Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all 1800 articles
Browse latest View live

openbare domein deur Daniel Hugo: ’n resensie

$
0
0

openbare domein
Daniel Hugo
Naledi, 2018
ISBN 9781928426073

Daniel Hugo behoort tot die geslag Afrikaanse digters en skrywers wat in die jare sewentig en tagtig van die vorige eeu debuteer en dus met een voet in die apartheidsera geplant is en met die ander in ietwat onsekere ewewig in die oorgang na die millennium en die (destyds nog) nuwe Suid-Afrika staan. Oor al daardie jare heen – en die skynbare breuk tussen toe en nou ten spyt – tik hy onverpoosd met sy beiteltjie, skryf gedigte met vaste reëlmaat en bundel hulle elke paar jaar so betroubaar soos Namakwaland se madeliefies wat gereeld teen Augustusmaand hul verskyning maak. Hugo se métier is hoeka die gebonde vers, vormvas en heg gebou, pittig en epigrammaties in sy uitspraak. Van meet af aan beïndruk sy gedigte deur “die oorspronklikheid wat beeldspraak betref, die vermoë om disparate dinge bymekaar te bring, die netjiese sluiting en deurkomponering van beelde, die intellektuele tug en die fyn woordgebruik,” soos Kannemeyer dit in sy kommentaar op Hugo se vroeë bundels stel.

En met openbare domein, Hugo se jongste bundel, doen hy so voort. Dit beslaan 103 genommerde bladsye met altesaam 93 hoofsaaklik korter gedigte (eintlik is dit 93 plus die een op die agterblad) wat in vier afdelings verdeel is. En hoewel dié ongetiteld is, herken ’n mens tog die teen nou bekende – en breedweg outobiografiese – gegewens uit die Hugo-oeuvre: die huis en tuin (én verhuising), die liefde, asook (dit spreek byna vanself) digters en digkuns, en les bes die (Karoo-)landskap. Die omslagfoto deur Marlene Malan vang die rustige toonaard van die bundel mooi vas, met sy warm kleure en die blik van binne ’n huislike ruimte: die bodeur is oop en sy houtwerk weerspieël die son wat daar buite net-net opkom – of is dit dalk ’n sonsondergang?

Voordeur (agterblad)

die dag dring die kamer binne
met klank en kleur, met geur en lig
die woordventer kom tot sinne
begin stamel aan ’n gedig

die teks het sy eie drumpel
waaroor woorde versigtig tree:
wat binnerym sag laat rimpel
word in die buitelug geskree.

Dié balans tussen oop en toe, binne en buite, wat die leser na ’n plattelandse werf uitnooi en haar terselfdertyd ’n warm ontvangs in ’n gemoedelike binnekamer (en ’n proesel poësie) belowe, gee ’n visuele dimensie aan die bundel se beweging tussen naby en ver, die natuur en die mens, landskap en kuns – asook, nota bene, die private en die openbare domein – en is ’n aanduiding van hulle vervlegting, ten spyte van die konstant aanwesige antitetiese spanning, veral danksy die poëtiese verwerking daarvan, in die eerste instansie deur die metafoor, soos in die volgende voorbeeld met sy onpretensieuse beeld wat die natuur, die mens, die kuns letterlik saam verweef:

Droomvangers (bl 11)

soggens stap ek uit in die tuin

tussen bitter aalwyn en soetdoring
span die spinrag stralend in die son

die hele nag is daar hard gewerk
om ons toe te draai in ’n droomkokon

die kunstige werk van trillende klein
strikstellers, elk met sy eie venyn.

Ek het ook gehou van die impressionistiese “Somerdag” (20) wat op ’n soortgelyke trant die loom atmosfeer van die natuurbeeld subtiel met kunsvlytige werksaamheid byeenbring – en boonop deur ’n skynbare vals rym (heuning: mening) en die slim spel met die “son” (horison: sonneblom) beklemtoon:

traag syfer die dag soos helder heuning

dan sweef die volmaan geel
uit bo die horison
soos ’n korrel stuifmeel
van die groot sonneblom

môre werk die bye weer met mening.

Lesers wat vertroud is met Hugo se poëtiese siening sal ook hier die persoonlike aanslag en die introspektiewe blik – Hugo se handelsmerk, as ’t ware – herken wat meestal die gevaar van selfbeheptheid omseil met ’n stewige dosis (self-)ironie en ’n lakoniese blik op gewigtige én banale aspekte van die lewe, maar veral deur middel van die kenmerkende wederkerige werking van mikrokosmos en makrokosmos. Daardeur ontstaan daar dikwels die ongewone beeldspraak en sy tegniek van verrassende kombinasies wat ’n mens aan die “far-fetched association of the dissimilar” van die 17de-eeuse concetto laat dink: “alles bestaan gelyktydig/ die toe word nou, die hier word daar/ met’n kat se kort kwantumsprong” (“Die skrywer se kat”, 72). En as Donne ’n gedig oor ’n vlooi geskryf het, kan ’n muskiet tog ook kosmologies bygehaal word, dan nie?

Karoonagte (bl 32)

snags sluimer ons in die onmeetlike ruimte
van dié ruwe aardklip en sy sterrewoesteny

aan muskiet en verskietende meteoriet
uitgelewer droom ons onverstoord tot dagbreek voort

terwyl die sonar van vlermuise oor ons waak
en die spreilig van die maan op ons werwe skyn

die bemoerde haan sal vroegdag alarm maak
voor die son se rolbos weer oor die vlakte brand.

Ja, dit is die Karoo, wat in hierdie bundel die omliggende locus uitmaak. Tog is dit by dié digter se verliterariseerde opvatting van die wêreld opvallend dat die Karoo as literêre topos soos dit in die ryk skatkis van die Afrikaanse poësie, en veral in die werk van digters soos Van Wyk Louw, Boerneef, Ernst van Heerden, George Weideman en ander voorkom, hier haas geen weerklank vind nie, afgesien van enkele, en dan redelik bleek, verwysings.

Een rede daarvoor is gewis dat Hugo se blik telkens van die wêreld daar buite wegswenk en hy sy fokus gedurigdeur op taalgerigte aspekte, veral op die assosiasie van beeld en woord, rig, sodat die leksikale aspek van die beskrywing telkens ander taalverbande en -verwantskappe oproep en ’n paronomastiese spel van homonieme word wat dan ’n eie assosiatiewe ketting van woord en beeld voortbring: “soos ’n boekanier vaar ek die boek-/ winkel binne” (“Die boekanier kom tot rus”, 54); “van voortye reeds weet hul dit/ die setlaar en die soldaat:/ wat jy beset sal jy besit/ dit word ’n stat en ’n staat” (“Vers-set”, 60); “die sin van die syn wat ons ontglip/ is juis die soeke na daardie sin” (“Bidsnoer”, 85). Dis klassieke Hugo-terrein dié, Karoo of te nie.

’n Ander bekende tema waarmee ons hoeka vertroud is in Daniel Hugo se poëtiese oeuvre is die gesprekke met skrywers. Wat skuil agter hierdie verse wat sy digtende kollegas naderroep en as ‘t ware in ’n galery voor ons opstel? By nadere beskouing kan hulle nie almal oor een kam geskeer word nie – daar is byvoorbeeld ’n stuk of nege wat aan ’n digter opgedra is, ’n ironiese klop op die skouer van sy “bloedbroer”, Gerrit Komrij (“Trooswoord”, 57), ’n aantal huldigings (Ina Rousseau, byvoorbeeld, of MM Walters, Pieter Fourie, Breyten en Eben Venter), sardoniese spot- en hekelverse (vir die “onbeminde” Barend Toerien of Karel Schoeman), of waar woorde van die digter aanleiding tot ’n eie gedagtegang gee, bv “Edms Bpk” (76), verse uit Tristia (74), of die elegiese “Winternag” (99). (Terloops, daar is ook verse wat aan ’n hond en ’n kat opgedra is ...)

Ek wil hier veral die huldigings aan Hennie Aucamp (64) en die “digter-dokter” Phil du Plessis (67) as besonder geslaag, ja indrukwekkend, uitsonder. Hulle is al twee te lank om in hulle geheel aangehaal te word; ek volstaan met die volgende uittreksel uit laasgenoemde:

wanneer die gedigte en pasiënte wegbly
speel hy wankelrig viool, met die branders
se basso profundo op die agtergrond

en die siellose geklak van ’n metronoom –
op ’n dag spoel die woorde soos skulpe uit
en in ’n doktershandskrif krap hy dit byeen:

verse oor Valsbaai, sy gebreekte rug, valse vriende
en die altyd teenwoordige eensaamheid
in daardie lendelam huis langs die onsterflike see.

Dit alles, tesame met verdere verwysings na onder meer Tolstoi, Johann de Lange, of Opperman, plaas die digter in ’n ander ruimte, waar hy – met hoeveel (skynbare) respekloosheid of die immer teenwoordige ironie ook al – die grense van sy eie poëtiese visie kan afbaken en homself as eweknie van gewaardeerde en bewonderde digters kan voorstel. En daarmee word ook duidelik gesinjaleer dat Daniel Hugo se poësie om die poësie wentel: metapoësie as vorm, tema en opdrag. En hier kan ’n mens dan Kannemeyer se mening dat Hugo se digwerk ’n metafisiese dimensie ontbreek, korrigeer: die dimensie is dalk nie van ’n transendentele (dus: konvensioneel religieuse) aard nie, tog is die digkuns by hom, in dié gesekulariseerde sin, nie minder metafisies nie.

The post <em>openbare domein</em> deur Daniel Hugo: ’n resensie appeared first on LitNet.


Die keer toe ek my naam vergeet het deur FA Venter: ’n FMR-resensie

$
0
0

  • Boekresensie: FA Venter: Die keer toe ek my naam vergeet het, Protea Boekhuis, ISBN: 9781485308034. Uitgesaai in Fine Music Radio se Boekkeuse op 18 Julie 2018.

FA Venter se Die keer toe ek my naam vergeet het is ’n uitstekende outobiografiese vertelling oor sy ervarings ná hy ’n beroerte beleef het. Eers sy verblyf in ’n hospitaal en toe veral in die aftreesentrum Altena in die Strand.

Die eerste uitgawe het in 1995 by Tafelberg-Uitgewers verskyn, vyf jaar ná die beroerte en twee jaar voor sy dood in 1997. Charles Fryer was die redakteur. Protea Boekhuis gee die boek nou keurig uit in ’n maklik leesbare druk, veral ook vir middeljarige en bejaarde oë! Daar’s ook enkele foto’s en afdrukke van Venter se tekste opgeneem. Sy vier romans oor die Groot Trek is ook weer by Protea Boekhuis beskikbaar: Geknelde land, Offerland, Gelofteland en Bedoelde land.

Ons wat nog op skool was doer in die jare sestig van die vorige eeu onthou nog Swart pelgrim, die verhaal van Kolisile in die grootstad wat vir ons ’n voorgeskrewe werk vir Afrikaans was. As jou vakkeuse dit toegelaat het om letterkunde afsonderlik te neem naas Afrikaans, was jy bevoorreg om een van sy Bybelromans, Man van Ciréne, te bestudeer. Ek het nie dié voorreg op Worcester gehad nie. Maar in my tyd as redakteur by Tafelberg-Uitgewers het ek Venter se hersiening van Man van Cirene (nou sonder die akuutteken) in 1991 geredigeer.

Die keer toe ek my naam vergeet het vorm in ’n sekere sin ’n afsluiting van sy outobiografiese boeke: Werfjoernaal, Die middag voel na warm as en Kambro-kind. Dit is boeke oor sy ervarings as kind en later boer in die Karoo. In hierdie vertelling verwys hy ook na daardie jare.

Volgens JC Kannemeyer in sy literatuurgeskiedenis van 2004 lewer Venter met hierdie “menslike rela(se)” (DJ Opperman) sy belangrikste bydrae tot die Afrikaanse prosa. Kannemeyer sluit Die keer toe ek my naam vergeet het daarby in.

Toe ek die eerste sin in die eerste paragraaf lees, word ek dadelik aangegryp. En dwarsdeur die boek tref ’n mens sulke sinne, sulke goed opgeboude en gedramatiseerde gedeeltes aan. Jy reageer emosioneel. Dit gee insigte, verras jou. En alles word nugter gestel.

Só begin die boek:

Die dood het een môre suutjies by my kombuis in Seemeeu 1104 in die Strand ingekom. Baie suutjies. Juis toe ek besig was om die ontbytgoedjies op te was. Ek het hom nie gehoor óf gesien óf verwag nie. Ek het so goed gevoel. So vol energie. Sou nog die middag gaan rolbal speel. Ek het dié oggend waarlik kans gesien vir die lewe.

Omdat my vrou swaar deur emfiseem en ’n hartkwaal aangetas is, sorg ek elke oggend vir ontbyt en was daarna die skottelgoed.

Ek droë nog so af, toe val die vadoek uit my regterhand. Ek buk en tel dit op. Ek vermoed niks. Dis so ’n pragtige someroggend – helder, windloos.”

Ná dit weer en weer gebeur het, wéét hy daar is iets verkeerd:

Dit is ’n groot ding dié. Dis nie vir sommerso nie. Die vadoek val teen my sin en wil uit my hand – sonder dat ek enige pyn voel.

