Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all 1782 articles
Browse latest View live

Aankoms en vertrek deur Pat Stamatélos: ’n resensie

$
0
0

Titel: Aankoms en vertrek
Skrywer: Pat Stamatélos
Uitgewer: Umuzi
ISBN: 978-1-4152-1020-8

Met romans soos Kroes, Die portier en Pastoor het Pat Stamatélos bewys dat sy ’n besonderse vertelvermoë het. Terselfdertyd skroom sy nie om oor kwessies soos kindermolestering of ’n persoonlikheidsversteuring te skryf nie.

In haar nuwe roman, Aankoms en vertrek, word ’n gewilde onderwerp onder plaaslike fiksieskrywers ondersoek: ’n Suid-Afrikaner keer ná ’n paar jaar in die buiteland terug. Dié keer ná ’n plaaslike moord.

Die roman kan egter nie as misdaad- of spanningsfiksie beskryf word nie. Die klem val eerder op die geheime wat mense met hulle saamdra. Verskeie verhoudings kom onder die loep, wel teen die agtergrond van ’n soeke na antwoorde rakende die moord.

Wanneer haar geliefde Adam, “Die eerste, die enigste, die mooiste. Die pés”, nie tot trou kan kom nie, verlaat Bailey Kellerman die land. In Londen ontmoet sy ’n vuurwarm Fransman met Gucci-skoene. Maar ook Alphonse Chevalier laat haar in die steek.

Wanneer Bailey se ouers vermoor word, plaas haar broer, Zak, druk op haar om terug te keer na Suid-Afrika. Maar sy kom eers maande later huis toe. Zak is briesend omdat sy hul ouers se begrafnis misgeloop het. Hy is egter onbewus van die gebeure wat in sy suster se lewe afspeel.

In Bailey se ouerhuis wag die liewe Temperance, haar tweede ma, haar in. “Tempe” sien steeds na die huis om, maar ook sy dra ’n las. Bailey, onbewus van die huishoudster se probleem, peper haar met vrae. As dit nie die polisie was nie, wie het die een moordenaar in haar ouers se kombuis doodgeskiet? Bailey wonder ook waarom haar pa nie op daardie tragiese nag die kluis oopgesluit het nie. En waar is die sleutel?

Zak deel uiteindelik sy geheim met sy suster. Tempe se wrokkigheid teenoor hom maak dan sin, maar Bailey besef dat sy haar broer nooit werklik geken het nie.

Om haar lewe verder te kompliseer, daag Adam weer op én kom Bailey se persoonlike probleem onder die vergrootglas.

Aankoms en vertrek het twee sterkpunte: die karakterisering en die skep en ontrafeling van ’n hele kraaines kinkels.

Hoewel die Bailey-karakter die enigste een is wat die leser aanvanklik louerig kan laat, ontlok sy tog later empatie, terwyl Adam, Zak, Tempe en selfs die buurvrou dit van die begin af doen. As mens dié karakters teen die lig sou kon hou, blink hulle in verskeie kleure. Elkeen rou op ’n ander manier en hulle boei die leser. Jy sal waarskynlik wonder of Adam, van kindsbeen af seksueel nuuskierig, ’n vrot appel sal word. En sal Zak saam met ander pasiënte wat geestesversteurd is van die gemeenskap afgesonder moet word? Kan Tempe haar nuwe uitdaging te bowe kom? Wat sal met “mevrou Langsaan” gebeur indien sy haar hele sak patats op die tafel sou uitdop?

Nes my aandag wou-wou dwaal, kry die verhaal woema. Die plot verdig. Wat ís in daardie kluis? is die vraag wat toenemend spanning skep.

Die milieuskildering is nie net ’n beskrywing van ruimte nie, dit word funksioneel aangewend en skep inderdaad atmosfeer. Soos hier: “En eensaam, eenkant, staan die ou moerbeiboom soos ’n geraamte. Gestroop van sy breë blare en sappige swart vruggies, maar vol kindergeheime en genietinge.”

Die dialoog vloei natuurlik en is kenmerkend van elke karakter. Enkele kere is die sêgoed minder gepas. Dis te betwyfel of ’n dertigjarige “Ag, bols, man” sal sê of van “oorhoops” sal praat, al hoor hy of sy dit waar en by wie ook al. Hier en daar word die gesels gevolg deur “dink sy” of “sug hy”. Onnodig, want dis duidelik wie wanneer praat.

Raak beskrywings gee insig in verhoudings, soos dié tussen Bailey en Tempe: “Twee verwelkomende arms word na haar (Bailey) uitgesteek en sy loop die vrou tegemoet. Hulle val behoorlik teen mekaar, die vind van mekaar vreugdevol en onverwags. Die ouer vrou se sagte, vol liggaam, haar reuk, die herinneringe, alles is so oorweldigend dat Bailey aan haar vasklou.”

Aankoms en vertrek sou egter by ’n strenger redakteurshand kon gebaat het. In hoofstuk 1 kry ’n te groot deel van die hoofkarakter se kinderjare by wyse van ’n terugflits aandag. Behalwe die inleidende paragrawe lees die hoofstuk soos ’n opsomming. Dis asof die skrywer dié besonderhede ná die eerste skryf van die manuskrip bygevoeg het om die res te regverdig.

Die roman bevat enkele onwaarskynlike gegewens: Sou ’n huishoudster vir sewe maande omsien na ’n huis waarvan die elektrisiteit afgeskakel is? Die wifi sou buitendien af moes gewees het, maar nêrens word na ’n selfoonverbinding of dongle verwys nie. Tog skakel Bailey haar laptop aan en stuur e-posse Londen toe.

Daar is nog onwaarskynlikhede: Sou inwoners van ’n spoghuis ’n buurvrou hê wat in verflenterde pantoffels rondslof en ook hoenders aanhou? Sou die huishoudster self die moordtoneel skoonmaak? Die polisie gee meestal die kontakbesonderhede van professionele skoonmakers aan slagoffers. En hoe kan Adam ook sê dat hy gedink het hy is gay, terwyl daar in die res van die roman nooit sprake van eens ’n kyk na ’n ander seun of man is nie? Adam is trouens van jongs af gaande oor meisies en wil graag later met een trou.

Stamatélos verwys na skryfkompetisies vir joernaliste en gee te kenne dat die wenner finansieel goed beloon word. Feit is: Daar is plaaslik net énkele sulke kompetisies en die wengeld kan inderwaarheid eerder ’n fooitjie genoem word!

Terwyl Aankoms en vertrek oor die algemeen toeganklik is, span Stamatélos ongelukkig soms meer formele woorde soos “inkantasie” en “bonhomie” in. Daarby bevat die teks by tye te veel byvoeglike naamwoorde; nie noodwendig verhelderend nie. Soos hier: “Sy onthou hulle geselsies oor ’n koppie stomende Twinings Tea in ’n Londense tearoom. Hulle het langs groot vensters gesit en buite het grys wolke saamgepak en ’n ligte reëntjie het uitgesak.” Daarby het iemand gereeld ’n glimlag “op die gesig”. Waar anders dan?

’n Cliché het ’n cliché geword omdat dit so gepas is, ja. Maar Aankoms en vertrek – weliswaar nie hogere letterkunde nie, maar nogtans – bevat ’n hele paar. Daar ís boeiender beskrywings van voorkoms as “die mooiste, sagste paar blou oë wat sy nog ooit gesien het” en “warm vol lippe”. Stamatélos weet trouens hoe, soos hier: “Sy lyk behoorlik soos iets uit ’n sci-fi-fliek, die enigste oorlewende ná ’n aardbewing, en Adam die leier van die search party. Sy met die kersblaker en hy met die Hennessy-bottel. Gebreide slaapsokkies aan haar voete [waar anders? - RR], egte leerstewels aan syne. Sy houding half arrogant, haar gesig blink en weerloos.”

Die skrywer lewer reeds deur middel van die moordgebeure kommentaar op die misdaadsituasie in die land. Is dit dus nodig dat Bailey dit aan Tempe hoef uit te spel?

Hoewel Aankoms en vertrek nie dieselfde oemf as Stamatélos se vorige romans het nie, is dit wel die lees werd. Buiten die geloofwaardigheid van die karakters, verras die wendings en ontmoet die verskillende verhaalelemente mekaar op ’n besonderse wyse.

The post <i>Aankoms en vertrek</i> deur Pat Stamatélos: ’n resensie appeared first on LitNet.


Toe-val-lig deur Amore Bekker: Luisteraars se stories boei ook lesers

$
0
0

Titel: Toe-Val-Lig
Skrywer: Amore Bekker
Uitgewer: Tafelberg, 2018
ISBN: 9780624080237

Amore Bekker is een van die gewildste omroepers op RSG en haar uitsaaistyl laat mense voel dat hulle haar persoonlik ken. Soms staan jy verbaas oor hoe openhartig mense met haar praat – asof hulle al jare ou vriende is. Dit laat jou net weer besef hoe nodig ons almal ’n gewillige oor het. Om oor gewone dinge te gesels in ’n wêreld waar die skandalige of opspraakwekkende oor ons lewens regeer.

Hierdie boek is ’n keur van die beste, soms ongelooflike, ware stories van toeval soos wat op Amore se middagprogram Tjailatyd uitgesaai is. Luisteraars van dwarsoor die land deel hul ervaringe van die vreemde toeval wat ons lewens soms so onverklaarbaar kan aanraak. Amore het net minder as 100 van die beste stories uitgesoek vir die samestelling.

Die boek het my verstom laat staan nie net oor hoe die toeval werk nie, maar oor hoe eenders ons almal is – ongeag waar ons woon, hoe oud ons is of wat ons inkomste of omstandighede is. Dit bring gewone mense se stories na ander gewone mense.

Maar dit bring my by die toeval: van Amore se eie verhaal oor die dood van haar kêrel en sy medevlieënier tot die aangrypende storie deur Dana Snyman, waarin sy geliefde oor hom waghou terwyl hy opreis na haar begrafnis; of Martin Tuck wat in die Transkei met ’n stukkende vragmotor gestrand staan en deur ’n vriendelike groep mense gehelp word – in Afrikaans!

Ek hou van Amore se uitkyk op die woord “toevallig”: “toe val lig”. Want die meeste van die stories in die boek gaan oor die mooi in die lewe; dit wat vrede bring aan geliefdes wat iemand verloor het; hoop aan dié wat desperaat of bang was.

Sy skryf in haar voorwoord dat ’n sekere sosioloog se woorde: “Nie alles wat tel, kan getel word nie en nie alles wat getel kan word, tel nie” haar laat besef dat daar perfekte orde in die wêreld is en dat dinge gebeur soos dit moet. En selfs daarin lê daar ’n tipe hoop of sussende wete dat dinge sal uitwerk, al sien ons nie altyd onmiddellik die redes agter sommige gebeure nie.

Toe-Val-Lig is die tipe boek wat jy aan die begin van die jaar vir jou vriendin kan gee of wat voor jou bed kan lê en waaruit jy elke nou en dan ’n kort verhaaltjie voor slaaptyd kan geniet. Die storietjies is maar twee of drie bladsye lank.

  • Die boek is ook as e-boek beskikbaar.

The post <em>Toe-val-lig</em> deur Amore Bekker: Luisteraars se stories boei ook lesers appeared first on LitNet.

Nooit meer slaap nie deur Willem Frederik Hermans: 'n FMR-resensie

$
0
0

Nooit meer slaap nie
Willem Frederik Hermans
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781928426172

’n Resensie deur Danie Botha in Fine Music Radio se Boekkeuse. Uitgesaai op 16 Januarie 2019.

Willem Frederik Hermans se Nooit meer slapen is uit Nederlands vertaal deur Wium van Zyl, ’n kenner van sy werk, en uitgegee deur Naledi as Nooit meer slaap nie. As jy nou ’n roman wil lees oor ongewone gebeurtenisse in wêrelddele wat vir jou minder bekend is, is Nooit meer slaap nie dié boek vir jou. Dis ’n avontuurverhaal uit ’n verre land: Noorweë.

Dit is ’n ek-vertelling deur Alfred, ’n jong Nederlandse navorser in die geologie. In Noorweë werk hy saam met drie ander mans. Hy wil graag kraters ondersoek, dié wat deur meteore geskep is. Hy word gedryf deur ’n sin vir nuwe dade en prestasies. Oorspronklikheid moet vir hom die botoon voer. Dit is in kontras tot sy ma, wat ‘n gesiene essayis is, maar wat talle ander kritici se menings naskryf in haar boekbesprekings.

Maar uit die staanspoor is daar talle spanninge. Botsings met medenavorsers en gesiene professore in geologie. Hulle opponeer hom, maar nie trompop nie. Alfred is egter in staat om uiteindelik motiewe van ander en sy eie motiewe agter te kom. Ook die natuur daag hulle uit.

Op ble 209–10 beskryf hy Noorweë en die bewoners:

Nore, het ek al herhaaldelik opgemerk, is baie versigtig in hul omgang met mekaar. Daar woon vier miljoen Nore in ’n land met ’n oppervlakte tienmaal so groot as Nederland, maar Nederland het drie en ’n half keer soveel inwoners. In Noorweë woon daar elf mense op ’n vierkante kilometer, nie driehonderd-en-sestig soos by ons nie. In so ’n land is dit nog iets besonders as jy ’n ander menslike individu teenkom. Jy bly op drie treë van mekaar staan, maak ’n ligte buiging, glimlag vriendelik, dink intussen: dit kan maklik ‘n struikrower wees, gee mekaar dan hand, vra versigtig hoe sake staan en na die gesondheid.

Nou beskryf Alfred iets van die natuur in Noorweë. “Die nadruklike blou water van die fjord en die ylblou van ’n hemel wat so ver noord skynbaar nie kan waag om regtig blou te wees nie. Die bonkige berge, die speelgoedhuise van die stad.”

Nog iets uit die natuur. Op sy eie probeer ’n baie honger Alfred visvang, maar kry ’n eendjie in sy net. Hy bevry die eendjie, sit hom op ’n kussinkie van mos. “Uiteindelik maak die eendjie sy bek toe. Hy skud sy kop, pik homself op die rug, stryk sy vere glad en skarrel water toe. Sonder sigbare bewegings, asof hy voortgeblaas word soos ’n speelgoedskippie, vaar hy reguit na sy moeder en sy broertjies toe terug.”

’n Laaste natuurtoneel: “In die lug skreeu meeue met koulike stemme.”

Deur die roman heen kom dikwels filosofiese gedagtes voor. Daar word byvoorbeeld bespiegel oor die verloop van die geskiedenis, bedrieërs op alle vlakke van die lewe, en dan ook oor die wese en bestaan van God.

Enkele voorbeelde van beeldspraak wat die aandag trek:

Die stort is ’n harde borsel van water. Ek bly lank staan asof ek op dié manier die hele nuttelose dag van my kan afspoel.

Sy arms is dik en spekkerig soos dié van ‘n harpspeelster.

Hy beskryf sy gevoelens so goed dat jy dit dadelik herken: “’n Verskriklike gevoel van twyfel maak hom van my meester.” En elders: “Daar kom ’n trae, maar ystersterk rustigheid oor my.”

Uit al hierdie aanhalings behoort dit duidelik te wees dat Wium van Zyl se teks hoogs leesbaar is, dat daar ’n stuwing is, dat jy die styl kan bewonder.

Maar nou moet ek ook my teleurstelling oordra.

Wat my werklik ontstel het, is die foutiewe gebruik van aanhalingstekens by dialoog. Ná die laaste woord in die sin sou normaalweg ’n punt kom en dan ’n dubbele aanhalingsteken. Hier kry ons op feitlik elke bladsy: laaste woord, aanhalingsteken en dan ’n punt of komma as die sin byvoorbeeld aanloop. Die ergste is egter: laaste woord, dan uitroepteken, aanhalingsteken en dan punt. Voorbeeld: !’’.

Kommas ontbreek voor en na ‘n aanspreekvorm.

Die voornaamwoord “ek” word voorafgegaan deur ‘n naam en “en”, soos in Engels: “Arne en ek”, in plaas van die so tipiese Afrikaanse gebruik: “ek en Arne”.

 Woorde word verkeerd gespel. Die “nuutste” meervoudsvorm van “telefoon” het my verras: “telefoons”.

Nooit meer slaap nie het ’n baie mooi voorkoms. Dadelik bewonder ’n mens die omslagontwerp deur Johan Koortzen en die drukwerk. Dit word deur Naledi uitgegee met finansiële steun deur die Nederlands Letterenfonds.

The post <i>Nooit meer slaap nie</i> deur Willem Frederik Hermans: 'n FMR-resensie appeared first on LitNet.

Tuin vir Tessa deur Helena Hugo: ’n resensie

$
0
0

’n Tuin vir Tessa
Helena Hugo

Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780624080237

Die boek handel oor die Heyns-familie, Altus en Tessa en hul twee seuns, wat ná ’n plaasaanval die familieplaas verkoop en stad toe trek. Aanvanklik het Altus ’n besigheid wat veevoer en ander boerderybenodigdhede verskaf en begewe hom later ook in in- en uitvoer saam met ’n vennoot, Drikus, wat ook sy beste vriend is.

Die een ramp na die ander tref hom, en sy versekering moet groot bedrae uitbetaal vir skeepsvragte wat óf sink óf besmet is en by doeane afgekeur word. Hy ontdek dan dat Drikus hom besteel. Skuld hoop op nadat hy reeds verbande op sy huis en kleinhoewe geneem het om die besigheid se begroting te laat klop.

Dit gaan só sleg dat die besigheid onder sekwestrasie geplaas word, maar hy skop vas, verkoop sy kleinhoewe en leen nog geld teen hoë rentekoerse.

Tessa is onbewus van die storms om die gesin se koppe. In haar luukse woning met ’n huishoudster en voltydse tuinier leef sy in ’n perfekte borrel. Dis eers nadat sy Altus konfronteer nadat hy haar vra om haar uitgawes effe in te kort dat hy met die hele sak patats vorendag kom: dit gaan sleg. Die fabriek brand af; brandstigting word vermoed. Die versekering wil nie betaal nie en die bank dreig om die huis terug te neem. Nie net sekwestrasie nie, maar ook bankrotskap is sy voorland. Die karre, die huis en die inhoud moet alles opgeveil word om hom uit die tronk te hou.

Die geskinder raak ondraaglik; selfs by die kerk word hulle skeef aangekyk of oordrewe vertroos en Altus se gesondheid gaan vinnig agteruit, weens hartprobleme.

Tessa worstel met haar geloof, sy is kwaad vir Altus, en die kinders is ontevrede omdat hulle alles waaraan hulle gewoond is, gaan verloor.

Toe die gemeente betrokke raak, stroom hulp van alle kant af in en word daar ook vir die gesin gratis huisvesting aangebied, in ’n tuinwoonstel omring deur ’n pragtige tuin. Dit lyk of alles gaan uitwerk.

Helena Hugo is ’n knap en produktiewe woordsmid. Haar radioverhale (drie eerste plekke in die Sanlam/RSG-skryfkompetisie), drama Swane (wat met ’n ATKV-Woordveertjie bekroon is) en die lang lys boeke op haar kerfstok is getuie hiervan.

Ek het regtig ’n groot aanhanger van Hugo se werk geword, juis omdat sy die vermoë het om mense se innerlike wroegings só goed te verwoord. Haar karakters kry ’n lewe tussen die bladsye en dis soos vriende vir wie jy moet koebaai sê as jy die laaste bladsy klaargelees het.

Ek het myself ook al betrap dat ek soms in ’n vlietende oomblik wonder wat van ’n betrokke karakter geword het – net om te besef hulle bestaan nie!

Maar in Tuin vir Tessa het ek kleigetrap om simpatie met Tessa óf haar man te hê. Dis soos daardie Amerikaanse films waar die vrou salig onbewus is van haar man se bedrywighede en net die onnatuurlik hoë leefstyl geniet en heeltemal van die werklikheid verwyder word, omdat daar net te veel geld is. Hul “swaarkry” is vir my net nie geloofwaardig nie.

As jy die Heynse se leefstyl bekyk – die strandhuis van etlike miljoene, die huis van R30 miljoen, die plaas, die kinders se perde, die oordadige juwele en besittings en vele meer, vang jy eerder ’n gly in hulle as mense as om simpatie te hê.

En Tessa se wroeging met haar geloof en die gesin se vrees om kerk toe te gaan oor die gemeente se veroordeling, maar op die ou einde kom “red” daardie einste veroordelaars hulle, hou nie vir my steek nie. Mense hou daarvan om ander wat finansieel beter af is te sien faal: dit laat hulle beter oor hulself voel. “Hoogmoed kom voor die val,” lui die ou spreuk, en in die Heynse se geval is dit regtig in die kol. Veroordeel sal jy word. Maar daardie wonderbaarlike ommeswaai van mense is nie vir my oortuigend nie.

Ek wil my verstout om te sê dat mans in 2018 nie meer net hul sakebedrywighede – of waar die gesin se inkomste vandaan kom – van hul vrouens kan weghou om “haar te beskerm” nie. Of is dit werklik so dat vrouens net trofeevrouens word en nie bevraagteken hoe hulle wederhelfte hulle sente verdien nie?

