Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all 1790 articles
Browse latest View live

Prooi deur Deon Meyer: ’n lesersindruk

$
0
0

Prooi
Deon Meyer

Human & Rousseau
ISBN: 9780798177757

Wat ’n vreugde was dit darem nie om weer ’n boek van Deon Meyer te lees nie! Dit gebeur nie aldag dat ek 200 bladsye in ’n middag tussendeur twee spannende Curriebekerfinale deurlees nie – ’n ekstra spesiale prestasie vir my, want ek raak gou verveeld met boeke. Meyer is ’n rare uitsondering wat my altyd aan die lees kry. Maar ek wil nie hier sy deugde besing nie, dit word genoeg en veel beter elders gedoen. Vir die doel van hierdie lesersindruk wil ek net bietjie vertel van die boek en enkele gewaarwordinge deel. Ek gaan my bes doen om nie die hele storie weg te gee nie.

Die nuutste roman uit Deon Meyer se pen kombineer Suid-Afrika se uitdagings met staatskaping op briljante wyse met die wel en weë van die fiktiewe karakters Bennie Griessel, Mbali Kaleni en Vaughn Cupido, wat polisiebeamptes is by Suid-Afrika se elite-polisieeenheid, die Valke. Bennie Griessel is natuurlik geen onbekende vir Meyer se aanhangers nie. In die nuutste boek ondersoek Griessel en Cupido die dood van ’n passasier wat op ’n weelderige trein gereis het, en wie se liggaam in die Karoo ontdek word. Die aksie skuif dan heen en weer tussen Suid-Afrika en Frankryk, waar daar ’n misterieuse karakter met die naam “Daniel” ingetrek word in ’n komplot. Dit word later duidelik wie presies hierdie karakter is.

Griessel en sy kollegas jag die moordenaar(s), maar tussendeur is Bennie ook op ’n ander jag. Hy soek die hand van sy lewensmaat Alexa, die bekende oud-sangeres en musiekmagnaat, saam met wie Griessel in haar huis in Tamboerskloof ingetrek het. Sy droom is om met haar te trou, hoewel hy soms sy bedenkinge het of dit wys is dat twee gerehabiliteerde alkoholiste trou. Dan tree Bennie ook op as baskitaarspeler van die rockgroep “Roes”, waar hulle meestal by troues en diesmeer weergawes van ou rocktreffers opvoer. Maar Bennie Griessel het baie verander oor die jare. Hy besoek nou gereeld ’n psigoloog wat hom behandel, en behoudende lesers sal dankbaar wees om te verneem dat daar veel minder gevloek word in hierdie boek as in sommige van die voriges. Bennie en Vaughn se supervisor Mbali Kaleni, sit ook haar opvoedingstaak voort in Prooi, en staan altyd gereed om vir Bennie en Vaughn te berispe oor hulle kru taal, veral wanneer hulle God se naam ydelik begin gebruik.

Soos dit moet, loop twee verhale natuurlik uiteindelik ineen, en dit gebeur nogal eers baie naby aan die einde van hierdie boek. Die oorkoepelende tema is egter staatskaping, en dit word baie spesifiek geskets teen Suid-Afrika se weergawe daarvan. Hoewel daar baie verwys word na “die Russe” en hulle president Vladimir Poetin, word die omstrede Suid-Afrikaanse president nooit by die naam genoem nie. Ook nie drie korrupte sakemanne van Indië word van enige name verskaf nie – daar word deurgaans slegs na hulle verwys as die drie mans van Indië.

Die boek Koors wat in 2016 verskyn het, het Meyer se aanhangers taamlik verdeeld gelaat, met sommige wat die boek baie geniet het en andere wat daarvan niks gehou het nie. Die daaropvolgende Vrou met die blou mantel was weer in ’n baie korter formaat, gans te kort vir ’n somervakansie. Koors was egter nie ’n tipiese Deon Meyer-misdaadroman, soos wat die geval met Prooi is nie, en waar Vrou met die blou mantel ’n kort roman was, beslaan Koors meer as 450 bladsye. Die boek Prooi sal veral die tradisionele lesers van Meyer se boeke tevrede laat, want dit is vol van die tipiese spanning, humor en kwinkslae (laasgenoemde veral danksy Vaughn Cupido) waaraan Meyer se misdaadromans gekenmerk word. Anders as die geval met Koors, sal Prooi die leserspubliek veel minder verdeeld laat.

The post <em>Prooi</em> deur Deon Meyer: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.


Oor grense: ’n Lewe in die media in ’n tyd van verandering – ’n resensie

$
0
0

Foto van Ton Vosloo: Naomi Bruwer

Oor grense: ’n Lewe in die media in ’n tyd van verandering
Ton Vosloo
Jonathan Ball Uitgewer
ISBN: 9781868428861

Om nie vir grense te stuit nie.

Die memoires van die topjoernalis, Ton Vosloo, is presies net dit: herinneringe.

Dis die persoonlike deelname, insigte en kritiese kyk na ’n loopbaan van meer as 60 jaar in die tyd toe Suid-Afrika se grondverskuiwing van apartheid na ’n demokratiese regering plaasgevind het. Vosloo het ’n rol in daardie verandering gespeel.

Ook het hy ’n rol gespeel in die grense wat die media self moes verskuif van gedrukte media na internetmedia – ’n vreemde oord waarin hy sy eie voorliefde vir die gedrukte media toenemend verskraal sou sien.

Met sy gewone bedaarde selfspot karteer hy hierdie weliswaar opwindende reis van die seun wat sportmal was, wat reeds op skool beriggies begin skryf het, tot die dom besluit om vakke te kies wat hom van universiteit sou weerhou. Totdat hy nie net ’n goeie sportverslaggewer nie, maar ook ’n vertroude politieke joernalis, ’n leidinggewende redakteur en uiteindelik, heeltemal tot sy eie verbasing, die skakel tot die ontstaan van een van die wêreld se groot mediahuise (ja, dit is so!) sou word.

Daar was in die media groot afwagting vir hierdie boek. Nie net vanweë die merkwaardige rol van die man self nie, maar ook weens sy beroemde en soms bevraagtekende verhouding met Koos Bekker, een van sy protégés, wat mettertyd ook die belangrikste persbaas in die land sou word. Die Vosloo-Bekker-verhouding is die stoffasie waarvan rolprente, toneelstukke gemaak word.

In sy hoofstuk “Koos Bekker, die talisman” gee Vosloo insig in die ontmoeting tussen hom as pasaangestelde hoofbestuurder van ’n papierkoerantryk en die jong, stil entoesias vir betaaltelevisie, Koos Bekker, pas uit die VSA, waar hy ’n studie van betaalkanale gemaak het.

Bekker en sy vriend Cobus Stoffberg het reeds gesien dat die grafosfeer (druk op papier) vinnig bes sou begin gee tot die sg videosfeer.

Vosloo het in hierdie tyd as pleitbesorger by die persdireksie opgetree vir die jonger manne se geesdrif, siening en “can do”-houding.

Immers het hy self in 1983 ’n “can do”-houding getoon om die firma voor te berei vir maatskaplike en politieke veranderinge wat hy reeds as joernalis voorspel het.

So het ’n sosiaal gemaklike Vosloo en ’n sku Bekker die mediamilieu begin skud.

Benewens ’n hele klomp nuwe druktitels het interessante ondernemings soos MTN en kykNET ontstaan. Aanvanklik rukkerig; toe begin die groei aanskoulik met onder meer die “wonder van Tencent”. As internasionale speler het Naspers geskiedenis begin maak as voorkeuraandeel. (Hierdie boek is geskryf voor die huidige hekkie met Tencent.)

Die bekende Vosloo-Bekker-simbiose kry ’n rukwindjie toe daar met die pers se 100-jarige viering in 2015 die amptelike geskiedenis van die pers uitgegee sou word. (Hierdie omvattende manuskrip is deur Lizette Rabe, ’n mediakundige en hoof van die Joernalistiekdepartment op Stellenbosch, oor vyf jaar geskryf.)

Vosloo skryf dat Bekker nie geneë was met die publikasie van die boek nie, omdat dit ook op die verlede fokus. (Daar was inderdaad ’n tyd toe werknemers by Nasionale Koerante kontrakte geteken het dat hulle die strewe van die Ñasionale Party sou volg.) Vosloo het Bekker in ’n oop gehoor gevra om wel die boek te publiseer. Daar was daarna geen kwade gevoelens nie. Vosloo-Bekker sou saam in die mediageskiedenis oorleef.

Vosloo getuig steeds sy voorliefde vir papier en wys onder meer na Jeff Bezos, van Amazon-faam, wat The Washington Post in beide druk en digitaal uitgee. Vosloo, ’n sterk ondersteuner van ondersoekende joernalistiek, glo onder meer in die “dieper” delf van die gedrukte pers eerder as die vinnige inligting op die internet wat ook deur sosiale media beduiwel word.

Mag hierdie insig stu verleen aan ’n langer lewe van papier en ink.

The post <em>Oor grense: ’n Lewe in die media in ’n tyd van verandering</em> – ’n resensie appeared first on LitNet.

Liefdegroete, Grootseun: Kronieke van ’n dominee deur Barend Vos: ’n lesersindruk

$
0
0

Liefdegroete, Grootseun: Kronieke van ’n dominee
Barend Vos
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781485308836

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Daar is ’n klein tradisie wat elke maand afspeel in my woning. Elke maand koop ek ’n Christelike tydskrif met die naam LiG (jare gelede bekend as die Die Voorligter, wat die eerste keer in 1937 verskyn het). Die wonder van tydskrifte is vir my die blokraaisels wat daarin te vind is, veral Bybelblokraaisels soos wat LiG bevat, en wat ’n lekker afwisseling is op ander soorte blokraaisels. En een van die ander huisbewonders lees dan die maandelikse “Grootseun” briewe wat agterin dié tydskrif verskyn. Dit is fiktiewe briewe wat ’n dominee, bekend as “Grootseun”, elke maand aan sy ouers rig, om hulle op hoogte te bring van wat in hulle predikantseun se gemeente aan die gang is. Die briewe dek die die wel en weë van mense van die platteland en hulle bemoeienis met hulle gemeente en hulle predikantspaar en dié se twee dogters. En die hoofsaaklike doel van hierdie briewe is humor, maar behalwe vir die spot, is daar ook dikwels deernis en empatie wat deurskemer, en ook ’n goeie klomp selfspot.

Self lees ek nooit hierdie briewe in die tydskrif nie, maar uiteindelik word die briewe gebundel. Eers dan lees ek almal. “Liefdegroete Grootseun” is die nuutste versameling van briewe en is voorafgegaan deur verskeie ander bundels soos “Tannie Perskop se potjiekospenarie” (2003), “Gawie Grootwoord se groteske gebiddery” (2004), “Diaken Doors vat dywel” (2005) en “Juig, jongdominee, juig (2007). Die nuutste bundel volg dieselfde patroon as die voriges. Humor is maar ’n redelike subjektiewe saak, en dit is ongetwyfeld so dat hierdie briewe nie alle mense sal geval nie. Wat veral vir my waardevol is, is die feit dat Vos met hierdie briewe iets van die platteland, wat besig is om verby te gaan, dokumenteer ‒ die gemeenskap en ouer gemeentelede, en die sentrale rol wat die kerk in hulle lewens speel. Dit is ongetwyfeld so dat die kerk vir baie van veral die ouer lede van die gemeenskap, ’n besonder spesiale rol gespeel het of steeds speel. Hulle lewens is verweef met die kerk en met mekaar, soms ’n bietjie te veel, maar dit is waar Vos baie van sy humor vandaan kry.

Lesers wat reeds vertroud is met die vorige bundels, sal bly wees om weer te kan lees van al die ou bekende karakters soos Gawie Grootwoord en Oom Koosgoet. In die nuwe bundel besoek ’n Engelsman die gemeenskap, die buurdorp kry ’n nuwe (arrogante jong) dominee en die Buiteposgemeente raak betrokke by ’n motorfietswedren. Dit is net sommige van die gebeure waaroor Grootseun in die briewe verslag lewer aan sy ouers.  Die briewe word soos altyd ook vergesel van illustrasies deur die kunstenaar Fred Mouton. Dit was lekker om weer al hierdie karakters te kon herbesoek.

The post <i>Liefdegroete, Grootseun: Kronieke van ’n dominee</i> deur Barend Vos: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.

Huppelkind deur WO Kühne: ’n resensie

$
0
0

Huppelkind (geïllustreer deur Dorothy Hill Kühne)
WO Kühne
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624085485

Om Huppelkind na jare weer te lees en lees en lees, soos W.O. Kühne sou sê, was soos om aan een van Stokou Storieman se kosbare onthouklontjies te suig en suig en suig. Kühne was ’n woord- en storietowenaar en Huppelkind het klassieke status in Afrikaanse kinderliteratuur.

Huppel se stories het 60 jaar gelede as ses kinderverhale verskyn, later saam in ’n omnibus-uitgawe en is hierdie jaar weer deur Tafelberg in ’n bundel as Huppelkind uitgereik.

My generasie sal ook voorlesings van hierdie verhale op langspeelplate onthou, so baie van Kühne se refreine en uitdrukkings is oor generasies oorgedra en sal sónder magiese klontjies onthou word.

Kühne skep ’n geloofwaardige fantasiewêreld met die Huppel-stories. Volgens Lydia Pienaar in Die kind en sy literatuur (HAUM, 1968, p95) kan die skrywer slegs daarin slaag om sy gehoor of leser in sy fantasiewêreld te laat glo wanneer hy sélf aan die wesens, simbole en die wêreld wat hy skep, glo. Huppel se oupa skep vir hom Lekkerland, sy fantasiewêreld waar hy vriende vind in die natuur en ’n paar fantasiekarakters, soos onder andere Fiefman, Vlak-Floors en Steek. Huppelkind is egter nie suiwer fantasie nie, maar eerder, soos Alba Bouwer se Abdoltjie en Katrientjie van Keerweder, ’n verbeeldingsverhaal. Dis aanmekaargesit deur sensitiewe en verbeeldingryke taalgebruik met baie sterk fantasie-elemente, terwyl dit sterk aan die realistiese werklikheid geanker bly. Willie Burger beskryf Huppelkind as ’n belegging in die verbeelding van ’n kind.

Die Huppel-stories is deur Kühne se vrou, Dorothy Hill Kühne geïllustreer. Behalwe vir die voorblaaie van die oorspronklike ses boeke, is al die illustrasies in swart en wit uitgegee. Hoewel al die karakters in Huppelkind deur W.O. Kühne geskep is, het hy die uitbeelding heeltemal aan Dorothy oorgelaat. Huppel is deur hulle vyfjarige seun, Klaas, geïnspireer. Wielie en Walie, wat Vlak-Floors se waterwa sleep, het sy byvoorbeeld as twee waterdruppels geteken, omdat Kühne hulle as “so eenders soos twee druppels water” beskryf het. Hulle is wel klein genoeg om in Vlak-Floors se baadjiesak te pas wanneer dit slaaptyd raak. Was hulle dalk die inspirasie tot die Wielie Walie-temaliedjie van die kinderprogram in die tagtigerjare? ’n Vorige Huppel-omnibusweergawe, Huppel en sy maats, is deur Alida Bothma geïllustreer. In die nuwe Huppelkind-bundel is die oorspronklike teks en illustrasies egter behou.

Huppel is sy oupa se Huppelkind van Aan-die-Beek van Krom-en-Skeef. Hy volg sy oupa en ’n aantal ander karakters se instruksies en aanwysings en “trippel-trippel deur die grassies” en “huppel-huppel oor die plassies,” kyk links en regs, draai rondomtalie, en kyk tussen sy bene deur in sy avonture en soeke na maats en Lekkerland. Kühne se taalgebruik is wondermooi en skep van die eerste sin van die eerste titel, “Huppelkind” tot die laaste sin van die sesde titel, “Huppel verjaar,” ’n magiese atmosfeer wat aan ’n Afrikaanse Dr Seuss-storie herinner — klankryk, ritmies en rymend. Deur middel van herhaling, assonansie en verbeeldingryke vergelykings neem hy die leser na ’n wonderplek wat tegelyk realisties herkenbaar en magies is.

Anders as die geval met moderne tekste waar nooit oorverduidelik word nie, skryf Kühne, “sy pet is nat en sy baard is nat. Sy trui is nat en sy broek is nat.” Huppel en ander karakters se aksies word ook meestal drie keer herhaal. So snork en snork en snork die Slaapkousies en klop en klop en klop Huppel aan Fiefman se venster. Herhaling dra hier baie by tot ritme wat leesbaarheid vergemaklik.

Soms is verduidelikings heerlik onverwags. Huppel klop byvoorbeeld gehoorsaam volgens sy oupa se aanwysings aan Fiefman se venster, omdat die deurknop los is. Die feit dat die los deurknop niks met die klop aan die venster te make het nie, word, soos Fiefman se visnet met groot gate omdat die vissies so klein is, aanvaar sonder verdere verklarings. Toegang tot Fiefman se huis is dus, logies vir voorleser en kind, deur die venster eerder as dat die deurknop reggemaak word. Hierdie instruksies en aanwysings deur Oupa, voëls en ander karakters op Huppel se pad, is deel van Huppelkind se sjarme en boei en skep verwagtinge na die volgende instruksies en aanwysings — juis omdat dit nooit direk of vanselfsprekend is nie.

Verbeeldingryke personifikasie en vergelykings in Huppelkind herinner sterk aan Abdoltjie van Alba Bouwer wat ook, soos die eerste Huppel-verhaal, in 1958 gepubliseer is. Die vyfjarige Abdoltjie, soos Huppel, laat hom ook deur die Suidoostewind lei. Die Suidoostewind in Abdoltjie “stoot Abdoltjie se beentjies vorentoe” en “gee ’n ligte blasie” oor sy wange.” Die Vleiwind jaag op sy beurt vir Huppel aan en “pluk aan sy kuif,” terwyl die Suidoostewind met albei gesels. Abdoltjie maak, soos Huppel met die voëls, maats met die diere van die veld. In beide tekste kan die natuur as magiese element geïnterpreteer word of aan die kind se verbeelding toegeskryf word. Hoewel magiese gebeure nie tot die kuil beperk is nie, word die “diep kuil vol soet water wat nooit opdroog nie” as die enigste plek met magiese eienskappe gesuggereer.

Kühne span “menslike” fantasiekarakters met bonatuurlike talente ook in. Fiefman maak verdwynwyn en verskynwyn, Vlak-Floors maak steweltjies om jou vinniger te laat hardloop en Steek maak koekoeke vir klokke en leer hulle dan hulle wysies met sy fluit. Behalwe vir Fiefman se wyne en Huppel wat telkens moet rondomtalie draai voor dinge gebeur en die onthouklontjie, is daar egter geen, soos in moderne fantasieverhale, sprake van towerstaffies of magiese konkoksies nie. Die lummels in Huppelkind word eerder vindingryk as met behulp van bonatuurlike metodes uitgeskakel.

Die taalgebruik in Abdoltjie is ook ryk aan verbeeldingryke vergelykings. Tysie Tarentaal se stem klink “soos die skree van die ou kraan by die vismark,” Grietjie Geitjie se stemmetjie klink “soos ’n vismes wat jy op ’n rots slyp” en Abdoltjie se ou kofiatjie lyk “soos ’n ou hoender wat kol-kol verveer.” In Huppelkind seil Vlei-Floors “soos ’n lap oor die gras,” Vlak-Floors en Huppel “gly soos twee geitjies langs die geut af” en die Storieman se stem is “so sag soos ’n briesie in die blare.” Soos die natuur dus deurentyd vir die magiese sorg, word elemente uit die natuur ook dikwels met vergelykings ingespan — miskien tekenend van kinderliteratuur van dié era. Dit sou logies verduidelik kon word dat die natuur- en dierelewe destyds, toe kinders nog meer buite gespeel het, ’n groter deel van die kind se verwysingsraamwerk uitgemaak het.

