Die seuns van Bird Island
deur Mark Minnie en Chris Steyn
Tafelberg
ISBN: 9780624081463
Selde in die Suid-Afrikaanse boekwêreld verskyn daar ’n boek soos Die seuns van Bird Island. Behalwe natuurlik Jacques Pauw se The President's keepers, wat net soveel mense na die pen laat gryp het nog voordat hulle die boek gelees het.
In albei gevalle lees dié twee topverkoperboeke soos ’n speurverhaal wat mens laat besef die waarheid is soms vreemder as fiksie. En daar lê die probleem. Waarheid en fiksie raak maklik so verstrengel dat dit moeilik is vir die gewone leser om tussen die twee te onderskei.
Voordat hulle na die pen gryp, behoort deelnemers aan die gesprek maar eers die boeke self te lees.
Die groot verskil tussen dié twee topverkopers is dat die spreekwoordelike smoking gun in Pauw se boek niemand kan ontgaan nie. Met die lees van Pauw se boek ruik mens nog behoorlik die geweerkruit. Die omstandigheidsgetuienis, maar ook die direkte getuienis wat Pauw in sy boek onthul, behoort enige redelike leser sommer gou te oortuig dat hy of sy hier met onweerlegbare feite te make het. Name, plekke, datums. Al drie!
In die geval van Die seuns van Bird Island is dit anders. Die kruitreuk het tot ’n groot mate oor die jare verdamp. Die smoking gun ontbreek. Die rook van die afgevuurde geweer is nie meer so duidelik sigbaar nie. Ook nie in een van die anonieme slagoffers wat in die boek genoem word se verhale nie. Diegene wat onweerlegbare getuienis in die boek gaan soek om die skokkende bewerings daarin te staaf, sal vergeefs daarvoor soek.
Ja, ek weet. Waar daar ’n rokie trek, is ’n vuurtjie. Ongelukkig is die grootste rokie in dié boek saam met drie van die sleutelfigure (wat al drie skynbaar hulle eie lewens geneem het?) saam met hulle graf toe. Maar dat daar ’n rokie trek is gewis.
Vir my is die grootste vermiste skakel in hierdie hele verhaal een van die hoofkarakters, Dave Allen. Was dit nie vir sý dood nie, sou baie van die raaisels waarskynlik vandag opgelos wees. Volgens een van die boek se skrywers, Mark Minnie, het hy gesing soos ’n kanarie. Maar ons kon hom ongelukkig nooit self in die hof hoor sing nie. Hy is dood die dag toe hy in die hof moes verskyn.
En natuurlik is die ander vermiste skakel die oudminister John Wiley. Wat het nie regtig alles op daardie godverlate eiland gebeur nie? Oor hóm was daar al in die tagtigerjare baie stories waarvan vele joernaliste uit daardie era kan getuig. Maar ook hy is dood. So ook Magnus Malan. Mens kan nie nalaat om by te voeg dat dit ’n era was toe joernaliste nie die vryheid gehad het om soos vandag ondersoekende joernalistiek vrylik te bedryf nie.
En les bes is daar die skielike dood van Mark Minnie op bykans dieselfde manier as twee van die boek se hoofkarakters. Selfdood? Hoekom? Selfs daaroor word daar wild bespiegel. Hoekom juis nóú, Mark? Het hulle al drie hul eie lewens geneem of nie?
Al die onbeantwoorde vrae maak dit moeilik om die boek objektief te beoordeel. Dooie duikers deel nie.
Die boek se tema is teen dié tyd alombekend. Dit is die laat tagtigerjare. Ernstige aantygings teen drie prominente NP‐ministers doen die ronde. Een van die drie is, naas die staatshoof, die magtigste man in Suid-Afrika, naamlik generaal Magnus Malan. Vir sommige Suid-Afrikaners is hy die held uit die apartheidsera wat die land wou red van ’n totale aanslag. Vir ander is hy die vark in die verhaal wat nie geskroom het om jong seuns as kanonvoer te gebruik nie.
It's complicated!
Volgens die boek se uitgewers ondersoek ’n waagmoedige polisieman en ’n vreeslose joernalis die gerugte dat jong seuns op ’n eiland aan die kus van Port Elizabeth misbruik word. Mark Minnie en Chris Steyn kom onafhanklik van mekaar op dieselfde donker geheim af. “Maar die saak kry net kortstondig aandag voordat dit doodgesmoor word en verdwyn. Dertig jaar later sit Steyn en Minnie hul bewyse bymekaar en lig die sluier oor dié skokkende gebeure – ’n verhaal van misdaad, toesmeerdery en amptelike medepligtigheid in die verkragting, en moontlik selfs moord, van weerlose kinders.”
