste rotse is, soos sy gedagtes, net ’n grys metafoor vir die werklikheid” (71).

Sal Poppie en Lukas – twee gebroke siele – weer liefde vind? Poppie se kerk het van die liefde ’n vuil gewete gemaak – is soveel trauma enigsins oorkombaar, of is dit reeds te laat?

Die verhaalvertelling verloop vlot en die skrywer verstaan die kuns van ewewig tussen hoofstukke. Daar word lewe geblaas in die karakters, en die verpakking in kort, ekonomiese hoofstukke werk effektief om die leser enduit te boei. Die leser mag wonder of die slot, en die verwysing na ’n betrokke Bybelboek, nie dalk naïef of ongeloofwaardig is gegewe die geskiedenis van trauma daaraan verbonde nie – maar aan die ander kant kan ’n mens die skrywer hierdie titsels magiese realisme vergewe.

Die opstand van Poppie Nel is ’n belangrike werk, ’n seminale roman wat geskryf móés word.

The post <em>Die opstand van Poppie Nel</em> deur Hans du Plessis: ’n resensie appeared first on LitNet.

Slagoffer deur François Smuts: ’n resensie

$
0
0

Slagoffer
François Smuts
NB-Uitgewers
ISBN: 9780795802201

Die titel van dié debuutroman deur die Kaapse advokaat François Smuts is met voorbedagte rade dubbelsinnig. Dit kon net sowel die meervoud-s agteraan gehad het, want uit die rondomteks en gaandeweg uit die verhaal se ontknoping raak dit duidelik dat Smuts, benewens die karakter wat in die vertelling beswyk, ook spesifiek vir Dawid Neethling, die antiheld, as ’n slagoffer wil skets. Trouens, in die bedankingsteks agterin plaas die skrywer vir Neethling storiematig in die skoene van Fred van der Vyver, wat in 2007 vir die moord op sy meisie, ’n Stellenbosse student, vervolg is; hy is kwytgeskeld, maar die media (eerder as die vervolgingsgesag?) het hom ’n “afgryslike onreg” (ongenommerde bladsy) aangedoen.

Dawid Neethling, ’n suksesvolle Stellenbosse psigiater, is in ’n kinder- en liefdelose huwelik vasgevang. Met die boek se oopval kruis sy paaie met dié van ’n geheimsinnige jong vrou, Eva Rodriguez. Aan die begin van die eerste van die drie dele waarin die boek opgedeel is, laat die alwetende derdepersoonverteller reeds die suggestie deurskemer dat die “media later uitbundig [sou] berig” (17) oor Neethling se heel eerste blik op wie éérs sy pasiënt en daarna sy minnares sou word. Soos met so baie buite-egtelike verhoudings gaan sake redelik hortend en stotend hul gang totdat ’n te verwagte krisis, aan die einde van deel een, soos ’n bliksem tref – waarna die polisieondersoek, voorbereiding vir die hofsaak en die afloop van die hofsaak self in die tweede en derde dele ontvou.

Dié indeling in derdes eggo eksplisiet die onderdele van die tradisionele Spaanse stiergeveg, wat Dawid op besoek aan Spanje met sy half-Spaanse minnares leer ken. Vandaar dan die storie se sekwens: die derde van die lanse, van die harpoene – en, uiteindelik, van die dood.

Daar is geen twyfel nie dat Smuts kan skrywe. Hy skep ’n storie wat van selfversekerdheid spreek en wat vlot. Boonop is sy idees ambisieus; hy poog om die ondermaanse gebeure teen ’n groter doek te gooi, iets van ’n Eikestadse weergawe van die agterkant van Plato se grot.

Die roman is inderdaad tegelyk baie dinge.

In die eerste derde bied die verteller ’n kameestudie van Dawid en sy vrou Ingrid, en van die ander newekarakters, enkele vriende, kollegas en familielede, wat dán reeds op die verhoog is. Ook natuurlik van Eva en haar en Dawid se affaire. Daar is terugflitse na die verlede. Elke dan en wan word die vertelling afgewissel met korterige inskrywings (in kursief) wat Eva in haar dagboek maak en spesifiek aan “duende” rig, die spesifiek Spaanse idee van die lewegewende gees, deur onder meer die flamenkodans vergestalt.

Hierdie deel van die verhaal is intern heel netjies samehangend. Smuts slaag daarin om die verskillende storielyne vernuftig bymekaar te snoer. Tog is daar ook enkele lomphede. Tydens Dawid en Eva se besoek aan Spanje byvoorbeeld begelei haar ma se neef Juan hulle na ’n stiergeveg toe. In lang grafsteentjies direkte spraak word hy die spreekbuis vir ’n uiteensetting van die filosofie onderliggend aan die stiergeveg.

Die tweede en derde dele, daarenteen, vertoon baie van die formele eienskappe van ’n liniêre speur-en-hof-drama. Tog gaan dit hier nie primêr om die uitpluis van die identiteit van die moordenaar nie – dít word redelik vroeg uitgelap. En weens die vertelstrategie het die leser uit die staanspoor betreklik min twyfel daaroor dat dit nie Dawid se hande is wat rooi is nie. Die spanningslyn ontstaan eerder uit die vraag of – en dan: hoe – Dawid se span, bestaande uit ’n vername senior vroueadvokaat, ’n ervare prokureur en etlike private ondersoekers, die dwingende omstandigheidsgetuienis teen Dawid, die afvlerkminnaar, sal kan weerlê.

Tog is daar ongelukkig ’n breuk tussen Smuts se groot idees en hoe hulle tot uitvoering kom. Al die baie skarniere en hefbome in dié stoutmoedige debuut is nie almal ewe mooi geolie nie.

Die vernaamste probleem is juis die gebrek aan samehang tussen die eerste deel van die vertelling en dele twee en drie daarna. Deel een vorm op sigself ’n novelle in die kleine. As die gordyn op die tweede deel lig, verskyn daar naas hoofsaaklik Dawid en sy frappant-benoemde vriend Barnabas ’n gans nuwe rolverdeling. Die motivering vir die Spaanse struktuur en kleur, wat selfs in die eerste deel dungeskaaf was, verdwyn volkome. Enkele terloopsies uitgesluit, is die tweegesprek met duende van die baan; nou word koerantberigte elke dan en wan as newetekste geplaas.

En ten spyte van die groot selfvertroue waarmee Smuts as binnestander oor die polisieondersoek en die hofproses skrywe (op een vlak is dit gewis lekker om so ’n helder en sekure uiteensetting te lees) is die spanningsboog in die tweede en derde dele, die speur-en-hof-drama, net nie styf genoeg nie. Daar is nou wel ’n klompie esse en draaie, maar baie daarvan, onder meer die bendeverwante kinkels, word nooit behoorlik uitgestryk nie en kom derhalwe as oppervlakkig voor. (’n Mens wonder enduit oor ’n sekere vingerafdruk wat in die narratiewe niet verdwyn …)

Die gevoel kan nie vermy word nie – soos ek al etlike kere oor ander boeke gesê het en Rachelle Greeff onlangs ook ten aansien van Marlize Hobbs se Voëlvrou – dat Slagoffer by ’n heelwat strenger redigeersweep sou gebaat het, beide wat die ontwikkeling van die groter struktuur en die intrige en aspekte van die taal en vertellersaanslag betref.

Ten eerste sou so ’n redakteur vir Smuts gesê het dat sy selfverklaarde darling – sy Kastilliofilie – niks meer as ’n patina op die storie is nie en inderdaad struktuurhoofbrekens skep. Ook skouer dit om aandag teen die uittogte in die Ortodokse geloofsisteem in. Tweedens sou sy sê dat die konsekwente gebruik van die verlede tyd – vir die hoofvertelling én die terugflitse – die storie aan onmiddellikheid en nodige afwisseling laat inboet.

Ook is daar ’n aantal ongeloofwaardighede in die verhaal én kleiner haperpunte – in ’n boek wat duidelik ’n liefdestaak was.

Bestaan daar in die Afrikaanse universum van vandag werklik iets soos ’n koffierestaurant? Waarom dra Eva, teen Spaanse naamgewingskonvensies in, slegs haar ma se van (wat gewoonlik op die pa se van sou volg)? En hoe kon die gebeure hier die tweede opspraakwekkende misdaad op Stellenbosch wees “vanjaar, ná die sogenaamde bylmoorde by die De Zalze-wynlandgoed” (wat in 2015 plaasgevind het) (87) en tegelykertyd in Januarie 2017 (175) plaasgevind het?

’n Mens hoop dat die verhuisingsmanne volgende keer versigtiger sal dra en dat Smuts nóg sierpotte en erdewerke, keurborde en fyn glas het om aan te bied.

The post <em>Slagoffer</em> deur François Smuts: ’n resensie appeared first on LitNet.

Merk deur Rudie van Rensburg: ’n resensie

$
0
0

Merk
Rudie van Rensburg

Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795802140 

Rudie van Rensburg se Merk volg op die hakke van Medusa en Vloek. Lesers en resensente is ewe opgewonde oor dié nuwe misdaadroman.

Kaptein Kassie Kasselman is terug! Niks aan sy antiheldstatus het verander nie. Die kaptein versamel steeds posseëls, luister na boeremusiek en dra sy rooi windjekker, dié keer met ’n skynbaar onuitwisbare sjokoladekol op.

Ná sy hartoperasie moet Kassie sy Lucky Strikes vaarwel toeroep. Dié gemis vul hy met (te veel) sjokolade, daarom is hy nog meer geset as voorheen.

Dis die kaptein se eerste dag terug by die werk. Sy lewe het weer betekenis, voel hy. Hy en adjudantoffisier Rooi Els moet ’n reeksverkragter in die Kaap se noordelike voorstede probeer vastrek. Vier jong vroue is reeds slagoffers. Dié verkragter is een met ’n verskil: Hy brandmerk vroue deur die syfers 399 op hul onderlywe aan te bring.

Die Spookeenheid se taak is oorweldigend. Uitdagings eskaleer. Wanneer vroue afgeloer en een vermoor word, lyk dit of die magsverkragter in ’n woedeverkragter verander het. Is dit sielkundig moontlik, of is die verkragter en die moordenaar dalk twee skurke? Die briewe wat vroue in hul posbus kry, lyk eweneens of dit van meer as een skrywer kom, die styl verskil dan so.

Die werk van die twee speurders word bemoeilik deur die kriminele profileerder, kaptein Lulu Wiersinga. Kassie reken profileerders steun te swaar op stereotipering en teorie. Daarby is Lulu se parfuum oorweldigend en weersinwekkend. Brigadier Fortuin is ook in die pad. Sy draai die skroewe al hoe stywer. Kasselman en Rooi beter die geweldenaar vang. En gou.

Die eerste sin van die proloog laat jou asem ophou, maar jy word terselfdertyd by die roman ingetrek. Só klink dit: “Die vrou se gedempte gehuil herinner hom aan die gekerm van ’n babahondjie. Een wat alleen in ’n kamer toegesluit is.” Sjoe!

Merk is ’n riller. Dikwels grieselrig en makaber. As subtema word geweld teen vroue ondersoek, ’n relevante en omstrede kwessie. Na raming word ’n Suid-Afrikaanse vrou elke 17 sekondes verkrag. (Nie alle verkragtings word eens aangemeld nie.) Die onderliggende boodskap is: Verkragting, verminking en afloerdery moet end kry. Dié tema is besonder gepas in hierdie tyd van (wêreldwye) Me Too-veldtogte.

Die klem val deurgaans op polisieprosedure, goed nagevors. Die onderbou van die roman steun sterk op die sielkunde agter verkragting. Dit sluit nekrofilie (die verkragting van lyke) in. Die menslike psige kan waaragtig stikdonker wees.

Die intrige is goed uitgewerk en die verrassingselement slaan jou teen die kop; nie ’n maklike uitdaging vir ’n skrywer wat jaarliks iets nuuts vir sy lesers wil skep nie.

Van Rensburg se karakterisering is sekerlik Merk se grootste pluspunt. Die slegte ouens is sleg verby, tog het die leser empatie met hulle en lees jy nuuskierig voort aan die Jekyll en Hyde van hul persoonlikhede.

So jammer dat die uitroep “Bliksis!” aan die hoofkarakter van die gewilde televisiereeks Die byl, soos deur Waldimar Schultz vertolk, herinner.

Van al die karakters is Rooi Els die vervelige een. Hy is daar om die kaptein te ondersteun – ’n mens leer hom nie werklik ken nie.

Ander karakters sluit in Hernus van der Merwe, die afleweringsman, wat voorheen in ’n lykshuis gewerk het. Hy hou nie van water en seep nie en “haat” selfgeldende vroue. Hernus het egter “die sperm van ’n wildehond”.

Priscilla Bekker is ’n joernalis by die poniekoerant Die Stem. Daar word sy gedwing om haar morele kompas weg te gooi. Sy is daarvan oortuig dat een van haar berigte tot ’n moord gelei het. Haar man, Gerbrand, gee bedags onderwys en is saans ’n ywerige buurtwaglid. Hy laat egter nie Priscilla se hormone tintel nie. Boonop irriteer sy materialisme en ingesteldheid op status haar. Hy kom later tot insig. Of dalk juis nie.

Wat ’n afstootlike vent! dink Priscilla van ou Snuif (Hamersma), die koerantredakteur. Hy trek hopies snuif “luid in albei neusgate op”, nies en vee sy neus met sy baadjiemou af. Snuif sê ook: “Ons (die koerant) doen net geringe verstellings aan sekere aspekte van die waarheid.”

Chrisjan Miles is ’n ouditeur en ’n nagtelike drawwer, maar dis nie al wat dié oujongkêrel in die donker doen nie. Daarby laat ’n rooikop van Welgemoed sy wellusvlak styg.

Die vraag bly staan: Wie is die verkragter?

Die dialoog in Merk vloei natuurlik en is lewensgetrou. Elke karakter praat dus soos hy of sy gebek is. Net jammer dat soveel stemme “skor” word. Hierdie byvoeglike naamwoord hoort eerder in ’n romanse tuis. So ook “rou snikke” wat uit kele “ontsnap” en karakters wat “hortend” asemhaal.

Kassie en Rooi het ’n voltydse taak om die verkragter/moordenaar vas te trek. Die kaptein is een van enkeles in die Spookeenheid wat wonder of die span nie dalk met twéé skurke te make het nie.

’n Afloerdery en ontvoering bemoeilik sake, nes die joernalis wat opdrag kry om al die duisterhede te belig. Die karakters (en lesers) wonder waarvoor die 399 in die brandmerk staan, maar die antwoord kom nie dadelik nie.

Die spanningslyn trek al stywer. Nes jy dink jy kan eenvoudig nie meer stres hanteer nie, ontlok die titels van Kassie se gunstelingboeremusiektreffers ’n glimlag, of vermaak Lulu jou. Sy is komies-irriterend en ook ’n taal-Nazi.

Wees gewaarsku: Merk is hardebaardleesstof. Skokkender kry jy nie sommer nie. As dit egter jou ding is, haal ’n pak sjokolade uit, maak jou in die bed tuis en trek die roman nader. Merk is hoogs toeganklike leesstof. Dis trouens een van die boeiendste ervarings wat jy in ’n lang tyd sal hê.

Probeer net ’n bietjie harder as Kassie om die klewerige sjokoladekol (of -merk!) op jou lakens te probeer uitkry.

The post <i>Merk</i> deur Rudie van Rensburg: ’n resensie appeared first on LitNet.

Landbou Boerekos – die beste gebak deur Arina du Plessis: ’n resensie

$
0
0

Linkerkantste plakskildery: Facebook

Landbou Boerekos – die beste gebak
Arina du Plessis
NB-Uitgewers
ISBN: 9780798179164

Ek het in 2005, gedurende ’n skooluitruilprogram vir twee maande in Europa, by huisgesinne gaan bly. Die eerste stop was Nederland, toe af na Frankryk en uiteindelik Duitsland toe. Dit was ’n verruklike ervaring en daar was só baie avonture wat ek nooit sal vergeet nie.

Maar, ek is wie ek is en kos was nog altyd heel bo aan my prioriteitslys, so ek moet eerlik wees as ek sê dat die helderste herinneringe vir my natuurlik die kos is! My Hollandse en  Franse gesinne was glad nie mense wat lief vir kosmaak óf onthaal was nie – dit het gevoel asof ek vir vyf weke op ’n detoxdieet was. My aankoms by my volgende familie, die Duitsers, was egter ’n heel ander storie. Toe ek by die voordeur instap, het ’n walm van tuisgebakte geure my totaal en al oorweldig. Op die eetkamertafel was koekies, brode en koue vleise,   kase, terte en Kuchen. Absoluut hemels. Ek was dadelik tuis!

Chris Burgess, Landbouweekblad se hoofredakteur, skryf in die voorwoord van Arina du Plessis se resepteboek Boerekos: Die beste gebak oor hierdie einste Duitse nostalgie en gasvryheid as dit by sy eie familieherinneringe kom. Arina skryf ook oor háár herinneringe van hul plaas en familie en bak. Kos is die een ding wat ons almal, oor grense heen, binne enkele sekondes in ’n oomblik kan plaas: ’n reuk, ’n smaak, ’n gevóél … nostalgie! En dit is presies wat Arina in haar boek so perfek regkry.

Armand Aucamp (foto: Izak de Vries)

Ek moet ook vooraf noem dat ek ’n groot voorstander van ’n laekoolhidraatleefstyl is, bedoelende suiker- en graanvrye kos, maw geen meel nie. Dit beteken nie dat ek nie waardering vir wonderlike tuisgebak het nie. Inteendeel, ek het ’n wonderlike stukkie wysheid van ’n vriend se ma gehoor waarmee ek nogal saamstem. Sy het altyd vir haar kinders gesê: “Julle kan absoluut enigiets eet, mits julle dit self gemaak het. So, as julle ’n KitKat wil eet, moet julle dit self, van scratch af, maak.” Ek dink as ons by hierdie beginsel bly, sal ons alreeds op ’n baie beter plek wees. Gelukkig word elke resep in Boerekos: Die beste gebak van scratch af gemaak.

Met die eerste oogopslag roep Boerekos ’n behoorlike dosis nostalgie op met Suurlemoenblokkies (85), voorgesit op ’n emaljebord op die voorblad. Onmiddellik is ek terug in my eie ouma Euodia se kombuis, met háár emaljebord gevul met Hertzoggies en melktert.

Soos ’n mens deur die boek blaai, kom ’n mens agter dat Arina werklik niks uitgelaat het as dit by eg-Afrikaanse gebak kom nie. Daar is beskuit, kleinkoekies, brode en allerlei koeke, poedings, bruintjies en kolwyntjies, asook terte en Kersgebak. Die boek bars behoorlik uit sy nate met opsies, bederfies en moontlikhede.

Wat vir my opvallend (en ’n lekker verrassing) was, was dat Arina die verlede en hede so moeiteloos deurvleg met haar keuse van resepte. Daar is eg-tradisionele gebak soos Tradisionele mosbolletjies (17), Kweper-en-kaneel krummeltert (101) en Gunsteling-Vlakoek (129). Dan is daar nuutskeppings met ’n moderne twist soos Rooifluweel-Kaaskoekbruintjies (86), Biltong-en-Fetakaaskoek (103) en die überdekadente Dom Pedro-koek met oondgebakte karamel en ganache (120) ... Dônner!

Dit is vir my hierdie fusion van die ou wêreld en die nuwe wat Arina só goed doen wat die   sukses van hierdie boek sal verseker. Dit spreek tot die bobaas tradisionele bakker asook die jonger-geslag-amateur wat deesdae al hoe meer wil terugkeer na handgemaakte kultuur soos van ouds.

Kyk, ek is nie veel van ’n bakker nie. Ek was altyd onder die indruk dat beskuitbak ’n kuns is en dat dit ongelooflik moeilik en tydrowend is. Arina se resepte is onintimiderend, eenvoudig uiteengesit en ongelooflik toeganklik. Sy mag my pas dalk nét oorreed het om Meng-en-bak-beskuit (18) aan te pak – veral omdat die foto daarvan in presies dieselfde koekblik is wat al jare lank in my ouerhuis (en ek vermoed in duisende ander Afrikaanssprekendes se huise) pronk!

Die fotografie en stilering pas ook perfek by die tema – ’n mens voel sommer asof jy in die vertrek by die gebak staan. Die gevoel van ’n plaaskombuis is onmiddellik tasbaar met emaljeborde, egte plaaslappies, antieke koekvurkies en breekware uit die ‘50’s en ‘60’s. Daar is wel elke nou en dan ’n foto van ’n resep wat ’n bietjie opgezoesj is in terme van stilering om ’n feeslike atmosfeer te skep. Dit help om die algehele gevoel van die boek ook dinamies te hou.

Die uitleg en ontwerp van die boek is ook weer eens eenvoudig, dog doeltreffend. Die foto van ’n resep moet die fokus van elke blad wees en as ’n mens te veel ontwerptierlantyntjies oral inwerk, kan dit ’n leser se aandag vinnig aftrek. Dit is nie die geval hier nie. Die eenvoud van die skoon blaaie met ’n bietjie pret hier en daar in die vorm van ’n klein skets werk goed en hou die boek ook jonk en vars. Ek is absoluut mal oor die lappie- en doiliedetail aan die rand van elke bladsy.

Dit is moeilik om iets te vind waarop ek kritiek kan lewer in ’n boek wat so vol (soet)liefde is. Ek het ook nou al twee kookboeke geskryf en is bewus van die magdom werk, passie, bloed en sweet (en natuurlik pret) wat in ’n kook- of bakboek ingaan. Ek self wil wel graag ’n foto vir elke resep sien. Ek weet dis nie altyd uitvoerbaar nie – ’n boek kan gans te dik word – maar dan sou ek dalk effe aan die getal resepte skaaf en kieskeurig wees om te verseker dat elke resep van ’n foto voorsien word. (Die pluspunt is dat jy dan resepte oor het vir ’n opvolgboek!)

Arina du Plessis het ’n fantastiese boek vol geur, smaak, herinnering en nostalgie bymekaar gesit. Dit sal tot alle tuiskokke en bakkers spreek (en ek vermoed ’n hele nuwe spul aanwakker óók). ’n Boek wat kort voor lank geag sal word as ’n staatmaker in enige goeie boerekombuis.

Hoe ry die Boere? Sit sit so …
Hoe sny die Boere? Soetkant bo!

The post <em>Landbou Boerekos – die beste gebak</em> deur Arina du Plessis: ’n resensie appeared first on LitNet.

Maggie: My lewe in die kamp deur Maggie Jooste: ’n resensie

$
0
0

Titel: Maggie: My lewe in die kamp
Skrywer: Maggie Jooste
Uitgewer: Tafelberg, 2020
ISBN: 9780624090250
Epub ISBN: 9780624090267

Margaretha (Maggie) Jooste was net 13 jaar oud toe die Anglo-Boereoorlog in 1899 uitbreek en haar lewe ingrypend verander. Ná maande in huisarres word sy, haar ma en vyf sibbe na ’n konsentrasiekamp in Natal gestuur. Hier ervaar hulle honger, onsekerheid en verlies, maar ook soms die goedhartigheid van Britse soldate.

Hierdie baie persoonlike vertelling, in haar eie woorde, is ’n verhaal van swaarkry en erge ontbering, maar ook van medemenslikheid en vriendskap oor vyandsgrense heen. Daar is die merkwaardige band tussen die Joostes en die Engelssprekende Russell-gesin wat lank voor die oorlog bure en vriende was. Terwyl die Britse soldate en Boerekommando’s oorlog voer, voorsien die Russells in die geheim kos aan die Joostes om hulle te help oorleef, en ondersteun hulle die gesin ook ná die oorlog.

Wanneer jy hierdie kort beskrywing van die uitgewers lees, kom beelde van vorige boeke oor die oorlog na jou terug, selfs iets uit my hoërskoolgeskiedenislesse. Maar daar is iets in die woorde van ’n jong meisie wat jou tot onverdeelde aandag noop. Wat die storie in jou skoot kom lê en vra dat dit deel word van jou. Dis nie meer net geskiedenis nie, dis iemand wat dit ervaar het, wat met jou praat. Smeek, as’t ware, dat die storie nie mag vervaag nie.

Maggie en haar lyding is egter nie net tot die konsentrasiekamp buite Howick beperk nie. Haar pa was ’n bannelinge op Bermuda; haar broer op St Helena. Daar is vir maande geen taal of tyding van hulle nie en geen sekerheid of hulle wel lewe nie.

Maggie skryf in haar 76ste – en ook laaste – lewensjaar (1962) ’n boek oor haar ervarings, maar dit lê vir 57 jaar vergete op ’n boekrak voor haar familie dit herontdek en laat publiseer. Sy kon dus nooit geweet het dat haar boek in 2020 die lig sou sien nie. Veral nie in die penarie waarin ons ons nou weer bevind nie.

In die voorwoord skryf Fransjohan Pretorius: “Daar is geen pretensie of aanstellerigheid in dié teks nie. ’n Mens leer om die narratief te vertrou en raak gou verdiep in hierdie persoonlike verslag van ’n jong meisie se ondervindinge tydens die Anglo-Boereoorlog. Dit is so reguit en eerlik.”

Maggie skryf in die eerste hoofstuk dat hierdie vertelling nie ’n geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog is nie. “Daar is al so baie daaroor geskryf en ek was destyds te jonk om die erns van alles te besef.”

En dis belangrik. Hierdie boek is nie ’n geskiedenisboek nie; dis iemand se aangrypende verhaal van swaarkry, van ontnugtering, van oorlewing. Sy skryf nie omdat sy bitter is nie, maar omdat sy nie wil hê mense moet vergeet wat in daardie kampe gebeur het nie. Sy skryf: “Vandag het min mense genoeg simpatie om daarvan te wil hoor of daaraan te dink. Ek wil nie iemand veroordeel of bitter wees nie, maar ek kan nie ons erge lyding en ontberings vergeet nie.”

In Mei 1902 eindig die oorlog, maar die wreedheid en onmenslikheid gaan elders in die wêreld voort. Bykans 98 jaar later staan ek onder die hoofingang van die Auschwitz/Birkenau-konsentrasiekamp in Pole. Ons gids, iemand wat dié toere deur die konsentrasiekampe al vir meer as 30 jaar doen, sê die rede vir die museumtoere is dat ons nooit mag vergeet watter gruweldade hier gepleeg is nie. Agter haar staan George Santayana se woorde: “Those who do not remember the past are condemned to repeat it.”

Enkele weke gelede het die wêreld die 75ste herdenking van die einde van die Tweede Wêreldoorlog gevier.

Toe ek lees hoe vroue en kinders in veetrokke gelaai is en vir drie dae sonder ablusie of kos na die konsentrasiekampe moes reis, het ek onwillekeurig aan die treintrok by Birkenau gedink. Dit staan vandag nog daar om die donker, die hopeloosheid en die wreedheid van die Nazi’s tuis te bring. 45 jaar vantevore het daardie selfde tonele hulle afgespeel op die vlaktes van Suid-Afrika. Daar was wel nie gaskamers nie, maar die ontbering, honger, siekte en ondraaglike lyding in die tentdorpe regoor die land, waarin daar bykans 50 000 mense dood is, volg dieselfde patroon.

Net soos jy miskien kan begin dink dat die boek dalk fiksie kan wees, blaai jy om en kry weer ’n foto uit die kampe: gesinne voor hul tente; die rye en rye tente wat in die ongenaakbare son bak en in die winter nat, koue, muwwe tronke word. Want as dit fiksie kon wees, sou jy jouself kon troos dat geen mens dit aan ’n ander kan doen nie.

Maar ons weet hulle het, weer en weer, en sal ook weer.

Maggie se ontberinge is egter nie verby ná die oorlog nie. Die ekonomiese nadraai het verreikende gevolge op haar ouers en haar drome van verder studeer word in die wiele gery. Net toe dinge vir haar begin uitwerk, breek die Spaanse Griep in 1918 uit en in 1921 saai dit chaos in haar lewe.

Sommige meen die wêreldekonomie is dalk nou weer in dieselfde skokkende verknorsing as ’n eeu gelede. Hongersnood, siekte en een miljoen dood weens Korona, saam met hemelhoë werkloosheid, is 100 jaar ná die verwoestende griep weer met ons.

Ons het vir enkele weke met inperking vroeër vanjaar ’n kykie gekry – hoewel glad nie op die skaal van Maggie en haar medeburgers 98 jaar gelede nie – in hoe dit voel om dopgehou te word, om nie uit jou erf te mag gaan nie, nie te kon gaan kos koop nie. Die hulpeloosheid van iets só buite jou beheer dat jy nie eers kan teëstribbel nie. In ons geval was dit vir ons eie veiligheid, in hul geval was dit doodsake as jy op straat gevang is. En selfs net dit het my soms verlam gelaat van vrees. Ek kan my dus nie indink waardeur Maggie se ma (soos duisende ander Boervroue) moes gaan met die wete dat sy nie vir haar klein kindertjies sal kan kos gee nie; dalk nooit weer haar man of ouer seuns sal sien nie. En dis nog voor die haglike twee jaar in die konsentrasiekampe, waar sy ’n kind verloor en byna haar been verloor het.

Dis nie maklike leesstof hierdie nie, maar dis noodsaaklike leesstof. Ons mag nie vergeet nie; ons mag nie toelaat dat dit weer gebeur nie.

En hoe dankbaar kan ons wees vir Maggie Jooste wat hierdie intieme kykie op haar swaarkry met ons deel. En nog dankbaarder dat dit bykans 60 jaar later in boekvorm uitgegee word.

