![]()
Foto van Clinton V du Plessis: Menán van Heerden
Clinton V du Plessis is ’n digter wat al met reg harde woorde gespreek het oor die manier waarop die Afrikaanse literêre sisteem bruin skrywers gemarginaliseer het. In 2010 het hy byvoorbeeld op LitNet ’n “swanesang” aan Afrikaans gepubliseer wat diep gesny het oor die veronregting wat hy self en ander bruin skrywers moes ervaar. Omdat hy so krities staan teenoor die Afrikaanse literêre sisteem met sy hoofstroomuitgewers, keurders, resensente, dosente en bloemlesers, publiseer hy self sy digbundels en prosatekste en het hy ook geweier dat Brink sy gedigte opneem in Groot verseboek 2000. Sy siniese blik op die literêre establishment en sy kompromislose tekening van die lewe in die algemeen het daartoe gelei dat die Vlaamse literator Luc Renders hom die “evangelis van die nihilisme” gedoop het.
Dié tipering is nie van toepassing op Du Plessis se negende bundel, Aantekeninge teen die skemeruur, wat in 2017 deur Cordis Trust uitgegee en in 2018 herdruk is, nie. Dit is ’n bundel wat ’n groot mildheid en menslikheid vertoon in die manier waarop dit die digter se konfrontasie met ouer-word, herinneringe aan die verlede en die rol van die poësie in die proses van onthou opteken. Du Plessis lewer trouens in die bundel op spottende wyse kommentaar op die feit dat hy besig is om sy “randfiguurstatus” kwyt te raak deurdat hy gebloemlees is deur Fanie Olivier, op RSG voorgelees is deur Daniel Hugo en selfs ’n “versigtige, miskien ja-knik” van Joan Hambidge gekry het.
Die bundeltitel se verwysing na “die skemeruur” suggereer dat dit gaan handel oor die aanloop tot die einde van die lewe en dat dit die proses van ouer-word gaan opteken. Dit is ’n omvangryke bundel wat bestaan uit sewe afdelings, elk gesentreer op ’n bepaalde tema. Die gegewe van onthou en die rol van geheue loop egter dwarsdeur al die afdelings en bind op dié manier die verskillende afdelings saam. Die eerste afdeling fokus op die skryf van poësie en word “Prewelings” genoem, iets wat dui op die intieme en ingehoue aard van hierdie poësie. Dit is die soort vers wat meer huiwering en vermoede wil wees as dekreet.
Die afdelingtitel sluit aan by die bundel se begin-gedig, “Ou digter”, waarin die digter geteken word met “(p)en weifelend in die hand,/ twyfelend op die rand van onthou”, bewus van die feit dat sy “verbete woordverset” hom nie sal kan beskerm teen die “naderende skemeruur” nie. Dié gedig vat verskeie van die bundel se belangrikste motiewe saam: die digter wat twyfel in homself en in sy geheue om die verlede akkuraat op te roep, maar tog die vermoede het dat die skryf van poësie en die hanteer van woorde die mees effektiewe manier is waarop hy hom kan verset teen die vergeet wat die dood gaan meebring. Ook die volgende gedig, “Nabyskoot”, verwys na die ouer-wordende digter wat, met “flenters vergeet” tussen sy vingers, sukkel om die verlede te herroep in die woorde wat vroeër so maklik na hom gekom het. In “Leitmotiv” besef die digter dat hy besig is om te skryf teen “’n donkerwordende doek” en sien hy hoedat sy “koppige evangelie” versplinter tot ’n “woordlose niet”.
Vir Du Plessis, wat van beroep ’n rekenmeester is, is die nering van woordkunstenaar nie onverwant aan dié van ’n rekenmeester nie. Beide is vorme van optekening, van onthou, van ’n soeke daarna om sin te maak. Hierdie opvatting gee waarskynlik aanleiding tot die gedig “God: Die Rekenmeester” (’n mooi antwoord op TT Cloete se “God die digter”), waarin hy skryf: “daar is meer poësie in die balansstaat/ as in die letterkunde en baie meer poësie/ in die neerpen van syfers”. ’n Verwysing na die ritme waarmee sekondes pas in minute, minute in ure en ure in die dag lei hom tot die insig “die heelal is deur ’n rekenmeester gemaak”.