Kühne het die Huppel-stories geskryf omdat daar ’n behoefte was aan lekkerleesverhale. Hy wou ’n liefde vir woorde, klanke en lees kweek, eerder as om lessies te leer. Huppelkind bied egter veel meer as storietjies. Uitdrukkings en idiome word letterlik uitgebeeld: slaapkouse, nuuskierige agies en boekwurms, maar ook Haak wat die baas is en Steek die Klaas en Wolman wat ’n wolhaarstorie vertel. Voor die lummels aan hulle einde kom, beplan hulle sluwe geskenke vir Huppel se verjaardagpartytjie. Vlei-Floors beplan ’n grappie op ’n stokkie, Diefman wil vir hom ’n poets bak en Haak beplan om vir Huppel ’n kat in die sak te koop. Wat plant- en dierkunde betref, word minder bekende voëls, soos die slanghals, lelietrapper roerdomp en ander, en bome en bosse feitelik korrek aan Huppel bekendgestel. Al die paddas van die vlei word byvoorbeeld deur Slanghals om die bos gelei, omdat sy nek soos ’n slang lyk en die versamelvoëls bou ’n groot nes op ’n platkroonboom.

Die Wolman se liedjie, “Die Land van Wol en Hare” uit “Vrolike Huppelkind” is sekerlik die mees bekende Huppelkind-uittreksel en ook in onder andere D.J. Opperman se Nuwe Kleuterverseboek opgeneem. Wie onthou nie

“Die wêreld is ’n ronde bol,
van binne is hy hol.
En in die middel, vol gevare,
Lê die Land van Wol en Hare,” nie?

Wolman is die lummels van Lekkerland se maat en hy woon in die donker gat waar Diefman sit en lees aan die boekwurms se boeke wat hy gesteel het. Wolman probeer Huppel en Fiefman met sy lied afskrik, maar met die hulp van Haakbos en sy dorings word hy losgetorring en is daar baie vir die motte om te vreet.  

Kühne se skryfstyl met baie verkleinwoorde dra by tot die voorleeskarakter van die boek. “Hy spring uit sy bedjie en trek sy kleertjies aan.” Verder verleen die gebruik van ’n paar minder moderne Afrikaanse uitdrukkings en woorde, soos “papsopnat,” “O, soetigheid!” en  Huppel wat as ’n “knapie” beskryf word, ook aan Huppelkind ’n ouwêreldsheid wat meer outentiek deur voorlesing as selflees oorgedra sal word.

Ek vermoed my bouer-oupa, wat ek selde meer as die koerant sien lees het, is op een of ander manier ook deur die Huppel-stories geïnspireer om vir ons stories te vertel. In sy stories was daar altyd ’n kind wat gestap en gestap en gestap het. Dan het hy vér voor in die pad ’n Daldoel gesien en verder gestap en gestap en gestap. Ons het vermoed die herhalings was sy dinktyd oor waarheen hy met sy storie wou gaan. Nodeloos om te sê daar was geen Lekkerland, Fiefman of wonderlike Land van Wol en Hare nie, maar ons het bly hoop en hoop en hoop. My hoop vandag is dat Huppelkind weer gelees sal word om voornemende skrywers te inspireer om nuwe klankryke, woordryke, assonerende, verbeeldingryke en uiteindelik klassieke stories die lig te laat sien om kinders weer te laat lees en lees en lees … en ouers en grootouers weer te laat voorlees en voorlees en voorlees.

Ek wens ek kon Huppelkind verpligtend vir jong Kerskouse maak hierdie jaar. 

The post <i>Huppelkind</i> deur WO Kühne: ’n resensie appeared first on LitNet.

Jan De Kinder se kinderboeke in Afrikaans: ’n resensie

$
0
0

 Rooi: Waarom boelies nie snaaks is nie, geskryf en geïllustreer deur Jan De Kinder en vertaal deur Amelia de Vaal.
Uitgewer: Pretoria, Protea Boekhuis, 2018
ISBN: 9781485308737

Is jy bang in die bos, Pappa Wolf? geskryf en geïllustreer deur Jan De Kinder en vertaal deur Amelia de Vaal.
Uitgewer: Pretoria, Protea Boekhuis, 2018
ISBN: 9781485308720

Rooi: Waarom boelies nie snaaks is nie en Is jy bang in die bos, Pappa Wolf? deur Jan De Kinder is onlangs in Afrikaans vertaal en deur Protea uitgegee. Rooi is reeds in sestien tale vertaal en Is jy bang in die bos, Pappa Wolf? in sewe tale. De Kinder skryf vanuit sy persoonlike verwysingsraamwerk. Hy was ’n bang kind en is geboelie.

Albei boeke kan in biblioterapie gebruik word en bydra tot bewusmaking van emosies waarmee baie jong kinders sukkel. In Is jy bang in die bos, Pappa Wolf? is daar ook ’n boodskap vir volwasse voorlesers. Biblioterapie kan die kind help om emosionele uitdagings te verwerk, daaglikse probleme te hanteer en sy selfbeeld te bou.

Rooi dra eenvoudig, maar baie duidelik oor hoe ’n oënskynlik onskuldige aksie tot boeliery kan lei en kan sneeubal tot groot ongelukkigheid. Dit wys verder hoe effektief dit kan wees om met die waarheid uit te kom om boeliery te stop. Ook  interessant en effektief, is dat dit die eerstepersoonverteller, die naamlose dogtertjie is wat die boeliery aan die gang sit. Boelieverhale word meer gereeld vanuit die perspektief en ervaring van die slagoffer vertel. Die feit dat almal behalwe hierdie eerstepersoonverteller-dogtertjie name het, verklap dat sy ’n universele karakter is. Enige een kan onnadenkend die boelie-proses aan die gang sit.

Sy trap in dié strik wanneer sy éérste lag en die aandag op Tobie se blosende gesig vestig. So stel sy Paul en die ander wat meer tipiese boelies is, in staat om hom te begin terg en boelie voor sy besef wat sy doen. Dis dan ook tekenend dat dit sy is wat eerste haar hand opsteek om die boeliery te bevestig en die proses van bekentenis aan die gang te sit.

In Is jy bang in die bos, Pappa Wolf? nooi Wolfie sy pa om in die bos te gaan stap, maar dis duidelik uit Pappa Wolf se houding en teëstribbeling dat hy nie wil gaan nie. Wolfie probeer hom gerusstel, maar sy pa kan nie ontspan nie. De Kinder span hier sintuie in om spanning op te bou. Pappa Wolf voel gevaar, hoor en sien iets wat hom bang maak, maar telkens het Wolfie ’n verklaring en probeer hy hom oortuig dat die bos nie so skrikwekkend is nie. Pappa Wolf kan egter nie ontspan nie. Dan lyk dit asof hulle deur die digste deel van die bos is en Wolfie prys sy pa dat hy ’n held is en hy trots op hom is. Wanneer Pappa Wolf én Wolfie egter iets ruik en Wolfie se raaiskote hom nie kan gerusstel nie, hardloop Pappa Wolf weg. Op die volgende dubbelblad ontmoet Wolfie ’n dogtertjie in rooi met ’n piekniekmandjie. Wanneer sy Wolfie vra waar sy pa is en Wolfie verduidelik dat sy pa bang vir haar ma is, antwoord sy dat haar ma dieselfde oor sy pa voel. Hulle hou piekniek en besluit dat hulle ouers se vrese waarskynlik iets met die verlede te doen moet hê.

Volwassenes skep dikwels probleme of moeilike situasies vanuit persoonlike ondervinding of ervaringe waarvan kinders glad nie bewus is nie, wat kan lei tot wanpersepsies. Wolfie en die dogtertjie in rooi ken nie Pappa Wolf, die dogtertjie se ma én die jagter agter die boom, se geskiedenis nie. Pappa Wolf en die dogtertjie se ma kan hulle geskiedenis nie maklik vergeet nie. Terwyl hulle ouers ou vrese nie wil konfronteer nie, bewys Wolfie en die dogtertjie in rooi hoe eenders hulle is en hoeveel pret hulle saam kan hê.

De Kinder het hier die voor die hand liggende scenario waar die kind banger as die ouer sou wees, slim omgedraai om sy boodskap oor te dra. Miskien ook bloot om te bewys dat daar oorkomelike redes agter alle vrese is – ’n humoristiese en verfrissende ontknoping met verwysing na die klassieke Rooikappie-sprokie.

Al De Kinder se illustrasies is dubbelblaaie, wat bydra tot die opbou van spanning in albei verhale en dit uiters effektiewe voorleesverhale maak. Teks en illustrasie vul mekaar deurgaans goed aan om by te dra tot visuele geletterdheid.

Rooi is De Kinder se gunsteling kleur, juis omdat dit ’n kleur van uiterstes is. Dis ’n kleur wat met liefde, passie en energie sowel as woede, vrees en vernedering geassosieer kan word. In albei verhale speel die gebruik van rooi ’n pertinente rol.

Die illustrasies in Rooi: Waarom boelies nie snaaks is nie, is gevoelvol in rooi en swart op ’n sepia agtergrond gedoen. Die sepia-gevoel is verkry deur die papier met koffie bruin te kleur. In die illustrasies word houtskool, potlood, verf, ink en collage gebruik. Stukkies koerant en plek-plek sy eie tekeninge word baie effektief en artistiek in sy collages gebruik. 

In Rooi dui die paar oorwegend rooi bladsye op intense spanning. Nadat die dogtertjie Tobie se blosende wange aan die ander kinders uitgewys het, word ’n hangskouer- en ooglopend ongelukkige Tobie agter ’n boom in ’n rooi gloed, uitgebeeld. Op die vorige blad staan Tobie onder dieselfde boom, in grys skakerings. Wanneer die dogtertjie besef dat sy wil hê die boeliery moet stop, gloei die dorpsgeboue in rooi agter haar.  Sy is egter teen dié tyd bang om teenoor Paul, wat die boeliery baie geniet, op te staan. Sy weet “sy tong is so skerp soos ’n mes. En sy vuis so hard soos ’n baksteen.” Sy weet dat sy nie naastenby so sterk soos hy is nie. De Kinder illustreer haar en Tobie klein in die twee onderste hoeke van die dubbelbladillustrasie met ’n wolfagtige monster in rooi en swart wat die res van die spasie vul. Wanneer sy ’n paar blaaie later wel haar hand in die klas opsteek om te bieg dat hulle vir Tobie gelag en gespot het, is haar arm die enigste ligte skakering op die blad. Die agtergrond is rooi met die res van die kinders, met stroewe uitdrukkings, in houtskool.

Hierna is die illustrasies ligter geskakeerd en die bome groen. Die narratief eggo die groen nadat die dogtertjie en ander kinders nie verder deur Paul geïntimideer word om voort te boelie nie. “Paul se lag is hol. Verbeel ek my of lyk hy groen?” Die verhaal sluit af met Tobie wat die dogtertjie uitnooi om saam met hom sokker te speel en sy blosend knik en die bal skop.

Is jy bang in die bos, Pappa Wolf? is slim in houtskool, kryt en ink geïllustreer om die tasbare atmosfeer van die verhaal telkens oor te dra. Die teks is deurgaans in swart en wit ter wille van leesbaarheid, maar in rooi wanneer Wolfie sy pa prys dat hy sy vrese oorwin het, en Pappa Wolf kort daarna gevaar ruik en Wolfie waarsku om te vlug voor hy self weghardloop. Die twee dubbelblaaie wanneer hy gevaar begin ruik, sekerlik ’n wolf se sterkste sintuig, is op donker agtergronde in groen en blou gedoen. Vrees en spanning word effektief opgebou en lei tot ’n tasbaar gelaaide atmosfeer, veral omdat Wolfie nou ook iets onbekends ruik.

Pappa Wolf vlug egter en De Kinder keer terug na ligter agtergronde wanneer Wolfie die dogtertjie in rooi opmerk en die situasie ontlont is. Pappa Wolf is nou uit die prentjie, en die verhaal eindig waar Wolfie en die dogtertjie ontspanne langs mekaar sit en haar ma in die agtergrond agter die bome verdwyn.

Rooi en Is jy bang in die bos, Pappa Wolf? is twee welkome toevoegings tot die Afrikaanse prenteboekrak wat ewe veel deur voorleser as jong gehoor of leser geniet sal word. As voetnota is dit miskien goed om te noem dat Jan De Kinder tydens sy storie-ure gebruik maak van ’n ou Japannese storieverteltegniek: die Kamishibai. Die oorsprong van die woord is kami wat papier beteken en shibai wat speel of teater beteken. Hulle gebruik ’n hout storieboks waarin visuele boekplate (die illustrasies) gewys word, terwyl die storie vertel of van die agterkant van hierdie plate gelees word. Dokters Sonder Grense (MSF) het hierdie tegniek ’n aantal jare gelede met prenteboeke begin gebruik in hulle VIGS-bewusmakingsveldtog, wat die doeltreffendheid daarvan bevestig.

Die mag van stories, veral prenteboeke, mág nie onderskat word nie. Speel-speel, met ’n fisiese boek … kan kinders bemagtig word teen emosionele lokvalle, of selfs emosionele letsels oorkom. Of hy toerus, troos of teken, Jan De Kinder is briljant.

The post Jan De Kinder se kinderboeke in Afrikaans: ’n resensie appeared first on LitNet.

Sol Plaatje: A life of Solomon Tshekisho Plaatje, 1876—1932 deur Brian Willan: ’n resensie

$
0
0

Sol Plaatje: A life of Solomon Tshekisho Plaatje, 1876—1932
Brian Willan
Uitgewer: Jacana Media
ISBN: 9781431426447 

As daar net ʼn handjievol boeke is wat vreemdelinge kan help om Suid-Afrika te verstaan sal die lysie seker moet begin met Nelson Mandela se Long Walk to Freedom en Hermann Giliomee se The Afrikaners. Voeg dan daarby Dan Sleigh se Eilande.

Sol Plaatje se Native Life in South Africa sal ook daar wees want dit wentel om daardie seminale gebeurtenis in ons geskiedenis, die Naturelle Grondwet van 1913. Die boek se swak plek is dat die helfte bestaan uit saai politiek van die dag, maar nou is daar ʼn oplossing vir die probleem: ʼn biografie van Sol Plaatje self, deur die Skotse geskiedkundige  Brian Willan.

Dis net so dik soos Mandela se lewensverhaal, maar dit lees nog makliker en is propvol beskrywings van die dekades voor en na Uniewording, waartydens die fondamente van ons wankelende staat gelê is. Willan het homself nou gevestig as die voorste kenner van Plaatje en sy lewe, en daarmee as ʼn gesaghebbende waarnemer van die Suid-Afrikaanse verhaal as ʼn geheel.

Plaatje, die eerste sekretaris-generaal van die ANC se voorloper, die SA Native National Congress, was op sy dag die bekendste swartman in Suid-Afrika. Net Paul Kruger en Cecil John Rhodes was meer beroemd as hy. Wanneer sy vele oorsese vriende vir hom geskryf het, vertel Willan by die boek se bekendstelling by die Universitieit van Johannesburg, het hulle eenvoudig op die koevert geskryf: Sol Plaatje, South Africa.

Plaatje was ʼn man van vele kante; politikus, skrywer van die baanbreker roman Mhudi, eerste vertaler van Shakespeare in Afrika, koerantredakteur en een van die eerste bioskoopeienaars in die land. Hy sou gemaklik in ons tyd kon inpas, as die kwintessensiële kosmopolitaan, draer van vele identeite. Hy was inderdaad trots op sy naam, wat sy pa gekry het by Hollanders om sy unieke plat haarstyl te beskryf ‒ sy familienaam was eintlik Mothiba. Hy was bekend vir die foutlose Engels en Hollands, en die nuwe taal, Afrikaans, wat hy kon praat na jare as tolk in ʼn hof.

’n Boorling van Barkly-Wes, was hy eintlik, nes Cecil John Rhodes, ʼn ikoon van Kimberley, en in Willan se boek en praatjie is die middelpunt van vooruitgang wat die Diamantstad in die laat 19de eeu was, goed beskryf. Dat Johannesburg binne jare hierdie status oorgeneem het, was ʼn bron van diep teleurstelling vir die ouer Plaatje.

In Plaatje se jeug kon hy beperkte stemreg uitoefen in die Kaapse parlement, en dis duidelik waar sy simpatie vandag sou gelê het tydens die studente-opstande. Sy kiesafdeling was dié waarin die Kaapse premier, Rhodes, verkies is, maar Plaatje het deurgaans teen hom gestem. Die verhaal van hoe swartmense gaandeweg die bietjie mag wat hulle gehad het, verloor het, tot hulle in 1927 in ʼn aparte administrasie gedryf is, is selfs meer hartverskeurend as die verhale van gewone mense wat hy opgeteken het in Native Life. Trouens, hoewel Plaatje se naam deesdae sinoniem is met die teenkanting teen die 1913-wet, het hy eers teen 1930 sy ewige optimisme laat vaar en verklaar dat daar geen redding meer vir swartmense in Suid-Afrika is nie. Na sy mening was die skepping van die Departement van Naturelle-Administrasie in 1927 ʼn veel groter gevaar vir die voortbestaan van swartmense as die 1913-wet.

Die boek is propvol anekdotes, soos die een oor die 23-jarige Plaatje wat sy deel bygedra het om die koloniale Kaapse owerheid sover te kry om ammunisie aan Mafeking se swartmense te verskaf om hulself te verdedig teen die komende beleg. Die empire se verteenwoordiger het Plaatje amper laat aankla van “dislojaliteit” toe hy hom weerspreek dat die Britte net 50,000 troepe en ʼn paar maande nodig sal hê om die Boere te verslaan. Plaatje het aangedring dit sal minstens 150,000 troepe en minstens ʼn jaar kos.

Sy dagboek oor die beleg bly een van die aangrypendste stel dokumente oor enige oorlog en was die kern van die herbesinning oor die deelname van swartmense aan die Anglo-Boereoorlog en die skandelike verraad van die Britte teenoor sekere stamhoofde.

’n Aspek wat groot aandag by Willan kry is Plaatje se houding teenoor inheemse tale. Een van sy grootste besware teen die toenemende ontmagtiging van swartmense in sy leeftyd was dat dit hulle almal in dieselfde hok gedryf het, hulle almal dieselfde gemaak het. In vandag se taal sou ʼn mens kon sê hy het die skepping van die kader voorsien, daardie eendimensionele konformis vir wie befondsing deur die staat sy historiese reg is.

Plaatje het hom onvermoeid bewyer vir inheemse tale, veral Setswana. Hy het woordeboeke saamgestel, idiome en spreuke versamel, koerante in ander tale as Engels uitgegee. “He devoted himself to exploring the creative potential that lay in his country’s multiplicity of cultural traditions,” skryf Willan.

Hy het Afrikaans en Kaaps as twee verskillende tale beskou. Omdat hy so baie wit vriende gehad het, het hy deurgaans geglo dialoog sal die gety van segregasie stuit, en toe hy na 1927 finaal besef hy was verkeerd, het hy hom toegespits op die ontwikkeling van Setswana en die bewaring van die Tswana-kultuur.

