Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all 1801 articles
Browse latest View live

Lesersindruk: Die Wonderwese deur Carina Stander

$
0
0

Titel: Die Wonderwese
Skrywer: Carina Stander

Uitgewer: Protea
ISBN: 9781485310136

Net buite die hek van Kleinkaap Boetiekhotel, waar die bekendstelling vir Die Wonderwese laas week gehou is, staan ʼn skewe lamppaal vol koerantopskrifte – meestal slegte nuus – en minder as vyfhonderd meter verder kruip die besoedelde Hennopsspruit moeg voort. Maar binne die hoë klipmure was daar daardie aand feetjieliggies, wyn vir jolige gaste in kostuums en maskers, en sjefgeskepte smulhappies. Laasgenoemde is geïnspireer deur kos wat die skrywer in haar boeke vir lesers voorsit, met dieselfde sorg waarmee sy alles, van die geografie van die mitologiese Gabriëllië tot die diepste geheime van haar karakters, skep.

Watter plek het fantasie in ʼn tyd waarin dit voel asof ons wêreld tot stilstand knars? Is dit bloot ontsnapping, ʼn literêre kostuumpartytjie; die lees daarvan ʼn tussenspel voor die volgende verpletterende nuusberig?

“Hoe dapper moet jy regtig wees om sagmoedig te bly in hierdie wrede wêreld? Mens moet rêrig baie dapper wees, om jou eie sagte hart te bewaar” (Carina Stander in gesprek met Matthys Boshoff by die bekendstellingsfunksie).

Die Bergengel-trilogie is baie meer as fantasie. Dit is allegorie, besinning, kommentaar en prosa, en in die eerste plek ʼn goeie storie.

Na die redelik skokkende slot van die eerste boek, speel die verhaal verder af sonder om ʼn tree te mis. Eron Verberger moet sy verlies verwerk voordat hy sy reis voortsit om die res van die agt geseëndes te vind – hulle wat hom moet help op sy pad na hereniging met sy pa, Gibor, waar dié in ʼn verre land ʼn plek van veiligheid vir vlugtendes probeer skep. Dis ʼn onvoorspelbare, lewensgevaarlike reis deur ʼn landskap verskroei deur die gierigheid van walvisoliemagnate en die boosheid van Eron en Gibor se aartsvyand Velvel Azazel, die oëverblinder.

Om die leser te help om die storielyn (weer of vir die eerste keer) op te tel, word daar slim en binne konteks teruggeflits na Eron en sy reisgenoot Talia se agtergrondstories, en die aard van die Rewolusie word weer kortliks beskryf. Hierna kry Die Wonderwese as vertelling sy eie momentum en neem vars wendings. Met die vind van elke geseënde verdiep Eron se karakter as Bergengel-in-wording, soekend na die ontwykende Wonderwese – ʼn mistieke teenwoordigheid in die gedaante van ʼn klein voëltjie wat volgens oorlewering slegs twee of drie keer tydens ʼn Bergengel se bewind van 20 jaar verskyn.

Dit is heeltemal moontlik om die verhaal te geniet sonder vermoede van of insig in relevante intertekste, soos Dante se Heilige Komedie of (baie sentraal ten opsigte van die agt geseëndes) die Bergpredikasie uit Matteus 5. Dit is egter baie bevredigend wanneer hierdie tekste, wat die skrywer met genotvolle vaardigheid in die struktuur van die verhaal gebruik, herken word.

In dié verband was dit vir hierdie leser reeds in Die Bergengel duidelik dat sekere dele (veral tydens Eron se tyd saam met sy oom, die wyse kluisenaar Ruach) doelbewus geskryf is om te klink soos die Ou Testamentiese profeteboeke. Vir die haastige leser mag dit effens uitputtend wees, maar binne konteks is dit in die kol.

Die skrywer put mildelik uit die apokrief Die Boek van Henog, ʼn antieke Hebreeuse geskrif wat verwys na reuse en demone, en uit Leo Tolstoy se The Kingdom of God is within you. Deur te verduidelik hoe hierdie tekste die trilogie beïnvloed, het sy die gaste wat by die bekendstelling was laat deel in die “binnepret” wat sy tydens die skeppingsproses hiermee gehad het; agtergrondkennis wat beslis bydra tot waardering van die boek, en die moeite werd is om te ondersoek.

Let wel: Eron se verhaal is boeiend en meesleurend. Wat ek in die volgende paar paragrawe gaan probeer uitpluis, is dus heeltemal subjektief.

Die Wonderwese lees vir my vloeiender as Die Bergengel, dalk omdat ek as leser saam met die karakters en dalk selfs die skrywer algaande meer reisfiks raak in die landskap van Gabriëllië, en al meer gewoond aan die verteltrant.

Feitlik alle fantasiefiksie word in die verlede tyd aangebied. Nou, vir my is dit iets van ʼn verleentheid om te erken dat ek telkens met die lees van beide boeke te bewus daarvan geraak het. Wat anders sou ek dan verwag? Ek lees my lewe lank Tolkien, Narnia, Ursula K Le Guin, Arthur C Clarke – alles in past tense geskryf. Ek het al Terry Pratchett se boeke, en onlangs het my dogter so tussen swottings en etenstye deur die oudioboeke van George RR Martin se oorspronklike epog geluister, en ek het my onwillekeurig met tye laat meesleur. Nog nooit het dit my bewustelik gepla wanneer ʼn storie terugskouend vertel word nie.

Dalk het dit my net getref omdat hierdie die eerste keer is dat ek epiese fantasie in my moedertaal lees. Miskien omdat die ritme van verledetydvertellings anders op die oor val in Afrikaans as in Engels, dikteer dit ʼn effens moeitevoller pas om vol te hou, selfs al is dit subtiel, en onbewustelik? Laat die gebruik van die verlede tyd die verhaal selfs meer epies klink as wat dit sou as dit in die teenwoordige tyd geskryf was? Of vertraag dit dalk die tempo? Struikel ʼn leser dalk baie effens om tred te hou met die lompheid van “het” en “ge-” terwyl die verhaal met dringendheid en onmiddellikheid voor hom afspeel?

Die verskil tussen ons Afrikaanse aanwending van die verlede tyd, en die meer elegante (moet my nie stenig nie) Engelse werkwoordverbuigings wat past tense nie veel anders in ritme laat vloei as present tense nie, is iets waaroor ek graag ander se menings sou wou hoor.

Ek gaan juig die dag wanneer die Bergengel-trilogie vertaal word. Ja, al is die derde boek nog nie eers geskryf nie, sien ek reeds uit na die vertaling. Nie omdat ek sou verkies om dit eerder in iets anders as Afrikaans te lees nie – inteendeel! Maar hierdie fenomenale werk verdien dit; verdien blootstelling aan lesers wat wêreldwyd goeie fiksie in hierdie genre verslind.

Daar is deur resensente uitgewys dat ons hier iets het wat nog nooit tevore in Afrikaans aangepak is nie. Die briljantheid waarmee landskappe, dialekte, persone, etniese groepe, legendes en soveel ander fyn geweefde detail uitgewerk is terwyl daar terselfdertyd onder dié tapisserie met onderstrominge van maatskaplike en etiese dilemmas gewerk word, is indrukwekkend. Enige iemand wat in haar (en Eron se) voetspore sal wil volg, sal Carina Stander se verbeelding, haar dapperheid, maar ook haar sagtheid, moeilik ewenaar.

The post Lesersindruk: <em>Die Wonderwese</em> deur Carina Stander appeared first on LitNet.


Lesersindruk:  Robey Leibbrandt. ’n Lewe van fanatisme deur Albert Blake

$
0
0

Titel: Robey Leibbrandt. 'n Lewe van fanatisme
Skrywer: Albert Blake
Uitgewer: Jonanthan Ball

ISBN: 9781868429790

Albert Blake moet gelukgewens word met sy uitstekende boek oor Robey Leibbrandt wat onlangs op die winkelrakke verskyn het, veral omdat die inhoud gerugsteun word deur 'n uitgebreide bibliografie, insluitende 'n reeks primêre en argivale bronne, hofverslae, koerant- en tydskrifartikels sowel as elektroniese bronne. Die bronverwysings in die vorm van voetnotas vir die 22 hoofstukke, insluitende die nawoord, beslaan 24 bladsye, wat dit moontlik maak vir enige kritiese leser om die rapportering in die teks te kontroleer.

Die skryfstyl is gemaklik en ongekompliseerd en die wyse waarop die teks aangebied word, het my aandag deurgaans baie effektief geboei.

'n Kliniese gevallestudie

Alhoewel verskillende perspektiewe oor Leibbrandt se motivering vir sy gedrag en optrede beslis bestaan, gebruik Blake heeltemal tereg die begrip fanatisme as 'n teoretiese vertrekpunt om Leibbrandt se eienaardige gedragspatrone te verklaar. Die skrywer hanteer die biografiese geskiedenis van hierdie Suid-Afrikaanse vryheidsvegter uit die jare dertig en veertig van die vorige eeu baie professioneel en bykans soos 'n kliniese gevallestudie. Die beskikbare inligting oor Leibbrandt se ontwikkeling in die volle konteks van sy jeugjare, internasionale studentejare, werksomgewings, blootstelling aan die ideologie van nasionaal-sosialisme, sy rol in Suid-Afrika gedurende die oorlogsjare, asook sy lewe na sy vrylating uit die tronk word volledig bespreek.

Psigotiese versteurings

Die meeste lesers sal saamstem dat Leibbrandt se gedrag by tye die grense van “normailteit” getoets het. Dit help egter eintlik nie veel om Leibbrandt as kranksinnig (Nasson 2019:12, derde paragraaf) of 'n “lunatic” (Lewald in Blake 2019:257) te beskryf nie. Dit kom op onregverdige diagnostiese etikettering neer. Volgens Blake is Leibbrandt by verskillende geleenthede wel psigiatries geassesseer (204, 207 en 217), maar hy is nooit in 'n psigiatriese hospitaal opgeneem vir direkte waarneming, psigometriese assessering en psigoterapeutiese behandeling nie. Geen formele diagnose is ooit beskikbaar gestel nie. Kranksinnigheid is ook 'n sambreelterm wat sinoniem met psigotiese versteuring is en waardeur die fyn onderskeiding tussen die onderliggende simptomatologie van 'n komplekse siektebeeld bloot geïgnoreer word. Binne die kategorie psigotiese versteurings word verskeie sindrome opgeneem (byvoorbeeld skisofrenie) in verskillende erkende psigopatologiese klassifikasiestelsels, soos die DSM (American Psychiatric Association Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders) en die ICD (International Statistical Classification of Diseases and Related Health Problems). Na presies watter sindroom word dus verwys wanneer van kranksinnigheid gepraat word? Sover my kennis strek, is die regsbeginsel van ontoerekeningsvatbaarheid op grond van geestesiekte nie tydens Leibbrandt se hoogverraadverhoor aangevoer nie.

Fanatisme

Fanatisme kan as 'n persoonlikheidstrek of -eienskap beskou word. Persoonlikheidseienskappe vorm normaalweg 'n komplekse en dinamiese sisteem en lê aan die basis van die unieke psigofisiologiese integrasie van die menslike persoonlikheid. Fanatisme verwys na oormatige onverdraagsaamheid teenoor opponerende idees, 'n ekstreme mate van toewyding aan, of onredelike ondersteuning vir, iets (byvoorbeeld 'n saak, persoon of ideologie), wat met 'n disrespek vir sosiale norme gepaardgaan. Leibbrandt was byvoorbeeld 'n obsessiewe volgeling van Adolf Hitler, Rudolph Karlowa en die ideologie van nasionaal-sosialisme, terwyl hy die idees van Jan Smuts, die Suid-Afrikaanse regering, Hans van Rensburg en die Ossewabrandwag uitermate sterk (fanaties) geopponeer het.

Die intensiteit van fanatisme kan op 'n deurlopende skaal van laag na gematig tot ekstreem beoordeel word. Graadverskille in die konstruk fanatisme moet dus deurgaans in ag geneem word.

Ekstremisme: enkele teoretiese perspektiewe

Leibbrandt se gedragspatrone sou ook teoreties gesproke deur die lens van ekstremisme beskou kon word. Verskillende perspektiewe lei normaalweg tot 'n beter begrip van en insig in menslike motivering en gedrag as een enkele perspektief (Ginges, Altran, Sachdeva en Medin 2011). 

Ekstremisme is 'n toestand of ingesteldheid wat met verloop van tyd ontwikkel (Kruglanski, Gelfand, Bélanger, Sheveland, Hietiarachchi en Gunaratna 2014). Die ontwikkeling daarvan vereis die aanwesigheid van drie kernbestanddele: (a) aktivering van 'n betekenisvolle doelwit; (b) die identifisering van geweld as die enigste wyse om die bepaalde doel te bereik; (c) 'n verskuiwing na 'n morele verbintenis en toewyding aan die gekose betekenisvolle doelwit. Hierdie proses kom neer op 'n morele besluit tot doeldominansie met die gevolglike devaluering van enige alternatiewe doelwit.

Billig (1982:107) verwys na die psigoanalitiese teorie van Adorno waarin aangetoon word dat die ekstremistiese en outoritêre persoon oor 'n swak-ontwikkelde ego beskik. Die swak ego is nie in staat om behoorlik te bemiddel tussen die superego en kragte van die id nie. Fragmentasie van die ego kan gevolglik voorkom word slegs deur 'n streng en onderdrukkende superego. Op hierdie wyse word die superego die voorspraak vir die id. Hierdie dinamika presenteer in die outoritêre en fascistiese persoonlikhede as oorheersing (domination) van of onteiening (expropriation) deur die superego. Dié siening sluit aan by Kruglanski ea (2014) se konsep van morele besluitneming wat tot doeldominansie lei.

Orwell (1984:4) beweer dat ekstreme nasionalisme op magsbeheptheid (power hunger) neerkom wat deur selfmisleiding getemper word. Daar is ook 'n obsessionele fokus op die superioriteit van die gekose magseenheid (in Leibbrandt se geval was die gekose magseenheid die Afrikanervolk). Die handhawing van dubbele standaarde teenoor realiteit is 'n verdere eienskap van ekstremisme. Hiervolgens kan 'n handeling óf goed óf sleg wees en word dit geensins op meriete beoordeel nie, afhangende van wie die handeling uitvoer. (Bomplantery, motor- en plofstofdiefstal en fisieke aanrandings wat deur die nasionaal-sosialistiese rebelle uitgevoer is, is deur hulself as aanvaarbaar beskou.)

Schmidt, Joffé en Davar (2005) skep die term onpersoonlike self in hul navorsing oor die sielkundige gevolge van staatsbeheer. Wanneer die individu voortdurend blootgestel word aan die druk om tot ‘n sosiale en politieke ideaal te konformeer, dan word die druk geïnternaliseer tot ‘n onpersoonlike self wat ‘n sielkundige plaasvervanger is vir die andersins outonome individuele persoonlikheid. Hierdie modifikasie van die persoonlikheid hou spesifieke gevolge in. Dit werk kontraproduktief in op die natuurlike geneigdheid van die individu om sosiale druk tot konformering teen te staan; dit vernietig inisiatief en vertroue; dit inhibeer spontaniteit.

Dit lyk egter of daar in Leibbrandt se geval juis ‘n teenoorgestelde reaksie plaasgevind het. Soos wat die druk van staatsbeheer toegeneem het deur die besluit oor deelname van die Suid-Afrikaanse regering aan die Tweede Wêreldoorlog toe te pas, het Leibbrandt se opstand teen konformering juis toegeneem. Sy inisiatief en selfvertoue en spontaniteit, uitgesprokenheid, aggressie en gebrek aan impulsbeheer het beslis ook toegeneem. Die teorie van die “onpersoonlike self” verklaar dus nie Leibbrandt se gedragpatrone voldoende nie.

Dit is natuurlik heeltemal onvoldoende om slegs enkele verwysings te verskaf oor 'n komplekse navorsingsterrein soos die verband tussen persoonlikheidsfunksionering en ekstremisme en daaroor gevolgtrekkings te maak. Vir die doeleindes van hierdie kort artikel dien dié poging meer as 'n prikkel tot verdere leeswerk as enigiets anders.

Samevattende gevolgtrekking

Robey Leibbrandt se komplekse persoonlikheidsdinamika is moeilik ten volle verklaarbaar met die gegewens wat aan die leser beskikbaar gestel word. Die beste pogings kom steeds op blote spekulasie neer. In die teks verwys Blake volledigheidshalwe na Leibbrandt se boksloopbaan en moontlike breintrauma wat daarmee geassosieer kan word. Die vraag oor die rol van genetika as 'n faktor in persoonlikheidsfunksionering word ook gestel. Hierdie is kernbelangrike kwessies. Persoonlikheidseienskappe soos ektraversie, openheid, neurotisme en instemmigheid word in sommige kringe as interne disposisies beskou wat 'n betekenisvolle invloed op menslike gedrag uitoefen (Hahn, Spinath, Siedler, Wagner, Schupp en Kandler 2012). Daar is ook fisiologiese faktore wat 'n rol in persoonlikheidsversteurings kan speel, soos hormoonaktiwiteit, monoamienoksidase en neurotransmitters soos endorfien (Sadock en Sadock 2003).

In die teks word ook na positiewe eienskappe van Leibbrandt verwys, soos sy veerkragtigheid en geneigdheid om terug te bons, onder andere wat sy latere werksloopbaan betref. Die gemeenskap van Springbok het ook baie lof gehad vir sy mededeelsaamheid.

Die perspektiewe in die boek is 'n interessante en deeglik-nagevorste poging om die leser verdere insigte in die enigmatiese persoonlikheid van Robey Leibbrandt te gee.

By terugskouing blyk dit duidelik dat Leibbrandt hom nie maklik laat “vasvat” nie, hetsy fisiek (letterlik) of psigies (figuurlik).

Bibliografie

Billig, M. 1982. Ideology and social psychology. Extremism, moderation and contradiction. Oxford: Basil Blackwell.

Blake, A. 2019. Robey Leibbrandt. ‘n Lewe van fanatisme. Johannesburg: Jonathan Ball.