En skielik tref dit my: Ek staan van aangesig tot aangesig met die dood. Maar is die dood dan so pynloos? So genadig?

Venter se vrou, Stella, is aanvanklik die een wat probleme by hom waarneem, maar ook opgewonde tekens van herstel verwelkom. Later is dit hy wat haar ondersteun. Teen die einde van die boek beskryf hy hoe hy haar aan die dood moet afstaan.

Hy lewer deurgaans goeie vertelkuns oor sy verblyf in die hospitaal en daarna in die siekeboeg en die woonstel in Altena. Dis ’n tyd van herstel, maar dan, voor sy vrou se dood, is dit ook die tyd dat hy begin agterkom waarvan hy al goed genees is én dit wat die beroerte permanent van hom na liggaam en siel weggeneem het.

Van die amusantste gedeeltes is hoe hy weer leer motor bestuur. Ook sy beskrywing van die lewe in die herberg, soos hy ’n ouetehuis of aftreesentrum noem. Hoe verloop die daaglikse omgang met die personeel en mede-inwoners? Met al hulle goedheid, maar ook die ou kwinte en kwale, lastige gewoontes en uiteenlopende karaktertrekke?

Een van die karakters wat meer uitgebreid geteken word, is Uncle Willie. Die verpleegsters sukkel om hom saans in die bed te kry.

Oplaas het hulle hom tóg in die bed. Dan lê hy nogal ’n    rukkie stil. Net tot die laaste verpleegster loop. Dan begin hy vroetel. Baie saggies. Sy kattekwaad verrig hy so stil soos ’n gesoute inbreker. Hy pluis, hy torring, hy meet en pas, hy vervies hom en rem aan ’n onderlaken. Hy raak so opgewen dat waar hy by die koppenent van die katel begin het, hy later by die voetenent lê.

Dis ’n boek waarin afgetredenes, ander ouer mense en hulle familie hulleself alte goed sal herken.

Weens al die terugslae kry oom Frans juis ’n ongewone perspektief op talle dinge in die lewe rondom hom, byvoorbeeld op godsdiens en ook op die werkinge van die verstand. En al hierdie insigte verwoord hy so goed. Jy kan ’n bloemlesing daaruit saamstel. Dis wat ek nou gaan doen.

In die eerste aanhaling wag hy om hospitaal toe geneem te word:

Ek lê intussen baie stil, bedag op die fynste beweging van my liggaam. Ná ’n ruk roer ek my tone en vingers om vas te stel hoe ver die dood al gevorder het. Die hele linkerkant van my liggaam werk, maar die regterkant is verlam. Totaal verlam.

Ek wag op die groot, woedende ruising wat alle krag uit my sal wring en my geluidloos na die ander kant van die stroom sal neem.

Nou die toneel waarin sy vrou en sy suster uitvind dat hy nie kan praat nie:

Op daardie oomblik kom my suster daar aan. Smart het haar ook al geskroei. Sy het haar man verloor; albei haar ouers ook. Sy is gewoond aan skok. Die dood doen dinge aan jou. Maar nog nooit het ek iemand so verwese, so stomverdwaas gesien as toe sy vind ek kan nie praat nie en dat ek net ’n paar gebare met my linkerhand kan maak.

Die oomblik toe my vrou en suster na my kyk, dink hulle seker daaraan dat ek wat in my lewe al miljoene woorde gelewer het, in ’n oogwink gereduseer is tot ’n groot swygsame. Dit moet ’n skok wees om te besef dat ek moontlik nooit weer ’n woord sal skryf nie.

Maar dan kom sy geliefde kleindogter Kandas hom te hulp met die skryfwerk:

Weer probeer ek die tikmasjien. Nee. Die inkpen. Vergeefs. Die potlood. Ook nie. Die fout lê tussen my brein en die vingerpunte. Ek kan my vingerpunte nie beheer nie.

Op ’n dag sit ek en kyk na Kandas se brief in drukskrif. So netjies. So sterk. Elke ry reguit en sekuur soos soldaatjies.

Ek sleep die oefenpapier nader en begin drukskrif skryf. Die letters kom staan mankoliek op die papier, maar hulle bly staan duidelik. Die een vloei nie onduidelik in die ander nie.

Ek sit en huil oor daardie stukkie drukskrif. Dit is skeef en krom, maar leesbaar. Leesbaar! Die mooiste woord in die Afrikaanse taal.

The post <em>Die keer toe ek my naam vergeet het</em> deur FA Venter: ’n FMR-resensie appeared first on LitNet.

A feast from nature deur Renata Coetzee: ’n resensie

$
0
0

Regs: Renata Coetzee op die agterste flapteks van Spys en drank, Struik, 1988

A feast from nature
Renata Coetzee
Redakteur: Truida Pekel

Uitgewer: African SUN Media
ISBN: 9780620790734

Renata Coetzee het op 27 Junie 2018 op 88-jarige ouderdom heengegaan. Hierdie tragiese nuus het ek ontvang terwyl ek in die Suid-Kaap wittebrood gehou het, en kort nadat ek dr Coetzee net vlugtig by ’n bekendstelling van haar laaste boek, A feast from nature, ontmoet het. Ek het die boek saamgeneem na Franskraal, waar ons ons kort vakansie deurgebring het, en was dadelik beïndruk met die gehalte en leesbaarheid van dié treffende stuk werk.

Toevallig was daar ’n hele paar kookboeke in die gastehuis op Franskraal, onder andere Spys en drank, die oorsprong van die Afrikaanse eetkultuur met 167 outentieke reseppe, deur die einste Renata Coetzee. Die uitgewer was Struik, in 1988, en daar is ’n foto van ’n jong Renata op die omslag agter. Die boek is A4-grootte en in portretformaat, terwyl Feast in landkapformaat (354 x 250 mm) is. Albei is hardeband en in volkleur. Feast kos R650 en dit is die tweede uitgawe. Spys en drank het vir die eerste maal in 1977 verskyn.

In die mediavrystellingsblad wat ek saam met die boek ontvang het, word vermeld: “Renata explored the food culture and lifestyle of early humans, and of the Khoi-Khoin. She combined many decades of of knowledge as a nutritionist and food culture expert with multidisciplinary research of over 15 years – bringing together aspects of archeology, palaentology, botany, genetics, history, languages, culture and much more, in a unique way. While scientificaly sound, it is beautifully illustrated and a true collectors piece.”

Bostaande, hoewel ’n bekvol, is geen oordrywing nie. Inteendeel, dit som mooi op hoe ek dit ook wou stel – dat dit ’n slim, weldeurdagte interdissiplinêre benadering gevolg het, gemik op die algemene mark. Feast is in meer as een opsig ’n fees, en vir ’n groot aantal feesgangers, nie net diegene wat in genoemde studievelde belangstel nie. Die skrywer en haar medewerkers het dus ’n wye net gegooi, en hoewel die prys sommige mense mag afskrik, sal hulle reeds met die eerste deurblaai besef dat hulle waarde vir hulle geld kry.

Ek self, wat veral in argeologie, geskiedenis en kultuurgeskiedenis belangstel, maar interdissiplinêre benaderings hoog ag (dit gaan immers oor die groter prentjie, en ’n mens wens dat meer mense in ons land dit kon besef), en Feast is werklik ’n baken wat dit betref – ek is in my noppies om hierdie boek op my rak te hê. Ongetwyfeld sal dit dikwels daar afgehaal word om weer en weer gelees te word; nie net vir die inligting nie, maar ook omdat dit visueel so treffend is – dis esteties gesproke ’n plesier om te aanskou, te danke aan Adriaan Vorster se uitstekende ontwerp en uitleg en die skeppings van kundige fotograwe en illustreerders. Terloops, een van die fotograwe wat voorheen met Renata saamgewerk het, die 89-jarige Günther Komnick, was ’n week tevore ’n gas by my troue, en ook teenwoordig by die genoemde bekendstelling op Stellenbosch. So klein is die wêreld ...

Maar genoeg van hoe die boek met my persoonlik praat. Hoe sal ander dit ervaar?

Eerstens is dit ooglopend meer as net nóg ’n kleurvolle koffietafelboek. Dis 232 bladsye vol navorsingsresultate wat keurig aangebied word en so doelmatig verskaf word dat selfs ’n lui leser dit sal wil verslind. Soos Mark Solms dit voorin stel: “In an age where information is so rapidly accessed over the internet, it is easy to overlook the herculean effort that went into this book.” Hy sê dit het die skrywer ’n leeftyd geneem om hierdie inligting te versamel en dat die boek die produk is van sodanige omvattende en nougesette werk; ’n kroon wat op ’n lewenstaak gespan is. Renata Coetzee is waarskynlik dié kenner van inheemse kosse, ’n titel wat sy met dekades van toewyding verdien het.

Wat die inhoud betref, kan ’n mens kwalik die diepte en omvang in ’n paar paragrawe beskryf. Om darem ’n idee hiervan te gee is dit nuttig om na die indeling te kyk, naamlik: Part 1: Roots of the first humans; Part 2: Veld food; Part 3: Game and fish; Part 4: Herds and flocks; Part 5: History, nutritional value and conservation of the Khoi-Khoin veld-food plants. Daar is ook ’n bibliografie, indeks en ’n tydlyn wat die evolusie en migrasie van die vroeë mens aandui.

Daar is werklik soveel interessanthede in die boek vervat, dit verstom ’n mens – soveel meer as net oor kosse: soos die spelwyses van die destydse inheemse taal en die invloed daarvan op Afrikaans; dié mense se tradisonele kalender; die tipes oermense en fossiele wat in suidelike Afrika ontdek is; asook kewers, plante, gereedskap, woonplekke, versierings, tradisies en die verslae wat deur Europeërs daaroor gedoen is, by wyse van tekeninge en skriftelike beskrywings. Die afbeeldings is pragtig en in kleur, soos ook die talle foto’s van onder andere gebak (soos askoek, potbrood, vetkoek) en vissoorte, wilde diere, en plante met hulle Engelse, Afrikaanse en Latynse name, en soms Khoi-name, afgebeeld.

Om af te sluit, A feast from nature is ’n fees om te lees, en ’n verrykende kenniservaring, maar daar is iets méér ... dalk ’n eggo uit ’n gedeelde verlede wat alle mense kan waardeer. Mag Renata Coetzee se bydrae tot ons geskiedenis ons help om ’n groter begrip van mekaar te ontwikkel en sodoende ’n beter toekoms te beding. Lees dit gerus – dis ’n belegging, beide as Africana en vir persoonlike bevrediging. En glo my, ek bedoel dit – ’n man lees nie (sommer enige boek) tydens sy wittebrood nie!

The post <i>A feast from nature</i> deur Renata Coetzee: ’n resensie appeared first on LitNet.

Jong lesers: Nicole White resenseer Die legendariese Lua Verwey – Wilder as die wildtuin deur Dihanna Taute

$
0
0

Die legendariese Lua Verwey: Wilder as die wildtuin
Dihanna Taute, illistrasies deur Theodore Key

Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798176811

Jy sal die boek nie kan neersit nie!

As jy ook daarvan hou om anders te wees as al die ander meisies in jou klas, en te weet jy wil eers ’n kêrel kry op 25-jarige ouderdom, want voor dan is seuns net stupid en gross!  Veral die seuns in haar klas. Selfs al hou jou beste maatjie, Lily, baie van seuns en hul altyd wil dophou vanaf die pawiljoen. 

Dis skreeusnaaks. Ek het so gelag, selfs my ma wou die boek saam met my lees! Net om te besef my familie is dalk nie so abnormaal nie. Lua se boeties wat hul pa se verfblik in die hande gekry het, en  soos twee groen gifappeltjies opgeëindig het, dit alles terwyl Lua hul moes oppas. Of toe daar knoffelpille in haar boetie se neus opgedruk was. Haar drie boeties irriteer haar eintlik, want sy wil op haar eie goed fokus, ’n skoon hemp, haar J-board en die perfekte toebroodjie, en sy voel asof sy geen ondersteuning kry van haar gesin nie. Ballet was nie vir haar nie, néé, sy wil so graag krieket speel by die skool, want die krieketspan gaan op toer en sy besef dat deur die span te maak, kan sy wegkom van haar gesin en op vakansie gaan! Veral met haar ouers wat so snaaks optree en dan nuus het vir die gesin.

Ek kan nie wag vir die opvolg nie. Vir nog snaakse stories waaroor elke meisie kan lag en besef jy is eintlik heeltemal normaal. 

The post Jong lesers: Nicole White resenseer <i>Die legendariese Lua Verwey – Wilder as die wildtuin</i> deur Dihanna Taute appeared first on LitNet.

Jong lesers: Kaitlyn Sookdhew resenseer Ek was hier deur Nanette van Rooyen

$
0
0

Ek was hier
Nanette van Rooyen

Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799354966

Nanette van Rooyen se Ek was hier is ’n inspirerende jeugroman. Hierdie is ’n storie vol liefde en geheimsinnighede oor twee tieners wat baie struikelblokke moet oorkom om saam te wees.

Hierdie storie word deur twee karakters vertel, Frankie die vroulike hoofkarakter en Milan die manlike hoofkarakter. Dit begin met ’n geheimsinnige papierrot buite Frankie se venster wat lei tot ’n boodskap en gevolg word deur ’n maand van liefdesboodskappe in die vorm van groen graffiti wat oral in Groenpunt opduik.