In vandag se diskoers oor dekolonisasie is daar geen twyfel dat hy hom beide ten gunste van globalisasie sou uitspreek en die bevordering van inheemse tale, insluitende Afrikaans en Kaaps, sou aanbied as bolwerk teen enige neokolonialisme wat globalisasie sou meebring.

 

The post <i>Sol Plaatje: A life of Solomon Tshekisho Plaatje, 1876—1932</i> deur Brian Willan: ’n resensie appeared first on LitNet.

Bywoner dra by tot plaasromangenre

$
0
0

Bywoner is geskryf deur At Kruger en is ’n selfpublikasie. Die verhaal handel oor die ryk boer Wyn Meyer en sy vrou Alexis en hulle vier kinders Tobias, Blanche, Aldo en Vicky.

Op die agterblad word die inhoud van die boek soos volg verwoord: “Hoekom Bywoner as die Meyers stinkryk is? Waarom boer hulle op ʼn koopplaas ver van hulle erfgrond?” Dit noem voorts dat die roman ’n verhaal “geskilder met nostalgie oor plaaslewe” is – soos verwoord vanuit die roman: “Also verdrink in nostalgie oor verdwene kinderjare.” Dit is hierdie nostalgiese reis oor die plaaslewe wat bydra tot die positiewe waarde van die roman.

Die roman lewer dus as sulks ’n bydra tot die plaasromangenre. yHyHyKruger romantiseer die idilliese plaaslewe – ’n kenmerk van die vroeë skrywers van die plaasroman soos CM van den Heever. Bywoner sit hierdie tradisie voort in sy uitbeelding van die plaaslewe as een van geluk en harmonie en vrede: “Vredig en gelukkig sug Karel ’n slag diep uit sy binneste, wyl hy ver oor die uitgestrekte vlaktes in die suide in staar. Rooibosstompies knetter en kraak van kole raak, vir vleis braai” en “Selfs vandag, in die harde middagson, kyk Wyn meer na die landskap wat algaande styg tot waar Fort Meyer staan en verby tot waar die plantasies, op Verkykerskop, wankel in die hittegolwe, as wat hy let op waar hy ry.”

Bywoner se vernaamste tema is familie en famileverwantskappe. Tipies van die plaasroman is daar die patriarg Wyn Meyer wat oor die plaas regeer. Alhoewel Wyn hardkoppig is, is daar ook ’n speelsheid en sagtheid in hom. Alexis is nie die tipiese onderdanige boervrou nie en is nie bang om teen Wyn se besluite en voorstelle te gaan nie. Behalwe die familietema, raak Kruger ook ander hedendaagse belangrike temas  aan: voedseltekorte en GMO-produkte: “Julle hoor dan juis vanoggend nuustyd weer van wêreldwye voedseltekorte. ’n Mens weet ook nie hoeveel van die vlaag bangmaakstories oor die wêreld se voedselvoorrade is waarheid, hoeveel is propaganda om GMO-produkte in voedsel vir die mensdom aanvaarbaar te maak nie.”; grondhervorming en -onteiening: “Regeringsgeld, belastinggeld; boere na aanleiding van grondeise vir ’n appel en ’n ei uitgekoop en onder groot geskal in die hande van die grondeisers gegee. En niks. Hier word nie geboer nie.”; die nuwe Suid-Afrika en die korrupsie wat daarmee saamgaan: “Die Eilandboere kan nie sommer so verniet grond kry om op te boer nie, hulle moet huur betaal. Toe reken hulle mos, moet ons huur betaal dan het ons mos verblyfreg.”; en die omskakeling van plase na wildplase om trofeejag en finansiële gewin te verseker: “Van samewerking en oplossing van gemeenskaplike probleme, geen sprake nie. Ons boere is eenvoudig net te sleg. Almal in die siek Suid-Afrikaanse lewensorkes tokkel dieselfde snaar: game lodge, game lodge, game lodge!”

Enkele punte van kritiek kan teen die roman genoem word, waarvan die belangrikste een is dat die ysterhand van ’n redigeerder ontbreek. Die boek is 534 bladsye lank (té lank) en met die streng hand van ’n ervare keurder en veral van ’n redigeerder sou baie van die onnodige verhaallyne en taalslordighede uitgesny kon word. Die verhaal spring van een verhaal na ’n ander verhaal en van een tydsvlak na ’n ander tydsvlak: byvoorbeeld Julie 2004, November 1905, Desember 1958, Mei 2006, Junie 2012  – ongelukkig slaag dit nie soos in ander romans wat met verskillende tydsvakke werk nie. Ander redigeringsaspekte soos die klein lettertipe (wat dit nogal moeilik maak om te lees) en die bladuitleg kon uitgeskakel word indien die skrywer dit aan ’n redigeerder voorgelê het. Net so sou dit die taalslordighede uitgeskakel het. Daar is die geykte uitdrukkings soos “Wyn, die verlies van ’n seun moet bitterder as gal wees” wat pla; asook taalslordighede soos “huistoe” en “plaastoe”; die verkeerde gebruik van “was” vir die verlede tyd in plaas van “is”; onnodige mooiskrywery (“Daarbinne kwinkeleer dit erger as vinke” en “Sy gedagtes stoei met Raka.”) en die staccato-agtige kort sinne: “Tyd wag vir niemand nie. Is tyd vir kuier saam met my dogter. Sommer bietjie spog met haar ook”.

Ten spyte hiervan is Bywoner ’n roman wat ’n mens maar kan lees, veral diegene wat hou van historiese gegewens en van die plaaslewe. Dit verwoord nie net die verhaal van Wyn en Alexis en hulle kinders nie, maar dra tog by tot die plaasromangenre. Dit beeld ten slotte iets van die ingewikkelde veranderinge en aanpassings in ’n veranderde Suid-Afrika en wêreld uit.

The post <i>Bywoner</i> dra by tot plaasromangenre appeared first on LitNet.

Gert en Joey: Nuwe lig op ’n raaisel van dertig jaar deur Pieter van Zyl: ’n lesersindruk

$
0
0

Gert en Joey: Nuwe lig op ’n raaisel van dertig jaar
Pieter van Zyl
Uitgewer: Penguin Random House South Africa
ISBN: 9781776093144

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

My kennis van Gert van Rooyen en die verdwyning van die kinders waarvan Van Rooyen verdink word, is maar baie skraps. Dit is beperk tot ’n paar sinne of ’n opmerking hier en daar, en dan ook ’n dokumentêr op die televisie eenkeer oor opgrawings wat in KwaZulu-Natal gemaak is. Ek is met ander woorde ’n leek, maar misdaad is altyd ’n verkoper van boeke. En seksmisdaad, veral waar kinders betrokke is, is des te meer ’n sensitiewe saak wat almal raak. Nie dat daar duidelikheid is oor wat presies gebeur het in die saak rondom Gert van Rooyen nie. Dit word tereg ’n “raaisel” genoem. Van Rooyen, weet ek nou uit hierdie boek, het vroeg in sy lewe in die tronk beland weens “onsedelike aanranding” op minderjariges. Na hy sy vonnis uitgedien het, is hy later verdink van die verdwyning van verskeie kinders wat nooit weer gevind is nie. Hy het uiteindelik weens selfdood gesterf , tesame met Joey Haarhoff.

Dit is nie vir my lekker duidelik wat presies die “nuwe lig” is wat op die verdwynings gewerp word in die boek nie. Dit wil voorkom of wat presies van die vermiste kinders geword het, vandag nog net so onduidelik is as toe dit gebeur het. Miskien sal mense wat meer voorafkennis van die saak as ek het, in ’n beter posisie wees om te kan oordeel of daar noemenswaardige nuwe inligting oor die verdwynings in hierdie boek onthul word wat nie voorheen bekend was nie. Van Zyl se boek vat egter ten minste die hele saak goed saam deur al die gebeure te herbesoek. En dit dokumenteer die naloop van die gebeure. Hoe die saak na soveel jare nog steeds die verbeelding aangryp.

In hoofstuk sewe is daar wel darem getuienisse van “die slagoffers wat ontsnap het”. Dan is daar ook in hoofstuk ses interessante inligting oor hoe die families van die vermiste kinders se desperaatheid uitgebuit is. Hoe hulle vir geld afgepers is. In hoofstuk agt word daar na ander omstrede pare gekyk wat verbind was met misdaad, soos die geval van advokaat Barbie en Dirk Prinsloo. In hoofstuk nege word die saak van Gert en Joey dan vanuit ’n sielkundige perspektief ondersoek, en die laaste hoofstuk eindig met die betrokkenheid van heldersiendes by die saak, waaroor ek persoonlik maar net my kop in ongeloof kan skud. Dit is veral die hoofstuk oor die sielkunde wat uitstaan, waarin die aard van Gert van Rooyen en Joey Haarhoff se verhouding onder die psigologiese bril deurloop. Die verdwyning van ’n medemens lei ook tot die voortdurende hertraumatisering van die geliefdes, anders as met die geval van die dood.

Van Zyl se boek het my vir die eerste keer op omvattende wyse aan die tragiese gebeure van die verdwyning van die jong kinders blootgestel. Alhoewel ses kinders met die saak verbind word, is dit hoogs onwaarskynlik dat daar nie nog ander kinders is wat ook as deel van die misdrywe verdwyn het nie. Daar was dus moontlik nog ander verdwynings ook. Die moontlikheid is ook nie uitgesluit dat Van Rooyen deel van ’n sindikaat was nie, maar dit bly ook maar spekulasie. Of lesers wat reeds goed vertroud is met die saak hierdie boek soveel sal geniet soos wat ek het, daaroor kan ek self maar net spekuleer. Daar is van die hoofstukke, soos 8 en 10, wat selfs vir my nie juis interessant was nie, en waarvan die inligting alombekend is (of in die geval van heldersiendes, wat geen tasbare bydrae gelewer het tot wat van die kinders geword het nie). Vir my was die boek egter grotendeels die moeite werd om te lees.

Lees ook

Gert & Joey, nuwe lig op ’n raaisel van dertig jaar: ’n onderhoud met Pieter van Zyl

The post <i>Gert en Joey: Nuwe lig op ’n raaisel van dertig jaar</i> deur Pieter van Zyl: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.


LitNet Akademies-resensie-essay: Il Paradiso deur Dante Alighieri (vertaal deur Cas Vos)

$
0
0

Il Paradiso
Dante Alighieri
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781928426288

Inleiding

 Il Paradiso is die laaste afdeling van Dante Alighieri se werk, "La Divina Commedia". Cas Vos het sy hand daaraan gewaag om hierdie middeleeuse Italiaanse werk in Afrikaans te laat herleef.

Dit is nie sy eerste poging nie. In sy voorafgaande oeuvre, "Die Goddelike Komedie", met die onderskrif, "Liefde laat die son en sterre sing" (Vos: 2017), het hy reeds grepe uit al drie afdelings van Dante se werk omgedig, naamlik, Inferno, Purgatorio en Paradiso.

Vos se resente werk fokus op laasgenoemde, die Paradys.

Reisgidse

"La Divina Commedia" begin waar Dante in die middel van sy lewensreis homself in ’n woud bevind en op ’n manier die spoor byster raak. Gelukkig verskyn daar spoedig gidse wat hom help om weer sy pad te vind, en hom op sy reis begelei. Net soos wat Dante gidse nodig gehad het, het die leser van die een-en- twintigste eeu ook reisgidse nodig as hy of sy saam met Dante op reis wil gaan, want die middeleeuse wêreld en denke is ’n ander en vreemde landskap.

Voordat hy by die teks self uitkom, begin Cas Vos om sy leser aan die wêreld van Dante voor te stel. Hy verwys kortliks na Dante se persoonlike omstandighede wat alles behalwe aangenaam was (Vos 2018:1–2; sien Vos 2017:2–9 vir ’n meer breedvoerige bespreking). "La Divina Commedia" is gebore uit Dante se diepe teleurstelling met die politieke en teologiese bestel van sy tyd. Hebsug, magsmisbruik en knoeiery is aan die orde van die dag, en keiser sowel as pous maak hulle hieraan skuldig. Dante se persoonlike politieke betrokkenheid in sy geboortestad Firenze (Florence) lei daartoe dat hy uiteindelik uit sy eie stad verban word.

Ontnugter, en wanhopig oor die aardse bestel, onderneem Dante ’n fiktiewe "reis" waarin hy die heersende instansies van sy tyd kritiseer, maar uiteindelik uitkom by ’n visioen van die volmaakte, van die paradys en die Liefde self aanskou. Dante se reis begin by die hel, neem hom deur die plek van loutering en eindig in die paradys. Die Latynse digter Virgilius was aanvanklik sy eerste gids, maar teen die einde van Il Purgatorio neem Beatrice oor en help hom verder. Beatrice was die liefde van sy jeug, maar eintlik ook die liefde van sy lewe. Sy het vroeg gesterf, toe sy maar vier-en-twintig jaar oud was, en Dante laat haar herleef om hom in die hemel in te lei.

Dante Alighieri

Om Il Paradiso te verstaan, is dit belangrik om te weet hoe die middeleeuse mens die kosmos voorgestel het, en watter literêre werke, filosofie en teologie Dante beïnvloed het. Vos (2018:6) wys daarop dat hy in ’n tyd vóór die opkoms van die natuurwetenskappe geleef het, toe ’n geosentriese wêreldbeeld gehandhaaf is, dit wil sê, die aarde is die middelpunt van die heelal, en alles draai daaromheen (Vos 2018:6–8). Hierdie wêreldbeeld is verder beïnvloed deur klassieke Griekse filosowe soos Plato en Aristoteles, maar Dante steun veral op Ptolemeus (tweede eeu nC) in sy voorstelling van die aarde as middelpunt wat deur ’n aantal konsentriese hemelsfere omring word.

Vervolgens skenk Vos (2018:9–11) aandag aan die middeleeuse astronomie rakende Vaste Sterre en Wandelende Planete. Die Wandelende Planete word deur die eerste sewe hemelse sfere gedra, en hulle is: Maan, Mercurius, Venus, Son, Mars, Jupiter en Saturnus. Die agste sfeer dra die Vaste Sterre, die negende sfeer is die terrein van die "Eerste Beweger" (Primum Mobile), waar ruimte, tyd en natuur in beweging gebring word. Die hoogtepunt vanwaar alles egter bestuur word, is die tiende sfeer: die Empireo, die vurige hemel, wat onbeweeglik, en buite tyd en ruimte is, die woonplek van die Skepper self (Vos 2018:10).         

Die feit dat die planete (behalwe die aarde) na Romeinse gode en godinne vernoem is (Vos 2018:12) is alreeds ’n aanduiding dat mites uit die Grieks-Romeinse wêreld ook in Dante se werk vervleg is (Vos 2018:20–22). Maar saam met Dante se voorstelling van die aarde en omringende hemelsfere, moet die middeleeuse besondere komplekse engeleleer in gedagte gehou word. Verskeie engelekore of -groepe bestuur elk van die nege sfere: Maan –engele; Mercurius –aartsengele; Venus – vorstedomme; Son–magte; Mars–kragte; Jupiter –heerskappye; Saturnus –trone; Vaste Sterre–gerubs; Primum Mobile –serafs. Die tiende, die Empireo, lyk vir Dante soos ’n amfiteater in die vorm van ’n wonderskone roos, waar hy al die saliges in die hemelse hof van God sien (Vos 2018:35). Om die leser te help, stel Vos (2018: n.p.) hierdie besonder komplekse teologies-kosmologiese konsepte skematies aan die begin van sy bundel voor.

Vos wil die leser deurgaans daaraan herinner dat die middeleeuse mens, soos Dante, die wêreld anders as in die een-en-twintigste eeu verklaar het. Hy wys byvoorbeeld op die natuurwetenskaplike teorieë vir die ontstaan van die heelal, die sterre, en die formasie van planete (Vos 2018:16–19). Ook die verduideliking vir die vlekke op die maan, bring ’n glimlag nie net om die lippe van Beatrice nie, maar ook van die hedendaagse leser (Vos 2018:23-25). Enersyds is dit goed om bewus te wees van die afstand tussen toe en nou. Die ernstige leser moet dit egter waag om sy of haar "nou" opsy te skuif, en ’n sprong te neem na die eerste hemelsfeer, waar Dante se laaste reistog begin.    

As gelowige maar ook as geleerde van sy tyd, het Dante die Bybel geken, was goed vertroud met die teologiese werke van onder andere Thomas van Aquino, Augustinus, Bernardus van Clairvaux, en hy tree in gesprek met hulle of hulle met hom in Il Paradiso. Vos (2018:26–35) bespreek hierdie figure, verduidelik hul teologie kortliks, en dui ook aan waar en in watter Canto's hulle te voorskyn kom. Maar nie net teks en teologie nie, ook sang en lig word in die paradys aangewend (Vos 1018:41–48). Heel treffend is Vos (2018:49) se eie twee slotstrofes aan die einde van die hoofstuk:

Ek aanskou hoe die wit roos oopkelk
en God se skoonheid en lof versprei
sonder dat die rooskelk ooit verwelk.

Ek staar my blind in u glansende Lig,
almal in die hoogstehemel skink u lof,
u heerlikheid is heilig, heilig, heilig.  

Die vertaling/omdigting

Purgatorio

Vos (2018:36–40) meld kortliks iets oor die retoriek en poëtiese strategieë waarvan Dante gebruik gemaak het, en waaraan hy as vertaler/interpreteerder probeer het om reg te laat geskied (kyk ook Vos 2017:27–29; 32–34). Tersines en die terza rima-rymskema het ’n vaste, gedronge patroon wat metrum en rym betref, en stel besondere vereistes aan die vertaler. "Om te vertaal is in die eerste plek om keuses te maak. Die vertaler mag nie Dante se tersines so probeer tem dat hy/sy dit vir sy/haar doeleiendes 'inheems' maak nie. Die vertaler moet na die woorde wat hy kies luister en dit vergelyk met die letterlike betekenis van die oorspronklike taal. Hy moet die gevoelswaarde daarteen opweeg ten einde die geskikte toonaard en kadens te vind. ’n Vertaling vra ook na die musikaliteit, ritme en samevoeging van woorde en sinne." Maar, sê hy, verder, "dat daar in enige vertaling ’n mate van verraad skuil" (Vos 2018: 64,65). Dit is veral die geval met poësie waar ’n enkele woord ’n omvattende semantiese veld van betekenis kan ontsluit, ’n verwysingsraamwerk oproep wat net in die brontaal geaktiveer kan word. Die vertaling van poësie is moeilik genoeg in twee verskillende kontemporêre tale; des te meer nog so wanneer die tale wêrelde en eeue van mekaar verwyder is. Tog reken Vos (2018:64):" ’n Vertaling in die eie taal is soos soetvye op die tong. Die Paradiso kry in Afrikaans ’n eie lewe, ritme en stukrag."   

Vos se 2017 bundel het reeds iets van bogenoemde bewys. Terwyl hy streng by die vaste rympatroon gehou het, het hy nie in dwangrym verval nie, en met vars beelde en metafore in Afrikaans vorendag gekom. So ook in Il Paradiso, wat ’n besondere groot uitdaging bied. Daar is altesaam XXXIII Canto's wat uit drieledige tersines opgebou is en wat uit drie en dertig lettergrepe bestaan. Vanaf bladsy 80 tot 302 word hiermee volgehou. Enkele voorbeelde van Vos se manier van omdigting:

Canto II:1–6 (Vos 2018:87):

O julle wat gretig is om oor naby te hoor,
en julle boot die wit sproeispore volg
wat julle singend op die wind se maat bekoor,

draai liewer om, terug na julle dobberende skepe,
want die see se splintergolwe is lewensbedreigend.
Miskien skeur die chaoswinde julle seile aan repe.   