Is daar nooit ’n oomblik as jy daardie tweede viertrekvoertuig koop of jy R70 000 op jou kredietkaart skuld dat jy wonder hoe jou man dit alleen vermag terwyl jy jou hare of naels laat doen of by Bybelstudiegroepies sit en tee drink nie?

As dit net in my klein wêreldjie is waar vroue vrae vra, dinge bevraagteken en vir hulself dink, is ek die eerste wat sal erken dat ek nie weet waarvan ek in die groter konteks praat nie.

En om jou Persiese matte, oorsese skatte, rekenaars en ontwerpersklere by vriende weg te steek omdat die balju jou huis gaan leegdra, is nie waarlik kaalgestroop en oorbegin nie. Of is dit?

Hugo skryf onder haar erkennings dat geldnood, soos ’n siekte, enigiemand kan tref. Daarmee stem ek heelhartig saam. Maar om te skryf dat kerke se gebedslyste baie “lank en droewig” is met mense wat siek is of geliefdes aan die dood afstaan, en mense soos die Heynse dan ook daar in te sluit, is vir my te dik vir ’n daalder.

Hierdie is nie karakters oor wie ek weer in ’n vlietende oomblik gaan wonder nie.

The post <i>Tuin vir Tessa </i> deur Helena Hugo: ’n resensie appeared first on LitNet.

Die hond wat ophou blaf het deur Jo Nel: ’n FMR-boekresensie

$
0
0

Die hond wat ophou blaf het
Jo Nel
Penguin Random House South Africa
ISBN: 9781415209301

Vir die masochistiese hoendervelvraat wat floreer op vrees en sielkundige rillers wat jou meesleur na ’n nagmerriewêreld wat jou deurnag wakker hou, is hierdie debuutroman soos ’n inspuiting vir ’n dwelmslaaf – seer, maar salig.

In haar resensie (LitNet, 22 Augustus 2018) meld Gerda Taljaard dat daar in die afgelope vyf jaar ’n hele aantal Afrikaanse romans verskyn het waarin ’n hond as “simbool van die skadukant van menswees” aangebied word – in hierdie geval die mens se gewelddadigheid en brutaliteit.

Honde blaf gewoonlik om hul eienaars te waarsku dat alles nie wel is nie én om oortreders te vermaan om nie nader te kom nie. Die romantitel speel dus in op die onheilsgevoel wanneer blaffende honde skielik stilbly en jy angstig wag op iets onaangenaams en ongewens wat gaan gebeur. Dit herinner egter ook aan die bekende spreekwoord “Blaffende honde byt nie”, wat dan wel mag impliseer dat honde wat ophou blaf, wél byt … en waarskynlik baie seer sal byt.

Benewens die titel is die voorbladillustrasie van ’n boek dikwels ook ’n aanduiding van wat die leser te wagte mag wees. Die voor- en agterblad van hierdie roman bevat wasige beelde van die voor- en agteraansig van ’n kopbeen, wat waarskynlik eerder na die waarskuwingsimbool op gevaarlike kragdrade heenwys as om bloot op die dood of moord te sinspeel. Waar die tande moet wees, sien ons ’n tandarts se ondersoekspieëltjie met daarop die weerkaatsing van ’n priemende, indringende tandartsoog wat waarskynlik verrotting en infeksie vermoed.

Die skrywer, Jo Nel, is inderdaad ’n tandarts wat onder meer in Port Elizabeth en die eertydse Transkei gepraktiseer het. In ’n onderhoud met Cornelle Carstens (Mossel Bay Advertiser, 30 Junie 2018) erken hy dan ook: “Ek het skaamteloos uit my eie lewe geleen.” Hy ken dus die gemoed van ’n tandarts en het ervaring van pasiënte se fobies en vrese aangaande sy beroep. Dit help hom dan om die hoofkarakter se verskuilde aggressie oortuigend te laat klink en dien terselfdertyd as afstandskeppende tegniek om die leser se empatie van hom te weerhou. Trouens, sy beskrywing van die gefrustreerde tandarts se sadistiese hallusinasies herinner sterk aan die sadistiese tandetrekker in die bekende musiekblyspel en fliek van die tagtigs, Little shop of horrors.

Nel plaas die verhaalgebeure in ’n ruimte wat hy deeglik ken, en dit is een van die sterkste pluspunte van hierdie roman. Met die verwysings na plekke en straatname slaag hy daarin om ’n effens vervalle Port Elizabeth waarheidsgetrou te beskryf en terselfdertyd ’n atmosfeer van swakverbloemde onderliggende ongemak te skep. Maar dit is sy intieme kennis van die oënskynlike ongereptheid van die Transkeise Wildekus wat meesterlik aangewend word as senutergende spanningselement. Die malse groen heuwels word mettertyd karbonkels van broeiende onheil en die landelike grondpaaie word verlammende struikelblokke in die wedloop om oorlewing. Pretensielose backpackers en sjokoladedoos-natuurtonele word merkers op die metaforiese smal pad van verraad en onteenseglike ontnugtering.

Die hoofkarakter, Izak Hugo, is ’n onvergenoegde en lewensmoeë tandarts wat nie van kinders, Angus Buchan en poedels hou nie en ’n knaende vermoede koester dat sy lewe meer betekenisvol behoort te wees. Op die verjaardagpartytjie van Annemarie, sy psigiatervriend Johan Malherbe se kil vrou, lig Monet, haar bedorwe Franse poedel, sy been teen Izak se voet. ’n Hoogs geïrriteerde Izak stamp die klein wit hondjie só geniepsig opsy dat hy saggies tjank. Nadat Izak seker maak dat niemand dit gesien het nie, verduur hy die volgende twee uur van vervelige werkspraatjies met die een drankie na die ander.

Die volgende oggend besef ’n geskokte Izak dat hy niks van die vorige aand kan onthou nie. Hy gaan na sy Bantambakkie in die toegesluite woonstelgarage om te kyk of die bottel Wolftrap nog daarin is, en ontdek dan Monet se verwurgde liggaampie in ’n swart sak agterin die bakkie. Dan word ’n hond wat letterlik ophou blaf die katalisator vir ’n reeks intriges wat Izak én die meelewende leser aan hul eie oordeel en begrip laat twyfel. En daarmee begin die proses van geestelike aftakeling en vervreemding so eie aan die sielkundige riller - of in hierdie geval dalk eerder ’n sielkundige “griller”.

Izak bieg teenoor twee van die min vriende wat hy tydens sy agt jaar in PE gemaak het, Dirk Derksen (’n skaamtelose maar eerlike smous en rokjagter met toutjieshare en ’n ongure woordeskat) en Johan (die selfversekerde en gesondheidsbewuste psigiater en sorgsame pa van ’n veeleisende tweeling) oor sy “episodes” van totale geheueverlies en sy vermoede dat hy dalk ’n hondemoordenaar is. Terselfdertyd begin die skadelose (volgens ’n ander karakter “patetiese”) Izak ontstellende drogbeelde sien. Die tonele waarin hy magtelose pasiënte soos die oorgewig meneer Draghoender vasgespe om hul tande sonder verdowing te trek, openbaar ’n onderdrukte aggressie en wraaklus wat hom én die leser laat vermoed dat hy dalk wel tot koelbloedige moord in staat mag wees wanneer ’n oormaat van drank of susmiddels sy selfbeheersing laat knak.

Hoewel die gebruik om kinders en jeugdiges as antagoniste in te span redelik algemeen in films voorkom, is dit hier ’n vars en erg onthutsende spanningstegniek wat behendig deur Nel aangewend word om selfs die parate leser onkant te vang. Aanvanklik treiter die kinders Izak op ’n speelse, koggelende manier deur klappers wat soos geweerskote klap in sy woonstel te gooi, maar namate die verhaal ontvou, verander hulle in groteske metafore vir die onderskatte mag van die jeug in ’n land soos Suid-Afrika, sowel as van die argetipiese slagoffers van ’n stryd wat inderwaarheid nie hulle s’n behoort te wees nie.

Oor die knapbeplande intrige kan ek nie veel sê sonder om die klimaks te verklap nie. Wat die ander aspekte betref, verdien die aweregse onderbeklemtoning en skalkse galgehumor beslis eervolle vermelding. Wanneer Johan byvoorbeeld neerhalend na Izak se verweerde Bantambakkie verwys, sê Izak: “Dis voorbehoeding teen geskeide Millpark-tannies”, en wanneer sy skouer onbeholpe teen die preutse Annemarie stamp, besef hy hy “kan nooit die afstand van ’n drukkie akkuraat skat nie”. Die aanwending van tipies Afrikaanse humor sorg vir heelwat leespret, byvoorbeeld die beskrywing van Izak se ontvangsdame, Magda, se rok “met blokkiespatrone in skakerings van vaalblou, soos ’n verbleikte Hartenbos ATKV-gordyn” en die Malherbe-tweeling se bakleiery in die kar, waartydens hul ma “in ’n stem wat effens hoër as gewoonlik is”, kerm: “Johan! Jaco het vir Sussie gespoeg. Wil jy nie asseblief ietsie sê nie?”

Maar nouja, ’n resensent wat sy naam gestand wil doen, moet seker minstens een “resentment” opper, en hier volg my goedbedoelde kritiek: ’n Goeie skrywer moet ’n meestermanipuleerder wees wat sy leser ongemerk beïnvloed om van die onderskeie karakters te hou al dan nie. Die klem is hier op “ongemerk”. Sodra ’n leser vermoed sy mening word námens hom gevorm, verloor hy die genotvolle en onontbeerlike “aha-ervaring” van selfontdekking wat hom slim, selfvoldaan en leesbevredig laat voel. Nel laat nog te opmerklik deurskemer hoe hy as skrywer oor sy karakters voel en daardeur laat hy deurskemer wie die skurk in die verhaal gaan wees. Taljaard reken in haar bogenoemde resensie dan ook heeltemal tereg dat die “fyn leser” vroeg reeds sal weet wie “die Boss” oftewel die meesterskurk is.

Tog vermoed ek daarteenoor dat die opregte skrikslawe hul nogtans willens en wetens sal onderwerp aan die sogenaamde vrywillige opheffing van ongeloof om saam met Izak Hugo te wroeg en te wriemel om te ontsnap uit die maalkolk van misdaad en misleiding en hul uiteindelik te verlustig in die verrassende ontknoping en die ekstase van “Uitgevang, jou gemene, geslepe gemors!”

  • FMR Boekkeuse word elke derde Woensdag van die maand van 12h00 tot 13h00 aangebied. Amanda Botha is die redakteur/aanbieder. Hierdie resensie is op Woensdag 16 Januarie 2019 uitgesaai.

Die hond wat ophou blaf het deur Jo Nel: ’n resensie

The post <em>Die hond wat ophou blaf het</em> deur Jo Nel: ’n FMR-boekresensie appeared first on LitNet.

Briewe uit Brielshoop deur Helene Olivier: ’n resensie

$
0
0

Briewe uit Brielshoop
Helene Olivier
Protea Boekhuis
ISBN: 9781485309710

Die briefroman is ’n ou en gerespekteerde subgenre. Die brief as sodanig word as ’n besondere soort teks beskou en wel op grond van minstens twee stelle redes.

Enersyds vertoon briewe dikwels ’n bepaalde tematiek, soos om onder meer oor persoonlike ervarings van eensaamheid, liefde, identiteit en beproewing te skryf, hetsy in vreugde of in smart, hetsy direk of in herinnering. Dikwels kom die wyer agtergrond waarteen die briewe geskryf word ter sprake omdat die briefskrywer slagoffer van of deelnemer is aan politieke en sosiale gebeure. Briewe kan vanselfsprekend óf as deel van ’n briefwisseling óf as eensydige briewe aangebied word. Beroemde briefwisselings is byvoorbeeld die briewe tussen Abelard en Heloise (wat in Afrikaans bekend geword het veral in die verwysings in die poësie van NP Van Wyk Louw en Sheila Cussons), maar daar is ook die bekende briewe van Marianna van Alcoforado (ook bekend as die briewe van die Portugese non) aan haar ontroue geliefde waar die antwoordbriewe van die aangesprokene ontbreek.

Andersyds word die brief gekenmerk deur bepaalde stilistiese eienskappe, byvoorbeeld dat die vertellende stem, wat as fokalisator en verteller funksioneer, dominant is. Dit kan aan die brief besondere outentisiteit verleen, maar dit kan ook wees dat in veral fiksionele briefromans die skrywer juis belangrike inligting verswyg of verdoesel en eintlik die ontvanger van die brief bedrieg. Die rol van die ontvanger of aangesprokene in die brief is ook baie belangrik as ’n “narratee”, want die ontvanger medebepaal wat geskryf word. Die brief is immers die een kant van ’n gesprek en die skrywer wil aan ’n spesifieke persoon inligting oordra. Die ander boeiende aspek van die briefliteratuur is dat in briewe wat oor ’n langer tydperk geskryf is, ’n verhaal ontvou, maar die leser moet self die verhaal konstrueer, omdat dit saamgestel moet word uit los opmerkings, verwysings na insidente, beskrywings van plekke en ervarings en die uiteensetting van opvattings en sienings wat op uiteenliggende plekke in die teks voorkom. Die verband tussen die los dele moet dus deur die leser self gevind word of gerekonstrueer word en so is ’n indirek vertelde verhaal interessant om te lees.

Die briefroman was veral in die 18de eeu baie gewild, met byvoorbeeld Samuel Richardson se Pamela en Goethe se Die Leiden des jungen Werthers as van die bekendstes. Pierre Choderlos de Laclos se Les Liaisons dangereuses uit 1782 het met die verfilming daarvan ’n aantal jaar gelede ook weer nuwe lewe gekry. Hierdie briefroman is ’n uiters boeiende teks wat die briefformaat so suksesvol benut dat die leser nie kan ophou lees nie. Die briefroman word steeds beoefen juis omdat dit sulke interessante vertelmoontlikhede bied.  Saul Bellow se Herzog kom dadelik in die gedagte op, asook Etienne Leroux se 18-44, wat ’n besonder vindingryke bewerking van die generiese eienskappe van die briefroman is.

Briewe uit Brielshoop van Helene Olivier word eksplisiet as ’n briefroman aangebied. Die roman in sy geheel bestaan uit die briewe wat Henna skryf aan haar vriendin Ida. Die agterliggende verhaal/verhale moet dus uit hierdie eensydige kommunikasie afgelei word.

Juis wanneer Henna se man, Stone, dit oorweeg om ’n stukkie grond aan te koop, erf Henna ’n familieplaas. Omdat Stone as ginekoloog baie besig is, moet Henna die projek om die verwaarloosde eiendom te probeer heropbou, bestuur. In die briewe aan Ida beskryf sy wat hierdie taak alles behels: al die komplikasies in die praktyk van die boerdery en in menseverhoudinge wat oor haar pad kom. Sy is ’n vaardige briefskrywer – eintlik ’n vaardige skrywer, want die briewe word klein vertellings, met dialoog en vermaaklike uitbeelding van ander karakters en situasies. Tussendeur bespiegel sy oor waar sy in hierdie tafereel inpas, waar sy en haar mense in die land inpas, waar die mens uiteindelik in die heelal inpas – as daar van pas of inpas gepraat kan word, bygesê. Want Henna is haar baie bewus van die onsekerhede en onkenbaarhede van die werklikheid waarin sy leef en ook waaruit sy kom en sy gaan die lewe nie met sekerhede tegemoet nie, maar juis ondersoekend.

Die roman bevat inderdaad die meeste van die tiperende eienskappe van briefliteratuur. Soos soveel briefskrywers deur die eeue is Henna se briefskrywery ’n manier om haar alleenheid, selfs eensaamheid, op te hef, om uit te reik na ’n simpatieke en bekende oor. Henna is dikwels alleen of eensaam en voel meermale oorweldig deur die verantwoordelikhede van die plaas. Wanneer haar man wel op die toneel verskyn, is hy simpatiek en help hy haar en staan haar ook moreel by, maar hy is besig met belangrike dinge, wat maak dat sy nie op te veel aandag aandring nie. Sy gaan dus moedig voort, en spot ‘n bietjie met haarself en haar gebrek aan kennis en haar onvermoë. Hierdie selfrelativering is ’n terapeutiese handeling, ’n beskerming teen harder werklikhede waarvoor sy sou kon terugdeins, maar eintlik is sy dapper sonder om ’n drama daarvan te maak.

Uiteraard speel die liefde deurlopend ’n rol, want Henna is uiters bewus van verhoudinge. Haar verhouding met haar man is kompleks – nie ongesond nie, maar gewis nie koesterend in die gewone sin van die woord nie. Sy lewer hom egter nooit uit nie, selfs nie aan haar vertroude vriendin nie, maar die sensitiewe leser vang die ylheid van haar stem plek-plek weldeeglik op.

Die belangrikste eienskap van hierdie briewe is die soeke na identiteit. Dit kom na vore in die oorkoepelende verhaal waarin die ongelukkige verhouding met haar ma (“ek en my ma [was] eintlik nooit nabymense nie”, bl 10) en haar familie die bepalende rol speel. Die dramatiese gegewens wat aan die einde van die roman na vore kom, vorm dan ook die hoogtepunt van hierdie soeke na identiteit. Tegnies, dws in die vertelling self, word die identiteitsoeke vir my baie sterk geïllustreer deur die verskillende name waarmee Henna haarself benoem aan die einde van elke brief. Soms is sy selfrelativerend en noem sy haarself Henna Kermkous, maar sy is ook Henna Moerig of Henna Bullebak. Sy beskryf haar aktiwiteite as sy haarself Henna Beesbevrugter of Henna Hooimied noem. Maar dis byna asof die name op sigself ’n storie vertel: sy skram byvoorbeeld weg van emosie en noem haarself in die brief oor haar ma se begrafnis objektiverend Henna Begrafnisganger, terwyl sy oor haarself dink as Henna Weeskind; sy is soms Henna Huilman in die woesteny en Henna op haar knieë, en dan weer Henna Wolkekyker en Henna Gevurkte tong.

Hierdie wisselende name is tekenend van Henna se onsekerhede oor haar identiteit, en dit is asof sy aan die einde van elke brief moet nadink oor wie en wat sy is en in watter hoedanigheid sy die betrokke brief geskryf het. Hieruit kom die beeld na vore van ’n sensitiewe en denkende skrywende vrou en dit sluit aan by haar manier om deurlopend met verwysings na die letterkunde haar nadenke te illustreer. Henna is ’n belese vrou wat dink oor wat sy lees en wat sy ervaar en wat ervaring en lees bymekaarbring in haar briewe.

Ook die tydperk waarin die briewe geskryf is, speel ’n groot rol, want Henna staan nie los van haar politieke en sosiale omgewing nie. Op dié manier kom ’n hele stuk geskiedenis vanuit die perspektief van ’n intelligente maar gewone vrou na vore. Veral interessant is die verhoudinge op die plaas en die verhale van die werksmense saam met wie sy werk. Henna lei ’n lewe wat tegelyk dikwels eensaam en intens vervleg is met die lewens van ander mense, haar familie, haar werksmense, die dorpsmense en die land se mense.

’n Integrale deel van hierdie roman is die aangesprokene in die briewe, die een aan wie se adres die briewe gerig is. Soms reageer die skrywer selfs op ’n opmerking in die korrespondent se (afwesige) brief en stem saam of verdedig haarself ’n bietjie teen kommentaar of kritiek. Maar dit is ook duidelik dat die ontvanger van die briewe ’n geesgenoot is, iemand op wie die bespiegelinge en die literêre verwysings nie verlore sal wees nie. Die toonaard van die briewe is vertroulik, maar nie oorfamiliêr of kletserig nie. Die briefskrywer skryf eintlik klein essays gerig aan iemand wat die gevarieerde en vermaaklike maar ook selfopenbarende inhoud en trant van die briewe kan waardeer. Die briefskrywer weet ook dat haar briefvriendin die spel met name en die selfspot en die onderbeklemtoning sal verstaan en geniet.

Die filosofiese uitweidings oor godsdiens en die lewe self is van so ’n aard dat hoewel dit nie aardskuddend en baanbrekend is nie, dit ’n goeie beeld gee van ’n denkende vrou, wel in uitsonderlike omstandighede, maar nie iemand wat haarself sou uitgee vir die grootste wysgeer nie. Dit is toeganklik en waarskynlik verteenwoordigend van baie tydgenootlike vroue wat ’n gewone lewe verryk het deur hulle gedagtewêreld uit te dy. 

Soos vroeër genoem, is die bepalende eienskap van briefliteratuur die dominante stem en gesigspunt van die skrywersinstansie. Die outentisiteit van ’n brief lê daarin opgesluit. Hierdie briewe word aangebied asof dit outentieke briewe is, briewe wat nie ’n spel speel met ’n leser nie, maar gerig is aan ’n geesgenoot en lank-vertroude vriendin. Die moontlikheid van werklike outobiografiese briewe kan hier selfs nie uitgesluit word nie, en mense wat die skrywer ken, sal waarskynlik weet of die briewe spontaan geskryf is en outobiografies is. Desnieteenstaande vermoed ek ook dat daar by die briewe bygefiksionaliseer is met veranderinge van name van plekke en mense en van praktiese omstandighede. Die vervaging van inligting is ook duidelik uit die feit dat die leser nêrens ’n aanduiding kry van waar Brielshoop is nie; nie eers in watter streek van die land nie. Maar wat opval, is die sterk outentieke kleur in die briewe, en dit verklaar ook die spesifieke struktuur van die teks.