Frankie is lief vir kunsflieks en sy ry skaatsplank. Haar pa is ’n Nederlandse sjef was ’n bietjie mal en anders as Frankie is. Haar ma is ’n hippie wat wil weet wat in Frankie se lewe aangaan, maar soos met die meeste tieners wil sy nie met haar ouers praat nie, veral nie oor haar liefdeslewe nie.

Milan is die nuwe ou in Frankie se klas wat graag sy baskitaar speel. Hy luister ook Pink Floyd en Led Zeppelin. Sy pa kom uit ’n kommunistiese land. Hy is ’n stil, sagte man met ’n swart gordel in judo. Hy het sy seun alleen grootgemaak. Milan is skaam en herinner Frankie aan ’n vampier met sy swart hare en bleek vel.

Die hoofkarakters in die roman is baie realisties. Milan en Frankie ervaar al die onsekerhede van ’n hoërskoolromanse. Die leser kan maklik met die karakters identifiseer, hulle doen dinge wat gewone tieners doen, soos om oor hul ouers te kla.

Ek was hier het LAPA se jeugromankompetisie gewen. Dit is ’n boek vir mense van alle ouderdomme en as jy op soek is na ’n boek om jou woordeskat op te knap, beveel ek dit aan. Ek was hier is ’n roman wat ’n raaisel, ’n tragedie, ’n komedie, ’n drama, ’n aksie-storie en ’n romanse alles in een is. Hierdie is ’n boek waarin jy gaan skaterlag, snot-en-trane huil, smoorkwaad word en weer lag tot die trane rol. Dit is ’n boek oor tieners vir tieners.

The post Jong lesers: Kaitlyn Sookdhew resenseer <i>Ek was hier</i> deur Nanette van Rooyen appeared first on LitNet.

Jong lesers: Nicholas Hanlon resenseer Ek was hier deur Nanette van Rooyen

$
0
0

Ek was hier
Nanette van Rooyen

Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799354966

Die wêreld van boeke het geen einde nie. Goeie boeke en slegte boeke, dit is alles deel van die lang maar bevredigende soektog vir daardie boek wat jy nie kan neersit nie.

Ek was hier handel oor ’n Kaapse meisie wat begin sien dat vreemde straatkuns in haar buurt verskyn. Maar dit is nie toevallig nie. Sy ontdek dat die vreemde straatkunstenaar op haar verlief is. Dit veroorsaak dat sy ’n kompromis moet aangaan met haar ouers en haar liefdeslewe.

Daar is twee hoofkarakters in hierdie romantiese en geheimsinnig boek: Milan en Frankie.

Frankie is ’n tiener wat in Groenpunt, Kaapstad woon, sy het ’n vriendin (Jana) en hou van Drama (die vak), maar haar hele wêreld word onderstebo gedraai toe ’n gemaskerde straatkunstenaar na Groenpunt kom.

Milan is nie jou tipiese tiener nie. Hy is die nuwe romantiese, maar geheimsinnige seun wat nie maklik vriende maak nie. Hy het ’n moeilike verlede gehad wat hom vandag nog beïnvloed.

Hierdie boek is vol geheime en plaas die leser op ’n emosionele wipplankrit. Dit begin effens stadig maar van hoofstuk vyf af begin die adrenalien vloei.

As jy lief is vir liefdesverhale of net hou van ’n raaisel wat opgelos moet word is hierdie boek vir jou.

Ek gee hierdie boek ’n vier uit vyf. Lekker lees!

The post Jong lesers: Nicholas Hanlon resenseer <i>Ek was hier</i> deur Nanette van Rooyen appeared first on LitNet.

Polemieke: bekgevegte in Afrikaans deur Gabriël Bothma: ’n resensie

$
0
0

Polemieke: bekgevegte in Afrikaans
Gabriël Botma
Penguin Random House South Africa
ISBN: 9781776092314

Laat ons nou maar eerlik wees: meningsverskille is nie nuut nie en ons sal ook nooit net in die verlede tyd daarvan praat nie. Daarvoor is mense net te verskillend. Dit is natuurlik ook nie noodwendig ’n negatiewe gedagte nie. Gesonde debat is immers baie stimulerend.

“Stimulerend” is ook die woord wat ’n mens aan Gabriël Bothma se boek Polemieke: bekgevegte in Afrikaans kan koppel. Hier gaan dit om Afrikaners wat mekaar warm onder die kraag maak en allerlei sake waar Afrikaanse ter sprake is.

Jy weet eintlik nie wat om te verwag voordat jy die boek begin lees nie. Ja, jy weet dit sal oor argumente en Afrikaans gaan, maar jy kry uiteindelik aansienlik meer as waarop jy gereken het. Jy voel skoon “volleerd” as jy dit gelees het – Bothma is mos ’n akademikus. Wees egter gerus, hy gee nie ’n les nie. Hy bied ’n omvattende oorsig oor alles en nog wat van argumente met betrekking tot Afrikaans. Hy skryf oor Afrikaans in die konteks van politiek, taal, kerksake, kuns en vermaak, sport en misdaad.

In vele opsigte is dit ’n kroniek van soveel dinge in die geskiedenis en om dit juis in die konteks van die hede te lees. Die leser se geheue word met hierdie nuusgebeure verfris en elders ontdek jy ook vir die eerste keer ’n stukkie geskiedenis waarrondom polemieke geheers het.

Die teks het kenmerke van ’n verhandeling, maar dit is allermins vervelend of hoogdrawend.

Akademies? Dalk ’n klein bietjie, maar elke hoofstuk boei, en dis jou keuse by watter hoofstuk jy wil begin. Die inhoudsopgawe prikkel jou reeds. Ek meen, wie sal sonder nuuskierigheid en sonder gevoel ’n boek oor polemiek en Afrikaans toeslaan wat “Boetman is die bliksem in”, Piekniek by Dingaan en Voëlvry, Daisy de Melker, Joost van der Westhuizen, Bram Fischer, Adam Small en “beskaafde” apartheid in dieselfde asem noem?

Voëlvry-album, Adam Small (foto: Naomi Bruwer), Daisy de Melker en omslag van die boek Boetman, swanesang van die verligtes deur Chris Louw

Die hoofstukke is dus volgens elke smaak ingedeel – ’n groot sterkpunt van die boek, met die net wyd gegooi. Jy kan kies waarin jy belangstel, en dit bestudeer en herkou. In die toekoms sal dit selfs stellig as ’n naslaanbron kan dien, afhangend van waarna jy op soek is. Uiteraard lees ’n mens nie hierdie boek soos ’n roman nie, maar dis boeiende leesstof dié. ’n Mens waardeer die tyd en navorsing wat die skryf van die boek moes voorafgegaan het. Reeds in die eerste sin raak die leser iets wys. Hoeveel mense weet dat die woord polemiek ’n Griekse oorsprong vir “oorlog” het?

Dan is daar CJ Langenhoven, denker en storieverteller van naam en faam, wat aanvanklik nie ten gunste daarvan was dat Afrikaans as amptelike taal erken word nie. Nodeloos om te sê, het sy mening hieroor mettertyd verander. Die dood van die vryheidsvegter Steve Biko in polisie-aanhouding het óók Afrikaners onder mekaar laat rusie maak.

Die skrywes van Johannes du Plessis, bekend as “Pienk Piet”, was ook nie alte gewild toe hy as professor in teologie op Stellenbosch en as redakteur van die tydskrif Het Zoeklicht artikels oor evolusie geplaas het nie. Ook het hy gewaarsku oor ’n “rigiede benadering van rassekwessies”.

In vele opsigte sal die leser hede sowel as verlede in oënskou neem.

NP Van Wyk Louw het die voormalige eerste minister HF Verwoerd erg ontstoke gelaat oor sy Republiekfeesdrama Die pluimsaad waai ver. Van Wyk Louw het ook nog voor dié polemiek ook op ’n ander geleentheid kritiek uitgespreek oor die regering se sensuurbeleid.

Dis merkwaardig watter invloed Afrikaanse skeppende skrywers destyds op maghebbers gehad het. Dit kan ’n mens dalk nie meer vandag sê nie.

Net so wonder ’n mens oor die norme van gister teenoor dié van vandag.

Jy lees van goed wat jy vandag byna nie kan glo so ’n koue, harde werklikheid van die dag was nie. ’n Voorbeeld hiervan wat Bothma skets, is die digter en dramaturg Adam Small wat ’n permit mos bekom om Kanna, hy kô hystoe se openingsaand by te woon. En dit vir sy eie pennevrug. Daarbenewens het wit akteurs ’n storie vertolk wat in ’n bruin gemeenskap afspeel.

Afrikaans is ’n taal wat met ’n (aanvanklike) stryd oplaas in 1925 amptelike status verwerf het. Talle mense meen dis vandag ’n stryd om die taal lewend te hou.

Bekgevegte duur voort, maar soms kan hulle baie gesond wees. Mag die beste een wen.

The post <em>Polemieke: bekgevegte in Afrikaans</em> deur Gabriël Bothma: ’n resensie appeared first on LitNet.

Jong lesers: Qailah Hannie resenseer Ek was hier deur Nanette van Rooyen

$
0
0

Ek was hier
Nanette van Rooyen

Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799354966

Ek was hier is ’n storie van familie, liefde en vriendskap. Dis ’n storie wat jou emosies onderstebo sal laat. Nanette van Rooyen was suksesvol met die jeugroman, want die karakters is eg en die lesers kan met hulle identifiseer. Terwyl jy die boek lees sal jy kwaad voel vir sommige karakters en dan weer hartseer ervaar.

Ons storie begin met Frankie, ’n hardegat tiener met ’n neurotiese ma en sy moet met die nuwe ou in graad 10 ook deal. Frankie is nuuskierig en dis hoekom sy die nuwe ou, Milan, so interessant vind. Milan is die stil geheimsinnige outjie wat nie rêrig vriende wil maak nie. Hy is net soos ander kinders by Frankie se skool, maar Milan het ’n geheim.

Nanette van Rooyen se karakters laat jou laat lag. Soos die karakter Gloria, die mollige, liefdevolle, moederlik figuur wat Frankie en Milan bemoedig.

Wat sal gebeur as jy in ’n boek, ’n liefdesverhaal, ’n graffiti-kunstenaar, twee tieners met weird families en ’n hoekkafee met die heerlikste warm sjokolade het? Jy sal maar net die boek moet lees om uit te vind. Met Frankie as die skerp, maar hardegat meisie, en Milan wat so kreatief maar skaam is, sal jy altyd vermaak word.

Ek sal die boek vir jong lesers aanbeveel vir die uitstekende storielyn en interessante hoofkarakters. Nanette van Rooyen is ’n briljante skrywer en hierdie boek is ’n voorbeeld daarvan.

The post Jong lesers: Qailah Hannie resenseer <i>Ek was hier</i> deur Nanette van Rooyen appeared first on LitNet.


Jong lesers: Sarah Espinoza resenseer Ek was hier deur Nanette van Rooyen

$
0
0

Ek was hier
Nanette van Rooyen

Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799354966

Wie sou kon raai dat een verbode boek en ’n geheimsinnige seun met roetdonker oë al was wat nodig was om jou lewe te verander?

Frankie van Luffelen is net ’n gewone tiener. Sy het ’n mal pa met ’n harde stem en ’n neurotiese ma. Haar beste vriendin Jana is verspot spontaan, maar niemand is so flambojant soos Gloria, die eienaar van die Hoekkafee nie. Sy is so pronkerig soos ’n pou en sy is goedhartig teenoor almal in die buurt. Net ’n gewone meisie met ’n gewone lewe, tot Milan Kucharzik eendag in haar lewe instap en baie moeilikheid bring. Mirna Meyers is die slang in die gras wat almal hipnotiseer, maar nie vir  Frankie nie. Nou is Frankie baie nuuskierig oor Milan en sy hou nie net van musiek en fliek nie, maar nou hou sy ook heimlik van graffiti.

Die karakters is baie geloofwaardig. Die verhaal is so realisties dat die leser vir haar eie Milan op die uitkyk is. Die leser kan met die karakters en hul problem identifiseer, so ek dink die skrywer, Nanette van Rooyen, het haar teikenmark perfek bereik en was suksesvol in die bereiking van haar doelwitte vir hierdie jeugroman.

Die boek laat die leser huil, lag en asem ophou. Woede, skok, verwarring, opwinding en vreugde is alles emosies wat die leser ervaar. Die leser beveel hierdie boek aan, want dit het ’n interessante storielyn en dit is maklik om te lees, wat Engelssprekende tieners se woordeskat sal verbeter. Wees verseker as jy dit optel, sal jy dit glad nie neersit nie. En verwag maar ’n paar kinkels in die kabel.

The post Jong lesers: Sarah Espinoza resenseer <i>Ek was hier</i> deur Nanette van Rooyen appeared first on LitNet.

Jong lesers: Die leeutemmer se assistent deur Solet Scheeres en Marjorie van Heerden

$
0
0

Die leeutemmer se assistent
Solet Scheeres en Marjorie van Heerden

Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799379143

Toe ek die boek optel en die interessante prentjies sien, was my nuuskierigheid dadelik geprikkel. Ek was van kleins af lief vir lees, miskien omdat ek en my oupa van kleins af kopstukke kon gesels en navorsing doen oor verskillende goed.