Canto XII:10–15 (Vos 2018:39; 154):

Soos twee reënboë kleurryk en neffens mekaar
soms kromrug oor ’n deursigtige wolk buig
as Iris die aarde met reënsagte druppels bewaar,

so weerkaats die buitenste boog die binneste boog;
net so is die stem van daardie dwalende nimf
deur haar liefde verteer soos mis deur die son se oog.

Die klassieke terza rima rymskema wat Dante gebruik het, is besonder kompleks, en weerspieël ’n soort "kettingrym": aba bcb cdc (Vos 2017:32). In Il Paradiso volg Vos die aba bcb cdc patroon, maar dit is nogtans moeilik genoeg. Om eers die middeleeuse Italiaans te vertaal, binne sy eie konteks te verstaan, en vir ’n totaal ander konteks te herinterpreteer en vertaal, stel "Herkuleaanse" eise aan die vertaler. Omdigting uit klassieke werke is beslis ’n sterk punt in Cas Vos se werke.  

’n Verdere hulpmiddel 

Ten spyte van die "verhelderende" aantekeninge, sou die hedendaagse leser egter steeds ’n bietjie verlore in die middeleeuse paradys verdwaal het. Vos lig sy vertaling verder toe met wat hy "Verklarende Aantekeninge" noem (Vos 2018:303–441). Hierdie aantekeninge het betrekking op elk van die XXXIII Canto's. Die gedronge en beknopte styl van die poësie is moeilik om te volg, en die leser moet min of meer weet waar hy/sy hom/haar in die loop van die gebeure in. Die verklarende aantekeninge belig as't ware die "storie", en ook wat met sekere uitdrukkings bedoel word. Dit sou inderdaad raadsaam wees om voortdurend ’n vinger op "Verklarende Aantekeninge" te hou namate ’n mens deur Il Paradiso lees, ten einde by die Empireo uit te kom.

Mistiek

Divina Commedia

 Mistiek is vir die deursnee Afrikaanssprekende gehoor dikwels ’n vreemde konsep. Dit was egter integraal deel van die vroeë kerk en middeleeuse wyse van aanbidding. "Die mistiek was in die Middeleeue ’n stroom wat die siel gevoed het," merk Vos (2018:26) op, en hy verwys na verskillende teoloë wat ’n stempel op Dante se godsdienstige opvattings afgedruk het, onder andere: Sint Benedictus, Augustinus, Thomas van Aquino, Richard van Sint Victor, Bernardus van Clairvaux, Anselmus van Kantelberg. Vos se opmerkings oor die mistiek het hoofsaaklik op Il Paradiso betrekking, maar volgens Kobus Krüger moet  "Divina Commedia" as geheel as ’n mistieke dokument gelees word. Dit is "’n beskrywing van ’n mistieke reis wat sy hoogtepunt in ’n laaste onuitspreeklike ervaring vind" (Krüger 2013:289). Mistiek is "die soek na en die vind van helderheid en insig, klaarheid van emosie en wil, en suiwerheid van eksistensie" (Krüger 2013:299). Die mens is bewus van ’n direkte verhouding met ’n diepe waarheid en werklikheid van bestaan, maar dis ’n wete, ’n ervaring wat anderkant praat en dink lê. Dit kan nie onder woorde gebring word nie, en ook nie met geykte begrippe verduidelik word nie. Daardie dieper onbeskryflike werklikheid hoef nie noodwendig ’n teïstiese godsbeeld te verteenwoordig nie, verduidelik (Krüger 2013:299): "... die draer van die mistieke heimwee kan gewoon stil en sosiaal onverbonde sy of haar eie gang buite alle religieuse assosiasies gaan ...". Dante egter, wat in die Middeleeuse Christelike tradisie staan, smag na eenwording met die God van die Christelike geloof, en in Il Paradiso bereik hy die hoogtepunt van sy mistieke ervaring.     

God wat met Lig, Liefde en Vuur geassosieer word, is welbekend in die Christelike tradisie. Die digter-mistikus maak dan ook volop gebruik van ligbeelde in sy poging om die onuitspreeklike godservaring onder woorde te probeer bring. Wanneer hy die eerste sfeer van die hemelse paradys betree, is sy gewaarwording (Vos 2018: 80; Canto I:1-6):

Die heerlikheid van ons God wat alles beweeg
deurdring die ganse heelal, en skyn glansend
in een deel meer, en minder in ’n ongetemde steeg

In die hemel wat die meeste van sy Lig ontvang,
het ek dinge gesien wat van bo afdaal.
Alles bly egter in ’n geheimenis vasgevang.  

In reël 13 van dieselfde Canto beroep hy hom op Apollo, die Griekse god wat onder andere met die son en musiek geassosieer word, om hom in hierdie laaste Canto te inspireer, en merk op: (Vos 2018:81; Canto 1:34-36):

’n Geringe vonk kan ’n skitterende vlam ontsteek.
’n Vindingryker digter sal dalk ná my
vir u inspirasie, Apollo, op versmaat smeek.

Al drie-en-dertig Canto's verwoord die digter se ervaring van lig en glans, in sy poging om iets te sê wat hy eintlik nie kan sê nie, en om oor ’n ervaring te praat wat die bewussyn van sy bestaan transendeer. Dit raak al hoe meer intens namate hy deur die verskillende hemelsfere al hoër op beweeg. Die eindpunt en ook die hoogtepunt van die mistieke reis word in Canto XXXIII beskryf. Dit begin met ’n gebed tot Maria, maar die bidder is nie Dante nie, dit is Bernard (Bernardus van Clairvaux) wat vir Dante bid. Ná die gebed, onderneem Dante die laaste deel van sy reis deur die boonste hemelse sfeer alleen. Vanaf reëls 38–51 beweeg hy verby sy Beatrice, verby Maria, verby Bernard. Wat hy ervaar, en wat hy sien, is persoonlik. Hy reis alleen.

Paradiso

Hy verklaar egter dat hy nie die taal het of woorde kan vind om uitdrukking aan sy ervaring te gee nie. Namate hy verder gaan, word hy toenemend bewus van lig, wat al hoe helderder skyn. En dan uiteindelik, maar net vir ’n vlietende oomblik, word hy toegelaat om die heerlikheid van God te aanskou (Vos 2018:301–302; Canto XXXIII:139–141):

Só ’n hoë vlug was vir my onmoontlik,
maar my tastende verstand is onverwags getref
deur ’n ligstraal waardeur my doelwit geluk.    

Steeds bly die ervaring ’n misterie, groter as wat hy kan begryp of verwoord (Vos 2018:302; Canto XXXIII:142–145):

Hier ontbreek krag om dié misterie te oorweeg;
maar my begeerte en wil word reeds bestuur
soos ’n wiel wat egalig om ’n as beweeg
deur Liefde wat die son en ander sterre aanvuur.

Evaluering

 Il Paradiso is nie gemaklike ontspanne leesstof nie, en was nie so bedoel nie, nie in Dante se tyd nie, en ook nie in die een-en-twintigste eeuse Suid Afrika nie. Cas Vos se omdigting is uiters geslaagd: goeie, eietydse en idiomatiese Afrikaans, asook ’n paar nuutskeppinge, soos blyk uit die voorbeelde hierbo aangehaal. Die feit dat hy deurgaans ’n vaste rymskema handhaaf sonder dat dit geyk en vervelig raak, verhoog beslis die leesbaarheid van die bundel. ’n Punt van kritiek is dat die eerste "verhelderende" aantekeninge ’n bietjie kripties is; op baie van sy opmerkings brei hy egter in sy vorige weergawe uit, en moontlik wou hy nie te veel herhaal nie. Dit sou miskien die leser help om die verwysings in die gedig self na te volg, voordat dit in sy geheel gelees word. ’n Vinger kan gerus maar ook op die "verklarende" aantekeninge agter in die boek gehou word wanneer die lees begin. Uiteindelik is Il Paradiso egter nie ’n bundel wat ’n mens optel en van begin tot einde deurlees nie. Ten spyte van Vos se knap omdigting, vra dit besondere insette ook van die leser, ’n bepaalde soort leser, dié leser wat bereid is saam met Dante te reis, al is die spoor nie altyd duidelik nie.        

Bibliografie

Krüger, J.S. 2013. Dante se mistieke reis eerste tog: Inferno. Sentrum vir Mistiek: Pretoria.

Vos, C. 2017. Die Goddelike Komedie. Liefde laat die son en sterre sing. Naledi: Johannesburg.                  

The post LitNet Akademies-resensie-essay: <i>Il Paradiso</i> deur Dante Alighieri (vertaal deur Cas Vos) appeared first on LitNet.

Wit terroriste: Afrikaner-saboteurs in die Ossewabrandwag deur Albert Blake: ’n Lesersindruk

$
0
0

Lesersindrukke is bydraes van lesers wat uit eie beweging hul indrukke van boeke aan die LitNet-redaksie gestuur het.

Titel: Wit terroriste
Skrywer:
Albert Blake
ISBN:
9780624081586
Uitgewer:
NB-Uitgewers

Die beste boeke is daardie boeke wat mense se idees uitdaag. Geskiedenisboeke doen dit gans te min. Maar Albert Blake het met sy boek Boereverraaier presies dit reggekry. Ek onthou nog die dag toe ek by die werk sit en daar stap ’n man in, en soos dit gaan praat hy oor die geskiedenis. En later begin hy praat oor die filmweergawe van Blake se boek, Verraaiers. Ja, verklaar hy bitter die dag, daardie film maak die Afrikaner se naam gat. Dit is nie ’n sentiment wat ek gedeel het nie. Maar Blake het tog iewers ’n aar raakgeboor en ’n broodnodige saadjie geplant onder die te veel mense wat die Suid-Afrikaanse Oorlog van 1899 – 1902 nog so verromantiseer. Daar was weinig romanties daaraan …

Dan was daar ook ander boeke deur Blake, soos die boek Broedertwis wat gefokus het op generaal Christiaan De Wet en sy joiner-broer Piet de Wet. Ook ’n uitstekende boek, en daar is nog ’n aantal ander boeke oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis, waarvan ek, tot my spyt, nie almal gelees het nie.

Met Wit terroriste ondersoek Blake ’n onderwerp wat hy tereg beskryf as heelwat afgeskeep deur historici. Dit is die onderwerp van die Ossewabrandwag (OB), maar meer spesifiek die sabotasieveldtogte wat deur die OB en hulle verwante groepe uitgevoer is. Dit is ook waar dat hierdie aspek van die geskiedenis van die OB afgeskeep is omdat die geskiedenis dikwels deur Afrikanernasionalistiese historici geskryf was, en omdat die onderwerp van blanke saboteurs dalk nie so lekker ingepas het by die groter prentjie wat sommiges wou skets nie. Maar het die OB en die Stormjaers ooit waarlik die staat van Suid-Afrika bedreig? Blake voel hulle het, en in hierdie boek probeer hy aandui hoekom hy so sê.

Blake haal historici soos DW Krüger en Andre Wessels aan wat in die verlede geargumenteer het dat die OB nie waarlik ’n noemenswaardige invloed gehad het op die politiek van Suid-Afrika nie. Van DW Krüger se skryfwerk weet ek min om my uit te laat, maar mens sou nie van Andre Wessels kon sê dat sy gevolgtrekking beïnvloed was deur Afrikanernasionalistiese motiewe nie. Die veiligste wat mens moontlik oor die saak met sekerheid kan sê, is dat historici dus verdeeld is. En self bly ek skepties oor die omvang van die OB en die Stormjaers se invloed. Hoewel die OB moontlik ’n bedreiging vir die staat kon inhou, het die OB eintlik polities min steun gehad. Die politiek van nasionale sosialisme is nie iets wat wit Afrikaanssprekende (oftewel Afrikaner) mense op groot skaal gelok het nie. Dit was waarskynlik veel eerder die nasionalisme as die sosialisme, en die weersin teen generaal Jan Smuts en Engeland, wat waarskynlik die belangstelling in die OB en die Stormjaers onder jongmense gevoed het.

Sommige van Blake se bronne is vir my ook maar bietjie vreemd. Op bladsy 8 verwys hy byvoorbeeld na die webwerf van die Pro-Afrikaanse Aksiegroep, waar hy ’n argument voer oor trauma wat van een geslag na die volgende oorgedra word. Daar is eintlik wonderlike akademiese artikels en ander materiaal oor trauma wat deur die einste historikus Andre Wessels geskryf was, wat veel beter as verwysings sou deug. Miskien is dit maar Blake se poging om uiteenlopende stemme te laat hoor.

Soos wat ek deur die boek gewerk het, is ek steeds nie oortuig dat die OB en die Stormjaers werklik ’n gevaar vir die staat van Suid-Afrika ingehou het nie. Selfs die beplande moord op die regeringshoof sou nie die staat verwoes het nie. Menigte state het al die moord op hulle regeringshoof oorleef, insluitend Suid-Afrika met die dood van Hendrik Verwoerd, om van sabotasieveldtogte nie te praat nie.

Maar daarmee wil ek geensins afbreuk doen aan hierdie boek nie. Inteendeel, Albert Blake se boeke lees lekker, en soos gewoonlik is sy navorsing baie deeglik en omvattend, en propvol fassinerende inligting. Dit is nie ’n volledige verhaal van die OB en die Stormjaers nie, maar deur die loop van die sowat 300 bladsye word ’n fassinerende verhaal vertel van die sabotasieveldtogte waarby so baie jong Afrikaners betrokke geraak het. Die leiers van hierdie bewegings word ondersoek, en Blake trek ooreenkomste tussen die gefrustreerde jeug van vandag en die jeug van daardie jare. Daar is ’n interessante hoofstuk oor vroueleiers se rol, wat belangrik is omdat vroue gewoonlik afgeskeep word in geskiedenisboeke. Die regering het skynbaar nooit die OB en die Stormjaers onderskat nie, en was gedurig besig om hulle leiers te vervolg. Verskeie van die OB se leiers het later self prominente leiers geword, onder meer die Vorster broers, Koot en BJ, onderskeidelik moderator van die NG Kerk en die eerste minister van Suid-Afrika. Dan was daar ook die Terreurgroep, wat spesialiste was van sabotasie en wat ook baie aandag in die boek geniet.

Albert Blake argumenteer tereg dat organisasies soos die OB, die Stormjaers en die Terreurgroep verkeerdelik in die verlede met Nazi’s vergelyk was. Dit was weer die ander ekstreem van die geskiedskrywing – om Afrikaners met Nazi’s te vergelyk. Trouens, daar was diep verdeeldheid oor die Nazi’s onder hierdie groepe. Sommiges het die Nazi’s verafgod, maar die meeste was slegs simpatiek teenoor Duitsland, en het gevoel die Duitsers moet wegbly uit Suid-Afrika. Soos wat die wreedhede van die Tweede Wêreldoorlog egter bekend geword het, het die weersin in Nazisme egter waarskynlik toegeneem, ook onder groepe soos die OB, die Stormjaers en die Terreurgroep.

Omdat hierdie boek soos al Blake se boeke in sulke keurige Afrikaans geskryf is, lees dit vinnig. Mens wil eintlik nie die boek neersit nie. Die karakters in die boek word lewendig deur middel van Blake se vernuftige pen, en mens se perspektief word aangenaam verruim. Dit bly egter vir my ’n ope vraag of die staat van Suid-Afrika ooit waarlik in groot moeilikheid verkeer het weens die aktiwiteite van die OB, die Stormjaers en die Terreurgroep. Die sabotasieveldtogte wat gevoer was, was dikwels suksesvol, maar dit het nooit werklik die staat bedreig nie. Die boek is egter meer as die lees werd, en behalwe vir die keurige taalgebruik en die wonderlike inligting daarin vervat, word dit ook voorsien van foto’s wat die teks aangenaam verryk. Bo alles het die boek my opnuut onder die indruk gebring van die geweldige skade wat geskiedskrywing oor die jare aangerig het, waar die verlede as wapen tussen verskillende groepe gebruik was. Dit is geen wonder dat daar so baie mense is met so ’n groot weersin in die geskiedenis nie.

The post <i>Wit terroriste: Afrikaner-saboteurs in die Ossewabrandwag</i> deur Albert Blake: ’n Lesersindruk appeared first on LitNet.

Toe-val-lig deur Amore Bekker: ’n lesersindruk

$
0
0

Lesersindrukke is bydraes van lesers wat uit eie beweging hul indrukke van boeke aan die LitNet-redaksie gestuur het.

Titel: Toe-Val-Lig
Skrywer: 
Amore Bekker
ISBN:
9780624080237
Uitgewer: 
NB-Uitgewers

Menige middag vind ek myself diep verdeeld. Daar is twee radiostasies waarna ek kan luister in die motor op pad terug na ’n lang dag op kantoor. Die saak kom basies neer op ’n keuse tussen een van twee. Dit is of Darren Scott, of Amore Bekker. Eersgenoemde is gewoonlik lekker lig en vol grappe. Laasgenoemde is eerder vol verrassings. Maar Bekker en Radio Sonder Grense wen meestal die toutrekkery in my gemoed. Dit is net sommige dae wat dit gebeur dat die ander radiostasie my aandag kry. So meeste middae is dit dus Dave Pepler, professor Basie von Solms, en die kruievrou Antoinette Pienaar van die plaas Theefontein. En dit is ook stories van toeval. Luisteraars stuur hulle stories van toeval in na Amore Bekker, en dan word die stories op die radio vertel. Uiteindelik was daar genoeg stories vir ’n boek, en so is hierdie keur van sowat 100 stories saamgestel onder die titel Toe-Val-Lig.

Suid-Afrika is meer soos ’n plattelandse dorp as soos ’n groot land. Dit het ek weereens besef toe ek hierdie boek optel en sien daar is van die mense wat stories ingestuur het wat ek eintlik goed ken. Ek moes hulle verhale gemis het toe Bekker die dag húlle spesifieke stories gelees het.

Ongelukkig sal ek nie die waarheid praat as ek sê dat ek in elke opsig opgewonde is oor Toe-Val-Lig nie. Daar is drie breë probleme wat ek met die boek het. Wat ek die meeste mis, is die omroeper se intonasie met die vertel van elke storie. Bekker se aanbiedinge gee lewe aan die verhale wat ietwat ontbreek by die lees daarvan in ’n boek. Voeg daarby die prys. Teen R241 is dit ’n sware prys om te betaal vir baie min leesstof. Vir dieselfde prys is daar heelwat ander interessante boeke wat veel dikker is. Laastens is daar die titel, wat in eie reg ’n stoornis is. Met ’n titel soos Toe-Val-Lig is dit eintlik reeds duidelik dat die samestellers iets meer as toeval probeer inlees in verhale wat werklik niks anders as toeval is nie (hoewel sommige van die verhale se toeval so groot is dat dit jou soms verstom laat). Daar is by heelwat verhale ‘n sterk godsdienstige ondertoon. Hierdie feit is sowel goed as sleg. Aan die een kant kan dit jou  frustreer, veral ingeval jy self nie aan enige god glo nie, maar aan die ander kant gee dit mens dalk ’n getroue beeld van Suid-Afrika. Godsdiens is nog sterk in die Suid-Afrikaanse gemeenskappe ingewikkel en daar gaan dit bly. Vir lank nog.