  • Die boek is ook beskikbaar in Engels, maar ek dink die trefkrag lê juis in die Afrikaans, want dit dryf die boodskap van Afrikaanssprekendes wat daar ontbeer het, baie sterk in.

The post <em>Maggie: My lewe in die kamp</em> deur Maggie Jooste: ’n resensie appeared first on LitNet.

Voëlvrou deur Marlize Hobbs: ’n resensiebrief

$
0
0

Voëlvrou
Marlize Hobbs
Protea
SKU: 9781485311133

Hei M

Ek het toe jou nuwe boek gelees.

En so gaan my gedagtes op loop, ver terug. Seker na 2007, dalk self 2006. Die eerste SMS wat jy vir my gestuur het, was om te sê dis reg, ons kan ’n storie oor jou doen vir die TV-program waarvoor ek daai tyd gewerk het. Die tweede SMS was ’n baie flou grappie oor Kakamas. Ek onthou dit, want ek het gewonder hoe iemand wat so mooi kon skryf, so ’n omvattend vervelige grappie kon aanstuur vir iemand wat hulle glad nie ken nie.

Flarde het my een hele nag wakker gehou. Ek het sonder veel verwagting in die bed gaan klim met die klein novelle wat elke blerrie prys moontlik losgeslaan het. ’n Paar uur later het ek asemloos in ’n nagdonker, stil suburban Linden gelê en wonder oor die mens wat dié verhaal opgetower het. Dit was magies. Dit was mooi. Dit het klein stofdorpies name gegee wat ek nog nooit gehoor het nie. Daar was ’n rou ontbloting wat my aangegryp het.

Wie is Marlize Hobbs? Ek wou weet.

So het ons begin gesels. Briewe geskryf. Soms korter boodskappe. Nie als mooi of heilsaam nie, helaas. Ek het die skrywer leer ken wat tussen die reëls van die storie gepraat het. En die een wat haar oopmaak op papier. Jou stories is jy en jy is jou stories. Hoewel jy soms in die openbaar verklaar dat jy maar net verhale skryf, laat jy in Voëlvrou iets deurskemer van dit wat jou dryf:

Al moet ek dieselfde boek tien keer op verskillende maniere oorskryf, totdat ek al die stiltes verbreek het, al die ongesêde dinge uitgeskree het; al moet ek oor en oor na dieselfde stories terugkeer om uiteindelik ’n stem te gee aan dié wat tot stiltes gedwing word; sal ek dit doen, want die fok weet, iemand moet dit sê. (51)

So kom jy keer op keer, boek na boek terug in dieselfde en in ander gedaantes. Minerva, Miesa, Iza. Lisa. ’n Toordokter, die vrou van Jasmyn, die ma van Naledi, ’n gebroke vrou met vlerke soos dié van ’n voël. Of ’n onwaarskynlike engel dalk.

Toe ek sien die boek is tydens grendeltyd geskryf, het my moed tot in my voosgeloopte Mongolian pantoffels (grendeltyd-gear) gesak. Is hierdie dan nou die eerste van ’n duisend distopiese boeke waardeur ek vir die volgende paar jaar ad nauseam gaan moet wroeg? Want, kom ons wees eerlik, we are busy living it – nie lus om dit te lees ook nie.

Maar jy stel nooit teleur nie, M. Jy is waarskynlik so voorspelbaar soos die Wes-Kaap se weer in Oktober. Om vir een oomblik te wou dink dat jy The road of nog ’n Koors op my gaan loslaat, was bloot kortsigtig. Niks wat jy skryf sal ooit normaal wees nie. Jy speel doodeenvoudig te lekker met die verwondering én die verwonding van woorde. Jy gooi jou pyn uit soos ’n toordokter sy dolosse. Jy verklap jou seerkry soos ’n pasiënt op haar shrink se couch. Jy spook by dié wat jou en ander magteloses te na kom. En oor die magteloses kan mens seker nooit genoeg skryf nie. Veral in die “ander soort jaar”, soos jy dit noem. Dit was nog altyd ’n probleem, nè? Geslagsgeweld. Maar 2020 het ’n vergrootglas op alles gegooi, veral op mense wat hard afkak onder die hande van wreedaards wat hulself heel moontlik ’n geliefde noem. Jy spreek dit nogmaals in Voëlvrou aan. Jy skryf dit wawyd oop. Dis baie, baie ongemaklik om te lees. En baie, baie maklik om te verstaan dat jy wens mans was meer soos vroue. Sal mens ooit genoeg hieroor kan skryf? Ek dink nie so nie. Laat almal wat onrustig in hulle stoele rondskuif, weer en weer lees van hierdie tipe ongeregtigheid. Dankie, namens vroue en kinders – en as ons eerlik moet wees, ook baie mans. Selfs al is jy nie te gaande oor hulle nie.

Destyds het jy een of twee geheime vir my uitgelap. “Wie is die diamantman in Flarde?” Ha! Al die tyd iemand wat ek ken. “En dié en daai in Score my ’n gwai?” Jy het in my Facebook-ore gefluister. Mettertyd het ons minder en minder begin praat. Jou stem was stil. Ook op papier. Toe kom jy terug met As sy weer kom, en as ek eerlik mag wees, M, was dit my least favourite van al jou boeke.

Maar hier is jy weer. Met Voëlvrou. Ek voel myself terugklim in ou gemaklike pantoffels. Plekke en mense, stories en name. “Kan ons raai-raai speel?” sou ek jou seker per SMS of Facebook kon vra. Maar dit maak regtig nie meer saak nie. Dis universeel. Dis verskeie mense in een. Dis ek én jy, al sê jy ook al jou herinneringe is opgemaak. “Jy kan mos nie ’n storieverteller wil vertrou nie.” Wat ek wel vertrou (en dis waar van al jou boeke), is dat die vrouekarakters altyd en immer sterker is as hoe hulle aanvanklik voorgehou word. In Voëlvrou doen jy dit dan óók so. Elkeen van die vroue het haar eie las wat sy dra, haar eie persoonlike inperking. Almal se stemme is stil of word stil geforseer. Deur ’n varklike pa, deur outisme, deur ongemak of uit vrye wil. Maar uiteindelik word almal vrygelaat uit fase 4 en elkeen kry haar eie unieke stem. Jy is bevry, M. Jy, jou vrou, jou kind. Vir die oomblik altans, tot die volgende herskryf en die volgende magiese karakter weer kom aanklop. Is die magiese ’n makliker realiteit om mee te deal? Is ’n hergeboorte ’n versugting? Wens jy ook jy kan terugkom as iets anders? Ek wonder sommer hardop, want ek vermoed dis maar vir die meeste van ons waar.

Ek het gehou van jou boek, M. Ek het gevoel soos na Flarde, behalwe, ek het dit in die dag gelees. En ek bly lankal nie meer in Johannesburg nie. Ek kan uitbrei oor al die temas, die paar redigeerfoute, die ooreenkomste met jou vorige boeke en die duidelike verwysing na Raka, so met die intrapslag op bladsy 7. Maar ek gaan nie, want jy weet dit als. Ek gaan terugstaan en ’n verbeelde buiginkie in jou rigting maak.

Ek gaan nie maak of ons vriende is nie – ons is bloot verloopte kennisse van vroeër jare – maar ek hoop, liewe M, dat ander mense dalk dié brief onderskep en jou boek gaan koop. Want daar is steeds, na al die jare, toorkrag in jou woorde.

Liefde

Nadine

The post <em>Voëlvrou</em> deur Marlize Hobbs: ’n resensiebrief appeared first on LitNet.

Finding my way: Reflections on South African literature by Duncan Brown – a book review

$
0
0

Finding my way: Reflections on South African literature
Duncan Brown
Date of publication: 2020
Publisher: University of KwaZulu-Natal Press
ISBN: 9781869144487

As a student in a South African literary studies department, my laptop is filled with PDFs of texts that lecturers, supervisors, fellow students and friends have recommended as essential reading. Rarely do I read beyond their introductions. I find blame in the fact that academic texts seem dry, verbose, jargon-filled or never as exciting as the fiction that they discuss. My own blaming has habituated itself to the point where I’ve grown sceptical of spending what little time and money I have on reading and buying academic texts. So, I decided that Duncan Brown’s latest text, Finding my way: Reflections on South African literature, would be the deciding purchase as to whether I buy academic texts in the future. It thankfully proved to be a worthwhile, reinvigorating text.

Brown’s text offers his own reflections on the field of study that has been defined as South African literature, or SA Lit, from a 2020 perspective. It moves beyond the usual questions of whether South African literature exists after apartheid and what this literature might be, and instead focuses on the mechanism through which one can read, write, know and think about SA Lit in the contemporary, or now, moment. The reflections are explicitly those of Brown, the current dean of humanities at the University of the Western Cape. Through reading Brown’s own reflections on how to approach literary studies in a South African university, the reader is able to reflect on the ways in which they currently approach SA Lit. Such reflections allow for an insight into how they might continue their studies in the future. Brown shows you his approach and allows for you to do as you choose with it.

Questions of how one might approach SA Lit studies are expanded towards how one might approach "The Literary" beyond the confines of the South African national borders. Acutely aware of the various criticisms that humanities studies are under worldwide, Brown reflects on what literary studies as a genre can continue to provide for students. He notes that "literature is a way of knowing, and we need to read, teach and write about it as such". As a literary student myself, I’m naturally biased towards the continuation of the study. His note that literary studies provides one of the many ways of knowing the world struck me: literary studies are obviously necessary.

Brown portrays such means and ways to discuss literary texts, figures and genres throughout the rest of the text. The third chapter provides a study of the 1920s Xhosa praise poet, Nontsizi Mgqwetho. It is specifically her religious allusions that Brown writes about. They seem to exist as both traditionally Xhosa and colonially Christian. This liminality in her writing allows Brown to view her work both as an ascension from her material surroundings, and as that which writes for both church and traditional African religions, or the very materiality that presumably led to her salvation. It is a bind that still persists in contemporary spaces, and Brown highlights how her work sheds light on the issue.

The next chapter continues to reflect on the issues of writing religion and spirituality in the contemporary moment. Brown offers a review of the works of Adam Ashforth. He notes that Ashforth’s work "limns new ways of thinking and writing about belief". Brown reflects on the disjunction, and therefore the challenge, of writing belief systems, as they are based in the material yet simultaneously seek ascension. This imperative of writing the transcendental, the spiritual, without basing too much on the material – where the writer is inevitably found – proves as necessary for reflection as the questions of the spaces of spirituality and belief in the contemporary moment.

Questions on how to write the moment when one is inevitably removed from it are carried on in an interview with South African writer Antjie Krog. Brown questions Krog on her work being categorised as "creative nonfiction", a vogue genre in South African literature exemplified in her book Country of my skull. Both Krog and Brown show scepticism toward the genre’s classification, which is to say, they show scepticism toward how writing can be, and is, written about. Brown admits that the interview began its life with his intention to have it published in an academic journal. When no journal wanted to publish a piece as difficult to define, Brown found its place within his text.

Similarly, the next chapter began its life as a keynote address at the conference "Orature in South Africa: An Arc to the Future" in 2015. Brown makes the point that while orature has existed as a literary genre for centuries, writing about the genre from within South African literary circles remains a fairly new phenomenon. Borrowing from JM Coetzee’s famous analogy of literature being like a continuously existing cockroach, Brown notes that orature shall continue to find its own life, regardless of literary interest. It’s not so much that a place for orature needs to be found in literary circles, as it already has a place beyond them. As such, approaching the field needs to be done through a lens where its always-already presence is accounted for.

If I had to choose, the final chapter – on Alan Paton’s Cry, the beloved country – would be my favourite. Not just because it continues in the vein of personal reflections whereby the reader can see a way of knowing, but also because Brown extends and shares the personal towards a reflection on his relationship with his father. It begins with a cursory glance at what has been written, and moves towards a reflective space where Brown offers new insights into the already existing. It exists as an exemplary piece on the type of work that Brown seems attuned towards. While sentimental at times, this chapter brings forth Brown’s ability to write both personally and academically in a space where both shine to shed insight on the literature in question.

Brown’s text reminds one of the special and continuous role that literature plays when one seeks to relate to the world one exists in. The book highlights how literature is that which is continuously imagining, connecting, exposing, blurring and knowing. Writing, knowing and thinking about literary studies raise similar concerns. Within the bustling and complex global space in which South Africa exists, reflection is always an aid to help one re-examine oneself and where one is going. Brown’s text offers one such reflective way of knowing, and is a great read for it.

The post <em>Finding my way: Reflections on South African literature</em> by Duncan Brown – a book review appeared first on LitNet.


De Achtste Zonnebloemen. De zoektocht naar van Goghs verdwenen schilderij door Pauline Vijverberg

$
0
0

Titel: De Achtste Zonnebloemen. De zoektocht naar van Goghs verdwenen schilderij
Auteur: Pauline Vijverberg
Uitgever: Meppel, Just Publishers, 2020, 256 blz.
ISBN: 97890 8975 769 2

Thuis is de plaats waar je hart is: het nieuwe meesterwerk van Pauline Vijverberg kleurt het leven van Nederlandse immigranten in Zuid-Afrika

Doordat de nieuwe roman van Pauline Vijverberg bestaat uit vele dunne schijfjes, lees je hem zoals je kijkt naar een spannende film. De beeldkracht van de vierenzestig hoofdstukjes is fenomenaal. Aan elkaar geregen vertolken deze hoofdstukjes een universeel thema. Maar dat universeel thema is nooit abstract. Mensen van vlees en bloed, mensen met ondoorgrondelijke gevoelens vullen het in en geven het een dieptescherpte die hoogst ongewoon is voor een thrillerachtig boek. Ja, want aan spanning ontbreekt het nooit. Die rijst ten top wanneer in het verhaal alle blikken worden gericht op het achtste exemplaar van Vincent van Goghs Zonnebloemen-schilderij.

Pauline Vijverberg, auteur van De Achtste Zonnebloemen

Eind 19e eeuw. Het Transvaal Museum in Pretoria is net open. Jacobus Swierstra, die aan de Universiteit van Amsterdam biologie heeft gestudeerd, werkt in het nieuwe museum als entomoloog en droomt ervan om een unieke verzameling van vlinders, motten en andere geleedpotigen aan te leggen. Zijn hele leven bestaat uit het inventariseren en prepareren van de diertjes. Op weg naar zijn werk komt hij toevallig in gesprek met de zusjes Geesje en Niesje Kwak, die pas zijn aangekomen in Zuid-Afrika en niet goed beseffen waar ze aan begonnen zijn. Ze willen aan de kost komen als dienstbode, kindermeisje; in Amsterdam maakten ze huizen schoon, deden ze naai- en strijkwerk …

Het personeel van het Transvaal Museum in Pretoria op een groepsfoto van 1909. De entomoloog Jacobus Swierstra, die in Amsterdam universitaire studies heeft gedaan, emigreert in 1894 naar Pretoria. In het museum vindt hij de job die helemaal aansluit bij zijn wetenschappelijke interesses. Geen mot, vlinder, spin of schorpioen ontsnapt aan zijn klinische blik. Hij wil de grootste Lepidoptera-verzameling van Afrika samenstellen. Op de foto zit hij, 34 jaar, op de stoel, tweede van links. Van 1922 tot 1946 is hij directeur van het museum. – Bron foto: Wikimedia Commons, The Bird Paintings of CG Finch-Davies, Transvaal Museum, 1984

Jacobus komt vier jaar na de eerste ontmoeting Niesje en Geesje opnieuw tegen, samen met Cor van Gogh, die er zich niet voor schaamt om de meisjes van lage stand mee te nemen naar een tuinfeest van de Nederlandse Vereniging in het Burgers Park. Cor is de jongste broer van Vincent van Gogh. Bij die gelegenheid raken Jacobus en Cor bevriend. Van de twee meisjes valt Niesje, zo onbevangen en vrolijk en met zoveel talent voor muziek, bij Jacobus het meest in de smaak. Hij hoopt haar nog een keer te zien voor hij met het Hollanderkorps vertrekt om de Boeren te steunen in hun strijd tegen de Britten. Na wreedheden en pure angst te hebben doorstaan komt Jacobus toch heelhuids uit de strijd en neemt hij volledig gedesoriënteerd zijn job in het museum weer op.

Geesje Kwak, een naaistertje uit Amsterdam dat samen met haar zusje Niesje uitwijkt naar Zuid-Afrika en daar aan de kost komt als hoedenmaakster, hier sierlijk gehuld in een witte kimono op een olieverfschilderij van George Hendrik Breitner wanneer ze poseert in 1894, een jaar voor de grote afreis. Vier jaar later overlijdt ze, wat haar zusje nooit zal kunnen verwerken. – Bron: Rijksstudio van het Rijksmuseum, Amsterdam, schilderij tentoongesteld in zaal 1.18 van het museum

(Bron: http://hdl.handle.net/10934/RM0001.COLLECT.6250)

Op 7 mei 1900, een maand voordat Pretoria capituleert, trouwt Jacobus met Niesje. In 1901 wordt hun dochtertje Aafke geboren. Bij haar drukken geluiden en woorden zich uit in kleuren en dit eigenaardige verschijnsel, synesthesie genaamd, doet zich voor tot zij een jaar of tien is. Hoe Aafke opgroeit, nog een broertje krijgt, geconfronteerd wordt met de dood van haar moeder, vereenzaamt tijdens haar kostschooljaren in Bussum en eenmaal terug in Zuid-Afrika opgescheept zit met een jaloerse stiefmoeder, beschrijft Pauline Vijverberg prachtig picturaal, met weelderige kleuren die van de roman een impressionistisch schilderij maken.

Een onverwacht stijlelement is dat Aafke, die het gehele verhaal vertelt vanuit de ik-persoon, in juweeltjes van verscheidene hoofdstukken anticipeert op het jaar 1952, wanneer zij door het leven is getekend en contact wil leggen met haar zieke vader die is opgenomen in een tehuis in Pretoria. Hij herinnert zich van het verdwenen schilderij niets.

Enkele beklijvende passages die de toon aangeven van het ganse verhaal:

Jacobus herinnert zich wat zijn overleden vrouw Niesje ooit zei: “Misschien is het door hoe ik in Amsterdam ben opgevoed of door waar ik vandaan kom, dat ik moeite heb met hoe mensen elkaar hier behandelen.” (uit hoofdstuk 37)

Aafke wil afrekenen met het gevoel er nooit bij gehoord te hebben: “Als het mogelijk was een brief te sturen naar mezelf op jongere leeftijd, dan zou ik schrijven: ‘Meisje, het komt allemaal goed’.” (uit hoofdstuk 44)

Aafke bij het sterfbed van haar vader Jacobus: “Het is bijna tijd om afscheid van mijn vader te nemen. Zijn adem klinkt als een lage E-noot. Aum. Het is het geluid van zijn hart. Kan ik de rol van vroedvrouw naar de dood vervullen? Zoals hij mij heeft geholpen om geboren te worden, zou ik hem willen begeleiden op zijn volgende reis.” (uit slothoofdstuk 64)

Zoals hoofdstuk 17 uit Max Havelaar, met het beroemde liefdesverhaal van Saïdjah en Adinda, nog langer zal worden onthouden dan de roman zelf, geldt dat ook voor de hoofdstukken 45 en 46 van De Achtste Zonnebloemen. Die twee hoofdstukken, die een niet verstuurde brief van Jacobus aan Aafke en een niet verstuurd vervolg op de brief omvatten, vol geheimen, zijn subliem, geweldig precieus naar inhoud en stijl, tegelijkertijd contemplatief en opstandig.

Jacobus schrijft de brief in 1914, wanneer Aafje op kostschool zit in Nederland, ver weg van alles wat ze liefheeft, en de landen in Europa overgaan tot mobilisatie. Jacobus zelf herbeleeft de gruwel van de veldslag bij Elandslaagte en het bloedbad van Brandfort in nachtmerries. Toen streden Jacobus en Cor van Gogh als vrijwilligers bij het Hollanderkorps aan de zijde van de Boeren tegen de Britten in de Tweede Boerenoorlog. Cor en Jacobus betekenen veel voor elkaar. Ze spreken elkaar moed en troost in, maar voor Cor wordt het teveel en hij geeft de strijd op. Jacobus kan zich niet vergeven dat hij Cor op het laatst heeft achtergelaten. Hij beseft nu heel goed dat er veel verschillende vormen van liefde bestaan en dat het menselijk hart geen enkele beperking toestaat.

Cor, de jongste broer van Vincent van Gogh, komt in 1889 aan in Zuid-Afrika. Hij straalt iets onstuimigs uit en heeft een ongekende geestdrift. Wanneer hij later Jacobus Swierstra leert kennen, worden beiden boezemvrienden. Anders dan zijn broer Vincent, is Cor een kei in technisch tekenen. Hij werkt voor de Nederlandsch-Zuid-Afrikaanse Spoorwegmaatschappij, die al honderden Nederlanders in dienst heeft: de zogenaamde Zassemers. – Bron: Wikimedia Commons, foto: Szilas, The Van Gogh My Dream Exhibition, Budapest, 2013

Het is moeilijk te begrijpen hoe Pauline Vijverberg het voor elkaar krijgt. De emoties van haar personages schragen minutieus op elkaar, wat de roman uitermate meeslepend maakt en de verbeelding van de lezer zelfs op hol jaagt. De verhaallijn van het verdwenen Zonnebloemen-schilderij, die in haast elk hoofdstuk een spoor achterlaat, bindt al die emoties samen tot een fascinerend geheel.

Het begint onschuldig. Bij zijn emigratie krijgt Cor van Gogh enkele plaatjes mee van zijn broer Vincent, waaronder het achtste exemplaar van het Zonnebloemen-schilderij. Het prijkt in zijn kamer. Wanneer de oorlog in 1899 wordt verklaard, stemt Jacobus ermee in dat Cor de kunstwerken onderbrengt in een leeg kamertje van het museum. Na de dood van Cor neemt Jacobus het schilderij mee naar huis en hangt het op boven het bed in de slaapkamer. Het schilderij, een symfonie in geel en blauw, fleurt Niesje op telkens als zij het moeilijk heeft. Na haar overlijden verhuist het schilderij naar de kamer van Aafke, die van nature uit kleuren ziet dansen wanneer woorden niet volstaan en die niet genoeg kan krijgen van dat contrast tussen hardgeel en gebroken geel tegen verschillende kleuren blauw op de achtergrond. Wanneer Aafke na haar kostschoolopleiding in Nederland terug thuiskomt in 1918, is het schilderij spoorloos. Het zal tot 1952 duren vooraleer het opduikt in het oude huis van haar vader.

De Achtste Zonnebloemen, de nieuwe roman van Pauline Vijverberg, schildert met de fijnste kleurschakeringen het lief en leed van enkele Nederlanders die op het einde van de 19e eeuw uitwijken naar Zuid-Afrika. Onstuitbaar is het verlangen van Jacobus, Niesje, Geesje en Cor om van hun nieuwe plek een thuis te maken. Maar in de kleine dingen van het leven ervaren ze dat ze in hun nieuw thuisland weerloos zijn gestrand en er buitenstaanders blijven.

De auteur maakt het universeel thema van migratie, het achterlaten van het vertrouwde, het opzoeken van nieuwe horizonten en vooral het aangrijpen van nieuwe kansen in donkere tijden, op briljante wijze aanschouwelijk. Ze laat de lezer het lot delen van de vreemdeling, migrant, asielzoeker, mens zonder papieren, voluit in de 21e eeuw. Het mysterieuze kronkelpad van van Goghs Zonnebloemen-schilderij smeedt het gebroken gevoelsleven van nieuwkomers samen tot een kleurrijk, tijdloos fresco. Dat het universeel thema van migratie zo spannend wordt beschreven, maakt de roman onvergetelijk.

The post <em>De Achtste Zonnebloemen. De zoektocht naar van Goghs verdwenen schilderij</em> door Pauline Vijverberg appeared first on LitNet.

LitNet Akademies-resensie-essay: Offers vir die vlieë deur Fanie Viljoen 

$
0
0

Offers vir die vlieë
Fanie Viljoen
Uitgewer: LAPA Uitgewers
ISBN: 9780639601779

(Bederfwaarskuwing vooraf: LitNet waarsku dat hierdie resensie-essay nié bedoel is vir diegene wat nog nie die roman gelees het en graag deur die verwikkelinge verras wil word nie.)

’n Lesergerigte indruk

 

1. Inleiding

As leser van Offers vir die vlieë beweeg ek van algemene faktore wat te make het met die skrywer en eksterne (buitetekstuele) elemente van jeugletterkunde as subgenre van literêre tekste, na spesifieke interne tekstuele en literêre stylmiddele wat die betrokke jeugverhaal ondersteun.

Hierdie leesproses plaas ek binne die kader van hoofagente in die literêre kommunikasieproses soos deur Rosenblatt (1995) aangaande die resepsie-estetika (ook genoem responsbenadering)1 uiteengesit. Waar daar in die verlede veral gekonsentreer is op teksstudie, blyk dit uit die bespreking van die funksies van jeugliteratuur duidelik dat die ervaring van die leser tydens die leesproses baie belangrik is. Daarom is ’n nuwe paradigma nodig, waarvolgens die leser ’n liefde vir die boek en lees kan aankweek en die skrywer ’n (aktiewe) aandeel daarin het, terwyl die literêre vorming en ontwikkeling van kommunikasievaardighede ook baie belangrik is.

Die responsbenadering – wat dus my lens as leser is – is ’n tweerigting kommunikasieproses waarin die leser herskeppend reageer op die skrywer se weergawe van ’n bepaalde seining van hoe dit die teksproduksie en teksresepsie van jeugliteratuur (moontlik kan) beïnvloed. Met teksproduksie word bedoel die daarstelling van ’n geskrewe teks, en teksresepsie behels die proses van (aktiewe) teksrealisering deur die leser. Omdat die jeugdige leser betrokke is as agent in die literêre kommunikasieproses, is dit nodig om te bepaal wat die funksies van jeugliteratuur is. Rita Ghesquiere2 meen dat die spesifieke funksies van jeugletterkunde dit onderskei van die gewone roman. Dit sluit aan by wat ’n vroeë kenner (en bekroonde skrywer) van Afrikaanse jeugletterkunde, Elsabe Steenberg3, meen, naamlik dat jeugverhale oorgangsliteratuur genoem word omdat die jeugdige steeds vooruit reik na volwassenheid in die proses van sy groei uit selfgenoegsaamheid en dat dit gereflekteer word in hierdie subgenre.

 

2. Die skrywer van Offers vir die vlieë

Fanie Viljoen (Foto: Facebook)

’n Vinnige blik na Fanie Viljoen se webtuiste4 toon duidelik aan dat sy oeuvre bestaan uit nie-fiksie (Doendinge), sowel as feitlik elke fiktiewe tekssoort wat hy met sy unieke styl bemeester het – fantasie, kinder- en jeugverhale, grafiese romans en selfoonverhale, spookverhale, wetenskapfiksie – selfs ook poësie wat in Nuwe stemme 5 opgeneem is. Die feit dat hy voltyds skilder, illustreer en skryf maak die leser bewus daarvan dat ook die visuele ’n belangrike faktor in sy tekste is – hy kry ook die MER-prys vir geïllustreerde kinderboeke.

Trefferboeke soos Betower, Spring en Dromers, asook reekse soos Nova, Slym, Lulu en Aksieheld Austin het van Fanie Viljoen ’n huishoudelike naam gemaak.

Sy boeke BreinBliksem en Onderwêreld is albei onderskeidelik met die goue en silwer Sanlamprys vir Jeuglektuur bekroon.

Betower en Afkop was naaswenners in LAPA se jeugromankompetisie en hy wen 2019 se kompetisie met Offers vir die vlieë.5

Op sy webtuiste word gemeld dat Viljoen veral kinder- en jeugboeke skryf omdat “daar nie grense is aan kinders [jong adolessente] se verbeelding nie”. Om hierdie rede sal dit duidelik blyk waarom Offers vir die vlieë lesergerig is.

 

3. Lesergerigtheid van Offers vir die vlieë

Die verhaal is ’n tipiese psigologiese roman wat ressorteer onder distopiese fiksie en grensliteratuur en is beslis toepaslik vir die teikengroep van jeugdiges aan die einde van hulle skoolloopbaan of daarná. Dit is selfs moontlik dat jeugdige lesers iemand in hulle familie het (of gehad het) aan wie die skrywer die boek (in teksinterne periteks – sien bespreking onder intertekstualiteit) opdra heel voor in die verhaal:

Vir hulle wat nie van ’n oorlog af teruggekom het nie.

Die hoofkarakter in Offers vir die vlieë (Eliam) en die 5 ander saam met hom is ongeveer 18 jaar oud, is op dieselfde dag gebore en is die enigste 6 wat nie uitgeval het van ’n groep van 30 troepe in hulle opleiding om na die Front te gaan nie. Toe hulle 10 jaar oud was, het hulle by hulle ma’s houtgewere gekry, op 13 jaar gasgewere, op 16 jaar S13-karabyngewere, en “[o]p agttien, toe ons by Opleidingskamp Alfa rapporteer, het ons elkeen ons eie S13 gekry” (57).