Deesdae het almal van ons tablets, selfone en selfs Facebook en al daai dinge, maar in ’n tyd waarvan ek nog net gehoor het, dis waar jy die Leeutemmer sal ontmoet ...

Ek was nog nooit by ’n regte sirkus nie, maar hierdie boek het my geneem na ’n tyd lank terug toe sirkusse van die belangrikste besoekers aan die klein dorpies was. Ek het nooit geweet dat ’n hele sirkus per trein van plek tot plek getrek het nie – dis ongelooflik!

Die hoofkarakter, Martjie, neem ons op ’n wonderlike avontuur. Saam ontmoet ons die hoof van die sirkus, leer van die sterkste man in die wêreld en ook van Tiekie die nar. Mister Pagel was die baas van die sirkus en sy vrou, Madam Pagel, het sommer met ’n  mak leeu as ’n passasier in haar motor gaan inkopies doen. Verbeel jou dit, hierdie vrou met haar klein, skerp tong en groot verehoed ... en ’n leeu wat in die passasiersitplek sit! Ek sou haar nogal graag wou ontmoet. Arme Martjie was gereeld in die moeilikheid en Mev Pagel het sommer haar naam verander na Marcozee!

Martjie moes baie dinge trotseer, selfs eenkeer skelms wat haar gebruik het om dinge te doen wat haar in die tronk kon laat beland het. Sy het ook, te danke aan haar nuuskierigheid, eendag binne ’n leeu se krat geëindig!

Dit verseker ek jou, as jy eers hierdie boek begin lees, gaan jy dit nie kan neersit nie. Daar is selfs ’n bietjie romanse ook net om jou hart te laat vinniger klop. Kom beleef die sirkus soos nog jy dit nog nooit gesien het nie – jy sal voel of jy daar is!

The post Jong lesers: <i>Die leeutemmer se assistent</i> deur Solet Scheeres en Marjorie van Heerden appeared first on LitNet.

Jong lesers: Billionaire boy deur David Walliams

$
0
0

Billionaire boy
David Walliams

Uitgewer: HarperCollins
ISBN: 9780007371082

Joe Spud het alles ... wat geld kan koop. Dis vandat sy pa skatryk geword het as gevolg van sy besigheid, Bumfresh-toiletpapier met een nat en een droë kant. Toe hy sy “posh” skool los omdat almal daar adellik en boonop gemeen is hoop hy hy kan ’n normale lewe by sy nuwe normale skool kry. Maar hy gaan sukkel om sy pa se geld geheim te hou. Omdat sy pa eendag sy huiswerk per helikopter afgelaai het om te voorkom dat hy detensie kry, weet almal wie hy nou regtig is.

As jy ryk is, is dit moeilik om ware vriende te maak, maar dit moet Joe Spud eers in hierdie opwindende boek uitvind. Sal sy vriend Bob steeds sy vriend wees as gevolg van sy dade? Wanneer Joe presies dieselfde vir sy vriend doen soos wat sy pa met hom doen ... als met geld wil probeer regmaak, kan die wêreld nogal vir hom warm word. Toe gebeur die onverwagse en Joe se pa verloor alles. Deur bankrot te speel en Joe se vertroue te verbreek het hy niks meer oor nie. Hier leer nie net Joe nie, maar ook sy pa ’n belangrike les: Geld kan nie alles regmaak nie.

Maar nes alle goeie boeke hou die boek jou op jou tone. Mense is geneig om te dink dat geld jou gelukkig kan maak, maar die boek verskil heeltemal van daardie algemene visie. ’n Baie snaakse boek wat jou ook laat kyk na morele waardes. Dawid Williams is ’n baie goeie opvolger vir die wyd-geliefde Roald Dahl. Die storielyn is baie interessant en hou jou permanent aan ’n lyntjie, met ander woorde ’n regte cliffhanger. Dis ’n ware Engelse treffer. ’n Moet-lees vir alle boekwurms, skoolkinders, onderwysers en mense sonder vriende. Ek het aan elke woord van die boek gehang ... ’n regte goeie boek.

The post Jong lesers: <i>Billionaire boy</i> deur David Walliams appeared first on LitNet.

Jong lesers: Die tandeterroris deur David Walliams, vertaal deur Kobus Geldenhuys

$
0
0

Die tandeterroris
David Walliams, vertaal deur Kobus Geldenhuys, illustrasies deur Tony Ross

Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485305590

Toe ek hierdie boek klaar gelees het, het ek vir my ma gesê ek dink dis een van die beste boeke wat ek al gelees het. Die boek laat my so hartseer voel en ook so bly. Dit gaan oor die liefde tussen ’n pa en ’n seun. My juffrou het vir ons David Walliams se boeke in die klas gelees en toe het ek hierdie een gekoop en dis hoekom ek dit gelees het.

Wie nou ook al hierdie boek wil lees, moenie dink die boek gaan net oor ’n seun wat nou kamstig bang is vir ’n tandarts nie, omdat julle die omslag gesien het nie. Dit gaan eintlik oor ’n seun wat glad nie daarvan hou om tandarts toe te gaan nie, maar dit gaan oor meer as dit. Eendag kom daar ’n tandarts by hom aan en haar naam is Dokter Pyn en sy sê vir Alfie (die hoofkarakter) hy moet by haar ’n afspraak maak. Op daai dag het sy lewe verander ...

Vreemde goed gebeur in die nag. Kinders wat hul tande wissel, sit hulle tande onder hulle kussings (hulle wag natuurlik vir die tandmuis om geld te gee) en word die volgende dag wakker en kry in plaas van geld dan ’n dooie slak, ’n oogbal en nog baie erger goed. Alfie en ’n vriend van hom, Gabs, stel ondersoek in om uit te vind wie die geheimsinnige mens wat in die nag in kinders se kamer insluip. Alfie het ’n idee wie dit is ...

Ek hou baie van die verhaal, want dit gee vir mens gemengde/verskillende gevoelens. Dit laat mens emosioneel voel – partykeer hartseer, partykeer bly. Toe iemand dood is (ek gaan nie die hele storie verklap of vertel wie is dood nie), was ek byvoorbeeld hartseer, en toe iemand iemand anders red, was ek weer baie bly.

Ek dink Kobus Geldenhuys vertaal ongelooflik goed. Ek het al Dawid Walliams se boeke in Engels gelees en Kobus Geldenhuys laat dit ook baie goed in Afrikaans klink.

Die tandeterroris is besonder goed vertaal, soos ek sê, alhoewel ek nie verstaan wat bedoel word met die opgemaakte woorde nie. Dit is woorde wat gemerk word met * en/of ’n kruis na ’n woord wat bestaan en in die verduideliking staan “Opgemaakde woord”.

Ek kan ook dankie sê vir my klasonderwyser wat vir ons boeke soos hierdie een in ons leesperiode lees. Ek beveel hierdie boek aan vir mense tussen 9 en 12.

Lekker lees!

The post Jong lesers: <i>Die tandeterroris</i> deur David Walliams, vertaal deur Kobus Geldenhuys appeared first on LitNet.

Brugbouers deur Rudi Buys: ’n lesersindruk

$
0
0

Brugbouers: Die Reitz-video en die pad na versoening
Rudi Buys
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781776091843

Hoe ver het my gedagtes darem nie gedwaal toe ek die koerant oopmaak een Sondag en ’n lang uittreksel sien uit ’n nuwe boek nie – een oor die Reitz-video – om so baie redes …

Ek was daar. Dit was die jaar 2008. Ek was ’n 4de-jaar, besig met honneurs in geskiedenis. Die familie het gebel. “Is jy oukei? Ons sien op die nuus ...!”

Deesdae bel niemand meer as daar gewelddadige protes in jou dorp of stad is nie. Die joernaliste kom nie eens meer uit nie. Hulle stel sommer ’n oorsigtelike berig saam van al die proteste wat hulle op Twitter gesien het. Maar daardie jare was dit anders.

Terugskouend was die gebeure rondom die Reitz-kamerwonings se video eintlik nie so erg nie, as mens nou dink aan al die kampusproteste sedertdien, soos die #RhodesMustFall- en die #FeesMustFaal-veldtogte, maar in 2008 was dit beslis reusenuus.

Maar mens moenie hierdie boek op sy subtitel takseer nie. Eerder op die kriptiese buiteblad. Rudi Buys se boek gaan eintlik nie regtig oor die Reitz-video, die sogenaamde Reitz-4 nie. Glad nie. Die vier studente wat die gewraakte video gemaak het, se name word nie eens in hierdie boek gemeld nie. Daar is wel vier studente op die voorblad van die boek: twee wit en twee swart. Twee vroue en twee mans. En dis hulle storie wat die sentrale tema van die boek vorm. En hulle storie is ook ons storie. En dis die storie van hierdie boek. Dis die storie van vier jongmense wat worstel met hulle identiteit. Soos wat Suid-Afrika vandag nog worstel, en sal aanhou worstel, so was dit ook met die Kovsies. Is ons “Afrikaners” en “Zoeloes” ens? Of moet ons vergeet van sulke idees? Is ons almal maar net Suid-Afrikaners?

Dis eintlik ’n baie ou menslike storie, as mens nou mooi oor die saak gaan sit en dink. En glad nie beperk tot ons landjie hier aan die suidelikste punt van Afrika nie. Ons lees byvoorbeeld in die boek 1 Makkabeërs hoe koning Antiogus die stad Jerusalem oorgeneem het. Donkiejare terug nou. Daar het die vreemde Griekse regeerder toe die Israeliete onderwerp en volgens die antieke boeke was daar “baie Israeliete wat bereid was om by Antiogus se godsdiens in te val”.1 Daar was twis onder die volk Israel, tussen die behoudendes en die progressiewes. Dus, lank voordat Jesus gebore is, het die Israeliete onder mekaar getwis oor identiteit. Oor wat is ’n ware Israeliet. En so is identiteit. Dit is nie staties nie. Dit is gedurig besig om te verander. Daar is maar altyd konflik tussen behoudende mense en diegene wat verandering omhels. En so is dit ook met die vier studente op wie Buys fokus in sy boek. Hulle is jongmense wat hulle identiteite moes uitkerf.

En so is dit vandag nog met ons maar. Op 18 Julie 2018 was oudpresident Nelson Mandela 100 jaar gelede gebore. Dit was ’n groot dag van herdenking van Mandela se lewe. Mandela se werk as versoener word gedurig voorgehou as model. Maar daar vind ook al meer hersiening van Mandela se nalatenskap plaas. Daar is mense wat Mandela se nalatenskap bevraagteken en vra of Mandela nie te veel op versoening gefokus het en te min op geregtigheid nie.

Dit is juis een van die onderwerpe wat in Buys se boek na vore kom. Volgens Buys is ’n brugbouer nie noodwendig ’n vredemaker nie. Brugbouers is dikwels juis moeilikheidmakers. Want die Reitz-video het iets onthul van Kovsies en Suid-Afrika. Suid-Afrikaners het integrasie gesystap. Presies soos wat Swart Ekonomiese Bemagtiging met sogenaamde “fronting” gesystap word, so was integrasie op die Kovsiekampus gesystap. Die kampus het wel “transformeer” van oorwegend wit na oorwegend swart, maar afsonderlike koshuise het gebly. Afsonderlike klasse het ontwikkel op die basis van (so pynlik soos dit is om dit hier te noem) Afrikaans (en Engels). En die koshuistradisies van ontgroening het ook gebly. Maar iewers moes iets skiet gee.

Dit is lekker om Buys se interpretasie van al die drama te lees.

Teen die tyd dat Buys se termyn as studentedekaan aan die Universiteit van die Vrystaat begin het, was ek basies klaar met my studies daar. Dit was die tyd toe die Kovsies in Jonathan Jansen hulle “eerste swart” rektor gekry het, en ek was toe grootliks aangewese op die Afrikaanse koerante om op hoogte te bly van die Kovsies en al hulle dinge. Mens sien iets van die mens Buys in hierdie boek wat mens nie elders sou nie. In die koerant was Buys die slegte ou. Bronne wat deur die koerante aangehaal is, het Buys beskryf as “klein Jansen” en “Jansen se skoothondjie”.2 In 2014 het AfriForum verklaar hulle is bly dat Buys nie langer by die UV sal werk nie.3 Die koerante is egter uiteindelik gedwing om ’n “regstelling” te plaas oor hoe daar berig was oor die UV, maar die skade aan Buys se reputasie was reeds gedoen (bl 158).

In Brugbouers leer ’n mens egter ’n totaal ander sy van Buys ken as die Buys wat in die Afrikaanse koerante geskets is. Die Buys-familie se verbintenis met Beyers Naudé (1915–2004), en die impak van Naudé se lewe en denke op Buys, vorm ’n belangrike deel van die boek. Toe Buys aanvaar is as tentmakerpredikant in die Nederduitse Gereformeerde Kerk, het hy die dag die toga van Beyers Naudé gedra. En die uiteindelike verandering van die koshuis JBM Herzog se naam na huis Beyers Naudé was vir Buys uiteindelik tog ’n bewys dat daar wel iets verander het op die Kovsiekampus, al het dit nie altyd so voorgekom nie.