Groot dele van die briewe word opgeneem deur inligting oor die boerdery, die probleme, die gesukkel, die struikelblokke, die droogte, die veesiektes, die onderhandeling rondom die boerdery. In die middeldeel van die roman oorheers hierdie onderwerp die briewe en dit laat die teks narratief gesproke ’n bietjie trek. Dit het my laat begin voel dit is ’n dissertasie oor boerdery en die teisteringe daaraan verbonde. Vanuit ’n romanmatige oogpunt sou mens kon verwag het dat die deurlopende lyn wat op die dramatiese slotinligting uitloop, sterker aangesny en onder die aandag gehou sou gewees het. Daar word wel enkele kere verwys na die vreemde atmosfeer en mistieke aanvoeling wat Henna by die ou opstal ervaar, maar dan is daar ’n groot deel van die teks waarin hierdie suggesties op die agtergrond raak. Narratief gesproke sou die basiese verhaallyn dus hier en daar opgehaal kon gewees het om die leser deur die boerderybeskrywings te dra, om as ’t ware die narratiewe tempo of energie te stimuleer, om die verhalende spanning te behou.

Maar omdat die briewe so sterk persoonlik en eg vertoon, is dit asof ek aangevoel het om nie te sterk literêre maatstawwe aan te lê nie, maar liewer die briewe te waardeer vir wat hulle is. Daar is die essayistiese en sprankelende styl in beskrywings en teenoormekaarplasings van mense en gebeure, en hoewel die verhalende gegewens verskuil is, onder meer omdat die ontvanger van die briewe veronderstel is om bepaalde aspekte van die agtergrond van die briefskrywer te ken, is dit wel daar, en as leser het ek dit dan ook gevind. Die briefskrywer ontdek trouens self met verloop van tyd haar eie geskiedenis en die leser deel in hierdie proses. Die subtiliteit van die beskikbaarstel van inligting in uiteenliggende briewe is ook meestal aantreklik en boeiend. En uiteindelik kristalliseer daar ’n aangrypende verhaallyn uit wat die leser dan terugskouend kan gebruik en op die briewe kan terugprojekteer. Daaruit kan die leser verstaan waar die huiweringe, die moed en dapperheid, die brooshede en verwarrings van die briefskrywer vandaan kom.

Briewe uit Brielshoop is ’n geslaagde briefroman, ongeag of die briewe aanvanklik as gewone briewe geskryf is of nie. Die seleksie en redigering van die briewe lei daartoe dat die teks uiteindelik ’n volwaardige briefroman is waaruit baie lesers veel vreugde sal put: uit elke brief se vindingryke styl en inhoud en uit die ontwikkeling van ’n verhaal in die geheel van die teks.

The post <i>Briewe uit Brielshoop</i> deur Helene Olivier: ’n resensie appeared first on LitNet.

Die Uile vlieg weer deur Cor Dirks: ’n jonglesersindruk

$
0
0

Die Uile vlieg weer
Cor Dirks
Protea Boekhuis
ISBN: 9781485306313

Cor Dirks was die skrywer van 'n paar reekse gewilde boeke oor Die Uile, Die Otters en Joof. Kinders het veral Die Uile-reeks baie geniet.

Die Uile-reeks vir seuns is ’n paar maal herdruk. Hierin is vyf skoolseuns in ’n bende en beleef verskeie avonture. Die seuns van die bende is Philip die leier, die slim Jorsie, die ronde Vaatjie, die sportiewe Berrie en die hakkelende Hennie, andersins bekend as die Groot Uil, sy adjudant en drie manskappe, en hulle is verbind tot reg en geregtigheid. Hulle bly op die dorpie Kranskop. Die laaste boek, Die Uile vlieg weer, het in 1990 verskyn. Hierin kom die kinders van die Uile bymekaar en volg in hulle pa’s se voetspore. Die Uile vlieg weer is ’n paar jaar ná die oorspronklike Uile-reeks geskryf.

In Die Uile vlieg weer gaan Philip Senekal hoërskool toe op Kranskop. Dit is sy pa se ou skool en hy weet al soveel van die koshuis en die omgewing dat hy uitsien na die avonture wat op hom wag. Maar eers moet hy ook ’n Uile-bende stig. Sy pa was mos darem die Groot Uil van die beroemde Uile-bende. Hy is uitgeknip sy pa se seun. Groot is sy verbasing toe hy sy kamermaat ontmoet – ene Jorsie Neethling, seun van ’n ou vriend van sy pa. Een ná die ander kom die seuns van die Uile op Kranskop aan. Uiteindelik is die bende weer voltallig!

Die boek is interessant en lees maklik. Ek dink kinders, veral seuns, sal baie van Die Uile vlieg weer hou, want dit gaan oor ’n bende wat so pas hul hoërskoolloopbaan in Hoërskool Kranskop begin en gaan probeer om in hul pa’s se spore te volg en ook ’n Uile-bende te stig net soos in die ou dae.

Aan die begin van 2011 het Protea Boekhuis weer Die Uile-reeks begin uitgee:

Die Uile van Kranskop (1950)

Die Uile en die rampokkers (1950)

Breuk onder die Uile (1953)

Die Uile in die wildtuin (1954)

Die Uile in die Kalahari (1956)

Teen die einde van volgende jaar behoort die reeks volledig te wees vir die lesers van die 21ste eeu:

Die Uile en die verlore stad (1957)

Die Uile langs die Limpopo (1958)

Die Uile by die see (1959)

Die Uile in die wapad (1961)

Die Uile in die stad (1962).

Cor Dirks was ook ’n skrywer van ernstiger speurverhale, soos As die galg dreig en Arendnes se moordenaar.

Justus Cornelias Dirks is in 1911 op ’n plaas naby Volksrust gebore. Hy was vanaf 1934 in die onderwys en het in 1973 sy loopbaan afgesluit as hoof van Linden Hoërskool in Johannesburg. Hy was getroud met Elsje van Niekerk en hulle het twee kinders. Hy is in 2000 oorlede.

The post <em>Die Uile vlieg weer</em> deur Cor Dirks: ’n jonglesersindruk appeared first on LitNet.

Die troebel tyd deur Ingrid Winterbach: ’n resensie

$
0
0

Die troebel tyd
Ingrid Winterbach
Human & Rousseau
ISBN: 9780798177665

Ingrid Winterbach se heel eerste roman, Klaaglied vir Koos (1984), begin met die volgende sin: “Buite skop ek die tuinhek eers van binne af oop, dat hy ver verby sy normale swaai swáái, en toe skop ek hom van die ander kant af terug, dat sy skarniere ingee.” Winterbach se nuutste roman, Die troebel tyd, begin met soortgelyke woedende gedrag deur ’n vrou, Magrieta Prinsloo. Magrieta ondervind ’n vreemde sielkundige sensasie: “Daar styg ’n energie op vanaf haar kont tot haar kroon.” Sy snou haar departementshoof (sy is ’n dierkundige en hoof van ’n laboratorium by ’n akademiese instelling) allerlei toe en bedank haar werk nadat sy al haar skepe en brûe daar verbrand het.

Aspekte van omtrent al Winterbach se romans kan teruggevind word in Die troebel tyd. Die mens se verhouding met toeval (of bestendigheid) is byvoorbeeld weer eens ’n prominente tema, soos in Die boek van toeval en toeverlaat. Magrieta Prinsloo se ondersoek na die evolusie van erdwurms herinner aan die hoofkarakter van Karolina Ferreira se navorsing oor die mot. Magrieta se frustrasie en onvergenoegdheid beteken egter dat Die troebel tyd veral nou skakel met die woedende en sensuele vertellers van Klaaglied vir Koos en Winterbach se tweede roman, Erf.

In ’n onderhoud met Louise Viljoen (http://nb.bookslive.co.za/blog/2012/10/19/louise-viljoen-gesels-met-ingrid-winterbach-by-die-bekendstelling-van-die-aanspraak-van-lewende-wesens) by die bekendstelling van Die aanspraak van lewende wesens in 2012 het Winterbach gespekuleer dat sy, noudat sy weer in Stellenbosch woon ná jare in Durban, sal terugkeer na die “fynbostema” van haar sogenaamde fynbostrilogie, Klaaglied vir Koos, Erf en Belemmering. In Die troebel tyd, met sy Stellenbosse milieu,

word daar inderdaad na die toon, motiewe en temas van hierdie trilogie teruggekeer.

Een van hierdie temas is die etiese verantwoordelikheid (al dan nie) wat middelklas mense het teenoor ekonomies agtergeblewenes en veral hawelose mense. Die rede vir die verkenning van hierdie tema in Winterbach se romans wat in Stellenbosch afspeel, is waarskynlik die ekstreme ekonomiese ongelykheid in hierdie dorp. In Klaaglied vir Koos en Erf worstel die wit, middelklas, vroulike hoofkarakters met hoe hulle moet reageer op hawelose karakters wat eise teenoor hulle maak. Hulle oorweeg dit om self hulle bevoorregting agter te laat en by die haweloses aan te sluit. In Die troebel tyd kom Magrieta in die wingerde naby haar huis waar sy met haar hond stap, ’n vrou teë wat moontlik gelees kan word as ’n vergestalting van Klaaglied vir Koos en Erf se hoofkarakters wat besluit het om wel tot aksie oor te gaan en hulle gesinne en huise agter te laat.

Die troebel tyd gun die leser nie enige klaarheid oor of die vrou in die wingerd se optrede korrek is nie. Soos in al Winterbach se romans is die onvaspenbaarheid van betekenis nie net ’n eienskap van die verhaal nie, maar ook ʼn tema. Nadat Magrieta haar werk by die universiteit verlaat, aanvaar sy ’n werk by die geheimsinnige Buro vir Voortgesette Onderrig, wat behels dat sy met “agente” moet skakel en by verskeie raaiselagtige gebeure betrokke raak. Magrieta sukkel om sin van hierdie “web van verbande” te maak, en aangesien die roman begin met haar klaarblyklike senu-ineenstorting, is dit selfs moontlik om sommige van die gebeure as paranoïese verdraaiings te interpreteer.

Die opregte speurtog na antwoorde wat gerelativeer word deur ’n uitdruklike erkenning van hoe moeilik die vind van sulke antwoorde is, word in die roman self in terme van literêre tendense gesitueer wanneer Magrieta ’n gesprek voer met agent Green oor “New Sincerity”. New Sincerity is ’n estetiese beweging waarin daar wegbeweeg word van die sinisme en ironie van die postmodernisme. Terwyl die “nuwe” opregte kunstenaars die waarde van die postmodernisme se verkenning van die beperkings van finale waarhede erken, probeer hulle nietemin om die risiko van mislukking op hulself te neem en waarhede na te jaag. Die beweging word veral met die Amerikaanse skrywer David Foster Wallace se werk geassosieer, en hy het self ook oor die onderwerp geskryf in die opstel “E Unibus Pluram: Television and US Fiction”. In Afrikaanse letterkundige kringe word dieselfde tendens veral onder die vaandel van die “metamodernisme” bespreek (sien byvoorbeeld https://repository.nwu.ac.za/handle/10394/31580 en https://www.sun.ac.za/english/Inaugurallectures/Inaugural%20lectures/InauguralLectureProfAndriesVisagie.pdf).

Terwyl omtrent al Winterbach se werk as voorbeelde van “new sincere” of metamodernistiese (oftewel protometamodernistiese, in die geval van haar vroeër werk) tekste beskou kan word, en omtrent nooit aan die lesers die antwoorde verskaf waarop hulle hoop nie, het onder andere Karolina Ferreira, Niggie en Die aanspraak van lewende wesens sterker verhaalstrukture waardeur lesers meegevoer word. Lesers wat hierdie aspekte geniet, sal moontlik minder beïndruk wees deur Die troebel tyd, maar ek verwelkom die terugkeer van die “pynlik opregte” fynbosstem en Winterbach se raak beskrywings van ervarings. Soos die bogenoemde “kont tot [...] kroon”-aanhaling aandui, is dié stem ook humoristies. ’n Vaardigheid waarvoor Winterbach nie genoeg erkenning kry nie, is haar besonder akkurate weergee van Afrikaanse dialoog. Die uitdrukking “fok sê die bok”, wat baie snaaks is, word wel ’n paar keer te veel herhaal.

The post <em>Die troebel tyd</em> deur Ingrid Winterbach: ’n resensie appeared first on LitNet.


Kraak deur Rouxnette Meiring: ’n resensie

$
0
0

Kraak
Rouxnette Meiring
Tafelberg
ISBN: 9780624085317

Fantasie, eers die stiefkind van die Afrikaanse letterkunde, beleef deesdae ’n oplewing. Die kritiese sukses van Carina Stander se Die Bergengel het reeds bewys dat daar wel ’n aptyt vir goeie fantasie onder Afrikaanse lesers is, en daar is hoop dat uitgewers WF- en fantasieverhale meer en meer aanneemlik sal vind.

Die jongste bydrae tot hierdie groeiende genre is Rouxnette Meiring se Kraak, ’n toekomsfantasie wat by veral jong volwasse lesers aanklank sal vind. Kraak is die eerste boek in die IIHui !Gaeb-reeks.

Kraak speel af in die jaar 2315. Die aksie begin in IIHui !Gaeb,’n tegnologies gevorderde stad aan die suidpunt van Chinafrika. IIHui !Gaeb, oftewel Kaapstad in ’n nuwe, futuristiese baadjie, is ’n veilige hawe in ’n onstabiele vasteland. Hier word inwoners deur ’n virtuele koepel teen die ekologiese en menslike gevare van die buitewêreld beskerm, en toegang tot die stad word streng beheer.

Dit is egter gou duidelik dat alles nie pluis is in hierdie paradys nie. Die meeste van die stad se volwasse bevolking ly aan ’n vreemde slaapsiekte (hulle is lewend, maar is in ’n diep slaap vasgevang, soos die karakter Eri in Haruki Murakami se After dark). Boonop doen daar gerugte die ronde dat die koepel aan die kraak is.

Kara, Amber, Kaleb en Mohlomi, ’n groep IIHui !Gaebse weeskinders wat hulle ouers aan die slaap afgestaan het, ontvang ’n kriptiese opdrag van die geheimsinnige Sophia: Hulle moet die koepelstad verlaat en noord trek na Egipte. Daar sal hulle die oplossing tot die raaisel van hulle ouers se siekte vind.

So begin ’n reis wat ons jong karakters van die suidpunt van Afrika tot by Egipte se piramides sal lei.

Soos Carina Stander se Die Bergengel, is Kraak deels reisroman, deels bildungsroman. Vir veral die hoofkarakter, Kara, is die reis deur die distopiese Afrika-landskap ook ’n reis na binne. Soos die tog haar al hoe verder van die veiligheid van IIHui !Gaeb se koepel neem, moet Kara gewigtige kwessies soos die verlies van ’n ouer en onbeantwoorde eerste liefde konfronteer.

Meiring se uitbeelding van ‘n toekomstige Afrika is vernuwend. Kraak vermeng fantastiese elemente soos meerminne, “aliens” en mensvretende visse met die mistieke, Egiptiese mitologie en die tegnologiese aspekte van wetenskapfiksie.

Meiring voltooi tans ’n doktorsgraad in omgewingsopvoedkunde, en haar belangstelling in die verhouding tussen die mens en die natuur blyk duidelik in Kraak. Die verhaal ondersoek onder meer die langtermyneffek van klimaatsverandering en ander ekologiese rampe, asook interessante aspekte van beide menslike en niemenslike evolusie.

In die 24ste eeu is reuse-mantiskrewe bedrywig op land en het visse ’n smaak vir mensvleis. Ook die mens het op verskillende maniere ontwikkel om aan te pas by die omgewing, soos die bysiende molmense van Subsiber-Amerika wat hulle na ’n virtuele wêreld onttrek, die meermin-viswesens wat telepaties kan kommunikeer, en die goddelike (moontlik ruimte-) wesens van Lug-Eurasië. Die roman verwys ook vlugtig na ’n uiteindelike transformasie wat sal lei tot ’n “gebalanseerde” mens wat haar volle potensiaal bereik het, iets wat moontlik later in die reeks aangespreek sal word.

Alhoewel Kraak ’n jeugroman is, sal volwasse aanhangers van wetenskapfiksie en fantasie beslis ook die verhaal geniet.

Die roman bevat baie enigmatiese elemente en nuutskeppinge wat eers vreemd voorkom. Dit neem byvoorbeeld ’n bietjie naslaanwerk om uit te vind hoe ver ’n “chi” nou regtig is. (Meiring verwys moontlik hier na die Chinese chi of voet, wat een derde van ’n meter is); en dat “kayo” bloot “okay” is, met die lettergrepe omgeruil. Soos die leser mettertyd gewoond raak aan hierdie nuwe wêreld se manier van praat en doen, loop dinge egter meer vlot.

Lesers kan ook uitsien na die tweede boek in die IIHui !Gaeb-reeks, Snak.

The post <i>Kraak</i> deur Rouxnette Meiring: ’n resensie appeared first on LitNet.

Emily Hobhouse, geliefde verraaier deur Elsabé Brits: ’n lesersindruk

$
0
0

Lesersindrukke is bydraes van lesers wat uit eie beweging hul indrukke van boeke aan die LitNet-redaksie gestuur het.

Emily Hobhouse, geliefde verraaier
Elsabé Brits
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 978-0-624-07574-5

Hierdie boek deur Elsabé Brits is ’n geskenk aan almal wat in geskiedenis en merkwaardige mense belangstel. Geliefde verraaier is ’n niefiksieboek wat oor Emily Hobhouse se lewe handel.

Dié boek is nie net iets vir die brein nie, maar ook iets vir die oog. Die hele ontwerp van die boek is ’n kunswerk. ’n Pragtige en roerende voorbladillustrasie van Emily wat versier is met Emily se handtekening lei daartoe dat die lesers ’n persoonlike verhouding met haar ontwikkel, asof sy ook medeskrywer is. Emily was ’n geliefde mens vir almal wat sy gehelp of ondersteun het. Haar doen en late was egter in stryd met die Britse regering se beleid. Brits maak van ’n literêre stylmiddel (oksimoron) in die boek se titel gebruik om dié ambivalensie in die lewe van die hoofkarakter te suggereer. Dit is geniaal. Dan maak ’n mens die boek oop en ’n mens betree Emily se wêreld. Die hele boek is vol foto’s van Emily, van mense wat op daardie stadium belangrik was, van historiese plekke, briewe, handgeskrewe notas, en Emily se waterverfskilderye. As agtergrond vir die geskrewe teks is in baie gevalle ’n foto, ’n brief of ’n gedeelte van ’n waterverfskildery gebruik. Dis ongelooflik mooi en ’n mens besef dadelik die groot liefde vir besonderhede. Elke bladsy is ’n ontdekkingsreis en ’n mens word hartlik genooi om deel te neem.

Die boek begin met die kort hoofstuk “Aanloop”, waarin Brits vertel hoe haar belangstelling in Emily Hobhouse ontwikkel het en hoe sy by haar storie uitgekom het. Sy het Jennifer Hobhouse Balme, Emily se broer se kleindogter, ontdek en haar toe op Vancouver-eiland gaan besoek. Dié ontmoeting het nuwe deure vir Brits geopen en sy kon aan die hand van briewe, plakboeke, dagboeke, dokumente en foto’s, nogal ’n afskrif van Emily se onvoltooide outobiografie, nuwe insigte in Emily se lewe bekom. “Dis ’n ongekende, intieme blik op die ware Emily” (10).

Emily Hobhouse is op 9 April 1860 gebore as die vyfde van ses oorlewende kinders van Reginald Hobhouse, aartsdeken van Bodmin, en sy vrou Caroline. Sy en haar susters het tuisonderrig ontvang deur ’n goewernante. Om naaldwerk te doen, te sing, klavier te speel en selfs Frans te praat was vir haar nie genoeg nie. Niemand kon haar vertel wat sy wou weet nie. Sy self druk dit só uit: “Ek is jaloers op die seuns en die spesiale leermeesters wat hulle het, mense wie se brein hulle mag tap” (17). ’n Mens leer haar as ’n weetgierige mens ken.

Toe begin sy welsynswerk in Engeland en sy gaan Amerika toe om die Cornwalliese mynwerkers by te staan. Dis fassinerend om te lees hoe sy met £200, wat sy onder die inwoners insamel, ’n biblioteek begin, ’n ontspanningssaal open, ’n kerkkoor en Sondagskool stig. Al hou die dorpsmense van Emily, is daar botsings met mense in magsposisies. “Oor opvoeding en mense se toegang tot kennis sal sy haar nie laat voorsê nie, daaroor voel sy te sterk” (32). James McGonicle, predikant van die Episkopale Kerk, begin in die kerk teen haar preek. John Carr Jackson, ’n tydgenoot, is nou ’n onverwagse ondersteuner van Emily se werk en raak betrokke by haar biblioteekkomitee. Hulle sien mekaar gereeld en Emily raak verlief op hom. Sy is baie gelukkig en belowe om met John te trou. Hoe hartseer is dit om te moet lees dat John Emily waarskynlik finansieel misbruik het.