Die verhaal handel primêr oor Eliam worsteling met brutaliteit, geweld, marteling, vernedering, verlies van self en ’n eie identiteit wat eers net ’n nommer was – 11.35.02.01 (16) totdat hy weet: “Ek is nie meer wie ek was nie: Die seunsoldaat is nou ’n man” (245) – alles gevolge van ’n troep se belewenisse op pad na die Front. Tienerlesers wat ’n soortgelyke probleem met selfkennis het sal hiermee kan identifiseer:

“Ek is die een wat dink. Wanneer jy dink, wil jy vrae vra. Maar dit beteken nie jy kry die antwoorde nie” (194);

“Geluide en beelde [van Victoria se noodkrete wanneer sy verkrag word], genoeg om die vrae verder in jou los te torring. Om jou in alles wat die Mag voorskryf, te laat twyfel. Sodat jy jou begin afvra: Is ons werklik nog die Mag? Of het ons die AntiMag geword? Is ons die goed? Of is ons deel van die Vrot?” (208).

Dat meisies van hierdie ouderdom in die roman sal belangstel, is wel moontlik, omdat ek dink hulle sal kan identifiseer met die selfondersoek van karakters in psigologiese jeugromans. Uit jare se ervaring met tieners en hulle belangstellings weet ek die meerderheid seuns verkies fisiese aksie en spanning in hulle leesstof, waarvan daar in die intrige van hierdie roman ’n oorvloed is. In Offers vir die vlieë is daar egter Eliam en Cali se liefdesverhouding wat met baie teerheid uitgebeeld word – dit kan dalk meisies se belangstelling aanwakker. Deesdae is daar ook meisies wat kies om weermag toe te gaan, al is hulle nog ’n klein minderheid.

Tog is daar ook ander sake wat beide meisies en seuns se belangstelling kan prikkel in Offers vir die vlieë: Daar is die primêre konflik wat Eliam se selfondersoek is, dat hy dink en vrae vra: “Jy was van jongs af ’n nuuskierige kind. Wou alles van alles weet. Jy het vrae gevra oor elke klein dingetjie. ’n Bietjie van ’n handvol ...” (172). Dan is daar as sekondêre konflik sy verhouding met sy vyf makkers (Diesel, Jethro, die tweeling Victor en Victoria, en Cypher) en outoritêre militêre magsfigure (Torsten, Verdoorn en Krux).

Eliam se verlange na menslikheid en liefde (Cali), moederlikheid (Suster) en vaderlikheid (Krux) word van hom weggeneem en Eliam voel bedrieg en verraai as Krux se houding verander en hy agterkom dat hulle almal Suster se “gunsteling” was (233).

Uiteindelik is daar die oorkoepelende konflik van mens-teen-mens-geweld in oorlogsituasies, en troepe teen offisiere. Al offer hulle hulself op vir die Mag – “Jy doen wat die Mag van jou vra. Jy offer jou lewe. Jy gee jouself. Selfs al is die prys hoog, die beloning is groter” (71) – kan niemand eintlik wen nie en Eliam weet dit reeds vroeg (in die verhaal): “Die dag toe ek die gebrande man ontmoet, het die bietjie wat van daardie sekerheid oor was, soos ’n kaartehuis ineengestort” (24).

Uiteindelik word die leser genooi om, soos Eliam, verder te kyk as sy omstandighede om hoop en vrede te vind: “‘Daar’s ’n groter prentjie wat jy móét sien,’ het die gebrande man destyds by my gepleit. ‘As jy die antwoorde op die groter vrae wil hê, moet jy deur die spieël breek’” (251).

Die karakters se belangstellings word nie dikwels genoem nie. Ons weet wel dat Eliam ’n kritiese denker is, vrae vra en antwoorde soek vir die probleme wat hy raaksien en ervaar, en seksueel aangetrokke is tot Cali – ook “Daar was toe nog ’n hele paar meisies in ons groep, in die Residensie. Ons het hulle ook dopgehou. Anders dopgehou as onsself. Nooit het dit egter verder gegaan nie. Die Boek – waar en rein is die woorde – verbied dit” (167). Verder is daar sprake van homoseksualiteit (Torsten en Victor, Victor en ’n ander troep), geweld en aggressie (brutaliteit van Torsten in die opleidingsprogram, onrus tussen die troepe), die verkragting van Victoria deur Torsten (209), en ook die tienerdogter deur die vier mans in uniform (33) – alles tipiese kontensieuse sake wat in die hedendaagse lewe aan die orde van die dag is en waarmee tieners gekonfronteer word – tuis, by die skool, op TV, in films en in videospeletjies – en waarmee sekere lesers sou kon identifiseer.

Ook sal lesers kan assosieer met gebeure wat in distopiese romans (waarvan sommige vir film of TV verwerk is) voorkom – The hunger games, The handmaid’s tale, Fahrenheit 451, Nineteen eighty-four, Brave new world). Offers vir die vlieë kan die leser se verwagtingshorison uitbrei en verbeelding ontwikkel omdat hulle in die fiktiewe teks meer inligting oor distopiese verhale en deernis vir die karakters daarin kan vind.

Wáár die verhaal afspeel, is eers die plek waar hulle groot geword het (Kolonië), daarna waar hulle opgelei is by Opleidingskamp Alfa, op die onherbergsame pad na die Front toe, die barakke en menasies, die mediese kliniek – waar die wolke heeldag in die lug is en daar geen son is nie, bome verbrand is en net silhoeëtte daarvan oorgebly het.

 

4. Potensiaal van die jeugverhaal om met die bedoelde leser te kommunikeer

Tolkien6 onderskei tussen die sekondêre wêreld van die verbeelding en die gegewe realiteit wat hy die primêre wêreld noem. Alhoewel die sekondêre wêreld van die skrywer en die leser in Offers vir die vlieë dieselfde aard het, is hulle nooit identies nie. Die transformasie van die skrywer se fantasieë (fiksie) tot storielyn, simbool en karakters verskil van die leser se aktiwiteit wat sy eie verbeelding laat aansluit by wat in die teks voorkom. Gesien in die lig daarvan dat Offers vir die vlieë se hoofkarakter Eliam (en dus die bedoelde leser) in die laat-adolessente fase van ontwikkeling is, is dit gepas om te let op die volgende kenmerke van hierdie lewensfase (omdat die bedoelde leser7 ’n lesertipe in ’n buitetekstuele kategorie is wat tegelyk sy neerslag ook in die teks vind), en hoe hierdie kenmerke deur die karakters uitgebeeld word:

  • Adolessente is gewoonlik in ’n aktiewe introversie-fase, wat lei tot die ontdekking van die ek, met sy wêreld van gedagtes, gevoelens, stemminge, drange, strewes en begeertes. Dit word in Offers vir die vlieë uit Eliam se perspektief uitgebeeld en dit lei tot die ontdekking van Eliam, en daarmee saam ook die leser se unieke individualiteit, wanneer hy antwoorde soek op die vrae in sy gemoed.
  • Omdat die jeugdige gedurig met homself besig is, is hy geneig tot selfkritiek, veral van sy eie uiterlike voorkoms. Dit manifesteer in Offers vir die vlieë in Eliam se siening van homself: “Voor die gekraakte spieël skeer ek, sonder seep, maar darem met warm water. Ek vermy my bewegende weerkaatsing, hou my oë op die gespierde voorarm, die hand wat die skeermes vashou, die bietjie baard wat die water wegspoel. ’n Melkbleek vel wat nooit die son sien nie ... Hande, hard van die Mag se opleiding” (17). Die ontwikkeling tot volwassenheid en aanvaarding van homself bring egter begrip vir homself, die troepe se ervarings, die groen boek wat alles aangaande die Program verduidelik, en sy eie en ander se optrede.
  • Die jongmens is baie bewus van tyd, naamlik die hede, verlede en die toekoms, die verganklikheid van die lewe en die betekenis van die dood. Dit hang saam met die ontwikkeling van sy waardesisteem. In Offers vir die vlieë is daar duidelike voorbeelde hiervan:
    • Eliam se waarneming van die ontvangsarea by die AntiMag: “Grys mure omgrens die droewige ontvangsarea ... Ek het gehoop dit sou anders lyk by die AntiMag. Groen gras, bome, ’n blou hemel, son – soos op die prent van die wêreld voor die Verdonkering waarop ek destyds in die Residensie afgekom het” (249).
    • Die proses van vergeesteliking in Eliam se groei tot aanvaarding en volwassenheid word sterk beïnvloed deur die waardes van die Boek en mense in sy omgewing, bv sy vyf maats in die span, die weermagoffisiere, Suster en sy ma by kleintyd.
    • Verder dink Eliam baie oor tyd na as hy dink aan die ou en nuwe tyd:
      • “Dis moeilik om dit werklik te verstaan. Ek en my makkers ken niks anders as hierdie wêreld, hierdie tyd nie ... Jy moet net weet: Die wêreld van daardie tyd was ’n bose plek” (20);
      • Soos dag en nag verskil, so verskil die ou en die nuwe tyd. Moet jou nie laat mislei deur profete wat die ou tyd ophemel nie, hulle wat hunker na misplaaste vryhede wat die mens vasketting nie. Ware vryheid lê in die nuwe tye ... Dan sal die lig deurbreek en sal jy die kentering van die ou tyd ten volle begryp” (147, kursiewe woorde uit die Boek).
  • In die adolessente fase ontwaak daar ’n verlange en behoefte na geesgenote, veral na iemand met wie jy één kan word en wat jy kan liefhê. Verhoudings met dieselfde en die teenoorgestelde geslag in Offers vir die vlieë word dus ook uitgebeeld in terme van Eliam se toegeneentheid tot sy makkers en diep aangetrokkenheid tot Cali. Kenmerkend van die jeugdige se ontwikkelingsfases is die stryd om saam te leef met sy ontwikkelende geslagsdrang, wat ook bydra tot die ontwikkeling van sy persoonlikheid, geestelike kragte en funksies. Eliam is in Offers vir die vlieë toenemend bewus van sy eie seksualiteit en sy verlange na intieme liefde word besonder teer uitgebeeld te midde van die dood:
    • “Een is die meisie wat ek nie mag liefhê nie. Cali ... Swart hare en olyfkleurige vel. Groot donker oë wat my binnekant sagmaak sonder dat ek probeer, dit gebeur net. Ek wil die heeltyd aan haar raak, maar ook dit mag nie gebeur nie, tensy dit deel van die opleiding is” (89);
    • “Cali is reg langs my. Ek hoor haar asemhaling. Voel die misterieuse aantrekkingskrag tussen ons. Dit bring ’n vrede in my, al is die spanning aan die oplaai ...“ (90);
    • “Ek gee Cali se skouer vinnig ’n drukkie. Voel haar arm teen myne skuur ... Cali sit haar kop by myne toe ons asemskep. Net ’n oomblik lank. Dis genoeg ...” (92);
    • “Een troos vind ek in daardie oomblik: Cali wat haar pinkie sag om myne krul onder die gasmasker in haar hand. Ek maak my oë toe en drink die oomblik in. Hoor hoe sy my naam sag fluister ... Dis mooi, so op haar lippe” (93);
    • Wanneer Torsten op Eliam skiet: “Dan kom dit. Op dieselfde oomblik toe Cali, my liefste Cali, haar lyf oor myne gooi en die koeël in haar rug vat” (94);
    • Cali nooi hom ook roggelend uit: “‘Tussen hier en die anderkant. Blink glas.’ Bloed stort oor haar lippe. Ek vee dit met my hand af. ‘Jy moet die spieël sien, Eliam. Dis so ... mooi.’” (95);
    • Eliam vind toenemend rus in sy herinnering aan haar: “Ek het die trane weggebyt, oor haar geleun en haar sag, sag gesoen. Haar bloed proe ek soms steeds op my lippe. In my mond. Haar naam dra ek steeds aan die kettinkie om my nek, langs my eie naamplaatjie” (96).
  • In hierdie lewensfase worstel die jeugdige met ’n strewe na selfuiting, wat gestalte vind in Eliam se éénwording met die ander vyf troepe in sy span: “‘Ons is elkeen op ’n manier anders. Met ander gawes toevertrou,’ sê Priester. Eliam dink: ‘Maar wanneer dit egter om oorlewing gaan, gebeur iets: Dis soos ’n ding wat in jou kop aanskakel. Jy voel dan anders, jy doen anders. Ses word een. Die perfekte getal’” (23).
  • ’n Ander kenmerk van die jeugfase is die tiener se rebelsheid. Hy/sy8 word nie meer opgevoed deur woorde alleen nie, maar kom veral in opstand teen die mense in sy omgewing se voorbeeld. Een manier waarop Eliam sy verset in Offers vir die vlieë toon, is om hom uiteindelik openlik teen sy offisiere te verset: “Wat het jy gedink, Victor? Wat het jy gedink toe jy vir Torsten nee sê? Want toe hy nie vir jou kon kry nie – soos daardie aand toe ek julle twee saam gesien het – toe vat hy vir Victoria” (206). Die gebruik van kragwoorde is ’n verdere subtiele vorm van die karakters se rebelsheid – ek noem later voorbeelde wanneer ek die register van die roman bespreek.

 

5. Funksionaliteit van die jeugdige ontwikkelingsproses

Die jeugletterkundekenner Rita Ghesquiere (1993:113–21) dui aan dat jeugverhale drie funksies het, naamlik die psigologies-emosionele, die informatiewe (intellektuele) en maatskaplike funksies. Laasgenoemde hang myns insiens ook saam met die ontwikkeling van (inter-)kulturele geletterdheid en kontekstuele oriëntasie, veral in ’n diverse maatskaplike landskap en ’n besoedelde en ekologies-bedreigde land soos Suid-Afrika. Offers vir die vlieë is ook op hierdie terrein ’n uitstekende voorbeeld van ’n jeugletterkundige teks.

Die psigologies-emosionele funksie hou veral verband met die identifikasieproses waardeur die leser insig verwerf in sy eie gevoels- en ervaringswêreld.

In Offers vir die vlieë is dit veral Eliam deur wie se oë en ervarings die leser ’n groter gevoeligheid vir verskille tussen mense (verskillende geslagte en ouderdomme) en sy eie gedrag en intensies ontwikkel. Hy leer mettertyd om sy eie gedrag en die gevolge daarvan te interpreteer.

Ook bied jeugliteratuur vir die tienerleser kompensasie vir die gebreke en onvolkomenheid van die werklikheid waarin hy leef. In Offers vir die vlieë kry die leser kans om daarvan te ontsnap (deur Eliam se ervarings, sienings, herinneringe) en sy eie emosionele pyn te vergeet. In hierdie opsig is Offers vir die vlieë bevredigend, omdat Eliam se posisie en wedervaringe die leser help om te identifiseer deurdat hy die gebreke en onvolkomenheid in die Mag uiteindelik verstaan en aanvaar, en dat net hy oorbly.

Verder is jeugliteratuur vir die tienerleser ’n middel waarmee hy homself kan handhaaf en sy eensaamheid en verveling kan verminder. Om te lees help om sy spanningsvlakke te reguleer, want deur die proses van biblioterapie (terapie van lees) kry hy onbewustelik insig in sy eie probleme. Omdat lees in Offers vir die vlieë ontvlugting, ontspanning, identifisering en begrip vir die tiener bied, is hy nie daarvan bewus dat hy intellektueel ontwikkel en emosioneel en selfs sosiaal groei nie (omdat die leser saam met Eliam en met sy medetroepe kan empatie hê soos wat Eliam geleer het om begrip te hê vir sy situasie en hulle saamspan om vir Torsten te vermoor).

Jeugliteratuur het ook ’n informatiewe (intellektuele en estetiese) funksie, waar die leser inligting kry, sy denke en sienings uitgedaag word en hy dit lees soos dit in estetiese taal verwoord word.

In Offers vir die vlieë is Eliam se verhouding met sy offisiere en medetroepe die hooftema en hy leer algaande meer van homself (soos wat hy sintuiglik en emosioneel gewaarword deur wat hy sien en voel oor die gebeure – dít is wat hy in sy innerlike monoloog en dialoog uitdruk) en van sy afkoms en inligting oor die Program.

Verder dra die lees van literatuur ook spesifiek by tot taalverwerwing – in Offers vir die vlieë is die leser bewus van verskillende tipes taalgebruik en kognitiewe ontwikkeling gebeur in die algemeen. By die lees van hierdie jeugroman is die leser bewus van spesifiek weermagtaalgebruik en kragwoorde, waar eersgenoemde verwys na die informele nie-standaardvariante wat deur mense in die weermag gebruik word.

Die adolessente leser van hierdie verhaal se analitiese denke word geoefen omdat die lees van so ’n ongewone teks hom stimuleer om te soek na die samehang of logiese opeenvolging van gebeurtenisse, die lewe, emosionele wonde en dood (al is dit van dié van die offisiere en amptenare), so ook die optrede van verskillende karakters (sowel Eliam as die ander troepe wat soos jong volwassenes is en presies dieselfde ouderdom het).

Ook word die tienerleser se verbeelding aangewakker deur die proses waarin hy hom inleef in die lewens van ander (Eliam en sy medetroepe) asook die herkenning van motiewe en simbole, die bekende en die onbekende omgewing en gebeure. Letterkunde het dus ook ’n estetiese funksie – dit kan die ander funksies transformeer deur ’n ewewig te skep en moralisering te voorkom. Dit gebeur in Offers vir die vlieë wanneer die tienerleser se aandag op die teks self gevestig word – die genre, narratiewe lyn, fokaliseerder, milieu, intrige en spanning wat geskep word.

Op hierdie manier word die tienerleser se verbeelding gestimuleer en só raak die leser bewus van die kreatiewe krag van taal. Ook hierin slaag Offers vir die vlieë uitstekend, want hierdie leser kon nie hierdie jeugroman neersit nie agv die hoë spanning en intriges, asook die estetiese taalgebruik.

Voorbeelde van laasgenoemde in Offers vir die vlieë is die volgende metafore, vergelykings, herhalings en kontraste as jukstaposisionering in Eliam se innerlike monoloog: “Goed en kwaad. Saliges en afvalliges. Mag en AntiMag” (21). Dit is vir my as leser asof Eliam se intense gevoelens van pyn, agterdog, vrees en woede geïntensiveer (en dalk gebalanseer) word deur hierdie kreatiewe (soms ironiese of spottende) taalgebruik – dit kan selfs ’n soort postmodernistiese dekonstruksie van die (fiktiewe) wêreld op pad na die Front wees: Daar is talle voorbeelde van metafore, vergelykings, personifikasie, motiewe met bybelse (slang, toring van Babel, die swart boeke wat mense gehad het, Armageddon) en eietydse Suid-Afrikaanse geskiedkundige assosiasies (Dingana en Bloedrivier), simbole (veral die spieël, boeke, geroffel van tromme), en treffende naamgewings met dieper betekenis.

Die maatskaplik-sosiale funksie behels dat die adolessent gehelp word om te sosialiseer deur kontak met jeugliteratuur, want hy maak keuses sonder die invloed van sy portuurgroep.

Deur die lees van Offers vir die vlieë maak die leser kennis met die samelewing se vooroordele, gedragspatrone, waardes en norme (spesifiek die optredes van die ses troepe se ma’s toe hulle klein was, en verder ook wat in die Boek vereis word sedert die Nag van Verdonkering en later blyk uit die groen boek aangaande die Program) – veral met betrekking tot verskillende geslagte (manlik, vroulik), homoseksualiteit, offisiere (sersant, sersant-majoor, kommandant, korporaal, luitenant, Militêre Polisie), die Priester en amptenare in die mediese tente (Suster, die verpleegster Maria, Mediese Ordonnanse).

Die individu word begelei om homself te sien as deel van ’n geheel (troepe by Opleidingskamp Alfa, die wêreld sedert die Nag van Verdonkering wat onder beheer van die Mag is). Dit pas by wat Carlsen (aangehaal in Ghesquiere 1993:120) se argument aangaande literatuur is:

Literature by its very nature is selective and suggests integrations, connections, insights into experience, and values which the individual [reader] might not otherwise find for himself. At the best literature confronts the reader with the basic eternal problems of human beings, thus helping the individual to see himself as a part of an ongoing history.

Deur Eliam se lewe en sy selfondersoek en optredes word die leser bygestaan in die proses van aanpassing en leer watter rolle hy in die samelewing moet kan speel. Spesifiek kan in Offers vir die vlieë verwys word na Eliam se worsteling met wie hy is, hoe hy is, waar hy vandaan kom, wat die waarheid en die leuen is en waar hy hoort om sodoende volwaardig sy plek as troep op pad na die Front in te neem, selfs nadat hy self nou ook gehelp het om ’n moord te pleeg (al was dit as deel van die groep). Só vind kultuuroordrag plaas en die leser leer ken (deur kennismaking met Eliam) ’n troep se vryheid, regte en verpligtings in die weermag onder fascistiese beheer in ’n distopiese bedeling.

Indien die leser blootgestel word aan die betrokke (“engagement”) en multikulturele elemente van jeugliteratuur, kan ook sy etiese standpunt ontwikkel word in die ontginning van die probleme van menswees. Dit gebeur egter nie ooglopend in Offers vir die vlieë nie, omdat die karakters uit verskillende kulture en samelewingsgroepe afkomstig ’n minderheid is, maar wel uitgebeeld word.

  • “Op pad na die afgekampte veldtoilette, keer een van die ander troepe my voor. Dis ’n ou met ’n donker vel en oë, ’n vriendelike glimlag” (148).
  • Sersant Senzele se van klink asof hy nie ’n “bleek vel” soos die ander (Eliam, Cypher, Verdoorn) het nie.
  • Cali het waarskynlik nie ’n bleek vel nie, want sy het “Swart hare en olyfkleurige vel. Groot donker oë wat my binnekant sagmaak ...” (89).
  • Daar is wel, ten spyte van die oorgrote meerderheid mans, ook enkele vrouens wat genoem word: Cali, die tweede Priester, Suster en Maria, die verpleegster. Die leser word dus met karakters (uit verskillende bevolkingsgroepe en geslagte) se optredes (wat anders as sy eie is) gekonfronteer.

In Offers vir die vlieë is duidelike uitings van kulturele kwessies, gemeet aan die volgende kriteria/vereistes vir kulturele geletterdheid in jeugliteratuur9:

  • Die teks en veral Eliam se karakter se effek op die leser kan lei tot ’n verbeterde selfbeeld en selfrespek.
  • Soos hier onder aangetoon, is die literêre kwaliteit (tema, karakterisering en agtergrond) van hoë gehalte.
  • Die teks lig universele waarhede uit – oplossing van emosionele probleme, aanvaarding van die self en ander, die karakters se soeke na eie identiteit (Eliam wat baie oor homself in die omgewing dink en tog uiteindelik vry raak van sy selfbeheptheid, soos dit blyk uit sy innerlike monoloog waar hy twv oorlewing sy groep help om ’n aksie teen Torsten te kies en hulle van sy brutaliteit en geweld te bevry).
  • Die taalgebruik is werklikheidsgetrou en nie kunsmatig of vol stereotipe dialek (van anderstaliges) nie. Eliam en die ander troepe en offisiere gebruik dikwels kragwoorde om uitdrukking te gee aan hulle vernedering. Eliam se kreatiewe taaluitings dmv vergelykings en metafore, asook Jethro se humor (sarkasme, hy onderdruk ’n lag, oordrywing, bv hy sal ’n perd kan eet) gee die verhaal ’n veelvlakkigheid – humor en die estetiese is ’n manifestasie van kultuur in Offers vir die vlieë.
  • Hoewel die teks morele waardes en etiese beginsels uitlig, kom dit nie voor as sedelesse of preke nie – eerder kritiek wat in Eliam se innerlike monoloog manifesteer wanneer hy die geheime plan van die heersers in die Program herken in die boek met die groen omslag by Cypher.
  • Ontwikkeling van kulturele geletterdheid vind plaas wanneer die jeugverhaal aandag gee aan kontekstuele, omgewings- of kontensieuse kwessies. In Offers vir die vlieë word dit gemanifesteer in Eliam se psigologiese stryd as lid van ’n weermag – hy ontwikkel deur die traumatiese konfrontasie met die brutaliteit van Torsten, Verdoorn en Krux, die keelafsny van hulle hondjies en die moord op Torsten begrip en aanvaarding, wat verder lei tot deernis met homself en die ander vyf in sy span.
  • Eliam se perspektief is betroubaar binne die konteks en sy innerlike monoloog en dialoog verstaanbaar omdat hy nie sy pyn en twyfel oor ander mense en die situasie openlik kan kommunikeer nie: “Hoekom die geheime, die saam grootword, gereelde mediese ondersoeke, die verwoestende afbreek tydens die weermagopleiding? Wat is die Program regtig? Soveel vrae” (194). Hy kan nie daaroor praat nie, want ’n mens “vertrou niemand behalwe jou span nie – met die opleiding is hulle gekondisioneer om mekaar te vertrou. Jy versaak die Self, tree op soos ’n span, veral in moeilike omstandighede” (15). Hy kan selfs nie vir Krux vertrou nie, al lyk hy aanvanklik vriendelik en selfs vaderlik: “Moet hom nie vertrou nie, Eliam, waarsku ’n binnestem, soos ’n hond wat te veel geslaan is. Onthou, hy is deel van die Mag” (133). Verder moet hulle in die openbaar vir mekaar fluister agv die hommeltuie wat hulle oral afluister.
  • Die leser kan in Eliam se skoene staan en sodoende kan die leser se empatie gewek word vir die soort maatskaplike probleem wat aan die orde van die dag is (nl oorlogvoorbereiding en -voering), Eliam se worsteling om te weet wie hy is en waar hy vandaan kom, wat die waarheid en die leuen is, en wat goed en wat boos is. Die leser se verbeelding kan ontwikkel omdat die verhaal oop en met vraagtekens eindig – is dit ’n droom of is hy die perfekte een wat voortkom uit die eksperiment? Sal Eliam hierna dit regkry om homself te wees met die “gawes” wat aan hom toevertrou is?
  • Dwarsdeur die verhaal is daar ’n dekonstruksie van óf ’n pessimistiese óf ’n optimistiese (eensydige) verdraaiing van die werklikheid deur een van die karakters.
  • ’n Leser wat die ouderdom, ervaring, agterdog, belewenis en uiting van pyn van die hoofkarakter(s) deel, sal met ten minste een van hulle kon identifiseer.

 

6. Literêre teksgehalte

6.1 Genre

Soos vroeër genoem, is Offers vir die vlieë ’n jeugletterkundige werk wat ’n subgenre van literêre fiksie is. Die skrywer se styl in Offers vir die vlieë is tipies van die psigologiese roman (ook genoem traumaroman). Alhoewel hier nie veel romantiese verhaalelemente is nie, kan dit ook ressorteer onder ontwikkelingsromans (bildungsromans), ook genoem die adolessenteroman, waar die groei na volwassenheid, soeke na eie identiteit, verwerking van trauma en die gevolge daarvan sentraal staan.

Hoewel kritici – wat nie bekend is met die narratiewe elemente van soortgelyke verhale soos die outobiografie en memoire nie – dikwels hierdie soort prosa afmaak as selfbeheptheid (met die eie ek/ego) en selfbejammering (dus ’n soort narsisme) vind ons hierin ’n ontdekking en verkenning van die psige, terwyl die binnelandskap van die hoofkarakter die oorheersende ruimte is. Laasgenoemde elemente is wel waar van Offers vir die vlieë en sal in besonderhede hier onder bespreek word.

As sodanig kan hierdie psigologiese adolessenteverhaal in dieselfde asem genoem word as ander bekende Afrikaanse jeugverhale met die belewing en verwerking van trauma as hooftemas. Offers vir die vlieë kan dus netjies saam met ander Afrikaanse (psigologiese) jeugverhale10 wat oor die gevolge en verwerking van trauma handel op die rak staan, naamlik:

  • Die pro (1997) deur Leon de Villiers handel oor ’n adolessente seun wat sy boesemvriend in ’n fratsongeluk (verdrinking) verloor en hom voorneem om nooit weer branderplank te ry nie.
  • In Skilpoppe (1998) deur Barrie Hough word die hoofkarakter deur die homoseksualiteit van sy broer en later sy selfdood gekonfronteer.
  • In BreinBliksem (2005) skok Viljoen met die realistiese uitbeelding van ’n metakognitiewe verkragting en moord.
  • In ’n ander jeugverhaal deur Viljoen, Pleisters vir die dooies (2014), beplan die hoofkarakter hoe hy sy skoolmaats met sy pa se geweer gaan afmaai.
  • Die selfdood van ’n broer word deur Derick van der Walt in Bambaduze (2015) belig.
  • In Asem (2016) deur Jan Vermeulen dagdroom die adolessente hoofkarakter oor hoe hy sy pa vir dae lank gaan laat krul van pyn met die rottegif wat hy in sy tas versteek.
  • Lien se lankstaanskoene (2008) is Derick van der Walt se deernisvolle vertelling van die stryd van die hoofkarakter Lien, wie se ouers se fisieke en psigiese afwesigheid haar dwing om verantwoordelikheid vir die huishouding oor te neem; uiteindelik moet sy bedel om hulle gesin te laat oorleef.
  • In Dis ek, Anna (2004) en Die staat teen Anna Bruwer (2012) het Anchien Troskie (skuilnaam: Elbie Lötter) lesers geskok met die realistiese beskrywings van molestering en verkragting. Alhoewel hierdie twee verhale nie as jeugverhale getipeer kan word nie, word dit as gunstelingleesstof deur veral adolessente meisies aangetoon.
  • Die traumanovelle Blou is nie ’n kleur nie van Carin Krahtz (2018).

