Afrikaans poems with English translations
Saamgestel deur HP van Coller, Helize van Vuuren en Louise Viljoen
Protea Boekhuis. 2018. Slapband, 311 bladsye. ISBN 978-1-4853-0694-8.
Die internasionale statuur van ’n bepaalde digkuns word nie net gemeet aan die produksie en gehalte van poëtiese tekste in daardie bepaalde letterkunde nie, maar ook aan die aantal wêreldtekste wat danksy vertaling in daardie taal beskikbaar is, en veral – bes moontlik die belangrikste – die sigbaarstelling van daardie taal se digkuns in ánder tale wêreldwyd.
Dit is ’n vry algemene feit dat die Afrikaanse digkuns ver bo die beperkings van ’n beskeie taalgroep te midde van ’n meertalige samelewing aan die suidpunt van Afrika presteer. Daar is immers nie baie digkunste tans wat kan spog met digters van die kaliber van ’n Breyten Breytenbach, Antjie Krog of Marlene van Niekerk nie, en weens die feit dat hul hoogstaande werke danksy vertaling aan ’n groter poësiegemeenskap bekend gestel word, is daar toenemend ’n belangstelling in die breër Afrikaanse lettere. ’n Beduidende aantal digters het reeds voordeel getrek uit hierdie groter ontvanklikheid en het met groot sukses (veral in die Lae Lande) nie net aan literêre feeste deelgeneem nie, maar ook hul werk in vertaling beskikbaar gestel. Hier kan HJ Pieterse, Charl-Pierre Naudé, Diana Ferrus, Ronelda Kamfer en Nathan Trantraal as voorbeelde genoem word.
Sedert demokratisering het daar inmiddels ’n beduidende aantal publikasies met Afrikaanse tekste in (meestal Engelse) vertaling verskyn. So is daar die bloemlesing In a burning sea – contemporary Afrikaans poetry in translation (samesteller: Marlise Joubert, 2015: Protea Boekhuis), Letter to South Africa (samesteller: Marlene van Niekerk, 2011: Umuzi, Absolute Africa (samesteller: Patricia Schonstein, 2018: African Sun Press), en die bygewerkte A new century of South African poetry (redakteur: Michael Chapman, 2018: Ad Donker). Laasgenoemde twee bloemlesings se fokus is wel nie uitsluitlik die Afrikaanse digkuns nie, maar hulle bevat nietemin ’n beduidende aantal Afrikaanse gedigte in Engelse vertaling. Ook in hierdie verband moet die publikasiereeks Imagine Africa (uitgegee deur Archipelago Press) genoem word. Hierdie reeks se oogmerk is by uitstek om die vernaamste eietydse literêre werke vanuit Afrika byeen te bring, en in bykans elke uitgawe pryk daar werke van Afrikaanse skrywers, onder wie ook digters.
![]()
Marlene van Niekerk
Dit is dan teen hierdie agtergrond dat die hersiene, bygewerkte en tydige publikasie van die bykans klassieke bloemlesing Afrikaans poems with English translations beskou moet word. Hierdie bloemlesing, wat oorspronklik in 1962 verskyn het onder redakteurskap van AP Grové en CJD Harvey en uitgegee is deur Oxford University Press, was vir etlike dekades lank die enigste (gepubliseerde) vlagdraer vir die Afrikaanse digkuns wêreldwyd. Met hierdie publikasie is die uitmuntende werk van digters soos NP Van Wyk Louw, Uys Krige, Elisabeth Eybers en DJ Opperman aan ’n groter poësiegemeenskap bekendgestel. Die drukoplaag was egter nie groot nie en spoedig was dié ikoniese bloemlesing onverkrygbaar, en daarom is hierdie heruitgawe van uiterste belang in soverre dit die omvang en gehalte van die Afrikaanse digkuns binne ’n meertalige samelewing bekragtig, sowel plaaslik as internasionaal.
Onder die bekwame redakteurskap van HP van Coller, Helize van Vuuren en Louise Viljoen is daarin geslaag om binne die bestek van 113 goedgekose gedigte ’n totale oorsig te bied vanaf Eugène N Marais se welbekende “Winternag” tot Nathan Trantraal se meer onlangse “Valhalla Park” wat in 2013 verskyn het. Hiermee word die belangrike bloeitydperk in die Afrikaanse digkuns sedert die literêre omwenteling van die 1960’s saam met die meer klassieke periodes in een band byeengebring en dien hierdie publikasie inderdaad as ’n verteenwoordigende en gesaghebbende oorsig van die Afrikaanse digkuns in sy geheel: sowel die verskillende styltendense as die tematiese omvang daarvan.
Die uitgewer, Protea Boekhuis, moet voorwaar gekomplimenteer word vir die keurige wyse waarop hierdie versameling versorg en uitgegee is: gewis is dit ’n pragpublikasie wat die poësie wat op die betrokke bladsye afgedruk is, waardig is. Dit is egter die besluit om die oorspronklike Afrikaanse tekste naas die Engelse vertaling te behou wat Afrikaans poems with English translations die gedurfde publikasie maak wat dit is, omrede dit die meertalige poësieliefhebber in staat stel om beide die oorspronklike gedig en die vertaalde teks na waarde te skat en te geniet. Vir die ingeligte leser is dit baie duidelik dat die samestellers hul paneel vertalers met sorg byeengebring het, en dat waar daar reeds verskillende vertalings van ’n bepaalde gedig bestaan, hulle met kundige oordeel gekies het ten gunste van die vertaling wat uit eie reg as enkelstaande gedig beoordeel kan word, aldus die inleidende redakteursnota:
The translations included in this anthology reflect a variety of approaches to the process of translation, although respect for the source text and the notion of a successful product in the target language, English, were important considerations. [...] All translations were compared with the originals and evaluated as poems in their own right. (bl 11)
By uitstek slaag hierdie versameling daarin om dan juis aan hierdie oogmerk te voldoen. Ten opsigte van die vorige publikasie is die oorspronklike vertalings behou, maar met die vertaling van gedigte wat sedert 1962 verskyn het, is van die mees gerekende en ervare vertalers deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns getaak om bepaalde geïdentifiseerde gedigte te vertaal.