Ginges, J, S Altran, S Sachdeva en D Medin. 2011. Psychology out of the laboratory. The challenge of violent extremism. American Psychologist, 66(6):507–19.

Hahn, E, FM Spinath, T Siedler, GG Wagner, J Schupp en C Kandler. 2012. The complexity of personality: advantages of a genetically sensitive multi-group design. Behavioral Genetics, 42:221–33.

Kruglanski, AW, MJ Gelfand, JJ Bélanger, A Sheveland, M Hietiarachchi en R Gunaratna. 2014. The psychology of radicalization and deradicalization: How significance quest impacts violent extremism. Advances in Political Psychology, 35:69-93.

Nasson, B. 2019. Spiere, vuiste en bomme. Boeke, Rapport Weekliks, 13 Oktober, bl 12.

Orwell, G. 2018. Notes on nationalism. Londen: Penguin Random House.

Sadock, BJ en VA Sadock. 2003. Synopsis of psychiatry. 9de uitgawe. Philadelphia: Lippencott, Williams en Wilkins.

Schmidt, C, G Joffé en E Davar. 2005. The psychology of political extremism. Cambridge Review of International Affairs, 18(1):151–71.

The post Lesersindruk:  <em>Robey Leibbrandt. ’n Lewe van fanatisme</em> deur Albert Blake appeared first on LitNet.

LitNet Akademies-resensie-essay: Hond se gedagte deur Kerneels Breytenbach

$
0
0

Titel: Hond se gedagte
Skrywer: Kerneels Breytenbach
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798179294

“Daar is inderdaad in rugby die soort musiek en poësie wat ek later jare in ’n goeie corrida in Spanje leer waardeer het: ofskoon die towerkuns van ’n werklik goeie vertoning hoofsaaklik bepaal word deur die feit dat dit so seldsaam is, is dit net so waar dat ’n werklik goeie rugbywedstryd beoordeel moet word teen die agtergrond van tallose miserabele en dikwels morsige mislukkings. Miskien is dit juis dít wat ’n mens so aangryp omtrent Springbokrugby, wat maar alte dikwels op mislukte kragvertonings uitloop, met die gevolg dat die rare volmaakte juwele skitter met ’n glans wat mens maar selde elders teëkom.”
(André P Brink in ’n Vurk in die pad – ’n memoir, 2009:76)

 

1. Inleidend

Kerneels Breytenbach (Foto: verskaf)

Die pas afgelope Wêreldrugbybekertoernooi in Japan het menige Suid-Afrikaanse rugbyliefhebber groot vreugde besorg toe die Springbokspan op 2 November 2019 die Engelse Rose met ’n eindtelling van 32–12 verslaan het en sodoende die gesogte Webb Ellis-trofee vir die derde keer verower het. Springboktruie is om elke hoek en draai gewaar en op Facebook en ander sosialemediaplatforms het Suid-Afrikaners die Groen-en-goud se sege met trots uitgebasuin. Grapjasse het humoristiese foto’s sowel as sarkastiese opmerkings onder mekaar gedeel en sommige ondersteuners het selfs so ver gegaan om te verklaar (soortgelyk aan die opmerking in Breytenbach se roman) dat hulle “wil wraak neem vir al die mense, swart en wit, wat aan die hand van die Kakies gesneuwel het in die tweede Anglo-Boereoorlog” (Breytenbach, 2019:203). ’n Enerse euforie het in gemeenskappe regoor Suid-Afrika geheers as tydens die Springbokspan se sege oor Nieu-Seeland in die 1995-Wêreldbekereindtoernooi. Vir ’n paar uur het Suid-Afrikaners vergeet van kredietafgraderings, beurtkrag, kommissies van ondersoek na staatskaping en politieke kaskenades. ’n Gevoel van samehorigheid en nasietrots het geheers. 

Intussen het Kerneels Breytenbach se jongste roman, Hond se gedagte, midde dié internasionale rugbyskouspel verskyn. Breytenbach is veral bekend as skrywer, resensent en ouduitgewer. Sy oeuvre tot op hede sluit in Morsdood van die honger (1992), Glimlag (1993), Piekniek by Hangklip (2011) en Ester (2014). Om Hond se gedagte tydens (en na afloop) van die Wêreldbekerskouspel te kon lees, kan bloot beskryf word as ’n rit op die skouspelagtige rugbytuimeltrein wat Erns Grundling se reisboek Sushi en Shosholoza – Rugbyreise en pelgrimstogte in Japan (en die gepaardgaande televisiereeks wat hoofsaaklik op rugby en die Wêreldrugbybekertoernooi fokus) na ’n kinderpartytjie laat lyk. Breytenbach moker die skandes en sakrale tradisies wat agter die rugbyfenomeen skuil met ’n spreekwoordelike lugdrukboor oop – vergeet maar van die beiteltjie. 

 

2. Rugby en Afrikaanse letterkunde

In sy artikel “Tendense in populêre werke oor Suid-Afrikaanse rugby, 1948–1995: ’n historiografiese studie” wys Wouter de Wet (2016:113) daarop dat “die hervatting van internasionale rugby na die Tweede Wêreldoorlog nuwe belangstelling onder rugbyondersteuners wêreldwyd gekweek [het en] tientalle populêre rugbyboeke in die daaropvolgende jare in Suid-Afrika verskyn [het]”. Hierdie boeke was hoofsaaklik niefiksie en dit is gevolglik opvallend dat daar betreklik min Afrikaanse fiksieboeke met rugby as tema verskyn het indien veral Afrikaanssprekende lesers se liefde vir die spel in ag geneem word.

Die nasionale Springbok-embleem

Verskeie prominente Afrikaanse skrywers en digters was immers self rugbyspelers of het ’n besondere belangstelling in die sport getoon. Die digter-skrywer Uys Krige was ’n kranige rugbyspeler en het in 1932 tydens sy verblyf in Frankryk vir Toulon se tweede span uitgedraf (Kannemeyer 2002:137). In sy reisskets “Rugby in Frankryk” wat in Sout van die aarde (1961) opgeneem is, beskryf Krige op elegiese wyse die Franse se passie vir rugby sowel as sy eie ervarings as speler. Alhoewel André P Brink ’n voorliefde vir tennis gekoester het, was hy ’n toegewyde rugby-ondersteuner. In sy outobiografie ’n Vurk in die pad (2009) skryf Brink waar sy liefde vir die spel begin het en op welke wyse dit sy lewe beïnvloed het – ook (heel ironies!) sy liefdeslewe: “Maar rugby het ook opgeduik in die kosbaarste dimensie van my persoonlike lewe. Teen die end van 2004 het ek Karina [Szczurek] in Salzburg ontmoet. Kort daarna was dit rugby wat die seël op ons verhouding geplaas het” (2009:78).

Uys Krige en André Brink was kranige rugby-ondersteuners (Foto's: verskaf)

Slegs enkele Afrikaanse romans en gedigte waarin rugby prominent as tema figureer, het tot op hede verskyn, waarvan die oorgrote meerderheid jeugromans is. Van die bekendste jeugtekste sluit in ID du Plessis se Springbok-reeks bestaande uit Die Springbok (1932), Die silwervaring (1933), Die rugbykroon (1934) en Rugby in Rio (1941), Kobus Maree se Proefwedstryd vir Wikus (1993) en Fanie Viljoen se Monsterrugby (2016). John Miles se Blaaskans (1983) fokus op die lewe van ’n onderwyser en rugbyheld Flip Nel wat by ’n gevaarlike politieke spel betrokke raak. Miles se hoofkarakter sinspeel op die befaamde Springbokrugbykaptein Philip Jacobus “Flip” Nel wat tydens sy rugbyloopbaan 46 wedstryde vir die Springbokspan gespeel het. In Hond se gedagte is die Springbokkaptein ironies genaamd Katstert Nel – ’n intertekstuele verwysing na dié legende. Tydens ’n onderhoud met Fleur de Villiers merk Katstert Nel terloops op: “Maar jy moet miskien John Miles se Blaaskans gaan lees, as jy die volle prentjie wil kry.” Die liefde vir rugby word dus van een generasie na ’n ander oorgedra.  

In 1994 debuteer Braam van der Vyver met die satiriese rugbyroman Stywe arm waarin hy onder meer oor korrupsie binne rugbykringe spekuleer. Meer onlangse romans sluit in Louis de Villiers se omstrede Kaapstad Karma-polisie ontmoet die Bokke (2012) en FJ Labuschagne se Beseringstyd (2014) waarin rugby en godsdiens as temas sterk figureer. Breytenbach se roman sluit tematies sterk by Labuschagne aan in terme van rugby en godsdiens as temas en lewer gevolglik ’n belangrike bydrae tot die enkele rugbyromans wat tot dusver in Afrikaans verskyn het.

Afrikaanse romans met rugby as sentrale tema

Wat die Afrikaanse poësie betref, is rugby een van die temas wat nog ontgin moet word. Enkele gedigte, soos Jeanne Goosen se “die dag op nuweland” uit haar bundel ’n Uil vlieg weg (1971), betrek rugby as tema en is veral relevant tot dié bespreking aangesien die gedig as satire tematies aansluit by Breytenbach se roman. In ’n onderhoud met Louis Esterhuizen op Versindaba merk Marlene van Niekerk tong-in-die-kies op dat “[d]ie groot ‘rugbybundel’ (ahem) nog geskryf [moet] word” (2016).

3. Hond se gedagte

Die romantitel verwys na die Afrikaanse idioom “om hond se gedagte te kry”. Volgens De Wet (2011:188) dui die idioom daarop dat ’n persoon agterdogtig raak wanneer hy/sy “hond se gedagte” kry. Reeds met die intrapslag dui die titel op die misterieuse gebeure agter die skerms. Die roman speel af oor ’n tydperk van twee weke voor die Wêreldrugbybekereindstryd in 2025.  Ses jaar in die toekoms in word Facebook stelselmatig deur ’n nuwe mediaplatform genaamd SocialEyes uitgeskouer en ’n koning staan aan hoof van die Britse koningshuis. Sportkwotas is iets van die verlede en rugby is steeds Suid-Afrika se spreekwoordelike (en in die roman se geval letterlike) godsdiens.  

Fleur de Villiers is ’n vryskutjoernalis wat deur ’n ou vriend genader word om ’n biografie oor die Springbokrugbykaptein Katstert Nel te skryf. De Villiers se karakter is tekenend van (en heel moontlik gebaseer op) ’n gerekende joernalis soos Fleur de Villiers wat tussen 1960 en 1986 ’n prominente rol as ondersoekende joernalis in Suid-Afrikaanse mediakringe gespeel het. Fleur het nie ’n bang haar op haar kop nie. Haar joernalistieke insig en instink is so fyn ingestel soos dié van Devi Sankaree Govender en Debora Patta.

’n Gevoel het haar gepla, nog voordat sy haar laaste ronde onderhoude afgehandel het. Iets word vir haar weggesteek. ’n Ontbrekende brok inligting. Die kropgevoel het oorgegaan in ’n baie sterk spesmaas. Sy het gesoek vir leidrade. Die ongemak het gegroei; sy het haar in die domein van die Corpus Christi en die Suid-Afrikaanse Rugbyvoetbalunie bevind, dáár waar God se Groot Waarheid die pas aangee. (23)

Fleur is egter nie ’n kenner of groot liefhebber van rugby nie. Die skryfprojek word uit geldnood aanvaar en soos die gebeure ontvou, kom Fleur tot die besef dat daar ’n slang in Ramses Ellispark se gras skuil. Dit lei haar op ’n speurtog agter die waarheid aan. Skuil daar dalk meer agter die legendariese Katstert Nel?

3.1 Popol Vuh, godsdiens en humor

Tydens Fleur se speurtog om agter die kap van die byl te kom, kuier sy gereeld by haar gunstelingkroeg en restaurant. Popol Vuh. Lesers sal tydens die lees van die roman opmerk dat Breytenbach ’n georkestreerde spel met die leser speel wat naamgewing betref. Dit dra by tot die humor in die roman. Nie alle name is bloot toevallig nie (soos reeds vroeër in Fleur de Villiers se geval aangedui). Die naam Popol Vuh verwys na ’n antieke teks waarin die mitologie en geskiedenis van die K’ich’e-nasiei (deel van die Majas) opgeteken staan. Die naam Popol Vuh verwys na “Boek van die gemeenskap” of letterlik “Boek van die mense”. Sodoende word die kroeg se naam by een van die prominente temas van die roman betrek, naamlik godsdiens. Popul Vuh word as sulks die bron van Fleur se kennis oor die geheime wat agter die skerms afspeel.   

In ’n onderhoud met Naomi Meyer merk Breytenbach op: “Die plesier van Hond se gedagte was vir my om rugby te gebruik om mense oor godsdiens te laat nadink. Die boek handel oor geloof – hoe mense dit verloor, hoe hulle geloof herwin, hoe bereid hulle is om in wonderwerke te glo.” 

Dit sal geen oordrywing wees om te sê dat Suid-Afrikaners ’n obsessie met rugby het nie. By voormalige Model C-skole word rugby sonder twyfel as die belangrikste sportsoort beskou en word die meerderheid hulpbronne aan dié sportsoort toegewys. Dit is dus nie vergesog om te sê dat rugby in talle gemeenskappe waar rugby as sport beoefen word (selfs buite Suid-Afrika), op soortgelyke vlak as godsdiens beskou word nie. Breytenbach stel rugby en godsdiens in die roman gelyk aan mekaar en slaag daarin om deur middel van fiksie lig te werp op die sterk band wat daar tussen godsdiens (of geloof) en rugby bestaan. Laasgenoemde word wel op humoristiese wyse as deel van die narratief ingespan om ’n gewigtige (en selfs omstrede) onderwerp te belig.

Corpus Christi (wat geloof verteenwoordig) en die Suid-Afrikaanse Rugbyvoetbalunie (Sarvu) word deur Jaap Schvantz, PW Botha se laksman tydens die tagtigerjare, en sy vrou. Krystle, die dogter van ’n struggle-aktivis, Martha Bosch, bestuur. Schvantz (Duits vir die manlike geslagsorgaan) en Krystle se karakters word ingespan om die mens se geldgierigheid uit te beeld, maar plaas veral klem op die misbruik van geloof vir geldelike gewin.

“Corpus Christi is meer as ’n kerk”, sê sy. “Dis ’n maatskappy. Met begrotings en winsteikens.” […] Afrikaners is die grootste ondersteuners van rugby. Of was. En toe die getalle begin verminder, bywoning rampspoedig begin daal, het Corpus Christi die antwoord gebring. Koppel die Afrikaner se godsdiens aan sy sport, en hy is oorwinbaar.” (193) 

Rugby en geloof word deur Corpus Christi en Sarvu tot eenheid saamgevoeg ter wille van geldelike gewin. Sodoende ontbloot Breytenbach die ongesonde verhouding wat tussen rugby en geloof binne die Suid-Afrikaanse samelewing gedy en lewer terselfdertyd belangrike sosiopolitieke kommentaar op die mag wat geloof en sport as eenheid binne ’n gemeenskap kan uitoefen – hoe ongesond dit ook al mag wees.

Wat Hond se gedagte van ander rugbyromans onderskei, is ongetwyfeld Breytenbach se skerp sin vir humor. Skreeusnaakse insidente soos Slapogie Losper se seksorgie met twee Argentynse prostitute waartydens hy ’n toon breek, die losskakel Pedrovene Smith wat gedigte skryf en die sekswerker wat haar vlees en gees op haar taalkundeprofessor gemodelleer het, kom in die roman aan bod. Fleur moet boonop vrede maak met haar bejaarde moeder, die skrywer van Die regte manier om te lewe (Wat uit Emsie Schoeman se Goeie maniere & etiket geplagiariseer is) en 'n demensielyer, wat haar kinderjare ontsier het. Die humor is vlymskerp en Breytenbach se spel met taal dra by tot ’n genotvolle leeservaring.

Breytenbach tree ook intertekstueel met JM Coetzee in gesprek. Tydens die 1995-Wêreldrugbybekertoernooi het Coetzee ’n artikel in Southern African Review of Books gepubliseer waarin hy krities oor Suid-Afrikaners se verhouding met rugby geskryf het. In Hond se gedagte word Coetzee se idees soos volg tydens ’n bespreking van die verhouding tussen rugby en godsdiens betrek:

Dit is ’n laevlak-transendasie. Maar Coetzee het nie Corpus Christi geken nie. Hy het rugby uitgelig, gesê dat Saterdagmiddag danksy rugby vir baie mense ’n groter betekenis het as Sondagoggend. Nou, Corpus Christi verbind die twee, nè? Die rugbywedstryd het net betekenis as jy Sondagoggend gaan dankie sê vir die gawes aan jou toegedeel. (388)

Coetzee se wyse woorde word prakties gedemonstreer deur middel van fiktiewe gebeure in die roman. In Hond se gedagte word die betekenis van Saterdagmiddae met Sondagoggende gekoppel. 

3.2 Waar pas die hond(e) dan in?

'n Duitse herdershond (Foto: Wikipedia)

Een van die belangrike karakters in die roman is Katstert Nel se hond, Dawk. Dawk is ’n Duitse herdershond vernoem na “Dok” Danie Craven (1910–1993)ii wie se invloed op Suid-Afrikaanse rugby legendariese status beklee. Craven se gedagtes en filosofie oor rugby figureer sterk in die roman. (Boonop dra Dawk se karakter by tot een van die groot onthullings in die roman.) Terselfdertyd kom Alice, kleindogter van die gravin van Athlone, op besoek na Suid-Afrika vir ’n internasionale hondeskou. Die Springbokrugbyspan en die gravin se kleindogter gaan voor die eindstryd in dieselfde hotel tuis. Die aand voor die eindstryd sorg die honde egter vir groot drama in die hotel wat almal behoorlik op hol het. (Lesers wat Jeanne Goosen se roman ’n Pawpaw vir my darling gelees het, sal laasgenoemde gebeure veral geniet.)