Bogenoemde jeugnovelles word gekenmerk daardeur dat die verhaal in die eerste persoon vertel word, ook dat die gebeure gewoonlik sentreer rondom probleme soos trauma en die aanwesigheid van ’n ondersteunende vriendegroep. Hierdie verhale lyk soos vertellingsromans (waar ’n derde persoon die verhaal vertel), maar dit is eintlik ’n karakterroman (met ’n ek-verteller). In Offers vir die vlieë kry die leser insig in die innerlike monoloog11 en die indirekte dialoog van Eliam met diegene in sy omgewing en dikwels met homself.

Tog meen ek dat hier ook iets van ’n bieg- of vertellingroman is, want ek kry dikwels die gevoel dat die eerstepersoonsverteller met my as leser praat, bv waar Eliam ’n verduideliking (vir die leser) aanbied vir hoekom hulle almal van “ons ouens” praat terwyl Victoria daarby ingesluit is, want “sy is soos een van die ouens” (37). Ek vind ook tekens van ’n speurverhaal, omdat dit enersyds vol sg “cliff hangers”12 is om spanning te skep, en andersyds voel of ek nuwe inligting by die verteller kry, waar dit duidelik blyk dat Eliam dit gewéét en (in die vertelde tyd) verswyg het. ’n Tipiese voorbeeld hiervan is die ouens se plan om vir Diesel die sondebok te maak (173) en Diesel as die skuldige aangewys word, terwyl almal presies weet hoe Torsten vermoor is en saam sit en rook (234), maar Eliam steeds “skuldig [voel en bieg aan die leser] oor die sondebok-ding” (176).

Ek meen dat Offers vir die vlieë ’n jeugroman en nie ’n novelle is nie, veral agv die dig verweefde tydsgrepe, motiewe en simbole soos bo genoem, en genuanseerde karakteruitbeelding en intrige. Verder ressorteer hierdie roman onder beide die genres van grens- en distopiese literatuur.

Grensliteratuur is volgens Van Coller (2013)13nie ’n willekeurige versameling tekste nie, maar kan eerder as diskoerse gesien word. Om hierdie rede kan Offers vir die vlieë alleen in kontekstuele verband bestudeer word.

Dit impliseer dat dit literatuur in ’n bepaalde kulturele konteks is – as (sub)sisteem – en voortdurend ontwikkel in samehang met ander sisteme, bv sosiale en religieuse sisteme (vgl die motiewe en simbole vroeër genoem). Volgens Van Coller (2013) het hierdie literatuurbeskouing ’n noue verwantskap met ’n resepsiegerigte benadering (hier bo genoem responsbenadering of resepsie-estetika), want Iser (1975) se begrip repertoire verwys na alle relevante kontekstuele aspekte van ’n teks. Grensliteratuur is enersyds werke wat verband hou met die landsgrense, maar wil andersyds deur die woord “grens” self juis ’n doelbewuste verruiming van die begrip daarstel – teks-, woord- en taalgrense. 

In Offers vir die vlieë staan die gewapende konflik tussen die Mag en die AntiMag in die plek van ’n belangrike grens soos wat kenmerkend is van grensliteratuur – hier spesifiek in jukstaposisie, waar daar vóór die Dag van Verdonkering géén grense was nie en boosheid soos ’n slang deur die wêreld geseil het.

Van Coller (2013) se bespreking van grensliteratuur in Afrikaans dui daarop dat dit gekenmerk word deur die wyse waarop dit die aktualiteit van oorlog en geweld verken by wyse van momentopnames in joernalistieke verslagstyl – dit was aanvanklik net korter tekste (novelles) en kortverhale. Volgens Van Coller verskyn die kernwerke binne hierdie (sub)genre binne minder as 15 jaar, terwyl Elsa Joubert se Ons wag op die kaptein (1963) – wat vir matriekleerders in die sewentigerjare voorgeskryf is as letterkundige teks – as die vroeë voorloper van hierdie genre beskou word. PJ Haasbroek se Heupvuur (1974), Roofvis (1975) en Skrikbewind (1976) bevat van die vroegste grensverhale hoewel dit dikwels in buurlande afspeel. Brutaliteit en wreedheid staan voorop in hierdie verhale. Die wyse van vertelling dien as 't ware as bloudruk vir ’n hele geslag skrywers na Haasbroek, waar geweld die trefwoord van die prosa in die jare sewentig geword het – voorbeelde is werke van John Miles (Blaaskans), JC Steyn (Op pad na die grens), Harry Kalmer (Die waarheid en ander stories), Alexander Strachan (’n Wêreld sonder grense), Etienne van Heerden (My Kubaan).

Distopie is volgens Wikipedia14 ’n (denkbeeldige) samelewing met uiters negatiewe eienskappe waarin die deursnee mens beslis nie sou wou lewe nie. ’n Distopie is dus die teenoorgestelde van ’n utopie (voorstelling van ’n besonder positiewe samelewing).

Distopiese politieke situasies word in Engelse fiksie uitgebeeld in romans soos genoem in die afdeling oor lesergerigtheid.

’n Voorbeeld van ’n distopiese roman in Afrikaans is Stof deur Alettie van den Heever (2018) wat bemark as word as “toekomsfiksie vir vandag” (Steenkamp 2018).15 Dit sluit aan by die groeiende genre van Afrikaanse distopiese spekulatiewe en futuristiese fiksie, wat onder andere insluit: Eben Venter se Horrelpoot (2006), Lien Botha se Wonderboom (2015), Deon Meyer se Koors (2016), Jaco Botha se Miskruier (2005) en jeugromans van Die eiland van Jen Minkman (2015) en Rouxnette Meiring se Kraak (2018).

Distopie is toenemend ’n gewilde onderwerp in werke van fiksie – selfs in Afrikaans – waar die outeur gewoonlik daarmee ’n beeld bied van die toekoms soos deur hom/haar voorgestel en/of om die mensdom te probeer waarsku teen die moontlike gevolge van sekere optredes en beleidsrigtings. Enkele populêre distopiese onderwerpe sluit in (met enkele voorbeelde uit Offers vir die vlieë):

  • ’n Samelewing wat gekontroleer word deur robotte en/of rekenaars – in Offers vir die vlieë is dit hommeltuie wat die kamp bespied, wat mense se gesprekke afluister en beeldmateriaal berg om as bewyse te dien vir die offisiers, en mortiere en missiele uitskiet om mense op hulle plek te sit.
  • Die totale oorheersing en skending van persoonlike privaatheid deur owerhede en instellings – in Offers vir die vlieë is dit die mense met verskillende militêre range (sersant, sersant-majoor, luitenant, kommandant) – ook Suster en Priester, Militêre Polisie en Mediese Ordonnanse.
  • ’n Samelewing waarin alles en elkeen dieselfde is (elke troep het ’n nommer en name is nie belangrik nie) en waar uitinge van kultuur en emosies verbode is – in Offers vir die vlieë is alle boeke (behalwe die Boek en, soos dit later blyk, ook die gebrande man se boek oor die Program) verbrand tydens die Nag van Verdonkering.
  • Oormatige besoedeling wat die natuur vernietig en skend, wolke wat die aarde bedek en geen sonskyn – in Offers vir die vlieë: “’n Enkele dooie boom staan in die water. Sy hoekige takke lyk soos ’n kraak in die landskap ... Dam van Trane” (62).
  • Die gesin bestaan nie, kinders word kunsmatig gereproduseer en die konsepte “moeder” en “vader” word as obseen beskou. In Offers vir die vlieë is beide voorbeelde aangaande biologiese voortplanting en moederskap ook ter sake – Eliam en sy vyf makkers het almal ma’s wat eintlik net broeikaste en versorgers was (228).
  • Distopieë word dikwels gevul met pessimistiese sienings van die regerende klas of ’n regering wat brutaal is of nie omgee nie en met ’n ystervuis regeer. In Offers vir die vlieë manifesteer dit in die protes van Eliam en sy vriende wat uitloop op moorde van offisiere.
  • Distopiese regerings word soms deur ’n fascistiese regime beheer in ’n samelewing waarin geen vryheid meer bestaan nie en wat bestuur word deur ’n totalitêre regering – in Offers vir die vlieë is dit die Mag.
  • Distopiese regeringsinstellings het dikwels protagoniste of groepe wat “weerstand” bied om verandering in hul samelewing teweeg te bring. In Offers vir die vlieë is dit uiteindelik die ses troepe wat op dieselfde dag gebore is, saam in die Alfa Opleidingsprogram was en saamwerk om enkele van die gewelddadige offisiere se lewens te beëindig. Vier van hulle dring deur na die Front om deel van die AntiMag te word – dus téén die Mag wat hulle opgelei het. 

6.2 Intrige en spanning

Offers vir die vlieë bevat verskeie intriges (“plots”) wat deur die verhouding tussen karakters en die tydruimte manifesteer. Verder is die skrywer se “cliff hanger”-tegniek (draaipunte of sg “plot points”) aan die einde van sekere hoofstukke en dele van hoofstukke tekenend van misdaadfiksie en ander spanningsverhale16. Hierdie literêre stylvorm veroorsaak spanning wat maak dat die leser nie die boek kan neersit nie.

Die vertelling word dikwels onderbreek deur terugflitse, waar die eksposisie of kennismaking gebeur soos wat ons as lesers Eliam aan die begin leer ken tydens die opleiding by Opleidingskamp Alfa, met sersant Torsten en sammajoor Verdoorn as brutale leiers. Daarna is daar aanhoudend stygende handeling/gebeure wanneer ander konflikte uit die verlede deur middel van terugflitse bekend gemaak word.

Elemente van emosionele spanning kom na vore wanneer gebeure veroorsaak dat Eliam aanvanklik dink aan die insident aan die begin van hulle opleidingsprogram – sy agterdog duur voort dwarsdeur die verhaal: “Dit was die dag toe ’n fyn stemmetjie in my agterkop gevra het: Is dit wat hier gebeur het, reg? Ek het daardie stemmetjie onderdruk. Wie is jy, Eliam, om so iets te durf vra?” (12).

Ek meen dat daar verskeie klimakse (hoogtepunte) in Offers vir die vlieë is en dat die fisiese klimakse telkens gepaardgaan met gelade emosies. Daarna is daar telkens dalende gebeure, tot die volgende klimaks:

  • Een van die klimakse wat vir Eliam ’n intensiewe emosionele moment is, is wanneer Torsten na hom skiet, hy vir Cali verloor en sy twyfel en agterdog toeneem. Dit laat die leser tegelyk wonder wat die betekenis van die einde is:
    • “Torsten laat hom nie voorsê of vermaak nie. Ek sien die haat in sy oë brand. Hoe sy vinger stadig boontoe krul. Vreesloos wag ek vir die skoot, wonder ek of hy dit regtig sal deurvoer. Dan kom dit. Op dieselfde oomblik toe Cali, my liefste Cali ...” (94);
    • “Ek sal haar nooit vergeet nie. Ek sal Torsten nooit vergewe nie. Daardie een, enkele dag bly vir ewig in my brein se donker kant geëts. Het ek uit weerwraak my kans afgewag ... Die eenvoudigste verduideliking vir gebeure is gewoonlik die beste verduideliking” (95).
  • Nog ’n klimaks is wanneer dit bekend word dat Torsten vermoor is. Hierdie verhaalmoment beeld telkens ’n katarsis (ontlading van opgekropte emosionele sowel as fisiese geweld) uit: Almal is verdagtes, maar Diesel (wat nie kan swem nie en bang is vir water) word uitgemaak as die sondebok en word in die Dam van Trane gemartel. Cypher probeer vir Diesel aanmoedig:
    • “‘Jy is iewers in daardie veld waar dit mooi is,’ sê Cypher nou vir Diesel. ‘Alles is groen. Daar is blomme en ’n blou lug. Bome. Die mooiste, grootste bome wat jy al ooit gesien het. Hulle takke roer in die wind, Diesel. Voel jy die wind op jou gesig?’” (102);
    • “Almal is in die dam om vir Diesel te help om Torsten se lyk omhoog te hou: ‘Ons haat Verdoorn en ons haat Torsten wat ons selfs deur die dood folter en pynig’” (103).
  • Die insident waar die span hulle honde moet keelaf sny nadat hulle vir hul honde elkeen ’n troetelnaam moes gee, is ’n intense fisiese klimaks met intense gevoelens van al die troepe (behalwe Cypher – “hy het geweet. Dit besef ek nou. Dis hoekom Halo nooit by hom op die bed geslaap het nie. Dit was ’n manier om afstand te probeer hou” (124), en weer raak Eliam agterdogtig:
    • “Was dit op daardie dag dat die saadjie vir sy moord geplant is? Of dalk vóór dit, dalk ná dit?” (119);
    • “Binne jou gaan staan iets stil as jy sulke woorde hoor. Kan dit wees? Ek rol die woorde om en om in my kop en soek ’n uitkomplek” (123);
    • “Dis nie meer my hond nie. Iets binne my het doodgaan toe ek die mes gebruik. Dis mos wat die Mag wil hê. Om ’n soldaat te wees, moet jy ’n dood binne-in jou dra. ’n Vreesloosheid vir daardie dood in jou” (127);
    • “Van die ses van ons was daardie dag vir Jethro die moeilikste. Daardie dag het iets in hom doodgegaan. Hy wou nie praat oor wat in die bos tussen hom en Torsten gebeur het nie, maar ek kan net raai. Dit sou genoeg wees om wraakplanne aan die broei te sit” (129).
  • ’n Verdere klimaks is die gebeurtenis waar Victoria verkrag en verniel word en dit weer eens lei tot Eliam se twyfel en agterdog:
    • “Ek, Jethro, Cypher, Diesel en Victor kyk hoe [hy] vir Victoria neerpen ... haar uniform skeur ... haar verniel. Ons kan niks doen nie. Ons mag niks doen nie. [Hy] is op haar soos ’n verskrikking ... Hoe meer Victoria die aand geskree het, hoe gewelddadiger het [hy] geraak. Uiteindelik, toe hy klaar was, het die eggo’s van haar noodkrete hulself in die diepste dele van my brein kom plant saam met beelde van die bloed op haar kaal vel. Geluide en beelde genoeg om die vrae verder in jou los te torring. Om jou in alles wat die Mag voorskryf, te laat twyfel. Om jouself af te vra: Is ons werklik nog die Mag? Of het ons die AntiMag geword? Is ons die Goed? Of is ons deel van die Vrot?” (208).
  • Nog ’n klimaks is wanneer die troepe besef dat Krux nie die vriendelike persoon is wat hulle gedink hy is nie:
    • “Krux se mondhoek roer. ‘Jethro, jy is onder my topdrie-verdagtes. Ek sou my gladde bek hou as ek jy was.’ Die woorde is soos geweervuur wat jou neervel in die stryd. Die vaderlikheid van gister is totaal weg” (157), en ook as hy die slagspreuk van Camus in sy gebou verander na een van sy eie: “Die mens is ’n monster wat sal moor om te wees wat hy is – Krux” (158, kursivering deur verteller in die boek);
    • “Agter hulle spoed kommandant Krux in ’n Gorgon vier-by-vier nader. Kai storm voor die gevegsvoertuig uit. Hy jag vir Victor-hulle. Dis soos ’n hallusionêre visioen. ’n Fosforgranaat skiet die lug in, sprei oop soos ’n vloek, verlig die omgewing, verblindend, wit. Deur die modderige sneeu strompel ons deur die niemandsland. Van agter af skiet van ons eie mense op ons. Hulle wat nog glo aan die Mag. Wat nog nie ontnugter is nie. Ek sien hoe troepe om my val. Hande gryp na niks. Sweepslae bloed skiet uit gebreekte lywe. Mortiere maak vuur in vleis” (237).

Dan begin die krisis van die verhaal wanneer die span Front toe gaan, en besluit om oor te gee aan die AntiMag (met die wit sakdoek wat Eliam by Suster gekry het), sonder Victor en Victoria, wat nie wou saamgaan nie.

  • “Oor die niemandsland, tussen ons en die vyand. Jethro, Cypher en Diesel storm agter my aan. Ontwapen. Dan ’n horde troepe wat hulle wapens neergooi en skreeuend volg. Tussen hulle verskyn Victor en Victoria. Ontwapen. Hulle uniforms is geskeur. Hulle lywe oortrek met bloed” (236–7);
  • “Voor ons is die vure van die AntiMag. Dis waarheen ons op pad is. Ek strek my arm bo my kop, lug my wapen en die vredesvlag hoër. Dan ruk ’n koeël van agter af deur my boarm. Een van ons eie mense het my geskiet. Hulle wil keer dat ons oorloop. ‘Verraaiers!’ hoor ek hulle skree ... Met elke tree sterf nog een en nog een en nog een. Uiteindelik word die niemandsland ’n plek waar elkeen van ons kaal voor onsself staan” (237–8);
  • “Jethro is die eerste een van ons ses wat val. Al wil ek ook, durf ek nie omdraai om hom te gaan help nie. ‘Eliam!’ roep hy my naam. ‘Eliam!’ Sy stem word sagter en sagter ...” (242).

Met die laasgenoemde moment begin die einde van die verhaal. Eliam kry herinneringe van die gebeure wat die moord op Torsten uitbeeld (239 vv).

Eliam verduur alles vir die groter waarheid. “‘Daar’s ’n groter prentjie wat jy móét sien,’ het die gebrande man destyds by my gepleit. ‘As jy die antwoorde op die groter vrae wil hê, moet jy deur die spieël breek’” (243–4, kursivering in die oorspronklike teks).

Hy is egter nie meer wie hy was nie: “Die soldaatseun is nou ’n man. Die spieël van leuens splinter om my. Dit kletter grond toe in verblindende lig. In daardie oomblik flits ’n lewe voor my verby ...” (245).

Die einde van die verhaal is oop en (volgens my as leser) een wat die leser self uit verskeie moontlikhede moet ontrafel. Keuris (2013)17 meen omdat die literêre werk ’n tydgebonde lineêre orde besit (en dus in een rigting verloop), word die gebeure met die leesproses telkens gedateer as verlede/hede/toekoms. Die leser in Offers vir die vlieë is afhanklik van sy geheue/verbeelding en ontledingsvermoë om ’n rekonstruksie van die gebeure te maak en om die onderlinge verbande of kruisverwysings edm met mekaar te verbind.

Die vraag (vir die leser, as medeskepper van die literêre teks) is dus wat die verband is tussen Eliam se woorde: “Die dag toe ek die gebrande man teëkom, het alles wat oor was van daardie sekerheid soos ’n kaartehuis ineengestort” (24), en hierdie man se gesprek met Eliam aan die einde wanneer die opskrif “Die gebrande man” is (246) en daar is iemand wat hy hoor praat oor sy arm wat gebrand is, iemand wat hom sag aanraak.

Die kringloop is voltooi – hy is terug waar hy was: “By die Mag” (250) om weer ’n inspuiting by Suster te kry, “want jy weet jy was altyd my gunsteling, nè”, en dalk is hy die perfekte soldaat of die gebrande man ... Hy sien weer vir Torsten – hierdie keer nie in ’n droom nie (is dit ’n herinnering?) – wat, as Eliam vra: “Wat ... wat gaan aan?” hom antwoord: “Werk dit self uit. Jy wou mos dink.” Dan hoor Eliam weer die tromme wat roffel – ’n dodemars, sy dodemars (251). 

6.3 Karakterbeelding en dialoog

Offers vir die vlieë bevat uiteenlopende karakters van min of meer dieselfde sosiomaatskaplike agtergrond en verskillende geslagte (mbt ouderdomme en seksuele oriëntasie). Elkeen van die karakters is goed uitgebeeld met meer en minder aangename lewens en uiteenlopende persoonlikhede.

Omdat die jeugroman handel oor Eliam se ervarings, gewaarwordinge, emosies, optrede, gedagtes, woorde en sy verhouding met Cali, sal ek hom en haar nie in verdere besonderhede hier bespreek nie. Eliam se naam beteken “God se mense” in Hebreeus, ’n kombinasie van die Hebreeuse el (“God”) en em (“mense/volk”). Eliam was ook die naam van ’n bybelse karakter in die boeke van Samuel as een van “die dertig” – hier in die verhaal een van 6 uit 30 wat die opleiding geslaag het. Cali se naam se betekenisse is “she-bear” en “most beautiful” – dit is dan ook presies hoe sy in die verhaal uitgebeeld word. 

Die volgende kan gemeld word van sy vyf makkers (en die betekenisse van hulle name) soos gesien deur Eliam se oë:

  • Diesel is die sterk maar sagmoedige een “wat nie die einde van sy krag ken nie … stil … ‘My geweer doen my praatwerk’” (37), sy “kop is soos ’n mynveld” (38), die een wat vir Eliam help deur die teerpaal van sy rug af te lig (42). Tog is hy ook die dader wanneer daar moeilikheid met ander troepe is: “Weer is Diesel regop. Geweer in die hand. Hierdie keer gaan niemand hom keer nie. Hy storm nader. Klap twee ouens se kos uit hulle hande en daal soos die Dood op die moeilikheidmaker neer” (59). Hy word tog uitgebeeld met ’n sagte hart as hy vir Cali optel en haar in Eliam se arms sit (95). “As kind het hy met klippe gespeel” (122). Later – in die Dam van Trane – hoor Eliam dat Diesel huil (98). Die redes waarom hy die een sou wees om hulle seksieleier te vermoor, is omdat laasgenoemde “hom met ’n harde vloerborsel geskrop het tot die bloed loop. Hom in ’n watergevulde toilethokkie gemartel en byna versuip het” (209). Diesel se naam beteken “goedhartige persoon wat die belange van vriende op die hart dra”18.
  • Jethro is “die ou wat so maklik kan glimlag en soms ’n motiverende woord in my rigting kan gooi as ek naby aan moed opgee is” (15), ook die terggees (30), die makker wat ’n sarkastiese/ironiese opmerking oor die administrasiegebou maak: “Lekker snoesig hier binne, nè?” (26). As almal later sien hoe Diesel wakker word, onderdruk Jethro ’n lag. “Dis nie sy gewone lag nie” (43). Eliam kan sien die woorde oor Victor se waarskuwing dat Jethro keelafgesny en stokstyf in ’n loopgraaf sal lê, vir Jethro ruk (47). Die makkers spot met “sy vreemde kop-in-die-wolke-geaardheid” (121). As kind het Jethro “sy vinger natgespoeg en prentjies van honde op die houtvloere geteken” (122). Die rede waarom hy hulle seksieleier sou doodmaak, is omdat laasgenoemde “hom gedwing het om die hond wat hy liefgehad het, keelaf te sny” (209). Jethro is die een van hulle wat uitmunt in tegniese take – “sy vingers kan meer verrig as net ’n sneller trek” (221). Dit lyk asof hy die enigste een is wat ’n rookgewoonte het (35, 47, 176, 234). Jethro se naam is afgelei van die Hebreeuse naam Yitro, wat “oorvloed” beteken.
  • Victor word uitgebeeld as ’n moeilikheidmaker met baie kragwoorde, ook met sy eie geheim: homoseksualiteit (149–50). Terwyl hulle ontbyt in die menasie eet en Cypher sy bord kos nie kan eet nie, gryp Victor “die varkpan en grawe die oorblywende kos in syne. Gierig sloeg hy daardeur” (25). Eliam vang Victor se oog – “Dis kil, grys, selfs in die vae lig … [hy] glimlag smalend” (31). Sy openlike aggressiwiteit blyk wanneer hy vir Eliam vra: “Soek jy moeilikheid? … Ek sal jou kop van jou lyf afruk en in jou keelgat spoeg” (37). Wanneer die groep by die Dingana-basiskamp aankom, is Victor “soos altyd … die een wat beheer wil neem” en sê hulle moet hulle sakke aflaai (48). As kind was hy lief vir vuurpeloton speel en die ander moes dit ontgeld (122). Uiteindelik is sy rede om die seksieleier te vermoor dat laasgenoemde sy lyf vir homself toegeëien het – “[o]mdat die front van manlikheid wat hy voorhou, in die hande van ’n monster verbrokkel het” (209). Victor en Victoria se name beteken albei “oorwinnaar” – hulle is die eerste twee wat omdraai en wegstap, maar tog later terugkeer en saam na die AntiMag wil gaan (236–7). 
  • Victoria is Victor se tweelingsuster en ons leer haar ken waar sy waarskynlik weer ’n koekie grys seep gevat het – sy steel dit as kind by hulle ma’s en gaar dit op (16, 165) – en sy het graag rympies gemaak (122). Sy is die enigste een van die “skoner geslag” (37). Sy dink Jethro is “vieslik” as hy sê hy sal ’n perd kan eet (46), wat wys dat sy gril vir hierdie gedagte. Wanneer hulle die rugsakke aflaai, vat Victoria “dit van die grond af by my aan, sonder oogkontak of ’n aks van dankbaarheid” (48), wat wys dat sy net so gehard soos die ander is. As Eliam sien “hoe Victoria nie óór Torsten se lyk trap nie. Maar óp hom. Tussen die bene. Sy kap haar hak dáár in” (106), besef die leser wat daar gebeur het. Op die trok is oorblyfsels van lyke, ook ’n meisie se hand wat Jethro in Victoria se rigting gooi, en dan antwoord sy makaber, maar snaaks: “Hou dit maar. Dis die naaste wat jy aan ’n meisie sal kom” (199). Daarna dink Eliam aan die verskriklike aand waar hy vir Victoria hoor skree (200), ook dink hy weer later daaraan hoe sy in die vliegtuigloods geskree het: “Rou. Seer. Bitter” (206). En Eliam wonder of dit ’n aand was wat vir Victoria rede “vir ’n moord, vir vergelding sou gee” (208).
  • Cypher se naam beteken “geskenk van God” en hy is die een in die verhaal wat ontsyfer wat die waarheid en leuen aangaande die Program is. Hy is die karakter wat die gebeure fisies (dieper en op ’n manier meer emosioneel) ervaar sodat sy neus telkens bloei (25, 42, 130, 232) – wanneer vyf makkers gedwing word om na die teikens te skiet, vind hulle vir Cypher ongedeerd. Eliam “pluk die band van sy mond af. Dan die band by sy oë. Al sy ooghare waai. Dit laat hom soos ’n buiteaardse wese lyk. In sy oë lê iets dieper as wat daar ooit was. En ’n druppel bloed loop by sy neus uit” (186). Ook sien Eliam hoe hy gespanne en bekommerd in die trok saam met hulle ry, sy kneukels wit om sy wapen. “Dáár is nou iemand wie se kop vol slangneste is” (36–7). As kind het hy gedagdroom (122), en aan die einde kies hy om saam na die Noorde, die gevegsfront, te gaan: “Cypher knik. ’n Bloedstreep loop weer uit sy neus, onder die kopbeen uit. ‘Ek ... ek staan by Eliam,’ sê hy stotterend. Dis asof hy weet wat kom. Hy het dit al gesien” (224). Hy was die siener, die een wat die boek met die groen bandomslag van die gebrande man ontvang het (229) en vir die makkers die ontnugterende nuus vertel wat hy in die boek ontdek het – dat hulle lewens alles deel van die Program was (228). Eliam wonder of Cypher se rede om hulle seksieleier te vermoor was “oor die vasmaak aan ’n skietbaanteken en ons ander se manipulasie om die baan te kies waar hy gestaan het” (209).

’n Karakter waaroor ’n groot deel van die roman gaan, is sersant Torsten, die troepe se seksieleier – ek vind dit dus gepas om in meer detail na hom te kyk as wat ek die ander offisiere sal bespreek:

  • Ons maak kennis met Torsten in die eerste afdeling wat handel oor die Verdonkering – ’n offisier sonder menslikheid wat op die troepe skree en sarkasties meld dat hulle hulle “slapgatgeit” moet los, want hy het nie lus “om ’n diep en betekenislose gesprek” met die troepe te voer nie (9). Sy taktiek om te motiveer is hoofsaaklik verkleinering, kragwoorde en dreigemente. Vir Eliam skreeu hy: “Hoekom lê jy dan daar en hyg soos ’n inkontinente os? Is jy ’n swakkeling? Ek verbrysel ’n vrotterd. Op jou pote … Moet ek jou uit die Program gooi? Idioot! Lig jou skelet, vat daai donnerse paal en hardloop … Ou beesblaas, jou gat gaan ek vandag op meer as twee maniere skop … Help tog hierdie poephol”. Dan dreun sy spotlag oor die veld (10, 11). Wanneer Eliam van desperaatheid met sy kop in die modder braak, word hy gedwing om sy eie “moddergeel vloeistof” te drink (12).
  • Hy het ’n gruwelike grynslag in die gekraakte spieël wanneer hy vir Eliam verneder en met sy eie handdoek probeer verwurg en daarna met die “punt van die nat handdoek tref soos ’n sweepslag tussen die blaaie” en die pyn tot in Eliam se hart skiet (19).
  • Later, wanneer die troepe saam met Torsten vir die kommandant wag, “stamp [hy] met sy vinger teen Victor se bors”, krap met sy vegmes onder sy naels, begin dan “vir sy eie vermaak … die mes na ons voete gooi om te sien wie wegdeins”. Dan glip die mes uit sy hande, of “dalk doen hy dit met opset. Die mes skiet uit sy hande. Tol deur die lug. Dring deur ’n stewel” – Diesel s’n (27).
  • ’n Paar keer word sy “yl snor … bo sy dun lippe” gemeld, en daarmee saam Eliam se gedagtes: “As hy weet hoeveel haat daar vanaand om hom is, sou hy nie só geslaap het nie” (41).
  • Nadat hulle verby die Dam van Trane gery het, beveel Torsten Diesel se makkers om vir Diesel te skrop en dan sis hy deur sy tande: “‘Laat ek julle pissies wys hoe’ … Sy vingers het wit om die houthandvatsel gespan toe hy die borsel vat. Spiere in sy arms, skouers en rug het in bondels saamgetrek soos hy sy kragte bymekaarskraap … ’n Oomblik het die lang opgehewe littekens op sy rug my geskok. Soos sweepslae?” (63). Hier is een van die gevalle waar die leser ’n ander kant van Torsten sien, maar nie die volle prentjie kry nie. Later, wanneer Torsten saam met hulle om die vuur sit en ervarings van hulle kinderjare deel, luister hy laggend na die ses se stories. Dan sê hy met ’n helderheid in sy stem: “Ek moet julle van my kinderdae vertel” (122). Hy kom nie verder nie, want skielik val daar ’n hartseer oor sy gesig. Dit pluk aan ’n spiertjie by sy wang en laat sy mondhoek onverwags ruk. Wanneer Victoria vra of hy “oukei” is, kyk Torsten “byna onsiende na haar. Ek kan sweer ek sien ’n waterigheid in sy oë, maar hy kyk af. Hy sit lank so, sy skouers geboë … hy trek Jethro se hond nader … vryf gemoedelik oor sy kop. Soen hom tussen die ore” en sy stem is sag as hy weer praat en die opdrag gee dat hulle hulle messe en honde moet kry. Eliam se reaksie is dat dit soos ’n skokgranaat is wat tussen hulle val (122).
  • Vir Cypher verneder Torsten by die skietbaan, wanneer sy vyf makkers nie weet agter watter teiken Cypher is nie, en hulle moet skiet. Cypher is met toue vasgemaak en het ’n kappie op. “Sy oë is toegeplak. Maar twee oë is met ’n swart pen op die kleefband geteken. En ’n derde oog op sy voorkop. Torsten lag uitbundig.” Wanneer hulle sien wie die persoon is wat doodgeskiet is, sê Torsten en sy makabere persoonlikheid blyk duidelik: “Lyk of ons ’n dooie Priester het … Foei tog. Wat ’n onvoorsiene … ongeluk” (186).
  • Ek hoef nie hier aan te toon hoe Torsten vir Victoria verneder (selfs vernietig) het nie, want dit blyk wel uit my bespreking van haar hier bo.