Nadat sy weer terug is by die huis, en drie weke nadat die Anglo-Boereoorlog uitgebreek het, word die South African Conciliation Committee in Engeland gestig en Emily word die eresekretaris van die komitee se vrouetak. Om besware teen die oorlog te propageer, gaan Emily saam met David Lloyd George na Liskeard om ’n vergadering by te woon. “Dit was die begin van die einde van baie van Emily se vriendskappe. Ná dié dag, in hierdie saal in Julie 1900, het van haar naaste vriende en familie haar verwerp” (45). Maar Emily het ’n visie. “En dit is om dáár te wees – in Suid-Afrika. Om daar ’n verskil te maak” (47). Sy beplan om ’n fonds te stig – die South Africa Women and Children Distress Fund. Nadat sy £300 vir haar fonds ingesamel het, vertrek sy op 7 Desember na die Kaap en sy begin ook “die taal” aanleer. ’n Paar dae ná Kersdag 1900 hoor sy van 4 000 vroue en kinders in ’n kamp in Johannesburg en mense vertel haar dat nóg 600 plaashuise die afgelope week afgebrand is. In Engeland het sy niks gehoor van die bestaan van sulke kampe nie. Sy skryf aan sir Alfred Milner en kry kans om met hom te praat. Milner erken dat die verskroeide-aarde-beleid ’n fout was. Later kry sy toestemming om na die Vrystaat te reis – maar sy mag nie verder noord as Bloemfontein gaan nie.

Op 24 Januarie 1901 kom sy in Bloemfontein aan met “ses ton klere en ses ton kos” (54). Sy gaan praat met die vroue. “Dit is verhale van verlies, blootstelling, hongersnood, siekte, pyn en verlange” (59). Emily raak uitgeput van die emosionele druk. Sy gee verder aandag aan konsentrasiekampe vir swart mense, wat daartoe lei dat haar briewe gesensor word en sy verbied word om groot kampe te besoek.

Emily is op 24 Mei 1901 weer terug in Engeland. Sy begin om politici te nader. Die meeste mense wil glad nie luister nie. In die geval van sir Henry Campbell-Bannerman, leier van die Liberale Party-opposisie, kry sy egter die indruk “dat hy alles moontlik sal doen om by die waarheid uit te kom” (85) ná sy uitlating: “When is a war not a war? When it is carried on by methods of barbarism in South Africa” (85).

Op 18 Junie 1901 verskyn Emily se verslag wat in die parlement versprei word en ’n skokgolf veroorsaak. Ná sy in Engeland 26 toesprake in vier weke gehou het, maak sy planne om weer Suid-Afrika toe te gaan. Sy word egter verbied om na die kampe te gaan. Dié taak word ’n Vrouekommissie opgelê.

Die leser moet hom of haar telkens afvra waar al die vrou se krag en energie vandaan kom. Wanneer sy nie besig was om geld in te samel of siekes te besoek nie, was sy óf besig om afsprake met mense te reël, óf sy het reëlings vir nuwe reise getref.

Na al dié worsteling is die leser verlig om by hoofstuk 7 uit te kom: “Emily wás reg” (103). Uiteindelik het die harde waarheid tot die Britse regering deurgedring en het hulle besef “dat die konsentrasiekampe nie is wat hulle – die politici en die offisiere – voorgee dit is nie” (104). “Uiteindelik het ongeveer 30 000 wit mense en vermoedelik 25 000 swart mense tydens die oorlog in onderskeidelik 50 en 64 tentkampe gesterf” (107).

Nadat Engeland en die Boererepublieke vrede gesluit het, reis Emily deur die land en besoek plase. Sy beplan ’n nuwe projek: spin-en-weef-skole in Suid-Afrika. Emily is bedrywig, adverteer haar projek en kry dit reg dat die regering betrokke raak deur tussen £4 000 en £5 000 aan skole te bewillig. 1905 is die eerste spin-en-weef-skool op Philippolis gestig en in 1907 is daar spin-en-weef-skole oral in die land te vinde.

As ’n “agent vir vrede” reis Emily tydens die Eerste Wêreldoorlog na België en Duitsland. Dat sy tydens die oorlogstyd in die vyand se gebied was en met ’n hooggeplaaste Duitse amptenaar gepraat het, maak dat mense dink dat sy haar land verraai het. Lord Leonard Courtney betoog dat sy inligting probeer kry het om internasionale vrede te probeer bewerkstellig. Emily het dit so gestel: “Ek het doodeenvoudig en openlik Duitsland toe gegaan, sonder om ’n wet te oortree. Ek het met ’n ‘humanitêre paspoort’ onder my eie naam en ter wille van die waarheid, vrede en menslikheid gereis ...” (262). In Leipzig, Duitsland, was 11 000 kinders deel van die voedingskema waarvoor sy ’n ongelooflike £49 000 ingesamel het. Dit het 5,5 miljoen maaltye beteken.

Siektes en haar uitputtende leefstyl maak haar broos. Haar energie is op. Sy sterf op 8 Junie 1926 in Londen. Sy word veras en haar laaste reis is die pad na Bloemfontein. Daar het sy op 26 Oktober aan die voet van die Vrouemonument haar laaste rus gevind.

Emily Hobhouse was ’n sterk vrou met ’n groot hart. Sy het plekke besoek waarin baie mense glad nie sou wou beland nie. Sy het sterk gevoel oor omgee en hulpverlening ten spyte van wette, oorlog of enige persoon in ’n magsposisie se besluit. Emily was altyd net aan mense se kant. Sy het so baie ellende gesien en sy wou mense se nood verlig. Emily het in onmenslike tye menslik gebly, wat as ’n rolmodel vir ons almal kan dien. Sy was ’n geskenk aan die mensdom.

Ek wil graag alle belangstellendes aanraai om hierdie boek te lees. Dié boek is 950 gram feite oor Emily se lewe; ’n lewe met groot opoffering en ware simpatie vir mense.

Die boek het ook in Engels verskyn, as Emily Hobhouse – Beloved Traitor.

The post <i>Emily Hobhouse, geliefde verraaier</i> deur Elsabé Brits: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.

Nooit meer slapen deur Willem Frederik Hermans is in Afrikaanse vertaling ’n groot leesavontuur

$
0
0

Nooit meer slaap nie
Willem Frederik Hermans, vertaal deur Wium van Zyl
Naledi
ISBN: 9781928426172

Duisende Suid-Afrikaanse universiteitstudente wat die vak Afrikaans en Nederlands in die sewentiger-, tagtiger- en negentigerjare geloop het, ken die roman Nooit meer slapen van Willem Frederik Hermans. Hy is een van die belangrikste Nederlandse prosaskrywers van die periode na die Tweede Wêreldoorlog.

Laat in die sewentigerjare gee Human & Rousseau Nooit meer slapen binne sy Literatuur van die Lae Lande-reeks uit, met ’n inleiding in Afrikaans. Dekades vóór, maar ook ná die millennium kon die boek dus vryelik in Suid-Afrika gekoop, gelees en voorgeskryf word.

Vandag is die roman steeds gewild onder jong lesers in Nederland, veral leerders op hoërskool wat boeke vir hul Nederlandse literatuurlys moet kies. In 2017 is ’n Engelse verfilming van die boek onder die titel Beyond sleep vrygestel. En nou is hierdie immergroen meesterstuk ook in Afrikaans beskikbaar, onder die titel Nooit meer slaap nie. Die boek is reeds in 14 tale vertaal, onder meer in Chinees.

Die Afrikaanse vertaling word uitgegee deur Naledi. Die vertaler is Wium van Zyl, ’n Afrikaanssprekende Neerlandikus wat sy proefskrif aan WF Hermans gewy het.

Met ’n redelik goeie kennis van Nederlands kon ek as leser groot plesier put uit die manier waarop Van Zyl oplossings vind vir half-onvertaalbare Nederlandse woorde of sinskonstruksies. Dikwels kies hy juis ’n eenvoudige of effe plat Afrikaanse uitdrukking, wat binne die konteks ’n treffende vertaling oplewer. Die Afrikaanse leser mis min van wat in die oorspronklike Nederlandse teks gestel of geïmpliseer word.

Hoe belangrik Nooit meer slapen steeds geag word, meer as 50 jaar na sy verskyning in 1966, blyk uit die feit dat die Nederlandse Wikipedia ’n aparte, uitvoerige inskrywing daaraan wy. Hier kon ek iets lees waarvan ek as dosent destyds nie bewus was nie, naamlik dat die roman gebaseer is op drie studietogte te voet wat Hermans in 1961 met drie Noorse vakgenote in die onherbergsame Lapland onderneem het.

Hermans was opgelei as geoloog, word later ’n dosent in geologie aan die Rijksuniversiteit Groningen, en het die gebied Finnmark, binne die poolsirkel geleë, dus uit geologiese belangstelling bewandel en persoonlik beleef.

Indien ’n leser dié kennis het, verkry die roman ’n outobiografiese aspek. Soos sy swaarbeproefde held in Nooit meer slapen, die 25-jarige geologiestudent Alfred Issendorf, het ook Hermans blykbaar gesukkel om met sy drie stapgenote – drie “stoere Vikings” in die taal van die roman – tred te hou. Hy het selfs geval in die ruwe terrein waarop sy Noorse vakgenote veel beter voorbereid was as hy.

Met ’n oog wat speur na verdere outobiografiese konneksies kan ’n mens ook ’n ander verband tussen Nooit meer slapen en Hermans se eie lewenservaringe sien, of versin.

Die roman is in een opsig ’n aanslag op ongerymdhede binne die universiteitswese, die wêreld van kompeterende professore met groot mag oor hul kompeterende studente. Die weë van ’n universiteit word skepties en pessimisties voorgestel, op ’n manier eie aan Hermans se skryfkuns.

Alfred Issendorf wil graag ’n proefskrif skryf wat met ’n cum laude beloon sal word en wat sal lei tot ’n professoraat in die geologie. So sal hy genoeg status verwerf om onder meer te kan reken op die gewilligheid van ’n aantreklike vriendin van sy suster Eva om met hom te trou.

Hermans vermy seksuele skaamteloosheid in sy verhale, anders as sommige van sy mederomanskrywers in die na-oorlogse periode in Nederland. Maar daar is genoeg subtiele aanduidings in Nooit meer slapen dat Alfred se gefrustreerde behoefte aan liefde en seks deel vorm van sy tekort en ontberinge in Finnmark.

Nooit meer slapen is nie volledig gespeen van ruwe seksuele uitlatings nie. Een van Alfred se stapgenote, die “stoere Viking” Qvigstadt, verlustig hom by geleentheid in growwe, selfs pervers-seksuele opmerkings. Vergelyk dit met Alfred se skroomvallige benadering tot sy droommeisie. Hy hoop om ’n vriendin van sy suster – dus geen wilde seksuele prooi soos dié waarvan Qvigstad droom nie – in te palm met die aansien en veiligheid wat ’n suksesvolle akademikus kan bied. Hierdie argeloosheid laat mens besef dat Alfred in meer as een opsig te kort skiet binne die groter soektog, die kweeste, waaraan hy hom in Finnmark waag.

Met ’n geslaagde proefskrif gevolg deur ’n professoraat sal Alfred ook sy moeder gelukkig maak, omdat hy sy vader se tragiese ongeluk en dood daarmee sal vergoed. Die brief waarin sy vader tot professor bevorder is, het aangekom op feitlik dieselfde dag waarop hy hom tydens ’n wetenskaplike ekspedisie in die Alpe doodgeval het. Hierdie ramp het ’n gat in sy vrou se siel geopen wat gevul kon word slegs indien haar seun die lewensdoel van sy vader – naamlik sukses en eer as navorser wat met ’n professoraat beloon word – kon verwesenlik.

Afgesien van sy swaar rugsak en ander pakkasie struikel Alfred ook nog met die geestelike gewig van sy dooie vader op sy rug oor die bedrieglike landskap van Finnmark. So kry die verhaal iets van ’n Oedipus-aksent.

Alfred se emosionele, liggaamlike en sosiale verhoudinge, sy eerherstel van die vaderfiguur in sy familie, sy geluk, sy hele toekoms, hang van sy lotgevalle in Finnmark af.

Die belangrikste struikelblok in sy weg is die manier waarop hy deur twee professore vir die gek gehou word. Sy promotor in Nederland, professor Sibbelee, wil Alfred gebruik, eintlik misbruik, om sy drogteorie oor meteoorkraters in Finnmark te toets. Alfred se proefskrif is uit die staanspoor deur Sibbelee se vergesogte hipotese gedoem.

Veel kon Alfred gespaar gebly het indien die 84-jarige professor Nummedal in Oslo aan hom die beloofde lugfoto's beskikbaar gestel het. Met dié lugfoto's sou Alfred vroeg reeds besef het dat sy soektog na meteoorgate hopeloos was; ’n verskriklike, lewensgevaarlike gejaag agter skimme. Die muskiete wat hom in Finnmark genadeloos byt, herinner hom soos klein duiweltjies voortdurend aan die verdoemenis waaraan hy hom oorgegee het.

Dit is in die roman duidelik dat Nummedal op 84 nog halsstarrig aan sy professoraat kleef en dat hy nie terugdeins vir optrede of versuim wat sy eie, Noorse promovendi sal bevoordeel en ’n kollega in Nederland sal ondermyn nie.

Met sy uitgesproke minagting vir Nederland as ’n land wat geologies gesproke eintlik onder die see hoort, en sy ophemeling van sy eie vaderland as ’n geologiese wonder, wil Nummedal miskien ook verhoed dat ’n buitelander, en dít nogal ’n jong Nederlandse snuiter, enige noemenswaardige geologiese ontdekking in Noorweë maak.

Verskeie apologetiese verbygangers in die roman openbaar ’n Noorse minderwaardigheidskompleks. Die roman speel blykbaar af in die vroeë sestigerjare, dit wil sê in die tyd toe Hermans dit geskryf het. Dit was die tyd vóór 1969 toe Noorweë vir die eerste keer ryk oliebronne binne sy gebiedswaters ontdek het, iets wat van hom later een van die rykste en mees ontwikkelde lande in die wêreld, en ook ’n benydenswaardige welvaartstaat, sou help maak.

Die apologetiese toon van Noorweërs wat Alfred vir ’n Engelsman of Amerikaner aansien, is vandag skaars denkbaar. Maar in die eerste helfte van die sestigerjare konfronteer dit Alfred met faktore waarvan hy, vóór sy vertrek na Noorweë, nie die vaagste idee gehad het nie. Die beroemde professor Nummedal lei Alfred blykbaar weens ’n kompleks van gevoelighede en taktiese oorwegings aan die neus. Alfred is immers die knoeiende Nederlander, professor Sibbelee, se Nederlandse student, en die prikkelbaarheid van Noorweë word gewek. Die implikasie vir die arme Alfred is dat hy ten slotte sonder die onontbeerlike lugfoto's na Finnmark moet vertrek.

Die roman straal hiermee ’n gevoel van wantroue en vyandigheid teenoor die weë van ’n universiteit en sy magsfigure uit. Alfred is as ek-verteller ook die fokaliseerder. Hy sien en ervaar waarvan hy vertel. Die leser voel gevolglik geskok oor die manier waarop hy deur die twee professore beduiwel word. Isolasie, onkunde en paranoia kenmerk sy toestand as universiteitstudent. Alfred dink by geleentheid aan sy vriend Diederik Geelhoed wat graag uitgevaar het teen die “intellektuele bedrog” wat professore pleeg. Geelhoed het aan ’n universiteit as ’n “geheime vennootskap van komediante” gedink.

Hou hierdie voorstelling verband met Hermans se ongelukkige loopbaan by die Rijksuniversiteit Groningen, waar hy in 1971 van pligsversuim aangekla is en in 1973 uit ergernis ontslag aangevra het? Nooit meer slapen het vyf jaar voor 1971 verskyn. Maar die boek het nogtans iets outobiografies in soverre dit Hermans se swart siening van die universiteitswese weerspieel.

As provokatiewe korrelkop wat hom onder meer verset het teen die progressiewe politieke gees in Nederland in die jare ‘60 tot ’80 van die vorige eeu, daag WF Hermans in 1983 in Suid-Afrika op, die gas van Koos Human van Human & Rousseau Uitgewers. Die besoek vind plaas in weerwil van die kultuurboikot wat die VVO (vandag die VN) teen Suid-Afrika ingestel het en wat in Nederland algemeen ondersteun is. Hermans bied onder meer ’n lesing oor Nooit meer slapen voor my tweedejaarstudente in Stellenbosch aan.

Wat ek van dié lesing onthou, is dat Hermans in die eenvoudigste terme, op ’n besonder minsame manier, met die tweedejaars gepraat het, nadat ek in die voorafgaande lesse my bes probeer het om te verduidelik hoe donker en ingewikkeld sy roman is.

In Grahamstad het André P Brink, in sy hoedanigheid as medeberoemde skrywer, en as die plaaslike professor in Afrikaans, dit glo goed gevind om die woonbuurt vir swart inwoners aan Hermans te gaan wys. Hermans was nie met afgryse vervul soos waarskynlik van hom verwag is nie, maar het agterna slegs gepraat van die “niet-rijke huisjes”, glo veel beter as die krotte van Suid-Amerika.

Sedert Suid-Afrikaanse studente in die sewentigerjare en daarna met WF Hermans se werk kennis gemaak het, het verskeie verhandelings en artikels oor sy werk in skriftelike vorm verskyn. Maar ook die internet is vandag gevul met tekste wat nuwe insig in Nooit meer slapen bied. Met Wium van Zyl se Afrikaanse vertaling nou beskikbaar, kan die ou Suid-Afrikaanse lesers uit die vorige eeu die boek gerus weer lees, saam met nuwe jong lesers wat dit ’n spannende boek sal vind, ’n boek wat mens nie maklik neersit nie.

Ek het altyd gedink dat Hermans groot begrip en simpatie toon vir die kwesbare, swaarbeproefde jongmense wat hy as helde of heldinne in sommige romans ten tonele voer, vanaf sy eerste groot roman, De tranen de acacia’s (1949), tot by ’n roman soos Au Pair (1989).

Is die arme Alfred Issendorf die totaal onskuldige slagoffer van die professore met hul boosaardige swart togas? Daar is op die internet argumente te vind dat Alfred sy stapgenoot Arne vermoor het om ’n mededinger uit te skakel, en dat hy dus nie ’n volledig betroubare ek-verteller is soos wat ’n mens geneig is om te dink nie. Google gerus.

Indien daar sprake van ’n onbetroubare ek-verteller sou wees – iets waarvan ek nie 100% oortuig is nie – is Nooit meer slapen ’n roman wat homself dekonstrueer en wat met jou aannames as leser speel. Die inligting, toeligting en kommentare op die internet verryk in elk geval die Afrikaanse vertaling en help om ’n groot leesavontuur daarvan te maak.

The post <em>Nooit meer slapen</em> deur Willem Frederik Hermans is in Afrikaanse vertaling ’n groot leesavontuur appeared first on LitNet.

Terroris of vryheidsvegter?: ʼn Resensie

$
0
0

Titel: Wit terroriste
Skrywer:  Albert Blake
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624081586

Nie baie lank gelede nie was daar ʼn tyd toe baie Afrikaners terroriste was. So skryf Albert Blake op die skutblad van sy boek Wit terroriste met die subtitel “Afrikaner-saboteurs in die Ossewabrandwag”.

Vir baie Afrikaners klink ʼn stelling soos dié seker alte vergesog. Terrorisme is immers iets wat die meeste Afrikaners vereenselwig met organisasies soos die ANC, Swapo en buitelandse terreurorganisasies soos Al Qaeda of Boko Haram. Beslis nie Afrikaners nie.

Blake maak korte mette in sy boek met hierdie wanpersepsie. Daar was inderdaad nie so lank gelede nie ook wit terroriste. En dit sluit nie net linkses soos John Harris in wat in 1965 gehang is nadat hy ʼn bom in die Johannesburgse stasie laat ontplof het nie, maar ook talle stoere Afrikaners.

Die lang lys Afrikaanse terroriste aan die regterkant van die politieke spektrum laat jou na jou asem snak met die lees van Blake se boek. Baie van hulle het later belangrike posisies in die Suid-Afrikaanse samelewing beklee en gesiene akademici en selfs regters geword. Ander het in die niet verdwyn.

Wat baie mense dikwels vergeet, en waaraan Blake die leser meesterlik herinner, is die stokou waarheid dat die een se terroris die volgende persoon se vryheidsvegter is.

In Wit terroriste word die mite die nek in geslaan dat Afrikaners aanspraak kan maak op die hoë morele grond wanneer dit oor ʼn volk se vryheidstrewe gaan.