Sonder om te veel geheime van die roman te verklap (en daar is heelwat!), is dit veral die gravin se kleindogter en Dawk wat onder andere “hond se gedagte” by Fleur de Villiers en haar medejoernaliste geskep het. Terselfdertyd word Katstert Nel en Dawk aan die einde van die roman by die oorkoepelende tema van geloof betrek. Met laasgenoemde slaag Breytenbach daarin om die leser te dwing om ernstig te besin oor die rol en waarde van geloof – hoe geloof verloor, maar ook herwin kan word.

  1. Samevatting

Hond se gedagte is ’n lywige roman waarin belangrike sosiale kommentaar gelewer word oor Suid-Afrikanerskap, rugby, geloof en die rol van die kerk. Belangrike en interessante temas, soos vooroordele, stereotipering, demensie, magsug en geldgierigheid, kom ook aan bod. Hierdie roman vorm ’n mikrokosmos van die Suid-Afrikaanse samelewing (die verlede, hede en toekoms), maar fokus veral op die Afrikanergemeenskap. Breytenbach dwing die leser by wyse van spreke om daadwerklik introspeksie te doen en vrae te vra oor belangrike vraagstukke waarmee die samelewing daagliks gekonfronteer word. Laasgenoemde geskied egter op humoristiese wyse en die roman slaag daarin om ’n genotvolle leeservaring te verseker sonder enige pretensieuse hoogdrawendheid. Breytenbach beskik boonop oor die vermoë om sensuele sekstonele te skryf wat nie sy naam op die Literary Review se Bad Sex in Fiction Award-lys sal laat verskyn nie. Alhoewel nierugbyliefhebbers moontlik langtand aan die roman sal begin lees, sal die geleidelike opbou van spanning, die nimmereindigende dramatiese intrige en skreeusnaakse humor lesers soos een van Jeanne Goosen se opgewonde toeskouers in “dag op nuweland” naarstiglik laat aanhou lees – selfs al weet jy nie wat die verskil tussen ’n skrumskakel en slot is nie. Die eindresultaat was net so opwindend soos die Wêreldbekereindstryd op 2 November 2019.  

Met Hond se gedagte het Breytenbach ’n waardevolle en belangrike bydrae tot die rugbyroman in Afrikaans gelewer.

Bibliografie

Brink, AP. 2009. ’n Vurk in die pad – ’n memoir. Kaapstad: Human & Rousseau.

Coetzee, JM. 1995. Southern African Review of Books (38), Julie/Augustus.

De Wet, J. 2011. Wat praat jy! Afrikaanse idiome, gesegdes en vaste uitdrukkings met verklarings. Pretoria: Protea.

De Wet, W. 2016. Tendense in populêre werke oor Suid-Afrikaanse rugby, 1948– 1995: ’n Historiografiese studie. Historia, 61(1):113–31. 

Esterhuizen, L en M van Niekerk. 2016. Onderhoud met Marlene van Niekerk. Die aarde as oester en ander skryfkundes. Versindaba. http://versindaba.co.za/2016/06/16/onderhoud-met-marlene-van-niekerk-die-aarde-as-oester-en-ander-skryfkundes (10 November 2019 geraadpleeg).

Kannemeyer, JC. 2002. Die goue seun. Die lewe en werk van Uys Krige. Kaapstad: Tafelberg.

Meyer, N en K Breytenbach. 2019. Kerneels Breytenbach oor die Wêreldbeker 2019 en oor Hond se gedagte. https://www.litnet.co.za/kerneels-breytenbach-oor-die-wereldrugbybeker-2019-en-oor-hond-se-gedagte (11 Oktober 2019 geraadpleeg). 

 

Eindnotas

[i] Sien https://en.wikipedia.org/wiki/Popol_Vuh.

[ii] Sien https://en.wikipedia.org/wiki/Danie_Craven.

Kyk ook:

Video: Bekendstelling van Hond se gedagte deur Kerneels Breytenbach

Lees ook:

Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Hond se gedagte deur Kerneels Breytenbach

Kerneels Breytenbach oor die Wêreldrugbybeker 2019 en oor Hond se gedagte

The post LitNet Akademies-resensie-essay: <em>Hond se gedagte</em> deur Kerneels Breytenbach appeared first on LitNet.

Lesersindruk: Vegters deur Lucia Prinsloo

$
0
0

Louise Viljoen is ’n vryskutresensent van Jeffreysbaai.

Titel: Vegters
Skrywer: Lucia Prinsloo
Uitgewer: Wenkbrou

ISBN: 9780799397246

Ek het menigmaal ’n yslike knop in my keel gekry en moes sluk aan die trane terwyl ek dié besonderse boek gelees het. Dit bied ’n leeservaring wat die leser se emosies deur ’n vleismeultjie jaag en jou laat voel dat jy sélf ook deur ’n oorlog is – nes die hoofkarakters, Markus en Regardt, twee avontuurlustige Afrikanerseuns wat as lede van die Britse Valskermregiment ’n paar keer slaags raak met die gevreesde Taliban in Afghanistan. Die oorwegende emosies wat ek ervaar het direk nadat ek die boek klaar gelees het, is dieselfde as wat ek gevoel het toe die Springbokke met die Webb Ellis-beker weggestap het, naamlik bewondering en trots omdat die mens werklik te midde van enige omstandighede kan triomfeer sou hy wou. Op die agterblad staan geskryf: “Dis ’n verhaal wat jy nie gaan vergeet nie: die storie gaan jou bemoedig en inspireer en nog lank met jou saamloop.” Ek vind dit ook so.

Hoewel fiktief, speel Vegters teen werklike oorlogsgebeure af. Prinsloo maak die leser deel van ’n gewelddadige konfliksituasie in die Sanginvallei langs die Helmandrivier in Afghanistan. “Die volgende oomblik klap koeëls oor hulle koppe. ‘Contact left!’ skree ’n rou stem deur die geknetter van masjiengeweervuur” (114). As teenvoeter van die ekstreme hitte en dorre woestyntoestande van die oorlogsgebied (“Hy voel en sien die hittegolwe opslaan met elke tree wat hy versigtig en berekend gee. Sy lippe is horingdroog, styf en gebars. Die sweet tap hom af, loop in strale onder die swaar helmet uit, teen sy nek af” (14)), neem Prinsloo die leser ook om die beurt na die asemrowende natuurskoon van die milde Gamtoosvallei in die Oos-Kaap (“Na alle kante toe lê die Gamtoosvallei uitgestrek met groen landerye en vergesigte tot by die Hanekamberg wat baie blou op die horison lê ...” (23)) en die mooie Cannon Hill Park te Birmingham, Engeland (“Dis woudagtig op plekke en reusebome staan in die helderste herfskleure: alle skakerings van groen, geel, oranje en bloedrooi. [...] Daar is eindelose grasperke met geteerde wandelpaaie en oral is bankies geplaas” (167)).

Die leser maak ook die wêreldbekende Dusi-kanomarathon in die Vallei van ’n Duisend Heuwels in KwaZulu-Natal saam met Markus en Regardt mee in uiterste omstandighede wat respek en bewondering afdwing. “Dit is witwater, groot stroomversnellings, drie uitmergelende dae lank” (185). Dis hier, al roeiende op die magtige, bruisende rivier, dat Markus en Regardt die spoke, wat al die pad saam met hulle van Afghanistan af gekom het en wat met tye saam met die mediahelikopter oor hulle koppe hang, uiteindelik in die oë moet kyk, konfronteer en mee vrede moet maak. Hulle was onverskrokke oorlogshelde in Afghanistan, maar terug in Suid-Afrika is hulle net outjies wat van voor af besluite moet neem oor hulle toekoms. Maar die lewe is, nes die Dusi, onvoorspelbaar en gevaarlik en ’n mens mag dit nooit onderskat nie – vra maar die ernstig gewonde en meestal ledemaatlose soldate wat in die intensiewesorgeenheid van ’n hospitaal in Birmingham se militêre vleuel lê.

Prinsloo plaas die wreedhede wat oorlog inhou meesterlik in kontras met die uitdagende dog meesleurende klavieruitvoering van Chopin se polonaise in A-mol-majeur, die Polonaise Héroïque. “Dan skielik, ná die klimaks, breek ’n aangrypende, liriese tema vir ’n rukkie deur, asof daar gereflekteer word, nagedink word. Dis vol patos en verlange. Die musiek kry skielik nuwe betekenis, en dit is die boodskap wat Christine so graag vir Markus en Regardt wil stuur: Ná die stormloop, die geveg en die verwoesting en pyn, [...] is daar nog altyd lewe. Is daar ook herstel moontlik. Kan ’n mens weer dans én trots wees en as oorwinnaar uit die stryd tree. Selfs liefhê en droom” (217). Alles goed en wel, maar “selfs ’n soen is by tye ’n landmyn wat afgetrap word” en skrikwekkende verwoesting saai wat permanente skade tot gevolg het. En van landmyne, slagvelde en oorlog het Markus en Regardt genoeg gehad. As hulle net die Dusi kan klaarmaak! Eers as hulle die eindpunt lewendig haal, eers dán sal hulle toelaat dat hoop weer in hulle harte brand. ’n Offisier het nie verniet tydens traumaberading vir hulle die volgende gesê nie: “The hardest part by far, is to make the bad pictures go away. In war time, the world is one big, long horror movie, image after image” (31).

Mans én vroue sal ewe lekker lees aan Vegters. Lucia Prinsloo en haar man, Dappie, ’n tandarts, het vanaf 2003 tot 2009 (dus kort ná die terreuraanval op die Twin Towers in Amerika) in Engeland gewoon en gewerk. Die hele wêreld was destyds daaroor in rep en roer, en Afghanistan was ’n brandpunt. Dis tóé dat Prinsloo die idee gekry het om eendag ’n storie te skryf met die gebeure in Afghanistan as agtergrond. Sy skryf dan ook gesaghebbend oor die onderwerp van oorlogvoering en wapens danksy intensiewe navorsing. Sy kon voorts kers opsteek by haar seun, Thinus, wat “vanaf September 2005 tot September 2009 ’n lid was van die Britse Valskermregiment, en as deel van 3-PARA in 2006 en 2008 in Afganistan betrokke was”, en het ook met verskeie soldate van die Valskermregiment en wat ook in Afghan betrokke was, gesels. “Die patrollie gaan dadelik oor in die drills om ’n hindernis of VP oor te steek: Die GPMG-gunner beweeg vorentoe om die linkerflank te dek, en dan volg Markus met die SA80 en Underslung Grenade Launcher om die regterflank te dek” (114).

Vegters is ’n manjifieke verhaal van trauma en ontsetting, van misverstande, vertwyfeling, wanhoop en slagting. Maar dit gaan ook oor vriendskap, familiebande, liefde, deursettingsvermoë, heling en uiteindelik triomf. Dis ’n uitdagende storie wat oor 300 bladsye strek en die leser op verskillende maniere aanraak. Ek het aanvanklik deurmekaar geraak tussen Markus en Regardt se karakters en moes ’n paar keer terugblaai net om seker te maak dat ek die regte prentjie van elkeen in my gedagtes het. Dit het dalk daarmee te doen dat die karakters so baie met mekaar gemeen het. Hulle is albei van Jeffreysbaai, het dieselfde vriendekring, ken mekaar se families, het saam by die weermag aangesluit, saam oorlog toe gegaan, saam huis toe gekom, ens. Dit het my ook opgeval dat ’n uitroepteken soms drie maal na mekaar gebruik word ter beklemtoning, bv “‘Yes, Markus!!!’ bulder Regardt” (265). Hoewel ek verstaan waarom hierdie sterk manier van beklemtoning (en ook ander wyses, soos bv “r-e-g-s” en “Markuuuussss!” op bladsy 263) nodig geag is, het ek dit steurend gevind. Ek moet egter in alle regverdigheid hier noem dat ek dikwels met teks werk en dus net oorkrities is. Die gewone leser sal die beklemtoning tien teen een baie geniet en vind dat dit die opwinding en spanning van die oomblik uitlig. Die boek is taalkundig goed versorg en lees baie lekker. Selfs die kragwoorde word absoluut binne konteks gebruik. Die voorblad, met roeiers en soldate in oomblikke van aksie vasgevang, trek dadelik die oog tussen ander boeke op die winkelrakke.

Ek is verheug om te verneem dat die skrywer reeds ’n nuwe verhaal beplan. Ek voorspel ’n opwindende skryfloopbaan vir Lucia Prinsloo. Sy het die vermoë om deur haar oor op die grond te hou, te observeer en navorsing te doen, ’n boeiende en digverweefde storie te skryf uit beide manlike en vroulike perspektiewe en oor situasies wat besondere verbeeldingskrag verg. Nie net het sy haar liefde vir klassieke musiek – veral soos vertolk op die klavier – nou verweef met die karakter Christine as pianis nie, maar het sy ook haar gesin se liefde vir en ondervinding van die roeisport op só ’n wyse ingespan dat die leser voel dat hy of sy sélf ook die magtige Dusi oorwin het. Sy laat val ook die kollig op soldate wat ledemate verloor in oorlogsituasies en gee aan die leser ’n blik op die verskriklike prys wat hierdie dapper manne betaal. Ek laat dit egter aan die leser oor om hierdie ontdekking self te doen.

Lees ook:

Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Vegters deur Lucia Prinsloo

The post Lesersindruk: <em>Vegters</em> deur Lucia Prinsloo appeared first on LitNet.

Resensie: Sewe-en-veertig deur Irma Venter

$
0
0

Titel: Sewe-en-veertig 
Skrywer: Irma Venter
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798178242

Mosi Mosholi, ’n datawetenskaplike met ’n shady verlede en ’n redelik ongesellige fobie vir kieme en stof, het ’n angswekkende patroon in haar gesofistikeerde digitale databiblioteek ontdek. Drie lukrake sterfgevalle in Kaapstad blyk geen ongeluk te wees nie, maar die donker kant van Mosi se data-insamelingsbesigheid verhoed haar om die polisie se hulp in te roep. Enter kuberboffin, Sarah Fourie, in al haar Coke-slukkende, motorfietsryende, kortgat, ongedurige glorie. Oudspeurder Jaap Reyneke is op sleeptou en die twee word uit Gauteng opgekommandeer om te gaan uitvind of Sarah se vriendin se sinistere ontdekking wel water dra. En om nog moontlike opvolgende moorde te probeer keer.

Hulle snuffeltog lei hulle na ’n spesifieke hotel waar ’n paar interessante karakters ’n tyd gelede een oggend tydens die ontbytuur saam in die eetkamer opgeëindig het. Sarah en Jaap moet uitvind wat die konneksie is wat die ontbyteters se lewens in gevaar stel. Of sit een van hulle dalk agter die moorde? Het iemand iets gesien wat die melk in hulle graanvlokkies onmiddellik suur gemaak het? Het hulle tussen happe roereier en spek dalk iets gehoor wat iemand sou noop om hulle die een na die ander af te ransel?

Een van die gaste is ’n bendeleier uit die Flatse. Nog ’n ander een is ’n stinkryk bekende sakeman. Gooi ’n paar buitelanders en ’n plaaslike aktrise ook in die mix en die drade wat jy bymekaar moet trek is interessanter as ’n Venik-massering. Intussen stap die ure aan en as Mosi inderdaad reg is oor die datapatroon, gaan die moordenaar se mes binne enkele dae nog ’n sagte teiken tref. Gaan Sarah en Jaap die knoop betyds deurhaak? Natuurlik gaan hulle.

Irma Venter se sewende boek in die S-reeks is die sewende volronde bewys van haar vernuf as krimiskrywer. Met elke boek kry sy dit weer en nog ’n keer reg om die leser te oorrompel met haar gulhartige skryfwerk. Sy bedérf haar aanhangers. Haar karakters is almal mense met wie jy om ’n braaivleisvuur wil sit en kuier om nog meer van hulle te wete te kom. Haar navorsing oor die buitengewone, hetsy plekke of stede of tegnologie, is altyd raak en die storielyne is immer in pas met die tydsgees. Venter gaan jou regtig nooit verveel nie.

Die onwaarskynlike vriendskap tussen Sarah en Jaap is al in ’n paar boeke in wording en is een van die groot vreugdes van die boek. Hulle unieke verhouding is ook waar die menslikheidsaspek van Sewe-en-veertig die hardste praat, sonder dat die grit deur sentimentaliteit afgewater word. Nuwe dissipels van Venter sal naatloos in die twee se eiesoortige liefde en besorgdheid oor mekaar inval en ’n ellelange backstory is nie nodig om hulle verknogtheid aan mekaar te verstaan nie. Mens sien uit na nog ’n S-boek wat die verhouding tussen die twee verder ontgin. ’n Newekarakter wat hopelik in ’n toekomstige boek haar eie volwaardige spreekbeurt gaan kry, is Mosi se assistent, Smittie. Daar is ryke stof opgesluit in haar doktersgraad oor algoritmes wat menslike gedrag voorspel.

Nog ’n regmerkie vir Venter is haar nié-so-standaard aanbieding van Kaapstad. As jy bekend is met als wat aan die voet van Tafelberg gebeur, sal jy waarskynlik vir ’n oomblik of twee kopkrap oor hierdie weergawe van die Moederstad. Hoewel sekere landmerke onveranderd daar uitsien, is verskeie restaurante, hotelle en kroeë uit haar skrywersduim gesuig. Nie eers Mosi se drones gaan dié interessante plekke vir jou kan opspoor nie. Hierdie Kaapstad is ook nie die Mekka van sonskyn en cocktails soos wat altyd in toerismebrosjures opgedis word nie. Hierdie Kaapstad is koud en droef. Dis donker en onvoorspelbaar en ’n broeiplek vir misdaad en gure karakters. Venter se Kaapstad is die teenpool van vakansiepret en die perfekte backdrop vir skurke om te doen wat hulle die beste doen. Soos in die geval van Nordic noir is die landskap bleek en die bui heel somber.

Sewe-en-veertig is die ideale leesstof vir die naderende somervakansie en dit bevat al die regte bestanddele om jou vas te pen in ’n leesgreep wat moontlik jou familie gaan irriteer. Daar is hope aksie en drama, verskeie verdagtes om jou aan die raai te hou en meer as genoeg Irma Venter-magic om jou enduit te boei. Hoewel dit nie my persoonlike gunsteling uit Venter se pen is nie, doen sy met Sewe-en-veertig steeds als wat van ’n goeie misdaadskrywer verwag word. En sy doen dit, heel natuurlik, damn goed daarby.