Mense wat aan samesweringsteorieë glo, sal die boek opslurp sonder om twee maal daaroor te dink. Diegene wat dink generaals soos Magnus Malan of dominees soos Solly Ozrovech is vanweë hul “onberispelike karakters” nie tot sulke dade in staat nie, sal die boek summier afskiet as kwaadwillige skinderpraatjies. Maar ook dit gaan nie op nie. Ons wéét mos hoe het generaals en dominees in die verlede vir ons gelieg.
Ek glo nie in samesweringsteorieë nie. Ek dink ook nie alles in die boek is noodwendig korrek of feitelik waar nie. Maar ek dink ook nie alles in die boek is uit die duim gesuig nie. Dit moet ’n baie dik duim wees as dit so is.
Volksblad se oudredakteur wat so selfversekerd op Facebook en in Die Burger verklaar alles in die boek is bog, moet maar ook weer ’n slag gaan dink. Hy was immers self die Nasionale Party se poster boy op sy dag. En selfs hy sal weet hoe daar vir ons gelieg is destyds. Die oudgeneraals soos Constand Viljoen se verklaring oor Bird Island se dinge is ook maar net dit: nóg ’n verklaring. Amper soos destyds toe die weermag kamma nie in Angola was nie. Sak Sarel. Nag Generaal.
Die Burgerlikesamewerkingsburo, Vlakplaas, Steve Biko se dood wat Jimmy Kruger so koud gelaat het, en vele ander dinge onder hulle bevel is net té vars in ons geheue dat ons net op oudgeneraals se woord kan staatmaak.
’n Ander oudminister sê in ’n onderhoud met Hanlie Retief in Rapport onder andere dat hy nie nagmaal sou kon gebruik as hy skuldig was nie. Rêrig? Dit op sigself oortuig niemand nie. Wat van die Katolieke priesters wat kinders gemolesteer het en nie net Sondag na Sondag nagmaal gebruik het nie, maar dit selfs bedien het aan hulle diepgelowige kudde wat nooit sou kon dink hulle was aan sulke dade skuldig nie?
Die oudminister sou veel meer geloofwaardigheid gehad het indien hy hom liewer bereid verklaar het om sy volle samewerking te gee om agter die kap van die byl te kom.
Soveel vrae, soveel antwoorde.
Terug na die boek. Dit sou naïef wees om alles in die boek summier as snert af te maak. Dit sou ewe naïef wees om alles as die evangelie te aanvaar. Dele van die storie was al in die ’80's welbekend onder baie joernaliste van daardie tyd. Selfs al het Volksblad se oudredakteur nie daarvan geweet nie. Hy het ook nie van Vlakplaas geweet nie. Ook nie van baie ander wandade onder die apartheidsbeleid nie.
Uiteindelik laat Die seuns van Bird Island my met meer vrae as antwoorde. Ernstige vrae wat smeek om antwoorde. Ter wille van die kinders wat na bewering gemolesteer is, maar ook die oudministers en hulle families, kan mens maar net hoop die verskyning van hierdie boek bring ons nader aan die waarheid. Watter kant toe ook al. Dit sal net so ’n groot onreg wees om onskuldige mense as pedofiele te brandmerk indien dit leuens is as om die slagoffers se pyn te misken as dit waar sou wees.
Mens kan maar net hoop dat daar ná hierdie boek se verskyning meer mense vorendag sal kom met inligting wat lig op die talle onbeantwoorde vrae sal laat skyn. Volgens die medeskrywer, Chris Steyn, het daar nuwe inligting vorendag gekom ná die boek se publikasie. Dit is tot ’n groot mate in haar hande om dit verder te voer, want volgens haar is daar soveel nuwe inligting dat dit selfs ’n opvolgboek regverdig. Die leserspubliek wag in spanning om te sien wat hierdie nuwe inligting behels.
Daar is gans te veel mense op sosiale media wat niks van die saak weet nie, maar dink hulle weet alles daarvan. Dit geld vir beide kante van die debat. Hopelik sal diegene wat regtig met die ondersoek kan help, nou na vore kom. Verkieslik sal daar benewens Steyn se voortgesette ondersoekende joernalistiek ook ander onafhanklike ondersoeke wees, soos wat nou skyn die geval gaan wees.
Dit sal jammer wees as die beplande film oor die boek verskyn voordat daar meer kaarte op die tafel is. Die waarheid maak vry. Maar die smoking gun ontbreek nog in dié boek. Intussen help dit nie om die boodskappers te skiet nie.
The post Die verlore <i>smoking gun</i> van Bird Island: 'n resensie appeared first on LitNet.