Die parallelle tussen die Afrikaner se strewe om bevry te word van Britse oorheersing en die bevrydingsbewegings van swart Suid-Afrikaners om van wit oorheersing bevry te word, gaan nie ongesien verby in Blake se boek nie.

Tereg wys Blake daarop dat dit histories gevaarlik is om parallelle tussen die bewegings te trek, aangesien hulle om uiteenlopende redes ontstaan het wat nie noodwendig algemeen geldend is nie. Maar soos wat hy in sy voorwoord opmerk, is ʼn beheerde vergelyking tussen die wit en swart bewegings inderdaad insiggewend en terselfdertyd ontnugterend.

Afrikaners verwys vandag nog afkeurend na die terreurdade wat tydens die apartheidsjare deur die ANC en ander organisasies gepleeg is. Te maklik word daar vergeet van die terreurdade wat in die naam van vryheid deur Afrikaners gepleeg is tydens die oorlogsjare van die 1940’s.

Omdat die Afrikaner na 1948 die oorwinnaar was, en soos oorwinnaars maar altyd maak, grootliks hulle eie geskiedenis dikteer het, is min Afrikaners bewus gemaak van die donker kant wat daar ook by die Afrikaner was om sy vryheidstrewe te verwesenlik.

Met sy deeglike navorsing en boeiende skryfstyl slaag Blake daarin om ʼn spieël voor die Afrikaners te hou. Hy het diep in die argiewe gaan delf om hierdie stuk geskiedenis uit die Afrikaner se verlede sonder enige vooroordele aan te bied.

Die lys Afrikaners wat destyds betrokke was by die pleeg van terreurdade lees byna soos ʼn Who’s Who en wemel van bekende name.

Daar is al baie geskryf oor organisasies soos die Ossewabrandwag (OB) en hulle meer militante vleuel, die Stormjaers. Gewoonlik is dit met ʼn spesifieke bril gedoen. Aan die een kant word die OB dikwels voorgehou as ʼn kwasi-Nazi-organisasie wat geen goed gedoen het nie, aan die ander kant as ʼn suiwer kultuurorganisasie wat geen bloed aan sy hande gehad het nie. Die waarheid lê iewers tussenin.

Die resultaat van Blake se intensiewe navorsing is vol verrassings. Veral diegene wat nostalgies terugverlang na “die goeie ou dae” kan gerus daarvan kennis neem hoe naby Suid-Afrika aan ʼn moontlike  bloedbad was. As dit nie vir leiers aan beide kante van die politieke spektrum was wat onder moeilike omstandighede koelkop gebly het nie, kon sake lelik skeefgeloop het.

Net soos wat die ANC vandag hulle ondermynende terreurdade regverdig, het ook baie Afrikaners wat tydens die oorlogsjare aan sabotasie en terreur deelgeneem het, hulle ondermynende optrede later jare steeds regverdig. En net soos wat die struggle-helde teen apartheid deur die meeste van hulle volgelinge as helde vereer word, het waarskynlik die meeste Afrikaners ook ʼn patriotiese heldeverering gehad vir diegene wat soms roekeloos en op onverantwoordelike maniere die Afrikaner se stryd gevoer het.

Blake se verhaal is eie aan die Afrikaner. Broedertwis, tweedrag en verraad loop soos ʼn goue draad deur die Afrikaner se geskiedenis. Daar was ook sluipmoorde, en selfs sluipmoordplanne om Jan Smuts te vermoor. Blake som dit raak op wanneer hy sê die tragedie van ons land se geskiedenis is dat die bewoners nog altyd ʼn verdeelde nasie is. “In Suid-Afrika met sy gefragmenteerde bevolkingsamestelling en gemeenskap is verdraagsaamheid nie vir almal ʼn deug nie. Vooroordele en verdraaide persepsies voer dikwels die botoon” (40).

Blake ruim ook die wanpersepsie uit die weg dat die OB gelykgestel kan word aan die fascistiese bewegings van die 1930’s en ‘40’s. Hy skroom egter nie om veral die Stormjaers en terreurgroepe wat noue bande met die OB gehad het, se militantheid oop te vlek nie.

Die OB-leier Hans van Rensburg kan nie anders as om mens se verbeelding op ʼn vreemde manier aan te gryp nie, selfs al sou mens nie sy politieke standpunt steun nie. Sy naam kom telkens in die boek voor as een van die hoofkarakters, maar ek kon nie sy naam agter in die boek se indeks vind nie. Anders as byvoorbeeld iemand soos Eugène Terre’Blanche het Van Rensburg  ʼn skerp intellek en stewige akademiese onderbou gehad.

Was dit nie vir Jan Smuts en Hans van Rensburg wat, ondanks hulle radikaal uiteenlopende politieke beskouings, daarin geslaag het om hulle volgelinge min of meer in bedwang te hou nie, kon Suid-Afrika maklik in ‘n bloedbad gedompel gewees het.

Hoewel Blake se boek in die geskiedeniskategorie val, lees dit soos ʼn  spanningsverhaal propvol intriges. Daar is verraad, waaghalsige rooftogte, spioenasie-intriges, ouers se smart en vele ander intriges wat die leser boei.

Die boek word afgerond met talle geskiedkundige foto’s uit die tyd van die OB. Daar is volledige verwysingsbronne agterin, met onder andere ʼn naamlys van die 52 Stormjaers wat in die 1942-hoogverraadsaak aangekla is.

Albert Blake is natuurlik geen onbekende skrywer nie. Hy is onder meer beloon met die Louis Hiemstra-prys vir niefiksie vir sy Boerekryger: ʼn seun se hoogste offer (2012).

Die meeste mense ken hom egter as die skrywer van die topverkoper Boereverraaier: Teregstellings tydens die Anglo-Boereoorlog (2012), wat in die roerende rolprent Verraaiers omskep is. In hierdie jongste boek van hom, Wit terroriste, is daar meer as genoeg stof vir nóg ʼn rolprent oor die Afrikaner se veelbewoë geskiedenis.

The post Terroris of vryheidsvegter?: ʼn Resensie appeared first on LitNet.

Erfskandes deur Trisa Hugo: ’n lesersindruk

$
0
0

Erfskandes
Trisa Hugo
Uitgewer: Boekemakranka
ISBN 9781928268017

Selfpublikasie het gekom om te bly, maar het ongelukkig ’n swak reputasie opgebou as gevolg van die gebrekkige taalkundige versorging en algemene afronding wat ongelukkig dikwels hierdie werke kniehalter. Dit is natuurlik verstaanbaar dat skrywers nie altyd die middele het om van ’n professionele taalversorger en verkieslik ook ’n manuskripontwikkelaar gebruik te maak nie. Die e-boek het immers nie voldoen aan die aanvanklike verwagtinge nie en dis bekend dat baie min nuwe skrywers ooit meer as 50 boeke op die internet verkoop.

In hierdie lig gesien is Erfskandes ’n welkome uitsondering. Die dienste van ’n professionele manuskripontwikkelaar is gebruik en die taalversorging is goed. Die kritiese leser hoef dus nie bang te wees dat dit ’n minderwaardige stuk werk is nie.

Die verhaal draai om die bejaarde broer en suster Jannerik en Vya, wat besef dat hulle die einde nader en dat daar geen erfgenaam vir die plaas en ander bates is nie. Die spanningslyn word gebou rondom die plan wat Jannerik beraam om hierdie situasie aan te spreek en hoe dit hulle broerskind Willem en sy vrou raak. ’n Tragedie uit hulle kinderdae spook ook nog steeds by hulle en bind die hede en die verlede saam in die sin dat daar telkens ’n onskuldige kind betrokke is.

Die verhaal word afwisselend uit die oogpunt van hierdie vier karakters vertel, maar dis veral Vya wat na vore tree met haar outentieke binnestem wat aan die leser die lyding wat die verlede steeds vir haar veroorsaak, duidelik teken. Vya se taalgebruik is tekenend van ’n ouer generasie Afrikaanssprekendes en help mee om haar karakter volrond en oortuigend te maak. “Al wat sy gedink het voordat sy kamer toe is, is dat oorle’ Ma in haar graf omdraai in hierdie donkere nag. Dat sy selfs in haar dood langs die man moet lê wat haar soveel bittere dae besorg het, is erg genoeg.”

Die manier waarop Vya haar liefde betoon deur die boerekos wat sy maak eerder as woorde, spreek my besonder sterk aan. “Die reuk van vleis wat wil-wil brand laat haar na die kombuis haas. Die skaapboud het droog gebak, en die sousies wat onder in die bak gevorm het, is nou taaierig en bruin. Nét reg. Kos is darem die een ding wat uit haar hand kom wat altyd reg is. Die smaak, reuk en tekstuur. Dis een ding waarvoor sy altyd geprys word. Min mense het nog onvervuld van haar tafel af opgestaan, al het hulle hulle monde vol oor die oordaad. Sy hoor mos.”

Haar smagting na ’n kind van haar eie hou sy vir haarself, maar selfs vir haar as bejaarde het die gemis nog nie verdwyn nie.

Ook Vya se aftakeling tot ’n hulpelose sieke in die ouetehuis word aangrypend geteken.

In wese is Erfskandes ’n aanklag teen die vergrype van die verlede en die volgehoue geheimhouding daarvan. Vya se lyding as bejaarde vrou as gevolg van die gruwel wat sy as dogtertjie gesien het, bevestig die hedendaagse kennis van die gevolge van kinderondervindings waar die kind geen leiding of terapie ontvang het nie, soos dit in vroeëre geslagte gebeur het en ongelukkig steeds dikwels gebeur.

Die verhaal lees vlot en telkens kom ’n nuwe kinkel te voorskyn wat die leser verras. Dis egter die tekening van die twee bejaardes en die interaksie tussen hulle wat vir my die hoogtepunt van die boek is. Die interaksie tussen hulle spreek van ’n gevestigde patroon waar min woorde uitgespreek word, maar waar begrip sowel as pyn op ’n dieper vlak lê.

“Nou wat is dit dan met jou vanaand? Dis laat, ek wil kooi toe.”

“Sit. Ons moet praat.”

Sy het geskrik, sy wou nie weer oor die dinge van vergange dae praat nie. Wat verby is, is verby. Sy het lankal vergiffenis afgebid. Nee, afgesmeek. Haar knieë is deurgebid. Hoe minder sy daaroor dink, hoe beter. En haarself het sy lankal vergewe, en dit is tog wat tel. Dit was haar saak. ’n Saak tussen haar en haar God.

“Hier sit ons. Ons beste jare is verby, en ons het geen kind of kraai nie.” Jannerik het eers met ’n vuurhoutjie in sy pyp gekrap en dit toe uitgeklop. Hy het weer tydsaam uit die blinkgevatte twaksak gestop. “Nie jy nie, en nie ek nie. Wat gaan van ons goed word?”

Op ’n subtiele vlak sien die leser ook hoe Vya Jannerik as die leier en haar meerdere aanvaar, want sy woord is wet, al is sy planne vir haar ontstellend. “Jannerik het nie teëpratery aanvaar nie. Hy het vir hom opgeruk en dan het hy vir dae die verte sit en instaar. Dit was baie makliker om hom maar te laat begaan en net aan te gaan met haar dag.”

Net so aanvaar sy hoe haar lewe verloop het as die wil van God waarteen sy haar nie durf verset nie.

Waar die bejaardes, en veral Vya, oortuigend en simpatiek geteken is, kom die twee jonger karakters Willem en Charien nie as volronde persoonlikhede na vore nie. Hoewel daar gepoog word om Charien se gedrag teen die lig van haar agtergrond te verklaar, word sy nooit ’n karakter waarmee ek werklik simpatie en empatie kon hê nie.

Erfskandes is in wese ’n boek oor die krag van familie, maar ook die gif wat in families kan skuil. Die boek word aanbeveel vir lesers wat realistiese verhale verkies.

The post <em>Erfskandes</em> deur Trisa Hugo: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.

Tweede kanse deur Stefan Enslin: ’n FMR-resensie

$
0
0

Tweede kanse
Stefan Enslin
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781928426165

Fliekvlooie sal Stefan Enslin ken as draaiboekskrywer en vervaardiger van goedvoel Afrikaanse rolprente soos Strikdas: ’n familiegedoente, Nul is nie niks nie en Verskietende ster. Enslin was ’n gekwalifiseerde stad- en streeksbeplanner voordat hy ná bykans tien jaar in dié beroep besluit het om sy langgekoesterde ideaal te verwesenlik om die wispelturig plaaslike rolprentbedryf te betree. Nadat hy ’n kursus as draaiboekskrywer met lof geslaag het, stig hy in 2012 sy eie produksiemaatskappy, Faith In Motion Productions, én waag hy terselfdertyd sy hand aan die skryfkuns.

Sy debuutroman, Verskietende ster, word in 2013 gepubliseer en twee jaar later verower die filmweergawe daarvan die toekenning as gehoorgunsteling by kykNET se Silwerskermfees. Volgens Enslin is ook Tweede kanse bestem om vir die silwerdoek verwerk te word. Tydens die lees van hierdie liefdesverhaal voel dit dan ook dikwels asof die verhaalgebeure deur ’n kameralens waargeneem word. Luister byvoorbeeld hoe die hoofkarakters hul geheime wegkruipplek ervaar:

Glansgoue lig gaan oop en skoenlappers in hulle duisende fladder vrylik rond, sodat dit soos ’n kleurryke sykombers lyk. Die dam skitter soos ’n gepoleerde spieël. Vanaf die oorkantste oewer kom ’n groep eende nader geswem toe Anna aan die voet van die dam gaan kniel.

Of die volgende toneeltjie:

Gert kyk na die houtwerkbank in die hoek. Hy trek die laai oop.

Stop.

Hy kyk daarin asof daar ’n slang is wat enige oomblik gaan pik. Gert kyk stadig om hom rond om die vertrek te fynkam vir enige onwelkome besoekers.

Niemand nie.

Stadig steek Gert sy hand in die laai en haal ’n foto uit.

’n Boek se voorblad skep sekere verwagtinge by ’n voornemende leser. Hierdie roman se idilliese voorblad in sagte pastelkleure laat dan ook geen twyfel dat dit ’n liefdesverhaal met ’n gelukkige einde gaan wees nie. Onder die titel, wat die blad in twee verdeel, sit ’n dogtertjie en seuntjie langs mekaar op ’n swaai en kyk oor groen weivelde na die opkomende son. Hulle is kaalvoet en in wit geklee as toonbeeld van kinderlike onskuld. Bokant die titel druk ’n lieftallige paartjie hul voorkoppe teen mekaar en staar salig diep in mekaar se oë. Hierdie roman is dus onteenseglik bedoel vir diegene wat lees vir ontspanning en ontvlugting van die alledaagse werklikheid.

In die proloog dink ’n volwasse Anna Struwig terug aan haar pa, Sarel – ’n suksesvolle stadsklerk en burgemeester wat een dorp na die ander regruk en mense beïndruk met sy sjarme en selfversekerdheid. Maar ons besef gou Sarel het ’n skadukant wat die oorsaak word van Anna se wantroue in mans en hul liefdesgebaartjies. Reeds op skool “het alle seuns geweet dat Anna Struwig ’n katjie was wat jy nie met enige handskoene aanpak nie” en haar geterg dat sy nooit ’n man sou kry nie ... totdat die Edmuns-gesin langsaan intrek en Anna en die nuwe buurseun begin “skryf aan ’n storie wat vir baie jare daarna onthou sou word”.

Dit is die jaar 1965. Te midde van politieke onrus begin die jaar vir die dertienjarige Anna op ’n laagtepunt. Haar ouers se huwelik wankel en Anna neem haar toevlug tot ’n geheime plek waar sy veilig voel en haar warboel botsende emosies kan ontrafel. Vir Joe, die nuwe buurseun, begin die jaar in die nuwe skool met ’n sarsie lyfstraf voor die hele klas. Hy hardloop uit die klas om sy vernedering weg te steek en die onderwyser stuur vir Anna, die klaskaptein, om hom te gaan soek. Waar Joe ineengekrimp sit, kyk hy op en, soos in ’n visioen, sien hy die meisie met die groot donker oë en blonde hare wat soos diamante in die son skitter. Instinktief besef hy die befaamde “liefde met die eerste oogopslag” het ook vir hom ingehaal.

Hierna ontdek die twee tieners die omgewing en ware vriendskap. Hulle fietsrit word ’n metafoor vir die lewensreis en saam met hulle ontdek die leser verskeie elemente wat terugkerende motiewe in die verhaal word: ’n majestueuse maar vervalle huis, ’n begraafplaas met hekke wat wyd oopstaan, ’n bos wat toweragtige gemoedsrus skep en ’n doring wat hulle met bloed laat sweer: “Together for ever …” Ons leer ken ook Joe se ouers, Gert en Magda, en sy kleinboet Jacques wat die oorsaak word van Gert se verterende skuldgevoel.

Maar dan stort Anna en Joe se sprokieswêreld ineen en ’n gebroke Joe moet magteloos toekyk hoe twee vragmotors die Struwigs en hul besittings wegvoer. Hoewel hy besef dat ’n mens nie vir liefde kan baklei nie, onderneem hy om vas te byt tot die dag wanneer hy Anna weer sal sien.

Nou volg ’n tydsprong van sewe jaar. Dit is 1972. Joe is 20 jaar oud en studeer medies aan ’n universiteit in Kaapstad. Saam met hom in die tweedejaarklas is Bianca de Wet. Anders as die halsstarrige Anna, sy gewese buurmeisie, is Bianca die spreekwoordelike “girl next door” op wie enige man “verlief behoort te raak”. Joe moet kies tussen “together for ever” en hierdie pragtige meisie wat dolverlief op hom is.

Dan tree die noodlot weer tussenbeide. Tant Siena Moolman, die koshuismoeder wat vir Joe soos ’n eie ouma voel, se geliefde man moet ’n operasie ondergaan en Joe trek by haar in om te help. Maar dan, te midde van ’n stormagtige reënbui, daag haar verloopte dogter se wederstrewige dogter daar op.

Intussen is Anna se ergste vrese bewaarheid toe haar pad met dié van die onweerstaanbare Marko Malherbe kruis. En kort daarna ook met dié van die beeldskone Bianca …

Saam met die karakters leer ons die studentelewe ken: die prettige vermaak van padkafees en bierdrinkery sowel as die donker drama van vuisgevegte en liefdelose seks. Joe ontdek die revue-groep as teenmiddel vir die nostalgie en verlange na Anna en Anna ontdek die skreiende waarheid oor haar geboorte en beland in ’n maalstroom van emosies en verkeerde besluite. Joe se welmenende pa dompel die gesin in ’n Griekse tragedie.

Maar, soos die romantitel voorspel, kry almal tweede kanse, al is dit soms onbeplan en onbedoeld. Na ’n hele paar onverwagte wendings word al die drade in die epiloog saamgeknoop sodat ’n mens die boek sonder onbeantwoorde vrae kan toemaak en, met nuwe hoop vir die liefde, na die werklikheid kan terugkeer.

Volgens Enslin is die hoofkarakters, Anna en Joe, geïnspireer deur die paartjie Noah en Allie in Nicholas Sparks se roman The notebook. Soos Sparks, wou hy “soortgelyke karakters skep, wie se liefde ’n baie interessante draai met hulle stap. […] Net soos in Noah se geval wou ek dat Joe moes veg om te verseker hulle liefdesverhaal word een van die mees asemrowendstes. ’n Liefdesverhaal wat harte sal roer en jonges sal inspireer, vir die regte redes.” In Die Volksblad (23 April 2018) beweer AJ Opperman egter in sy ietwat onvleiende resensie Tweede kanse is “beswaarlik ’n Afrikaanse weergawe van The notebook”. Lees gerus die boek en besluit self met wie jy saamstem.

Tog jammer dat ’n boek met soveel edele voornemens ontsier word deur etlike taal- en feitefoute. So ’n goedbedoelde skryftaak verdien noukeuriger redigering.

The post <em>Tweede kanse</em> deur Stefan Enslin: ’n FMR-resensie appeared first on LitNet.

Ralph Haynes, Godfather van die Wes-Rand deur Izak du Plessis: ’n resensie

$
0
0

Ralph Haynes, Godfather van die Wes-Rand
Izak du Plessis

Penguin Random House
ISBN: 9781776092741

Dis hoe dit is onder die rampokkers van die Wes-Rand.

Ralph Haynes was ’n groot man met ’n bos krulhare en ’n breë gesig; ’n afbeen charismatiese rampokker met die groot titel “Godfather van die Wes-Rand”. In 2011 bestyg hy ’n helikopter, word daarna moontlik in ’n bakkie gesien. En daarna nooit weer nie.

Genoeg stof vir ’n rillekker verhaal. En dis hoe Izak du Plessis hierdie verhaal aangedurf het. Groot name in die onderwêreld duik op: Ferdi Barnard, Corrie en Mike Goosen, oudpolisieman Charlie Landman; selfs Mike Bolhuis, hoewel nie betrokke by Haynes nie en blykbaar minagtend oor hom; ook name uit die glanswêreld, soos Joost van der Westhuizen, Theuns Jordaan en Steve Hofmeyr, en ander bedrewe nagklubkunstenaars. Die vroue is vroue van die ontkleeklubs. Dis die Wes-Rand: Randfontein, Krugersdorp; vertonerig ryk en ellendig arm.