Nog ’n wins is dat etlike gedigte deur die betrokke digter sélf vertaal is, soos (in alfabetiese volgorde): Breyten Breytenbach, Sheila Cussons, Heilna du Plooy, Elisabeth Eybers, Diana Ferrus, Uys Krige, Antjie Krog, Petra Müller, Fanie Olivier, Ina Rousseau, Adam Small, Ernst van Heerden en Marlene van Niekerk. Uit die oorspronklike publikasie is daar die uitmuntende vertalings deur meesters soos Guy Butler, Jack Cope, Anthony Delius, CJD Harvey (veral!) en William Plomer om te geniet. Onder die groep vertalers wat spesifiek vir hierdie publikasie betrek is, kan bekendes soos Charl JF Cilliers, Leon de Kock, Michiel Heyns, Denis Hirson, Karen Press en die Ullyat-egpaar, Tony en Gisela, as hoogtepunte uitgesonder word.
Waar die bloemlesings in vertaling waarna by wyse van inleiding verwys is, telkens ’n bepaalde tematiek of tydsbegrensing as ordeningsprinsipe handhaaf, het Afrikaans poems with English translations dit as enigste oogmerk om so verteenwoordigend van die Afrikaanse digkuns as moontlik te wees en om die totale reikwydte en diepgang daarvan aan die breër taalgemeenskap bekend te stel.
![]()
Nathan Trantraal
Nêrens blyk die besonderse uitdaging wat hierdie benadering aan die betrokke vertaler stel, beter as met die gedig van Nathan Trantraal wat oorspronklik in Kaapse Afrikaans geskryf is nie. Ter illustrasie hoef bloot die eerste strofes vergelyk te word ten einde te besef watter volslae kragtoer die vertaler (Denis Hirson) hier vermag het:
In Afrikaans:
Daas grootmense wat op die sypaadjie sit
en lelik vloek en dominoes speel;
babies wat lelik vloek
en innie middel van die pad speel,
die karre moet rondom hulle ry;
hele families wat langsie straat sit
voo hulle hyse en vir jou kak aankyk
as jy verbystap.
En dan in Hirson se vertaling:
There’s grownups what sits onna pavement
an swear an curse an play dominoes;
babies what swear an curse
and play inna middle a da road
so da cars mus go round em;
whole families sittin by da street
in fronta dey houses and dey eyeball you
when you walk by.
In haar uitmuntende en omvattende bespreking van hierdie bloemlesing op Versindaba maak Zandra Bezuidenhout die volgende uiters belangrike opmerking: “Die argument dat daar altyd iets in ’n vertaling ‘verlore’ gaan, is ’n cliché en na my mening meestal ongeregverdig, want in die hande van ’n bedrewe poësievertaler (soos oral in hierdie antologie) gebeur dit selde of ooit dat kernaspekte van die gedig (inhoudelik, verstegnies en gevoelsmatig) genegeer of verwater word, terwyl daar menigmaal skitterende en toepaslike nuwe vondste in ’n vertaling opduik om aan die essensie van die gedig gestalte te gee.”
En dít is beide die omvang en prestasie van hierdie publikasie: enersyds is daar die bevestiging van dit wat geliefd en bekend is, en andersyds die wonderlike avontuur van nuwe literêre horisonne wat danksy hierdie bloemlesing verken kan word. Boonop is Afrikaans poems with English translations nie net die ideale geskenk vir ’n poësieliefhebber wat nie Afrikaans magtig is nie, maar ook ideaal vir eie leesplesier.
![]()
Antjie Krog
Ter afsluiting: Die Engelse vertaling van Antjie Krog se bekende “Digter wordende” (uit Digter wordende – ’n Keur uit die gedigte van Antjie Krog, 2009: Human & Rousseau) wat deur die digter self vertaal is:
poet becoming
to awake one morning into sound
with the antennae of vowel and consonant and diphthong
to calibrate with delicate care the subtlest
movement of light and loss in sound
to find yourself suddenly kneeling at the audible
palpable outline of a word – searching
for that precise moment in which
a poetic line lights up in sound
when the meaning of a word yields, slips
and then surrenders into tone – from then on
the blood yearns for that infinite pitch of a word
because: the only truth stands skinned in sound
the poet writes with her tongue
yes, she breathes deeply with her ear.
Inderdaad verteenwoordig hierdie Engelse vertalings van bekende en gewaardeerde Afrikaanse gedigte ’n belangrike toevoeging tot die digkuns en verdien dit om as sodanig erken en omarm te word. Dit is byvoorbeeld al gesê dat elke publikasie ’n geloofsdaad is omrede die uitgewer van mening is dat die betrokke publikasie nie net van waarde is nie, maar dat daar ook ’n beduidende mark bestaan waarby die publikasie aanklank sal vind. Des te meer is dit die geval ten opsigte van die digkuns.
Mag hierdie uitmuntende publikasie daarom nié in daardie opsig teleurstel nie.
- Louis Esterhuizen, Stellenbosch
The post <em>Afrikaans poems with English translations</em>, saamgestel deur HP van Coller, Helize van Vuuren en Louise Viljoen: ’n resensie deur Louis Esterhuizen appeared first on LitNet.