Die uiterlike dialoog is oral funksioneel en outentiek aangebied om te by die onderskeie karakters pas. Wat veral opvallend is van die dialoog, is Eliam se innerlike monoloog, ook sy innerlike dialoog met sy spieëlbeeld. Die register in Offers vir die vlieë is kenmerkend van grensliteratuur, waar die dialoog van verskillende weermagkarakters uitbeeld wat die sosiolek van hulle spesifieke sosiomaatskaplike agtergrond is – hier spesifiek ’n paar (herhalende) sagte en erger kragwoorde wat funksioneel is in grensliteratuur, veral agv die konflik en spanning wat toeneem. Hier is die volgende voorbeelde van karakters se woorde ter sake:

  • Torsten: “Help tog hierdie poephol [Eliam]” (11), “slapgatgeit” (9), “donnerse dodemars” (30), “donnerse idioot” (36);
  • Eliam: “Asof ek jou nie sal terug donner nie” (141), “Is jy donners blind?” (216), “Ek ís donnerswil wakker” (250);
  • Jethro: “Kom, jou pissie” (30), “Liewe donner” (62), “wat de donner” (104), “Donner, ek het daarop gesit” (199);
  • Verdoorn: “donnerse oorlog” (80), “Daar is nie ’n donnerwetterse verhoor vir niemand nie. Ék is die verhoor. Ék is die gereg” (84), “Weet jy nie waar donnerse regs is nie?” (176);
  • Een van die MP’s: “donnerse misbaksels” (100);
  • Victor: “Eliam kan bly wees ek het hom nie gedonner nie” (141), “Ek sal vir jou so hard donner dat jy na jou kinderdae verlang” [vir Jethro] (191).

Scholz (2013)19 verwys na J Schramke (1974) wat die funksionaliteit van die innerlike monoloog vir veral die moderne prosakuns soos volg omskryf: “Die wese van die monologue intérieur is egter onafskeidbaar van die wyse waarop dit histories bepaald voorgekom het: die betekenis daarvan kan net ontsluit word binne die raamwerk van die problematiek van die moderne roman, waartoe dit as belangrike uitdrukkingsmiddel behoort.” Myns insiens kan Offers vir die vlieë as distopiese en grensliteratuur hieronder ressorteer.

Eliam se innerlike monoloog (ook innerlike dialoog) kan gesien word as een van die tegnieke wat Viljoen in Offers vir die vlieë gebruik “om die illusie te skep dat die verteller verdwyn en alles die direkte weergawe is van die gebeure wat afspeel in die bewussyn van die karakter terwyl hy gebeure en indrukke beleef soos dit in ’n dramatiese hier-en-nou deur sy bewussyn ‘stroom’ ... Grammatikaal, sintakties en tipografies is die innerlike monoloog herkenbaar aan die eerste persoon teenwoordige tyd sonder die gebruikmaking van aanhalingstekens” (vgl Scholz 2013).

6.4 Agtergrond/milieu (tyd en ruimte)

Tyd is reeds bespreek onder die afdeling “Potensiaal van die jeugverhaal om met die bedoelde leser te kommunikeer”, so ook onder “Intrige en spanning”, waar verskeie klimakse en terugflitse genoem is. Ek gaan dus nie in verdere diepte hierop in nie.

Volgens Keuris (2013) 20 is die vertelde tyd die tyd wat in die literêre werk / fiksionele wêreld gedek word, maw die tyd-binne-die-werk, die tydsduur. Daarteenoor is die verteltyd die tyd wat geneem word om die literêre werk te lees, maw die tyd-van-realisasie. Wat van toepassing is in Offers vir die vlieë is dat die vertelde tyd oor baie jare strek, maar in ’n kort verteltyd (die verhaal van 255 bladsye) vertel word. Dit het ’n oorwegend vinnige tempo omdat die verteller se styl om gebeure uit te beeld treffend kort en bondig is. Dit word egter deur middel van terugflitse onderbreek en skep dus die illusie dat die verteltyd verleng word. Op hierdie manier kan die leser die opeenvolging van gebeure self rekonstrueer.

Ook meld Keuris (2013) dat die verteller in die verhaal die tydruimtelike oriëntasie vir die leser verskaf. Daar is “dus ’n wisselwerking tussen die verteller en die tyd: die verteller bestaan in ’n spesifieke fiksionele tyd, maar hy manipuleer ook hierdie tyd vir die doeleindes van sy vertelling, nl om die gebeure óf te vertel óf direk voor te stel.” Die leser word in Offers vir die vlieë aktief by die skepping van die vertelde tyd betrek en kom wel agter (op analitiese en verbeeldingsvlak) wat die situasie van die troepe was toe hulle kinders was, in die opleidingstyd, en tydens verdere gebeure wat een na die ander afspeel maar nie in chronologiese volgorde vertel word nie.

Verder is daar ’n verhouding tussen die tyd en karakter: Die fiktiewe karakter is ’n skepping deur die medium van die taal, ’n medium wat self tydgebonde is (Keuris 2013). Hierdie karakter leef in ’n bepaalde tyd – die tyd-binne-die-werk – en hy ontwikkel ook daarbinne. Die karakters in Offers vir die vlieë is tydgebonde (soos hulle ook ruimtegebonde is).

Ten opsigte van die karakter en sy tydsbelewing maak Keuris (2013) twee onderskeidings: die objektiewe tyd en die subjektiewe tyd. Die objektiewe tyd waarteen die gebeure (en dus ook die karakter se belewing daarvan) in Offers vir die vlieë afspeel, kan vergelyk word met die fisiese tyd in die buite-literêre wêreld (dus die wêreld van die leser) en word dikwels genoem klok-/kalendertyd. Subjektiewe tyd / psigologiese tyd / innerlike tyd is dan Eliam se individuele en unieke belewing van die objektiewe tyd. In die subjektiewe tyd is dit veral die wisseling in die tyd se tempo wat opval, sodat die kloktyd gewoonlik korter of langer ervaar word as wat fisies aangedui word.

Viljoen gebruik bogenoemde tegnieke om op ’n vernuftige manier die leser se verbeelding, geheue en ontledingsvermoë uit te daag om te probeer agterkom wat die einde van die verhaal is, en hoe dit kan wees dat die verbrande man uiteindelik afkyk op Eliam en met hom praat (251) – hy sien duidelik ses soldate wat hom “in sy sukkelgang stuit” – sy dodemars. Eliam verstaan (saam met die leser) nie wat aangaan nie en hoor dan by die gebrande man: “Ek weet. Want jy moet nog by die waarheid uitkom, Eliam … Daar is ’n groter prentjie wat jy moet sien … As jy antwoorde op die groter vrae wil hê, moet jy deur die spieël breek.” Die verwarring vergroot as die man meld dat hy vir Cali geken het en hy “die naamplaatjie” teen sy bors druk (252). Dan sê hy dat die spieël “[t]ussen die einde en die begin is”, dat Eliam iemand (vir Torsten) moet doodmaak (saam met sy makkers as hy dit nie alleen kan doen nie), omdat “hy die een is wat alles begin het”, wat vir Eliam laat wonder het of dit wat hier gebeur reg is, wat dus die groter dink in hom losgemaak het. Dan gee die verbrande man die verbode boek vir Cypher, wat ook nadergekom het (253).

Volgens Du Plessis (2013)21 is ruimte (Burger 2018:10 noem dit “fiksiewêreld”) “binne die skryfkuns een van die sogenaamde skeppingselemente wat tot die kreatiewe skrywer se beskikking is. Die vier vertelkategorieë van die narratologie is ook die vier skeppingselemente van die skryfkuns, naamlik karakter, tyd, ruimte en gebeure.” Dit gaan in ’n jeugverhaal om die “vertel” van die lewenstorie, die transformasie van die data van ’n lewe in die vorm van ’n narratief: die skep van ’n narratiewe identiteit, ’n fiktiewe wêreld, al sou dit op die werklikheid gegrond wees. Die ruimte van Offers vir die vlieë is dan per definisie ’n fiktiewe ruimte, al sou dit direk verwys na lokaliteite van opleidingskampe met grensdrade en barakke in die weermag, ook die onherbergsame pad na die front, wat in die werklikheid net so (sou kon) bestaan.

Epiese ruimte is ’n gepersonaliseerde ruimte. Plekke en objekte bestaan in Offers vir die vlieë nie ter wille van hulleself nie (waarskynlik bestaan daar nie ’n plek soos Opleidingskamp Alfa en die pad na die Front waar die verhaal afspeel nie), maar ter wille van die betekenis wat dit vir die karakters het. Plekke van handeling en die ruimtelike kenmerke daarvan vorm daarom epiese speel- of belangeruimtes eerder as blote lokaliteit. Onder epiese ruimte kan ons, ter wille van die bespreking, praat van die fiktiewe plekke in Offers vir die vlieë waarbinne die handelinge van die karakters op ’n bepaalde tyd gebeur. Dit moet onderskei word van die (moontlike) werklike ruimte waarop die fiktiewe ruimte gebaseer is. Daar is in hierdie roman epiese ruimtes, met die volgende verwysings na plekke en items wat met die karakters en gebeure te make het en (sou kon) ooreenstem met die nie-fiktiewe werklikheid:

  • Plekke: Verloorderskop, Opleidingskamp Alfa, Dam van Trane, torings, wagtorings, rooi gebied Dingana, paradegrond, Residensie, nagmerrieland, boeketeke, barakke, menasie, administratiewe kantore, kapel, mediese tente, kliniek, Vaderland
  • Belangrike mense: offisiere van die Mag, Suster, Priester, Militêre Polisie, Mediese Ordonnanse
  • Belangrike tekste: die Program (eksperimentprogram), die Boek (met rein en waar woorde), Kronieke (elkeen met ’n teksvers soos in die Bybel) van Verdonkering, Oordeel, Vergelding, Offers, Saligmaking, ’n lêer van elke troep, ’n mediese verslag oor Eliam en ’n foto van Cali se naakte lyk in Eliam se lêer.
  • Items: sponsmatrasse, enkelbeddens met metaalpote, gekraakte spieël, lemmetjiesdraad, driekoppige hond Kerberos, RegiMog-trok, sensors, slaggate, S13-karabyn, grensdrade, boeliebief, rantsoenpak, rolle doringdraad, ammunisiekiste, hout- en gasgewere, granaatlanseerder, Dixie-metaalbak, weermagvoertuie (Charon, Gorgon, Cronus), Keplar-baadjies, vegmes, gasmasker, Achilles-antitenk-missiel, vuurpyle, projektiele
  • Virtuele elektroniese apparaat: hommeltuie, selfdrywende RegiMog, die towerkrag van tegnologie toe daar nie grense was nie (vóór die Nag van Verdonkering).

Die skrywer van Offers vir die vlieë skep dus ’n narratiewe ruimte wat fisiese, emosionele, sosiale en denkruimte letterkundig uitbeeld. Verder gee die skrywer aan intieme ruimtes betekenis wat identifikasie as abstrakte ruimte aan iets soos plekke in die (fiktiewe) weermag en op pad na die Front toe belig. Die vernaamste ruimte in die verhaal is uiteindelik die (intieme) binnelandskap van Eliam se waarnemings, ervarings, emosies en herinneringe dmv sy innerlike dialoog (soos wat gebeur in die psigologiese, vertellings- en traumaroman, outobiografie en memoire).

Verder is daar in hierdie verhaal oop en geslote ruimtes wat naas mekaar gestel word. Inkluistering (“entrapment”) dui op fisiese of morele gevangenskap (Coetzee, in Du Plessis 2013) – soos die tente, barakke, Opleidingskamp Alfa, Dingana-kamp, Krux se kantoor, kliniek, mediese tente, weermagvoertuie en die gevegsfront. Dit alles beperk fisiese, psigiese of sosiale beweegruimte vir genoemde karakters en skep spanning.

Gesien in die lig van bogenoemde bespreking met betrekking tot agtergrond, is dit vir my duidelik dat die skrywer in Offers vir die vlieë ’n ryk sekondêre (literêre) werklikheid skep wat deur al die karakters en gebeure in ’n bepaalde tydruimte bevolk word.

6.5 Intertekstualiteit

Hoewel alle epiese verhaalsoorte vir die adolessente leser toeganklik is (roman, novelle en kortkuns), word veral die novelle in jeugverhale verken en ontgin (Steenberg 2013). Tog meen ek Offers vir die vlieë is ’n roman (sien ook bespreking oor genre). As karakters is jeugdiges gebruik en soos bo genoem, kan jongmense met so ’n personasie identifiseer; volwassenekarakters is ook gebruik. Die karakters in Offers vir die vlieë is hoofsaaklik troepe in die adolessente fase, en volwassenes is offisiere en amptenare.

Oor die algemeen is dit waar dat hoe interessanter die persoonlike of individuele geval was, hoe belangriker die tema van konflik tussen die individu en sy milieu geword het. Daarom kan ’n mens sê dat die element van konflik die fundamentele en mees belangwekkende gegewe in die moderne Afrikaanse distopiese en grensliteratuur is. In Offers vir die vlieë is die primêre konflik dié van Eliam met homself en van hom en sy makkers met die offisiere. Uiteindelik is die tydruimte waarbinne die verhaal afspeel – nl die onherbergsame roete na die Front – die sekondêre konflik.

Dit is duidelik dat Offers vir die vlieë as distopiese- en grensliteratuurgenre handel oor die rol van ’n persoonlike lotsbestemming wat toegeneem het in dieselfde verhouding as wat maatskaplike verbande verander het. Die adolessente leser is waarskynlik bewus van oorloë wat regoor die wêreld toeneem, en ook dat die besoedeling in die atmosfeer en natuur toenemend ’n bedreiging vir oorlewing is.

In Offers vir vlieë vind die leser subtekste wat eerstens afdelings (in hoofletters gedruk) is, wat veral die rol van belangrike persone/items in die verhaalgang uitbeeld. Tweedens het elkeen ’n aanhaling (kursief gedruk) uit die Kronieke (wat vir die leser assosiasies van Bybelhoofstukke kan hê), en dit strek oor enkele hoofstukke met die volgende opskrifte:

  • Torsten: Kroniek van Verdonkering – hoofstukke 1–6
    • Die een ding wat aan jou alleen behoort
    • Verdonkering
    • Die aand van modder
    • Oor die swart rivier
    • Torsten het nog nooit so goed gelyk nie
    • Die Mag is een, die Mag is alles
  • Verdoorn: Kroniek van Oordeel – hoofstukke 7–9
    • Stilbly maak nie van jou ’n moordenaar nie
    • Cali en die spieël
    • Saamstaan
  • Krux: Kroniek van Vergelding – hoofstukke 10–13
    • Die honde
    • Krux en Kai
    • Nié so ’n monster nie
    • Van goed en kwaad
  • Suster: Kroniek van Offers – hoofstukke 14–17
    • Leuens, geheime en dit wat ons saambind
    • Suster se gunsteling
    • Die verraad in ’n naam
    • Ek wil nie hier wees nie
  • Spieël: Kroniek van Saligmaking – hoofstukke 18–21
    • Die losmaak van knope
    • Modder en sneeu
    • Front
    • Die gebrande man 

In Offers vir die vlieë is daar verder twee duidelike intertekstuele verwysings as metatekste – ’n teks-binne-’n-fiksieteks – aan die begin van die verhaal, dus werklikheidstekste binne ’n fiktiewe teks22:

Die eerste metateks is ’n aanhaling uit die werk van Frederik die Grote wat bevestig dat dit in die weermag of oorlog daaroor gaan dat ’n troep moet doen en nie dink nie. Frederik word as ’n verteenwoordiger van die verligte absolutisme beskou wat die administrasie van sy koninkryk doeltreffender gemaak, sy ekonomie bevorder en ’n verskeidenheid hervormings van stapel gestuur het. Na homself het hy as die “eerste dienaar van die staat” verwys23. Hy het ’n strenge opvoeding ontvang wat deur outoritêre en godsdienstige beginsels volgens die presiese instruksies van Frederik Willem gekenmerk was. Frederik is aan ’n vreugdelose dagroetine blootgestel wat deur sy pa voorgeskryf is. Wat kontrasterend is ten opsigte van die offisiere en gebeure in Offers vir die vlieë, is dat Frederik as die “filosowekoning” beskryf is, en dat hy die marteling van aangehoudenes verbied het, die Pruisiese strafreg gehumaniseer het, sensuur verlig het en ’n kultuur van verdraagsaamheid teen minderhede in die Lutherse kerk gevestig het. Frederik het stygende voedselpryse bekamp sodat brood vir al sy onderdane bekostigbaar was en die verbouing van aartappels geforseer om hongersnode te voorkom. Vir my as leser lyk dit asof hierdie boek ’n soort alternatief kan wees vir Viljoen se teks.

Die tweede metateks is ’n aanhaling van Erich Maria Remarque24 – ’n Duitse veteraan uit die Eerste Wêreldoorlog – in sy werk All quiet on the western front. Hierdie boek beskryf die Duitse soldate se uiterste fisieke en geestelike spanning tydens die oorlog, en die losmaking van die burgerlike lewe wat baie van hierdie soldate gevoel het. Die hoofkarakter, Paul, maak kennis met Katczinsky, ’n ouer soldaat met die bynaam Kat, wat Paul se mentor word. Daar is ooglopende ooreenkomste tussen hierdie teks en Offers vir die vlieë wat ek aandui deur dit te onderstreep. Dit lyk vir my asof hierdie teks ’n belangrike invloed op die ontwikkeling van die roman gehad het – dit is dalk ’n subtiele uitdrukking in jukstaposisie van dít wat nie hoef te wees nie.

  • Die uitdrukking “op die westelike front is alles stil” het ’n samelewing se uitdrukking geword wat stagnasie of gebrek aan sigbare verandering in enige konteks beteken.
  • Aan die begin van die boek skryf Remarque: “Hierdie boek is nie ’n beskuldiging of ’n bekentenis nie, en die minste van alles ’n avontuur, want die dood is nie ’n avontuur vir diegene wat daarmee te make het nie. Dit sal eenvoudig probeer om te vertel van ’n generasie mans wat, selfs al het hulle van geweerskote en skrapnel ontsnap, deur die oorlog vernietig is” (my vertaling).
  • Remarque se boek fokus nie op heldhaftige verhale van dapperheid nie, maar gee eerder ’n oorsig van die omstandighede waarin die soldate hul bevind. Die eentonigheid tussen gevegte, die voortdurende bedreiging van artillerievuur en bombardemente, en die oorkoepelende rol van ewekansigheid om te oorleef in die lewens en dood van die soldate word in detail beskryf.
  • Remarque verwys dikwels na die lewende soldate as oud en dood, emosioneel gedreineer en verneder: “Ons is nie meer jeugdiges nie. Ons wil nie die wêreld stormagtig binnedring nie. Ons vlug van onsself, van ons lewe af. Ons was agtien ...”
  • Korporaal Himmelstoss was ’n magshonger korporaal met spesiale minagting vir Paul en sy vriende, en geniet sadistiese plesier om die geringe oortredings van sy leerlinge te straf tydens hul basiese opleiding ter voorbereiding van hul ontplooiing. Paul het later gesê dat die opleiding wat Himmelstoss gegee het, hulle “moeilik, agterdogtig, onbarmhartig en taai” gemaak het, maar die belangrikste is dat dit hulle kameraadskap geleer het. Paul en sy kamerade het egter ’n kans om op te staan teen Himmelstoss as gevolg van sy straf, en hom die nag voordat hulle met treine aan boord gaan, genadeloos te sweep.
  • In wanhoop kyk die hoofkarakter toe terwyl sy vriende een vir een val. Dit is die dood van Kat wat veroorsaak dat Paul uiteindelik sonder hoop laat leef. In die laaste hoofstuk sê Paul dat daar binnekort vrede gaan kom, maar hy sien nie die toekoms as helder en blink van hoop nie. Paul voel dat hy geen doelstellings in die lewe het nie.

Genette (1997:4-5)25 onderskei tussen twee paratekstuele kategorieë, naamlik die periteks en epiteks. Die periteks is al die paratekstuele elemente wat by die boek self ingesluit is, soos omslae, notas en hoofstuktitels. Die epiteks is daardie paratekstuele elemente wat verwyder is van die boek, soos resensies en bemarkingsmateriaal. In navolging van Genette fokus Greyling (2009:210–11)26 op die parateks in jeugliteratuur en die moontlikhede wat dit aan die skrywer bied om die fiksionele wêreld te skep. Volgens Greyling behels paratekstuele elemente peritekste wat nie primêr deel van die teks is nie, maar as ’n uitbreiding van die primêre teks beskou word – dit het te make met die aanbieding van ’n boek en by implikasie met die manier waarop die boek gelees word. Die verhouding tussen die teks en die parateks is inherent aan betekenisvorming.

Deur middel van die sub- en metatekste vestig die verteller-skrywer-karakter die leser se aandag op die aanbiedingswyse as sodanig, verlewendig so ook die karakters en suggereer ’n fiktiewe wêreld wat omvattender as die betrokke teks is. Die karakters bestaan as’t ware ook buite die teks.

In hierdie verband kan in Offers vir die vlieë gelet word op die metatekste (peritekste in skuinsdruk wat visuele koderingsoriëntasie vir die leser is) wat oa moontlike verwysings is na belangrike herinneringe van gebeure en karakters se gedagtes en woorde, ook die aanhalings uit die Boek (147) en buite Krux se bunker: “Die mens is die enigste wese wat weier om te wees wat hy is – Camus” (110, 152) wat verander na “Die mens is ’n monster wat sal moor om te wees wat hy is – Krux” (158). Eliam weet nie wie Camus is nie, want sy werke is waarskynlik ook tydens die Nag van Verdonkering saam met alle ander boeke vernietig omdat dit boos was: “Mense het nie hierdie vuil idees en boeke nodig nie. Net die een Boek – waar en rein is die woorde” (146). Dit is tog interessant dat dit as aanhaling bly bestaan het totdat Krux dit laat vervang het, wat suggereer dat hy geleerdheid buite die weermag ontvang het. Nog so ’n metafiksionele opmerking is Krux se woorde “A luta continua, vitória é certa ... Die stryd gaan voort, maar die oorwinning is seker” (134).

’n Paratekstuele element wat my as leser opgeval het en laat wonder het, was die spatsels in die boek. Omdat ek dit gelees het in die grendeltyd tydens die COVID-19-pandemie, was alles wat ons gekoop of per pos ontvang het, met ontsmettingsmiddels bespuit. Dit het my laat wonder of hierdie spatsels die gevolg daarvan is – totdat ek agtergekom het dat daar ’n definitiewe patroon is: op en ná elkeen van die Kronieke is daar dieselfde spatsels op die linker- en regterkantste bladsye. Dit het my vermoede bevestig dat dit waarskynlik ’n metatekstuele element is wat dui op al die bloed wat vergiet is gedurende die verhaal wat handel oor die weermag, moord en die oorlogsfront. Die skrywer se vermoë om visuele tekste te skep as skilder en illustreerder – soos in die inleiding genoem – het hom (en die uitgewer) in staat gestel om hierdie parateks betekenisvol in te voeg.

Ook die voor- en agterblad van Offers vir die vlieë is buitenste peritekste wat die effek van die assosiasie met bloed versterk – ’n donkerrooi agtergrond. Binne-in hierdie rooi is die lang swart pad deur die modder, met ’n prentjie van ’n toring wat lyk asof dit ontplof (uit die tyd voor die Verdonkering dus) en ’n troep met sy wapenuitrusting. Daarmee saam verskyn Kerebos (die hond van Hades27), die driekoppige hond, in swart op die voorblad en spierwit op die agterblad (en ook in die verhaal in swart tussen momente en voor hoofstukke). Hierdie assosiasie met die hel bevestig ook subtiel die betekenis wat deur hierdie peritekste geskep word. Volgens Oosthuizen (2017)28 is rooi die kleur van bloed, passie en emosie en sluit beide positiewe (helderrooi) en negatiewe (donkerrooi) simboliek in. Oosthuizen meen die keuse om donkerrooi op die voorblad te gebruik sluit aan by die atmosfeer van onheil en gevaar, en donkerrooi word simbolies gebruik as waarskuwing, dui op die dood en lei dikwels tot ’n gevoel van angstigheid. In Offers vir die vlieë sluit swart, wit en grys aan by die ruimtelike atmosfeer en dreigende, onbekende gevaar. Rooi beklemtoon dus die ruimtelike gevaar (oorlog, bloed) terwyl dit ook visueel by die angs van die karakters aansluit.

’n Simbool kan gesien word as ’n ’n woord, frase, beeld of teken as voorstelling van ’n bepaalde begrip wat herhaaldelik voorkom “sodat die beeld telkens ’n hele reeks betekenisse en emosies oproep”29 – dus ’n woord- en/of klankprent. Dit kan gepaardgaande betekenisse hê en het ’n inherente waarde in die werklikheid. Volgens Oosthuizen (2015:304) bied Genette (1997) ’n “breë spektrum van tipes notas ... wat simbole [as teksinterne periteks] insluit”.

In Offers vir die vlieë is die spieël myns insiens só ’n simbool. Die spieël speel dwarsdeur die roman die rol van verval, selfondersoek, -kritiek en -insig, waarheid aangaande die eksperiment van die Program waarvan Eliam (ook Cali en die gebrande man) deel was, dat hy nie meer die Mag se invloed oor hom hoef te dra nie, en dit alles bring vrede:

  • “By die gekraakte spieël skeer ek, sonder seep, maar darem met warm water” (17);
  • “Ek keer net betyds met my hande voordat my gesig die spieël verder versplinter” (17);
  • “In die spieël sien ek hoe my gesig rooier word. Nog rooier. Dan pers. Torsten bring sy kop nader aan myne. Ek ruik sy asem in my nek. Sy gruwelike grynslag weerkaats in die spieël” (18);
  • Wanneer Cali sterf: “In haar oë flikker haar magsnommer. ‘Daar’s ’n spieël,’ roggel sy ... ‘Tussen hier en die anderkant. Blink glas. Jy moet die spieël sien, Eliam. Dis so ... mooi’” (95);
  • Opskrif en verwysing na Die Kroniek van Saligmaking 6:9 (201);
  • Eliam doen selfondersoek: “As jy antwoorde soek en deur die dowwe spieël van waarheid wil kyk, kry jy dalk ’n rede om moord te pleeg” (209);
  • “Uiteindelik word die niemandsland ’n plek waar elkeen van ons kaal voor onsself kom staan. Asof ons voor ’n dowwe spieël beland het waar ’n enkele lig, swaaiend aan ’n elektriese koord bo ons koppe, ons skadu’s van onsself maak” (238);
  • “Jy besef daar is geen omdraaikans nie. Jy is in die dowwe spieël – die een waarvan Cali gepraat het. Voor jou flits ’n lewe verby.” Eliam kry insig: Hy is ’n vleisgeweer “met ’n nommer gebrand in jou oë en op jou vel”. Ook kry hy ’n antwoord op sy vraag “Waarvoor sterf troepe in oorloë regtig? ... Jy sterf om ’n offer vir die vlieë te word” (239);
  • “Ek is alleen ... ’n laaste weerkaatsing in die dowwe spieël van knetterende brande en vernietiging.” Dan sien Eliam hoe hy die reënjas dra “soos ’n bebloede kleed” (242);
  • Daar’s ’n groter prentjie wat jy móét sien,” het die gebrande man destyds by my gepleit. “As jy die antwoorde op die groter vrae wil hê, moet jy deur die spieël breek” (244);
  • “Ek is nie meer wie ek was nie: die seunsoldaat is nou ’n man. Die spieël van leuens versplinter om my. Dit kletter grond toe in verblindende lig” (245).