’n Interessante tema in hierdie boek is die rol van die Christian Revival Church (CRC) op die kampus van die UV. Hoe verdelend is Suid-Afrika se kerke nog in 2018? Die teoloog Jaco Strydom skryf in sy boek Confessions oor kerkwees (Carpe Diem Media, Vanderbijlpark, 2018) dat die grootste skeiding van rasse in Suid-Afrika nog elke Sondag plaasvind, wanneer Christene hulle godsdiens beoefen. So was dit ook op die Kovsiekampus met studente wat geskei is in koshuise, in klaskamers en ook by die kerk. Die resultaat was wantroue en, uiteindelik, die Reitz-video. Die CRC het met ’n fokus op die identiteit van Christen-wees daarin geslaag om etnisiteit en nasionalisme onder die studente te onderdruk. Dit was inderdaad ook my eie ervaring met die CRC – hoewel ek nooit juis ingekoop het op hulle of enige ander godsdiens nie, het hulle beslis die grense tussen rasse kleiner gemaak.

Brugbouers is nie altyd vredemakers nie. Hulle is dikwels juis die mense wat moeilikheid moet maak. En verandering is nie ’n lynreguit proses nie. Dit is die sentrale argumente wat ek neem uit Rudi Buys se Brugbouers. Die boek is nie ’n geskiedenisboek oor die gebeure rondom die Reitz-video nie. Dit is eerder ’n boek wat probeer om die breë beginsels daar te stel van gemeenskappe wat verander. En verandering is iets wat nooit voltooi word nie. Dat daar konflik sal wees, is gegewe. Om vrede te maak is nie noodwendig altyd ’n oplossing vir die probleem nie. Dit kan die oplossing van die probleem dalk net uitstel. Verandering is ’n gegewe. Dit is nie iets wat die mens moet vrees nie. As ons nie verander nie, sal ons vergaan.

Eindnotas

1 Apokriewe Ou en Nuwe testament: Verlore boeke uit die Bybelse tyd, Jan van der Watt en Francois Tolme, Vereeniging, 2005. CUM boeke, bl 327.

2 H Retief, “’n ‘Rêrige aaklige jaar by Kovsies”, https://www.netwerk24.com/Stemme/n-Rerig-aaklige-jaar-by-Kovsies-20140920, 21 September 2014, afgelaai op 21 Julie 2018.

3 E Prinsloo, “Rudi Buys verlaat die Kovsies-‘preekstoel’”, https://afriforum.co.za/rudi-buys-verlaat-die-kovsies-preekstoel, sj, afgelaai op 21 Julie 2018.

The post <i>Brugbouers</i> deur Rudi Buys: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.

Gesant van die mispels en In die stille agterkamer deur Marlene van Niekerk: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

$
0
0

Gesant van die mispels. Gedigte by skilderye van Adriaen Coorte ca 1659–1707 (2017a) en In die stille agterkamer. Gedigte by skilderye van Jan Mankes 1889–1920 (2017b)1
Marlene van Niekerk
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798176552 | 9780798176545

Each one calls to the other: Illuminate me! Mehr Licht! Without I’ll die! (...) Illuminate me, illustrate me: surround me with glory celebrate me, even delude me and de-limit me in your element!

Image and text: this is the slit, perfect, definitive, and delicious, in which the naked truth is always recognized.

– Jean-Luc Nancy, The Ground of the Image (2005:76)

 

Beauty is the word that shall be our first. Beauty is the last thing which the thinking intellect dares to approach, since only it dances as an uncontained splendor around the double constellation of the true and the good and their inseparable relation to one another. Beauty is the disinterested one, without which the ancient world refused to understand itself, a word which both imperceptibly and yet unmistakably has bid farewell to our new world, a world of interests, leaving it to its own avarice and sadness. No longer loved or fostered by religion, beauty is lifted from its face as a mask, and its absence exposes features on that face which threaten to become incomprehensible to man. We no longer dare to believe in beauty and we make of it a mere appearance in order the more easily to dispose of it. Our situation today shows that beauty demands for itself at least as much courage and decision as do truth and goodness, and she will not allow herself to be separated and banned from her two sisters without taking them along with herself in an act of mysterious vengeance. We can be sure that whoever sneers at her name as if she were the ornament of a bourgeois past – whether he admits it or not – can no longer pray and soon will no longer be able to love. 

Hans Urs von Balthasar

 

1. Inleiding

Die moderne grootmeester van die “versskildery” sou mens vandag seker kon sien as die Amerikaanse digter John Ashbery (1927–2017), met sy “Self-portrait in a convex mirror” uit 1974, geskryf na aanleiding van Parmigianino se selfportret met dieselfde naam, circa 1524. Parmigianino se selfportret is merkwaardig weens die verbuiging en verwringing wat die konvekse spieël veroorsaak: die jeugdige se rustende hand in die voorgrond lyk groter as sy kop – wat waarskynlik só die belang van die ambagtelike skildershand, eerder as sy brein, beklemtoon. Vier en ’n halwe eeue verloop tussen dié lang vers van Ashbery en die jeugdige Italiaanse Renaissance-skilder se selfportret.

Die vroegste beskrywing van hierdie praktyk van “uit die beeld die vers” is deur Horatius in Latyn “ut pictura poesis” genoem. Vandag staan dit allerweë as “ekfrastiese” poësie bekend. Ashbery het ’n paar jaar na sy veelgeroemde bundel met dieselfde titel as die “selfportret by die konvekse spieël” (1974) grappenderwys na dié verskynsel verwys as ’n versskildery: “Now,/ About what to put in your poem-painting:/ Flowers are always nice, particularly/ delphinium” (in Houseboat days, 1979). En “versskildery” is ’n treffende kort beskrywing van wat dié verskynsel inhou: ’n vers by ’n skildery, ’n “skildery-in-woorde” van ’n “beeld-in-verf-op doek”. Beeld en woord, beeld en poësie staan hier naas mekaar, is in wisselwerking met mekaar, en in ’n dialoog betrokke.

Marlene van Niekerk se Memorandum. ’n Verhaal met skilderye (met Adriaan van Zyl, 2006) val op as ’n groot, uitgesponne “prosaskildery” (met ingebedde verse veral in die liriese slot van dié ekfrastiese werk). Skilderye van Van Zyl naas ’n prosateks van Van Niekerk. In die 2017-tweeluik met Coorte en Mankes se skildery-afdrukke is die medium van dialoog Van Niekerk se gedigte. Verse in Nederlands, en verse in Afrikaans – alle tekste in min of meer dieselfde vorm, ongeag waar die rymwoorde val, of ongeag die metrum. In ’n boekbekendstellingsgesprek vooraf met Gerrit Olivier (Lemoenkloof, Paarl in Februarie 2018) het Van Niekerk vertel dat haar Afrikaanse verse se aanvanklike formaat doelbewus aangepas is om dieselfde formaat as die Nederlandse tekste te hê, ter wille van die bladspieëls. Dit moes heelwat verskuiwing en meet en pas gekos het. Die eindprodukte is soos spieëlbeelde van mekaar tussen die Afrikaanse en Nederlandse tekste beurtelings. Maar dit is deels sinsbedrog – op heelwat plekke lê die aksente anders, sodat die leser nie kan aanneem dat die een teks bo die ander voorrang moet kry nie, en albei tekste as gelykes moet sien. Tussen hierdie tekste is daar “vreemdbevrugting” (“exogamy”, ’n antropologiese begrip). Deesdae is daar ook toenemend al hoe meer “eksofoniese” (“exophonic”) skrywers wat in ’n taal of tale anders as hul eie skryf – poliglotte, dikwels ook vertalers (sien https://en.wikipedia.org/wiki/Exophony). Dié situasie het baie te make met die sterk groeiende transnasionale-letterkunde- of wêreldletterkunde-impetus, wég van die nasionale letterkunde, en met verskynsels soos migrasie, ballingskap, veeltalige gemeenskappe:

"Extraterritoriality and exophony are indeed important notions, not only for comparative literature but in general for the question of the status of the literary text [of] the 21st century" (Matthias Zach in Ex(tra)territorialy. Reassessing territory in literature, culture and languages / Les Territoires littéraires, culturels et linguistiques en question, 2014).

Van Niekerk sluit in haar tweeluik met die gebruik van Afrikaans (volgens haar ’n “broeds-kreoolse” taal), direk naas Nederlands, dus by hierdie nuwe impetus aan. Die marginaliteit van Afrikaans naas die groter greep van Nederlands as ’n neksus of “poort” vir internasionale vertaling in die wêreldletterkunde kom op dié manier via haar gebruik van die twee tale op intieme voet naas mekaar ter tafel.

Die afgelope twee eeue staan in die teken van katastrofes (Hirosjima, Auschwitz, Foekoesjima, en toenemend elke jaar natuurrampe as gevolg van aardverwarming). Die mensdom is oënskynlik op pad na ’n algemene katastrofe. (Gedenk die wêreld van Openbaring 22:10: “want die tyd is naby”). Dis ’n wêreld en kultuur wat in homself verdrink (Jean-Luc Nancy in After Fukushima 2015). Is ’n nuwe wêreld moontlik – ’n manier van lewe of kultuur waar ’n mens in vrede en medemenslikheid kan oorleef sonder vrees? En hoe moet so ’n wêreld dan lyk – sy gemeenskap, gewete, geloof, politieke waardes en “kuns”? ’n Wêreld met vrede en vreugde, pleks van nihilisme oor die verwording van alles wat ooit deur die Weste as “mooi, waar en goed” gesien is (Adorno, met Plato se gedagtegoed in Metaphysics 2002). En watter waardes sal so ’n getransformeerde, herontwerpte kultuur (Nancy 2015) hoogskat? In ’n reeks gesprekke in The possibility of a world gee Nancy versigtige aanduidings, soos dat die verdeling tussen die intellektuele en die emosionele, die redelike en die sensoriese as relevante onderskeidings toenemend bevraagteken word:

A world (...) doesn’t proceed from a need – from a being’s need or a creator’s need. A world is without need, a world is this: that everything is there and demands to be greeted insofar as it’s here.

Evil is precisely refusing the world, wanting to substitute an empire for it – whatever the sovereign may be ... This may be the empire of money or “me” or a god, or the empire of technology drunk on itself or piety drunk on itself. One always finds this: the centripetal forces, the self-sufficiencies. The world is centrifugal, erratic, open. (Nancy 2017:109)

Die koppeling van skoonheid met waarheid en die goeie (die Westerse beskawing se hoogste kulturele waardes), en dan met liefde (in die motto hier bo aangehaal), vind ’n mens ook in die neurobioloog Jean-Pierre Changeux se boektitel, The good, the true, and the beautiful: a neuronal approach (2012). (“Plato's notion that the Good, the True, and the Beautiful are celestial essences or ideas, independent but so intertwined as to be inseparable” –  amazon.com se boekblurb; my kursivering). En hier lê die uitdaging vir literêre kritiek, die “kraak in die plint”, skeur in die stand van literêre kritiek, die afgrond wat gaap onder literêr-kritiese praktyk. Hier lê wat Van Niekerk die “hemelsleutel” noem wat nou met wortels na bo omgedraai is, en waar die “vrot in die perskes” vandaan kom (van die “verleiding van allegories lees”, soos Paul de Man in 1979 dit noem, sal ek my verder hier weerhou):

Het jy geweet die hemel-
sleutel groei omlaag as jy
hom ophang aan ’n balk
waar die admiraal hom
kan besoek? Miskien is dit
waarom die lospitperskes
op jou skilderye blus en
begin vrot (...) (?)
                                (2017a:11)

Van Niekerk gooi met haar nuwe werk ’n Nietzscheaanse tou oor die afgrond na lesende kritici, kritiese lesers, gewoond om “teen die grein” en vryblywend te beoordeel, te evalueer en te kategoriseer. Nie langer kan kritici afstandelik, veilig en vanaf die verte sonder emosionele betrokkenheid skryf nie. Wat nou dringend nodig is, is betrokkenheid, sensoriese en emosionele betrokkenheid, of in Nancy se woorde: “everything is there and demands to be greeted insofar as it’s here”. Die intellektueel-gebaseerde literatuurkritiek kon geen redding bring nie, geen hond haaraf maak nie, het ’n bres geslaan, ’n kloof tussen skrywer en kritikus. In wat hier volg, word gestreef na ’n oorbrugging van dié gapende kloof: “Soos ’n hert in dorre streke/ skreeuend dors na die genot/ van die helder waterbeke ...”