Dis ook die wêreld waarin die fluitjieblaser in die Zondo-kommissie, Angelo Agrizzi, sy werk in die voormalige Bosasa uitgevoer het. Dis waar Ralph Haynes al van skooljare af ’n legendariese misdadiger geword het. Op 21 is hy tronk toe vir moord.

Du Plessis, ’n radiojoernalis, het in ’n vorige boek, Boereverneukers, ’n kort hoofstuk oor Haynes geskryf. Die volle verhaal het hy daarna weer gaan soek.

’n Leeswenk: Durf die boek aan asof jy, die leser, ’n luisteraar is wat sit en luister na ’n storieverteller, want dis Du Plessis se styl. G’n letterkundige toertjies nie. G’n diepte-besprekings of filosofiese ontledings nie. Ook g’n aspris skoktaal nie, net die taal van die omgewing en van die noulettende ondersoeker. Wat jy lees is dus wat jy kry. Direk. Tog laat Du Plessis hom soms die weelde toe om ’n asem-ophou-beskrywing te bied, soos oor die dag toe hy nat van die sweet, hartkloppend, doodbang weggery het van die huis in Krugersdorp waar hy met ’n gesiene, gevaarlike rampokker sou gepraat het.

’n Vreemd-interessante feit is ook hoeveel vriende van Ralph, én hy self, ’n been in motorfietsongelukke verloor het. Die motorfietsbende Mac’s was deel van die Wes-Randse skemerwêreld.

Du Plessis se Ralph Haynes is ’n man wat in verskeie verbeteringskole was, en nooit skool klaargemaak het nie, maar hy is as besonder slim beskou. Hy het eenkeer groente gaan steel en dit aan ’n ouetehuis besorg.

Du Plessis het, duidelik deur versigtig te trap, die lewenslange vertroue gewen van Dawie Lötter, wat na Ralph se dood by dié se pragtige weduwee ingetrek het. Dawie, hoewel van die middelklas, het van jongs af bevriend geraak met Ralph, een van 17 Haynes-kinders uit ’n ellendig arm buurt. Dawie was saam met Ralph op sy laaste sending en daarom word in die onderwêreld ook gegis of Dawie dalk aandadig was aan Ralph se dood (saam met Ralph se vrou Jacky). Ook is in daardie kringe gegis dat Ralph dalk bloot uit die helikopter in ’n mynskag afgeslinger is.

Du Plessis wys daarop dat die rampokkers saam sou werk, maar onder mekaar ook sou verneuk in sake, liefde, en ooreenkomste.

In Ralph se dampkring het die rampokkers (en die korrupte polisie onder wie Ralph baie vriende had) mekaar op verskillende opdragte ontmoet, hoofsaaklik om diamante, goud, koper of selfs dwelms te “knock” – die woord vir grootskaalse diefstal.

Ralph en Jacky (haar trourok het R25 000 gekos) se verhouding was luuks, gevaarlik en, vreemd genoeg, aandoenlik. Die twee sou vir mekaar in Jacky se dagboek boodskappe skryf. Du Plessis se aanhalings is verstommend aangrypend, beide vir die liefdesverklarings en ook vir die viesheid vir mekaar. Direk na die troue het Ralph haar beveel om haar borste te vergroot. Sy was baie dankbaar daarvoor.

Sy weer het besef dat hy erg selfbewus was oor sy lompe kunsbeen en aanbeveel dat hy ’n nuwe moet kry.

Du Plessis gee ook insae in die insypeling, amper oorname eintlik, van buitelanders in die onderwêreld toe korrupte polisie eers bedrywig begin raak het

Onder die korruptes was daar een eerlike polisieman wat teen elke prys vir Ralph wou uitlewer. Hy was saam met Ralph op skool. Luke Enslin. Maar toe het die noodlot ander planne met Ralph gehad.

Du Plessis laat die leser toe om self oor die romantiek of die tragedie van die rampokker te oordeel. Hy het die storie bloot oorvertel. Daarom bly die boek en karakters ná die lees tog boeiend in die gedagte van die leser.

The post <em>Ralph Haynes, Godfather van die Wes-Rand</em> deur Izak du Plessis: ’n resensie appeared first on LitNet.


You make me possible by Karina Szczurek: a review

$
0
0

You make me possible
Karina Szczurek
Protea
ISBN: 97814853094378

The early email correspondence between Polish-born Karina Szczurek and the prolific and internationally acclaimed Afrikaans writer André Brink is a romantic WikiLeak of sorts that gives readers detailed and minimally censored insight into their courtship. That the growing passion between them worked out as perfectly as both imagined, coming from different hemispheres, must be the ultimate romantic plot, and, therefore, fans of Brink will be engrossed in this book tracking their budding love affair, titled You make me possible. The title refers to a remark by Szczurek, which Brink noted and put into the mouth of a character in a later book.

It is the second intimate account of a relationship in the womanising writer’s love life, the former titled Flame in the snow, first published in 2015 in Afrikaans as Vlam in die sneeu. This book consists of the love letters of half a century ago, between Brink and iconic poet Ingrid Jonker, who, shortly after the end of their affair, drowned herself in the sea. Szczurek, a professional editor, was involved in the compilation of the letters from this youthful, tumultuous relationship.

The play on words between the two literature lovers and academics are more cerebral than in the case of Brink’s earlier correspondence, as Jonker had no tertiary education. In the case of the Brink-Szczurek correspondence, the prospect of physical love is heightened by longings and imaginings.

Szczurek is an academic who earned her PhD with a thesis on Nadine Gordimer’s post-apartheid writing. She contributed to numerous publications, and blossomed into an author in her own right with the encouragement of Brink. In a note at the back of You make me possible, she says that the warm reception of her first full-length memoir, The fifth Mrs Brink, about her romance with and ten-year marriage to Brink, prompted her to consider the collection of emails for publication. With the royalties, she intends to establish a literary prize in honour of her late husband.

Biography lovers may despair that the internet is making it improbable that biographers will still discover old, forgotten letters in dusty attics, revealing juicy secrets about celebrities. It still remains a problem when writers discard electronic records of their correspondence, but this book proves that emails can be every bit as romantic as old-fashioned letters, and all the more immediate.

Written between December 2004 and March 2005, the 250 000-word Brink-Szczurek correspondence shows a growing intimacy, from tentative to fever pitch, when Brink writes to “Winged Angel-live” and “Karina-my-lief-my-lief”, and Szczurek to “Darling Adé” (sic). Both disclose their sleep patterns, health issues, personally noteworthy books and films, as well as previous love affairs, marriages and relations with close friends and relatives, like parents and Brink’s children. Both profess that only total honesty makes a life together possible, and Brink also admits that infidelity degrades a person.

Were it only half a century ago, the few months between their first and second encounters might only have allowed, timewise, an exchange of a few letters. But, with the speed with which words travel in cyberspace, Szczurek’s divorce was initiated and finalised quickly, and she and Brink were ready to start a new life together within a few months.

Brink was 69 and Szczurek 27 when they first met in Vienna, where she collected him and accompanied him on a short train trip to Salzburg, on their way to a conference she had helped to organise. In You make me possible, the reader gets drawn into their life-changing journey.

Throughout the correspondence, the literal journey of their first meeting is used as an analogy for their relationship. Karina writes that she would have liked to have undertaken any journey with him, even by donkey cart. She quotes from her reading: “I think of love as a train, on an endless journey where people get on and off at every stop. But when you are on the inside of love, there is no time. It may be an illusion, but at least it is an illusion of infinity. The train is there. It goes on ...” He responds: “So: let us continue our journey (precisely because we know that both have the complete freedom to step out at the next station if it must be so) and be grateful that there is still magic in the world.”

Karina Szczurek admits to omitting references to well-known personalities which would have intruded on their privacy. This is understandable, although “celebrity gazers” would, of course, have preferred it unedited. A few interesting details remain, however, like the bumps in the road of the friendship between Brink and Breyten Breytenbach, which Brink refers to.

When some topics discussed on the phone leave gaps to infer, it begs the question: Is every detail really worth knowing? In this regard, some stricter editing would have had a positive effect.

The post <i>You make me possible</i> by Karina Szczurek: a review appeared first on LitNet.

Spanning, intrige en baie aksie maak Jagter ’n meesleurende ervaring

$
0
0

Jagter
Bettina Wyngaard
Uitgewer: Umuzi, 2019
ISBN: 9781415210048

“Klippe, messe en pyle uit ’n kruisboog: die vreemdste – en wreedste – misdaadtoneel in kaptein Nicci de Wee se loopbaan. Dan moet sy en haar nuwe taakspan boonop bontstaan om saam met die nimlike Blackie Swart ’n internasionale insident te voorkom.

“Ook op haar lessenaar: die dood van twee jong meisies. En die angswekkende vermoede dat al hierdie sake met mekaar verband hou. Met soveel kinkels in die kabel soos dooies in die staatslykhuis, moet Nicci-hulle alles tot hul beskikking inspan om ’n nuwe hel af te weer: van ’n rekenaarfundi, tot stiletto’s en selfs ’n paar petrolbomme.

“Gou kom Nicci agter die monsters wat haar lewe en dié van haar kollegas bedreig, is gevaarliker as Ramoth, vlymskerp polisiefotograaf Stella Jansen se mak Komododraak.”

Dis die beskrywing van die uitgewers wat die boek vergesel. Klink interessant genoeg en heel in pas met Bettina Wyngaard se vorige twee boeke, Vuilspel en Slaafs, waarin Nicci de Wee verskeie male die dood in die oë gestaar het.

Maar in Jagter is die ewige gesukkel in Khayelitsha, waar Nicci voorheen haar kantoor gehad het, skoonveld. Nicci het nou ’n spesiale taakspan, hul kantore is luuks en privaat; die voertuie in die kelder is alles voertuie waarop daar beslag gelê is: ’n Hummer, BMW X5 en vele meer; daar is ’n magasynkamer met selfs AK-47’s, en elke spanlid het selfs ’n Harley-Davidson met individuele verfwerk op die bakwerk.

Bloedmonsters en nadoodse ondersoeke word bespoedig; maar leidrade is min. Die moordenaar of kring moordenaars is goed opgelei en daar is internasionale bande wat met diplomatieke immuniteit gepaard gaan.

En die skuldiges bly hul taakspan elke keer net ’n stappie voor.

Bettina is ’n opgeleide prokureur wat nie alleen haar eie regspraktyk op Grabouw gehad het nie, maar ook die jongste uitvoerende beampte van die Regshulpraad was. Haar insig in die regstelsel se tekortkominge bring ekstra diepte aan haar speurverhale en geloofwaardige insig in die daaglikse rompslomp in die polisiediens.

Sy huiwer ook nie om navorsing te doen of om aan te klop by deskundiges om feitelik so na aan die waarheid te bly as wat haar storie toelaat nie. Sy vra in haar bedankings om verskoning aan haar lesers dat sy soms die feite “net effens verdraai om meer dramaties te wees”. Ook dat die kenners wat sy geraadpleeg het, nie verantwoordelik gehou kan word vir “my bedorwe en ooraktiewe verbeelding” nie. Tog klink niks vir my oordrewe nie en kan haar boek kers vashou by die beste speurreeks op televisie of internasionale top-boekverkopers.

’n Meningstuk in ’n dagblad deur Leopold Scholtz ’n dag of twee gelede kyk na die 40ste herdenking van die Islamitiese revolusie in Iran. Bettina se boek is deurweef met die Iran-tema, ’n welkome afwyking van die geykte terreurgeteisterde lande wat so gereeld deur ander skrywers en filmmakers gebruik word.

Dit maak ook haar boek op meer as een vlak tersaaklik: dis nie net blote ontspanning nie; dit werp die kollig opnuut op hoe vroue in veral die Midde-Ooste behandel word en hoe ’n goed-opgeleide vroulike Peshmerga (Koerdiese vegter) die gewone polisieman kan uitoorlê en selfs ’n gedugte soldaat kan verras. Hell has no fury …

Die stories is verstrengel; die motiewe soms só donker dat dit jou uitasem laat. Vroue wat as objekte gebruik en dan vermoor word steeds die onderliggende tema soos in haar vorige boeke, maar meer op die agtergrond. Hoewel hierdie avontuur Nicci de Wee se derde een is, het Bettina nou vier boeke op haar kerfstok. Haar eerste – nie ’n speurverhaal nie – het haar die Jan Rabie-Rapport-prys besorg en gefokus op mishandeling, dwelmmisbruik en onderdrukking. Ook hierin was die hoofkarakter ’n vrou.

Bettina vertel in ’n kort video deur Penguin Random House dat die speurkarakter – in haar geval kaptein Nicci de Wee – in die meeste speurverhale ’n probleem het met drank of dwelms. Sy wou wegbreek daarvan en wou eerder hiérdie deel van Nicci se karakter kwesbaar maak: haar seksualiteit wat sy wegsteek van ander; maar terselfdertyd iemand met wie lesers kan vereenselwig. Nicci de Wee is naamlik gay, in ’n verhouding met ’n priester.

Een van die lekker aspekte van Nicci se karakter is dat haar persoonlike lewe haar méns maak, maar nie die boek oorheers nie. Nee, dit gaan alles om die drama; die sake wat op die taakspan se ronde tafel in hul “Camelot”-konferensiekamer beland. Soms is speurverhale so gefokus op die hoofkarakter se wroegings om sy lewe op die nou pad te hou dat die speursaak diepte kort en ongeloofwaardig voorkom en dat jy as leser die saak lank voor die helfte van die boek ontrafel het. Jagter is nie so nie.

As ’n skrywer se woorde my ’n karakter in my gedagtes kan laat sien, my selfs haar huis en kollegas kan laat voorstel; as ek die buskruit kan ruik en die geweervuur in my kop kan hoor weerklink; die frustrasie kan voel as ’n leidraad op ’n doodloopstraat uitloop; dan het die skrywer geslaag. En as ek by die laaste bladsy kom en teleurgesteld voel dat ek die bekende karakters moet groet, des te meer.

Dis skrywers soos Bettina wat jou laat wens skrywers kon boeke vinniger skryf, sodat ons as lesers nie so lank moet wag vir hul volgende pennevrug nie.

The post Spanning, intrige en baie aksie maak <i>Jagter</i> ’n meesleurende ervaring appeared first on LitNet.

Harris Dousemetzis se omstrede biografie oor Tsafendas: nóg ’n leser se indrukke

$
0
0

The man who killed Apartheid
Harris Dousemetzis

Jacana
ISBN: 9781431427543 

In my gereelde Saterdag-rubriek in Die Burger het ek op 19 Januarie 2019[1] vertel het hoe ek my vervies het vir die Brit Harris Dousemetzis wat in sy boek oor Dimitri Tsafendas, The man who killed apartheid[2], téén alle logika en doodgewone gesonde verstand in[3] aanvoer dat Tsafendas volkome rasioneel was toe hy Hendrik Verwoerd op 6 September 1966 in die parlement om die lewe gebring het.

Dousemetzis verkondig – met ’n gesonde skeutjie Britse hovaardigheid (dis waaroor ek my vervies het) – dat die ondersoek na Tsafendas se geestestoestand voor regter-president Beyers “more like a Soviet-style show trial of the 1930’s [was] than an interested search for truth in the Anglo-Saxon [Engelse] juridical tradition”.[4] Die ondersoek voor Beyers, verklaar Dousemetzis, was daarop gemik om leuenagtig die waarheid te onderdruk dat ’n geswore, geestesgesonde kommunis daarin geslaag het om ’n geliefde volksleier te vermoor. Hy bestempel die ondersoek as “one of the greatest cover-ups in apartheid history”.

Die onvermydelike implikasie hiervan is dat daar ’n wydlopende sameswering tussen die regbank, die vervolgingsgesag en die verdediging moes gewees het ten einde dié resultaat te bewerkstelling.

Dit is nie ’n ongewone verskynsel dat mense die geskiedenis se ingewikkeldhede aan die hand van sinistere samesweringsteorieë probeer verklaar nie. Die bekroonde Associated Press-joernalis Saul Pett (1918–1993) skryf soos volg hieroor in ’n voorwoord tot die amptelike verslag van die Warren-kommissie van ondersoek na die sluipmoord op John F Kennedy: “There was in the minds of many the suspicion that there must be more to the Dallas story. Perhaps it was because the mind refused to believe that the President of the United States could so simply be shot in the light of day. Surely the motive, if not the killer, somehow had to fit the size of the victim. A gnat simply does not kill a lion.”[5]

Pett kon dit net sowel van die sluipmoord op Verwoerd geskryf het.

Dousemetzis se tipering van die ondersoek voor regter Beyers as ’n “show trial” is ’n ernstige aanklag teen die Suid-Afrikaanse regstelsel en al die gerekende regsgeleerders wat by die ondersoek betrokke was.

Terloops: anders as wat Dousemetzis verkondig, was die verrigtinge voor Beyers ’n ondersoek waartoe sowel die staat as die verdediging waardevolle bydraes gelewer het, en wat as sodanig met dank deur die regter-president erken is.[6] Dit was nie ’n “trial”, soos Dousemetzis dit onkundig bestempel nie. Die moordklagte is nooit aan Tsafendas gestel nie en vanselfsprekend het hy ook nie op enige klagte gepleit nie. Tans word die prosedure wat by sodanige ondersoek gevolg moet word, gereël deur artikel 78(A) van die Stafproseswet.[7]

Ek het in my vermelde rubriek aan die hand van juis die M’Nagthen-reëls van die Engelse strafprosesreg – wat net so deur die Suid-Afrikaanse howe oorgeneem is[8] – aangetoon dat iemand se morele, godsdienstige en politieke oortuigings géén rol speel by ’n hof se oorweging van sy geestestoestand en moontlike ontoerekeningsvatbaarheid nie.[9] Die vraag of Tsafendas ’n kommunis was of nie, was dus totaal irrelevant, en juis Dousemetzis se onbegrip van die toepaslike regsposisie slaan die bodem onder die sentrale tema van hierdie omstrede boek uit.[10]

Ek het my rubriek afgesluit met ’n erkenning vir Dousemetzis se argivale navorsing, maar het ook daarop gewys dat dit “wemel van foute en verstommende aannames”. Verskeie lesers het my daarna versoek om op laasgenoemde uit te brei. Dit is ’n haas onbegonne taak om dit in ’n beperkte artikel soos dié sistematies te doen. Daarom het ek besluit om in hoofsaak te fokus op sy pogings om veral Afrikanerleiers met ’n teerkwas by te kom – in die besonder dat hul Nazi-gesind en anti-Semities sou wees.

Die persone wat ek vir ’n slegs maar oppervlakkige bespreking uitsonder (en daar is tálle meer), is Piet Meyer van SAUK-faam en lank voorsitter van die hoogs oorskatte Afrikaner-Broederbond,[11] asook die voormalige premiers Malan, Verwoerd en Vorster.

Laat ek dit duidelik stel: Vir dié viertal is ek geen apologeet nie, soos ook nie vir die apartheidsbeleid nie. Waarom dit egter gaan, is ’n tendens in die reaksies wat ek ná my artikel uit talle oorde ervaar het: ’n keelvolheid vir die skynheilige demonisering van so te sê ál die vorige staatkundige bedelings (1910–1994) te midde van die skreiende plundering van die staat en die roekelose omgaan met menselewens[12] onder ANC-bewind sedert 1994. By die skryf hiervan (Februarie 2019) word Suid-Afrikaners week na week geskok deur die onthullende getuienis oor sulke vergrype voor verskeie kommissies van ondersoek.[13]

Ek vermoed ook dat Dousemetzis en sy pryssangers ’n eie ideologies-gedrewe agenda met die uitkoms van dié boek het, maar meer dáároor later.

Eers net die volgende: Die lees van hierdie boek was vir my ’n déjà vécu-ervaring – daardie gevoel van “ek is al voorheen hierdeur”. Ek verwys na Daniel D Elsdon se ewe omstrede Die lang generaal: die duistere politieke sluipmoorde van die ou Suid-Afrika[14] wat in 2009 opslae gemaak het. My probleem met boeke van dié aard is dat dit bitter moeilik is om feite van fiksie te onderskei. In Elsdon se geval het ek dit veral teen die verbeelde (en daarby ook erg inkriminerende!) gesprekke tussen byvoorbeeld premier John Vorster en genl Hendrik Van den Bergh – so asof die skrywer iewers na bandopnames van sulke gesprekke geluister het. Wat dus aangebied word as verbatim-weergawes van gesprekke, is in werklikheid versinsels – die skrywer se verbeeldingsvlugte.[15]

Ditto vir Dousemetzis: hy steun grotendeels op die hoorsê-verhale van mense (hoofsaaklik uit die Griekse gemeenskap) wat Tsafendas lank vantevore sou geken het. Hulle het klaarblyklik ook ’n eie agenda: om hierdie “skepsel”[16] (hy was immers duidelik lank chronies sielsiek) agterna as ’n onvermengde held van die bevrydingstryd op te dis – dit mag straks net die half-Griekse herkoms van Tsafendas in ’n gunstiger lig stel.