Beide digter en rekenmeester kom ter sprake in “Selfportret (Take 1)” waarin die spreker skryf dat hy gebore is met die “vloek/ van onthou” en dat onthou op sy spoor loop soos “’n verwaarloosde hond”. Teen hierdie agtergrond is sowel die opteken van woorde as die boekhou van syfers vir die spreker maniere van onthou. Die slotreëls van hierdie gedig kan dus as ’n soort digterlike kredo gelees word:
En nou bly net oor
sinies sin soek,
woorde ontsyfer,
syfers takseer;
twyfel met oorgawe, lugtig glo.
En elke gedig
dra die kruis
van aanhou onthou.
Hier staan die siniese en bevraagtekenende ingesteldheid met betrekking tot die poësie teenoor die feit dat hy steeds sin probeer soek deur die ontsyfering van woorde en die taksering van syfers. Die behoefte om te glo aan die sin van die poësie gaan dus hand aan hand met die neiging om te twyfel.
In aansluiting hierby bevat die eerste afdeling ’n hele aantal gedigte waarin die waarde van die digter bevraagteken word. In “Bekentenis” word die digter ongunstig vergelyk met ’n ontkleedanseres (sy is in groter aanvraag as hy; haar ontboesemings vlek ten minste oop en die ryme van haar lyf slaag daarin om te verlei) en word hy geteken as iemand wat hom tevergeefs met woorde probeer verset teen die banaliteit van die werklikheid, sodat hy tot die gevolgtrekking moet kom dat die digter nie ’n profeet of ’n siener is nie, nog minder “’n brand- of aanstigter”. In die mooi “Stelwerk” met sy verwysings na ander Afrikaanse digters word daar gewaarsku dat nóg gedigte nóg digters sal oorleef in die donker tye waarin ons leef. “Tale, hulle sal ophou, gedigte, hulle sal nie langer gelees word nie,” lees ons. En as slotreël: “Ook digters sal brand, soos fakkels in ’n donker land.”
Daar is ook ’n reeks gedigte waarin sekere literêre figure, praktyke en gebeurtenisse aan die kaak gestel word. In “Werkswinkel” word die stellige wenke van ’n kenner bevraagteken, in “Handleiding” die ontoeganklikheid van ander digters wat om raad gevra word, en in “Performance Poetry” die houdings van digters by ’n voorlesingsgeleentheid. “Janfiskaal” is ’n striemende voorstelling van ’n laksmanagtige kenner van die letterkunde wat wéét hoe gedigte moet lyk en jaloers waak oor “sy Eden, sy taal se klein-klein boekeboord”.
Die tweede afdeling in die bundel, “Littekens van landskappe”, fokus op die tema van herinnering en huiwer nie om met die mees pynlike aspekte van die onthouproses om te gaan nie. Die begin-gedig, “Hallusinasies: onthou is drogbeelde”, werk met die refrein: “My onthou en jou vergeet –/ net daar lê die onding”. Daar word dus gesuggereer dat sommige mense dié dinge onthou in verband met die land se verlede wat ander liefs wil vergeet. Die gedig verwys na gebeure soos die sterftes van politieke gevangenes in aanhouding en die moord op Chris Hani, sodat dit duidelik is dat hy Suid-Afrika se rassestryd in die visier het.
Dié afdeling fokus dus onder andere op dit wat gerieflikheidshalwe deur die daders van onreg vergeet word. In “Taalles 101” verwys die spreker na sekere pynlike gebeure wat deel uitmaak van die geskiedenis van Afrikaans wat mense liefs wil vergeet, naamlik dat die taal in Boipatong aan die stewel was wat snags deure oopgeskop het; dat dit in die loop van ’n pistool was wat die lewens van mense in ’n skuilhuis in ’n buurland beëindig het; en dat dit ’n balaklawa gedra het in “die donker lokasies van teeninsurgensie”. Die gedig eindig met die verdoemende reëls: “die taal was ’n fopmyn// ’n briefbom fraai vermom”.
Daar word ook aandag gegee aan die aard en die meganismes van onthou in gedigte soos “Hiberneer” waarin daar verwys word na die geheue wat soos lae onder die vel van ’n krokodil opbou sodat daar later tydens hibernasie daarop geteer kan word. “Dilemma” verwys na die wroeging wat ’n terugkeer na die verlede kan veroorsaak, met ’n siniese verwysing na die skep van “nuwe herinneringe” wat “soos goedkoop ontknopings vir televisiereekse/ geskryf vir ligte vermaak” sal funksioneer. “Momente” lewer weer kommentaar op die verskynsel dat die onthoumomente uit ’n land se geskiedenis wat gehuldig sal word, bepaal word deur die oorwinnaars in ’n bepaalde politieke stryd. Dit is dus duidelik dat hy ook nie die nuwe magshebbers verskoon nie.