Boeke soos Marlene van Niekerk s’n bring ’n parallelle visuele kuns van sy eie, in die skoon besetting van die kaal bladsy. Daarteenoor balanseer die chromatiese opulensie van die beelde die koue kuisheid van swart en wit. Buiten vir die visuele elemente, lyk dit soms of ’n skildery iets konseptueels wil kommunikeer, maar dit is nie daartoe in staat nie, want die skildery is ’n mooi dom dier. Die gedig het die vermoë om die ongesêde, onvertelde element in die skildery te begin uitsê. Dit is asof die gedig ’n spel speel om die enigma van die skildery te “beantwoord”. Gedigte word gekomponeer uit suiwer onsigbare elemente (idees, gevoelens, beelde, konsepte). Dit kan dus nie heeltemal uiting gee aan die passie vir die konkrete en die werklike  nie. Dit kan nie die presiese visuele getuienis word wat die skildery so maklik regkry nie. Dit is waarom digters jaloers is op die skilder en hom of haar probeer na-aap.  Tog kan ’n gedig die presisie van taalinstrumentarium in die spel bring. Die gedig is ’n presiese lesing van die skildery. Dit word sy subjek en voorwerp. Dit lees, en word self ook gelees, en gedy in hierdie bevoorregte dubbele status.2

Voorafgaande gedagtes is die insig van ’n intelligente leser, wat koud na die teks kyk, sonder meer. Maar dan is daar dié kop-oop-skietende idee: dit gaan nie meer oor wat kunswerke beteken nie, maar oor wat dit doen - oor watter argument hier gevoer word (sien Nathaniel Stern se inleiding tot Ecological aesthetics. Artful tactics for humans, nature, and politics, 20183

Marlene van Niekerk (fotoerkenning: Lien Botha)

2. Gesant van die mispels en In die stille agterkamer

Gesant van die mispels en In die stille agterkamer bevat afdrukke van skilderye deur Adriaen Coorte (18de-eeuse Nederlandse skilder uit die Goue Eeu) en in die tweede boek dié van Jan Mankes, ook Nederlands, wat op 30 oorlede is aan tuberkulose. Daarnaas bied dit Afrikaanse verse met direk daarna Nederlandse eweknieë. Beeld en tekste word telkens naas mekaar geplaas, wat die leser se oog eers vang deur die besondere kleur, vorm en fokus in die skildery-afdrukke, en daarna die Afrikaanse en Nederlandse tekste. Coorte skilder hoofsaaklik vrugte, meestal rooi (met drie uitsonderings: aspersies gebind in swart twyg, ’n skedel in ’n vanitasskildery, twee okkerneute) teen byna pikswart agtergrond, Mankes hoofsaaklik opgestopte voëls, soms met ’n selfportret of byna leë oliefles. Die skilderye is meestal in ligter kleure as dié van Coorte, wisselend van ’n spierwit haan, ’n witterige olieflessie tot ’n sneeulandskap met bevrore stroom en tent (buiten vir ’n donker dominerende agtergrond waarop om die beurt ’n bak met droë dissels, enkele dissel by ’n bak en ’n reierkopbeen, of ’n opgestopte uil teen donker agtergrond met slegs die uilkop en -bors belig).

Links: Jan Mankes, Wit konijn, 1910

Beeld en teks het ons dus hier, of ekfrastiese poësie, soos dié saamspan, dialoog, in-gesprek-tree van woord en beeld, beeld met woord bekend staan. Opvallend is die afwesigheid van ’n inhoudsopgawe met bladsynommers, en van enige verstitels. Al wat telkens voorsien word, is ’n lys met skilderye en húl titels. Dit bevoorgrond die afgedrukte skilderye, asof die outeur hiermee wil sê: “Konsentreer op die beelde, die skilderye, op Coorte en Mankes se werke! My tekste skuil daaragter, is slegs my lesings van, my reaksie op die reeds bestaande kunswerke. Dit is nie my tekste wat hier op die voorgrond is nie.” Die effek hiervan is dat daar ’n soort doelbewuste verskuiling of wegsyfering is van die verse, tot die uiterstes geneem waar die langste vers in die bundel (’n outobiografiese gedig oor oorsprong en bestemming) en nawoorde met inligting oor die lewe en werk van die twee skilders hoegenaamd nie in die inhoudsopgawes genoem word nie.

Regs: Adriaen Coorte, Stilleven met perzik en twee abrikozen

Die effek van dié strategie met die inhoudsopgawe (slegs skilderytitels sonder bladsynommers, sonder verstitels) is dat die leser by ’n eerste lees telkens verras word deur wat volgende kom, ’n bietjie soos ingaan in ’n museum waar eers na Coorte-doeke en later na Manke-doeke gekyk word, saam met ’n ander persoon. Dié ander persoon is teenwoordig in die stem wat praat oor, of na aanleiding van, die betrokke skildery. ’n Mens hóór die stem soos iemand wat langs jou staan en kyk, in dieselfde museumruimte, uit die verse, beurtelings in Afrikaans en Nederlands. Die geheel is ’n verrassende en ongewone ervaring vir oog en oor, en laat die leser uiteindelik effe oorweldig agter. Ook omdat daar so ’n vereenselwiging van die outeurstem plaasvind met die personas van die twee skilders en hul afgeslotenheid in “stille agterkamer(s)”, hul eensame werk as kunstenaars teen die agtergrond van oorloë, katastrofes en “tumult” rondom hul heen. Al drie die kunstenaars in dié werke verteenwoordig – Coorte, Mankes en Van Niekerk – deel afgeslotenheid om kunswerke te kan produseer, omring deur gewelddadige omwentelinge in hul samelewings, en eensaamheid as alleen-mense in hul tydsgewrig. ’n Soort ontstaan, soos in ’n Van Eck of Hieronymus Bosch (byvoorbeeld in “Die tuin van aardse luste”), waarin die alleenkunstenaars aan die werk in die chaos van hul tyd mekaar weerspieël, oor drie verskillende eeue heen.

Dié gegewe van ’n voëlvlug oor die eeue, oor die tyd, bring die Mandelstam-gedig “Century” in die geheue. Van Niekerk het in September 2016 ’n vertaling en verwerking van die Mandelstam-vers onder die titel “Tydsgewrig” op Versindaba gepubliseer:

Hierdie tydsgewrig, skepsel van ’n paar dekades, 
wie sal jou in die oog kan kyk
en met musikale bloed die werwels
van drie eeue aanmekaar sement?

Ten slotte kom die insig in die laaste van ses strofes:

Bloed die argitek syg uit die geskonde geslag
en sy laaste stuipe sing in die lou
klaende kraakbeen van die see,
’n vis wat brand in die monding.
En uit die hoë voëlnet van die lug
uit die mis, uit die ewige gebergtes
giet en giet die onverskilligheid
oor jou noodlottige wonde.

Tyd is onverskillig, tyd traak nie. Tyd vloei voort. Die mens is ’n stippel in die stroom van die tyd wat nooit stilstaan nie. In die ewige gang van tyd bestaan slegs die ewige wederkeer van telkens dieselfde patroon, geboorte en dood, geboorte en dood. En ons bloot “toeriste van vergetelheid” wat “deur die eeue opkom/ uit die bruin rivier”, met op die rots nog hier en daar, steeds dowwer wordend, ’n “Rotstekening” (in Kaar, 2013) “pronkend/ in die wynbruin water van die tyd”. Die Homerus-eggo in “Rotstekening” se “wynbruin water van die tyd” sluit aan by die heenwysings na Griekse gode wat ook in veral die Mankes-bundel veelvoudig voorkom. Dit bind die mens-in-die-god van antieke tye aan die mensdier van die moderne tyd, en ook mens aan dier en klip en plant. Alle vorme van lewe en vitale materie is hierby ingebind (sien Vibrant matter, 2010, Jane Bennett), en hieraan onderworpe, ook die oog wat kyk, die oog van die leser, die lesende oog, die waarnemer by die spel, soos in die sanglystervers met Philomela wie se tong uitgeruk is sodat sy nie kon praat oor haar verkragting nie, maar toe tóg haar verhaal op doek geweef het:

... ’n Stuk
boskasie bly jy
wat elke jaar begin te sing –
jou klein repliek
op godgeklaagde
swaartekrag.

Met weinig woorde, net ’n paar penstrepe, soos die vae merke op die voëlbors, kom hier ’n klein, teer gedig te voorskyn, soos in “Rotstekening”, verse wat ’n mens nie kan vergeet as jy hul gelees het nie, ekopoësie wat die gedeelde lot van mens en dier, en alle materie, in Van Niekerk se poësie in die bewussyn bring. Want “die kleintjies laat die heelal praat” (2017a:23) in die “wei van verganklikheid” en al wat bly, is  “Eén helder vonk” (2017b:23) deur die “affineerder van lig”. Hierdie “sprokkel(s) uit die puin” of momente van vreugde uit die nietige van ’n klein wêreld, ook van woorde, soos die “klein wit vrede van die woord –/wildeaarbeiblom” (2017a:35), “skynsels uit die bessiehart”,  spoel in ’n elegiese stroom van ongetraaktheid. ’n Mens sou laasgenoemde as die groot wêreld kon beskryf: skyn, puin, kwetsuur, skelet, windings, kraak, bedrog, “een gemene liggaam” (2017b:51), “striemende verskille” (2017b:55) en “Armageddon” (2017b:51). Odysseus Elitys vereenselwig homself ook in sy To axion este (1959) met hierdie weerlose klein wêreld: “Now the ashes of Man/ Now Now the zero/ Forever this small world the Great!”:

          Die Glorie

          Geprys sy die lig en die mens
se eerste gebed gekerf in klip
          (...)
          Geprys sy Myrto wat uitkyk van ’n klip
oor die see, met haar vorm
dié van ’n pragtige agt
          (...)
          Die binnelig wat pêrelend daag
’n beeld van die oneindige
          (...)
          Wees gegroet julle wat loop en jul voetspore verdwyn
Wees gegroet julle wat opstaan en mirakels gebeur
          (...)
Wees gegroet Moeder van Drome, Meisie van Oop Seë
          (...)
          Geprys sy die bittere
die eensame, verlorene van meet af aan
          die Digter, praktiseur met ’n mes
in die derde hand, onuitwisbaar:
          (...)
          Nou die vernedering van Gode   Nou die as van die Mens
Nou Nou die zero

Maar vir ewig dié wêreld, klein, maar ook groot!

Odysseus Elytis, To Axion Este (Alles van waarde) (1959, my vertaling uit die Engels van Keeley & Savidis, 1974)

Elytis transformeer wat ’n binêre teenstelling sou kon wees tussen klein en groot tot die kleine as die eintlike enigste waardevolle groot wêreld vir hom as digter, omvattend al sy weerlose, waardevolste ervarings en herinnerings. Soos die Etruskiese woord “memnisko”, dit wat op sy grafsteen ingegrif sou moes wees, ingegrif is in sy herinnering.

Ook dié laatwerk van Van Niekerk is so ’n gedenkskrif van alles wat waardevol is. Die laaste gedig eindig kort voor die dood (dit skryf terug na Mankes wat lank siek was en op 30 gesterf het):

Mankes, jy was meestal siek
waarskynlik aan jou tyd
Die ingevoerde Spaanse
Griep van soldate uit
Amerika het jou ten slotte
platgetrek. Lank daarvoor
kon mens reeds, opgelos
in dun, gelaagde kleure
en versigtig opgelegde
glans van keramiek
die diskrepansies aanvoel
van die jare voor die Oorlog –
asof jy alles weerloos en
van waarde ’n laaste keer wou aai. (Soos iemand
wat die gras gedenk
waar olifante veg.
Daardie wandelinge in die bos
met Gouma jou vennoot
in aandag vir die stilte
van ’n merelnes, die ondersang
van opgeskote lysters, was blote
rituele, die stille rondtes
van bebaarde radarmense
wat altyd opduik voor aankomende
Armageddons. Stukke troostelose
wee, jou strandloper, oorlede,
die uitgedroogde muis,
die kuiken hangend aan
een poot, jou humor
wat die dood beskryf met klein,
beskeie strepe. In die siekbed
van jou laaste huis wou jy
soos op ’n kort verblyf
in spergebied, fronsend
en bysiende, nog mooie
dinge maak – die  voorste
loopgraaf vlak en sonder
wering in jou lank reeds
uitgelote lyf.

Bostaande is slegs ’n paar aantekeninge by die bundels. Daar is te veel om op te noem, maar veral insiggewend vir beter begrip van die tekste is die digter se langer, verspreide en ongebundelde verse en versvertalings uit die periode rondom die verskyning van die werk onder bespreking (sien veral Stilet, Maart 2017, Versindaba, 2016 en ook LitNet). Verder is daar Michel Pastoureau se histories-kulturele publikasies oor kleur, veral oor die kleur van ons herinneringe, slegs in Frans beskikbaar (Les couleurs de nos souvenirs, 2010), en sy aparte studies oor die kleure blou en swart (in meer tale vertaal, oa ook in Duits beskikbaar). En sonder twyfel sou die sebaldiaanse elegiese en outobiografiese verwantskap met Van Niekerk se twee bundels deur en deur die moeite werd wees om na te gaan, soos ook ’n deeglike ekopoëtiese en ekologiese studie. Na my wete is daar nog nooit so volgehoue soos in Kaar en die laaste twee bundels deur ’n Afrikaanse digter ekopoëties en ekologies geskryf in die aangesig van die Antroposeen nie. Filosowe sou die filosofiese onderbou met vrug kon nagaan vanaf Plato, die Sofiste, Heidegger, tot Nietzsche, Nancy (veral The ground of the image). So ’n transdissiplinêre poësie het ek nog selde gesien. Ook intertekstualiteit, sowel as intratekstualiteit binne die Van Niekerk-oeuvre kort intensiewe aandag. Soos insgelyks die aard van die metrumpatrone en die gebruik van rym en ander versifikasie-middele.