The post Resensie: <em>Sewe-en-veertig</em> deur Irma Venter appeared first on LitNet.

Resensie: Penseel-studentebundel 2019

$
0
0

Titel: Penseel-studentebundel 2019, jaargang 50
Samesteller: VER[r]AS
Uitgewer: Departement Afrikaans en Nederlands, US

Penseel is die Departement Afrikaans en Nederlands (US) se studentebundel en word saamgestel en uitgegee deur die VER[r]AS-komitee, oftewel die komitee van die Vereniging vir Afrikaansstudente. Sedert 1969/70 het die publikasie amper jaarliks verskyn en bekende Afrikaanse skrywers en digters soos Zandra Bezuidenhout, Joan Hambidge, Daniel Hugo, Rachelle Greeff, André le Roux, Etienne van Heerden en Marlene van Niekerk se werk is deur die jare daarin opgeneem. Fanie Olivier en Danie Botha was die stigterslede.

Dit is altyd interessant om ’n studentebundel soos hierdie te lees – en in 2019 die verse van die sogenaamde post-Millennials, of Generasie Z, te takseer. Waaroor skryf studentedigters? Die meerderheid gedigte draai rondom die self in ’n tipe selfgerigtheid, ’n ekkerigheid, ’n bemoeienis met die (biografiese) self, maar ook met die self as aanlynpersona soos dit uitdrukking vind op die sosiale media. Hierdie selfgesentreerdheid stel ek nie noodwendig as ’n punt van kritiek nie, maar om konteks te bepaal. Jong digters se verse word immers gekenmerk deur ’n jeugdige selfbewustheid waarin die gedigte nog nie die nodige afstand van meer volwasse poësie toon nie. Heelparty verse is dan ’n weerspieëling van die Zeitgeist: dit is vlugtig en vlietend van aard. Die bundel open met ’n sterk gedig van Lucinda Arendse waarin die geweld op die Kaapse Vlakte, asook die territoriale wedywering tussen bendes en die weermag, aan bod kom:

Die Americans ennie British is weer vollop innie strate.
Collateral damage.
Onse kinders en vrouens. Multiple stab wounds.
Hulle maak ’n statement. Die army kannie hulle territory wil ko oorvattie.
Hulle spite. Die dodetal styg net al hoe mee. Niemand kan hulle kee. (15)

Die ontluistering van die tradisionele Christen-geloof en die Jesus-“mite” is nog ’n onderwerp waaroor digters graag skryf, byvoorbeeld “Die Skeppingsverhaal” (24–25) van Charl Eksteen en “Hungover: 30 Julie 2019” (98–99) van Janke van Schalkwyk. Relatief tot ander verstematiek, handel heelwat gedigte oor seks- en genderkwessies, of liefdesteleurstellings. Zian V Blignaut, Wynand Kotze en Jean-Marie Potgieter lewer dan elk ’n handvol verse oor die belewenis van gay-wees, of om “uit die kas te klim”. Ek haal aan uit “Lewensoriëntering” van Zian V Blignaut, die tweede strofe:

Hy haal die blaaie uit ’n kas en ons kyk saam
na bisepse, sixpacks, nippels, v-lines
en Guess jeans wat die res bedek,
tot ons mekaar se denims begin ontknoop
en die eerste keer die anatomie verken
soos die Natuurwetenskap
ons nie kon wysmaak nie. (18)

Jeugdige seksuele ontdekkings word dikwels in verband gebring met verwysings na die skool- of universiteitskurrikulum waarin die (seksuele) ervaring geëkstrapoleer word as nuwe akademiese kennis. ’n Kenmerk van Suid-Afrika se Generasie Z is die openheid waarmee die politieke kwessies van die dag beskou word. Op p 37 berig Adriaan Havenga in “vier mans op ’n stofpad huis toe” oor die verlange na die plaas, terwyl Frederik R van Dyk se uitstekende “’n kantnota oor hulle wintervakansie” (92–93) deur die gebruik van understatement die talle bedreigings op ’n plaas (soos geweld/plaasmoord) suggereer. Nêrens word die “gevaar” op die naam genoem nie; daarom lees die vers soveel méér onheilspellend in die gebruik van onderbeklemtoning. As digter staan Van Dyk kop en skouers bo sy portuur uit. In sy opeenvolgende gedig, “decolonisation is discovery” (94), word die kwessie van dekolonisasie in verband gebring met die pyn en (wit) skuld tydens die Waarheid-en-versoeningskommissie van 1996. Ingrid Heÿdenrÿch en Alene Holder skryf sinvol oor ekologiese kwessies soos klimaatsverandering en die besoedeling van oseane met plastiek, en ek haal aan uit “’n Tweede Geboorte uit Water” deur Holder:

Stil soos akwatiese spoke
sweef die sakke
stil
in die oseaan.
Tussen seewier en paling en inkvis –
waar kom hierdie plastiese spoke vandaan? (43)

Enkele verse handel oor psigiatriese probleme, die invloed van die populêre kultuur van die dag, dwelms en aborsie.

Natasha Harmse verras met ’n knap Afrikaanse vertaling van “The fish” deur Elizabeth Bishop (29–31). Ook Janke van Schalkwyk verdien lof vir haar intertekstuele werkswyse in “Jammer Dirk en Daniël” (96), asook Heÿdenrÿch (40) vir haar spel met die vroulike inleiding van Breyten Breytenbach se “Die maer man met die groen trui”, soos dit voorkom in sy debuutbundel, Die ysterkoei moet sweet. Leroy Jooste se intertekstuele spel met Krog se gedig “Ma” (48) staan egter uit as ’n aangrypende en spontane Kaapse toespeling op dié bekende vers. Dit is verblydend dat hierdie digters erns maak met intertekstualiteit.

Die bundel reflekteer in sy geheel ’n nihilistiese bestaanswêreld, een waarin die studentedigters ontgogel staan voor die groter maatskaplike uitdagings van die dag. Woede en opstand en ’n drang om te skok vind uitdrukking in kru taal en jeugdige moedswil. In die geheel gesien is ’n bundel soos Penseel egter ’n riem onder die hart: Dit is aantreklik en pretensieloos uitgegee en gekeur deur kenners soos Elbie Adendorff, Amanda Lourens, Marius Swart, Dalene Vermeulen en Andries Visagie. En dit is ’n bundel wat die leser gerus op die boekrak kan koester, want net die tyd sal leer watter van dié digters nog in die toekoms hul merk gaan maak as gerekende skrywers of digters.

The post Resensie: <em>Penseel</em>-studentebundel 2019 appeared first on LitNet.

Resensie: Shadow flicker deur Melissa A Volker

$
0
0

Titel: Shadow flicker
Skrywer: Melissa A Volker
Uitgewer: Karavan Press
ISBN: 9780639994208

Shadow flicker vertel die storie van Kate Petersen wat leef vir haar werk, veral omdat haar persoonlike lewe ’n gemors is ná ’n lewensveranderende gebeurtenis. Sy vertrek na St Francisbaai in die Oos-Kaap, waar sy die boere moet oorreed om hul grond beskikbaar te stel vir die ontwikkeling van hernubare kragopwekking. Dit is haar keuse om nie haar baas in te lig dat sy terugkeer na die plek waar haar probleme ontstaan het nie – ’n tragedie wat steeds by haar spook en die oorsaak van haar paniekaanvalle is.

Hier ontmoet sy vir Dr Matthew Sykes, die dorp se veearts, wat steeds in rou is oor die ontydige dood van sy omgewingsgoedgesinde vrou. Alhoewel sy geensins beplan het om emosioneel betrokke te raak nie, ontwikkel dié twee spoedig ’n sagte plek vir mekaar. Ongelukkig is die pad nie net met rose besaai nie en behalwe vir die vyandigheid wat in die kusdorp uitbroei, word Kate die slagoffer van inwoners met verskuilde agendas.

Melissa slaag ongetwyfeld daarin om die leser vasgenael te hou, van begin tot einde. Haar vloeiende, gemaklike skryfstyl boei jou van hoofstuk 1 af en hou jou deurlopend gevange tot op die laaste bladsy. Die feit dat die boek in Engels is, het geensins ’n verskil gemaak aan my leesspoed nie. Die onderskeie uitdagings en emosies wat Kate ervaar, gryp jou aan, en met ’n beklemming om my hart kon ek eenvoudig nie die boek neersit voordat ek nie nog ’n paar bladsye verslind het nie. Die omgewingskwessies wat aangespreek word, is vars en beslis relevant tot wat ons vandag ervaar, wat rondom ons gebeur en wat ’n direkte impak op ons en veral ons nageslagte se toekoms het sou die verkeerde besluite geneem word. Finansiële gewin is meestal die belangrikste faktor in besluite, met ’n gewete wat deur ’n gewigtige bankbalans gestil word. Natuurlik is geen roman sonder ’n goeie dosis afguns en venynigheid volledig nie, so wees gereed om die hele kaboedel emosies in hierdie skrywe te ervaar.

Ek dink die boek sal beide geslagte wat ligter leesstof verkies, geval, maar ’n meerderheid van die vroulike geslag sal hierby aanklank vind. Trauma en konflik het al die meeste mense se paaie gekruis, en daarom behoort lesers maklik met Kate te kan identifiseer, omdat die skrywer beslis daarin slaag om die nodige empatie met die hoofkarakters te ontwikkel.

Melissa A Volker is in Port Elizabeth aan ’n Amerikaanse ma en Suid-Afrikaanse pa gebore. Sy is ’n leser, skrywer, blogger, herwinner en bekroonde “stand-up paddler”. Nadat sy besluit het om ’n breek te neem van haar loopbaan as skoonheidsterapeut, het sy kreatiewe skryfkuns studeer. Behalwe vir romantiese omgewingsfiksie, skryf sy ook oor skryfkuns, skoonheidsonderwerpe en branderplankry.

Haar eerste boek, A fractured land, is in 2018 in die VSA gepubliseer. Shadow flicker is haar tweede boek en het in 2017 die Strelitzia-toekenning gewen. Beide titels is vanjaar deur Karavan Press in Suid-Afrika gepubliseer. Sy woon in Kaapstad saam met haar man en twee dogters.

The post Resensie: <em>Shadow flicker</em> deur Melissa A Volker appeared first on LitNet.

Resensie: Sewe-en-veertig deur Irma Venter

$
0
0

Titel: Sewe-en-veertig 
Skrywer: Irma Venter
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798178242

Mosi Mosholi, ’n datawetenskaplike met ’n shady verlede en ’n redelik ongesellige fobie vir kieme en stof, het ’n angswekkende patroon in haar gesofistikeerde digitale databiblioteek ontdek. Drie lukrake sterfgevalle in Kaapstad blyk geen ongeluk te wees nie, maar die donker kant van Mosi se data-insamelingsbesigheid verhoed haar om die polisie se hulp in te roep. Enter kuberboffin, Sarah Fourie, in al haar Coke-slukkende, motorfietsryende, kortgat, ongedurige glorie. Oudspeurder Jaap Reyneke is op sleeptou en die twee word uit Gauteng opgekommandeer om te gaan uitvind of Sarah se vriendin se sinistere ontdekking wel water dra. En om nog moontlike opvolgende moorde te probeer keer.

Hulle snuffeltog lei hulle na ’n spesifieke hotel waar ’n paar interessante karakters ’n tyd gelede een oggend tydens die ontbytuur saam in die eetkamer opgeëindig het. Sarah en Jaap moet uitvind wat die konneksie is wat die ontbyteters se lewens in gevaar stel. Of sit een van hulle dalk agter die moorde? Het iemand iets gesien wat die melk in hulle graanvlokkies onmiddellik suur gemaak het? Het hulle tussen happe roereier en spek dalk iets gehoor wat iemand sou noop om hulle die een na die ander af te ransel?

Een van die gaste is ’n bendeleier uit die Flatse. Nog ’n ander een is ’n stinkryk bekende sakeman. Gooi ’n paar buitelanders en ’n plaaslike aktrise ook in die mix en die drade wat jy bymekaar moet trek is interessanter as ’n Venik-massering. Intussen stap die ure aan en as Mosi inderdaad reg is oor die datapatroon, gaan die moordenaar se mes binne enkele dae nog ’n sagte teiken tref. Gaan Sarah en Jaap die knoop betyds deurhaak? Natuurlik gaan hulle.

Irma Venter se sewende boek in die S-reeks is die sewende volronde bewys van haar vernuf as krimiskrywer. Met elke boek kry sy dit weer en nog ’n keer reg om die leser te oorrompel met haar gulhartige skryfwerk. Sy bedérf haar aanhangers. Haar karakters is almal mense met wie jy om ’n braaivleisvuur wil sit en kuier om nog meer van hulle te wete te kom. Haar navorsing oor die buitengewone, hetsy plekke of stede of tegnologie, is altyd raak en die storielyne is immer in pas met die tydsgees. Venter gaan jou regtig nooit verveel nie.

Die onwaarskynlike vriendskap tussen Sarah en Jaap is al in ’n paar boeke in wording en is een van die groot vreugdes van die boek. Hulle unieke verhouding is ook waar die menslikheidsaspek van Sewe-en-veertig die hardste praat, sonder dat die grit deur sentimentaliteit afgewater word. Nuwe dissipels van Venter sal naatloos in die twee se eiesoortige liefde en besorgdheid oor mekaar inval en ’n ellelange backstory is nie nodig om hulle verknogtheid aan mekaar te verstaan nie. Mens sien uit na nog ’n S-boek wat die verhouding tussen die twee verder ontgin. ’n Newekarakter wat hopelik in ’n toekomstige boek haar eie volwaardige spreekbeurt gaan kry, is Mosi se assistent, Smittie. Daar is ryke stof opgesluit in haar doktersgraad oor algoritmes wat menslike gedrag voorspel.

Nog ’n regmerkie vir Venter is haar nié-so-standaard aanbieding van Kaapstad. As jy bekend is met als wat aan die voet van Tafelberg gebeur, sal jy waarskynlik vir ’n oomblik of twee kopkrap oor hierdie weergawe van die Moederstad. Hoewel sekere landmerke onveranderd daar uitsien, is verskeie restaurante, hotelle en kroeë uit haar skrywersduim gesuig. Nie eers Mosi se drones gaan dié interessante plekke vir jou kan opspoor nie. Hierdie Kaapstad is ook nie die Mekka van sonskyn en cocktails soos wat altyd in toerismebrosjures opgedis word nie. Hierdie Kaapstad is koud en droef. Dis donker en onvoorspelbaar en ’n broeiplek vir misdaad en gure karakters. Venter se Kaapstad is die teenpool van vakansiepret en die perfekte backdrop vir skurke om te doen wat hulle die beste doen. Soos in die geval van Nordic noir is die landskap bleek en die bui heel somber.

Sewe-en-veertig is die ideale leesstof vir die naderende somervakansie en dit bevat al die regte bestanddele om jou vas te pen in ’n leesgreep wat moontlik jou familie gaan irriteer. Daar is hope aksie en drama, verskeie verdagtes om jou aan die raai te hou en meer as genoeg Irma Venter-magic om jou enduit te boei. Hoewel dit nie my persoonlike gunsteling uit Venter se pen is nie, doen sy met Sewe-en-veertig steeds als wat van ’n goeie misdaadskrywer verwag word. En sy doen dit, heel natuurlik, damn goed daarby.

The post Resensie: <em>Sewe-en-veertig</em> deur Irma Venter appeared first on LitNet.


Resensie: Soekmekaar deur Dana Snyman

$
0
0

Titel: Soekmekaar
Skrywer: Dana Snyman
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624088660

Twee boeke wat ek onlangs gelees het, het my ervaring van die Springbokke se oorwinning in Japan dieper en betekenisvoller gemaak. Die een is In my vel deur Azille Coetzee, die ander Soekmekaar van Dana Snyman. Azille is ’n jong filosoof en akademikus wat in Amsterdam studeer het en uit daardie perspektief van haar Afrikanerskap probeer sin maak. Dana is ouer, geen akademikus nie, maar gelouter deur die lewe in Suid-Afrika. Albei is baie bedrewe skrywers. Waar mens egter In my vel toemaak met ’n oorweldigende drag wit skuld op jou Afrikaanse skouers, maak jy Soekmekaar toe met die gevoel dat Dana Snyman op die oomblik die persoon in die openbare lewe is wat Afrikanerskap op die eerlikste wyse verken en met die mees gebalanseerde beeld anderkant uitkom.

Dana Snyman het lank reeds volksbesit geword, op grond van sy boeke en sy TV-reeks Op pad. Op sy uitgewer se webblad kan jy sy indrukwekkende rekord gaan bewonder as jy so voel. Op sy Facebook-blad het hy meer as 39 000 volgelinge, wat hy gereeld trakteer op nuwe skryfwerk wat telkens ’n situasie verwoord waarvoor die gewone mens nie altyd die uitdrukkingsvermoë het nie. Hy is uiteraard ’n hoogs talentvolle skrywer en is al talle kere daarvoor vereer.

Wat sy werk uniek maak, is die manier waarop hy die hart van ons volk kan verwoord. Hy ry met sy ou bakkie deur hierdie wye en droewe land en hy soek na dít wat ons maak wat ons is. Hy hemel nie Afrikanerskap op nie. Hy swaai nie die ou vlag rond nie, sing nie patriotiese liedjies oor dapper Boerekrygers nie. Hy trap sy spore in die Suid-Afrikaanse stof saam met die gewone mense wat hy op sy reise raakloop. Hy het klaarblyklik die vermoë om vir enige mens enige vraag te vra – en ’n eerlike antwoord te kry. Hy het definitief die vermoë om joernalistieke vaardigheid met fyn, evokatiewe skryfwerk te kombineer. Soekmekaar is weer eens ’n reis na nie alleen die hart van die volk nie, maar ook na sy eie hart. In sy soeke na die waarheid neem hy sy leser diep in sy persoonlike lewe in sonder om ooit ekshibisionisties of sentimenteel oor te kom.