Benewens die spieël as woordprent, vind ek ook enkele klankprente in Offers vir die vlieë, waar Eliam gedurig bewus is van die trom se geroffel (waarvan ek voorbeelde noem by die bespreking van sy sintuiglike waarnemings). Hy hoor saam met die ander ’n “simfonie van skote en ontploffings “ (141), “’n [s]imfonie van koeëls weerklink in die verte” (203), “[s]agter en sagter word sy stem, verdoof deur die kakofonie van oorlog. Maar dit laat nietemin ’n beeld voor my geestesoog opdoem” (239), waarna hy sien hoe die blokkies die aand van die moord op Torsten een na die ander val, soos die gebrande man voorspel het (243). Eliam se intense gewaarwording en herinnering van Victoria se krete nadat sy verkrag is, is ander klankprente (200, 206, 208).

6.6 Verteller en dialoog

In Offers vir die vlieë is ’n duidelike element van interne karaktergebonde fokalisasie wanneer die eerstepersoonsverteller se fokalisering wissel van Eliam na die newekarakters (en ook vanuit Eliam se oogpunt) en dit die leser ’n goeie beeld van die oorsake van die konflik tussen die verskillende karakters gee. Ten opsigte van die karakterisering in Offers vir die vlieë kan dus gemeld word dat die fokalisering nie ekstern is nie, omdat dit nie ’n derdepersoonsverteller is nie; dit is intern omdat daar van vrye indirekte rede – innerlike monoloog en dialoog – gebruik gemaak is (vgl Burger 2018:118), omdat dit dinamies (deur Eliam se fokus) beweeg tussen karakters (Eliam, sy medetroepe en die offisiers en amptenare) en dinamies verskuif van buite (die gebeure na die opleiding en op pad na die Front) na die binnekant van Eliam se eie gedagte- en gevoelslewe.

Wanneer die fasette van fokalisering in ag geneem word, is dit duidelik dat die perseptuele (sintuiglike) faset veral aan die orde kom in Offers vir die vlieë wanneer die ruimte of atmosfeer (sien ook afdeling oor Agtergrond) uitgebeeld word. Ruimtelike fokalisering versterk dikwels die fokalisering van Eliam se gemoedstoestand of situasie, terwyl sy sintuiglike waarneming asook emosionele en intuïtiewe gewaarwording van ander karakters en die ruimte dien as beklemtoning van sy verwarring en konflik oor watter waardes hy in homself kan integreer om sodoende sy identiteit te bevestig. Voorbeelde hiervan is die volgende:

  • “Totdat die gewig van die paal my uiteindelik neervel en my op pad ondertoe nog ’n laaste vernederende hou teen die rug gee sodat ek in die swart modder neersyg” (10);
  • “Sy [Torsten se] stewel land op die paal op my rug. My gesig druk dieper die modder in. Van die koue natheid druk in my neus op. My mond val oop soos ek na asem hyg. Dis ’n fout, want nog modder peul verby my tande in my keel af. Meteens stik ek. Desperaat lig ek my kop. My bors ruk. Ek probeer die modder uitspoeg. ’n Boog braaksel skiet geel saam met die modder en slym uit. Van die surigheid spat oor my gesig. Dit brand oor my vel” (11);
  • “Die reuk van vloerpolitoer, nat leerstewels en slaaplywe hang in die lug” (15);
  • “Uiteindelik tree ek die stroom water binne en probeer om my hele lyf nat te maak. Stoom styg in wolke van my vel af” (16);
  • “Ek bly so staan en probeer my emosies binnehou. Maar dit kook in my” (17);
  • “Asemnood laat druk in my kop opbou. In die spieël sien ek hoe my gesig rooier word. Nog rooier. Dan pers ... My kop swem. Smeek om suurstof. Om neergesit te word” (18);
  • “Klippe rol by die bande verby en tol ondertoe. Jy kan hoor hoe hulle kap-kap-kap en dan die grond tref” (57);
  • “Reën drup streperig van die seil af en tik-tik-tik in die plasse modder” (57);
  • “Swart hare en olyfkleurige vel. Groot donker oë wat my binnekant sagmaak sonder dat ek dit wil. Dit gebeur net. Ek wil die heeltyd aan haar [Cali] raak, maar ook dit mag nie gebeur nie, tensy dit deel van die opleiding is” (89);
  • “Dit verg durf om jou kaalbas uit te trek in die koue oopte van die stortplek. Maar dis óf dit óf jy ruik naderhand soos ’n kadawer-derm. Tydens ons opleiding het ons geleer hoe ver jy jou lyf verby koudkry, pyn en swaarkry kan druk. Maar steeds steek elke druppel water uit die tenk bo my kop soos ’n naald in my vel. Die seep is so hard dit maak nie eens ’n bolletjie skuim nie. Onder my voete trap ek my vuil uniform op die sementblad. Ek probeer dit inseep …” (75);
  • “Ons laat sak Torsten. Hoor hoe die modder hom vassuig asof die aarde hom terugeis. Hy stink nou al soos die hek van die onderwêreld” (105);
  • “Krux se hand is koud in myne. En sweterig” (131);
  • “Die sjokolade het weggesmelt, besef ek met ’n tikkie teleurstelling. My tong wriemel tussen my tande en in elke sagte plekkie in my mond op soek na ’n laaste stukkie soet, maar kry dit nie” (194).

Wat die psigologiese faset van fokalisering betref, word die karakters se optrede, voorkoms en woorde in Offers vir die vlieë deur Eliam se perspektief, gedagtes en emosies gefokaliseer. Dit sluit in kennis (bewussyn/wete/besef) dat almal deur Suster bedrieg is, dat daar ’n boek met inligting oor die Program is, die vermoede (gissing en veronderstelling) dat die gebrande man eintlik sy beeld in die spieël is (mi), die mening (geloof/oortuiging) aangaande die praktyke wat in die Mag gehandhaaf word nadat hy die boek met die groen omslag by Cypher gesien het, en geheue (herinneringe aan sy lewe in die Presidensie by sy ma).

Meestal is die verteller met Eliam se woorde in die emosionele (gevoelens) en ideologiese (wat reg en verkeerd is) komponente van die teks implisiet betrokke – die waardes word hoofsaaklik ideologies gefokaliseer vanuit die perspektief van die karakters (die troepe, wat die offisiere en amptenare sê en doen, wat in die Program is) en ook vanuit Eliam se kritiek teen hierdie fossilering van standaarde sedert die Nag van Verdonkering en brutale indoktrinasie. In Offers vir die vlieë is dit dus Eliam se belewing van die momente van spanning en konflik in die verhaal wat intense emosionele en ideologiese ladings dra (aangaande Eliam se waarneming en interpretasie daarvan).

Die ideologiese fokalisering van norme en waardes waarvolgens die gebeure en karakters uitgebeeld word, is in Offers vir die vlieë sowel implisiet (wat betref die fokalisering van Eliam en ander karakters) as eksplisiet (soos gefokaliseer deur Eliam). Dikwels gebeur dit in vroeëre sowel as hedendaagse Afrikaanse jeugtekste se ideologiese konteks dat hierdie narratiewe stem die ideale geleentheid bied om waardes oor te dra sonder dat die leser die gevoel kry dat daar gepreek word. Offisiere wat in Offers vir die vlieë na die Mag verwys om hulle brutaliteit en sadisme te verdedig en motiveer, se houding, woorde en ideologie word deur Eliam se ervaring en gedagtes gedekonstrueer: “Ek voel soos ’n luis. Die res van die nag maak ek nie ’n oog toe nie. In my kop draai die woorde om en om. Hoe kan ek verduidelik wat Diesel gedoen het? Hoe het hy glo vir Torsten vermoor? Met hoeveel waarheid en hoeveel leuens kan ek my storie peper?” (193), en “Ek dink aan die paaie wat my tot hier gebring het, na dié donker tent naby die Front. Is daar dalk meer aan ons ses as wat die Mag laat blyk? Hoekom is ons, en die ander vier-en-twintig wat voorheen ook in die Program was, almal op dieselfde dag gebore? Hoekom die geheime, die saam grootword, gereelde mediese ondersoeke, die verwoestende afbreek tydens die weermagopleiding? Wat is die Program regtig?” (194).

Terwyl die narratief in die roman meestal ’n streng epiese vloei van begin tot einde het, het die skrywer van Offers vir die vlieë verkies om die sentrale konflik nie op ’n Grieks-dramatiese wyse aan te bied nie – die verhaal begin met die middel en loop na die begin (deur terugflitse) en die oop einde. Die sintaksis en dialoog (sowel as Eliam se interne gedagtegang) word benut om die konflik te beklemtoon.

Ten slotte is die epiese doelstelling van die skrywer van Offers vir die vlieë primêr dié van die verhouding van Eliam met homself, waarin die konflik lei tot al die traumatiese gebeurtenisse in hulle opleiding by Opleidingskamp Alfa, Torsten, Verdoorn en Krux se brutaliteit, asook op die onherbergsame pad na die Front en insig oor sy verlede.

Die beweging tussen die begin, die einde en die sentrale gebeure veroorsaak nie net spanning nie; hiermee stu die hoofhandeling in die rigting van momente van selfinsig en insig in die bose Program – dit eindig uiteindelik oop wanneer Eliam bevry word van die houvas wat sy offisiers en amptenare van die Mag op hom gekry het: “Nou het ons die Boek – waar en rein is die woorde – wat ons lewens rig en die grense stel. Van die Boek is die Mag die uitvoerende gesag, en van daardie gesag is ons troepe net ’n onderdeel, so is ons geleer. Maar ’n belangrike deel. Ons is die verdedigers van hierdie Nuwe Orde.” Priester sê: “Ons sal met óns bloed ook daarvoor betaal. Ons sal keer dat die AntiMag dit inneem en die afvalliges ’n bose plek daarvan maak” (21). Uiteindelik het net die gebrande man (Eliam?) oorgebly.

6.7 Universele tema

Die vraag wat in hierdie onderafdeling gevra kan word, is: Wat is die waarheid en is dit soos dit in Offers vir die vlieë verbeeld word, of nie? Fiksie het met ’n bepaalde beeld of siening van die werklikheid te make, maar is nie in die gewone sin van die woord “waar” nie30. Oor die waarde van fiksie as iets wat onwaar is en oor die verhouding tussen waarheid en fiksie word baie gefilosofeer. Die feit bly staan dat die maak of skryf van fiksionele jeugromans ’n belangrike en gewilde vorm van kommunikasie met tieners en adolessente is, waarin ’n siening van die werklikheid op ’n kreatiewe maar konkrete wyse uiteengesit, weergegee en aangebied word.

Vir my as leser is die waarhede wat in Offers vir die vlieë uitgebeeld word die volgende:

  • Vóór die Nag van Verdonkering was die wêreld boos: “Daardie torings en die goed wat mense daarin gedoen het, was boos. Die slang en boeke in al die vorme was boos. Daarom is dit vernietig ... Want teenoor die Mag, staan die AntiMag ... Só is ons van kleins af geleer: Ons is deel van die Mag. Ons is Goed. Hulle – die gesiglose mense oorkant die Front – is die AntiMag, die Kwaad” (21).
  • Eliam-hulle is geïndoktrineer om teen die AntiMag te veg deur hulle ma’s (wat nie biologiese ma’s was nie), die offisiere en amptenare van die Mag: “Elke bom, elke koeël en elke lyk is ’n tree nader aan ’n vrye Vaderland” (195).
  • “‘Dis hoe verdraaide idees jou in kanonvoer verander,’” sê Cypher toe ’n sarsie koeëls oor ons koppe vlieg en ons dekking slaan. Ek staar na Cypher van onder my staalhelm se rand. ‘Verdraaide idees?’ ‘Ideologieë. En leuens,’ voeg hy by. Nog rondtes kletter voor ons neer. Modder en sneeu spat. ’nie eens ons ma’s sal ons mis nie’” (228).
  • Die Boek wat Cypher by die gebrande man gekry het – die Program – wys die inligting aangaande die troepe se afkoms en doelwit: ’n “Boek met ’n groen voorblad. Die kante is effens geskroei. Ek skrik. Dis moet wees waarna hy so naarstigtelik gesoek het nadat ons tent omgekeer is. Natuurlik. Hy sou in ’n malhuis vol moeilikheid gekom het as die Mag dit daar by hom gekry het. Hy druk dit in my hande. Ek wil nie daaraan vat nie, maar Cypher vou my hand daarom. Ons mag geen ander boeke behalwe die Boek hê nie. Ek lees die verbode titel: Die Program. ‘Dit staan alles daarin,’ sê Cypher. ‘Hoe die Mag die genetika van embrio’s verander. Babas se gene redigeer’” (229).
  • Eliam en sy medetroepe was dus deel van ’n eksperiment om die perfekte soldaat te vind. Cypher, die siener, sê: “Die perfekte een wat hulle kan kloon sodat hulle vir hierdie verdomde oorlog honderdduisend perfekte soldate kan maak. Maar daar is nie so iets soos die perfekte enige iets nie. Ons menslikheid lê juis in ons onvolmaaktheid” (232).

Daar word algemeen aanvaar dat jeugfiksie gemaak word en op ’n bepaalde manier aangebied word om te vermaak, om die ontvanger of leser te laat dink en te laat ervaar, om die leser te boei, hom te interesseer, hom mee te voer en tot meelewing met karakters en verhaal te bring (sien afdeling oor die funksies van jeugfiksie).

Uiteindelik word daar dus wel in Offers vir die vlieë universele temas uitgebeeld – die belewing en verwerking van brutaliteit, vernietiging, verkragting en ander trauma in die weermag, onverwagte hulpbronne en steun (die gebrande man wat vir Cypher die Boek gegee het waarin inligting oor die Program en die eksperiment is) in moeilike omstandighede, die ontwikkeling van Eliam sowel as sy medetroepe se eie identiteite, ideologiese oorheersing deur die offisiere en amptenare van die Mag, groei tussen karakters in verhoudings (Eliam en Cali en die ander medetroepe) en uiteindelik ook Eliam se groei tot volwassenheid.

 

7. Slotopmerking

As leser van Offers vir die vlieë het ek dikwels gevoel dat ek – soos Eliam – “in ’n doolhof sonder uitkoms beland het”. Maar ek het geïdentifiseer met sy woorde: “Selfs dit sal ek ... te bowe kom” (97). Anders as hy het ek dit nie as ’n “emosionele moegheid” ervaar nie; vir my was dit ’n intellektuele uitdaging, want Viljoen het telkens nuwe padwysers gegee in die intrige. Dit was asof ek ook deur ’n spieël in ’n raaisel moes ingaan. Al het dit gelyk na doodlooppaaie, was dit vir my inderwaarheid asof ek deur ’n labirint stap – soveel keer kom ’n mens by dieselfde plek uit, maar die pad kronkel steeds vanaf die begin na die einde, hede en verlede vleg deurmekaar en vorm ’n digverweefde netwerk van oorsaak en gevolg. Wat ’n stimulerende leesavontuur!

 

Eindnotas en bibliografie 

1 Rosenblatt, L. 1995. Literature as exploration. 5de uitgawe. New York: Modern Language Association.

2 Ghesquiere, R. 1993. Het verschijnsel jeugdliteratuur. Amersfoort: Acco Leuven.

3 Steenberg, E. 2013. Jeugliteratuur. In Cloete, TT. Literêre terme en teorieë. Pretoria: HAUM Literêr. http://www.literaryterminology.com/index.php/j/78-jeugliteratuur.

4 www.fanieviljoen.co.za

5 Agterste binneblad van Offers vir die vlieë deur Fanie Viljoen, LAPA, 2020.

6 Combrink, L. 1990. Die rol van die leser in die literêre kommunikasiesituasie. Die Unie, 86(7,8,9).

7 Rossouw, MA. 2013. Lesertipes. In Cloete, TT. Literêre terme en teorieë. Beskikbaar by: http://www.litterm.co.za/index.php/lemmas/19-l/108-lesertipes.

8 Ek gebruik die manlike voornaamwoord wanneer na die bedoelde leser verwys word, omdat die hoofkarakter manlik is. Dit sou ook van toepassing kon wees indien die lesers vroulik is.

9 Combrink, L. 1996. Kulturele geletterdheid en multikulturele onderwys. Tydskrif vir Taalonderrig, 30(1):1–16.

10 https://www.litnet.co.za/n-selfgerigte-leesproses-traumabelewing-en-verwerking-in-die-jeugroman-blou-is-nie-n-kleur-nie-deur-carin-krahtz

11 http://www.litterm.co.za/index.php/lemmas/16-i/72-innerlike-monoloog

12 Meyer, D. 2005. ’n Praktiese ondersoek na die speur- en spanningsroman met spesifieke verwysing na die werk van Michael Connelly, John le Carré, Ian Rankin, Lee Child en Frederick Forsyth. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch. Beskikbaar by: https://core.ac.uk/download/pdf/37320492.pdf.

13 Van Coller, HP. 2013. Grensliteratuur. In Cloete, TT. Literêre terme en teorieë. http://www.litterm.co.za/index.php/lemmas/14-g/56-grensliteratuur.

14 https://af.wikipedia.org/wiki/Distopie

15 Steenkamp, E. 2018. Stof deur Alettie van den Heever: ’n LitNet Akademies-resensie-essay. https://www.litnet.co.za/stof-deur-alettie-van-den-heever-n-litnet-akademies-resensie-essay.

16 Meyer, D. 2005. ’n Praktiese ondersoek na die speur- en spanningsroman met spesifieke verwysing na die werk van Michael Connelly, John le Carré, Ian Rankin, Lee Child en Frederick Forsyth. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch. Beskikbaar by: https://core.ac.uk/download/pdf/37320492.pdf.

17 Keuris, M. 2013. Tyd in die literatuur. In Cloete, TT. Literêre terme en teorieë. http://www.literaryterminology.com/index.php/t/255-tyd-in-die-literatuur.

18 https://www.names.org

19 Scholz, MG. 2013. Innerlike monoloog. In Cloete, TT. Literêre terme en teorieë. http://www.litterm.co.za/index.php/lemmas/16-i/72-innerlike-monoloog.

20 Keuris, M. 2013. Tyd in die literatuur. In Cloete, TT. Literêre terme en teorieë. http://www.literaryterminology.com/index.php/t/255-tyd-in-die-literatuur.

21 Du Plessis, H. 2013. Die skep van ruimte in ’n roman, met verwysing na die drie koepelromans van Hans du Plessis. LitNet Akademies, 10(3):341–61. https://www.litnet.co.za/die-skep-van-ruimte-in-n-roman-met-verwysing-na-die-drie-koepelromans-van-hans-du-plessis.

22 Johl, R. 2013. Verwysing in die literatuur. In Cloete, TT. Beskikbaar by: http://www.litterm.co.za/index.php/lemmas/28-v/265-verwysing-in-die-literatuur.

23 https://af.wikipedia.org/wiki/Frederik_II_van_Pruise

24 https://en.wikipedia.org/wiki/All_Quiet_on_the_Western_Front

25 Genette, G. 1997a. Paratexts: threshold of interpretation. Translated by Jane E Lewin. Cambridge: Cambridge University Press.

26 Greyling, F. 2009. Die skepping van die fiksionele wêreld in kinder- en jeugliteratuur deur middel van die kreatiewe gebruik van paratekstuele elemente. Mousaion, 27(2):209–26.

27 Betekenis van die naam van Kerebos, die hond https://translate.google.com/translate?hl=af&sl=en&u=https://en.wikipedia.org/wiki/Cerberus&prev=search&pto=aue.

28 Oosthuizen, MM. 2017. ’n Ondersoek na die parateks (Gérard Genette) as ’n narratiewe strategie in geselekteerde Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur. DLitt & Phil-proefskrif, Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria.

29 Pereira, E. 2013. Beeldspraak. In Cloete, TT. Literêre terme en teorieë. http://www.literaryterminology.com/index.php/b/19-beeldspraak.

30 Du Plooy, H. 2013. Fiksie. In Cloete, TT. Literêre terme en teorieë. http://www.litterm.co.za/index.php/lemmas/13-f/42-fiksie.

The post LitNet Akademies-resensie-essay: <i>Offers vir die vlieë</i> deur Fanie Viljoen  appeared first on LitNet.

Hoop, heling & harmonie, dink nuut oor siekte en genesing deur Malcolm de Roubaix: 'n resensie

$
0
0

Agtergrondfoto: Steve Buissinne | Pixabay

Hoop, heling & harmonie, dink nuut oor siekte en genesing
Malcolm de Roubaix
Penguin
9781776095582 (sagteband)
9781776095599 (ePub)

Die skouspelagtige vooruitgang in die mediese wetenskap as gevolg van nuwe diagnostiese en behandelingsmetodes het geneeskunde opnuut onder die kollig geplaas. Dit het ongelukkig so siektegesentreerd geraak dat die pasiënt agter die siekte soms vergeet word. Malcolm de Roubaix slaag uitmuntend daarin om die geneesheer se rol in perspektief te stel om meer pasiëntgesentreerd op te tree om nie net korrek te diagnoseer en te behandel nie, maar ook om, waar dit nie moontlik is nie, pyn en lyding te verlig – maar altyd met empatie en respek teenoor die pasiënt se kulturele en sosio-ekonomiese agtergrond. Dit is veral prysenswaardig dat hierdie tydige publikasie in keurige Afrikaans uitgebring is in verstaanbare taal wat toeganklik is vir Jan Alleman sowel as vir professionele gesondheidspraktisyns, met talle verwysings na toepaslike artikels en boeke.

Die diagnose en behandeling van siektes, asook navorsing oor die wyd uiteenlopende siektetoestande, hou inherent ook risiko’s in vir die pasiënt, en ’n positiewe uitkoms kan nie altyd gewaarborg word nie. Alhoewel dokters altyd daarna streef om die siekte te genees, is dit nie altyd moontlik nie, en hierdie situasie moet aan die pasiënt verduidelik word sodat die sieke by die helingsproses betrek kan word. Die simptome van die pasiënt dui nie noodwendig op ernstige siektes nie, maar dit kan in die pasiënt se verbeelding wees. Om aan ’n pasiënte te sê: “Jy makeer niks nie”, los nie sy probleem op nie. Hy is dalk bang dat die spanningshoofpyn die gevolg is van ’n breingewas, want sy vader het ook hoofpyn gehad wat later gediagnoseer was as ’n kwaadaardige gewas. Hierdie mense benodig dus gerusstelling deur ’n bekwame huisarts wat vertroud is met die omstandighede van sy pasiënte.

Die skrywer maak dit baie duidelik dat die enigste tyd waaroor ons beheer het, die hier en die nou is – die verlede is verby, en die toekoms kom dalk glad nie! Dit geld veral vir mense met lewensbedreigende siektes waarvoor daar tans nog geen genesende behandeling is nie. Mense wat gekonfronteer word met terminale siektes, kom te staan voor ernstige vrae oor “waarom ek?”, en het dikwels spirituele worstelings om die nuus oor hulle toestand te verwerk. Die gesin en geliefdes word ook betrek by die rouproses wat die einde van die lewe voorafgaan. Alhoewel mense nie maklik oor die onafwendbaarheid van dood praat nie, is dit nodig dat almal moet besef: “As jy gebore is, sal jy doodgaan.” Alhoewel genesing nie altyd moontlik is nie, kan heling en harmonie intree, want daarsonder is daar geen genesing moontlik nie. Einde-van-die-lewe-besluite kom ook hier ter sprake, en as narkotiseur met ’n doktorsgraad in geneeskunde en toegepaste etiek het die skrywer ’n breë belangstelling in bioëtiek en het hy al wyd gepubliseer in hierdie verband.

Hierdie publikasie kan met vrug aanbeveel word vir alle praktiserende geneeshere om hulle aan te moedig om nie te wetenskaplik te wees en in die proses die persoon agter die siekte mis te kyk nie. Die boek bespreek die betekenis van die siekte, en die rol wat emosies, ideologie en politiek in siekte en geneeskunde speel. Dit werp ook lig op die beperkings van geneeskunde en die koste-implikasies, en lê baie klem op effektiewe kommunikasie tussen pasiënt en geneesheer sodat die pasiënt deel vorm van die besluitnemingsproses wat in die beste belang van almal wat betrokke is, sal wees. Die toenemend ouerwordende bevolking met gepaardgaande degeneratiewe siektes soos verstandelike agteruitgang, osteoartritis, osteoporose en kanker hou onder meer ernstige sosio-ekonomiese gevolge in wat moeilike besluite van die behandelende geneesheer verg. Dokters het leiding nodig in hierdie verband, en Hoop, heling en harmonie is ’n tydige publikasie wat die besondere eise van die tyd vernuwend aanspreek.

The post <em>Hoop, heling & harmonie, dink nuut oor siekte en genesing</em> deur Malcolm de Roubaix: 'n resensie appeared first on LitNet.

Waar onthou begin deur Connie Luyt: ’n resensie

$
0
0

Foto: Christine Sponchia | Pixabay

Waar onthou begin
Connie Luyt
Penguin Random House
ISBN: 9781485904465

Connie Luyt se agtste roman, Waar onthou begin, het pas verskyn. Sy het ook verskeie kortverhale op haar kerfstok, en twee van haar boeke, Lang skaduwees oor Afrika en Reën oor die Serengeti, is vir ’n ATKV-veertjie benoem en ook in Nederlands vertaal.

Die teks op die agterblad van Waar onthou begin lui as volg: “Toe Elfrieda ná ʼn lang koma uiteindelik haar oë oopmaak, is haar kop leeg. Angs pak haar toe sy in ’n Durbanse hospitaal besef sy kan niks van haar verlede onthou ná sy voor ’n motor ingehardloop het nie.

“’n Terloopse opmerking deur Michael, die neuropsigiater wat na haar omsien, bring ’n flits herinnering: Voor haar sien sy ’n vaalgroen boekie oor die lewe van die ontdekkingsreisiger David Livingstone se vrou, Mary. Met behulp van Michael begin Elfrieda stadig die legkaartstukkies van haar geheue aanmekaar sit.

“Maar die onthou bring seer: Soos die herlewing van die tragedie van haar pa se ongeluk tydens ’n vakansie by die see en haar ma se kille verwyt en woede daarna.

“Elfie se pad na vergifnis en vrede verby die skok en ontsetting van onthou is lank.”

Saam met haar storie loop die grootliks onbekende storie van Mary Livingstone, wie se lewe skaars ’n fluistering in die geskiedenis was. Haar lyding word oorskadu deur haar man, David, se ontdekkingsreise en heldeverering in Engeland. Dele van haar lewe word as aparte storie vertel, maar die oomblik van oorvleueling met dié van Elfie en haar verhaal is verrassend en onverwags.

Connie Luyt se boek is een pragtige beskrywing na die ander. Dis nou behalwe die vervlegte storielyn, wat beslis nie maanskyn en rose is nie. Sy skram nie weg van die donker kant van die lewe nie: hoe hard mense kan wees wat bedreig voel, wat skade berokken is, wat seer het. Daar is geen tekort aan trane en verwyt en verlore tyd nie. En die maande wat sy met geheueverlies in die hospitaal lê, dra by tot daardie wanhopige gevoel van tyd wat nooit weer ingehaal kan word nie: “Asof ’n duisend voëls in my brein losgelaat word, oorval die kennis my ... Ek druk my palms teen my slape, want dit voel of my kop gaan oopbars.”

Hoewel ek geen kennis het van geheueverlies nie, kan ek as’t ware hierdie deurborende pyn saam met haar voel.

Haar beskrywing van haar jaar van antidepressante drink, wat alles laat “kom en gaan sonder dat ek emosioneel daaroor raak. Alles bly kleurloos, skakerings van grys”, eggo die woorde van soveel vriende wat ook elke dag ’n pil moet sluk.

Op LitNet word Connie beskryf as iemand wat “al baie jare in ’n huis vol boeke en ’n tuin vol bome in Pretoria [woon]. Geskiedenis en mense is lewenslank haar groot belangstellings.”

Bome en plante speel hier ook ’n rol. Die beskrywings van die blaarlose witstinkhoutboom waaronder sy haarself leeg gehuil het, is pragtig: “die lenteson spikkel deur die groen-groen blare van bome ... die geur van jasmyn hang om ons”.

Kyk ook na die pilare met die bougainvillea by die plaas-ingang, die enorme boom wat oor Michael se huis waak en  ’n skaduwee gooi ook oor ’n deel van die kothuis; hoe die perd behendig deur die bome vleg toe sy bedreig voel. Let op hoe sy vir haar ma rose plant. Dit skep prentjies in jou kop. Dit maak die omgewings bekend, vul jou neus met die reuk van natgereënde grond; seelug; jasmyn; vroegoggend dou.

Maar net so effektief is haar sombere beskrywings: “Eers daarna het ek verstaan dat blou ook ’n emosie is. Ek het nooit geweet hartseer het ’n reuk nie, maar die kamer is vol daarvan.” Ek voel sommer hoe die emosies dik word in my keel en my bors laat brand.

Die storielyn is onvoorspelbaar, interessant en geensins langdradig nie. Daar is genoeg agtergrond om jou die geheelbeeld te gee sonder om te lank te sloer. Die storie vloei soos ’n sterk rivierstroom en soms wil jy op die kant uitklim en vir ’n ruk net in die sonnetjie bak terwyl die woorde insink, in jou binneste maal en kolk, voor jy weer kan sterk staan vir die volgende hoofstuk.