Dikwels gee die skrywer klaarblyklik ook sy eie verbeelding vrye teuels. Ek volstaan met enkele voorbeelde: In sy beskrywing van Tsafendas se bewegings en gemoedstoestand op daardie noodlottige Septemberdag in 1966 vertel Dousemetzis van die mesaankope wat Tsafendas by twee handelaars in Houtstraat, Kaapstad, gedoen het, waarna hy na die parlementsgebou teruggestap het. Dousemetzis sê Tsafendas sou op sy terugtog deur die Kompanjiestuin gewandel het. Hy skets ’n idilliese prentjie: “White people strolled past the lawns and occupied public benches marked ‘Europeans Only’ […] and children squealed with excitement at the squirrels in the oak trees.”[17] Om egter deur die skotige end van Houtstraat via die Tuine na die parlement te stap sou ’n taamlike ompad gewees het, wat my met die spesmaas laat dat dit ’n verbeeldingsvlug van die skrywer is ten einde by die volgende uit te kom: “There were no black or brown people [in die Tuin daardie oggend] for had not Dr Verwoerd specifically declared a few years earlier that such people should not be allowed ‘to gaze’ at the ‘green pastures of European society?”[18] (Hy verwys klaarblyklik na Verwoerd se toespraak in 1953 toe hy die Wet op Bantoe-onderwys deur die parlement gevoer het – ’n toespraak wat Giliomee sê dikwels skeefgetrek word omdat dit net gedeeltelik aangehaal word.[19])

Hoe ook al: vir my lyk dit erg geforseerd van Dousemetzis om Tsafendas – met twee messe in sy inkopiesak – ’n aansienlike ompad deur die Kompanjiestuin te laat loop sodat hy by hierdie groen-gras-verwyt teen Verwoerd kan uitkom. Daar is géén gesag vir hierdie klaarblyklik erg geforseerde beskrywing nie, wat ’n mens laat wonder: Is dit feit of fiksie? My onsinverklikker skakel aan.

Dieselfde geld Dousemetzis se beskrywing van wat deur Tsafendas se gemoed sou gegaan het nadat hy die messe onder sy uniform verberg het kort voordat hy na die Volksraad toe sou stap om Verwoerd om die lewe te bring. Die leser tref hom aan by sy sluitkas in die parlementêre bodes se aantrekkamer: “He checked his watch,” skryf Dousemetzis: “There was time. He flipped open his wallet and took out a photograph of his adored late father […] Tsafendas wondered if his father would agree with what he was about to do; whatever his reaction, he knew he would not condemn it.”[20] En verder: “Tsafendas smiled wryly at the thought of his stepmother’s likely reaction on (sic) what he was about to do. She would automatically blame his father …” [21]

Dousemetzis se bron vir hierdie gedagtes van ’n Tsafendas-onderweg-om-Verwoerd-te-vermoor is ’n Griekse geestelike, vader Minas Constandinou, met wie hy eenmalig op 6 Februarie 2013 (14 jaar ná Tsafendas se dood) ’n onderhoud gevoer het. Wat dié geestelike Dousemetzis op één dag oor Tsafendas vertel het, moes hom mateloos beïndruk het, soos blyk uit die minstens 224 voetnotas waarin sy naam as bron vermeld word.

’n Laaste voorbeeld – en daar is talle ander – is Constandinou se verstommend gedetailleerde vertellings van hoe Tsafendas die lang ure van eensame opsluiting op Robbeneiland sou verwyl het. Herinneringe aan musiek sou een van sy gunstelinge wees, en die geestelike onthou ná al die jare jou werklikwaar selfs die titels van die musiek: Tsafendas sou revolusionêre liedere soos “Song of Freedom”, die “Zot Nit Keynmol” (uit die Warskouse ghetto), “Bella Ciao” en verskeie Griekse liedere geneurie het – totdat die bewaarders hom glo sou verbied het om te sing. “Tsafendas complied,” skyf Dousemetzis, “but inside his head he continued making music. He would sit for hours with his back against the wall, his eyes closed, melodies running free. It was like listening to the radio, except that his unheard voice sounded better in the mind than his real-life singing voice did in his ear” (sic).[22]

Nog ’n manier waarop Tsafendas – volgens Constandinou – sy ledige uurtjies sou verwyl het, was sy herinneringe aan boeke wat hy vantevore sou gelees het: “Lying on his sisal (sic) mat he would ‘re-read’ the books from his past […] Realistically Tsafendas ackowledged that remembering old classic stories would not be enough to keep him sane, so he started ‘writing’ his own books. For many hours, he would ponder ideas, dream up plot lines and create characters. At night, as he fell asleep, he would hold the story in his mind and sometimes find that the plot had developed further in his dreams.”[23] Wil jy nou meer.

Constandinou is ook een van Dousemetzis se vernaamste bronne oor hoe Tsafendas onmiddellik na die aanslag op Verwoerd en in die daaropvolgende jare deur die polisie en die gevangenisowerheid mishandel sou gewees het.[24] By herhaling moet ’n mens die vraag stel hoe waarskynlik dit is dat Constandinou in slegs ’n enkele gesprek op één dag daarin kon slaag om sóveel besonderhede aan die skrywer oor te dra.

Uit ’n waarskynlikheidsoogpunt is ek dus uiters skepties oor die besonderhede van Constandinou se hoorsê-verhale so lank ná Tsafendas se dood. Dit bring weer die vraag te berde: Wat in hierdie boek is verifieerbare inligting en wat dan pure verbeeldingsvlugte – hetsy van Dousemetzis, hetsy van Constandinou of die skrywer se talle ander hoorsê-bronne? En waar laat dit ’n mens met die skrywer en sy pryssangers se aanspraak dat dit ’n “wetenskaplike werk” is?

Constandinou is ook die skrywer se vernaamste bron vir ’n dikwels herhalende tema: dat Verwoerd volgens Tsafendas ’n “tiran” en “Hitler se vernaamste student” was. Dit is egter interessant dat Tsafendas aan die einde van sy lewe in ’n reeks wydlopende gesprekke met die Nederlandse skrywer, Henk van Woerden, nooit na sy slagoffer in sulke terme verwys het nie.[25] Inteendeel, hy het sy spyt uitgespreek dat hy Verwoerd om die lewe gebring het.[26]

Dousemetzis se (flou) poging om hierdie eerstehandse gesprekke met Van Woerden te diskrediteer, is dat Tsafendas kwansuis nie vir Van Woerden sou vertrou het nie, en dus nie met hom die “waarheid” sou gepraat het nie. Daarvoor steun hy – byna vanselfsprekend – maar net weer op wat Constandinou hom op daardie enkele dag in Februarie 2013 sou meegedeel het.[27] Die punt is egter dat daar op daardie gevorderde stadium van sy bewoë lewe vir Tsafendas géén risiko meer sou gewees het om oplaas met dié weergawe van die “waarheid”, wat Dousemetzis en kie nou propageer, vorendag te kom nie. Dit het nie gebeur nie.

Maar terug by Dousemetzis se voorliefde om Afrikanerleiers met ’n Nazi-teerkwas by te kom. Ek begin by Piet Meyer, in lewe voorsitter van die SAUK-raad. Anders as wat Dousemetzis bereid is om toe te gee, was Meyer die groot dryfkrag agter Suid-Afrika se uitsaairevolusie gedurende die 1960’s en 1970’s waarvan die ganse land nou nog die goeie vrugte pluk: ’n gesofistikeerde netwerk van FM-radiosenders en ’n rits radiostasies in al 11 landstale; ’n uitgebreide televisiediens (wat op sy tyd die tegnies modernste in die ganse wêreld was) en ’n uitsaaikompleks in Aucklandpark wat, toe dit in 1975/76 betrek is, eweneens van wêreldgehalte was.[28]

Dousemetzis bestempel Meyer egter as “a Nazi fanatic who had named his son ‘Izan’, which is ’nazi’ spelt backwards”[29] (74). Hy steun op geen ánder gesag (as Izan se naam) vir sy roekelose stelling oor Meyer nie. Ek ken daardie skinderstorie reeds sedert 1968 toe ek en Izan saam klasgedraf het aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit. Die waarheid is dat hy na sy oupa, Izak Andries Meyer vernoem is. Piet Meyer het – in ’n kreatiewe poging om sy seun van vyf ander Izak Andriese (straks ooms en neefs) te onderskei – die eerste lettergrepe van sy twee doopname saamgevoeg as ’n “troetelnaam”: Iz(ak) An(dries), wat kortweg Izan geword het. Dat dit van agter gespel ook “Nazi” impliseer, het nie in sy wildste drome by Meyer opgekom nie.[30]

Dousemetzis volg die ou laai van Afrikanerhaters om mense wat gedurende die onstuimige jare van die Tweede Wêreldoorlog bande met die Ossewa-Brandwag (OB) gehad het, sonder meer as Nazi-simpatiseerders te bestempel. Omdat John Vorster in sy jongdae ’n OB-generaal was, word ook hy deur Dousemetzis met die Nazi-Kaïnsteken en as ’n anti-Semitis gebrandmerk.[31] Ek wonder wat sy kommentaar sou wees as dit onder sy aandag gebring sou word dat ook Erika Theron, die latere (nogal “liberale”) voorsitter van die Theron-kommissie van ondersoek na die bruin gemeenskap en ’n hewige kritikus van die apartheidsregering se Groepsgebiedewet, artikel 16 van die Ontugwet en die Wet op die Verbod op Gemengde Huwelike, gedurende daardie onstuimige jare ’n OB-generaal was![32]

Dousemetzis vertel dat Vorster – hy word by herhaling gebrandmerk as “an old anti-Semite and old-time Nazi”[33] – as Verwoerd se opvolger verkies is “[thanks to] the support of the extreme right wingers in the [National] party”.[34]

Dit is egter ’n bekende feit dat daar géén stemming in die koukus van die Nasionale Party was nie: Vorster is eenparig verkies,[35] wat Dousemetzis se aanspraak tot snert reduseer.

Vorster het Israel in 1976 as Suid-Afrikaanse premier amptelik (op uitnodiging van Shimon Peres) besoek.[36] Ek sou dink dat as Vorster óóit – selfs in die verre verlede – Nazi-gesind was, so ’n uitnodiging hoogs onwaarskynlik, indien nie totaal onmoontlik nie, sou gewees het.

Dousemetzis kom ook vir DF Malan met sy teerkwas by. Dié voormalige premier was ’n hardnekkige anti-Semitis, verkondig hy – naas verskeie ander onvleiende opmerkings wat volkome buite konteks opgedis word.[37] Nogtans het Malan (nes John Vorster, later) die jong staat Israel in 1953 amptelik en op uitnodiging besoek – ’n eer wat g’n geswore anti-Semitis immers te beurt sou geval het nie.[38] Trouens, Malan was die heel eerste regerings- of staatshoof wat die staat Israel na die totstandkoming daarvan in 1948 amptelik besoek het.[39]

Soos verwag kon word, bêre Dousemetzis sy skerpste kritiek oor Afrikanerleiers vir Tsafendas se slagoffer – Hendrik Verwoerd. Sy bronne is tot op groot hoogte erg verouderde propagandistiese materiaal uit die era van die berugte Britse Anti-Apartheid Movement wat gedurende die 1960’s en 1970’s die verkoop van Suid-Afrikaanse produkte in Engeland (Outspan-lemoene was ’n gewilde teiken) en Springbokrugbytoere aan daardie land ontwrig het. Dousemetzis steur hom nie aan beskikbare[40] meer gebalanseerde oorsigte van Verwoerd se lewe en beleid wat hom binne die konteks van daardie fase van Suid-Afrika se geskiedenis plaas nie.[41]

Soos Piet Meyer en John Vorster, word ook Verwoerd met ’n Nazi-teerkwas bygekom. Die feit dat hy saamvallend met die opkoms van Hitler in die middel van die 1920’s aan verskeie Duitse universiteite gestudeer het, word versigtig – maar betekenisvol vir die tema van dié boek – bygehaal. Hoewel Verwoerd se verhouding met en siening van die OB deeglik deur GD Scholtz gedokumenteer word,[42] verlekker Dousemetzis hom in ’n opmerking van ene Hughes wat Verwoerd in 1961 as ’n “tool of the Nazis” bestempel het.[43]

Dousemetzis vertel geniepsig dat ’n voorval op 22 Oktober 1941, toe gemaskerde OB-apparatsjiks Verwoerd probeer ontvoer het vanweë sy aanvalle op die OB in Die Transvaler, ’n versinsel van Betsie Verwoerd sou gewees het – “to remove the stain of her husband being a Nazi supporter during the war”.[44] Die voorval is egter goed gedokumenteer – onder meer deur ’n berig daaroor in Die Transvaler van 25 Oktober 1941.[45]

Dit sal seker niemand verbaas nie dat Dousemetzis – ’n selferkende ateïs – smalend na Verwoerd se godsdienstige oortuigings verwys. Reeds vroeg in die boek bou hy só aan sy argument, na aanleiding van Verwoerd wat kort voor Tsafendas se aanval sy sitplek in die Volksraad ingeneem het: “He turned around to acknowledge greetings from National Party MP’s around him. The prime minister was in high spirits, even jaunty, and with reason: the national economy was booming, thanks to cheap black labour, with the highest growth rate in the world after Japan.[46] […] Commanding the space around him, he looked unassailable, a picture of total power. Indeed, he thought, God was on his side. Six years earlier he had survived the bullets of David Pratt, a sure sign, Dr Verwoerd said, that God approved of his race policies and had spared him to ensure their implementation.”[47]

Later skryf Dousemetzis: “It was Verwoerd who saw himself after being shot by David Pratt as a martyr for the cause of apartheid and came to believe that his life was saved by God’s intervention and that this was proof for His support for apartheid.”[48] Ook elders verklaar hy, met verwysing na die mislukte aanslag deur Pratt: “Naturally he ([Verwoerd] attributed his survival to divine intervention.”[49]

Wat is Dousemetzis se gesag vir hierdie mededelings wat so gladweg uit sy pen vloei? Die een voorbeeld, verkondig hy, is dat die skare wat in September 1958 buite die parlementsgebou gewag het op die uitslag van die premiersverkiesing, spontaan die nuwe eerste minister die bekende “Laat, Heer, u seën op hom daal”[50] toegesing het. Dié geleerde Brit weet klaarblyklik nie dat dit selfs nou nog die gebruik is in Afrikaanse gemeenskappe om dié Geneefse melodie uit 1551, met woorde deur die “volksdigter” JD du Toit (Totius), te sing by byvoorbeeld die voorstelling van kerkraadslede en nuwe lidmate, die bevestiging van predikante, ’n skoolhoof wat verjaar of ’n paartjie wat trou (of ’n goue bruilof vier) nie.

Vir nog ’n “bewysplaas” steun Dousemetzis op ’n passasie in die tweede band van GD Scholtz[51] se reeds vermelde biografie van Verwoerd.[52] Daarin word vertel van ’n gedagte wat spontaan onder Suid-Afrikaners onstaan het om ’n dankdag by die Voortrekkermonument te hou nadat Verwoerd die 1960-aanslag op sy lewe deur Pratt oorleef het.

Scholtz haal Verwoerd se destydse privaatsekretaris, Fred Barnard, aan wat die boodskap van die voorgenome dankdiens aan die premier in die hospitaal oorgedra het: “Sy oombliklike reaksie was dat hy nooit vir so gedagte te vinde sal wees nie. Sonder om verder oor die saak na te dink het hy my versoek om sy dank aan die betrokkenes oor te dra en hulle te versoek om nie alleen van hul voorgenome plan af te sien nie, maar om dit nie eens verder rugbaar te maak nie, omdat hy ‘dit as menseverering beskou!’ ‘As iemand vereer moet word, moet dit God wees,’[53] was sy besliste reaksie.”[54]

Hoe Dousemetzis meen dis geregverdig om dié eerbetoning aan die Allerhoogste as afdoende gesag te beskou vir sy stelling dat Verwoerd sou verkondig het dat God aan sy kant – en ten gunste van apartheid – sou wees, sal net hy weet.

Dit bring my terug by die skrywer se dramatiese opbou na Tsafendas se aanslag op die lewe van die premier daardie dag in die Volksraad: “Indeed,” skryf hy (soos vantevore aangehaal), “[Verwoerd] thought God was on his side.” En dan sluit hy af met ’n aanstootlike en uiters onsensitiewe opmerking waarvoor hy – wil ek my voorstel – in sekere kringe nie maklik vergewe sal word nie: “He [Verwoerd] was about to discover that when it came to his race policies and implementing apartheid, his God had changed his mind.”[55]

Onmiddellik daarna volg sy beskrywing – in grafiese besonderhede – van die mesaanval op die premier.[56]

Ek het reeds vantevore aangedui dat ek nie ’n apologeet vir Verwoerd wil of kan wees nie. Ek het dit wel my taak geag om hier bo op enkele van Dousemetzis se feitelike dwalings en ongestaafde – selfs kwaadwillige – aannames te wys. Duidelik is daar ruimte – en het die tyd daarvoor straks aangebreek – vir ’n vars, ewewigtige, “warts and all” biografie van hierdie weliswaar komplekse en veelkantige leier. ’n Jong, talentvolle historikus soos Lindie Koorts het met haar voortreflike gedeeltelike biografie van DF Malan bewys dat so iets haalbaar is.[57]

Ten slotte, wat Verwoerd betref, wil ek – op ’n ligter noot – op ’n ware pièce de résistance uit Dousemetzis se pen wys: “While Tsafendas was buying his knives,” skryf hy oor daardie noodlottige 6 September 1966, “Prime Minister Dr Hendrik Frensch Verwoerd and his wife Betsie were flying into Cape Town airport from Stokkiesdraai, St Lucia (sic!), a modest coastal resort town in Natal (sic!) where they had spent a weekend relaxing with family.” Toe ek dié byna lagwekkende onakkuraatheid in so vroeg as bladsy 2 van die boek raaklees, het ek geweet: daar gaan nóg sulkes wees. Soos ek hier bo aangetoon het, is ek nie in my verwagtinge teleurgestel nie…

Nietemin, ter verfrissing van die geheue: Stokkiesdraai – geleë aan die Vaalriver in die distrik Vanderbijlpark – was die (kortstondige) Transvaalse vakansietuiste van die Verwoerds. Dit was die eiendom van Voortrekkerpers en Afrikaanse Pers (die voorlopers van Perskorporasie) wat dit in Julie 1965 tot die premierspaar se beskikking gestel het, ook met die oog op hul latere aftrede.[58]

Dousemetzis se korps geesdriftige ondersteuners – die “usual suspects”, vanweë hul linkse en kommunistiese bande (regter Zak Yacoob[59] praat glads van ”comrade Tsafendas”) – petisioneer nou die staat om die geskiedenis oor Tsafendas te laat herskryf. En natuurlik moet Verwoerd verder gedemoniseer word as “Hitler se beste student”.

’n Mens wonder wat Dousemetzis verlang dat regter Beyers moes gedoen het: Tsafendas die voordeel van twyfel gee en hom tot Staatspresidentspasiënt verklaar, of hom aan moord skuldig bevind en galg toe stuur? Die regter had mos nou geen ander keuse as die eerste opsie nie, maar nou word hy – én die Suid-Afrikaanse regstelsel – daarvoor verguis. Kan jy jou egter die herrie voorstel as die galg oplaas Tsafendas se lot was?

“Damned if you do; damned if you don’t.”

My teorie oor wat agter die petisie tot die staat sit, is die volgende: Die kommuniste het ná die inwerkingtreding van die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme[60] tot met hul ontbanning in 1992 bitter min werklike suksesse in hul stryd teen apartheid en die vorige bewind behaal.[61] Die Rivonia-verhoor en latere lang gevangenisstraf wat Nelson Mandela en sy kamerade opgelê is, het die party ’n gevoelige slag toegedien. Kort daarna was dit ook die partyleier, Bram Fischer, se lot.[62]

Ondanks sterk steun uit veral die Sowjetunie en Kuba kon daar ook nie met ’n gewapende stryd teen die apartheidsbewind hond haaraf gemaak word nie.

Tans is die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party ’n baie klein en ondergeskikte rolspeler in die Suid-Afrikaanse politiek. Dus: as die party maar net met één prestasie kan spog – dat oplaas toegegee sal word dat ’n rasionele geswore kommunis soos Dimitri Tsafendas die gehate Verwoerd uit die weg geruim het – mag dit net aan die party ’n nuwe prestige, ’n nuwe bestaansrede, gee. Só word klaarblyklik geglo.

Ek kan nie sien hoe enigiemand regter Beyers se beslissing dat Tsafendas ontoerekenbaar was op ’n regtens geloofwaardige wyse ter syde kan stel nie. Dit laat Dousemetzis-hulle met ’n ongemaklike waarheid: ’n mens kan mos hoegenaamd nie op iemand wat patologies ontoerekenbaar verklaar is, se morele oortuigings en politieke standpunte peil trek nie. So iemand kwalifiseer vanselfsprekend ook nie vir ’n heldeverering nie – selfs nie eens ná sy dood nie.