En tog sal ek nie hierdie boek afskiet en mense afraai on dit te lees nie. Inteendeel, die boek bevat wonderlike verhale, en dit is ’n goeie ding dat hierdie verhale gedokumenteer word en in boekvorm vrygestel word. Ek wonder of daar nie dalk in die toekoms ook ’n CD-opname van hierdie verhale gemaak sal kan word nie, wat lekker variasie sal kan bied op die boek. Toe-Val-Lig is, alles in ag genome en die kritiek ten spyt, ’n interessante en eg Suid-Afrikaanse boek. Dit is lekker ligte leesstof wat baie mense sal vermaak.

The post <i>Toe-val-lig</i> deur Amore Bekker: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.

Stof deur Alettie van den Heever: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

$
0
0

Stof
Alettie van den Heever

Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795801594

To read a novel is a difficult and complex art. You must be capable not only of great fineness of perception, but of great boldness of imagination if you are going to make use of all that the novelist – the great artist – gives you. – Virginia Woolf

Om met ’n “moeilike” boek te worstel is soos om te leer wals, lees ek iewers raak. Eers vind jy maar moeilik jou ritme en jou dansmaat moet bontstaan om te keer dat haar tone nie te erg betrap word nie. Dan, eendag, is dit asof daar iets sy plek vind en jou kop en jou lyf begin saamwerk. Jy word meegesleur deur die musiek, jou voete gehoorsaam in perfekte pas met jou maat en skielik besef jy jy wáls.

Alettie van den Heever se debuutroman, Stof, is nie ’n wals nie. Dit is ’n tango. ’n Wilde vaart van ’n dans met ’n veel meer ervare maat wat jou dán die pas aanwys, dán uitlewer aan jou eie genade en per slot van rekening nie regtig omgee of jy byhou of nie.

Stof word bemark as “toekomsfiksie vir vandag” en die roman sluit aan by die groeiende genre van Afrikaanse distopiese spekulatiewe fiksie, wat onder andere insluit: Eben Venter se Horrelpoot (2006), Lien Botha se Wonderboom (2015), Deon Meyer se Koors (2016) en Rouxnette Meiring se futuristiese jeugroman Kraak (2018).

Die jaar is 2081. Twintig jaar ná ’n katastrofiese gebeurtenis wat in die volksmond as die Hardskip (hardship) bekend staan, is die Kaapse Skiereiland ’n dorre, onbegaanbare landskap. Al die oeste het misluk en diegene wat die honger en die dodelike siektes met kreatiewe name soos Dikvel en Leegskytkiem oorleef het, moet met die giftige stof en die onuithoubare gluur van die son rekening hou.

In hierdie gevaarlike nuwe wêreld is plantsaad soos poeiergoud. Alle saad word deur Meconium, ’n tegnologies gevorderde enklawe in die ou Kaapstad, beheer. Volgens ’n ooreenkoms tussen Meconium en die omliggende nedersettings, moet alle plantsaad verklaar word en die besit van onwettige saad word streng gestraf.

Nou hoe gemaak as jou erfenis ’n handvol kosbare saad en ’n kop vol ou saadstories is?

Dit is die las wat ons protagonis, die sestienjarige Ampersand van die Kylemor-nedersetting, moet dra. Ná haar ouma se dood is daar nie veel wat Amper in Kylemor, oftewel Kiefmor, hou nie. Boonop het Wakinyan, die jong man wat skielik in Kiefmor opgedaag het en haar hart kom omkrap het, spoorloos verdwyn.

Met haar hond en saaderfenis sit Amper vir Wakinyan agterna. Maar haar soektog lei haar tot op Meconium se voorstoep, die einste groep teen wie sy ten alle koste haar ouma se saad moet beskerm.

Amper se verhaal word afgewissel met die ervarings van ander enigmatiese karakters soos Jemima Jafta die konioloog (stofkundige); Dick Jones, ’n lid van Meconium se Saadbeskermingseenheid; Foos, ’n Meconium-weeskind; en Sias Arendse, ’n hustler wat alternatiewe bronne van energie in bedryf stel ter wille van oorlewing.

Amper se reis is ’n moeilike een, en daar is nie veel wegswysers nie. Ook die leesreis is besaai met struikelblokke. Die leser word plotseling in Van den Heever se vreemde toekoms gedompel en moet sonder kompas die andersoortige taalgebruik, vreemde nuutskeppings en komplekse politiese landskap van die nuwe, nuwe Suid-Afrika navigeer. Wat is ’n Majoër? ’n MecSec? ’n Shitesaver? Hoe presies het dit gebeur dat die mensdom hulself in hierdie kritieke oomblik bevind?

Reguit antwoorde is maar min en die enigste manier úit is déúr. Terugflitse help om die legkaart stukkie vir stukkie aanmekaar te flans, maar dié kan jy eers ongeveer na ’n derde van die boek verwag.

Boonop het Van den Heever blykbaar by Julia Kristeva gaan leer van die abjekte. In ’n wêreld waar menslike ontlasting die nuwe betaalmiddel is, kan mens nie effentjies wees oor ekskrement nie. Ons word sommer vroeg in die roman al ingewy in die kru taalgebruik van Kiefmor se inwoners: “Ekskrementorium, ontlaswoning, opelyftoring, blertsorium, bolliewinkel, tjortstjoekie, poefsalon, poefieplaas ... akkieshok, drolpaleis, strontsentrum, skytgebou, kakmansion” (bl 11). Lesers met swak mae moet maar liewer sorg dat hulle nie eet terwyl hulle Stof lees nie.

Vir dié wat mooi kophou en volhou, is die beloning wel groot. Stof is ’n besonderse, vernuwende roman wat ingewikkelde temas rondom die mens en sy verhouding met die natuur ondersoek.

Distopiese wetenskapfiksie en die tema van ekologiese verval

In ’n era van klimaatsverandering (en natuurlik klimaatsverandering-ontkenning), waterskaarste, onvolhoubare tegnologiese vooruitgang en vrese rondom die grootskaalse uitwissing van dierespesies is dit nie verrassend dat ons fiktiewe uitbeeldings van die toekoms meer en meer apokalipties van aard is nie.

Wetenskapfiksie (WF), en veral distopiese en spekulatiewe WF, word gekenmerk deur ’n sterk verhouding met ekologiese kwessies en omgewingsbewustheid. Na die publikasie van Rachel Carson se Silent spring (1962), ’n geskiedkundige werk wat gelei het tot die opbloei van die omgewingsbeweging, het WF-skrywers hulle aandag begin toespits op die impak van menslike ontwikkeling op die omgewing.

Frank Herbert se Dune (1965) word dikwels uitgewys as een van die eerste ekologies-gerigte WF-romans. Sedertdien het skrywers soos Ursula le Guin, Kim Stanley Robinson en Margaret Atwood bekendheid op hierdie gebied verwerf .

Die barre, gebroke wêreld wat in Van den Heever se Stof uitgebeeld word kan as ’n ekologiese distopie beskryf word. Die verwoestyning van Amper se Wes-Kaap kan gelees word as ’n uiterste ekstrapolasie van die huidige globale ekologiese krisis, en spesifiek plaaslike omgewingskwessies soos waterskaarste en die dreigende Dag Zero in die Wes-Kaap en GMO-saadpatente en die houvas wat multinasionale korporasies soos Monsanto, Syngenta and Pioneer op ons saadvoorraad het.

Stof ondersoek ’n verskeidenheid ekologiese ideologieë. Van den Heever se karakters bied elk ’n unieke manier van dink oor die natuur en die mens se verhouding met die natuurlike omgewing.

Die twee teenstrydige ekologiese faksies in die roman, Meconium en Aiag (Gaia omgekeer), herinner aan Samuel R. Delany se idee dat WF deur die lens van WH Auden se konsep van vier modernistiese wêreldsieninge gelees kan word.

In ’n onderhoud opgeneem in Science Fiction Studies verduidelik Delany hierdie vier wêreldsieninge. Die eerste is wat Auden die Nuwe Jerusalem genoem het. Nuwe Jerusalem is “the technological super city where everything is bright and shiny and clean, and all problems have been solved by the beneficent application of science”. Gesien vanuit ’n ander oogpunt, is Nuwe Jerusalem ook die “Brave New World”:

That's the city where everything is regimented and standardized and we all wear the same uniform. The two may just be the same thing, looked at from different angles. It's not so much a real difference in the cities themselves as it is a temperamental difference in the observers. (Delany 1990: aanlyn-onderhoud, geen bladsynommers)

Die landelike teëbeeld van New Jerusalem / Brave New World is Arkadië:

Arcadia is that wonderful place where everyone eats natural foods and no machine larger than one person can fix in an hour is allowed in. Throughout Arcadia the breezes blow, the rains are gentle, the birds sing, and the brooks gurgle. But the underside of Arcadia is the Land of the Flies. In the Land of the Flies, fire and flood and earthquake – as well as famine and disease – are always shattering the quality of life. (Delany 1990: aanlyn-onderhoud, geen bladsynommers)

Delany brei verder uit op Auden se vier sieninge en voeg hierby die beeld van “Junk City”, die vervalle tegnologiese superstad as die postmodernistiese weergawe van Brave New World.

Vir Delany is dit die tussenspel tussen hierdie vier wêreldsieninge wat verhoed that wetenskapfiksie ooit regtig utopies of distopies kan wees. Afhangende van jou voorkeur en sienswyse kan die landelike en stedelike óf utopies óf distopies wees:

[W]e have a temperamental split here. Those people who are attracted to New Jerusalem will always see rural life as the Land of the Flies, at least potentially. Those people who are attracted to Arcadia will always see urban life as some form of Brave New World. (Delany 1990: aanlyn-onderhoud, geen bladsynommers)

Meconium, met sy “high-tech shit”, oorvertroue in wetenskaplike vooruitgang en streng regulasies, kan gesien word as ’n weergawe van New Jerusalem / Brave New World. Meconium se ideologie word gebou op die idee van ’n nuwe begin uit die as van die vorige beskawing. Diversiteit is die sleutel tot vooruitgang:

We have proven that humanity’s strength lies in the fact that we can always start again, however insignificant that start may seem. We have proven that diversity can strengthen any beginning and that it is the difference between life and death. We have proven that the ultimate alchemy was under our noses the whole time – that humanity can use its own waste to prosper. (Stof, 176)

Meconium se missie, “uniting science and nature and promoting diversity”, dui op ’n antroposentriese uitkyk op die verhouding tussen die mens en sy omgewing – die fantasie van beheer, meesterskap en restourasie. (177)

Die onvolhoubaarheid van die Meconium enklawe is duidelik. Die idee van “diversiteit vir almal” is inherent gebrekkig en sluit nie die “phayas” (buitestanders) in wat slegs een keer ’n jaar binne die stad se nanopex-mure toegelaat word nie.

Verder word die Meconiete se beheptheid met diversiteit verhef tot geloof, en die Divusiete  ’n sekte binne Meconium wat glo diversiteit is God, begin al hoe meer steun onder die gemeenskap geniet. Alle tekens is daar dat Meconium afstuur op ’n teokrasie wat die genetiese “suiwerheid” van inwoners streng polisieer.

Voeg hierby ’n dreigende voedseltekort en moontlike interne sabotasie wat die saadbank bedreig en dit is duidelik dat Meconium diep in die stof is.

Alhoewel Aiag en die Ikabod-nedersetting in skerp teenstelling met die stedelike Meconium staan, verwerp hierdie ideologie die utopiese ideaal van die landelike Arkadië.

Die Aiag-ideologie word net kortliks in enigmatiese gesprekke opgesom en dit is moeilik om die kloutjie by die oortjie te bring. Ons kan aflei dat die Aiag-filosofie gebaseer is op Timothy Morton se konsep van dark ecology, wat ’n drastiese heroorweging van die mens se verhouding met die natuur voorstel. Morton dui aan dat antroposentriese logika vervang moet word met ecognosis, ’n vreemde tipe ekologiese bewustheid wat die kunsmatige onderskeid tussen mens en natuur bevraagteken.

Dus dui die Aiag-filosofie op ’n “plat” ontologie waarin alles gelyke bestaansreg het. In hierdie sin het die mens ’n verantwoordelikheid teenoor haar omgewing, juis omdat sy onlosmaaklik deel is daarvan, maar nie noodwendig in die rol van meester oor die natuur nie. Engela verduidelik aan Amper:

Ons het geglo dat die mens saam met die leeu en die slymslak en die kernafval deel uitmaak van ’n omgewing wat ons beïnvloed en waarop ons ’n groot impak het. En dat ons ’n verantwoordelikheid het teenoor hierdie omgewing. Nie noodwendig om dinge reg te maak nie – ons regmaak was te dikwels ’n verdere skeeftrek – maar om te bly. (366)

Engela en die Aiag-groep verwerp die Meconium-idee van ’n nuwe begin – dit wil sê die herstel van die menslike meesterskap oor die natuur deur middel van wetenskaplike vooruitgang en die verafgoding van diversiteit.

Amper se ouma, Bettina Molooi, se verhouding met die omgewing word uitgeleef deur die plante se oorsprongstories wat sy in haar “saadboek” opteken. Hierdie mitiese stories, wat herinner aan Khoisan orale tradisie, dra by tot die tekstuur van die verhaal en blaas lewe in Amper se woestynlandskap.

Die roman speel met die idee dat stories, die narratiewe en metanarratiewe wat die mens vir homself vertel, die krag het om ’n daadwerklike impak op die hede te hê:

Bettina het geglo dat dit die stories is wat die mens vir homself vertel het wat die aarde uitgeput het. Stories van meesterskap of bewaring of wetenskap. Sy’t geglo ons kan die aarde se lot weer met ánder stories verander. Jemima het die menslike aard blameer, en jy verander nie die aard van ’n spesie met ’n paar klanke nie, het sy geglo. (367)

Jemima Jafta se verwerping van die idealistiese nosie dat stories die menslike aard kan verander, dui ook op haar distansiëring van die Aiag-groep se ideologie. Jemima se obsessie met stof strek ver verder as haar beroep as konioloog. Dit dien ook as ’n manier om te ontvlug van die politiek van haar ma se saad:

Haar ding met stof maak nou sin. Sy’t dit gekies om die politiek van haar ma se lewende saad te vermy. Stof het geen skaarsheid nie, geen geheime om te hou nie, geen versamelaars om te dodge nie. Dis oral en almal s’n en niemand wil dit hê nie. (352)

Vir Sias Arendse, die plastiese chirurg wat sy “empire” bou met die opbrengste van verskeie alternatiewe energieprojekte, soos Fat-to-fuel, CookingOil! Feces-to-fuel en AlchemyNow, is die soeke na alternatiewe energiebronne nie ’n edele nastrewing nie. Hier gaan dit bloot om winste en oorlewing, en veral die oorlewing van sy jong dogter.

Sias se “moral ground” is dalk “onder seevlak” maar in die dorre tye is ’n morele kompas ’n luukse wat niemand kan bekostig nie.

In teenstelling met die ouer geslag verteenwoordig Ampersand die “Hardborn”-generasie, die kinders wat na die Hardskip gebore is en nie verstrengel is in die politiese intriges van die ou wêreld nie.

Amper kom tot die besef dat haar lot nie noodwendig aan haar ouma se saadstories gekoppel is nie en dat sy vry is om haar eie manier van omgang met die stowwerige landskap te kies:

Amper het gedog die saadskieter was haar ouma se manier om die saad die begin en einde te maak en haar wat Amper is aan die saad te verbind. Nou is sy bly dit was ’n leidraad eerder as ’n profesie. Profesieë verbind; leidrade kan verder loop. (372)

Engela benadruk:

Ampersand, wanneer jy vry is van die saad, kan jy jou eie lot bepaal. Jy kan die stories kies soos Bettina, of jy kan die einde inwag terwyl jy taaikop daarteen baklei, soos Jemima, of jy kan die saad kies én teen die begin baklei, soos ek. Maar moenie jou eie keuse sidestep nie. (371)

Die begin of die einde. Die stof of die saad. Amper kan kies hoe sy haarself in verhouding met haar natuurlike omgewing sien. Maar van die keuse self kan sy nie ontsnap nie.

Links bo: 'n gedeelte van die omslag van Virginia Woolf se The Common Reader. En links onder: 'n gedeelte van die omslag van Triton, deur Samuel Delany.

Slot

Stof is ’n uitdagende, dikwels onpeilbare roman. Die komplekse narratief loop draaie wat jy selfs na die tweede lees nie heeltemal kan ontknoop nie. Van den Heever se gebruik van nuutskeppinge en verwronge woorde en haar skynbaar doelbewuste onwilligheid om die leser aan die hand te neem maak van Stof ’n baie ingewikkelde boek.

Hiermee bedoel ek nie om lesers die skrik op die lyf te jaag nie. Om ’n roman te lees, het Virginia Woolf geskryf, is ’n moeilike en komplekse kunsvorm en die onverwagte ontdekkinge wat goeie fiksie bied kan net deur aansienlike moeite gewen word. Vir diegene wat bereid is om hulle moue op te rol en aan die werk te spring, bied Stof ’n werklik unieke leeservaring wat beslis die moeite werd is. 

Bibliografie

Delany, Samuel R. 1990. On Triton and other matters: an interview with Samuel R Delany. Science Fiction Studies, 52:17 deel 3 (November 1990). https://www.depauw.edu/sfs/interviews/delany52interview.htm (10 November 2018 besoek).

 

Van den Heever, Alettie. 2018. Stof. Kaapstad: Queillerie.

Woolf, Virginia. 2015. The Common Reader: Second Series. Adelaide: Universiteit van Adelaide https://ebooks.adelaide.edu.au/w/woolf/virginia/w91c2/chapter22.html (11 November 2018 besoek).

 

Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Stof deur Alettie van den Heever

The post <em>Stof</em> deur Alettie van den Heever: ’n LitNet Akademies-resensie-essay appeared first on LitNet.

Sielskos – Stories oor verlange en hoop deur Koos van der Merwe: ’n resensie

$
0
0

Titel: Sielskos – Stories oor verlange en hoop
Skrywer: Koos van der Merwe
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796320995

’n Predikant preek. Reg?

Nie in hierdie geval nie. Koos van der Merwe se Sielskos is ’n keur van dié prediker se beste skryfsels uit Sarie se Laaste sê-rubrieke. Die strekking is geestelik, maar die aanbod glad nie uit die hoogte of pienkboekerig nie.

Die gewone mens met sy soeke na hoop en sy behoefte aan sin maak, staan sentraal.

Van die temas waaroor Van der Merwe skryf sluit pa-wees, grootword, ongeduld, armoede en aftrede in. Die liefde — tussen jongmense, ouer mense, ouer en kind en mens en dier — word opnuut in oënskou geneem. Visvang/hengelrubrieke, asook ander oor alledaagshede soos Marmite-toebroodjies, tweepuntproppe, elke huis se deurmekaarlaai en verkoue kom voor.   

Dis egter die stories oor gewone mense wat die gemoed raak. “Meer as bloedskenk” handel byvoorbeeld oor ’n seuntjie wat vir sy babasussie bloed moes skenk. Omdat dié ware verhaal (en soortgelykes) so na aan die been sny, word skuilname dikwels ingespan.      