Breyten Breytenbach | Foto: Naomi Bruwer

 ’n Vergelyking met Breyten Breytenbach se Die na-dood (2016) vra ook om indringende herlees, en vergelyking met Van Niekerk se laaste projek. Heelwat van die tegnieke en versperrings wat ek as kritiese leser indertyd daarmee ondervind het, blyk by herbeskouing en nadenke kon veroorsaak gewees het deur agterhaalde, verouderde maniere van lees (sien The limits of critique, 2016, Rita Felski). Vanuit my perspektief in middel-2018 lyk dit asof albei digters besig is met ’n verwante projek. Hy skryf selfs ’n jaar gelede op Versindaba in “(m)aanwesig: die saamnaat ’n landelike berig” in dieselfde trant:

ons skaduwees van skrywe is stil
huisbediendes, skaapwagters wat geen afstand
onderskei tussen skaap en ster, verre gesante
met die glinsterende brokaat
van ou-ou woorde oor verslete klede

(Versindaba, my kursivering)

Van Niekerk se Gesant van die mispels word hiermee duideliker. Dié byna uitgestorwe vrugte vra om nog ’n “verleiding van allegorie”; dit verwys nie net na die eerste vrugtebome deur Van Riebeeck aan die Kaap aangeplant wat op hul beste smaak as effe verrot nie, dit dui ook op ou digters (en kritici!) wat reeds aan’t “vermolm” is (’n opvallende woord in die tweeluik: eers “vermolming” en later “molm” en “verstuiwing” wat as sinoniem gelees kan word met Nancy se verpoeiering (“pulverulence” in The ground of the image, 74): “one enters into pulverulence and into the dance of points”, by die kyk na ’n video.  En later “the distinction between text and image is virtually effaced”. Dit word ’n onwaarskynlike eenheid van die twee.

Die verwante projek van die twee ouer digters is ’n ook projek wat Breytenbach reeds in die ongebundelde vers “Nagspalms” op Versindaba in soveel woorde duidelik naam gegee het. Dit kom van ’n Etruskiese woord, mnema – ’n grafsuil, die ingraveer van teks op ’n grafsuil of sarkofaag van die beste kenmerke van die ontslapene, ’n vorm van herdenking, ’n gedenkteken. Dit kan ook ’n boek wees, soos die boek na sy dood aan Derrida opgedra. Die betekenis van mnema word deur ’n redakteur verhelder in die Derrida-herdenkingsboek:

Mnema aber bedeutet Andenken, Gedächtnis, Erinnerung, Erwähnung, Denkmal, Grabmal. Subtil zeigt sich in dem Wort an, daß jedes Sprechen, in dem Lebendiges Erwähnung findet, auf eine Abwesenheit verwiesen ist, die sich in keiner Gegenwart versammeln lässt. Diese “différance” vor allen Unterschieden hat sich im Werk Derridas ebenso nachgezeichnet wie vorgeschrieben. (https://www.zvab.com/Mnema-Derrida-Andenken/13321824432/buch)

[Mnema beteken egter aandenking, herdenking, herinnering, vermelding, denkmaal, grafsteen. Subtiel dui dit in die woord aan dat elke gesprek waarin na die lewende verwys word, op afwesigheid aangewese is, wat nie meer in die hede agterhaal kan word nie. Hierdie différance is, buite alle verskille om, in die werk van Derrida na te gaan, soos voorgeskryf. (My vertaling)]

Naby Veii of Veio (https://en.wikipedia.org/wiki/Portonaccio_(Veio), ’n ou Etruskiese plek 16 km noord-noordwes van Rome, is daar ’n grot, genaamd Nacre, waaroor Breytenbach al geskryf het in “Nagpsalms”. Daar is ’n nekropolis met Etruskiese reste, vandag ’n plek van opgrawings. Ek laat dit in die midde wat daar in Van Niekerk se bundel met ’n sarkofaag wat om “die hele ligte hede” oopval, bedoel sou kon word en die relevansie van ’n uitgestorwe taal en beskawing, soos die Etruskiese reste met uitgrawings by die Nacre-grot. Daar is ook ’n tempel vir Minerva. Minerva is ’n Etruskiese woord, verwant aan Latyn mens, in Engels mind, of in Afrikaans verstand en aan die Grieks menos (“gees”, “krag”), asook mimnesko (“om te onthou”).

George Steiner se Language and silence  is insiggewend oor taal en die lotgevalle van taal. Hy skryf spesifiek oor Duits ná die holocaust in sy essay “The hollow miracle”.

Dié twee laaste bundels van Van Niekerk is in April 2018 in Nederland in een band gepubliseer as In de stille achterkamer (sonder die biografiese nawoorde). ’n Wyer reikwydte aan resepsie is hopelik te verwagte. Maar dit sal tyd neem, baie tyd, want dié tipe werk is nie vir vinnige vertering bedoel nie.4 Mandelstam het gesê dat hy sy verse skryf soos briewe in ’n bottel, vir die nageslagte. Maar wat sal gebeur as daar nie meer nageslagte is wat die taal kan lees nie? In ieder geval nie meer op die vlak waarop verwikkelder skrywers soos Van Niekerk en Breytenbach skryf nie? Van Niekerk skryf só by die “spruite” in die aspersiebondeltjie “met ’n donker twyg gebind”:

... die krul
van die oneindigheid geprent
vlak langs die reguit kraak.
(...)
(Jy) (...) skil of skilder
niks, tot waak bereid
en slapeloos – die elpelote
in die maanlig bespook jou
met hul Eyridice-agtigheid.
(...)
soos die wande van ’n sarkofaag
val die hele hede los
om ligte lede oop.
                                        (2017a:31)

Die woord lede kan “ledemate” van ’n lyf beteken, maar ook diegene behorend tot ’n groep (ook ’n voorgevoel, of met spyt, verdriet of jaloesie toekyk, of iets onder lede hê). Niks hoef hier uitgelê te word nie. Die beeld praat self, met die oog. En die woorde bevestig dit.

Uit die buiteland kry ek onlangs dié kommentaar oor die bundels van ’n uitgeweke Engelssprekende digter (wat ’n bietjie Afrikaans magtig is, maar al byna 40 jaar weg is uit Suid-Afrika):

Am looking through the Van Niekerks with amazement and admiration – such beautiful image/text amalgams. As ever, the poets working in Afrikaans are producing hugely ambitious mind-stretching work compared with the rather commonplace, amateur products of the English writers. They (the Afr poets) are engaging with both Africa and Europe in a heroic and epic manner. 

Afrikaanse lesers is bevoorreg om in 2018 nog dié werk in ons eie taal te kan lees. En nog ons eie Homerusse in ons midde te hê.

 

Eindnotas

1 Finansiële ondersteuning vir die nodige navorsing en boekaankope met dank erken, soos verskaf deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Navorsingsraad (NRF: National Research Foundation), en die Nelson Mandela Universiteit word hiermee erken.

2 Met dank aan Basil du Toit vir gedeelde insigte.

3 ’n Kort boek, gratis hier aflaaibaar: https://www.academia.edu/36965829/Ecological_Aesthetics_artful_tactics_for_humans_nature_and_politics_introduction

4 Ook dankie vir gesprekke gevoer, boeke geleen of materiaal gepos oor die Van Niekerk-bundels (soos oor Die na-dood vroeër) aan Philip John en Waldemar Gouws.

The post <em>Gesant van die mispels</em> en <em>In die stille agterkamer</em> deur Marlene van Niekerk: ’n LitNet Akademies-resensie-essay appeared first on LitNet.

Jong lesers: Dink hieraan as jy ’n boek resenseer

$
0
0

LitNet het onlangs jong lesers uitgenooi om hul indrukke van boeke te deel.  Maar hoe skryf mens 'n goeie boekresensie? Henriëtte Loubser wat spesialiseer in kinder- en jeuglektuur, verskaf hier ’n paar wenke. Lees ook resensies deur jong lesers hier.


’n Boekresensie behoort ’n behoorlike lusmaker vir lees te wees. Dit behoort jou te lok en te verlei om ’n spesifieke boek te lees. Dit kan egter ook waarsku om liewer daarvan weg te bly!

Indien jy ’n keuse het, resenseer ’n boek waarvan jy gehou het. Dis nie lekker om ’n boek te lees wat jou verveel nie en dit is nog minder lekker om te moet skryf oor ’n aaklige leeservaring.

Dit is belangrik om te onthou dat daar eintlik geen resep is vir ’n goeie resensie nie. Soos enige kunsvorm, is dit is iets wat deur oefening geslyp word. Dit is ook baie belangrik dat ’n resensent baie en wyd lees en sodoende goeie kennis oor boeke en skryfsake opdoen.

Hier is my wenke aan jou:

  • Maak seker dat die boek wat jy resenseer, vars in jou geheue is. Moenie ’n boek wat jy lank terug gelees het, resenseer nie. Lees dit eers weer van hoek tot kant deur.
  • Die keuse is joune, maar ek lees altyd eers ’n boek vir die lekkerte deur. Dan lees ek dit weer terwyl ek aantekeninge maak van dinge wat my opval/interesseer/aangryp of dinge wat pla of irriteer. Vra heeltyd vir jouself vrae terwyl jy (die tweede keer) lees, byvoorbeeld: Vloei die storie lekker vlot, of is dit onnodig langdradig? Kan jy nie wag om te lees wat volgende kom nie, of blaai jy sommer bladsye vooruit? Klink die karakters soos regte mense of hoor jy eerder die skrywer praat? Dit help om ’n mening te vorm.
  • Of jy kan die boek lees en reeds van die begin af vir jouself notas van jou ervaring maak. Of as jy ’n goeie geheue het, kan jy sommer net onthou. Die belangrikste is dat jy dit geniet!
  • Gee reeds aan die begin van jou resensie bibliografiese inligting oor die boek. Noem die titel, die skrywer en die datum van publikasie. Jy kan ook die uitgewer, ISBN en die prys van die boek gee. Dit is dalk ook ’n goeie idee om vorige werke van die skrywer en die datums van publikasie hier te noem.
  • Jy kan reeds in die inleiding sê wie die teikengroep is. Of jy kan teen die einde van jou resensie noem vir watter ouderdomsgroep die boek bedoel is, of wie die boek sal geniet. Soms is dit lesers van 8 tot 80 jaar.
  • Noem in watter kategorie (genre) die boek val. Met ander woorde, watter soort storie is dit? Is dit byvoorbeeld fantasie, wetenskapfiksie, ’n liefdesverhaal of ’n riller?
  • Nou kan jy ’n kort opsomming van die verhaalgebeure gee. Gewoonlik is ’n resensie kort; wees dus bondig. Moet net onder geen omstandighede die storie uitlap nie! Jy kan dinge noem wat die leser nuuskierig sal maak, maar moet nooit sê wat die uiteinde van die storie is nie. Jy kan byvoorbeeld so iets sê: “Jaco, die hoofkarakter, worstel met probleme. Hy ontdek ’n donker kant van homself wat hom telkens in die moeilikheid laat beland.” Hier het jy nou die leser nuuskierig oor ’n hele paar dinge rondom die hoofkarakter, sonder om enige geheime weg te gee.
  • Gee nou ’n kort, kritiese ontleding van die verhaal. Dit beteken jy moet die tema identifiseer, en sê waar en wanneer die storie afspeel. Dit is ook waar jy die karakters aan die leser voorstel. Sonder om afbrekend te wees, is dit ook hier waar jy dinge noem wat vir jou opvallend was. Begin byvoorbeeld by die titel en sê hoekom hierdie benoeming gepas is (of hoekom dit glad nie vir jou werk nie). Fokus op die boek in jou hand en moenie “slim” probeer wees nie, veral nie ten koste van die skrywer nie. Sê byvoorbeeld dat die verhaal realisties is en dat die hoofkarakters tipiese onsekerhede wat verliefdheid bring, ervaar. Maar as die skrywer te hard probeer om byval te vind, noem dit, byvoorbeeld: “Die taalgebruik van die hoofkarakter is soms byna onnatuurlik en mag dalk die leser pla.” Hier gee jy jou eie mening, iets wat die skrywer dalk in die toekoms nuttig kan gebruik. Onthou egter steeds dat dit jou mening van die boek is. ’n Ander leser mag dit heel anders ervaar. Moet dus nooit veroordelend wees nie. Hou jou kommentaar lig en gee heeltyd redes of voorbeelde uit die teks vir jou aannames.
  • Probeer om die styl, trant en gevoel van die boek weer te gee. Dit kan jy doen deur gedeeltes in die teks aan te haal wat vir jou besonders of pittig was, soos interessante sêgoed of gewoontes van ’n karakter.
  • Onthou, alhoewel ’n resensie ’n ernstige saak is, moet dit steeds lekker leesstof wees wat belangstelling in ’n boek sal prikkel. Dit behoort ’n potensiële leser te laat besluit of hy/sy die moeite wil doen om die boek te lees of nie. Span humor in!
  • As ’n boek oor ’n ernstige onderwerp handel, kan ’n ernstiger aanslag gevolg word. Noem dit as ’n boek gewaagde onderwerpe aanraak, maar noem ook die wyse waarop die skrywer dit doen. Doen hy/sy dit met begrip en deernis en dalk ’n skoot goeie humor, of is dit ’n onnodige gewroeg wat die leser negatief en hopeloos laat?
  • As jy ’n kinderboek resenseer en daar is illustrasies by, is dit altyd nodig om ook dit te bespreek. Hier kan jy byvoorbeeld noem of die tekeninge kleurvol en vrolik is, of dit die teks komplementeer en hoe dit bydra om die storie te vertel.
  • Deur op goeie eienskappe van ’n boek te wys, help die resensent om meer mense te lok om te lees. Dit beteken egter nie dat jy net “nice” hoef te wees nie. As iets pla, kan jy dit op ’n mooi manier noem. Dit is jou reg en taak as resensent. Die eintlike doel bly egter om lesers aan te moedig om te lees en om ingeligte keuses te maak as dit by boeke kom.
  • Onthou altyd: dit is ’n geleentheid hierdie om vir ander te vertel hoe lekker dit is om te lees.
  • GENIET DIT!