Soekmekaar is saamgestel uit 59 stukke van wisselende lengte, toonaard en invalshoek. Die leser word aan ’n reeks uiteenlopende karakters voorgestel. Daar is Eugène Terre’Blanche met sy baard en sy perd en sy pakkie Lexingtons in sy bosak wat laatnag Afrikaanse poësie voordra. Daar is Dana se pa, die predikant wat op sy dag die AWB se hoofkapelaan was, ’n huisvriend van Terre’Blanche, wat telkens met sy enigste seun gebots het en teen die einde van sy lewe ontnugter toegee dat hy niks meer verstaan nie, dat sy waarhede in der waarheid nie standgehou het nie. Daar is Dana se ma wat waarskynlik ’n sakevrou in eie reg kon wees, maar getrou saam met haar man van plattelandse gemeente na plattelandse gemeente trek, wat haar laaste tye feitlik bedlêend slyt met haar sigarette en haar huishulp vir wie sy as “Skattebol” aanspreek en wat haar ook so noem. Daar is Karel Schoeman wat sy eie lewe neem en die twee swart vrouens wat hom op sy laaste reis vergesel het.

Dan is daar natuurlik Johannes en Lettie en Koos, wat op Ventersdorp vir Dana se pa gewerk het en na sy dood sy versoek om na Dana om te sien, letterlik tot uitvoer bring. In die eb en vloed van Dana se verhouding met Johannes en sy mense word ons ewige soeke na mekaar verpersoonlik; die frustrasie, die onbegrip, soms die woede, maar altyd die liefde en die eerlike begeerte om mekaar te aanvaar en te probeer verstaan.

Ook die selfdood van Dana se verloofde word met sy kenmerkende eerlikheid hier verwoord. Die leser gaan saam met ’n verpletterde man op reis die binneland in, na die begrafnis van sy verloofde, na ’n groter begrip van die menslike weerloosheid voor depressie, wat vir sommige ’n terminale siekte is. Daarna pak die leser saam met hom sy huis op Jacobsbaai op en vertrek na ’n nuwe lewe met net die nodigste besittings en sy versameling optelhonde. Ons glo ons sal in ’n volgende bundel ook die res van sy reis kan meemaak.

Die insigte wat Dana ten opsigte van depressie verwoord, kan as een van die belangrikste elemente in die boek beskou word. In ’n tyd waar die stigma nog stewig aan geestesiektes kleef, waar dodelik siek mense nog deur oningeligtes aangesê word om hulle “reg te ruk”, is hierdie woorde soos ligte in ’n donker hemelruim: “Depressie is werklik ’n siekte, ’n verskriklike stuk waarheid wat hoop in wanhoop verander tot jou angs vir die lewe groter kan raak as jou angs vir die dood.”

Soekmekaar is die kroniek van ’n soekende siel, ’n lid van ’n volk wat moeitevol en sukkelend op soek is na sy plek in Suid-Afrika, sy plek in Afrika en in die wêreld. Dana Snyman het nie vir ons antwoorde nie, maar hy vergesel ons getrou op ons elkeen se reis na groter begrip, groter deernis en groter hoop.

Soekmekaar is onontbeerlike leesstof vir elkeen wat hierdie land liefhet, elkeen wat ons uitdagings probeer deurgrond, elkeen wat probeer om ten alle koste die hoop te behou. Dana Snyman se persoonlike reis het ongemerk ’n metafoor vir die reis van elke denkende Afrikaner geword; die dokumentasie van ons eindelose soeke na mekaar en na onsself.

Lees Soekmekaar – en verdiep jou in die wonderlike, skrikwekkende ervaring van Afrikaans-wees, soos verwoord deur iemand wat saam met jou op soek is na die ontwykende waarheid.

The post Resensie: <em>Soekmekaar</em> deur Dana Snyman appeared first on LitNet.

Resensie: My naam is Prins, ek slaap met die lig aan deur Christine Barkhuizen-Le Roux

$
0
0

Titel: My naam is Prins, ek slaap met die lig aan
Skrywer: Christine Barkhuizen-Le Roux
Uitgewer
: Human & Rousseau
ISBN: 9780798179706

Hoeveel kinders in hierdie wêreld slaap met ’n nagliggie? ’n Liggie om die donker te verdryf. My naam is Prins, ek slaap met die lig aan (2019) spreek met ’n sombere ondertoon tot dié universele verskynsel onder kinders, maar skud ook die leser wakker vir die realiteit van pedofilie en kindermolestering. Die woorde deur Fiela Komoetie in die openingsaanhaling, “God vergewe ons baie, maar God vergewe ons nie die kwaad wat ons ’n kind aandoen nie” (Matthee, 1985:149), dien as gids vir die leser. Dié boek is nie vir sissies nie en verg deernis van sy leser, al word jy met tye briesend van woede.

Christine Barkhuizen-Le Roux is ’n veelsydige skrywer wat sedert 2000 digbundels, kortverhaalbundels en romans soos Padmaker (2010), Getuie (2013) en Drieklawerblaar (2016) publiseer. Haar romans is telkens verskillende toespelings op ’n ontwykende geheim en die reis na antwoorde, hetsy die geheim ’n skande, duistere verlede of trauma is waaroor daar stilgebly word.

Dié ontwykende geheim word gebruik om die verhaal se verskillende tydlyne, herinnerings en narratiewe saam te snoer. Dit is immers alles waaroor stilgebly word wat die karakters se onderskeie ervarings, herinnerings en (her)belewings verbind.

My naam is Prins, ek slaap met die lig aan handel hoofsaaklik oor die reis van drie karakters wat deur ’n gemeenskaplike trauma verbind word. Corinne (’n sielkundige), haar predikant-man Frank en Corinne se pasiënt, Deon, vertel en (her)beleef elkeen hul verhaal van verwerping, aanvaarding en die hunkering na liefde. Alice Miller, ’n psigoanalis wat in die vroeë tagtigs weggebreek het van tradisionele Freudiaanse psigoanalise, se navorsing oor kindermishandeling en geweld (2006) kan behulpsaam wees. Haar verwonde kind en proses van (her)belewing word hier ontbloot tot voordeel van die leser se insig.

Die karakters worstel elkeen met ’n tweeledige proses van (her)belewing; hulle beleef dit in die verlede en herbeleef dit met verloop van die roman. Die seksuele mishandeling van vier seuns gedurende hul verblyf in ’n skoolkoshuis in die Oos-Kaap is die kern waarom elkeen se verhaal draai. Dis ’n deeglik nagevorste boek, waar feitlike kennis gestaaf word en op kritiese plekke die leser tot insig kan bring. Corrine verduidelik oor pedofiele: “Dit gaan oor die manipulasie en die beheer wat hulle het oor iemand wat weerloos is. Dikwels spruit daardie gedrag uit ’n minderwaardigheidskompleks wat nooit oorkom is nie, of iets wat met die dader self gebeur het” (180). Dit bied sielkundige kennis wat die leser help om die karakters beter te verstaan en diepte in die teks skep.

Die roman se bemoeienis met geheime en stilte is ’n tema wat in Barkhuizen-Le Roux se ander romans ook opduik. In haar nuutste roman is daar verskeie geheime, maar die spilpunt is wat werklik in Skuilkranz se seunskoshuis gebeur het. Dié geheim waaroor daar nie vertel is nie, maar wat gesien is, van geweet is, maar nooit erken is nie en waaroor daar beslis nooit gepraat is nie. Hier kan Alice Miller se insigte moontlik lig werp.

Volgens Miller het te veel van Freud se teorieë berus op die seksuele en spesifiek dat hy toegegee het aan die samelewing se morele hiërargieë en moraliteit. Hy verbind seksuele dade waar kinders betrokke is met ’n uitwissingsdrang by die kind om die ouer uit te wis – die bekende Oedipuskompleks. Miller se grootste bewering is dat die liggaam die prys betaal vir hierdie moraliteit. Die liggaam onthou alle ervarings, en (her)beleef hierdie ervarings sou dit onderdruk word. Hierdie (her)belewing, waar die liggaam onthou, bied insig tot elkeen van die karakters en hoe hulle deur ’n spesifieke ervaring of ervarings as verwonde kinders na vore tree. Deon se verhaal illustreer wat in van die mees ekstreme gevalle kan gebeur. Miller bepleit wel dat hierdie (her)belewing nie genesing bring nie, maar vra vir die erkenning en afsluiting daarvan. In hierdie roman kan Miller se antwoord in die ironiese woorde van Frank gehoor word: “Vergifnis is uiteindelik beter vir die een wat vergewe as die een wat vergewe word” (120).

My naam is Prins, ek slaap met die lig aan bied vir die leser ’n blik op hoe ’n slagoffer van seksuele geweld ’n proses van (her)belewing deurmaak om die verwonde kind (diepgaande ervarings) te vind en te troos. Elke karakter moet die “verwonde kind” in hulself eerstens vind en dan probeer verstaan voordat hulle hul onderskeie traumas kan verwerk.

Die boek probeer ook deur die karakters se ervarings sekere wanopvattings oor seksuele geweld en pedofilie onder die loep neem. “Dit het met seksualiteit niks te make nie; soos ek gesê het, dit gaan om mag. Dit gaan nie om liefde en teerheid nie, glad nie, hoewel die dader dit by sy slagoffers inprent” (181).

Barkhuizen-Le Roux skryf in al haar romans, Drieklawerblaar, sowel as in My naam is Prins, ek slaap met die lig aan, met eerlikheid en deernis oor diep en pynlike ervarings wat die leser sal skok, maar nie sal afskrik nie. Dit onderstreep weereens die stiltes aangaande seksuele geweld, kindermishandeling en spesifiek kindermolestering wat steeds in ons samelewing teenwoordig is.

Boeke soos My naam is Prins, ek slaap met die lig aan voeg nóg ’n stem by ’n verskeidenheid ander boeke in Afrikaans, soos Dis ek, Anna (2004) deur Elbie Lötter, wat handel oor hierdie onderwerp. Buiten die bewusmaking van die gebeure, gaan dit oor mense se stories wat vertel moet word, die behoefte aan erkenning, en die universele soeke na betekenis, liefde, aanvaarding en geborgenheid.

Bibliografie

Terblanche, E. Christine Barkhuizen le Roux (1959–). https://www.litnet.co.za/christine-barkhuizen-le-roux-1959/.

Matthee, D. 1985. Fiela se kind. Kaapstad: Tafelberg.

Miller, A. 2006. The body never lies: The lingering effects of hurtful parenting. Vertaal deur Andrew Jenkins. New York: WW Norton & Company.

Skrywersonderhoud: Christine Barkhuizen-Le Roux oor My naam is Prins, ek slaap met die lig aan

The post Resensie: <em>My naam is Prins, ek slaap met die lig aan</em> deur Christine Barkhuizen-Le Roux appeared first on LitNet.

FMR-resensie: Vervleg deur Petro Hansen

$
0
0

Titel: Vervleg
Skrywer: Petro Hansen
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN 9781485310822 (gedrukte boek)
ISBN 97814853485310839 (e-boek)

Hierdie resensie is op 20 November 2019 in Boekkeuse olv Amanda Botha uitgesaai.

Oor ’n aantal jare heen het Petro Hansen rubrieke vir Die Burger en Beeld gelewer. Daarvan is 96 nou vir Protea Boekhuis gebundel in Vervleg.

In hierdie tekste (almal met dieselfde lengte, nl ’n bladsy en ’n half), gaan dit om ’n groot verskeidenheid onderwerpe: die natuur (veral voëls, diere, plante); kleindorpse lewe, plaaslewe; gestremdes, misdadigers, kindermolestering, ’n liefdesverhouding wat nie volgehou word nie en dan beteken dit "verspilde toewyding". Daar is die heuglikheid van familievakansies.

Dikwels skryf sy bewonderend oor skrywers, sangers en verhoogkunstenaars, bv Randall en Koba Wicomb. Een aand hoor sy hulle oor Graaff-Reinet sing.

"Dis toe Koba by die koor inval dat ek geweet het dat ek nie in mý lewe ’n mooier duet sou aanhoor nie ... ‘En daar is ghwarriebos en wildepruim, noem-noem en granaat. Tussen soetdoring en karee kry ’n koedoebul sy maat ...’"

Die boektitel verwys na die skakeling tussen mense, tussen familielede en met ander in die samelewing. Daar's nog ’n soort vervlegting in die boek: Die afsonderlike rubrieke word in so ’n volgorde geplaas dat skakels onderling ontstaan. In die rubriek oor die Wicombs beskryf sy byvoorbeeld hoe sulke Afrikaanse lirieke "boustene van 'n taalmonument (is) wat nie deur die wysigings aan ’n taalbeleid op ’n universiteit se senaatsvergadering afgebreek of toegeverf kan word nie". Die rubriek word opgevolg met een op bl 45 oor "Annerlike Afrikaans wat my met vreugde pla!" – byvoorbeeld as ’n snerpend koue windjie op Calvinia ’n “droëbekwindjie” genoem word. Sy hou van woorde soos “depressiekarretjie”, “fyntamaryn”.

’n Leser kan dikwels emosioneel betrokke raak. Soos met haar laaste Kersaand met haar pa (191). Haar geskenk aan hom is ’n CD van Pavarotti. Sy hou hom dop terwyl Pavarotti sing. Toe sy die traan by sy wang sien rol, wonder sy oor wat dit in die tenoorstem was wat hom so ontroer het. Was dit dat Pavarotti “kompleet die hemel in Kersaand kon insing"?

Daar's die besoek aan Mina in ’n versorgingsoord. Sy ly aan Alzheimer se siekte. Mina kan nie meer veel onthou van haar en haar jare lange vriendin se verledes nie. Dit pla haar. Was sy op die begrafnis van haar vriendin se man? Die vriendin stel haar gerus. Mina wás daar. Dan die subtiele slottoneel: “Mina kantel haar kop, ’n vae vraag in haar oë. ‘Ag , maar dan is ek bly,’ sê sy. ‘Dan is dit goed so.’"

Petro Hansen se tekste het dikwels 'n openingsin wat dadelik jou aandag trek. Soos: “Ek het al ’n hans vlakvark in ons dorp se strate aangekeer” (65). “Erken dit nou maar, ons almal is maar so ’n bietjie kommin” (115). “’n Vrou se handsak is soos Pandora se boks” (67). “Met ’n spietkop kan jy mos nie boetie-boetie speel nie” (55).

Ek kom nou by teleurstellings. Veral met die teksversorging.

Gedigte en lirieke word aangehaal, maar dan soos prosa weergegee. In die koerant was daar moontlik nie genoeg ruimte om die oorspronklike teks se versindelings volledig en presies oor te dra nie. Maar nou loop alles ineen sodat sekere gedagtes nie beklemtoon word deur dit byvoorbeeld in ’n rymposisie te plaas nie. Daar is tog ’n bekende tegniese greep daarvoor: skuinsstrepe om versreëls se eindes aan te dui. (Op ble 41, 42 en 185 word wel die konvensies toegepas; waarom nie elders ook nie?) Sommige van die aanhalings is foutief. Die aanhaling uit TT Cloete se "Anna" (162) verskil byvoorbeeld van die bundelweergawe van 1992 – haal Hansen dit uit 'n ander bron aan? Waarom is daar nie meer bronerkennings nie (bv die datum wanneer die rubriek in watter koerant verskyn het)?

Nagenoeg 40 keer kom die woord "hart" oor die bundel heen voor. Op bl 205 raak dit selfs oordrewe en onoortuigend: "Die hande wat soms tee stil langs my kom neersit het wanneer sy sien dat die walle van my hart oorloop." Op bl 188 is 'n lomp sin. Sy roep haar vervlegting met haar ma op: "Jou omgee is nog altyd soos salf tussen die krake van my hart se lyf ingevryf en ek weet; [kommapunt ipv dubbelpunt] oral om verberg is ek en jy in jou moederliefde in een hartklop vervleg."

Ek het ook elders oor ander oordrewenhede gefrons, byvoorbeeld hier: "En ek weet ons taalwêreld sou sonder die woordkunstenaar TT Cloete wees soos Engels sonder Shakespeare: veel, veel armer (162)." Daar's tog al bloot ’n verskil in die omvang en aard van hulle skryfwerk.

Ek sluit af met ’n voorbeeld van ’n heerlike gedramatiseerde toneel (91). Sy is staatsaanklaer op Rooiberg. Sy staan om tienuur gereed om die tweede staatsgetuie te lei:

Iets vang toe my oog by die deur van die hof. Kan dit wees? Kyk ek reg? "Edelagbare ..." sê ek benoud.

"Mevrou die Staatsaanklaer, die staatsgetuie is besig om te praat," betig die landdros my van die bank af.

"Maar Edelagbare," stotter ek weer.

"Dit is nie nou jou plek om te praat nie," jak die landdros my weer af.

"Maar Edelagbare ... hier is ’n pofadder besig om in die hof in te seil."

Die landdros leun vooroor en skree net: "Verdaag!" Vir die gebruiklike "die hof sal nou verdaag," was daar nie tyd nie.

Dit was seker die eerste en enigste dag in 'n hof dat ’n landdros, staatsaanklaer, hofordonnans, beskuldigde en tolk soos een man opgestaan en besems, takke en stokke gegryp het om ’n slang uit 'n hof te verjaag.

So. Honourable Speaker! Honorable Speaker! Honourable Speaker ...! As ’n man wil praat, laat hy praat. Jy weet nooit wat hy vir jou wil sê nie.

The post FMR-resensie: <em>Vervleg</em> deur Petro Hansen appeared first on LitNet.

Resensie: Waterberg echoes deur Richard Wadley

$
0
0

Titel: Waterberg echoes
Skrywer: Richard Wadley
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781485309352

Protea Boekhuis het pas Richard Wadley se luukse en omvattende boek van 832 bladsye, bykans 40 nuttige kaarte, baie illustrasies, en letterlik honderde foto’s gepubliseer.

My DNS lê sedert die eerste setlaars in die Waterberg. Daardie magiese gebied in Limpopo wat so anders is as enige ander plek in Suider-Afrika. Dit kan vergelyk word met 'n reusekoek wat uit die omringende vlaktes oprys, platgeval het, en deur magtige sandsteenvestings omring word. Die verweerde voorkoms en kleure van daardie berge vertel al klaar dat jy 'n baie spesiale plek nader.