Van der Merwe is nie net ’n prediker en gospelsanger nie, hy skryf al jare lank. Sielskos verkwik die sintuie. Taal word vernuftig aangewend. Só vertel die skrywer dat hy op ’n Sondagoggend vroeg “teen die spoed van toewyding” kerk toe ry. Die moeilike “mevrou Rottermeier” kan weer vir jou kyk “tot elke onbetaalde rekening van jou oupagrootjie deur jou skuldige aangesig verklap word”. Pleks van sy familiestamboom uit te lê, vertel Van der Merwe eerder dat daar in sy bloedlyn “doedelsakke en whiskey, kaas en tulpe, lederhosen en blutwurst” lê. En só klink sy siening van preek: “. . . preke kom nie altyd van kansels af nie. Preke hang in wolke, vlieg in die lug rond saam met skoenlappers en seemeeue, skuil in koffiewinkels, droë winterbome en op vaal vlaktes . . .” 

Wat sy sangloopbaan betref, is die skrywer veral bekend vir sy Afrikaanse vertalings en sing van Leonard Cohen- en Bob Dylan-liedjies. Dit is dus nie verbasend dat Van der Merwe se skryfwerk ’n besondere ritme, oftewel musikaliteit het nie. Die rubrieke lees doodgewoon lekker. Nie dat Sielskos ligsinnig is nie. Allermins. Jy kan die “lewenslesse” saam vorentoe dra. Soos hierdie een: “’n Mens wat regtig lewe, voluit lewe, sien die wonder van dinge en mense rondom hom raak. Hy ontvang van die lewe die mildelikheid wat hy self daaroor uitstrooi.”

Jenna-Lee wat “by ’n einde gekom het”, is een van die “gewone” mense oor wie Van der Merwe skryf. Dié ontnugterde jong vrou sit op haar verjaardagnag op ’n trap en huil. Siena en Soon se verhaal sou weer beter of slegter kon geëindig het, reken die skrywer. Die werklike einde daarvan is onbekend. Daarteenoor staan Bernhard Verwey, ’n man wat nie die einde van sy skatte geken het nie. Maar, soos met Van der Merwe se ander “karakters”, ontwikkel Verwey geestelik binne die bestek van ’n enkele rubriek. Dit wil gedoen wees.     

Sielskos sluit verhale oor bekende mense in. Die pad wat die sanger Elvis Blue gestap het, inspireer, terwyl die rubriek oor die aktrise Wilna Snyman pleinweg mooi is. Hierdie aanhaling kon nie méér gepas wees nie: “Ek kon sien sy (Snyman) reis saam met my na landskappe van die siel.”

Aanhalings deur groot geeste soos Margot Fonteyn en CS Lewis dien soms as wegspringplek vir ’n rubriek. Fonteyn, wat ’n prima ballerina was, is gevra om ’n intense dans te verduidelik, skryf Van der Merwe. Haar antwoord: “As ek dit kon verduidelik het, sou ek dit nie gedans het nie.” Lewis, oorlede Britse skrywer, het weer gesê dat van die heiligste klanke op aarde die gelag van vriende is.     

Van lag gepraat, die skrywer het ’n guitige humorsin. Daar is die ouma om wie kinders draai “asof sy ’n nuwe Lord of The Rings-fliek is”. Die rubriek oor die “godin” wat vir Van der Merwe aarde toe gebring het, is vrek snaaks. So ook die een oor sy oorlog in die waskamer. Absurd-snaaks is weer die vertelling oor die skoenlapper wat met ’n beeldskone papierweergawe van homself paar.    

Die Sielskos-rubrieke is goed gestruktureer. Hier en daar spel ’n slot of slotsin dit wat opvallend is uit, soos: “Mag ons met die waarheid wandel, maar nooit net met die waarheid nie.” Ander kere is die skrywer ietwat voorskriftelik. Byvoorbeeld: “Sien die skoonheid en waarde om jou raak” en “Tel hierdie dag en laat hom tel”.   

Enkele kere praat Van der Merwe namens die leser. Soos hier: “Ons almal soek na daardie lens waardeur ons mooi kan wees.” Dit laat ’n mens met die vraag: Is skoonheid, ook van gees, vir almal ewe belangrik?

Soms strek ’n rubriek by sy einde verby. “Tien-vier, tien-vier, Nagadder” (wat oor burgerbandradio’s en die wonder van tegnologie handel) kon net ná die tweede laaste paragraaf geëindig het met “Almal wil hê Iemand moet hoor”, pleks van “Daar is Iemand wat hoor. Sonder ’n rekenaar of ’n selfoon. Jy het net die tegnologie van die hart nodig. Praat maar. Hy luister.” Die slotsin van “Dis ons en ook ek” en “Twee stemme” is eweneens oorbodig, maar wat ’n treffende wending neem laasgenoemde rubriek nie!

’n Voorbeeld van ’n slotsin wat goed werk, is dié een: “Koop vir jou stories. Koop vir jou geluk. Dis verniet. Maar baie duur.”        

Ellipse kom soms onnodig voor. Ander kere word byvoeglike naamwoorde opeengestapel, soos hier: “En terwyl jy wag voor haar pynlik netjiese toonbank wat soos ’n stil wrede waghond onder haar benerige hande gereed is om die pynlike vonnis van jou verdiende verdoemenis te voltrek, voel jy dat haar alwyse oordeel sekerlik onaanvegbaar korrek moet wees.”

 Sommige woorde, waaronder “die vrouegeslag”, “skoner geslag” en “laerskooljuffrouens”, is ietwat outyds. “Akklamasie” is weer te formeel vir die konteks en bepaalde leser, terwyl die rubriek oor motorkoop seksisties is. Dié aanhaling is ’n voorbeeld: “En vir vrouelesers wat daardie opwinding (‘karkoop’) nog nie verstaan nie, glo maar net: dis ’n koors onder die mansgeslag waarvoor daar nog nie ’n medisyne ontdek is nie.” Asof vroue nie hul eie motors (kan) koop nie!          

Die woord “sonbruin” sou dalk “songebrand” in hierdie sin kon vervang: “Sy veertigjarige lyf is songebrand, gespierd.” 

Enkele rubriektitels soos “Grond”, “Verlang”, “Dogtertjies word vroue” en “’n Ou verhaal” is ietwat verbeeldingloos, terwyl ander wél die leeslus aanwakker. Prikkelende titels sluit in: “Afrikaans sê dit nie so goed nie”, “Om onderdeur die maan te loop – met of sonder jou suikerbossie”, “Die gevreesde drieletterwoord”, “Daar was ’n Elvis in Jan” en “Gaan speel met ’n krokodil en word wys”. Hier en daar is ’n titel te lank. “Fortuine, oudste broers en skatte langs Portugese damme” is ’n voorbeeld.   

Enkele van Van der Merwe se gedigte (wat by die verskillende temas aansluit) is ook in die bundel opgeneem. Toeganklik is hulle wel, maar nie almal ewe geslaagd nie.      

Die skrywer kán egter spanning skep. Wanneer ’n rubriek aan ’n spesifieke woord gewy word, bly jy nuuskierig — tot en met die aha!-oomblik wanneer jy weet watter een so sappig bespreek word.   

Ten spyte van dit wat beter kón, is Sielskos beslis die lees werd. Dis inderdaad voedsel vir die innerlike.

The post <i>Sielskos – Stories oor verlange en hoop</i> deur Koos van der Merwe: ’n resensie appeared first on LitNet.

Bloed, dunner as water deur Charné Kemp: 'n resensie

$
0
0

Bloed, dunner as water — Suid-Afrika se berugste familiemoorde
Charné Kemp
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624075462

Die raakvattitel van die boek, Bloed, dunner as water, vertel jou in ‘n neutedop waaroor die inhoud gaan. Die mites en romantiek rondom bloedfamilie word verpletter as van die wreedste moorde op diegene, vir wie mens veronderstel is om die liefste te wees, beskryf word. Hoeveel keer lees mens nie op facebook of in onderhoude met celebs dat familie “alles” is nie?

Suid-Afrika bly een van die moorddadigste lande ter wêreld met geweld wat ‘n subkultuur geword het.

Min mense sal erken dat hulle vriende soms meer vir hulle as bloedverwante beteken. Bitter familievetes, afguns en sibbe-mededinging, asook dwelms en ander wat met jou kop “smokkel” kan ‘n rol in hierdie onbegryplike moorde vertolk.

In ‘n gewelddadige land soos Suid-Afrika waar baie van ons afgestomp raak oor mediaberigte wat ons daagliks met moord en doodslag bombardeer, bly moord op familie egter steeds skokkend. Die laaste taboe. Onverstaanbaar. En ondenkbaar.

Veral as dit ouers is wat hierdie einste kinders vir wie hulle in die lewe gebring het, uitwis. Of andersom.

Wat gee aanleiding daartoe dat ‘n oënskynlik intelligente, bevoorregte en goed opgevoede jong man soos Henri van Breda sy hele gesin een aand tydens ‘n bloedbad met ‘n byl uitwis? Of ‘n ma soos Venolia Siwa wat, volgens kennisse ‘n sorgsame en liefdevolle moeder was, al vyf haar kinders vermoor? En agterna bekommerd was dat mense dink sy is ‘n “slegte mens”?

Dit is nou eenmaal so dat baie mense ‘n morbiede belangstelling in sulke soort moorde toon. Want, hoe anders verklaar ‘n mens die ironiese strekking van die spreekwoord: Bloed is dikker as water? Die knaende vraag wat altyd oor sulke grusame moorde gevra word is: “Hoekom? Hoekom?” Die waarheid is dat menslike gedrag en misdadige gedrag onvoorspelbaar is.

Charné Kemp is ‘n ervare joernalis en topverkoperskrywer van Moord op Griekwastad. Dis opmerklik dat die hoofstukke oor die moorde gepleeg deur Henri van Breda en Don Steenkamp, die langste in die boek is. Waarskynlik omdat dit onder meer van die opspraakwekkendste in ons land se onlangse misdaadgeskiedenis is.

Dis te verstane dat Kemp drie jaar lank aan die boek gewerk het. Sy het intensiewe navorsing gedoen en van ‘n lang lys bronne gebruik gemaak. Sy het ook met talle kenners gesels.

Daar sal egter altyd meer vrae as antwoorde wees na die lees van so ‘n boek. Tog kan emosionele mishandeling, sibbe- jaloesie en -mededinging, dwelms en beïnvloeding nie onderskat word nie.

Dit is egter duidelik dat, soos soveel kere tevore al bevind is, dat daar nie een klinkklare rede vir sulke makabere geweldsmisdade en bloedvergieting is nie. In talle gevalle kan ‘n mens maar net bespiegel oor wat daartoe aanleiding gegee het.

Die mens en die misdadiger se psige is eenvoudig te verwikkeld.

Kemp skryf oor ouers wat ‘n kind se kognitiewe skrif skryf en oor tieners wat besluite in oomblikke neem. Christiaan Bezuidenhout, professor in Kriminologie aan die Universiteit van Pretoria, het al herhaaldelik, soos wat hy ook in hierdie boek aangehaal is, gesê hy glo kinders word as tabula rasa (‘n skoon lei) gebore. Dis die ouers wat die kind se kognitiewe skrifte daarop skryf.Woede — hetsy dit sigbaar is of goed weggesteek is — vertolk ‘n groot rol soos duidelik uit hierdie boek blyk. Mense wat met gevangenes en veroordeelde moordenaars werk, soos Eerwaardes Jennifer en Jonathan Clayton van Hope Prison Ministries, sal jou ook vertel dat hoe meer woede mense het, hoe meer gebroke is hulle. “As iemand baie woede het, moet jy vir hom jammer voel”, sê hulle. So dikwels word dwelms en demone as verweer vir hierdie moorde binne gesinsverband aangevoer. Ja, dwelms vertolk beslis ‘n belangrike rol gedurende geweldsmisdaad (ook tydens plaasaanvalle) maar die rol van satanisme word dikwels oordryf soos ook in die boek blyk in die uitspraak van Angelique Orso (16) wat haar ma, Dawn Orso (38), met die hulp van  haar kêrel, Lawrence van Blerk (18) vermoor het.

’n Mens verwelkom hierdie stelling want dis seker menslik dat die publiek graag wil hoor dat satanisme en dwelmmisbruik die oorsaak is, want dan is sulke moorde mos net’n tikkie minder ondenkbaar — of hoe? Om iets te blameer, maak dit immers meer verteerbaar. Soos in die boek beskryf word, is dit egter eerder ‘n “smeermiddel” wat dit net makliker maak om te moor.

In die geval van pa’s wat hul hele gesinne uitwis, word aanleidende faktore, oor waarom ouers hul kinders vermoor, beskryf as: gesinsverbrokkeling, manlike seksuele jaloesie, ‘n behoefte daaraan om in beheer te wees en ‘n obsessiewe besitlikheid. Om jou kinders te vermoor, is, soos in die gevallestudies voorkom, die uiterste vorm van wraak teenoor jou vrou.

Ander redes wat aangevoer word is depressie, mishandelende kinderjare, die blootstelling aan middelmisbruik, seks, manipulasie, geestesafwykings en dalk selfs psigoses. Party word deur vryheid geïnspireer en wil dít wat in hul pad na geluk staan, uitwis.

En ja, baie van die moordenaars word as narsiste, psigopate en sadiste beskryf. Gewilde beskrywings in die volksmond. Maar nie almal word so geklassifiseer nie, wat dalk party mense sal verbaas, maar aan die hand van verduidelikings van kenners nie vergesog is nie.

Waarskuwingstekens

Dis verblydend dat die boek waarskuwingstekens uitwys, soos in die geval van Bezuidenhout, wat na ouerskap verwys as dat dit “ ’n gebalanseerde benadering” moet wees.  Dis van uiterste belang om vir jou kinders grense te kan stel en soms “nee” te sê. Dit benadruk weereens die ontsaglike en selfs vreesaanjaende verantwoordelikheid wat ouerskap bring. Daar moet ‘n morele kompas wees. Jou gedrag tel meer as jou woorde.

Tog word die feit dat kinders hul ouers vermoor as veel komplekser beskou as ander familiemoorde. ’n Tiener kan stil en afgesonderd voorkom en net eendag “breek”. Plaas dit nie maar net weereens ouers in die beskuldigdebank nie?

Een van die hoofstukke gaan oor Nicolette en Hardus Lotter en Matthew Naidoo en die wrede moorde op die Lotter-kinders se ouers, Johnny en Riekie Lotter.

Daar is bevind dat Nicolette aan mishandeldevrousindroom gely het en selfs haar destydse vriend, die manipulerende Naidoo, se urine moes drink. Hier en in ander gevalle word erge breinspoeling en manipulasie deur die jong vroue se kêrels beskryf.

Met Don Steenkamp (toe 15) wat sy ouers Deon (44) en Christel (43) en suster Marthella (14) vermoor het, blyk sibbe-jaloesie ‘n rol te vertolk het. Marthella was glo ‘n uitblinker en hy het gesmag na sy pa se goedkeuring. Wat ‘n mens veral ontstel, is die feit dat hy ná die moorde besonder onemosioneel en behep met sy efporsie was. Hoe gewetenloos kan ‘n tiener wees? Is dit dan nie kenmerkend van ‘n psigopaat nie?

Hy moes egter ‘n goeie akteur gewees het, want, soos wat die geval in soveel gevalle van jong mans is wat moord gepleeg het, het sy Ouma Bettie in sy onskuld bly glo. Daar was voor die tyd geen teken dat hy ‘n wrede of emosielose kind met gedragsprobleme was nie. Tog het hy glo baie gelieg. Hoe dan nou?

Sy gedrag, het ‘n kenner bevind, stem ooreen met die waarskuwingstekens van psigopatiese eienskappe wat later kan ontwikkel.

Henri van Breda is as ‘n alleenloper met gemoedskommelinge beskryf. ’n Eenkantkind wat moontlik deur sy pa verneder en verkleineer is. Hy was doodkalm toe hy die nooddienste ure na die moorde gebel het en het boonop soos ‘n tandetrekker in die hof gelieg. Dit word so raak in die boek beskryf; “Hy het drie mense uitgewis, maar hy Henri van Breda, het ook eiehandig homself uitgewis.”Weereens was daar familielede wat in sy onskuld bly glo het, want, is heel ironies aangevoer: “Bloed is dikker as water.”

Die goeie nuus in die boek (iets wat ek al waargeneem het) is dat jeugdiges se kanse op rehabilitasie beter met berading en die regte huishoudelike omgewing is. Hulle is meer vatbaar en plooibaar vir rehabilitasie. En dit gee ’n mens hoop. ’n Mens moet natuurlik realisties wees en besef dat dit nie ’n waarborg is dat hulle nie weer sal moor nie.

Dis byna meer skokkend wanneer ouers hul kinders vermoor as andersom, soos wat Kemp in die boek beskryf. Kinders is mos impulsief en vol storm en drang. Die redes waarom ouers hul kinders vermoor, word aan onder meer verskeie sielkundige, genetiese en omgewingsfaktore toegeskryf. Party ouers is brandarm, verloor alles en sien die dood van die hele gesin as ‘n uitweg. Die vernedering van bankrotskap is te groot.

Nog tekens wat ’n mens nie by mans kan verontagsaam wat hul gesinne uitwis nie, is tekens soos erge depressie, jaloesie teenoor sy vrou, soos in die geval van Marius van der Westhuizen wat sy kinders Bianca (16) Marius Junior (5) en Antoinette (21 maande), binne twee minute berekend en doelgerig doodgeskiet het. Die feit dat Charlotte, sy vrou, selfs vroeër ‘n beskermingsbevel teen hom gekry het, kon dalk as ‘n tikkende tydbom beskou word. So’n bevel kan dalk net vir party mense ‘n wake-up call wees.

Die hartseerste hoofstuk, vir my altans, is die een oor Venolia Siwa (35) wat al vyf haar kinders ‘n mengsel van koeldrank en remvloeistof ingegee het en hulle daarna verdrink en gesteek het om seker te maak dat hulle dood is. So ‘n vrou moet mos ‘n monster wees, kan lede van die publiek dink.Sy het egter aan depressie gely, haar jongste kind was serebraal gestrem, en haar verhouding met die pa was stormagtig. Hy het ook geweier dat sy geboortebeperking gebruik.

Hoewel daar nooit verskonings vir sulke grumoorde is nie, is daar oorsake. ‘n Psigiater het haar gediagnoseer met akute psigose, psigologiese stresfaktore en met postpartum-depressie. Sou daar ‘n ander uitkoms gewees het as haar toestand betyds gediagnoseer is?

Kemp skryf feitlik, helder en nugter. Die boek is leersaam en insiggewend. Dit lees maklik soos wat ’n mens van ‘n ervare joernalis verwag en probeer nie onnodig wetenskaplik of akademies te wees nie. Sy vertel net die storie, maar probeer terselfdertyd agter die kap van die spreekwoordelike byl te kom.

Bloed dikker as water? Nie noodwendig nie. Dis diegene wat veronderstel is om hul geliefdes te wees, wat party mense tot moord dryf en oor die afgrond stoot.

En hierdie komplekse tendens waarop die boek lig werp, sal vir talle lesers boeiend, tragies en onverklaarbaar bly.

Ek sal dit veral aanbeveel vir mense wat van misdaadboeke, gegrond op ware gebeure, hou.

Carla van der Spuy is die skrywer van ‘n aantal niefiksie misdaadboeke waaronder Sielsiek (2017) LAPA-uitgewers saam met Dr Henk Swanepoel.

The post <i>Bloed, dunner as water</i> deur Charné Kemp: 'n resensie appeared first on LitNet.