Ten slotte: Dousemetzis se boek wemel van slordighede: spelfoute soos “Breytan” (die naam van die bekroonde Afrikaanse digter); “Donges” (deurgaans sonder die vereiste umlaut op die o); “Belleville” (in die Kaapse Metropool); “Vewoed”; “Verwroed”. Ook: “National Party followers fondly dubbed him [Verwoerd] ‘Oom (Uncle) Henny’” – vir my ’n nuwigheid. (Elders word Verwoerd “Heinriche” genoem.) So sou ’n mens kon aangaan.

Die slordigste is egter die skrywer se oënskynlik uitgebreide bronnelys wat resensente soos Max du Preez[63] en Theunis Engelbrecht[64] laat swymel het van bewondering. Hulle het, jammer genoeg, nie raakgesien dat wanneer die bronnelys by die skrywer Worger eindig, dit weer vanaf die skrywer Schadeberg herhaal word nie. Dit laat die lys met ’n indrukwekkende 51 titels groei – maar dit is “fopnuus”.

Klaarblyklik ontbreek hier ’n streng redakteurshand, wat ’n mens laat wonder of daar oplaas nie een of ander haas was om te publiseer nie.[65]

Die betroubaarheid van die skrywer se (oënskynlik nooit volprese) argivale navorsing is ook volgens my onder verdenking. Om dit punt vir punt te verifieer sou ’n enorme taak wees. Of dit die moeite werd sou wees, is te betwyfel. Immers: die slotwoorde van my artikel in Die Burger (waarmee ek hier bo begin het) lui: “Dousemetzis verdien erkenning vir sy argivale navorsing. Hoewel dit wemel van foute en verstommende aannames, verhelder dit tog plek-plek ons kennis van ’n donker periode in ons geskiedenis. Wat hy daarmee wil bereik, is egter ’n ander storie. Die woorde van Dalene Matthee se onvergeetlike karakter, Fiela Komoetie,[66] kom by my op: hier word visgevang in ’n pispot. Met permissie.”

Ek staan daarby.

[1] https://www.netwerk24.com/Sake/Eiendomme/die-keer-vanuit-n-regsperspektief-20190118.

[2] Dousemetzis, Harris: The man who killed Apartheidthe life of Dimitri Tsafendas (Jacana Media, 2018).

[3] Tsafendas is immers tussen 1943 en 1959 in minstens 11 psigiatriese inrigtings in die VSA en Europa opgeneem en behandel. Die bewysmaatstaf by sulke ondersoeke is die “ligte” maatstaf van die siviele prosesreg: ’n oorwig van waarskynlikhede – vgl artikel 78(1A) van die Strafproseswet, wet 51 van 1977.

[4] A w 271.

[5]The Warren Commission Report: The Official Report on the Assassination of President John F Kennedy (Associated Press, 1964).

[6] Steyl, GC (SC): Regters aan die Woord – ’n aantal uitsprake van die Hooggeregshof (Tafelberg, 1971), ble 11 en 15.

[7] Wet 51 van 1977.

[8] Regter Beyers en die regspanne van die staat en verdediging was dus aan die M’Naghten-reëls gebonde.

[9] Sien Grant, James: The responsible nind in South African Criminal Law (Juta, 2018), bl 16.

[10] Dit geld ook die skerp kritiek wat die skrywer uitspreek teen die Van Wyk-kommissie van ondersoek na die sluipmoord op Verwoerd. Ook dáár was die bewerings dat Tsafendas ’n geswore kommunis sou gewees het, totaal irrelevant. Immers: ’n persoon wat deur ’n hof as psigies siek – dus permanent ontoerekeningsvatbaar – verklaar is, se “status” word in minstens twee verdere opsigte geraak: (i) Hy word regtens verhoed om aan die normale handelsverkeer deel te neem. Hy kan byvoorbeeld nie ooreenkomste aangaan nie, nie ’n geldige huwelik sluit en nie ’n geldige testament verly nie. (ii) Watter waarde kan jy heg aan sodanige pasiënt se morele, politieke en godsdienstige oortuigings? Dousemetzis is ook erg krities daaroor dat die Van Wyk-kommissie getuienis agter geslote deure aangehoor het. Dit was indertyd nie ’n ongewone verskynsel nie; dit was ook die werkswyse van die Warren-kommissie – vgl eindnota 5 hier bo.

[11] Oor Meyer se termyn as AB-voorsitter, sien Stals, EP (in opdrag van die uitvoerende raad van die AB): “Geskiedenis van die Afrikaner-Broederbond (1918–1994)” (Johannesburg, 1998 – tot dusver ongepubliseer; eksemplare doen wel die rondte).

[12] Dit is min of meer die strekking van opmerkings deur die “linkse” politieke kommentator Piet Croukamp tydens ’n regstreekse uitsending op 23 Januarie 2019 van kykNET Verslag in Gesprek op DStv-kanaal 144. Waar ek nog hier bo respekvol sê mense is “keelvol”, het Croukamp reguit gesê mense is “gatvol” vir die vermelde skynheiligheid. Sien https://www.netwerk24.com/Stemme/Menings/vermy-liefs-nog-olie-op-die-vuur-20190124.

[13] Die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping; die Nugent-kommissie van ondersoek na belastingadministrasie en die Inkomstediens; die Mokgoro-kommissie van ondersoek na die geskiktheid van advv Jiba en Mrwebi; en die Mpati-kommisie van ondersoek na die Openbare Beleggingskorporasie.

[14] Random House / Struik, Umuzi (2009).

[15] Die bekende politieke kommentator Jan-Jan Joubert deel hierdie gedagtegang in ’n LitNet-resensie: “Hierdie boek is ’n samevoeging van samesweringsteorieë, feite en versinsel wat eerder nooit gepubliseer moes gewees het nie.” Die boek, sê hy, is “snert toegedraai in ’n geskiedenisbaadjie.” Sien https://www.litnet.co.za/i-die-lang-generaal-i-n-samevoeging-van-samesweringsteorie.

[16] Soos regter Beyers hom ietwat onvleiend – maar duidelik ook met empatie – beskryf het. Sien Steyl, a w bl 18.

[17] A w  bl 2.

[18] Ibid.

[19] Giliomee, Hermann: Die laaste Afrikanerleiers – ’n Opperste Toets van Mag (Tafelberg, 2012) op 69

[20] A w bl 6.

[21] A w bl 6.

[22] A w bl 286.

[23] Ibid.

[24] A w hoofstuk 13: “A State-President’s (sic) Patient”, 283 ev.

[25] Van Woerden, Henk: Domein van Glas (uit Nederlands vertaal deur Antjie Krog) (Quellerie, 2000).

[26] Ibid, bl 176.

[27] Dousemetzis, a w ble 346 en 348.

[28] Harmse, Wynand: SAUK 1936–1995 – Steeds sleutelspeler … of bedreigde spesie? (Naledi, 2018) – in die besonder hoofstukke 6 en 7.

[29] Dousemetzis, a w ble 74–5; 190.

[30] Meyer, PJ: Nog nie ver genoeg nie – ’n persoonlike rekenskap van vyftig jaar georganiseerde Afrikanerskap (Perskor, 1984), bl 41.

[31] Dousemetzis, a w bl 30.

[32] Theron, Erika: Sonder hoed of handskoen (Tafelberg, 1983), hoofstuk 5: “Die Ossewa-Brandwag”.

[33] A w bl 30.

[34] Ibid.

[35] D’Oliveira, John: Vorster – die mens (Perskor-Uitgewery, eerste uitgawe, vierde druk, 1978), bl 183.

[36] Sien http://cosmos.ucc.ie/cs1064/jabowen/IPSC/php/event.php?eid=1134.

[37] Dousemetzis, a w bl 402, voetnoot 25.

[38] Thom, HB: DF Malan (Tafelberg, 1980), bl 291.

[39] Sien: http://cosmos.ucc.ie/cs1064/jabowen/IPSC/php/event.php?eid=3314.

[40] Sulke bronne word kwistig in sy bronnelys aangegee, maar dit is duidelik dat hy bitter min daarvan bestudeer het.

[41] GD Scholtz se Verwoerd-biografie in twee dele (Perskor, 1974) word – dalk ietwat onverdiend – as ’n “hagiografie” bestempel, straks vanweë die skrywer se intiem persoonlike verbintenis met Verwoerd oor baie jare. Dit is nogtans in talle opsigte ’n waardevolle inligtingsbron. Dousemetzis neem dit op in sy bronnelys (hy vermeld egter verkeerdelik dat die skrywer JJJ Scholtz is), maar haal – sover ek kon vasstel – net op een plek daaruit aan. (Sien eindnota 52 hier onder.)

[42] A w, Eerste Band, hoofstuk 13, bl 159 ev.

[43] A w bl 80, voetnoot 60.

[44] A w bl 80.

[45] Scholtz, a w, Deel 1, bl 170. Sien ook Verwoerd, Wilhelm J: Verwoerd – Só onthou ons hom (Protea Boekhuis, 2016), ble 49 ev.

[46] So asof die koste van arbeid die enigste funksie is wat ’n hoë ekonomiese groeikoers (in Verwoerd se tyd meer as 6% jaarliks) sal verseker.

[47] A w ble 6–7.

[48] A w ble 379.

[49] A w bl 121.

[50] Tans lied 268 in die Liedboek van die Kerk.

[51] Die skrywer word verkeerdelik as JJJ Scholtz aangegee.

[52] Dousemetzis, a w, bl 449, voetnoot 17. Scholtz, a w, bl 153.

[53] My beklemtoning.

[54] Barnard, Fred: 13 Jaar in die skadu van dr Verwoerd (Perskor, 1967), bl 85.

[55] A w, bl 7.

[56] Ibid.

[57] Koorts, L: DF Malan en die opkoms van Afrikaner-Nasionalisme (Kaapstad: Tafelberg, 2014).

[58] Van Heerden, Marié: Stokkiesdraai – Die Verwoerdversameling in beeld en dokumente (Pretoria: Folio Uitgewers, 1984). Sover ek weet, is die plaas nooit formeel aan die Verwoerds oorgedra nie. Die ander bekende vakansieplek van die Verwoerds was – ís, trouens, steeds – die strandhuis Blaas ’n Bietjie wat die premier volledig vir sy eie rekening op Bettysbaai laat oprig het. Iemand wys nou die anderdag weer op die skreiende kontras tussen dié vakansiehuis en die skokkende vergrype – ten koste van die belastingbetaler – by Nkandla.

[59] ’n Voormalige regter van die Konstitusionele Hof, bekend vir sy blindheid sedert sy kinderdae. Dousemetzis identifiseer hom as een van die korps van vyf linksgesindes wat ingewillig het om sy verslag van 2 192 bladsye aan die Minister van Justisie te lees en daarna te onderteken. Daar word egter nie gesê hoe dié swaksiende regter dít vermag het nie.

[60] Wet 44 van 1950.

[61] Vir ’n vollediger oorsig, sien Pienaar, CG: Regsalmanak – 100 stories uit ons regserfenis (Protea Boekhuis, 2018), ble 312 ev.

[62] Ibid, ble 308 ev.

[63] Die Burger, 18.12.2018.

[64] Rapport, 16.12.2018.

[65] Die boek volg immers kort op die hakke van twee ander, uiteenlopende, boeke wat – straks vanweë hul sensasionele inhoud – klaarblyklik topverkopers was: Jacques Pauw se betroubare The President’s Keepers (NB Uitgewers, 2018) en die uiteindelik aansienlik gediskrediteerde Die seuns van Bird Island (Minnie en Steyn) (Tafelberg, 2018). Ek het ’n spesmaas Dousemetzis se boek sluit meer aan by laasgenoemde as by eersgenoemde.

[66] Matthee, Dalene: Fiela se kind (Tafelberg, 1985) bl 20.

The post Harris Dousemetzis se omstrede biografie oor Tsafendas: nóg ’n leser se indrukke appeared first on LitNet.

Vereeniging – die onvoltooide vrede deur Leon Wessels: ’n lesersindruk

$
0
0

Vereeniging – die onvoltooide vrede
Leon Wessels
Umuzi

ASIN: B0050O9RLE

Ek het die boek gelees nie omdat ek in die politiek belangstel as sodanig nie, maar deels omdat die skrywer saam met my in Hoërskool Monument, Krugersdorp was, in ’n hoër graad. Hy het daardie tyd al uitgestaan as ’n leier, alhoewel hy, nie sonder misnoeë nie, skryf hoe hy op die lys van gekose prefekte was, maar tog op die laaste oomblik deur ’n onderwyser of twee uitgestem is. Sy meisie van daardie tyd (nou sy uiters suksesvolle vrou) was hoofmeisie en dit was sekerlik ’n bitter pil om te sluk. Dit was egter ’n ervaring wat hom oor jare telkemale sou herhaal en waardeur hy baie geleer het om terugslae en verwerping te hanteer, selfs op kabinetsvlak.

Hy skryf oor sy kinderdae as die seun van ’n polisieman, die tipiese Afrikaanse gesin van die 1940’s. Sy groot liefde was perdry en hy kon die sport van jongs af beoefen, wat ’n groot aanbeveling was toe hy polisiekollege toe is en in die berede eenheid opgeneem is. Ek onthou dat die skoolhoof aan die einde van Leon se eerste jaar trots aangekondig het dat Leon die polisiekandidaat-van-die-jaar-toekenning verwerf het. Hy het sy eerste politieke tree as lid van Nusas aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO (nou Noordwes-Universiteit) gegee. Hy het die universiteit verlaat met ’n regsgraad in sy sak en het op sy geboortedorp – Krugersdorp – as regspraktisyn begin praktiseer. Daar het ’n “woelgeespredikant” hom genader om as parlementslid vir Krugersdorp te staan en van daar het sy politieke loopbaan momentum gekry.

Wessels skryf sy lewensverhaal teen die agtergrond van die Suid-Afrikaanse geskiedenis vanaf die Vrede van Vereeniging ná die Suid-Afrikaanse oorlog; sy rede is dat die onstuimigheid wat deur sy kinderdae en verder geheers het, ’n lang aanloop gehad het en dat mens hierdie perspektief moes hê ten einde sekere dinge te verstaan. Hy skryf:

Twee toesprake – dié van Jan Smuts in Mei 1902 en FW de Klerk in 1990 – het die gang van die Suid-Afrikaanse geskiedenis onmiddellik en ingrypend verander. Smuts se toespraak ná die Anglo-Boereoorlog het die pad gebaan vir vrede tussen Boer en Brit, met die uitsluiting van swart mense uit die landspolitiek. FW de Klerk – van 1972-1989 parlementslid vir Vereeniging – het 88 jaar later die deur geopen vir vrede met die internasionale gemeenskap en die insluiting van swart Suid-Afrikaners in die landspolitiek. (55)

Politieke woelinge en probleme met die Verenigde Nasies was aan die orde van die dag en hy sou mettertyd al hoe meer dáárby betrokke raak, totdat hy uiteindelik raadslid vir Krugersdorp sou word, parlementslid vir Vereeniging, later adjunkminister van wet en orde, en heelwat later lid van die Grondwetskrywende vergadering en menseregtekommissie tot sy aftrede. Sy politieke loopbaan was opwindend en intens; mens kan byna nie glo dat een mens soveel in ’n leeftyd kon beleef en vermag nie. Hy beskryf sy jare as lid van die regerende party, die protokol, spanning tydens vergaderings van die koukus, afjakke deur die staatspresident van die tyd en ander insidente met rou eerlikheid. My persoonlike opinie is dat hy onthou sal word as brugbouer tussen partye en veral groepe van verskillende rasse; hy beskryf vele gevalle waar delikate gesprekke sake op ’n mespunt gebalanseer het. Hierdie werk gee mens baie insig in veral die agter-die-skerms-politiek. Sy outobiografie is in keurige taal geskryf en onderhoudend; mens kan dit nie neersit tot die laaste bladsy nie.

Leon Wessels: Vereeniging – die onvoltooide vrede. 2010. Umuzi

The post <em>Vereeniging – die onvoltooide vrede</em> deur Leon Wessels: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.

Rainbow nation my Zulu arse: Reader impression

$
0
0

Rainbow nation my Zulu arse
Sihle Khumalo
Penguin Random House South Africa
ISBN: 9781415209547

Sihle Khumalo is an author whose work I regrettably know too little about. It appears that Mr Khumalo’s previous volumes, as with this current one, can all be classified as “travel writing” – historically a much more appreciated genre than it is today (again regrettably). Think of the travels of colonial Europeans into the Cape interior that are so highly regarded by scholars, for example, François Le Vaillant (1753–1824), among so many others. My own exposure to travel writing is limited to these, as well as almost all of the books of one Bill Bryson, a British-American author who travelled Europe, Australia and the United States, documenting his experiences. Bryson is particularly known for poking fun at himself, resulting in a lot of humour, and also displays his keen interest in the natural sciences.

Each travel writer exposes as much about themself as the places they visit, in their writing. Sihle Khumalo’s travel of South Africa is not laden with humour. Instead, Khumalo explores the tragedy of poverty in the country, the infrastructure of apartheid and exploitation, and the role of loss of identity. Buckle up, because you might not like everything that he has to say. Khumalo is, among other things, critical of names, such as “South Africa”, the “North West province” and “Soweto” (South Western Townships). According to Khumalo, these names tell the tale of a country whose identity was taken away from it. And, how can one go through life without a strong identity? Khumalo really goes out of his way to research and explain the origins and meanings of the names of all the places that he visits. This, in itself, makes the book a wonderful read, as there are many surprises to the reader along the way.

What is most impressive from the outset in this book is that it is clear that Khumalo is well read on his subject. This applies not only to his knowledge of the history of South Africa, but also to the works of other contemporary travel writers. Khumalo quotes, for example, the well-known Afrikaans travel writer Dana Snyman in the text. The book is steeped in history. “We are encouraged to ... forget about history” (150), he notes, and, by “we”, he is referring to black South Africans. He applies the term “rainbow nation” in much the same way that it is popularly applied: a nation of diversity, but united in a rainbow structure. The inequality that exists in South Africa undermines the idea of South Africa being a rainbow nation, with the filthy rich and the shockingly poor often living a stone’s throw away from each other.

Interestingly, but not noted in this book, is that the idea of the rainbow originated with theologian Archbishop Desmond Tutu, who drew parallels between South Africa and the stories as captured in the Bible, particularly the story of Moses and the covenant that God made with Moses, with the rainbow signalling the promise between God and Noah, and the ancient people of the Middle East. Tutu wrote a book to this effect, titled, The rainbow people of God (Doubleday, 1994). As God, in the Bible, made a covenant with the people of the Middle East, so God is making a new covenant with South Africans. However, Khumalo is quite critical of Christianity in this book, and rightly so, as the missionary history of South Africa is just another painful chapter of our past, where many South Africans were disrupted and experienced loss of their ancestral customs and ways of being and believing.

In travelling South Africa, Khumalo took the time to visit at least a part of every one of the nine provinces of the country. Some provinces receive much more attention than others, for example, KwaZulu-Natal. This is seen by some as the result of a travel book written from a Zulu perspective[i]; however, tribal identity is not what defines Khumalo’s book. For the most part, Khumalo simply comes across as a concerned citizen with a great love for South Africa and all the people of the country. Rather than making a call to descend into tribal politics, the book silently bemoans the lack of a common South African identity. Khumalo is a person who goes out of his way to understand the cultures of his fellow South Africans. Despite the word “Zulu” in the title of the book, Khumalo does not come across as having the view that cultural identity is what ultimately defines the human spirit. It is, rather, the willingness to adapt, to deepen understanding and to build new networks – while remaining cognizant and respectful of our rich history and diversity – which defines human beings.

While travelling in the Free State capital, Bloemfontein, Khumalo noticed (155) the Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN), and questions why there is no museum for the literature of Sesotho and other African languages. Khumalo might not be aware that, despite the name of NALN, there is also a collection of Sesotho literature housed in this very same museum. Perhaps, this is a sign of the fact that either the name NALN is somewhat misleading, or the collections of NALN remain unknown to most South Africans (perhaps both?). Khumalo then goes on to point out the spelling of the street name “Merriam Makeba”, very close to the museum, perhaps somewhat indicative of the laissez-faire approach that South Africa often takes with regard to its heritage.

When the final page of this book was turned, I was left with something of a hollowness that is hard to explain or comprehend. The only words that sprang to mind were: Is this it? There is so, so much more to South Africa! I wanted to shout from the rooftops. Yet, that being so, the purpose of this book was never to provide a comprehensive study of the history and peoples of South Africa. Rainbow nation my Zulu arse is more like a whirlwind through South Africa. It is a painful reminder of the structural injustices that persist in South Africa, the divisions that continue to haunt the country, and the fact that the rainbow identity – so much associated with the negotiated settlement of 1994 – in fact hovers between extremely fragile and non-existent.

I would encourage anyone and everyone with an interest in South African history to read this book, not only for a better grasp of the past, but for greater insight into the present and the future.

[i] See, for example, T Engelbrecht: “Sien ons land deur ‘n Zoeloe se oë” in Rapport weekliks, 27 January 2018, p 14.

The post <em>Rainbow nation my Zulu arse</em>: Reader impression appeared first on LitNet.

Viewing all 1782 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>