Ek hou van die gereelde verwysing na die veertjies wat sy langs die pad optel, en aan die einde van die boek waar sy noem van die houertjie waarin haar vereversameling is, besef jy die simboliek én uit hoeveel veertjies ons almal se ondervindinge saamgestel is.

Die boek het my ure se leesgenot verskaf. Ek wou dit nie afjaag nie, resensie of te not. Daar is die lekkerlees en romanse waarvoor jy lief geraak het in boeke van Ena Murray, Tryna du Toit of Ettie Bierman, waar die heldin ’n klein jong bokkie met groot, sagte oë is en deur die aantreklike jong dokter/boer/fotograaf van haar voete geslaan word, maar waar liefde nie so maklik en eenvoudig is nie.

Maar daar is ’n duidelike liefde vir geskiedenis; vir woorde en beskrywings; vir die mens se innerlike stryd, van selfverwyt en vertwyfeling, wat die storie baie dieper lae gee, of jaarringe, soos sy daarna verwys. Dis pitkos en insig wat jou lank bybly.

Ek hoop nie daar moet weer sewe jaar verloop voor ons weer iets uit haar pen kan lees nie.

The post <em>Waar onthou begin</em> deur Connie Luyt: ’n resensie appeared first on LitNet.

Help! My kind is anders deur Christien Neser: 'n resensie

$
0
0

Agtergrond: Gerd Altmann | Pixabay

Help! My kind is anders
Christien Neser
LAPA Uitgewers
9780799396294 (Sagteband)
9780799396300 (ePub)

Tien jaar gelede was ons familie in ’n krisis. Ons driejarige tweeling het die eerste keer na die geliefde kleuterskool gegaan waar hul sussie al goed ingeburger was. Voor die groot dag was dit al waaroor daar gesels is, en op die oog af was albei opgewonde. Die eerste dag was ’n beproewing – een van die mannetjies het dadelik tuis gevoel en sommer maats gemaak. Vir die ander een was dit ’n dag wat hy glad nie kon hanteer nie. Hy het sy ore toegehou en aanmekaar gehuil. Ons het gedink dit is maar aanpassing, maar daar was soveel tekens voor dit al gewees. So het ons pad na antwoorde begin vir een van ons drie kinders wat duidelik “anders” was. Met ’n tweeling is die vergelyking van ontwikkeling soveel makliker, en dan wel ook soveel meer frustrerend as jy besef dat een van die twee sukkel.

Dit is baie moeilik om te beskryf wat deur ’n ouer se kop gaan wanneer jy besef dat jou kind duidelik hulp nodig het. Baie maal weet jy regtig nie waar om te begin nie en tipies is die paadjie frustrerend en verwarrend, veral as daar meer as een probleem is.

Ons het draaie gemaak by ’n neuroloog, arbeidsterapeute, fisioterapeute, ’n spelterapeut en ’n pediatriese psigiater. Ons het perdryterapie probeer, gesorg dat swemlesse en judo deel was van sy lewe. Soms is daar misdiagnose op jou pad en soms vat korrekte diagnoses tyd omdat kinders bly ontwikkel.

Maar hou moed – jy en jou kind kan ’n wenspan word! Dit is die boodskap in Christien Neser se boek Help! My kind is anders met die wonderlike subtitel “Ontdek die ster in jou anderster kind”.

Ai, ek wens hierdie juweel van ’n boek was beskikbaar daardie tyd! Dit sou ons soveel rigting en moed gegee het in ’n uiters verwarrende tyd. Dit is by uitstek gemik op ouers met kinders onder sewe wat besig is om hul “anderste” kind te ontdek, maar ook vir dié wat sensitief wil wees teenoor kinders wat neuro-atipies is. Onderwysers sal natuurlik heelwat baat vind by die boek.

Deel een van die boek hanteer wat “normaal” is, hoe om ontwikkeling te meet met mylpale, en ’n uiters nuttige verwysing na die verskeidenheid terapeute en ander kundiges om ’n wenspan te vorm vir jou kind.

In die tweede gedeelte van die boek word tipiese vrae een vir een hanteer in hoofstukke wat die mees algemene probleme aanspreek. Dit is ’n uiters nuttige gids en bevat nie net raad oor behandeling en professionele persone nie, maar wonderlike praktiese oplossings en hulpmiddels.

Die laaste deel van die boek bevat ware wenverhale van kampioenspanne. Hierdie is ongelooflik inspirerende verhale wat ouers in die loopgrawe van die stryd vir hul kind se ontwikkeling bemoedig. Die waarheid is dat jy as ouer altyd jou kind se grootste advokaat gaan wees – selfs wanneer hulle ouer word. Ek het elkeen van hulle gelees, want selfs al voel ons op ’n stadium dat ons wen in die stryd, is die woorde van ouers en kinders wat ook die pad geloop het, uiters bemoedigend. Veral die verhaal van Emile Gouws, wat hy self vertel, hou ek as ’n anker vir ons pad vorentoe .

Help! My kind is anders is ’n onontbeerlike hulpmiddel vir ouers, familie en onderwysers en is met sorg deur Christien Neser saamgestel, met volledige verwysings en ’n leeslys . Die kennis van meer as 40 jaar as spraakterapeut en haar interaksie met ander spesialiste in die veld is saamgevat in gewone, maklik verstaanbare taal. Ek wens die boek was tien jaar terug beskikbaar. Ek weet vir ons as ouers sou dit ’n anker in ’n baie stormagtige see gewees het.

The post <em>Help! My kind is anders</em> deur Christien Neser: 'n resensie appeared first on LitNet.

Die versoeking van Thomas Maas deur Chris Karsten: ’n resensie

$
0
0

Die versoeking van Thomas Maas
Chris Karsten
NB-Uitgewers
ISBN: 9780798181167

Die Maase is ’n hegte, talentvolle Randse gesin. Die hoof des huises, Thomas, is ’n sielkundige van aansien wat elke dag ná werk ’n spesiale tydjie saam met sy vrou Donna deurbring, en hulle drie kinders weet hulle mag nie daarop inbreuk maak nie. Daar is die agtienjarige tweeling Antonie en Patty en die laatlam Florie, wat perdrylesse vir haar tiende verjaardag kry. Antonie se ongeluk het die einde van sy droom as motorfietswedrenjaer beteken. Patty wy elke beskikbare sekonde aan haar klarinet en Florie leef vir perdry. Dan is daar nog hul oupa, wat ’n baie positiewe verhouding met sy kleinkinders het, maar aan demensie begin ly.

Met elke kind se situasie kan die skone Amalia Rojas, wat haar oog vanaf die eerste ontmoeting op Thomas het, meeleef. Sy is immers die skatryk Argentynse eienares van Florie se perdryskool. Weldra begin sy die lewe van die Maase deurmekaar krap, met Thomas alte gewillig. Die groter probleem is dat die twee partye verskillende opvattings en planne het.

Dan huur Donna, wat ’n tuisteskepper is, die jong Ella Neser om uit te vind wat aan die gang is. Ella is ’n kruis tussen die Britse strokiesprentheldin Modesty Blaise en Precious Ramotswe, privaatspeurder in die skrywer Alexander McCall Smith se Botswana.

Ella lyk dikwels vir haar kliënte lig in die broek, maar sy was vroeër ’n gedugte moordspeurder in die polisie en twyfelaars kom skoorvoetend terug nadat sy hulle na Google verwys het. Sy het steeds voormalige kollegas in die polisie wat haar taak vergemaklik, en veral andersom. Sy is nou terug as privaatspeurder ná ’n verposing op plesierbote in die Karibiese See. Haar storie kom al van vier speurromans gelede uit die bedrewe pen van Chris Karsten, oudjoernalis en misdaadnavorser.

Die verhaal, wat eers redelik naby die einde ’n lyk oplewer, begin agterstevoor wanneer Ella haar finale verslag vir Donna opstel. Sy weet nie eers of daar ’n moorddossier oopgemaak sal word nie, want dis nie seker of so ’n misdaad gepleeg is nie.

Soos dit gewoonlik met Karsten se karakters gaan, is hulle veelvlakkig, en weens sy deeglike navorsing leer die leser hierdie keer iets oor Alzheimer se siekte, paraplegie, lykskouings, Argentinië en sy musiek, maar veral oor erotomanie soos dit by Amalia manifesteer. Of ’n jong speurder soos Ella verbatim sou kon aanhaal uit Hamlet, wat toevallig ook die boek is wat Amalia Rojas op haar bedkassie het, is baie onwaarskynlik, maar dit gee belangrike konteks.

Wat seggingskrag betref, is die storie vintage Karsten. Wie anders sou die versuim in die uitkenning van die lyk met soveel galgehumor beskryf as hierdie bobaas woordsmid wie se nimlike patoloog, Dok Koster, "die onbetwiste lord van die staatslykshuis", sê: "[D]ie plek is vol, dis nie ’n losieshuis vir hawelose kadawers nie." En wanneer Ella in die uitvoering van haar opdrag Thomas as huweliksraadgewer raadpleeg en die rol speel van ’n vrou in haar liefde verlaat, is hy oënskynlik die antitese van ’n rokjagter: "Met ’n tissue teen die neus het sy haar storie uitgespin van die swart hond wat aan haar hakke hap oordat haar geliefde haar ingeruil het vir ’n blonde hokkiespeler met beswete dye." Maas, die man wat ander se probleme oplos, het "haar simpatiek aangekyk, asof sy oë sag in haar siel vroetel, sy vrae ligvoets rondom haar broosheid. Om die storie gelooflik te maak het sy biografiese bokkies ingeroer."

Die leser kry die eerste aanduiding van wat die skrywer "minnesiekte" noem (en ja, die probleem is blykbaar nie tot vroue beperk nie) wanneer Thomas ’n klandestiene besoek bring tydens ‘n sielkundekonferensie in die Kaap. Hy vermoed steeds nie dat hy homself in ’n letterlik dodelike web help vasspin nie. Sy mymerings, effe geforseerd terwyl hy wag, dwaal van die Griekse argitektuur van die gebou na die Helleense koning Antiochus wat met sy stiefma Stratonika getroud is omdat hy gevaar geloop het om van minnesiekte te sterf as sy pa hom nie sy sin gee nie. Dit blyk ’n vooruitskouing te wees van die problematiek wat wag.

Die verteller is alomteenwoordig met die gesigspunt wat wissel tussen Ella, Thomas, Donna en ten slotte Amalia. Dit klink of die stem van die skrywer te duidelik na vore kom wanneer genoem word dat Ella se voormalige mentor dit nie kan verdra as sy ondergeskiktes ’n "taal mix" nie. Dit klink darem net te onwaarskynlik dat iemand met die naam Silas Sauls daardeur gesteur sou word.

Nuutskeppings soos in die beskrywing van die stalbestuurder Themba wat "knikkebeen" loop weens ’n vroeëre besering en Amalia se kleresmaak wat darem net te "buitenissig" vir Ella is, werk verfrissend.

Net ’n skrywer van Karsten se kaliber wat die speurroman tot in sy binnegoed ken, kan die elemente daarvan met soveel sukses agterstevoor inspan en omdop. Hy gebruik intertekstuele verwysings na die verhale van Hamlet, Fatal attraction en Madame Butterfly om ooreenkomste tussen Amalia en Ophelia, Alex Forrest en Cio-Cio-san se dryfvere aan te toon, terwyl Thomas soos Hamlet, Dan Gallagher en kolonel Pinkerton ’n totaal ander perspektief op hul verhoudings met hierdie vroue huldig.

Die verhaal het onmiskenbare postmodernistiese kenmerke sonder om geladenheid en leesbaarheid in te boet. Amalia is die antagonis, maar ’n moontlike scenario vir die einde laat skeidslyne verdof. Die feit dat die boek se tematiese stelling deur Lou Pepler, Ella se kêrel en klankbord, pittig op ’n skinkbord aangebied word, naamlik dat los seks (of "slenterseks" soos Karsten dit noem) gevaarlik is, beteken nie dat alle los drade uiteindelik netjies vasgebind word nie. Inteendeel.

Al word lesers gelei om te dink hulle weet presies wie die moord gepleeg het, wag ’n mens in spanning op die ontmaskering. Tog kom die verwagte skuldenaar nie na vore nie en jy begin twyfel of dit ooit so gebeur het. Dit maak van Die versoeking van Thomas Maas ’n veelvlakkige, tergende en verrassende sielkundige roman.  

The post <em>Die versoeking van Thomas Maas</em> deur Chris Karsten: ’n resensie appeared first on LitNet.

Regulating religion: State governance of religious institutions in South Africa deur Helena van Coller

$
0
0

Regulating religion: State governance of religious institutions in South Africa
Helena Van Coller

Routledge: London & New York
ISBN: 978-1138298712

Daar het pas ’n boek uit die rekenaar van een van die knap regsgeleerdes van Suid-Afrika, Helena van Coller van die Fakulteit Regte van Rhodes-universiteit, verskyn. Die titel is uitdagend: Regulating religion: State governance of religious institutions in South Africa. Die blote gedagte dat godsdiens aan regulering onderworpe kan wees in ’n neutrale staat met ’n Grondwet wat godsdiensvryheid verskans het, is genoeg om ’n paar mense te ontstel. Die boek word deur die internasionale uitgewer Routledge in Londen en New York vrygestel.

Die boek is goed geskryf en lees gemaklik, ten spyte van die komplekse tema. Soseer dat selfs nieregsgeleerdes die argumentasie kan volg en waarde daaruit kan put.

Die boek handel oor ’n fassinerende aspek van die Suid-Afrikaanse reg, te wete die owerheid se regulering (of moontlike poging daartoe) van godsdienstige instellings asook die rol van die howe in die hersiening van godsdienstige instellings se besluite en handelinge. Die verhouding tussen kerk en staat, godsdiensvryheid, en die Handves van Godsdiensregte kom ter sprake.

Die boek is veral aktueel in die konteks van sogenaamde godsdienstige leiers en kerke wat dooies opwek, lammes laat loop, heilige water ten duurste verkoop wat kwansuis MIV/Vigs genees, arm mense van die bietjie geld wat hulle het verlos en gemeentelede dwing om gras te eet. Die bisarre praktyke van kwaksalwers wat die kerk en Christelike geloof belaglik maak, het die Kommissie van Godsdienstige, Kulturele en Taalregte genoop om die kwessie van regulering op die tafel te sit. Verder was daar die afgelope tyd heelwat kerke wat in die hof gedraai het. So byvoorbeeld is kerke se besluite oor homoseksualiteit in die hof onder hersiening geneem; dissiplinêre optrede van kerke word gereeld op grond van arbeidswetgewing getoets; en geskille oor eiendomme het gelei tot langdurige hofsake, waarvan een nou al 10 jaar onder litigasie staan.

Van Coller se boek is tydig en van groot waarde, aangesien daar nog bitter min op hierdie terrein gepubliseer is. Die groot aantal verwysings na sake in die Suid-Afrikaanse regsgeskiedenis asook internasionale sake verhoog die kwaliteit van die boek en maak dit uiters bruikbaar as ’n verwysingsbron. Daarbenewens beskik Van Coller oor goeie kennis van en aanvoelinge vir Kerkreg as teologiese dissipline, en hoe dit in die kerklike reg toegepas word. Dat die boek in Engels geskryf is, maak dit toeganklik vir internasionale gebruikers. Dit sou fantasties wees as daar ook ’n Afrikaanse vertaling beskikbaar kon wees.

In die eerste deel, met verwysing na talle hofsake, bevestig Van Coller die beginsels van godsdiensvryheid, die reg op selfbeskikking van godsdiensinstellings en nie-inmenging deur die staat. Die konflik tussen verskillende regte word ook indringend beskryf. Sy kom ook tot die gevolgtrekking dat fundamentele menseregte, soos omskryf in die Handves van Regte, beperk word deur tersaaklike artikels in die Grondwet en wetgewing wat diskriminasie verbied en gelykheid bevorder.

In deel twee gee Van Coller ’n gedetailleerde uiteensetting van die algemene regte, verantwoordelikhede en vryhede in die lig van bogenoemde beginsels. Die bespreking fokus op sekere gebiede wat in die verlede tot verskil van mening en litigasie gelei het. Van Coller bespreek die rol van godsdiens in die gemeenskap, die verhouding tussen godsdiensinstellings en staatsinstellings, onderwys, finansiële bestuur, die huwelik, die verhouding werkgewer/werknemer en algemene bestuursbeginsels. Dit maak die boek besonder relevant ten opsigte van die praktyk en die uitdagings waarvoor kerke en ander godsdienstige instellings te staan kom.

The post <em>Regulating religion: State governance of religious institutions in South Africa</em> deur Helena van Coller appeared first on LitNet.


Eietyds en eiesinnig: Lynthia Julius "vry met getroude sinne / en ligtekooi met reëls"

$
0
0

Lynthia Julius het naam gemaak toe sy in 2018 aangewys is as die wenner van die Afrikaanse inskrywings vir die I wish I’d said-projek en weer in die 2019-bundel opgeneem is.

Die verwagting waarmee ’n leser dan Julius se debuut, Uit die kroes, opneem, is hoog en word ook nie teleurgestel nie.

In die wengedig, “Vir Aljarreau” (48–9) kom ’n hele aantal sake voor wat later motiewe in die bundel sou word: van die reaksies en parodieë op digters en gedigte (Ferrus, Small, Krog, Breytenbach, Gert Vlok Nel, Koos du Plessis) tot die blik op verhoudings en geliefdes, die verwysings na selfdood en narkotiese middels en die komplekse verhouding met die ma. Hiermee is daar egter nog net ’n eerste teug geneem uit die kelk, die kroes, wat Julius se bundel na die lippe bring.

’n Opvallende nasmaak wat reeds ná ’n eerste lees bly, is die eiesinnige stellinginname en die ononderhandelbare verset teen die onaanvaarbare en die ongenaakbare. Die stem aan die woord is eietyds, onverskonend en vrou. In “Skuld”, waardeur mens herinner word aan Antjie Krog se gedigte “1995” (Gedigte 1989–1995, ble 6–7) en “namens myself” (Verweerskrif, bl19), word daar bestek opgeneem, maar terselfdertyd eis dit ’n ruimte op waarbinne die self, en ook haar generasie, geposisioneer word:

ek las nie goed aanmekaar wat ek nie breekgemaak het
maar so kom kry het nie
...

          ek is niemand se marionet of naaister nie
          ek kies my slagvelde
          ek aanvaar nie hand-me-downs van
          ’n sisteem waarvan ek g’n onderdeel was nie
          ...

          ek kies my beloofde land privaat
          ek is g’n aangewese Josua nie.

Hierdie bewuste posisionering is iets wat in verskillende gedigte neerslag vind – ongeag of die gedig besinnend is, aan die kaak stel, meedeel of bevraagteken – en tot so ’n mate dat mens ’n procédé daarin kan opmerk.

Vergelyk byvoorbeeld “Aksynbetalers” (44):

          Jy is nie soos jou ma nie;
          jy rook nie rooi Pall Mall voor die kas
          met die microwave op nie
          jy glo nie in kerk of gaan bad voor jy slaap nie
          jy relax nie jou kop nie
          jy aanbid nie jou pa nie
          jy offer nie op en loop met eeltvoete rond nie

          Jy is nie soos jou ma nie;
          jy rook Marlboro op die stoep
          jy glo, maar jy weet nog nie in wat nie
          dra jou kroes hare so laat mense kan sien
          glad alleen beteken nie mooi nie

          jy offer jou verstand vir jouself op ...

 En die aanspraak maak op erkenning in “Die hulp” (39):

          En as ek eendag ’n huishulp/ maid/ girl/ bediende moet wees
          word daar nié ’n tjie agter my naam gelas ...

         maar hulle sal my op my onverkleinde naam noem
          van aangesig tot aangesig sal ek dit aanhoor ...

         ’n eienaam sonder tjie
          vir ’n volvrou wat die keuse gemaak het
          om aanhou en aanhou en aanhou
          herinner te word
          sy’s gemaak vir ja en amen
          fok of haar kop walgstuip ofte not.

’n Ander voorbeeld hiervan is sigbaar in die manier waarop die erotiese versugting in “Apokalips” (63) ’n aanspraak maak, die klank van aandrang dra:

          stort in my jou lewende water
          ...

          maak
          gravitasiekolke in my kurwes
          deur my eerste aar se bars

          gryp my aan met jou bestaan

          laat my liggaam vir jou ’n apokalips word.

Die gedigte oor ’n jong vrou wat in liefdesverhoudings verwerp word, of wat dit afwys ter beskerming van haarself, en veral waar ras en klas ter sprake kom, is ’n oop senupunt in die bundel. Soos in die slim geskryfde “Last Supper” (70–1) waar die leser met fokus moet lees om te kan hoor wie aan die woord is, terwyl mens nie kant kan kies tussen die twee stelle seer nie.

Dit is iets wat ook gebeur in “Hy’t gesê” (43):

          Hy’t gesê ek dra my smile soos ’n kus
          het ek gehoor
          hy’t bedoel kis         

          En sy oë het vol rou geword ...

In “Wat sal jou ma sê” (81) word die beskrywings waarmee die self haar identiteit en afkoms benoem en kleim daarvoor afsteek, geraam deur die selfgeldende en uitdagende opdrag aan die begin en einde van die gedig: “Gaan sê jou ma jy’s verlief.” Dit bring mee dat die wegwys in die slotreël nugter en verwytend klink én ysingwekkend droef is:

Gaan sê jou ma jy’s verlief op
’n Nama(kwa)kind
een met kroes hare en ’n geel vel
een wat ken van gwarra-goed en suurdeegbrood
van skotteltjiewas en viervertrek ...

’n klipsweetkind gebore in Xhoeroepoort

En kom vra my weer.

Die self aan die woord in hierdie bundel is meervoudig en kompleks, soos ook die onderwerpe wat sy ophaal en waaruit sy sin, en poësie, maak. Uit die smeltkroes van leef en beleef word gedigte gefiltreer wat ondersoek instel, aan die lig bring, stelling inneem, deklameer en aandring op erkenning. Die bundel bied onthutsende perspektiewe so uiteenlopend soos dié in “Halfnaatjie”, “Nege-en-dertig slae”, “Krismisboom”, “Twee grade”, “My land se krank” en “Das nichts” en mens word bewus gehou daarvan dat die gedigte neerslag is van die uitdagings en eise wat ’n eietydse jong vrou aandurf en aanspreek. Een wat stem gee aan haar generasie in Suid-Afrika en spesifiek ook een wat haarself identifiseer as “Nama(kwa)kind” (81) – gekonfronteer met daardie “een godverlate woord (wat) kletter soos ’n lem: Ras” (62).

Die paradigma waarbinne die bundel se gedigte beweeg, sluit ook gedigte in wat ’n bydrae lewer tot die representasie van die vrou in die Afrikaanse poësie. Hieronder tel gedigte oor die verhouding tussen ma en dogter (40, 41, 44, 50), liefdesverhoudings (veral waar die geliefdes geskei word deur die werklikhede van persepsies oor ras en klas), gender en generasiekonflik (spesifiek in terme van kulturele gedrag, byvoorbeeld hoe vrouens hulle “behoort te” gedra (34, 66), gendergeweld (46), die tol wat ’n studentelewe eis (intellektualisme, 54–5 en aborsies, 57) en verkragting (72).

“Naggesprek” (32–3) is een van die gedigte waarin die leser ’n binneblik op die ma kry. Ná skermutselinge met die ma (40) en verbete pogings tot dissosiasie (44) is dit die kind-ma wat die verantwoordelikheid vir haar sibbe moet dra, wat hier aan die woord is. Uit die eerlike gesprek tussen susters blyk ’n mengsel van empatie en verwyt vir die ma, waarby ook weemoed en gelatenheid ingemeng word:

          Dinky, waar’s Ma?
          Ma’t gehardloop
          na die vry
          en die jonk
          ons twee het te vroeg gekom

          ...

          maak toe jou oë
          laat glip die bang
          ek kyk jou onse kind

          ek kyk jou die ma-lose nagte in.         

Hierteenoor gee “Die vrouens in my familie” (34) ’n lemnugtere en selfs kritiserende, alhoewel nie onsimpatieke nie, blik op moedige vroue in wie se lewens onderdrukking weens patriargale mag en konvensie ’n daaglikse werklikheid is, terwyl die slot ontnugtering en distansiëring suggereer:

Die vrouens in my familie is lief vir mekaar
bel op verjaarsdae
stuur mekaar chain messages oor die Jirre op WhatsApp
kuier mekaar Desember en Eastertye
koop wyn braai saam maak potjiekos
Namastap saam
bid vir mekaar verdedig mekaar
ruil raad oor kinders tande Balsem Kopiva
shampoo coconut oil, koop vir mekaar klere
hulle is bedrywig lief vir mekaar

die vrouens in my familie het van hul gehoop
in kiste beland deur hulle huwelike
...
hulle stemme ingeboet vir hulle manne s’n
dien onder trilregerings
kyk om heel te bly die krake mis
draai na die Jirre vir die vuur
wat in die ander een se oë geblus geraak het
try hulle kinders gehoorsaam grootmaak in die weë van die Jirre

hulle verafgod hulle manne
die vrouens in my familie
en sien die kinders vir heidene aan.

Die baie mooi en aangrypende, dog diep ontstemmende, gedigte in Uit die kroes wat oor afkoms en herkoms handel, verryk die bestaande korpus gedigte in Afrikaans oor hierdie onderwerp – soos by Dianna Ferrus, Ronelda S Kamfer en Jolyn Phillips. Uit die aard van die saak verruim dié wat oor vroue handel, ook die blik op die vrou in die Afrikaanse poësie. In hierdie opsig is veral Julius se portretgedigte oor vroue uit die geskiedenis besonders. Lees “Sara” (7), “Sara II” (78), “Aurora” (11), “Amria van Bengale” (12), “Ouma Xhau” (18) en “Dulcie September (22). Mens kom nie onaangeraak daarvan af nie, en jy sal nie spyt wees nie.

“Sy wat mal is” (77) is een van die gedigte in die bundel waarin ’n outobiografiese spreker herken kan word. Soos by soortgenootlike gedigte (soos dié van Eybers, Spies, Krog, Hambidge) is hierdie spreker spesifiek ook vrou en digter en doen sy bestekopname van haar posisie in terme van stereotipes:

          Sy wat mal is wat in skottelgoedwater was
          met Mammie stry oor kerk
          voorskrif spien vir Lithium
          wat nou nog nie kon werk kry nie
          sy wat wal is wat afdroog met vloerlappe
          hou haar kastig toe vir al wat man is
          maar lus vir als wat loskop is
          sy hou haar duiwels aan die gis en sis

          Sy wat mal is
          wat poppehuisie speel met seuns
          sy vry met getroude sinne
          en ligtekooi met reëls.

Te midde en ten spyte van onrus en omwentelinge was 2020 ’n goeie jaar vir die Afrikaanse poësie – teen die einde van Oktober 23 solobundels (met agt debute en een digdebuut), een vertaling en drie versamelings. Lynthia Julius se Uit die kroes sing met ’n sterk en helder stem in hierdie koor.

Karen de Wet
20 Oktober 2020

Lees ook:

"Dis hartseer dat ek nie gedigte ten volle in Nama kan skryf nie"

The post Eietyds en eiesinnig: Lynthia Julius "vry met getroude sinne / en ligtekooi met reëls" appeared first on LitNet.

Drie vroue en 'n meisie deur Hans du Plessis: 'n lesersindruk

$
0
0

Drie vroue en ’n meisie
Hans du Plessis
LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799386110

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Drie vroue en ’n meisie, deur Hans du Plessis geskryf, is ’n roman wat in 2017 verskyn het en deur LAPA uitgegee is. Die boek bestaan uit 51, deels kort hoofstukke. Oor die algemeen is die lees baie lekker en ’n mens vorder vinnig met die teks. Vir mense wat belangstel om na die storie te luister, sou ek graag aanbeveel om na Maroela Media se webwerf te gaan. Hulle bied ’n boekvoorlesing van die boek, klik hier.

Nou ’n paar woorde oor die boek se voorblad. Daarop pronk ’n meisie – dit is wat mens eerste sien. Verder is daar delwers met hulle gereedskap geïllustreer. Die voorblad met die groot beeld van die meisie het my eers onder die indruk gelaat dat dit ’n romanse is. Moontlik word met hierdie indruk gespeel omdat die boek se ondertitel “Vooroordeel is die een sonde wat niemand onaangeraak laat nie” is. Ek sou egter daarvan gehou het as die voorblad nog drie kleiner beeldjies van vroue van verskillende ouderdomme getoon het wat al hoe meer deursigtig word hoe ouer die vrou is, omdat dit hoofsaaklik oor vroue in verskillende generasies handel. Ons leer Katryn Coetzee se voormoeders ken en hoe hulle in armoede gelewe het.

Dit is Katryn wat by die skryfkundeprofessor se kantoor ingestap kom en sê: “Ek het vir Prof ’n storie om te skryf” (9). Hy het twee bronne: Aan die een kant is daar sy eie pa se herinnerings oor oupa Piet wat inspekteur van onderwys in die destydse Wes-Transvaal was, en aan die ander kant is daar Katryn se ma se aantekeninge. Die professor besluit dan om die storie van die vroue te skryf. Voor Katryn die professor oortuig het om die storie te skryf, moes sy haar ouers oortuig, want hulle was teen die idee van ’n roman gekant. Veral haar pa wou nie hê dat sy vrou al die vernedering moet herleef nie.