Illuminating lives: ‘n Ongewone boek uit ‘n buitengewone hoek

$
0
0

Illuminating lives, Biographies of fascinating people from South African History
Vivian Bickford-Smith & Bill Nasson

Penguin Random House South Africa
ISBN: 9781776092642

Bill Nasson en Vivian Bickford-Smith se Illuminating lives, Biographies of fascinating people from South African History (Panguin Random House, 2018) kan as ’n ongewone boek, selfs uitdagend, beskryf word.

Hoe so? Eerstens word die voornemende koper die vraag gestel: waarom sal ek hierdie boek oor elf mense wat blykbaar niks met mekaar te doen het nie, koop? Boeke is duur, daar is so baie om uit te kies.en ’n mens kan aanvaar dat ‘n boek soos hierdie mense wat in geskiedenis , veral biografieë, geïnteresseerd is, nuuskierig sal maak.  Dít terwyl daar op dieselfde rak dalk boeke oor groot name, van Madiba, Zuma en Malema tot Koos Kombuis, Koos du Plessis en Koos Prinsloo mag staan. Almal name wat meer bekend mag wees as Pat Pattle, Jane Turner en Stephen Watson, of as Tiyo Soga, Isaiah Bud-M’Belle en Tyhini Robert Qengwa — afhangend van wie jy vra, toegegee. Sal vandag se jonger lesers nog weet wie John Montagu en Eddie Barlow was?

Montagu, wat in 1842 tot 1853 Koloniale Sekretaris aan die Kaap was, voel vir my juis nogal soos ’n koringkorrel in ’n bak rys in hierdie geselskap —in elk geval totdat jy besef dat van die ander persone ook amper, of net so lank gelede geleef het, en net daar leer jy al iets. Of die drang na kennis genoeg motivering is om genoeg kopers te oorreed om R280 te betaal, weet ek nie. Dog, Penguin moet so dink, want hulle het hierin belê, en uitgewers glo nie meer deesdae in groot pakhuise vol vorraad nie. Hulle onttrek boeke na ‘n sekere tydperk en verpulp die res. Die rede wat hulle aangee wanneer hulle outeurs vra of hulle van die voorraad kan terugkoop, is deurgaans dat stoorruimte te duur is. En ek vrees regtig vir die voorraad van hierdie boek.

Albert Grundlingh, geskiedenisprofessor aan die US skryf immers oor Danie Craven die volgende: “Walking past Craven’s statue at Coetzenburg, I have also overheard a student talking on his cellphone and explaining his exact location to his frend: ‘I am standing here next to the dude with the dog.’ To some on campus, a new generation of students with different world views and backgrounds, the statue no longer seems to have much or any significance at all.” Die vraag is dus weereens: vir wie sal ’n historiese opsomming of kommentaar van Craven, of enige van die ander persone in die boek van genoeg belang wees om die boek te wil lees?

Soos ek deur die teks geploeg het, het daar wel interessante punte opgedoem. Soos die kompleksiteit van die betrokke persone: mense soos Craven (sportman, administrateur, akademikus met drie doktorsgrade, ens), Watson (skrywer, digter, dosent), en John K Mohl (skilder, leermeester en filosoof).  Veral die anomalieë van/in hierdie persoonlikhede is interessant. Craven kan as voorbeeld dien: hy was ’n swak leerling in sy skooldae, maar ‘n uitsonderlike universiteiststudent, en die leiersposisie wat hy ingeneem het in ‘n Afrikaner-territorium soos Stellenbosch, en in rugby veral, terwyl hy geen Broederbond- of Nasionale Party-saamloper was nie. Ook was sy gesondheid nooit robuust nie, maar hy het aan die fisies-uitdagende sport rugby deelgeneem. Uiteindelik het hy ook heeltemal belangstelling in rugby verloor, nadat hy vir dekades lank juis ons Meneer Rugby was. En so kan ’n mens aangaan.

’n Ander interessante aspek van die boek is die kwessie van assosiasie. Ek as Afrikaner- man kan my nie in alle eerlikheid sonder moeite met die Engelse persone soos Montagu en Watson eens probeer assossieer nie, en nog minder met Bud-M’Belle, Soga of Qengwa, wat beteken dat ek , behalwe vir die afdeling oor Craven, myself moes dwing om die teks deur te lees. Ek neem aan dat hierdie boek nie vir die Afrikaanse mark bedoel is nie — dalk op die bitter klein plaaslike Engelssprekende mark, en met die hoop dat swart lesers ook betrek sal word.

Die stuk oor Eddie Barlow, ‘n Engelssprekende wat beslis baie Afrikaanssprekende bewonderaars gehad het, het wel my aandag behou, maar dit kan eerder aan my belangstelling in krieket toegeskryf word. Daarom het ek biografieë oor hom, die Pollocks en ander, ook oorsese krieketsterre, gelees. Maar gaan sport-aanhangers hierdie boek koop om oor Craven en Barlow te lees? Miskien wel, as hulle nie soos hulle hedendaagse sporthelde eerder rekenaarspeletjies speel en gedurig met oorfone rondloop nie — Herschelle Gibbs het mos gesê hy het nie eens sy eie “outobiografie” gelees nie.

In die boek se inleiding noem die samestellers dit ‘n “[...]an eclectic collection of biographical essays on eleven intriguing men and women from South Africa’s nineteenth- en twentieth-century past [...]” en dat dit beloof om lig te werp op die fassinerende lewens van ’n wye spektrum mense,wat ’n digter, ’n skilder, ’n vlieënier, ’n boer, ’n tolk, ’n evangelis,’n rugbyspeler en ’n onderwyser insluit.Verder skryf die samestellers dat net een van hulle nog leef, en sommiges is lankal dood. Verder spreek hulle dié hoop uit: “[...] the collection also explores the often hazy balance between the impact of historical circumstances on the men and women who populate these pages.

Die inleiding is dalk die interessantste deel van die boek, en beveel aan dat geskiedenisstudente en -liefhebbers dit lees. Ek stem byvoorbeeld saam dat dogmas, tradisies en rigiede kategorieë nie skrywers in enige genre moet inhibeer nie. Geskiedenis was nog nooit —soos vir té lank geglo was — “the story of great men” alleen nie. Die klein geskiedenisse, die nederige deeltjies van die legkaart wat die Verhaal van die Mens uitbeeld, moet juis so volledig as moontlik uitgestal word om werklik konteks en insig te mag verskaf. Ja, ons sal altyd maar met die blink puntjie van die ysberg werk, maar ys weerkaats ook maar net bokant die oppervlakte van die diepsee.

Ter wille van deeglikheid, noem ek  die 11 persone waaroor geskryf word en hulle skrywers op: Tiyo Soga, deur Vivian Bickford-Smith, John Montagu (Nigel Penn), Isaiah Bud-M’Belle (Brian Willan), Pat Pattle (Bill Nasson), John Koenakeefe Mohl (Neil Parsons), Lilian Ngoyi (Martha Evans), Jane Turner (Jackie May), Danie Craven ( Albert Grundlingh), Eddie Barlow (Luke Alfred), Stephen Watson (Christoper Hope) en Tyhini Robert Qengwa (Sindiwe Magona).

Daar is ’n indeks en lys van outeurs, wat nuttig is, want sommige van hulle sal dalk minder bekend wees as die persone waaroor hulle geskryf het.

Hierdie boek is op die keper beskou, ’n dapper bydrae tot die opvoeding van die instinktiewe altru Altans, die tipe wat werklik lief is vir lees. Veral oor die stemme uit die verlede.

The post <em>Illuminating lives</em>: ‘n Ongewone boek uit ‘n buitengewone hoek appeared first on LitNet.


Kainsmerk deur Annelie Botes: ’n FMR-resensie

$
0
0

Kainsmerk 
Annelie Botes
Uitgewer: Penguin Random House Suid-Afrika
ISBN: 9781776093038

Uitgesaai op 21 November 2018 in “Boekkeuse” op Fine Music Radio onder leiding van Amanda Botha. 

Die titel van Annelie Botes se jongste boek is Kainsmerk. Dis ’n besonder aantreklike uitgawe van Penguin Random House Suid-Afrika. Op die omslag is ’n kleurryke foto deur Annelie se Nasti-dogter, soos Annelie haar noem.

Die bundel bevat agttien verhale waarvan ’n aantal kort novelles is: “Swart Vrydag se manna” het vyf hoofstukke terwyl “Louterberg se grothuis”, “Die reis deur Bloemenhoop” en “Duiwelsbrood” elk 4 hoofstukke het.

Bronerkenning vir die tekste is kort: “Die verhale wat in  Kainsmerk opgeneem is, het tussen 2000 en 2017 in VrouekeurRooi Rose en Huisgenoot verskyn.”

Die titel Kainsmerk het my die broedermoord-gegewe in die Bybel laat naslaan. In haar voorwoord stel Annelie dit ook duidelik: “Genesis 4 vertel hoe Kain sy broer Abel in die veld doodgemaak het. God het Kain verdoem tot ’n doellose  swerwersbestaan. Tog het God hom begenadig  deur ’n merk op sy voorkop aan te bring. Enigiemand wat dié merk sien, sou weet dat hy sewe maal gestraf sal word as hy Kain doodmaak.

         “Só word ons almal beskut. Dalk juis oor die Kainsmerke wat ons dra.” (bl 1.)

In die verhale kom Bybelse verwysings en toepassings voor. Kyk hoe begin “Op ’n moeisame reis”: “Toe die son op die middaguur verwoes”(bl 200). Vergelyk Psalm 91: 6: “Jy hoef nie te vrees vir die siekte wat op die middag verwoes nie.”  Die godsdienstige verwysings word baie saaklik gebruik. Die deeglike intriges word nie as ’t ware eers gestop vir ’n preek, vir moraliserings nie. Lesers wat getroue kerkgangers is, wat baie meelewend is, sal hulle kan identifiseer met die karakters se kerkwerk. Vergelyk die kerkkoor-optredes, die maak van kanselklede en kerkraaddiens (bll 128, 135 en 166). Dit verwys nou hoofsaaklik na optredes in die NGK en die susterskerke.

Ook lesers wat graag dinge doen, nie wegskram van handewerk nie, sal hulle in Annelie se mense herken. In “Letter van die wet” (bl 242) gaan dit om ’n ma en pa wat hulle ongeletterdheid vir hulle dogter Emma jare lank wegsteek. Nou vra sy haar ma of dié ooit skoolgegaan het. Emma wil weet waar haar ma se ”slimte” vandaan kom. Deur haar gedagtes kry ons ’nvoorbeeld van so ’n handige mens: Haar ma ken “iedere bossiemedisyne, en almal roep haar as daar ’n bobbejaantjie is wat stert afgekap moet kom. Weet hoe stryk mens ’n kerkbroek se plooie met ’n nat lap. Kan tel hoeveel brode uit een emmer meel gebak kan kom” (bl 244).

En haar pa? Sy’t agtergekom dat hy op die Bybel kyk, maar uit sy kop uit vertel. “Partykeers het hy die gelykenis van die saaier voor in die Bybel gelees; ander aande agter. Een aand was dit koring, die ander aand hawer. Toe hy die aand sê dit was lusern, het sy gewéét hy lees net kamma. Maar sy het dit vir niemand vertel nie. Mens se pa bly jou pa (bll 244—245).’’

Heelwat verhale beeld mense uit wat ly, sielkundig en/of liggaamlik, mense wat vir ander en vir hulleself die lewe bitterlik moeilik maak. “Die broosheid en die boosheid van die liefde” (bl 20) kom na vore by hulle. Soms neem ’n bomenslike duiwelskrag besit van ’n mens. Jy het oor ’n afgrond getuur, en toe tuur die afgrond ook in jou in (bl 188). Daar’s die uitputting om ander voortdurend te versorg. Iemand het ’n remmende  neerslagtigheid. Dit druk jou op jou knieë neer en ook iemand na aan jou” (“Sewe maer jare”, bl126). Of dit gaan om ’n huwelik wat vir albei partye “’n trae gelykpad geword het” (bl 202). Sommiges ken die verskeurdheid oor ’n kind se dood. Dit is mense wat nie die vermoë het om liefde te ontvang of uit te deel nie.

Tog kom daar dikwels ’n ommekeer; ’n lotsverandering. Aan die eindes van die verhale verskyn heelwat verrassings. Dis iets heerliks. Soos Boerneef geskryf het: “soms straal ’n Bolandsblydskap oor jou dag” (Versamelde poësie, bl 200). ’n Volgende keer is dit baie ontstellend. Soos in ”Die stil nag”(bl122).

Annelie se woordgebruik is baie keer wonderlik nuut. Van die vondse kom in dialoog voor. Die ou oom praat oor ’n bossie “sieterpielie” vir “pietersielie”. Ander karakters praat van: “senuweeste; ontstelling; jy moet opperder skuif; jy moet liewenster bly; kry koue riffels” (bl. 140 —145; 156)  In “Die reis deur Bloemenhoop” staan op bl 145:  “Waffer vrou nogalster? Sy is ’n onskullige heiden.” In “Sewe maer jare” (bl 123): “Niksling, wat altyd aan die uitgedroogde punt van die lewe moet kou.”

Goeie beeldspraak is op bl 166 in “Duiwelsbrood”. Die loseerders moet R300 huur betaal. Maar miss Plessis, die eienaar, is nie gelukkig daarmee nie: “Driehonderd Rand is nie ’n kettierek wat ’n mens kan styf span om ver te skiet nie.”

’n Klein detail kan soveel oproep: “Nagstil sypaadjie” (bl 170). En in “Duiwelsbrood” (bl 190): “Toe Hester in die kombuis kom nadat sy die man afgesien het, staan miss Plessis en huil met die afoorkoppie teen haar bors vasgedruk.”

Kainsmerk deur Annelie Botes, uitgegee deur Penguin Random House Suid-Afrika, is ’n bundel verhale wat ek bewonder. Hulle het my ook kort-kort aangedaan gemaak.

The post <i>Kainsmerk</i> deur Annelie Botes: ’n FMR-resensie appeared first on LitNet.

The enumerations by Máire Fisher: reader impression

$
0
0

Book title: The enumerations
Author: Máire Fisher
Publisher: Umuzi
ISBN: 9781415209646

It is always a gamble to pick up a book written by an author whose work one is unfamiliar with. But it is a risk worth taking. Such was the case when I set out to read The enumerations by South African author Máire Fisher. The enumerations is not Fisher’s debut, as this book was preceded by a book called Birdseye, which I have not read. The enumerations can be described as a psychological drama, and tackles the issue of obsessive compulsive disorder (OCD). The enumerations explores the family Groome’s experiences of their son, Noah, who suffers from OCD. The family resides in Cape Town and their lives are consumed by Noah’s disorder. In fact, their lives revolve around Noah and OCD.

What do I know about OCD? I ask myself. What do I really know? Not much, as I have never been exposed to it. I can remember many years ago, there used to be an American television series called Monk, which I used to watch with my family. The main protagonist in this show was a detective by the name of Adrian Monk (portrayed by Tony Shalhoub), and this character suffered from OCD. For the purposes of the TV show, the idea was to find Mr Monk’s obsessive compulsive disorder funny. Mr Monk was always rearranging everything. Everything simply had to be perfect. However, Fisher’s novel presents one with a far less romantic picture of OCD. It is a quite disruptive disorder that can have serious consequences for families. It is often this way with psychological or physical disorders, that many people’s first exposure to them comes through television, which might not always be a healthy presentation of the realities.

From the outset, Fisher is weaving different stories into one, but it takes quite some time before the link between the stories becomes clear. The bulk of the text in the novel, however, focuses on the Groome family, with Noah very early on running into trouble with his peers at school. Noah’s sister, Maddie, has learned to love Noah for who he is. She understands him like few others. And she is always ready to defend him against the constant bullying that he has to endure at school. When Noah is forced to leave home, Maddie finds herself not used to not having Noah as the centre of attention in the Groome household, and having to readjust to this proves a challenge. This is in stark contrast to Noah and Maddie’s father, Dominic, who becomes more and more withdrawn as the story unfolds, but seems to prefer Noah’s absence in the family. Noah’s strange ways also never go down well with his peers, and he ends up in a dispute with a classmate. Through the process of mediation, the Groome family agrees to find expert help for Noah. In this way, Noah soon finds himself at an institution called Greenhills, a place for children with special needs, where he undergoes therapy for his OCD. The story of The enumerations is basically the story of Noah’s time spent at Greenhills, where he has to learn to let go of his obsession to control everything that is happening around him.

Disgruntled with her husband Dominic’s reaction to their son Noah’s OCD, Kate constantly tries to hold the family together, but this proves to be a real challenge. She ends up visiting Noah alone with Maddie at Greenhills, where she has serious doubts about her relationship with Dominic. For Noah, however, Greenhills slowly but surely proves to be a blessing that no one would ever have been able to foresee. Despite Noah’s constant longing to be released from Greenhills, the experiences he has and the friends he makes eventually have a lasting impact on him and change him for the better.

At times, the pace of this novel might come across as too slow; however, the moment that the different stories start to gel, The enumerations quickly becomes a real page-turner, with a surprising twist at the end. This is a wonderful book that sensitised me a great deal to the issue of OCD. Some of the characters, in particular that of Dominic, at times come across as lacking in nuance, but as the novel progresses, especially towards the end, a more comprehensive picture of Dominic emerges. The unusual subject matter of The enumerations – that of a young man suffering from OCD and his family’s experiences thereof – makes for a wonderful theme for this novel. The enumerations is certainly a novel that I recommend to anyone, especially anyone with an interest in psychology and the issue of OCD. It is clear that a lot of research went into writing this novel, and the result is a book that not only entertains, but also educates.

The post <em>The enumerations</em> by Máire Fisher: reader impression appeared first on LitNet.

Bibi Slippers kook uit The South African Vegan Cookbook deur Leozette Roode

$
0
0

Foto's: Bibi Slippers

Die Engelse benamings word by elke foto behou, sodat die gereg maklik is om in die boek na te slaan.


The South African Vegan Cookbook
Leozette Roode

Human & Rousseau
ISBN: 9780798177108

In 2010 het ek ná ’n tweejaarverblyf in die buiteland na Suid-Afrika teruggekeer met ’n stapel vegan-kookboeke onder die arm, en ’n ferm oortuiging dat ’n plantgebaseerde dieet die mees etiese manier was om in die 21ste eeu jou liggaam te voed. My etiese oortuiging het nie getaan nie, maar die gesukkel om die vreemde bestanddele wat in die kookboeke genoem word, in die hande te kry, gekombineer met die gesukkel wat uiteet en sosialiseer afgegee het, het my binne ’n jaar laat terugkeer na my “gewone” vegetariese dieet, wat eiers en suiwel ingesluit het.

Einde 2017, nadat ek Yuval Noah Harari se Sapiens gelees het, het ek besluit om terug te klim op die vegan-wa. Die tyd was ryp, die wêreld aan die verander, Suid-Afrika ook aan die bykom. Dié keer gaan dit heelwat makliker: daar is baie meer restaurante wat veganvriendelik is (of selfs uitsluitlik vegankos bedien); die konsep van plantgebaseerde kos skrik nie meer vriende, familie of geliefdes af nie; en die meeste van die bestanddele wat in die ingevoerde kookboeke genoem word, kan deesdae met ’n bietjie moeite in plaaslike supermarkte of spesialiteitswinkels opgespoor word. Nogtans was ek besonder opgewonde om op Instagram te sien dat Human & Rousseau ’n vegankookboek spesiaal vir die Suid-Afrikaanse mark uitgee: The South African Vegan Cookbook deur Leozette Roode is ’n welkome toevoeging tot enige versameling vegan- en vegetariese kookboeke, veral omdat die bestanddele bekend is en sommer maklik in enige Checkers, Woolworths of Pick n Pay se rakke te vinde is. Jy kan hierdie een gerus op sy baadjie takseer: die helder, vars en heilsame dis op die voorblad gee ’n goeie aanduiding van wat binne-in is – maar dis ook nie net “bokkos” (soos my pa sou sê) nie. Die veganbraairesepte en veganalternatiewe vir Suid-Afrikaanse gunstelinge soos melktert en piesangbrood beteken dat vegans nie meer droëbek om die vuur hoef te sit of wye sirkels om die tafels by ’n kerkbasaar hoef te stap nie.