Dorpe soos my tuisdorp Modimolle (die ou Nylstroom), Mookgophong, Mokopane, Lephalale, Thabazimbi en Bela-Bela omring die plato. Passe met mooi name neem jou oor die berge: Sandrivierspoort, Bokpoort, Jakkalskuil, Skrikfontein ... Wanneer jy te midde van die plato is, sak 'n verlatenheid en eensaamheid oor jou. Die skoonheid van die hart van die Bosveld met sy inheemse bome, klowe, riviere en waterkuile, wildevrugte, wild en voëls word dan jou genoeglike geselskap. Daarom is dit vandag so gewild vir ekotoeriste.

Met die oopmaak van die boek het ek eers die name van my voorouers en die name van ons familieplase in die uitgebreide register opgesoek. Wadley se navorsing het my meer oor myself en my voorgeslagte vertel as wat ek uit oorlewering geleer het. Sy navorsing oor bykans elke Waterbergse familie, plase, skole, dorpe, kerke, Sesotho-, Ndebele- en ander stamme, oorloë, veldslae, broedertwis, asook die oergeskiedenis sedert die eerste mensagtige wesens, verryk en verbreed die ryk geskiedenis van almal se bestaan in Suider-Afrika.

Naby ons een familieplaas is die klein nedersetting Loubad met sy warmbron. Daar het ek saam met my ouma en oupa dikwels inkopies gaan doen, en dan het ons verby die graf gery van die Engelsman wat tydens die ABO daar doodgeskiet is. Eensaam en netjies met 'n ysterheining afgekamp. Soms het ons stilgehou en na die graf gestap en gekyk, en nie gepraat nie. Tot my verbasing vind ek 'n hele bladsy (375) in die boek oor tweede luitenant Arthur Charles Gordon Besley, 'n adellike afstammeling. Hy is moontlik deur die skerpskutter Carel Boshoff, 'n veraf familielid van my, doodgeskiet terwyl generaal Beyers met sy verkyker toegekyk het. Hierdie is maar een van die talle uitgebreide juwele van die boek – met 'n foto van die einste ysterreling steeds om die graf met sy marmersteen.

In die 20 hoofstukke van die boek is ook ander verhale wat aan my bekend is en wat nou met deeglike navorsing geboekstaaf is. Die verhale van Moorddrift en Makapansgat waarmee ons grootgeword het, word uitgebrei en verder verewig met byvoorbeeld indringende verhale oor hoofman Valtyn van die Kekana, hoofman Masebe III en heelwat verwysings na Middelfontein op die historiese Nylstroom-Naboomspruit-pad wat skaars 10 km van ons plaas af was. Ek kon ook vir die eerste keer lees van my oergrootvader, Johannes Jurie (Lang-Hans) van Staden, wat 'n kind tydens die Groot Trek was, en wat hom rondom 1861 op Doornfontein gevestig het. Daar het die Boshoff-, Prinsloo-, Van Deventer- en Pienaar-families hulle ook almal later gevestig en leidende rolle in die gemeenskap gespeel, wat deeglik bespreek word.

Die boek is uit verskillende perspektiewe geskryf. Aandag word in fyn besonderhede met voetnotas gegee aan die geologie en die latere rol van mynbou; die invloed en gevolge van die difaqane; geskiedenis van die verskillende swart stamme; die stigting van dorpe, nedersettings, skole, kerke, hospitale; die talle veldslae tydens die ABO; die geskiedenis van die eerste spoorlyn tussen Nylstroom en Vaalwater; die rol van bekendes soos JG Strydom wat die eerste minister van Suid-Afrika geword het. Ook Eugène Marais is daar wat my ouma as 'n gentleman beskryf het.

Maar dit is nie net bekendes wat die Waterberg getem het nie. Wanneer daar na die uitgebreide indeks gekyk word, is daar letterlik honderde en honderde name van mense wat die plek gevorm het soos ons dit vandag ken. Maar bo alles troon Marikele (2 088 m),  Geelhoutkop (1 739 m), Hanglip (1 768 m) oor plekke soos Melkrivier, Zandrivierpoort, Alma, Doornkom en Bulgerivier.

Protea Boekhuis word gelukgewens met hierdie praguitgawe deur Richard Wadley, vir wie dit 'n lewenstaak was om hierdie omvattende boek saam te stel.

The post Resensie: <em>Waterberg echoes</em> deur Richard Wadley appeared first on LitNet.

Resensie: Mooier as Marilyn deur Anita du Preez

$
0
0

Titel: Mooier as Marilyn
Skrywer: Anita du Preez
Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795801907

Mooier as Marilyn is ’n vermaaklike, hoewel frenetiese, blik op hoe vrouens reageer nadat hulle verkul is en hoe ’n wraakbende vrouens een man se lewe donker en duister wil maak. Nié ’n teks wat jy met ’n polities korrekte bril van vrouebemagtiging, soos deur vroueregte-pleitgroepe voorgestaan, moet lees nie, want die vryheidstryd draai veel meer rondom uitskoponderrokke, vloeibare oogomlyner en ikone soos Marilyn Monroe en Lady Anne Barnard as om saam te kom om wette te verander.

Vir die soveelste keer wentel ’n boek rondom die vraag oor of daar lewe na ’n egskeiding is. Hierdie verhaal bied die kitsantwoord: Ja, mits jy ’n Uber kan nader haal, genoeg lugtyd het om ’n WhatsApp-boodskap betyds te stuur en jou selfaangestelde lewensafrigter, die altyd beskikbare selfoon-Siri, te raadpleeg. Wat is die lewe sonder tegnologiese foefies en katoeters?

Dr Desiree de Lange (oftewel Van Vuuren ná die skille van haar oë af geval het) se vervelige doktersvroubestaan kom tot ’n einde wanneer haar chirurg-eggenoot die kat in die donker knyp. Haar eie doktorsgraad in geskiedenis het lank reeds in die vergetelheid van ’n dienende Martha vergaan. 

Net daar begin die gerits van een Kaapse restaurant na ’n volgende en die onwaarskynlike blik op die band wat daar tussen vrouens ontstaan as gevolg van één man. Om hul wraakstrategie te laat slaag, hou hulle vergadering, bak en brou saam en pas mekaar se keffers op. Nou nie juis Thelma and Louise nie.

So ontvou die lewens van te veel kartonkarakters wat dikwels papierdun met rekwisiete soos klere en musiek gekarakteriseer word en net te komkommerkoel is om uit hul stereotipes te ontsnap. 

In terme van die teksversorging kon daar dalk meer dikwels alternatiewe vir “flippit” gewees het. Ook die dokterheld se dialoog val swaar en vals op die oor: “Ai Desiree, ek het gedink ons kan gesels. Oor alles. Ek het nie gedink jy sal vanaand hier rondstaan soos ’n halfbesope has-been-aktrise met dialoog uit ’n L’Oréal-advertensie nie” (63). Ek ken nie Kaapse medici of selfs media-tipes uit Johannesburg wat só praat nie, maar miskien het ook ek ’n identiteitsverandering nodig.

Die teks loop soos stroop sodat die verhaal se pas vinnig en op ’n drafstap in hoë hakkies op Kaapse keistene is. Die skrywer is stewig in beheer van elke vrouekarakter se kenmerkende dialoog. Klere, mode en veral die vintage-gier in Kaapstad en waar om in die glipstroom van Obs haute couture te gly, speel ’n groot rol. Die klem op hoe mens se haarkapper jou identiteit kan bepaal (“Om blond te word is nie net vir haar dye nie” (56)) en dat die regte skoene jou toekoms kan verander, gee mens so ’n heerlike gevoel van aspirasie soos wanneer jy op ’n Sondagmiddag ’n goeie glansvrouetydskrif gelees het. Die slagspreuk “styl is alles” oorheers veral die lewe van die koopgierige Christine, wie se longsiekte vir die hoofkarakter Desiree ’n dryfveer word om haar selfaangestelde alter ego, Marilyn Monroe, soos ’n after-the-fact groupie te gaan navors. Christine is ammal-se-pel wat jou deur dik en dun met haar geduldige kredietkaart en lewensraad sal bystaan.

Die openingstoneel en eerste hoofstuk oortuig die leser reeds dat hierdie teks ’n wipwaentjierit is en sit die boek se tema duidelik uiteen: die soeke na identiteit. Alhoewel die oppervlakkighede van so ’n soeke veral in die hormoonstormjare die verhaallyn dryf, is daar hier en daar ’n dieper blik op hoe mens op vir-ewig-vyf-en-dertig wel jou lewe in ’n oogwink kan verander wanneer jy die charades van jou lewe beëindig.

Name van karakters gee reeds ’n aanduiding van wat die skrywer wil kommunikeer met die hoofkarakter wat haar begeertes en drome moet definieer as Desiree en Christine wat eers Ina was.

Die liefdestonele is stoomwarm en meer as ’n lusmakertjie (“ ... dit maak die stripper in enige vrou los” (222)). Die skrywer behoort eintlik meer dikwels haar karakters tussen die lakens te kry, want sy weet hoe liefdestonele op ongebreidelde begeertes met post-koïtus Calvinistiese aanvalle werk en is bedrewe om enige drifblussers, soos agtergrondmusiek, weg te werk wanneer haar hoofkarakter se hormone, soos vir haar Jan Ellispoeding, telkens omgeklits word (“Ek leun terug teen sy bors asof ek smelt” (224)).

Die manne word goed teen mekaar afgespeel, met ’n poniestert-restauranteienaar teenoor die kliniese chirurg. Hulle ondergaan darem ook self ’n identiteitsverandering of twee danksy die verlede wat hulle gerieflikheidswys en sepieteksgewys vir die verhaal se nadraai inhaal. Soos die inleidingsin juis sê: “Die lewe vat en gee mos.”

Te veel onnodige storielyne, soos die skelmpie se eggenootintriges, deurlopende insetsels (e-posse met spyskaarte) en onfunksionele newekarakters, soos die stiefdogter se bestie, fragmenteer die verhaal en die skrywer kon eerder op haar sterk punt gekonsentreer het: om te skryf oor die bevryding van ’n vrou wat haar seksualiteit ontdek (“die soet plekke in my lyf” (280)). ’n Opvolgboek met dié tema uit haar pen sal welkom wees vir ’n wintermiddag se innige lees op ’n stoep met soveel uitsigte as wat daar in die 281 bladsye lofsang aan Kaapstad is.

The post Resensie: <em>Mooier as Marilyn</em> deur Anita du Preez appeared first on LitNet.

Resensie: Brisant deur Hein Viljoen

$
0
0

Titel: Brisant
Skrywer: Hein Viljoen
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781 928426660

Jan Human, ’n akademikus verbonde aan ’n binnelandse universiteit, kom in opstand teen die hedendaagse SA met sy misdaad, korrupsie en ongeregtigheid. Die bundel Brisant van die digter-akademikus Hein Viljoen is ’n postmoderne spanningsverhaal in epiese digvorm en volg in die voetspore van tekste soos TS Eliot se The waste land en Awater van Martinus Nijhoff. Op die agterplat dui Bernard Odendaal op die ooreenkoms tussen Brisant en Chris Barnard se hoorspel Die rebellie van Lafras Verwey. Net soos Lafras verteenwoordig Jan die prototipe van die “klein man” se verset. En net soos in die geval van die hoorspel, skroom Brisant nie om ongemaklike vrae oor onsself en die wêreld waarin ons ons bevind, te vra nie. In tandem met Lafras fantaseer Jan om die bestaande orde omver te werp – met geweld en vuur en met die geweldskrag van ’n ontploffing, wat ook op die betekenis van die titelwoord, Brisant, dui. Die inleidende motto onder deel vyf, “Oorwinningsfees”, lees as volg: “De term brisantie verwijst naar de kracht van een explosieve stof. De brisantie wordt bepaald door de snelheid van de schokgolf na een detonatie, dus hoe groter de detonatiesnelheid des te groter is de brisantie van een explosief –”

Die verhaal beweeg vinnig en spanningsvol, dog anachronisties, deur Jan se saai bestaan as dosent; deur die sleur van suburbia, sy affairs en bekommernis oor onderhoudsgeld vir die kinders, Ansu en Toinette; die herinneringe aan sy eks-vrou, Evette ... Dan eis transformasie sy tol wanneer die dekaan hom inlig dat die fakulteit 10 poste gaan sny en hom moontlik ’n pakket gaan aanbied. As wit Afrikanerman ervaar hy ’n gevoel van uitgeworpenheid, ten seerste gemarginaliseer, en leef in ’n grandiose begeerte om ’n regse bomplanter te word.

Die bundel is verdeel in sewe eenhede, wat elk op sy beurt ingelei word deur aanhalings wat handel oor bomme, plofstowwe en terreur. Hierdie indelings, soos byvoorbeeld “Middag-aand Dag D minus 2”, opgevolg deur “Dag D minus 1”, verwys inderwaarheid na die “groot D-dag”, die dag van afrekening, maar herinner op sy beurt ook aan die tyd wat onheilspellend verbytik in afwagting vir ’n bom om af te gaan.

Vuur in al sy simboliese betekenisse kom aan die bod. Die bundel se vername spilpunt is konflik en frustrasie – of friksie – wat die letterlike sowel as figuurlike lont in die kruitvat vorm.

(...) ja, jy’s mal
oor vuur maar vuur los niks op nie
vuur reinig en brand skoon maar vuur
vererger en verteer net alles    ja ja
dis mooi en suiwerend en transformeer
gewone dinge magies in plasma
maar ook in rook en as   alles gaan
opgaan in as   alles is as as alles as
bedaar   bedaar   los dit uit   los dit uit (52–53)

Passie en obsessie beweeg ná aan delirium as Thabo vir Jan teen die verterende mag van vuur waarsku.

(...)
met die opkyk druk hy die sneller af   die koeël
skop haar onderstebo   sy val ruk-ruk neer   hy druk
die loop in haar kuiltjie in   mens moet seker maak
sy’s leweloos   haar hart tamboer onder sy oor (32)

Ook in die bostaande gedeelte word ’n orgasme verbeeld as ’n ontploffing, of die gewelddadige afvuur van ’n wapen, wat erotiek en vuur met al sy libidinale konnotasies betrek. Die hele bundel wemel van alledaagse vonke, vlamme en ontploffings, soos braaivleis(-vure), donderstorms, Coke of whisky wat “brand” in die keel, ensovoort. Brisant eksploiteer hierdie detonatiewe drif op verskeie vlakke soos dit gestalte vind binne die siklus van geboorte, dood, Verligting, regenerasie, vrugbaarheid, inspirasie, pyn, martelaarskap, suiwering – of van vuur as die bemiddelaar tussen verskynsels wat verdwyn en weer verskyn. Die bundel is ryk aan intertekstualiteit, soos die volgende gedeelte wat in gesprek tree met Eliot se “The Sermon of Fire”:

(...) die
vuur se merke   skrif   wat sê die vuur?
wat de donder, Eliot
(...)

wat sou die vuur sê? praat van
natuur en transmuteer   alles blootsel
aan suurstof transformasie en
radikale verandering
na die wortel toe   tot in die wortel
verbrand verkool lewe omgesit in
koolstof swart inert doods
tonge soos van vuur en ’n totaal ander taal (86–87)

Binne die postmoderne saamgesels van stemme, verwys Viljoen ook na die eksperimentele film The tree of life van Terrence Malick (61), en lewer kommentaar op die poësie van Breytenbach, Krog, De Lange, Hambidge, Slippers en HJ Pieterse (7).

Aan samesweringsteorieë – reëel of denkbeeldig – ontbreek dit nie, en die bundel bied ’n ongewone en aweregse kyk op bleeksiele, staatspioene en ekstermiste wat te midde van ’n toondoof polities korrekte bestel hulself begin verset. Die epos lees vloeiend en maak mildelik gebruik van die uiteenplasingstegniek wat momentum gee aan die leeshandeling en soos ’n springveer die volgende versreël(s) voortsneller. Brisant beskik oor ’n goeie skeut humor, en die leser moet glimlag oor die eksentrieke akademikus wat met sy Camry rondry – ’n onwaarskynlike kandidaat as gevaarlike terroris. Een van die vele moontlike betekenisse van die gedig is waarskynlik die versugting na ’n suiwerende katarsis in die huidige sosiopolitieke bestel – of dalk die suggestie dat so ’n katarsis wel die een of ander tyd kan uitspeel.

The post Resensie: <em>Brisant</em> deur Hein Viljoen appeared first on LitNet.

Bibi Babbelbek praat tot sy blou word: ’n lesersindruk en ’n onderhoud met die skrywer

$
0
0

Titel: Bibi Babbelbek praat tot sy blou word
Skrywer: Louise Viljoen

Uitgewer: Naledi
ISBN 9781928426882

Lesersindruk

Klein Bibi Babbelbek woon by haar bedlêende ouma in ’n afgesonderde kliphuisie teen die berg. “Hulle twee pas mekaar op” (1). “Ouma Lollie is oud en sieklik. Sy kan ook glad nie meer sien nie. Sy lê net heeldag op haar bed. Bibi kyk graag by die kamervenster uit oor die dorp doer onder in die vallei” (1). “Woorde is al wat sy het. Sy kan nie soos ander kinders heeldag buite rondhardloop en speel nie. Sy is haar ouma se oë en ore” (11). Dié hartseer en eensame omstandighede word verdoesel deur die positiewe karakter wat geskep word in Bibi wat “gelukkig [...] vreeslik baie van praat” hou (2). “Sy is Bibi Babbelbek en sy gesels land en sand aanmekaar. Dis wat sy doen, en sy is goed daarmee! Haar kop is vol woorde en dit borrel oor haar lippe. Sy is ’n koerant op twee bene. ’n Nuushond van formaat” (7).

Die agtergrond en die ruimte waarin dié aangrypende kinderverhaal afspeel, word onmiddellik en bekwaam geskets. Die leser word van die begin af emosioneel betrek en op ’n onvergeetlike reis geneem. Die skrywer maak nie net aanspraak op die denkwêreld van die kind nie, maar neem ook suksesvol besit van die volwassene se bewussyn.