Die onthoumomente in hierdie afdeling betrek onder andere die herinnering aan persoonlike trauma, soos in die gedig “Gereserveer” wat verwys na die spreker se ervaring van diskriminasie toe hy as kind vanweë sy velkleur van die trein gehaal is waarmee hy aan die einde van die skoolkwartaal moes huis toe gaan. Die momente wat in hierdie afdeling onthou word, kring egter ook wyer uit in gedigte wat handel oor migrasie (“Diaspora”), Auschwitz (“Die boekhouer”), mensehandel in Europa (“Illusies”), die doodskiet van kerkgangers in Charleston, VSA (“Verloën”) en die oorlog in Sirië (“Geografie”). Dit is dus ’n digterlike besinning wat veel wyer as slegs die eie ervaring en die eie ruimte strek om oor nasionale grense te beweeg. Dit is ’n vorm van onthou en in herinnering roep wat nie anders kan as om die mens, “die skepping se ongenaakbare Opperdier”, in die beskuldigdebank te plaas nie.
Twee hoogtepunte in hierdie afdeling is “Koue oorlog” en “Mantra”, wat beide werk met liriese refreine. In “Koue oorlog” word daar in die refrein gevra: “Sal die bome weer bot/ en die bloeisels weer blom/ as die diktator tot ’n val kom?”, terwyl “Mantra” met behulp van die herhalende reël “en daar sal winter in die middel van die somer wees” die opbouende ellende in die wêreld beskryf. Dié gedig eindig dan op ’n troostelose, maar poëties gesproke uiters effektiewe, noot:
En daar sal iewers ’n persoon wees met ’n geweer of ’n bom
en genoeg haat om ’n medemens om te laat kom
en daar sal ’n kameralens wees om alles in fyn detail te vertel
en moord en die dood sal so doodgewoon raak
en geloof en hoop en liefde, alles sal vergaan.
Waar die tweede afdeling, “Littekens in die landskap”, in ’n groot mate oor die onthou van politieke trauma gegaan het, is die onthouproses in die derde afdeling, “Kiekies”, veral gerig op herinneringe rondom die familie. In hierdie afdeling is die onthouproses minder wrang, meer mild ingestel teenoor die familie, veral die ma en pa. Talle van die gedigte het ’n sterk verhalende element, goed onder beheer gehou deur die digter se vormbewustheid. Hier is die strewe veral om tyd te laat duur, soos in die gedig “Memories are made of this”:
Alle skrywes word ’n soeke na verlore tyd
na wat kón wees, na hóé dit was.
Soos ’n gidshond vir die blinde,
só is nostalgie vir die skrywer.
Die reise terug in die geheue in hierdie afdeling is inderdaad van die nostalgiese soort, gerig op positiewe herinneringe aan die ouers en ’n gelukkige, geborge kindertyd. In “Geheue” word ’n pennehouer wat uit ’n dwarslêer gemaak is, die aanknopingspunt om te “loop op spore van onthou”. In ’n vlug van die fantasie word die houer ’n trein en die spreker ’n onskuldige kind “sonder bagasie op ’n halfwegstasie”. Hiermee keer Du Plessis terug na die spoorweggegewe wat ook in sy bundel Rangeer gefigureer het.
Die bundel se vierde afdeling, “Restant”, bewys dat Du Plessis ook die vermoë het om treffende kort gedigte te skryf. Dié gedigte bevat gewoonlik ’n sentrale metafoor met verskillende betekenislae, byvoorbeeld “Dood as kulkuns”, waarin die lewelose liggaam na ’n selfdood vergelyk word met ’n gedig. In hierdie afdeling kom die fokus op die dood, die gemoeidheid met onthou en die behoefte om daarvan poësie te maak netjies bymekaar in talle van die gedigte. In beide “Proses” en “Endgame” word die gebreke van die geheue betreur: in eersgenoemde het die onthouproses geroeste skarniere en is dit vol gate; in laasgenoemde kom die gedagte “kreupel […] tot woord op die papier” en “hinkepink” die onthou op krukke. Daar is dus deurgaans sprake van ’n obsessie met die poging om te onthou en dit te verwerk tot poësie om sodoende die dood op ’n afstand te hou. Deurlopend is daar ook by die spreker die vraag wat die “opbrengs” van sy lewe gaan wees in ’n voortsetting van die rekenmeester-metafoor wat herinner aan Opperman. Die afdeling sluit af met die verhalende gedig “Kleedrepetisie” waarin die dood van ’n hond in die spreker se kinderjare later blyk ’n kleedrepetisie te wees vir die verlies van sy vader.