Die boek word afgeskop met ’n vinnige oorsig van Leozette se eie reis tot by ’n plantgebaseerde dieet, en ’n Vegan 101-afdeling waarin sy verduidelik wat dit beteken om vegan te eet, en waarom mense besluit om dit te doen. Daar is ook ’n nuttige lys van webtuistes en Facebook-bladsye waar addisionele inligting oor plantgebaseerde kos te vind is, en ’n reeks algemene vrae oor die veganleefstyl met Leozette se antwoorde daarby. Sy lys ook die kombuisgereedskap wat jy nodig het om die resepte te maak, asook veganvriendelike vleis- en kaas-alternatiewe, jellie, wyn, mayonnaise, sjokolade en koekies.

Die resepte is in tydsgrepe verdeel: resepte vir vroegoggend, snack-tyd, ligte middagetes, teetyd, braaityd, vroegaand, aandete en laatnaghappies. Die kosfotografie is helder en aanloklik, en maak dit duidelik dat vegan-geregte allesbehalwe saai is.

Foto van die Overnight Oats

Uit die ontbytkosse het ek die Chocolate Peanut Butter & Coffee Smoothie (bl 26) gemaak, en sommer herhaaldelik die Chocolate Overnight Oats (40). Ek gaan nie maak asof enigeen van hierdie geregte naastenby so mooi soos Leozette s’n gelyk het nie, maar dis heerlik, en boonop báie maklik.

Nog ’n foto van die Overnight Oats

Uit die ligte middagetes het ek die Earthy Brown-rice Medley gemaak – ook werklik maklik en met geen eksotiese bestanddele nie. Ek probeer altyd gaar bruin rys in die yskas hê om net dinge by te gooi vir middagetes soos dié, so ek het sommer die lensies in die resep met die geblikte soort vervang om tyd te bespaar, en my gaar rys saam met die res van die groente in die pan gebraai. Ek sien uit daarna om ook nog die lasagne en die Mediterreense pesto-pasta te probeer – die foto’s van dié geregte lyk heerlik!

By die teetydresepte het ek besluit om alles uit te haal en sommer ingespring met die Thyme, Cinnamon & Orange Sponge Cake (98). Die feit dat my koek nie ’n rasende sukses was nie, het waarskynlik nie soveel met die resep te doen as met die feit dat ek nie resepte baie goed volg nie. Ek sou graag wou sien wat ’n meer gesoute bakker met dié resep uitrig – maar my koek sou kon kwalifiseer om in die annale van die webwerf CakeWrecks.com opgeneem te word. My bure het wel daarvan geëet en hulle leef nog, dus is alles nie verlore nie. Diegene wat suiker vermy, of gewoond is aan supergesonde veganresepte wat nie van geraffineerde suiker gebruik maak nie, sal hierdie resep dalk te soet vind. Ek sien uit daarna om die skons en sjokoladetert te probeer maak (sodra ek van die mislukte koekbakkery herstel het).

Crispy Baked Tofu

My poging tot Crispy Baked Tofu (136, in die vroegaand-afdeling) was ook ’n flop – die tofu het aan die pan vasgeplak, en uiteindelik meer soos roereier gelyk as soja-repies. Lewensles: As die resep vra vir Maizena en baksproei, moenie dink jy kan daarsonder wegkom nie.

 

Die proses om die nachos te maak.

Nachos

Nachos met kaserige sous

Nachos met bone en suurroom

Die vegan-nacho’s was egter ’n groot treffer. Die kaassous is vreeslik lekker, en vir iets wat nie kaas bevat nie, werklik baie kaserig! Die suurroom was bietjie te veel – ek sal daardie sousreseppie halveer as ek weer die nacho’s maak – maar verder het ek behoorlik gesmul aan hierdie dis, en genoeg van die bonemengsel oorgehou om vir my ook die avo-en-bone-roosterbrood (36) te maak. In hierdie afdeling is daar ook ’n burgerresep wat sommer Quorn se Hot and Spicy patties uit die boks gebruik (132) – ek gaan dit beslis nog maak, en wil ook my hand aan die Mac and Cheese Bake (128) waag.

My twee gunstelinggeregte uit die boek is beide uit die afdeling getiteld “Let’s wine and dine” – en hierdie kos is so geurig dat selfs jou vleisetende skoonma waarskynlik sal swig. Die Vegan Butter “Chicken” with Quorn is so lekker dat ek dit nou al drie keer gemaak het.

Vegan Butter "Chicken"

Dis ’n wonderlike, vertroostende gereg met diep geure en verskillende lae smake, en die Quorn-vleisalternatief kan mens by enige Pick n Pay vind. Die Rosemary Mushroom Risotto (162) is Master Chef-waardig. Ek het ook die Rainbow Rolls with Marinated Tofu (166) gemaak, maar ek dink nie ’n kombuisleek soos ek kan uit die verduideliking in die boek begryp hoe om ’n ryspapierrolletjie behoorlik te vou nie. Myne het dus glad nie aanloklik gelyk nie, maar hulle was baie smaaklik. Ek sal maar vir ’n klassie gaan om uit te vind hoe mens ’n rolletjie soos ’n kosstilis vou.

Die Engelse uitdrukking “the proof of the pudding ...” is hier van toepassing: die resep vir Oreo Peanut Butter Truffles (180) het ek ook al drie keer gemaak, en werk toe gevat, vir die bure uitgedeel en na ’n piekniek geneem om mense te beïndruk. En hulle wás beïndruk! Weer eens soet genoeg om jou diabetes te gee as jy jou aan die hele bak vol sou vergryp, maar weer eens ’n bewys dat vegans hulself nie al die lekker dinge in die lewe hoef te ontsê nie.

As jy nie ’n groot kosmaakgeesdriftige is nie, koop vir jou The South African Vegan Cookbook net om na die mooi prentjies te kyk, en vir die naslaangids agterin wat vir jou sê waar jy kan gaan uiteet as jy vegan is, of vegans vir ete moet uitneem. Maar moenie verbaas wees as die prente jou kombuis toe lok nie – as jy weer sien, bedryf jy dalk ’n vegan-kos-Instagram, of lewer jy vegan-roosmarynkoeke by die tuisnywerheid af. (Wat?! ’n Meisie mag tog seker droom.)

  • Foto’s: Bibi Slippers

The post Bibi Slippers kook uit <em>The South African Vegan Cookbook</em> deur Leozette Roode appeared first on LitNet.

Liefde in die tyd van die internet deur Fransi Phillips: ’n resensie

$
0
0

Liefde in die tyd van die internet
Fransi Phillips
NB-Uitgewers
ISBN: 9780795801686

Fransi Phillips se jongste roman, Liefde in die tyd van die internet, word op die omslag beskryf as ’n “verruklike, eksotiese en absurde stadsprokie.” Phillips, wat dikwels sprokies as grondslag gebruik vir haar werk, en waarin die onwerklikheid met die werklikheid verweef word, skep hier ’n hoofkarakter, Hanna, wat vlug van die “nare wolf” — ‘n seksbeluste prokureur. Hanna spoor dan die skrywer Fransi Phillips op die internet op, wat haar help om ’n werk as ’n Engelse onderwyseres in Rusland te bekom. Hier ontmoet sy via Skype vir Wolf79, die sterk en chauvinistiese held van die verhaal.

Hanna se stryd is grotendeels om haarself te bevry van haar selfopgelegde status as hoer. Dit bespreek sy in die skreeusnaakse openingstoneel met haar sielkundige. Die eerste sin trek hiermee die leser in: “Die shrink probeer tevergeefs om vir Hanna te oortuig dat sy nie ’n hoer is nie” (bl1).

Die sleutel tot die romantitel word grotendeels verskaf op bladsy 48. Hier maak Phillips dit duidelik dat die internet ’n soort virtuele bestaan skep vir diegene wat dit moeilik vind om in die werklikheid te kan leef. Oor die verhouding tussen die bestaan op aarde en die lewe op die internet, skryf Phillips soos volg op haar Facebook-bladsy: “[J]y moet begryp dat jy met die internet die wêreld onder jou vingers het […] jy moet begryp hoe om jou drome, en die werklikheid wat agter die dikwels bedrieglike internet lê, met mekaar te versoen” (bl 48). In haar resensie van Liefde in die tyd van die internet beskryf Deborah Steinmar die verhaal as “baldadig en boheems soos ’n Russiese serp.” Dit is inderdaad die geval. Die agterdoek vir hierdie boheemse Russiese sprokie is die tydperk van die Belle Époque. Hanna met haar lang hare, ’n tipiese vreemdsoortige Phillips-karakter wat Doc Maartens dra (soos die skrywer), word dan ook opgemerk as iemand wat meer herinner “aan ’n aristokratiese Russiese vlugteling tydens die Belle Époque as aan die hoer wat Hanna veronderstel is om te wees” (bl 1).

Sekerlik die grootste bate van Liefde in die tyd van die internet is dat die Russiese leefwêreld tot ’n groot mate oopgeskryf word in Afrikaans. Die impak van die roman, die boheemse tekstuur, sou nie naastenby dieselfde gewees het as die sprokie ter plaatse afgespeel het nie. Die boeiendste dele van die roman word juis geskep deur ’n lewe in Rusland vir die leser uit te beeld. Die leser word voorts gekonfronteer met die Russiese politiek. Phillips wat op Facebook haar pro-Poetin, en anti-Amerikaanse sentimente deel, plaas haar oortuiginge in die mond van Wolf79.

Só word Fransi Phillips as skrywer met haar aanvegbare politieke beskouing aangekondig: “Die middelmatige skrywer Fransi Phillips se bek is groot op Facebook. Oor Rusland en spesifiek die Russiese president Wladimir Poetin gaan sy so te kere dat ’n hele paar belangrike letterkundiges haar al geblok het. Volgens Phillips is daar nie veel sprake van ’n diktatorskap in Rusland nie. Basies is daar net een ongeskrewe wet in Rusland wat dit anders maak as die Weste: ’n soort verbod op indiskresie” (bll 21 — 22). Die kompleksiteite van die Russiese politiek word verweef met die sprokiesagtigheid van die woude, die bergagtigheid, die argitektuur van Moskou, die hardheid van onder meer die metrostasies en die ontberinge wat die uitermatige koue meebring. Liefde in die tyd van die internet bied ’n heerlike spel tussen werklikheid en fiksie en neem so ‘n metafiksionele posisie in. Daar word verwys na werklike persone soos Diek Grobler, Guy du Toit en Phillips se suster, Liekie Fouché, en haar dogter, Nina Phillips.

Die skrywer in die roman, Fransi Phillips, wat sterk ooreenkom met die reële outeur, speel poppemeester met die uitgelewerde Hanna en die veglustige Wolf79 wat alles met sy vuiste wil uitsorteer. Die lot wat die karakters glo Phillips vir hulle bepaal, bring groot wrywing tussen die skrywer en haar karakters. Hanna merk byvoorbeeld op as sy Suid-Afrika verlaat en op Doha-lughawe vir ’n aansluitingsvlug na Rusland wag: “[A]angesien ek jou hoofkarakter is […] sal dit dalk gaaf wees as jy vir my ’n aanduiding kan gee waarheen die lewe besig is om met my te gaan” (bl 60).

Phillips word deurentyd daarvan beskuldig dat sy inmeng in haar karakters se lewens, waaraan sy haar wel skuldig maak. Sy skryf onder meer aan die kunstenaar, Diek Grobler op Facebook: “My hoofkarakter het pas agt van jou skilderye by haar verloofde gesteel en die land daarmee verlaat” (bl 59). Die magspel tussen skrywer en karakter word gekompliseer wanneer Hanna op ’n keer die skrywer verbeel — “die keer [het Hanna] vir Phillips uitgedink in plaas van Phillips vir haar. So Phillips is streng gesproke op hierdie oomblik ’n karakter in die gedagtes van een van haar karakters.” (bl 80).

Die opstand van die karakters teenoor hulle skrywer bereik ’n hoogtepunt wanneer die ontstoke Wolf79 vir Phillips in haar bed gaan wurg. Hieroor skryf Phillips: “Ek het nog nooit sulke kak hoofkarakters in ’n boek gehad nie” (bl 195). Uiteindelik kom Hanna tot die insig — soos Phillips vir haar en Wolf79 deurgaans daarop wys — dat hulle self hul lot bepaal. “Ons het dit self gedoen. Ek met my drome en jy [Wolf 79] met jou vuiste. Onthou, sy [Phillips] meng nie veel in met haar karakters nie” (bl 216).

Alhoewel hierdie spel tussen feit en verhaal interessant is en humor en speelsheid tot die roman bring, pla dit by tye vir hierdie leser. Dit voel soms geforseerd en die skrywer wat haarself opstuur, plaas haar soms té sentraal. Die draakstekery met geslagstereotipes sorg vir komiese oomblikke, maar by tye raak hierdie truuk ook te veel. Dit raak steurend dat daar soveel keer “neergeslet” word; geykthede soos die trane wat ’n paar keer oor Hanna se gesig stroom en dat sy haar trane afwas in ‘n see vol trane (bl 186) krap ook.

Hoe dit ookal sy, Liefde in die tyd van die internet lees maklik en boeiend — net die regte leesmateriaal vir die somervakansie.

The post <i>Liefde in die tyd van die internet</i> deur Fransi Phillips: ’n resensie appeared first on LitNet.

Die tragiese saak van Pamina Vermaak deur Annie Klopper: ’n Resensie

$
0
0

Die tragiese saak van Pamina Vermaak
Annie Klopper
Kwela
ISBN: 9780795708701

Die tragiese saak van Pamina Vermaak is Griet skryf ’n sprokie vir die Fokof-generasie. Soos in daardie eerste suksesvolle weergawe van Afrikaanse chic lit word die wel en weë van ’n eiewyse vrou vertel. Soos Griet se storie, word Pamina s’n in oortuigende Afrikaanse slang weergegee — dit terwyl soveel ander pogings om romans in Afrikaanse slang te skryf nié suksesvol is nie. Of jy die taalgebruik in Pamina Vermaak as realisties beskou, hang dalk daarvan af of jy iemand onder veertig van die noordelike voorstede van Kaapstad ken. Ek ken wel ’n hele paar Paminas wie se stemme ek in die roman kon hoor. Vir ander lesers sal die taal dalk wel oordrewe voorkom.

Die tragiese saak van Pamina Vermaak verskil van Griet skryf ’n sprokie in die opsig dat dit meer ooreenstem met tipiese romantiese fiksie: daar is die klein dorpie, die verskillende potensiële vryers, die verlede wat ons heldin moet konfronteer voordat sy kan aanbeweeg. Ook ’n sekstoneel op ’n strand. Soos in die meeste romanzas en chic lit gaan die fantasieë in Pamina nie net oor die romantiese liefde nie, maar ook oor hoe om vandag ’n straight vrou te wees — hoe om ’n balans tussen werk, familie en romanse te vind.

Aan die begin van die roman verloor Pamina haar werk by ’n Christelike vrouetydskrif in Kaapstad. Sy besef ook dat haar huidige verhouding nie werk nie. Sy word boonop nog beroof en met geen besittings behalwe die Delicious Monster-plant op haar passasiersitplek nie, besluit sy om te ry na haar grootwordhuis in die fiksionele Weskusdorp van Witwaterbaai. Daar kry sy die kans om allerhande geraamtes uit haar verlede te konfronteer en ontmoet sy ook vir Dirk, die aantreklike Boer soek ’n vrou-tipe en Wolf, ’n Afrikaanse rockmusikant wat daar wegkruip van die papparazi.

Wat Pamina Vermaak bo ander soortgelyke boeke laat uitstaan, is die spesifiekheid van die karakter en haar wêreld. Op party maniere is ek Pamina. Ek is dertig en Fokofpolisiekar het net betyds gekom om my tienerangs te verwoord. Ek kom van ’n klein dorpie waar ons soms “skaap moet skuif”. Ek kan getuig dat Pamina se tienerslaapkamer nét reg beskryf word:

Die kamermure is nog steeds donkerpers, en die groot kurk-aansteekbord bo haar studietafel is nog oortrek met tydskrif-uitknipsels van Fokofpolisiekar, Kings of Leon, Death Cab for Cutie, The White Stripes en Billy Talent. In die rak langs haar bed is die boeke wat sy in matriek nog besig was om te lees en herlees: Breyten Breytenbach se Katastrofes, Meeulanders van Esta Steyn en ’n tweedehandse boek oor die geskiedenis van rock ‘n ’roll. Bo haar bed hang ’n neongeel vislyn waaraan foto’s uit haar skooldae met pennetjies vasgeknyp is.

Hierdie gedetailleerde karakterisering maak dat Pamina ’n veel interessanter karakter is as haar liefdesbelangstellings. Veral die gedeeltes waarin die verhaal uit Wolf se perspektief vertel word, is minder oortuigend as wanneer Pamina self haar tragiese saak uiteensit.

Of ’n romantiese roman bevredigend is, hang in ’n groot mate af van hoe die verhaal eindig. Min boeke klop nog die perfekte eenvoud van Jane Eyre se slotsin: “Reader, I married him”. Die belang van eindes vir romantiese fiksie beteken dat ek as resensent aan die een kant nie die einde van Pamina Vermaak wil “weggee” nie, maar dat ek wel oor die einde moet praat as ek wil besin oor hoe geslaagd die roman is. As die resensie tot dusver jou dus lus gemaak het om die roman te lees en jy die einde vir jouself moet ontdek — moenie hier verder lees nie! Maak die LitNet-tab toe en gaan lees die roman.

Spoiler alert!

Vir die lesers wat steeds hier is: Daar is  veral een aspek van Pamina Vermaak se einde wat pla. Ek het vroeër genoem dat die dele van die roman waarin Wolf die fokalisator is, minder oortuigend is. As die leser veronderstel is om al Pamina se potensiële minnaars as kandidate te sien, werk dit ook nie dat Wolf die ander hoofkarakter is nie, want dit maak dit van die begin af duidelik dat hulle aangetrokkenheid tot mekaar aan die einde sal oorwin. Pamina se verhouding met Wolf verteenwoordig ’n algemene liefdesromanfantasie — dat die heldin dit sal regkry om die wilde wolf, die rockster bad boy, te tem. Sommige lesers sal beslis hierdie aspek bevredigend vind, maar dit sou beter gewerk het as dit nie van die begin af duidelik was dat dit is hoe die boek gaan eindig nie — as daar bietjie meer spanning in hierdie verband was en ander moontlikhede ook nog moontlik gelyk het. Ten spyte hiervan sal ek die lesers wat ná my spoiler alert nog verder gelees het, ook nie afraai om Pamina Vermaak te lees nie. Dit is perfekte Desembervakansievermaak.

The post <i>Die tragiese saak van Pamina Vermaak</i> deur Annie Klopper: ’n Resensie appeared first on LitNet.

Viewing all 1790 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>