Die hoofkaraktertjie, Bibi Babbelbek, “praat tot sy blou word”, en dit dui natuurlik daarop dat sy vergeefs praat. Of dalk nie? Met ’n sterk idiomatiese invalshoek en stelling as titel, Bibi Babbelbek praat tot sy blou word, skep Viljoen ruimte vir denke en interpretasie, veral deur die ontwikkelende kind. Die leser besef spoedig met die ontvouing van die verhaal en karakters dat dié nie ’n storie sonder intrige is met ’n voorspelbare gelukkige einde nie. Viljoen weet presies hoe om die verhaal te ontvou.

Bibi Babbelbek raak ’n paar bogstories kwyt en die hele dorp draai teen haar. Ja, Bibi het gejok, maar wat was haar beweegrede? Waarom jok kinders? Sal die leser begrip hê vir Bibi se omstandighede? Die negatiewe en afkeurende reaksie van die dorpenaars en ’n geselsie met ouma Lollie laat Bibi haar fout insien. Sy leer dan ook die les dat verkeerde dade gevolge inhou; nie net vir haar nie, maar ook vir al die ander wat daardeur geraak word. Die dorpenaars se aanvanklike groepsmentaliteit word nou ’n versoenende klimaat van wedersydse empatie en begrip tussen hulle en Bibi. Sterk karakterontwikkeling word hierdeur bewerkstellig en ’n welkome morele les is vir seker in dié besondere verhaal te leer.

Bibi Babbelbek praat tot sy blou word bied veel meer as net ’n mooi kinderverhaal. Viljoen se verteltrant omsluit pragtige woordkeuses en -spelings wat met vernuf aangewend word en dus ook die interpretasiemoontlikhede vir ’n groter ouderdomsgroep daarstel. Sy skep deurgaans pittige beelde en die verstaanbare metaforiek sal kinders laat krul van plesier (en waarskynlik óók aanmoedig om keurig met taal om te gaan). Die kinderleser word subtiel blootgestel – sonder dat dit na ’n leerproses voel – aan die vaslegging van klanke, alliterasie, assonansie, personifikasie en deurgaanse suiwer taalgebruik. Beeld, assosiasie en oordragtelike taalgebruik is kenmerkend van die boek. “Die wind pluk hard aan Bibi se hare en wil haar pootjie ... (11). “Hierdie bietjie wind is sommer net ’n skrikmakertjie. Dit sal nou-nou gaan lê” (16). “Die wind huil en dit blaas. Dit loei en dit raas. Die mense moet net vashou of die wind waai hulle rond en bont en onderstebo!” (19).

Sterk newekarakters met kenmerkende eienskappe (Mevrou Posseël, Mevrou Snob, Meneer Velskoen, Karina Ballerina, Manie Motoris, Sarel Spietkop, ens) dra by tot ’n moreel verantwoordbare ontknoping. Die onderliggende tema van die verhaal beklemtoon die vernietigende krag van leuens teenoor waarheid. Die inhoud is relevant en nodig in ’n snelgroeiende moderne mark wat soveel uitdagings aan die skrywers van kinderverhale bied. Viljoen slaag daarin om die denkwêreld van die kind só te betree dat dit kompleet vir die volwasse leser voel asof hy of sy self weer in dié ontwikkelingsfase is!

Die sjarmante volkleurillustrasies deur Erna van der Merwe beeld die verhaal uitstekend uit en sorg dat die leser op ’n onvergeetlike verbeeldingstog geneem word. Bibi Babbelbek praat tot sy blou word word voorgeskryf vir kinders tussen 5 en 9 jaar oud (dus voorlees én selflees), alhoewel jonger en ouer lesers ook daarvan sal hou. Die boek is geskik om in groepe of individueel gelees te word.

Bibi Babbelbek praat tot sy blou word verdien ’n spesiale ruimte in die biblioteek van elke omgee-ouer.

Oor die skrywer

As boekresensent is Louise Viljoen ’n huishoudelike naam, veral onder lesers van Maroela Media, LitNet, Twitter, Facebook en ander platforms. Sy is ’n gereelde gas op Radio Kaapse Kansel waar sy haar lesersindrukke met luisteraars deel. Sy werk al vir etlike jare vryskut as taalversorger en spookskrywer. Meer as 300 artikels, talle kortverhale, ’n geestelike roman en ’n wetenskapsfiksie-verhaal, asook honderde boekresensies, het al uit haar pen verskyn. Sy is getroud, woon op Jeffreysbaai, en versorg haar moeder wat aan demensie ly. Louise dra Bibi Babbelbek praat tot sy blou word op aan haar suster, Annatjie, wat ’n moedige stryd teen kanker voer.

Onderhoud

As skrywer van kortverhale, draaiboeke, ’n geestelike roman en ook ’n wetenskapfiksie-verhaal konsentreer jy op verskillende genres. Wat het jou geïnspireer om ’n kinderboek te skryf?

Ek sien myself graag as ’n veelsydige skrywer en het daarom myself uitgedaag om in soveel moontlik genres te publiseer. Ek dokter heeldag en aldag kliënte se manuskripte en het gevolglik baie min tyd oor om aan my eie skryfwerk te spandeer. Ek het (verkeerdelik!) gereken dis maklik en vinnig om ’n kinderboek te skryf. Ek is mal oor die kultuurskat wat ons in idiome het en vind dit ’n groot jammerte dat soveel wonderlike idiome nie meer gebruik word nie. Ek het in my geestesoog ’n dogtertjie gesien wat blou word van vergeefs praat. Bettie Babbelbek is gebore. Gelukkig het professor Betsie van der Westhuizen vir my die goeie raad gegee om Bettie eerder die meer moderne “Bibi” te maak.

Jy maak in jou bio op die agterblad ’n interessante stelling met ’n diep strekking, nl “stories maak die lewe beter”. Dit vorm ook ’n integrale deel van die motief van jou boek. In watter mate dink jy kan die verdedigingsmeganisme volhoubaar wees, veral uit die perspektief van ’n kind?

Stories bring hoop, want dit “ontvoer” jou uit die hier en nou wat soms aaklig kan wees en neem jou op reis na dikwels wonderlike en magiese plekke waar dinge beter is. Saam met stories kom moontlikhede en ander wêrelde. ’n Kind kan in die mees armoedige omstandighede in ’n plakkershut woon, maar die aardbol en die heelal deurkruis as ’n skatryk koninklike. In Bibi Babbelbek se geval maak sy graag haar eie stories op wanneer sy vir haar siek, blinde ouma vertel wat buite aangaan. “Ouma Lollie maak staat op haar om al die nuus te hoor” (11). Soms reën dit, maar dan sal Bibi vertel hoe lekker die kinders in die parkie speel. Só het sy kleur aan ouma Lollie se saai bestaan gebring.

Bibi word opgedra aan jou suster, spesifiek vir haar vegtersgees en navolgingswaardige voorbeeld wat sy stel in haar stryd teen kanker. Kan jý met Bibi identifiseer? Indien wel, hoekom?

Ek versorg my ma wat aan demensie ly. Die situasie stel natuurlik eise waarvoor vriende en kennisse nie altyd begrip het nie. Ek kan byvoorbeeld nie op die ingewing van die oomblik saam met iemand gaan koffie drink nie. Al staar Bibi soms verlangend na die dorp onder in die vallei, is sy bitter lief vir haar ouma Lollie en sal sy haar vir niks op aarde verruil nie. Net so, al is daar baie dinge wat ek noodwendig moes prysgee (onder meer my vryheid om te kom en te gaan en te doen wat ek wil, wanneer ek wil), is ek baie lief vir my ma en sal ek haar bystaan vir so lank dit nodig is. Met Bibi Babbelbek praat tot sy blou word daag ek die leser uit om begrip te hê vir ander se omstandighede en om nie te vinnig te wees om te oordeel nie, maar om ’n helpende hand – al is dit in die vorm van ’n bemoedigende woord – uit te steek.

Bibi Babbelbek praat tot sy blou word is ’n heerlike storie vol avontuur en kompleet met ’n orkaan wat deur die dorp waai en amok maak. Tog is daar ook baie emosie tussen die lyne vasgevang. Bibi huil byvoorbeeld by ouma Lollie omdat die dorpenaar haar ignoreer en nie meer wil hoor wat sy te sê het nie. Hoe belangrik is die gebruik van emosies vir jou wanneer dit by die skryf van stories kom?

Ek glo dat wanneer skrywers hulle lesers se emosies aanraak, die lesers ’n band met die skrywers vorm deur middel van hulle werk. Lesers wat iets vóél wanneer hulle ’n boek lees, sal op die uitkyk wees vir nog skryfsels uit die skrywer se pen. Ek wil graag glo dat ek diep, menslike stories skryf – stories met hart.

Bestel Bibi Babbelbek praat tot sy blou word by Tertia Swart (tertia@naledi.online) of stuur ’n SMS na 078 648 8616. Dit is ook by boekhandelaars beskikbaar.

The post <em>Bibi Babbelbek praat tot sy blou word</em>: ’n lesersindruk en ’n onderhoud met die skrywer appeared first on LitNet.


Humboldts avonturen overtuigend verstript

$
0
0

Titel:  De Avonturen van Alexander von Humboldt
Van: Andrea Wulf & Lillian Melcher
Uitgever: Uitgeverij Atlas Contact
ISBN: 9789045036687

Darwin, Wallace, Junghuhn en vele ander natuuronderzoekers in de 19e eeuw waren helemaal gek van Humboldt. Alexander von Humboldt (1769-1859) was voor hun een grote inspiratie. Bij mijn afstudeerscriptie over Junghuhns Terugreis van Java naar Europa (1851) heb ik mij in dit buitengewoon interessante onderwerp verdiept.

Ik keek naar de invloed van Humboldts Ansichten der Natur uit 1808 op Junghuhns werk. Het is interessant om te zien dat Humboldt een groot deel van het 19e-eeuwse natuuronderzoek heeft beïnvloed. Wel is het erg ingewikkeld; zeker voor een student Nederlands met nog niet zoveel onderzoekservaring als die ik toen was.

Groot inspirator

Ik wist dat Humboldt een groot inspirator was voor velen en las veel lovende dingen over hem. Zijn werk probeerde ik enkele jaren terug te lezen. Het gaf een verrassende inkijk in het leven van een echte ontdekker. Wat een bevlogenheid legt deze man aan de dag.

Maar als je echt wilt proeven waarom mensen als Darwin, Wallace en Junghuhn zo vol van Humboldt waren, is er nu een fantastisch boek verschenen. Het heet De avonturen van Alexander von Humboldt en is van de hand van Andrea Wulf (tekst) en Lillian Melcher (strip). Het is een vertaling van The adventures of Alexander von Humboldt, een stripbiografie over het bijzondere leven van deze natuuronderzoeker en ontdekkingsreiziger. De vertaling is van Mariella Duindam en Fennie Steenhuis.

Dé ontdekkingsreizigers uit de 19e eeuw

Het boek vertelt het verhaal van de ontdekkingsreizigers uit de 19e eeuw. Samen met Aime Bonfland maakt Humboldt tussen 1799 en 1804 een grote reis naar Latijns-Amerika en Noord-Amerika. Het is een reis die zijn verdere wetenschappelijke leven sterk beïnvloed. Het verwerken van alle gegevens neemt zijn verdere leven in beslag, zoveel indrukken doet hij op in de natuur van de regenwouden in Brazilië en de vulkanen in Peru en Mexico.

De gegevens zijn allemaal terechtgekomen in zijn boeken. In 1808 publiceert hij Ansichten der Natur, een boek dat grote invloed heeft op het werk van eigenlijk alle natuuronderzoekers na hem. Het is een werk waarin Humboldt nieuwe wegen inslaat in het natuuronderzoek. Het belangrijkste element is dat hij de verbanden ziet tussen alle elementen in de natuur. Alles is met alles verbonden.

In het boek van Adrea Wulf en Lilian Mellcher leggen ze dit werkelijk prachtig uit:

Alles wat ik tijdens mijn reizen heb gezien, valt op zijn plaats. De natuur is een levend geheel en een prachtig organisch web waarbinnen alles verbonden is – van het kleinste mosje tot de hoogste boom. De natuur wordt door één adem bezield – van pool tot pool stroomt één leven in rotsen, planten en dieren. (168 – inlegvel)

Dit staat op de pagina met als achtergrond de vulkaan Chimborazo, met een hoogte van 6 263 meter. Een beroemde afbeelding, waarin Humboldt op deze berg de planten plaatst die hij op elke hoogte vindt. Een botanische reis van de evenaar naar de polen. Elke hoogte heeft zijn eigen plantengroei.

Heuse bergspleet

Helaas moeten ze 300 meter van de top terug vanwege de onherbergzaamheid en omdat reisgenoot Carlos Monúfar in een heuse bergspleet valt. Ze weten Carlos maar ternauwernood te redden. De zoon van de gouverneur reist vaak mee door grote delen van Latijns-Amerika. Hij is net zo’n avonturier als Humboldt en Bonfland. Naar men zegt zou hij de minnaar van Humboldt zijn geweest.

Het zijn deze avonturen die Andrea Wulf en Lillian Melcher heel overtuigend in het verhaal verweven. Het leest daarmee echt als een avonturenverhaal. En ze maken wat mee. Tussendoor geven geleerden en schrijvers zoals Darwin en Goethe commentaar op de invloed van Humboldt op hun werk. Met opmerkingen als: “'Humboldt leert me in een uur tijd meer dan ik in acht dagen bij elkaar kan lezen.”

Geografie van planten

Het stripverhaal is nauw verweven met het werk van Humboldt. Zo zie je dus de beroemde tekening over de “Geografie van planten” op de vulkaan Chimborazo, maar ook het beroemde schilderij dat Frederic Edwin Church maakte. Het werk, met de titel The heart of the Andes, maakte de schilder kort voor Humboldts dood. Of zoals Humboldt zelf in het boek van Wulf en Melcher vertelt:

Hij volgde mijn voetsporen door Zuid-Amerika en verwerkte alles wat ik had gezegd in dat ene doek. Mijn ideeën over onderlinge verbanden komen er helder op naar voren, van de imposante bergketens tot de minutieus weergegeven plantjes. Toen het klaar was schreef hij aan een vriend dat hij het schilderij naar Berlijn zou sturen, opdat ik het kon zien. Hij kon uiteraard niet weten dat ik net drie dagen daarvoor was overleden. (136)

Zeker ook zijn beslissing om ná Mexico in 1804 door te reizen naar de Verenigde Staten heeft veel mensen later geïnspireerd. Hij verbaast zich over de slavernij, die hij bijvoorbeeld ook op Cuba tegenkwam. Hij schreef er later een boek tegen de slavernij over. Daarnaast wijst hij iedereen op het belang van het behoud van de bossen.

Waanzinnig spannend

De reis naar Amerika is waanzinnig spannend. Ze komen midden op zee in een woeste orkaan terecht. Ze overleven het ternauwernood. Terwijl het schip elk moment kan vergaan, berekent Humboldt op welk tijdstip het schip zal kapseizen. De reactie op de onthutste Bonfland is geweldig:

Het geeft afleiding en misschien vind ik de uitkomst wel precies op het moment dat we verdrinken ... Dan overlijd je toch wat planmatiger. (250)

Daarmee is de biografische strip De avonturen van Alexander von Humboldt een must voor elke liefhebber van de natuur, ontdekkingsreizigers en waanzinnig spannende verhalen. Het boek heeft alle kenmerken van een spannend stripverhaal, diepgravende biografie en populair wetenschappelijk werk in één.

Andrea Wulf (tekst) en Lillian Melcher (illustraties): De avonturen van Alexander von Humboldt. Vertaald uit het Engels door Mariella Duindam en Fennie Steenhuis. Vertaling van: The adventures of Alexander von Humboldt. Amsterdam: Atlas Contact, 2019. ISBN: 978 90 450 3668 7. 269 pagina’s. Prijs: € 34,99.

Bestel: https://www.atlascontact.nl/boek/de-avonturen-van-alexander-von-humboldt/

The post Humboldts avonturen overtuigend verstript appeared first on LitNet.

Resensie: Die kinders van Spookwerwe deur Lize Albertyn-du Toit

$
0
0

Titel: Die kinders van Spookwerwe 
Skrywer: Lize Albertyn-du Toit
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798177207

Lize Albertyn-du Toit se debuutroman Die kinders van Spookwerwe (2019) handel oor die Kaliempies-gesin: ouers Mieta en Hennerik en hulle seun Milano, wie se storie in die Bo-Karoo begin en later na die Boland iewers in die 1970’s verskuif. Wanneer hulle lewens onherroeplik deur tragedie verander word, moet hulle leer om vrede te maak met die dood, wat elke aand “met sy koue pote saam in jou kooi” (69) klim.

Mieta Kaliempies is ’n aangrypende karakter waarsonder geen huishouding of boerdery sou kon voortbestaan nie. Mieta is bekend daarvoor dat sy “werk soos ’n masjien” (106), en sy werk omdat dit ’n helende uitwerking op haar het: “hoe harder sy kan werk, hoe beter” (290). Selfs Hennerik spot teen die einde van die roman: “Gee vir Mieta Kaliempies iets om skoon te maak en sy is gelukkig” (241).

Dit is egter nie noodwendig geluk wat Mieta in haar handewerk vind nie. Dit blyk dat sy eerder troos vind in die voorspelbaarheid en patroonmatigheid van werk, wat sterk kontrasteer met die onvoorspelbaarheid van onbeheersde emosies. Een oggend wanneer sy kwaad is vir Hennerik, is dit “[d]ie gewone skoologgendroetine [wat] die prop op haar bottel” (191) hou. Sy maak staat op die patrone in haar lewe wanneer sy sukkel om vrede te maak met iets, soos wanneer sy in rustelose nagte haar breiwerkpatroon in haar kop herhaal: “1 regs, 2 aweregs, 1 regs, brei 3 uit 1, 3 aweregs tesame. 1 regs, 2 aweregs – doen dit twee keer. Dan weer van die begin af: 1 regs, 2 aweregs, 1 regs, brei 3 uit 1, 3 aweregs tesame. 1 regs, 2 aweregs – doen dit twee keer. Oor en oor sê sy dit vir haarself op. Dalk kom die slaap” (69).