In die eerste deel gaan dit om Amléth, Angus Murray se vrou. Albei het sak en pak van Skotland af Miersehoop toe gekom. Angus was ’n delwer, en soos alle delwers probeer hy om ’n diamant te vind wat so groot is soos ’n skaapkop. Veral in die eerste deel word dit duidelik dat die delwer aanhou delf omdat hy dink dat hy net een groot diamant moet vind om van sy sukkelende bestaan bevry te word. Angus sê deurentyd dinge soos:

“Ek gaan verder soek sodat ons een van die dae ryk kan teruggaan huis toe” (26)

“Nog net ’n paar blinkes en ons kan ons kind in Skotland gaan grootmaak” (43).

“Nog net een of twee grotes en ons kan huis toe gaan” (60).

Is dit hoop of begeerte? Alhoewel Angus bewus daarvan is dat diamante ’n mens net “teister en molesteer” (61), hou hy aan delf en sê: “Nog net ’n rukkie en een groot diamant” (67). En Amléth vra vir die soveelste keer: “Is dit regtig die moeite werd om verder te delf?” (67). Angus se antwoord is: “As ek nog net twee goeie diamante kry, gaan ons terug” (67). Lyk my delwers se tydeenheid is diamante, nie maande nie.

Naas al die swaarkry en gesukkel is daar ook mense wat omgee. Daar is die bywoners Gert en Hetta Minnaar; hulle is Afrikaners. Die Skotse Amléth ken nie hulle taal nie, hulle verstaan haar weer nie, maar “respek en liefde hoef nie baie te praat nie” (18). Wat die Murrays en die Minnaars gemeen het, is dat hulle uit ’n laer klas is en weet wat dit is om verwerp te voel. Wanneer Amléth en Hetta by mekaar kuier, haal Amléth haar Victoriaanse teestel uit. Sy het dit van haar ma geërf en dit was al wat sy kon saambring.

Amléth gee geboorte aan ’n dogtertjie wat hulle Cathy noem. Cathy word grootgemaak deur Hetta en Gert Minnaar, want Amléth is oorlede. Al wat sy aan haar dogter kon nalaat, is die Victoriaanse teestel.

Die boek se tweede deel vertel dan Cathy se storie. Na Hetta se dood trou Gert met Stienie Losper. Sy hou daarvan om mense grensloos te irriteer en om tweedrag te saai. Sy het twee dogtertjies. Op die Losper-tonge lê altyd vernedering. Hulle trek in Gert se huis in. Vir Cathy verbeter dinge nie. Sy is die ongewilde stiefkind. Sy moet skoonmaak, kos maak en beleef steeds minagting. Toe sy eendag met haar stiefsusters baklei, val ’n koppie van die Victoriaanse teestel uit haar stiefmoeder se hand en breek. Dit word nog erger. Sy word verkrag en van die man bly net die skoen agter. Daardie skoen help Jopie Deysel, die seun van die plaaseienaars Hennie en Gertruida Deysel, om met Cathy te trou. Hulle het drie kinders: Katrina (Katryn se ma), Hester en Jopie.

Die Lospers moet stad toe trek en Stienie wil die ou teestel saamvat. Cathy is ontsteld, want dis immers haar teestel. ’n Rusie ontstaan waartydens die teepot uit Stienie se hand val. “Stukkend op die vloer. Die slag is soos ’n geweerskoot in Cathy se ore” (180). Nou is daar net twee koppies en ’n gekraakte suikerpot oor.

Jopie Deysel sterf en Cathy trou met Dors Ferreira. Hulle trek stad toe. Cathy het gedink om só van die armoede weg te breek, maar sy word weer teleurgestel. Dors het vir haar gelieg en sy verstaan hoekom hy so gou wou trou. Weer is daar mense wat omgee. ’n Buurvrou help Cathy met koffie, brood en suiker. “As die armes mekaar nie help nie, dan vreet die rykes ons op” (263).

En toe breek Cathy se laaste Victoriaanse koppie. “My laaste ene,” sê sy en druk die laaste stukkie porselein teen haar bors vas (275). Die teestel is ’n tema wat die leser die hele tyd begelei totdat daar niks meer oor is nie – daar bly niks  meer van die Skotse verlede oor nie.

Die boek se derde deel gaan oor Katrina Coetzee, Katryn se ma. Ons kom nie baie oor Katrina te wete nie. Sy vertel ’n bietjie van haar herinnerings van Varkensfontein en die boek kom vinnig tot ’n einde sonder dat daar weer sprake van Cathy is. Dit het my as ’n leser gepla, want die slot is vir my nie afgerond nie. Ek sou liewer meer van Cathy en Katrina wou gelees het as van ’n teenswoordige tugsaak oor ’n professor se verhouding met sy student. Ek verwys na Katryn en haar skryfkundeprofessor wat saam navorsing oor Varkensfontein se mense gedoen het.

Al was ek ’n bietjie teleurgesteld met die einde van die roman, bly dit ’n aangrypende verhaal. Elke keer wanneer ek die boek weer opgetel het, is ek weer direk in die storie in verplaas. Dit mag dalk vreemd klink, maar soms het dit gedurende die lees vir my gevoel asof my gesig met stof bedek is, al het ek op my rusbank gesit en gelees. Ek het saam met die verhaal se karakters koffie gedrink, nagedink en gedroom. Ek bly nou sit met die gevoel dat ek nie net in die grond gedelf het nie, maar ook in mense se lewens. Du Plessis is ’n noukeurige beskrywer van mense en omgewings: “God het geen berge of bosse oorgehad toe Hy die land moes maak” (12); “By ons in Skotland is dit kouer, maar dit voel nie so nie. Hier is die wind droog en onvriendelik, soos die mense” (21); Dit is “soos ’n vyand wat haat” (25). Elkeen van Katryn se voormoeders haat die Hoëveld en dit trek deur die hele boek. Du Plessis se kunsvol-geweefde dialoë beeld mense se verhoudings en geaardhede oortuigend uit. Lesers sal geraak word deur Katryn se voorgeslagte en hulle swaarkry.

Daar is ook raakpunte met die Boereoorlog. Hetta en Gert Minnaar het mekaar in ’n konsentrasiekamp leer ken waar die dood aan die orde van die dag was. Niemand kon terug plaas toe gaan nie, want alles is afgebrand. Al wat oorgebly het, was die verskroeide aarde. Die Minnaars het later uitkoms as bywoners gesoek.

Naas al die swaarkry en armoede is dit egter ook ’n verhaal van twee diamante wat amper honderd jaar later eers by hulle bestemming uitgekom het.

Lees ook:

Drie vroue en ’n meisie: ’n onderhoud met Hans du Plessis

Drie vroue en 'n meisie deur Hans du Plessis: ’n resensie

Drie vroue en ’n meisie deur Hans du Plessis

Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Drie vroue en ’n meisie deur Hans du Plessis

The post <em>Drie vroue en 'n meisie</em> deur Hans du Plessis: 'n lesersindruk appeared first on LitNet.

Dalk postmoderne Sprokiesland se voorland: Prinsesse se #wetoo-slagspreuk

$
0
0

Foto: Khusen Rustamov | Pixabay

In die kinderboekgenre moet prinsesse nooit onderskat word nie. Dat hulle betowerend is, is ononderhandelbaar. Belangriker: Hulle kan enige krisis oorleef en hulle is nie meer slapende poppies wat wag op die bevryding van ’n prins se soen nie! Inteendeel, hulle pak dinge self aan en nog meer direk gestel: Hulle laat nie met hulle mors nie.

Wat meer is, hulle is interessant, opwindend en eksoties. Hulle is meisies-in-aksie! Hulle is modern, onafhanklik en neem leiding.

Hulle sit nie en staar met glasogies nie, hulle wag nie meer smagtend op prinse wat ’n glansende kroontjie of ’n glasskoentjie bring wat hopelik hulle lugkoppies en wattevoetjies pas nie. Nee, beslis nee. Hulle is hul eie wesens, uniek en avontuurlustig.

Hierdie nuwe generasie prinsesse beplan hul eie roetes. Wat meer is, hulle weet dat, as dinge skeef loop, daar ’n oorlewingsgids is – ’n soort GPS vir die pad vorentoe.

As jy graag ’n prinses wil word, het jy ’n handleiding nodig om jou te vertel wat jy benodig. Dit word Oorlewingsgids vir ’n prinses genoem.

Tussen die bladsye ontmoet jy die wêreld se bekendste prinsesse.  Die real deal celebs. Deur hulle verhale en wedervaringe kan vandag se aspirerende prinsesse gelei word  deur ’n betroubare towertante wat jou sal leer hoe om uit die pad van bose hekse te bly, getroue vriende uit te ken en ja, as jy wil, selfs sjarmante prinse te ontmoet.

Towertante Vonkel lei voornemende prinsesse op, deur hulle voor te berei op wat kán kom. Die kenmerke wat haar onderskei, is verbeelding, tydsberekening en goeie smaak.

Dis nie spookasemraad nie, maar praktiese wenke waarvan die eerste – en belangrikste - is: “Pasop vir vreemde brousels en gifdrankies.” Die goue reël lees nou dat “sonder pyn en harde werk kom ’n mens nêrens”.

Dis ook nie meer ’n kwessie dat die rok die prinses maak nie. “Die pragtige prinses in ’n elegante rok, met ’n kroon op haar kop en geen ’n haartjie uit plek nie”, is nou ’n oorskatte voorkoms. Wel, vals. Wat tel, is om modes te vervang met ’n voorkoms wat by jou persoonlikheid en smaak pas.

Wat die prinses-in-opleiding moet onthou, is dat paddaprinse nie net aan sy skubbe getakseer moet word nie. Nee, hy het dalk ’n hart van goud! Maar jy moet darem ook weet dat die sprokie verby is wat bepaal dat jy die prins van jou hart sal vind as jy “elke padda of muis” met jou soene bederf. Pasop vir die monsters wat net op soek is na die soen van ’n prinses of ’n meisie met ’n sagte hart.

Die “regte prinses” is nie “net fyntjies en vol grille” nie. Sy’s nie meer vol fiemies nie. Sy is nie bang om vuil te word en skrik ook nie vir ongemak nie. Haar kenmerke – dié van ’n “ware prinses” is dat sy nooit moed verloor nie; sy’s altyd vriendelik en vind dit onnodig om ’n prins sy koninklikheid te laat bewys. As hy in haar oë die regte man is, is dit vir haar genoeg.

Wat meer is, ’n gelukkige einde is nie ’n uitgemaakte saak nie. Wat wel waar is, is om self hard te werk vir wat jy wil hê. Hiervoor is verbeelding en kreatiwiteit nodig – noodsaaklike eienskappe vir elke prinses – om oplossings te vind vir probleme en hindernisse.

Net een ding kan die towertante jou nié mee help nie. Sy verklaar prontuit dat sy nie die eise ken waaraan ’n koninklike bed moet voldoen nie. Haar enigste raad is dat jy self jou bed kies en om, as jy kan, seker te maak dat ’n swerm voëls jou soggens wakker sing. “Niks is beter as dit nie: Begin jou dag op ’n vrolike noot!”

Wel, Sprokiesland se motto is: “As jou hart groot en goed is, is selfs die belangrikste troon binne jou bereik.”

Nou is jy ’n prinses: “Maak jou tuis op jou troon. Word ’n werklik unieke prinses. Word jouself!”

Nou dat jy ’n prinses is, moet daar goed verstaan word dat jy nie sommer met jou laat mors nie.

Dit werk só: “Eendag, lank gelede, was daar ’n pragtige koninkryk hoog op ’n heuwel”. Daar was hier en daar gevaarlike plekke, maar eintlik was dit andersins ’n vrolike plek. Toe kom die tyding dat “ ’n trol ’n groot gemors maak”. Hy verwoes alles en almal is baie bang. Die koning beveel sy ridders om die trol te gaan vang en waarsku die drie prinsesse om hulle in die toring toe te sluit.

Maar hoekom sal hulle nou opgesluit moet word as hulle al lankal meer as bekwaam is? Hulle het immers goeie oordeel en het nie ’n bang haar op die kop nie. Wat meer is, hulle wil nie in towerkombersies toegedraai word nie; hulle is gereed om enige uitdaging te aanvaar. As hul wel nou en dan bang word, staan hulle as ’n groep saam. In die planne wat hulle maak om uitdagings te oorkom, werk hulle saam. Hulle leef die leuse: Saam staan laat ons wen. (Die Together we’re better-motto).

Voor die ridders nog iets kan doen, het die prinsesse die trol ingekatrol en terwyl ridders Bibberboud, Bosbaard en Snolbol aan hulle snorre kou, oorhandig die koning medaljes vir dapperheid aan die prinsesse.

Hulle is immers vasberade, vreeslose prinsesse met wie niemand sal mors nie. Hulle beskik oor hul arsenaal slim streke en dodelike danspassies. Jy weet sommer: Jy lol nie met hulle nie. Hulle weet wat hulle doen.

Ek lees dekades al kinderboeke en is altyd weer-en-weer bekoor deur die vindingrykheid van die skrywers en illustreerders van dié genre. Daar is altyd verrassings, ’n gevoel van verwagting en vernuwing. Ook die Sprokieswêreld verstaan die postmoderne wêreld!

Die twee kinderboeke wat pas verskyn het, beveel ek met vrymoedigheid aan:

  • Oorlewingsgids vir ’n prinses deur Federica Magrin, wat deur Cecilia Steyn in vonkel-Afrikaans vertaal is met betowerende illustrasies deur Laura Brenlla, LAPA is die uitgewer.
  • Moenie met ’n prinses mors nie! deur Rachel Valentine in ’n sprankelende vertaling deur Kobus Geldenhuys en verbeeldingryke illustrasies deur Rebecca Bagley, Human & Rousseau is die uitgewer.

***

Amanda Botha is die aanbieder/redakteur van FMR Boekkeuse, ’n program waar kinder- en jeugboeke ’n regmatige deel kry. Dit word elke derde Woensdag van die maand aangebied en kan enige plek in die wêreld gehoor word deur na die internetskakel www.fmr.co.za te gaan.

The post Dalk postmoderne Sprokiesland se voorland: Prinsesse se #wetoo-slagspreuk appeared first on LitNet.

Met die Vierkleur in Parys deur Renée Rautenbach Conradie: ’n resensie

$
0
0

Foto van die Eiffeltoring: Pixabay

Titel: Met die Vierkleur in Parys
Skrywer: Renée Rautenbach Conradie

Uitgewer: Protea Boekhuis, 2020
ISBN: 9781485311355

Met die Vierkleur in Parys speel af teen die eeuwending van 1900. Die Tweede Vryheidsoorlog woed en in Parys is die sentimente oorheersend pro-Boer en anti-Brit.

Paul Roux is ’n jong Afrikaanse argitek wat help met die ontwerp en oprigting van die ZAR se pawiljoen by die Paryse Wêreldskou. Die leser beleef saam met hom die oorweldigende kleure, geure en teksture van die stad van liefde. Hy raak verstrik in absint, en in die nagklubs van guitige Parys raak hy die spoor byster, maar hy het ’n geliefde tuis, ’n Joodse meisie.

Protea Boekhuis se opsomming beskryf die boek: "Vierkleur is boeiende historiese fiksie met hart. Dit dek ’n fassinerende tyd in ons land se geskiedenis. Dis tegelyk liefdesverhaal en historiese roman, met volronde karakters en ’n trefseker gevoel vir lokaliteit.

"Hierdie debuutroman is tien jaar lede as deel van ’n M-graad geskryf en het sedertdien ’n paar draaie geloop."

Die skrywer is al vir jare ’n joernalis en dit verklaar die keurige woordkeuses, maar saam met haar diplomaatman, Leo, het sy in etlike wêreldstede gewoon – onder meer in Marseille en Parys, wat haar nuuskierigheid oor spesifiek die Franse gesindheid in die Anglo-Boereoorlog aangevuur het.

Sy skryf in die erkennings dat sy met twee sienings van die oorlog grootgeword het: een ouma was neusoptrekkerig vir die Voortrekkers en die ander ouma het haar ma in die konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog verloor. Sy sê "hul uiteenlopende stories oor die gemaklike Kolonie en strydige Transvaal het my altoos gefassineer. As diplomaatsvrou het buitestanderskap, om altyd te probeer verduidelik wie jy is, ook deel van my onderbewuste geword."

Daar is verskeie verwysings na hoe ook Paul hierdie buitestanderskap ervaar, meer as ’n eeu voor die skrywer dieselfde ervaar, maar terselftertyd hoe Parys onder jou vel inkruip: "Hy staan verwyderd van sy eie droom"; "Heimlik verlang hy na ’n bekender hemelruim"; "[H]y voel of sy hempkraag nie hoog genoeg, wit genoeg of styf genoeg is nie"; "Ander sterre, ’n ander hemel. Hy kan verstaan dat menses sê ’n mens raak verlief op Parys – soos op ’n ander mens."

Dat die skrywer Parys intiem leer ken het en liefhet, is duidelik uit die klein verwysings en beskrywings regdeur die boek: van ’n mooi art nouveau-ingang na ’n nuwe moltreinstasie, tot die oom by Pont Neuf wat skilder ("sy palet is al dik van jare se kleure op dieselfde plekke"); die baguette met ham, botter en radyse waarvoor die hoofkarakter so lief geword het; die ou krom messlyper met sy gereedskap op die oorkantste straathoek; die oopgesperde metaalkiste van die bouquinistes wat al sedert die 16de eeu op die walle van die Seine boeke verkoop. Ek ruik nou weer die effe muwwe reuk van die ou boeke wat daar in wind en weer uitgestal word en saans weer veilig toegesluit word.

Johan Myburg kies Vierkleur as die boek van die maand op Maroela Media. Hy merk op: "Die gebeure tussen Januarie en November daardie jaar is nie net die agterdoek waarteen Rautenbach Conradie se roman afspeel nie, maar word ook noukeurige borduurstekies waarmee sy tekstuur en konteks gee. Dit is die dikwels terloopse mededelings wat sy gebruik om lig te gooi op kompleksiteite …"

Al hierdie klein "borduurstekies" en "terloopse mededelings" maak Parys vir die skrywer lewend. Elkeen getuig van voete wat die strate platgestap het, wat die reuke ingeadem het, wat die stad aan haar lyf voel. Ek wil ween as ek die kort beskrywing lees oor hoe hy ’n kersie aansteek in die Sacré-Coeur met die verduideliking: "Dit voel tog of daar krag in so ’n vlam en gebed is, en vanaand doen ek dit in die hoop dat die oorlog tussen ons en by die huis sal eindig."

Mens kan nie anders as om te dink in hoeveel kerke en katedrale oor die wêreld heen jy al kersies aangesteek het met die hoop dat die "oorlog by die huis" kan einde kry nie. Ek sal nooit my eerste kersie op 11 April 1993 in die La Collégiale in Neuchatel, Switserland, vergeet die dag na die nuus bekend geword het dat Chris Hani vermoor is nie. Ons was jong verliefdes wat deur Europa geryloop het, en die koerantvoorblaaie in ’n klein kafeetjie het my na ’n telefoonhokkie laat haas om my ouers tuis te bel. Toe my pa sê die land is aan die brand in opstand teen Hani se dood en dat ons op die vooraand van burgeroorlog staan, het ek die stilte van ’n kerk gaan opsoek om my onderstebo gedagtes tot stilte te probeer dwing.

Die boek is histories getrou, maar bly boeiende fiksie. Ek het egter tussen die 244 bladsye meer oor die Anglo-Boereoorlog en die sentiment oor Paul Kruger en die Boere in Frankryk geleer as ooit tevore.

Ek het ’n maand of wat gelede Maggie: My lewe in die kamp vir hierdie webwerf geresenseer. Dis die hartroerende vertellinge van ’n jong meisie se ervaring in die konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog. Die kort brokkies wat Paul in Parys bereik oor hoe vroue en kinders na kampe weggevoer word, het Maggie se storie nog meer lewe laat kry.

Daarin het ek ook verwys na ons besoek aan die konsentrasiekampe in Pole, waar onmenslikhede 75 jaar gelede ten einde geloop het, maar ook na hoe die wêreld vir jare toegekyk het, sonder ingryping. Die skrywer se woorde oor die vredeskonferensie waar die wêreldmoondhede ooreengekom het om nie in die Anglo-Boereoorlog in te meng nie, het weer bewys dat ons nie uit die verlede leer nie. Dat die wêreld steeds toekyk hoe onmenslikhede elders in die wêreld gebeur.

Paul dink terug hoe sy ma so dikwels gevra het "hoekom mans immer iets van iemand anders moet oorneem of wegneem of verplig voel om te oorwin. Hy wonder nou self. Die dwang tot kant kies vat nou aan sy binneste." Woorde wat in 1900 waar was en in 2020 nog net so sterk staan.

Die kort dialoog in die Boerehuisie tussen hom en Paul Kruger wat later in bannelingskap in Europa sterf, laat my voel asof ek daar was. Die Boerehuisie was die mees besoekte punt van die hele wêreldskou en dis daar waar Paul Kruger aan Paul sê dat hy daar in die klein eenvoudige huisie tuisvoel. Waar hy vir oulaas aan ’n riempiesbank se leuning vasklou teen die pyn wat sy lyf verteer en hy sy moegheid vir ’n wyle stut.

Hierdie boek het my op soveel vlakke geraak. Ek weet nie of dit heimwee is na die dae toe ons vreesloos kon reis en baguettes op die trappies van die Sacré-Coeur kon eet en soos Paul voel of jou "lyf tot stilstand geruk word deur die gesig van die stad aan sy voete"; of toe ons in die Notre Dame kon gaan stil word waar "die somber, muwwe reuk van eeue se kersrook" jou tref as jy die "massiewe gewelf van die katedraal instap" nie. Hoe dit ook al sy, ek sal hierdie boek weer en weer wil lees – daar is soveel inligting oor die oorlog vervat, maar ook soveel verwysings na die dae toe Parys die argitektoniese middelpunt van die wêreld was en soveel van daardie ontwerpe oorgespoel het na Suid-Afrika.

Ek salueer Rautenbach Conradie vir hierdie boek. Nie net vang sy die Parys waarvoor ek ook so lief is, besonder vas nie; sy bied ’n ander kykie na die Anglo Boere-oorlog, en sy vermaak met ’n liefdesverhaal in tye toe dinge soveel anders was as vandag. Haar histories getroue roman is egter nooit vervelig of herinner aan ’n naslaanwerk nie.

Ek hoop voorwaar die volgende boek uit haar pen moet nie ook vir ’n dekade draaie loop voor ons weer iets van haar kan lees nie.

The post <em>Met die Vierkleur in Parys</em> deur Renée Rautenbach Conradie: ’n resensie appeared first on LitNet.

Donkerdrif deur Deon Meyer: ’n boekresensie

$
0
0

Donkerdrif
Deon Meyer

Tafelberg
ISBN: 9780798181662

Die ooreenkomste tussen Markus Jooste wat Suid-Afrikaanse beleggers in Steinhoff R200 miljard gekos het en Jasper Boonstra, die hoofboef van Donkerdrif, is ooglopend.

Boonop land die koerant met die nuus dat Jooste gestraf word met R122 miljoen vir binnehandel in dieselfde week op my lessenaar as Deon Meyer se nuutste boek.

Dit raak ’n byna onmoontlike taak om feit en fiksie te skei, hoewel die skrywer en uitgewer waarskynlik enige ooreenkomste sal ontken. Die waarheid is egter vreemder as fiksie in hierdie geval vir diegene wat die grootste bedrogsaak in die land se private sektor die afgelope drie jaar met valkoë dophou.

Boonstra – of is dit nou Jooste? – het onder meer ’n landgoed buite Stellenbosch, ’n huis op Hermanus, en ’n skelmpie in Franschhoek; daar is duur motors ter sprake en verskeie stories oor die flambojante sakeman wat oënskynlik met sy lewe aangaan asof niks gebeur het nie.

Boonop kom die nuus in dieselfde week dat Christiaan Prinsloo, ’n voormalige kolonel in die polisie wat wapens vir die Vlakte-bendes gesmokkel het, uit die tronk vrygelaat is. Diegene wat glo die hoofkarakter in Meyer se boek is op hom geskoei, wen ’n Datsun.

Meyer verstrengel fiksie en feite tot die einde in ’n boeiende tango wat die leser vasgenael hou.

Die donker drif van gierigheid is die leitmotief wat deur die boek loop en die goue draad verskaf wat die storielyn bind.

Waarvan praat ons?

Daar is die bekende Polisie-Valke Bennie Griessel en sy kollega Vaughn Cupido wat geskors word en onverklaarbaar na Stellenbosch gepos word as straf wanneer ’n misdaadoperasie skeefloop.

Daar kry hulle die saak van die verdwene Callie de Bruin, ’n briljante student wat ’n verslawende belangstelling in rekenaars het, wat onverklaarbaar verdwyn en net ’n geldspoor los om gevolg te word. Hulle moet die digitale spoor vat van die maer, bleek nerd met die roofvoëlneus wat agter sy peperduur rekenaar in El Solo Lobo ontaard en met The Rolster knoei, duisende belê maar steeds sy arme ma se sakgeld elke maand bank. Wat nou gemaak as die spoor wat hulle volg, in die polisie se rekenaars in verdwyn …

Dan is daar die pragtige, sensuele eiendomsagent Sandra Steenberg wat kniediep in die skuld is en ’n reddingsboei kry wanneer die swendelaar Boonstra haar met die oog uitsoek om sy eiendom Donkerdrif te verkoop sonder dat die kopers weet hy is die verkoper, terwyl sy ook die attensies van haar slymerige baas Charlie moet afweer en telkens aan haar eie pa se verlede herinner word.

En daar is ’n moorde soos ’n mens van ’n goeie misdaadstorie verwag. Die een van ’n polisieman wat lont in eie geledere ruik en dan die ander een wat ook in ’n stewige sekstoneel kon ontaard het.

Meng dit met ’n korrupte polisieman wat spore doodvee en sorg dat wapens verdwyn (Prinsloo?) en die resep is daar vir ’n naelbyter om jou tot laat in die nag uit die slaap te hou.

Vir my het ’n goeie misdaadroman twee belangrike elemente. Eerstens is daar die storie wat geloofwaardig moet wees en jou moet bly boei. In die tweede plek is daar die karakters wat lewend moet wees en natuurlik ook geloofwaardig.

Hierin slaag Meyer die toets en word al die lyne van die verskillende intriges netjies bymekaar getrek en die spanningsdraad styf gespan. Hy gaan byna te werk soos ’n kok met ’n beproefde resep wat die gereg doelgerig stuur en later net hier en daar ’n tikkie sout of peper byvoeg vir die fynproewer.

Tog kan ’n mens sê dit raak ’n bietjie ’n geval van eenrigtingverkeer in ’n tweerigtingstraat. Daar is ’n simbiotiese verhouding tussen ’n boef en ’n speurder in ’n boek. ’n Boekspeurder sukkel sonder ’n onheilspellende boef wat die spanningsvlakke kan bou en die reuk van gevaar in die lug kan laat hang. Hier is die boewe maar mak teen dié wat in die koerant beland.

Tweedens is daar die karakters. Verbeel ek my of het Griessel en Cupido sag geword? Griessel se drankspook het nou ’n gemoedelike Casper geword en die lang gesprekke oor Cupido se gewig en burgers herinner aan twee huisvroue eerder as geharde Valke. Miskien verloor ou bekendes later hulle grinterigheid, of miskien is die twee besig om soos rivierklippe rond te word.

Nietemin sal dit nie aanhangers steur nie, maar vir diegene wat hou van hulle karakters met littekens sal dit hinder dat hulle al meer soos gladde TV-aanbieders sonder plooie begin lyk.

Nogtans lees die boek lekker. Daar is dele wat jy nie kan wag om om te blaai nie en ander waar jy wens die mes was ’n bietjie ingelê.

Die grootste irritasie met taal is die worswoorde soos “Provinsiale Misdaadtoneel-ondersoekeenheid” (121).  So die eenheid ondersoek die toneel en nie die misdaad nie? ’n Aanvalsgeweer (123) het seker meer plofkrag as ’n verdedigingsgeweer, maar waarom iemand deur ’n enkeldeurpoort (140) by die polisiekantoor moet ingaan, gaan die verstand te bowe. Daar is nog vele, soos “tweeverdiepingkompleks” (141), “staatsdiensverskafte houttafels” (143), en die bank se verhoudingsbestuurder (154) wat gelukkig ook vir Sandra irriteer. Dit is egter vlieë wat ander dalk nie sal pla nie.

Daar is die vermoede dat die boek maklik aangepas kan word om die draaiboek vir ’n rolprent te word, en miskien is dit juis met die oog daarop geskryf. Niks fout daarmee nie, solank Meyer onthou ’n boek is ’n boek en ’n rolprent is ’n rolprent. Dat die man die vermoë het om tonele in die boek byna filmies voor jou te laat afspeel, is ’n gawe. Veral die openingstoneel is besonder kragtig en waarskynlik soos dit in die werklikheid gebeur waar skote nie altyd in die bedoelde rigting gaan en die goeie ouens nie noodwendig maklik oorwin nie.

Die boek eindig met wat ’n mens vermoed die begin van die volgende riller gaan wees. Waarskynlik sal Griessel dan doodnugter wees en Cupido so maer soos ’n kraai.

The post <em>Donkerdrif</em> deur Deon Meyer: ’n boekresensie appeared first on LitNet.

Viewing all 1806 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>