Alhoewel dit op die oog af mag lyk asof afdeling 5 met die titel “Plakboek” sal aansluit by die afdeling “Kiekies” met sy sfeer van geborgenheid, sluit dit eerder aan by daardie tekste van Du Plessis wat gefokus het op die mens in isolasie, vasgevang in siellose interaksies met ander mense in ’n grootstad-omgewing. Interessant genoeg is daar in sommige van hierdie gedigte sprake van ’n terugverlang na die anonimiteit van die stadslewe, soos in “Heimwee (2)”, waarin een van Leonard Cohen se lirieke die grondtoon van ontnugtering en melankolie uitstippel.
Hierteenoor openbaar die afdeling “Wiegeliedjies” dieselfde verontwaardiging en vuur as die tweede afdeling, “Littekens van landskappe”. “One plain, one purl” vergelyk die maak van poësie met die handeling van brei, van daar die metafoor van die “verstrui om warm te dra/ teen die winters van vergeet”. Opvallend hier is dat die “verstrui” opgevou en gebêre word soos “vir ’n ongebore kind”. Hiermee word die fokus van die skryfhandeling dus ook gerig op die kinders, die geslag wat die spreker moet opvolg. In “Skemer” kom die spreker tot die gevolgtrekking dat die kinders geknak is deur die verwagting dat hulle die geslag moet wees wat lig maak “met woorde soos met kerse” (met verwysing na Adam Small en Antjie Krog) en die hoë eise wat aan hulle gestel word. Ten spyte van hulle jeug is hulle dus net “so oud gelewe” soos die spreker en kan hulle nie verligting bring nie:
Die kinders is so oud soos ons
met dade ruk hulle ons
woordloos tot stilstand
blaas hulle die kerse uit.
Die gedig word gevolg deur “Klaaglied van die kinders”, waarin die kinders op fatalistiese wyse weier om langer die onderwerp van troetelgedigte deur skrywers soos Ingrid Jonker, Marlene van Niekerk en Antjie Krog te wees en hulleself eerder sien as die “verbryseldes” oor wie Wilma Stockenström in haar gedig “Die komeet besoek die Kaap van verkragting” in Spesmase geskryf het. Die res van die gedigte in hierdie afdeling fokus op die gruwels wat kinders aangedoen word deur volwassenes, met die sterk gedig “Verdwaal”, gebaseer op ’n nuusberig oor drie boeties en ’n sussie wat van honger gesterf het, byna te pynlik om te lees.
Die slotafdeling heet heel gepas “Nag!” om die bundel met sy fokus op die skemeruur af te sluit. Die eerste van die twee gedigte in hierdie afdeling, “Helaas”, sluit die verhaal wat die bundel vertel af deur daarna te verwys as die “relaas van ’n lewe:/ geboekstaaf, berym,/ die skryfskyn om die dood/ doelgerig te probeer ondermyn”. Die slotgedig, “Nuusberig as lykdig”, handel oor die dood van die joernalis Suna Venter op ouderdom 32 jaar as ’n bevestiging van die gewelddadigheid van die land “wat die lewe haat/ en die leuen oneindig liefhet”.
In sy geheel teken die bundel oor die loop van sy 145 bladsye ’n gevarieerde beeld van die spreker se bemoeienis met die naderende dood en die poging om herinneringe te bewaar deur dit in gedigte op te skryf. Terselfdertyd skep dit ’n skemerbeeld van die land waarin die spreker hom bevind: die land met sy gewelddadige geskiedenis wat op verskillende maniere onthou en vergeet word deur sy inwoners; die land waarin daar argeloos omgegaan word met die lewens van jongmense en kinders; die land wat ten slotte nie soveel verskil van die groter wêreld waarin die “dogs of war” (vergelyk die gedig “Canes pugnaces”) die botoon voer nie.
Clinton V du Plessis se negende bundel is ’n hoogtepunt in sy oeuvre en is – ten spyte van die verwysings na ’n skemeruur en naderende dood – hopelik nie sy laaste nie. Die bundel is ryk aan beelding, netjies opgebou rondom bepaalde temas, en openbaar ’n besondere klankgevoeligheid. Aantekeninge teen die skemeruur is ’n belangrike bydrae tot die Afrikaanse poësie wat wyd gelees behoort te word.
The post <em>Aantekeninge teen die skemeruur</em> deur Clinton V du Plessis: ’n resensie appeared first on LitNet.