Die roman bevestig van die staanspoor af dat die natuur ’n integrale deel van die gesin se bestaan is. Behalwe vir die wyse waarop hulle daagliks met die omgewing omgaan vir hulle oorlewing, word die natuur ook as simbool van erfenis aangebied. Milano leer die geheime van die veld by Geelsuiker, wat op sy beurt by sy eie pa geleer het: “die man wat sy neus leer om die veld te ruik, sal fyn begin ruik. As hy sy oë leer om te kyk, sal hy sien, en as hy sy ore leer om baie goed te hoor, sal hulle hom vertel wat die veld en die wind sê” (154).

Ook vir Mieta is roosmaryn spesifiek ’n belangrike merker van haar erfenis omdat dit haar aan haar pa herinner. Daar was “’n roosmarynplantjie by die agterstoep. Dit onthou sy baie helder, want sy het altyd daaraan gevryf en aan haar hande geruik, net soos [haar pa] gemaak het” (71). Wanneer sy haar eie agterstoep in die Karoo het, stuur Mieta ’n paar takkies roosmaryn saam met kuiergaste wat vertrek omdat “[d]ié tog te lief geraak [het] vir die kruiesmakie so met die vleis saam” (134).

Die roman spog verder ook met aangrypende natuurtonele, en die lewe in die veld word op ’n besonderse wyse uitgebeeld: “’n Akkedis blits onder ’n bos in. ’n Lewerik triedelie vooruit van bos tot bos. Op ’n haak-en-steekbos maak die karoolangstertjie alarm: tjiek-tjiek, tjiek-tjiek. Ragfyn toktokkiespoortjies loop in die sand. Kapokdonsies lê onder graspolle ingewaai. Janfiskaal het sy sprinkaan op ’n driedoring se tak gespies” (147). Die natuurverskynsels word ook op ’n interessante manier met mekaar verbind met metafore soos “[d]ie rooi- en geelvinke is opgepof en hang soos ryp vrugte aan riete en takke, besig om neste te bou” (282), en die “spierwit wolkies [wat wei] soos skaaptroppe tot anderkant die vlakte uit” (117).

Ten slotte is Die kinders van Spookwerwe ’n aangrypende roman wat handel oor die Kaliempies se ontwikkeling as gesin, ten spyte van, maar soms juis te danke aan, die struikelblokke wat oor hulle pad kom. Dit is ’n roerende verhaal wat inderdaad, soos die voorblad beloof, “soos die vaal stof van die Bo-Karoo diep in jou hart kom lê”.

The post Resensie: <em>Die kinders van Spookwerwe</em> deur Lize Albertyn-du Toit appeared first on LitNet.

Resensie: Noorman deur SD Fourie

$
0
0

Titel: Noorman
Skrywer: SD Fourie
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781485904175

Die uitgewersnota lees soos volg: “Dit was die meisiekind, Louisa, wat sy lewe red toe hy ná daardie verskriklike deurmekaar nag in die kloof kom skuiling soek. Hier, by die waterval, doop sy hom Noorman, alhoewel hy probeer om sy verlede as skeepskaptein en soldaat tydens die Eerste Wêreldoorlog te vergeet. Ook die twee vroue uit dié donker tyd.

“Louisa en die mense van die omgewing raak onlosmaaklik deel van sy lewe. Op die buurplaas is die boervrou skaamkwaad oor haar eerste ontmoeting met dié fors rooikopman, al het sy haar oog op die stuk grond waar hy woon.

“’n Watertwis ná die depressie en die landswye droogte dryf Noorman se verhouding met sy bure op die spits. Maar wie kon ooit die stortvloed van verandering ná die verkiesing van ’48 vir die mense van die plase om die waterval voorspel?

“SD Fourie blaas met Noorman lewe in die ryk geskiedenis van die Strandveld.”

Dis die derde boek wat ek van dié skrywer lees en hoewel ek heelhartig saamstem dat haar skryfwerk lewe in die Strandveld se geskiedenis blaas, wil ek sê dat sy met hierdie boek ook veel wyer lewe in die geskiedenis blaas.

Dis nou bo en behalwe haar keurige beskrywings en woordgebruik wat jou terugvoer na skemerkombuise met kolestowe en koffie wat heeldag trek.

Die hele gedeelte oor die opboujare voor die Tweede Wêreldoorlog, die rol van die Italiaanse krygsgevangenes in Suid-Afrika, die omstandighede in Suid-Afrika net ná die oorlog in die oploop tot die waterskeidende 1948-verkiesing en hoe dit mense se lewens uitmekaar geskeur het, is insiggewend en hartverskeurend. Soveel is al geskryf oor oorlogsugtige leiers, maar die impak wat hul besluite op een gesin – met wie die leser al etlike hoofstukke saamstap – se lewe gehad het, bring die boodskap baie treffend tuis.

Wat die boek vir my nog meer leesgenot gegee het, is dat die karakter, Robert McFarlane, wat in Die Lanternswaaier en tot ’n mindere mate in Die dooies leef een van die hoofkarakters was, terugkeer met ’n hele donker geskiedenis agter hom, maar in Noorman as’ t ware ’n tweede kans op geluk kry.

Die boek strek van 1920 tot 2018 en van jou geliefde karakters gaan dood en nuwes word gebore.

Daar is Noorman se bure, die vurige Maria en Jan, wat op die oog af na ’n lamsak lyk. En mettertyd leer jy hoe ’n vrou se onbeantwoorde liefde die wêreld ondraaglik kan maak vir dié om haar.

Die skrywer se liefde vir die Strandveld en sy geskiedenis word só mooi in die storie vervleg, dat jy nie eers agterkom hoeveel jy eintlik leer met haar slim geskiedskrywing terwyl jy die intrige van die storie geniet nie.

Ek was ook nog altyd baie lief vir boeke soos Agaat van Marlene van Niekerk, of Elsa Joubert se Die reise van Isobelle, waar die leser saam met die karakters stap terwyl hulle groei en ouer word. En waarin die oorlewingsdrang van die Afrikaner só goed verwoord word dat jy kan verstaan hoe hulle met ossewaens oor die berge kon trek.

Dit bring ook die gedagte tuis dat trots en klas en hardkoppigheid al soveel mense van geluk en vreugde beroof het.

Hierdie boek staan heeltemal goed op sy eie voete en aan leesgenot is daar beslis geen tekort nie, maar ek glo as die skrywer se ander twee boeke vóór Noorman gelees word, dit sal bydra tot een van die lekkerste leestrio’s in ’n baie lang tyd.

Mag SD Fourie se onblusbare energie en navorsing oor die Strandveld en sy mense, die ingrypende verandering op ’n skeepskaptein of matroos se lewe as hul skip teen die Afrika-kus sink, en hoe drenkelinge se geskiedenis met Afrikane vervleg word, nog vele boeke oplewer.

The post Resensie: <em>Noorman</em> deur SD Fourie appeared first on LitNet.

Lesersindruk: Zwarte Socrates. Gesprekken over recht, tijd en verzoening deur Bert Roermund

$
0
0

Titel: Zwarte Socrates. Gesprekken over recht, tijd en verzoening
Skrywer: Bert van Roermund
Uitgewer: Gompel & Svacina
ISBN: 97894 6371 085 5

Versoening staan sentraal in Zwarte Socrates – die onlangs gepubliseerde boek van die Nederlandse regsfilosoof Bert van Roermund. Van Roermund is emeritus professor aan die Universiteit van Tilburg. Die inhoud van die boek is geput uit gesprekke wat die outeur oor die jare met medewetenskappers gevoer het en uit sy eie internasionale ondersoek na versoening in konflikgebiede. Die boek is egter toeganklik vir ’n breë geïnteresseerde leserspubliek geskryf sonder om in te boet aan diepgang.

Dié fyn balans tussen toeganklikheid en kwaliteit bereik die outeur deur filosofiese vraagstukke rondom versoening aan te sny deur middel van sewe fiktiewe dialoë en daarna twee toesprake. Nege, eweneens fiktiewe, mans en vroue voer die gesprekke met mekaar. Wat die deelnemers met mekaar gemeen het is dat hulle veral uit konflikgebiede kom en wil stilstaan by hulle eie ervarings en wat hulle samelewings deurgemaak het. Die deelnemers word saamgeroep deur Bernard Shabalwa, ’n Suid-Afrikaner na wie die ander as Sokrates verwys. Die ander deelnemers sluit iemand elk uit Israel en Palestina in, onderskeidelik ’n Rwandese Hutu en Tutsi en uit Colombië maak die leser kennis met ’n vredesaktivis en ’n oudrebel van die FARC. Daar is ook ’n tweede Suid-Afrikaner, Anche van Staden, en Oxana Ginszburg uit Rusland. Bernard voer die gesprekke op uiteenlopende plekke in die wêreld, van ’n klaslokaal in Rwanda (13) en ’n gemeenskapsentrum in Israel (67) tot die Walter Sisulu Universiteit in Mthatha (91). Vanweë die dialoogvorm waarin die boek geskryf is, mag Griekeland natuurlik nie ontbreek nie, en daar ontmoet die deelnemers mekaar op ’n Ateense universiteitskampus (111).

Die ryk gesprekke stel die vraag hoe “daders” en “slachtoffers” van politieke en gewelddadige konflik met mekaar kan saamleef. Daar word besin oor die aard van versoening as norm en die voorwaardes wat daarop van toepassing is. Die gesprekke belig sterk die rol van regsordes en geregtigheid in hierdie verband en betrek daarby begrippe soos ubuntu (120), transitional justice (13) en restorative justice (41). Ubuntu as rigsnoer word byvoorbeeld uitgewerk en vorm gegee as ’n soort sielsverbondenheid, maar is gewortel in die harde werklikheid van ons bestaan in teenstelling tot die een of ander paradys wat aan ons voorgehou word. Die bekende Waarheid-en-versoeningskommissie van Suid-Afrika word ook ’n aantal keer betrek deur byvoorbeeld te reflekteer op (regs)herstel (42). Uit die gesprekke word dit duidelik dat alhoewel daar dikwels in postkonflik-scenario’s op juridiese oplossings en institusies gesteun word om verstoorde verhoudings en menswaardigheid te herstel, die soeke na ’n afgewerkte regsorde eintlik nooit voltooi is nie. Tyd as ’n onderliggende faktor kom so na vore met vrae oor die fases en volgorde van versoeningsprosesse (22). Treffend ook in hierdie verband is die uitgebreide besinning oor die strewe dat menseregtevergrype “nooit weer” mag plaasvind nie (26, 162). Hoe kan dit wees dat dié leuse keer op keer weer gehoor moet word? Waarom word “nooit meer” soms “tog weer”?

Soos dit die Sokratiese metode betaam, sal die leser eerder vrae as antwoorde in hierdie werk aantref. Op dié manier word die leser uitgedaag om deel te neem aan die dialoog deur sigself te reflekteer op die opgewerpte vrae. Die leser word as ’t ware die tiende deelnemer. Van groot belang is tegelykertyd die perspektief van die elfde deelnemer aan die dialoë, naamlik Van Roermund. Die outeur geld as ’n outsider; iemand wat nie direk deur die beskrewe situasies geraak is nie. Tog, of juis daarom, laat hierdie afstand hom toe om deurdringende vrae te stel. Vanweë hierdie perspektief is Zwarte Socrates ’n aanwins vir die Suid-Afrikaanse leserspubliek, wat wel deur swaar konflik gevorm is, om fundamenteel na te dink oor reg, tyd en versoening.

The post Lesersindruk: <em>Zwarte Socrates. Gesprekken over recht, tijd en verzoening</em> deur Bert Roermund appeared first on LitNet.

Resensie: Alchemie vn my muse deur Pieter Hugo

$
0
0

Titel: Alchemie van my muse
Skrywer: Pieter Hugo
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781928426738

Ek sit en lees Pieter Hugo se digbundel Alchemie van my muse by 'n backpackers in Wildernis met 'n verstommende uitsig oor die see. Sy gedigte lees ek hardop, verlustig my in die klank van die woorde met die branders as agtergrondmusiek. (Terloops, ek beveel dit sterk aan om gedigte so gereeld as moontlik só te lees – Antjie Krog se mede-wete het ek op Kogelbaai se strand verslind en 'n enkele seemeeu het vir meer as 20 minute saam geluister.)

Die eerste gedig, “Stippeltjie”, begin groots – met die Oerknal – en eindig klein en spesifiek:

en ek besef die magtige Melkweg is
maar een van biljoene ander
sterrestelsels en ons son is
maar een van meer as
200 biljoen sterre in
die Melkweg en
ons aarde net
'n klippie is
waar ek
en jy
bly
.

Brr. Ek kyk op en jou waaragtag, daar is 'n walvis op die horison, seker 'n humpback aan’t reise na warmer waters toe. Oor en oor breek sy stert deur die waters, 'n stippeltjie in die see.

Die bundel word opgedra aan Hugo se “merkwaardige muse”, wat inderdaad merkwaardige inspirasie moes verskaf het vir 'n debuutbundel van soveel tematiese omvang. Die bundel is verdeel in nege dele, elk met min of meer 'n ander tema, en die gedigte daarin varieer telkens van speels tot roerend; soms is hulle snydend (soos waar Hugo 'n stuiwer in die armbeurs gooi oor die Afrikaanse taalstryd in “Ons geliefde taaltjie”), soms hartstogtelik. Ek geniet die intertekstualiteit wat byna onmiddellik verskyn, die verwysing na en gesprekvoering met ander digters, soos in “Afrikaans in die hiernamaals” waarin Van Wyk Louw en Boerneef in die ander wêreld sit en bespiegel oor die heenkome van Afrikaans:

          Nee neef, Lucas skeur toe die lug hierheen. Dis naar,
          sê hy, hoe proffies oor Kampuskaans kan kyf.
          En Karel kom sê in daardie lewe het hy al klaar
          die laaste Afrikaanse boek geskryf.

Die hele bundel is só deurspek met easter eggs ('n verskynsel waarin filmmakers rolprente vol binnegrappe en verwysings na ander films prop, suiwer vir die ontdekkingsgenot van getroue fliekgangers). In “My Beaufort-Wes I: Vir NPvWL” open die gedig met

ek bly daar waar
die laatmiddag nog room word,

en ek voel vlugtig nostalgies na hoërskool-Afrikaansklasse, waar ek Van Wyk Louw se gedig vir die eerste keer teëgekom en liefgekry het. Hugo se liefde en respek vir die kuns van sy voorgangers blyk duidelik in die bundel en ek wonder met tye of die titelmuse nie moontlik die ganse letterkundige oeuvre is nie – al die beiteltjies wat voor hom al skoonheid uit die taal gekap het. Sy gesprekvoering met Gert Vlok Nel veral is aangrypend, onder andere in “Gert”, waarvan 'n vroeëre weergawe in Nuwe stemme 4 verskyn het. Ek lees dié gedig 'n tweede keer hardop, om my opnuut in te leef in die klank en die ritme daarvan.

Gedigte oor die digkuns, gedigte wat speel en eksperimenteer met die vorm en die aard daarvan, word afgewissel met roerend persoonlike oomblikke. Nadat ek “nie pa se gedig nie” ('n gedig juis aan die spreker se pa, en tog ook nie) gelees het, sit ek eers 'n bietjie in stilte. Dis baie mooi. In 'n volgende deel van die bundel verskyn 'n variëteit liefdesgedigte, poësie wat die omvang, die vreugde en die pyn van die liefde breedvoerig verken. Hierdie verkenning beaam die spreker juis in “Al die fasette”, waarin hy verklaar dat hy ál die sye van die liefde wil deurleef, want

          dan eers
          het ek volkome lief

          gehad.

Elders, soos in “eintlik” en “gebedsaak”, speel hy heerlik met die liefdesmetafore, met versreëls soos

          En boonop, as jy dan
          heilig was, sou ek
          jou nie so ongoddelik
          lief kon hê nie, my lief.

Bid jou aan! Ons sou glad
nie so duiwels lekker
saam te gronde kon gaan nie.
                  (Uit “gebedsaak”)

Die voorlaaste gedig, “Kwatryne”, is eintlik ‘n versameling vierreëlgediggies, elk speels, elk eintlik gewigtig:

          Smeer maar dik die marmelade
          ja, smeer maar dik die marmelade.
          Die lewensbrood is bittersoet,
          'n jubeljeremiade.

Dit gaan oor die lewe hier, oor die vreugde en die verwarring daarvan, en die wysheid word met skootjies erns in rympievorm by die leser tuisgebring. Dís hoe die hele bundel my tref: as iets speels en tog gewigtig, as 'n besinning oor die lewe, oor kunstenaarskap, taal, identiteit, liefde, die sin en sinloosheid van bestaan, wat met gelyke mates selfbewustheid en skroomlose intimiteit oorgedra word. Die geheeleffek is soms onewe: die bundel lees nie soos 'n gladde, eenstemmige vertelling waarvan 'n mens die ritme kan leer ken en mee meegesleur kan word nie. Maar die veranderlikheid aan die verse is presies wat dit boeiend en verrassend maak en 'n sjarme aan die bundel verleen. Op elke bladsy kon ek opnuut iets anders vind wat my roer of bewonderend laat stilstaan voor 'n vernuftige stukkie woordspel.

Die bundel eindig op 'n somber noot met “Stil”

die stilste stil is
onder in die kis

maar ná die tyd draal 'n repliek daarop by my, die laaste strofes in “Gert”:

want woestyn is die woord waardeur ons reis
moenie laat jou woorde leeg in jou hand lê nie gert
anyway laasjaar nou die dag eergister
moet jy weer droom dat jy weer in jou eie mooiste woorde woon
soos op die môre van die agste dag

daar kom 'n man daar kom ‘n man
hy is van morrison ja daai een gert die moerse moerige
morrison en
hy sê gert
gert sê hy
the show must go on.

Lees ook:

Skrywersonderhoud: Pieter Hugo oor Alchemie van my muse

The post Resensie: <em>Alchemie vn my muse</em> deur Pieter Hugo appeared first on LitNet.

Viewing all 1801 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>