The post Jong lesers: Dink hieraan as jy ’n boek resenseer appeared first on LitNet.


Jong lesers: The adventures of Captain Underpants deur Dav Pilkey

$
0
0

Captain Underpants
Dav Pilkey
Uitgewer: Scholastic Children's Books
ISBN: 9780439014571

Die boek The adventures of Captain Underpants was vir my baie interessant en ek kon dit glad nie neersit nie. Die skrywer, Dav Pilkey, het baie boeke geskryf, maar dié een is die beste van hulle almal. Kom ek vertel jou ’n bietjie meer.

Twee kinders is beste vriende en hulle name is George en Harold. Hulle gaan na ’n vervelige skool, want niemand anders is so gelukkig soos hulle nie. Hulle skryf ook boeke van ’n held en sy naam is Captain Underpants. 

Eendag hipnotiseer hulle hulle skoolhoof om te dink dat hy Captain Underpants is. Nou is elke dag vir hulle ’n avontuur. 

Dit is so ’n pragtige storie. Ek sal dit beslis aanbeveel.

The post Jong lesers: <i>The adventures of Captain Underpants</i> deur Dav Pilkey appeared first on LitNet.

Jong lesers: The Twits deur Roald Dahl

$
0
0

The Twits
Roald Dahl
Illustreerder: Quentin Blake
Uitgewer: Puffin
ISBN: 9780141365497

Die boek The Twits is vir my baie snaaks en interessant. Die hoofkarakters in die boek is meneer en mevrou Twit. Mevrou Twit is my gunstelingkarakter. Sy het ’n glasoog en loop met ’n kierie om honde, katte en kinders uit die pad te slaan. Het jy al ooit gehoor van ’n man en vrou wat gedurig wraak neem teen mekaar?

Mevrou Twit het wurms in meneer Twit se spaghetti gesit en dink dis ’n slim idee, maar meneer Twit dink nie so nie en beraam ’n plan om mevrou Twit in eie munt terug te betaal. Meneer Twit sit ’n padda in mevrou Twit se bed. Toe sy in die bed klim, is die padda by haar voete. Sy skreeu so hard dat die hele wêreld kan hoor. Die padda het na haar gesig toe gespring, met snaakse gevolge. Elke dag gaan dit so dat hulle wraak teen mekaar neem. Ander karakters kom maak ook hul verskyning in die boek, soos ape en voëls.

Ek hou baie van die skrywer, Roald Dahl. Hy het al verskeie nommer een beste verkopers en hy is ’n goeie storieverteller wat my laat lag. As jy Roald Dahl se boeke koop, gaan 10% na liefdadigheid.

My gunstelingstuk is die een waar die ape en voëls meneer en mevrou Twit se huis onderstebo omdraai. Die stuk wat ek die minste van gehou het, is die een waar hulle die voëls probeer skiet.

Baie snaakse dinge gebeur met meneer en mevrou Twit. Dit is ’n baie interessante boek. Toe ek die boek begin lees het, wou ek dit glad nie neersit nie. So lees die boek en vind self uit wat alles met meneer en mevrou Twit gebeur het.

The post Jong lesers: <i>The Twits</i> deur Roald Dahl appeared first on LitNet.

Jong lesers: Middernagfees deur Jaco Jacobs

$
0
0

Middernagfees
Jaco Jacobs
LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799345186

Jaco Jacobs is my gunstelingskrywer en ek verslind al sy boeke. Ek hou veral van grilstories en was baie bly toe ek Middernagfees by ons plaaslike boekwinkel sien.

Ek was so opgewonde dat ek sommer dieselfde aand al begin lees het en amper die hele boek klaar gelees het. Die boek het 96 bladsye met 14 lekkerlees- en grillerige stories. Dis ideaal om gou voor slaaptyd ná ‘n lang skooldag te lees om net ‘n bietjie te kalmeer voor skool weer begin. Jaco Jacobs se boeke lees maklik en dié een is glad nie ‘n uitsondering nie. Veral omdat dit kortverhale is, is dit lekker ontspannend (en ook lekker grillerig!) om te lees voor slaaptyd. Dit bevat mooi kleurvolle prente en lekker duidelike woorde geïllustreer deur Chris Venter, wat die boek ophelder.

Jaco se boeke lees altyd maklik en dit voel of ek in sy stories is en saam alles doen. In Middernagfees is daar kortverhale en lang verhale oor aliens, monsters, vampiere, weerwolwe en ‘n groot groen slymerige padda en nog baie ander grillerige goeters. Ons seuns hou mos van al die grillerige dinge. Ek weet meisies sal seker minder van dié boekie hou – meisiekinders is mos vies en bang as hulle sulke dinge lees.  Daar is nie net bangmaakstories nie; sommige van die stories is snaaks en rym tot. Ek het lekker gegiggel in die hoofstukke waar daar ‘n boetie of sussie is. Ek het self ‘n boetie en weet van al die grillerige goed wat babas in hul monde prop. Die meeste meisies sal seker nooit die kamma-snot-storie gelees kry nie en heeltemal te veel gril soos altyd. Of in elk geval die meisies in ons skool. Ek verstaan dit nie lekker nie, maar ek is bly Jaco skryf daaroor sodat daar lekker stories vir ons seuns ook is om te lees en te geniet. My ma hou ook baie van sy boeke. Kersfees het sy vir my een gekoop wat hy spesiaal vir my geteken het! Daar is tot jou eie resep om groen slym te maak. Dan kan ek by die skool daarmee speel en meisies baie bang maak en wegjaag! (WONDERLIK!]

The post Jong lesers: <em>Middernagfees</em> deur Jaco Jacobs appeared first on LitNet.

Jongleserskompetisie: wenners aangekondig!

$
0
0

LitNet het passievolle inskrywings vir hierdie kompetisie ontvang. Die redaksie spreek hul waardering uit ook teenoor onderwysers en ouers wat die moeite gedoen het om jong lesers se indrukke aan te stuur.

Die kompetisie is nou gesluit en pryse sal nie meer toegeken word nie, maar aan almal wat deelgeneem het, of leerders wat nie hierdie slag betyds kon inskryf nie: stuur gerus vir LitNet jou indrukke van 'n boek wat jy geniet het om te lees, of 'n boek waaroor jy graag iets wil sê. Dui asseblief jou ouderdom of graad daarby aan. Ons bied graag 'n platform vir jong lesers wat wil vertel watter stories tot hulle spreek.

Die wenners van hierdie kompetisie is: Ellard Rademeyer, Abigail Tollig, Renaldo van der Merwe en Wynand Wessels. Baie geluk aan die wenners!

Lees die inskrywings vir die kompetisie hier.

As jy vir LitNet 'n jonglesersindruk wil stuur, gebruik asseblief hierdie adres: jonglesers@litnet.co.za.

  • Lees ook Henriëtte Loubser se wenke vir jong lesers wat resensies wil skryf:

Jong lesers: Dink hieraan as jy ’n boek resenseer

 

The post Jongleserskompetisie: wenners aangekondig! appeared first on LitNet.

Ystervuis uit die see deur Arnè Söderland en Douw Steyn: ’n resensie

$
0
0

Titel: Ystervuis uit die see: Uiters geheime seewaartse Recce-operasies (1978–1988)
Arnè Söderland en Douw Steyn
Uitgewer: Jonathan Ball
ISBN: 9781868427796

Baie boeke is al geskryf oor die Suid-Afrikaanse magte in die Grensoorlog, maar weinig is bekend oor die rol van ons seemagte. In hierdie boek word verslag gedoen van 50 uiters geheime see-operasies deur 4 Recce, ander Spesmagte-eenhede en die SA Vloot. Die skrywers was self betrokke en het ook toegang gekry tot dokumente wat sedertdien gedeklassifiseer is. Die boek, wat oorspronklik in Engels geskryf is (met die titel Iron fist from the sea, 2014), is nou in Afrikaans verkrygbaar.

In Ystervuis word in groot besonderhede geboekstaaf hoe die seemagte en die 4 Recce-eenheid – wat van meet af op die been gebring is – die revolusionêre magte in alle opsigte ore aangesit het. Hiervoor is die verskeie aanvalsvaartuie en die drie Daphne-duikbote aangewend. Hulle is later met kajakke, Zodiacs (rubberbote) en Barracudas (vasteromptuie) toegerus.

Die boek beskryf ook hoe die maritieme doktrine uitgebrei is. Dit het die ontwikkeling van ’n reeks swem-, verkennings- en bootkursusse ingesluit, tesame met die ontwerp van spesialis platforms vir amfibiese aanvalle.

Die Recce-magte was klein – om en by 45 soldate – en het wit en swart ingesluit. Hulle was die room van die Republikeinse magte. Later is goedgesinde rebelle betrek en in die geheim na behoefte opgelei. Sommige soldate was nog bloedjonk, en almal het hulle met onderskeiding gehandhaaf en baie medaljes is vir dapperheid en leierskap toegeken.

Die Daphne’s is tot die maksimum getoets en het die vyand heeltemal onkant gevang omdat hulle getwyfel het oor die duikbote se reikafstand – van Angola tot Mosambiek en Tanzanië – en oor hul vermoë om verskuiwende sandbanke in riviermondings te navigeer. Die vyand het ook nie die vereiste sonarvermoë en gesofistikeerde radar en personeel gehad om dit effektief te gebruik nie en was oor die algemeen swak opgelei.

Die doel was altyd sabotasie en ontwrigting van vyandelike operasies en daar is nooit van swaar aanvalswapens gebruik gemaak nie, hoewel ANC-kantore in Mosambiek opgeblaas en militêre skepe – ook van Rusland – met plofstof opgeblaas is. Die agterste kanon is van die aanvalsvaartuie verwyder om meer verblyfplek vir operasionele personeel te maak.

Burgerlikes is nooit geteiken nie en operasies het met groot omsigtigheid geskied om Suid-Afrikaanse ongevalle tot die minimum te beperk. Natuurlik het operasies soms skeefgeloop, soos toe twee soldate gesneuwel het en kapt Wynand du Toit gevange geneem en voor die wêreldmedia geparadeer is.

Steyn en Söderlund se chronologiese ontledings van die operasies getuig van hul vaardighede. Die uitdagende Operasie Kerslig (1981) (met een ongeval en ’n paar beserings) op ’n olieraffinadery in Luanda is maar een van die talle ondernemings wat in besonderhede beskryf word en die hare op jou arms laat rys.

Daar word spanningsvol beskryf hoe in een van die operasies ’n aanvalsvaartuig in dolle vaart in ’n vlak gety (twee meter) met sy operateurs ontsnap om die opkomende son te ontduik.

Die leser word deurgaans beïndruk deur die Suid-Afrikaanse beplanning. Daar is altyd voorsiening gemaak vir ’n aanvals- en ontsnaproete. Operasies het in die strengste moontlike geheimhouding geskied en het onder die beskerming van die nag geskied. Selfs die baasspioen Dieter Gerhard het geen lekkasies ontvang nie.

Aanvalsvaartuie is dikwels as visserskuite gekamoefleer deur hul nagnavigasieligte te wysig. Die SAS Tafelberg, SAS Pres Steyn, SAS Protea en die SA Lugmag is ook by geleentheid ingespan.

Daar is deurgaans slegs van Suid-Afrikaanse deskundigheid gebruik gemaak.

Die boek is met talle foto's, sketse en kaarte geïllustreer. Die skryfstyl is militêr en die inligting is afkomstig uit militêre dagboeke. Redes word vir al die operasies verskaf, tot die politiese oorwegings wat vir optredes gegeld het. Volledige beskrywings word verstrek van hoe brûe, opslagplekke en toevoerlyne gesaboteer en vernietig is.

Die boek sal ook van onthullende waarde wees vir mense wat voor 1990 in die SA Vloot gedien het. Die oorspronklike Engelse publikasie is met meer geheime inligting bygewerk. Dis ook ’n moet vir enigeen met ’n belangstelling in die uitmuntende Spesmagte. Dit neem jou na die hart van die aksie, adrenalien en vrees van seewaartse operasies. (Die Engelse weergawe sal ook van waarde wees vir militêre akademies wêreldwyd.)

Die boek en sy indeks beslaan 488 bladsye. Skoutadmiraal Söderland het 40 jaar in die SA Vloot gedien en luitenant-kolonel Steyn was 19 jaar lank ’n Spesmag-operateur. Een van die kenmerke van die boek is dat die skrywers op primêre navorsing steun en ’n gebalanseerde en akkurate weergawe van die 14 Recce-eenheid bied. Onderhoude is ook met verskeie recce’s gevoer.

The post <i>Ystervuis uit die see</i> deur Arnè Söderland en Douw Steyn: ’n resensie appeared first on LitNet.

Viewing all 1800 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>