Wat die hart van vol is
Peter Veldsman met Elmari Rautenbach
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781770229716
Hierdie lekkerleesboek van 250 bladsye word in ’n treffersin op die agterblad toepaslik beskryf as “’n Wyduiteenlopende herinneringsreis, deurspek met staaltjies, deur een van ons land se fynkospioniers ...” My mond het by tye letterlik oopgehang toe ek Wat die hart van vol is lees. Wat ’n interessante lewe het die formidabele Peter Veldsman nie gelei nie! En hoe bly is ek dat ek daaroor kon lees! Ek het kennis gemaak met ’n ander kant van ons geskiedenis – een wat vertel van die skatryk en talentvolle wie’s wie’e wat onder meer die wêreldverhoë en wêreldbekende restaurante en ateljees hulle speelplekke gemaak het.
Die gesindheid van “Why not?” het dikwels Veldsman se lot bepaal, en die meetsnoere het voorwaar vir hom in mooi plekke geval. Nie net het hy die heel eerste Galliova-toekenning as beste kosskrywer (eers vir Sarie en toe later vir Rapport) ontvang nie, maar hy vestig homself ook ná sy opleiding in Duitsland en Frankryk as “een van die pioniers van plaaslike fynkos” deurdat hy hom “vir meer as 20 jaar beywer het om van streekskos fynkos te maak”. Ook bekend as “Mister V”, eienaar van Emily’s, ’n kookskool en ’n kookklub, laat hy ’n restaurant-nalatenskap agter wat min hom sal kan nadoen. Hy publiseer 11 kookboeke en spog met plaaslike en internasionale bekronings, waaronder verskeie vir sy restaurantwynlys. Dan verwerf hy ook die internasionale Gourmand-prys vir sy boek ’n Mondvol lekker en kry ’n eerbewys van die internasionale Chaîne des Rôtisseurs.
Veldsman vertel onderhoudend in 49 hoofstukke van sy merkwaardige lewe. Hy is op Ladismith gebore. Sy kinderlewe gedurende “die dekade tussen die jare veertig en vyftig van die vorige eeu” was volgens hom hemel op aarde, sorgeloos en in baie opsigte idillies totdat hy later jare op Touwsrivier geboelie is toe hy saam met sy ouers soontoe trek nadat sy oupa Cilliers in 1948 oorlede is en die Nuricks die Royal-hotel waar sy ma gewerk het, verkoop het.
Oor sy gay-wees vertel hy: “Op ’n manier was ek reeds as voorskoolse kind bewus van my seksuele voorkeur. Ek kon net nie ’n naam daaraan koppel nie” (78). Hy skryf verder: “Ek het deur geen wroeging gegaan nie en kon dit selfs met my sin vir godsdiens vereenselwig. Dit was nie vir my nodig om uit die kas te kom nie. Ek was nooit ín ’n kas nie.” Later skryf hy: “Ek het begin worstel met die gay-kwessie ... Uiteindelik het ek, ná vele gesprekke met Allan Boesak, klarigheid oor die saak gekry. Dit was die begin van ’n lang en ondersoekende reis na die self en die noodsaaklikheid van godsdienstige toewyding. En dit het ek deur gebed en die ou liedboek gekry” (175).
Deur die loop van die boek gee Veldsman die leser glimpe oor hoe die politieke situasie destyds in die land daar uitgesien het, bv toe sy beste maat op Touwsrivier, ene Karel, op ’n dag net verdwyn. Later het sy ma met die waarheid vorendag gekom: “Daar was ’n nuwe wet in ons land wat wit mense van bruin mense geskei het ...” “Karel het gemengde bloed en sy ouers is aangesê om elders te gaan woon. Jy sal hom nie weer sien nie.” Veldsman beskryf ook hoe sy siening oor God oor die jare verander het.
Sy passie vir lekker kos, wyn, klassieke musiek en letterkunde is onmiskenbaar. Die teks is dan ook deurspek van interessante mense (bv musikante, dirigente, politici, wynmakers, sjefs, skrywers en digters, intellektuele, en ander) asook gebeure. Op bl 55 lees ons van Hans Herre wat in 1925 aangestel is “as die eerste kurator van die Universiteit Stellenbosch Botaniese Tuin”. Herre het ’n wêreldwye sensasie veroorsaak toe “’n Welwitschia mirabilis, wat hy 23 jaar tevore van saad laat ontkiem het, suksesvol gekeël en saad gevorm het. Dit was die eerste keer dat ’n plant in verbouing, enige plek op aarde, dit gedoen het!”
Veldsman gee ook heerlike agtergrondinligting in sy vertellinge. Hy nader op ’n stadium die sopraan Cecilia Wessels vir ’n musiekbyeenkoms. “Sy was reeds bejaard, die stem nie meer wat dit was nie”, maar hulle “kom ooreen oor ’n lang program wat sou bestaan uit Afrikaanse volksmusiek, kunsliedere en opera-arias” (82). Die Konservatoriumsaal in Stellenbosch is die aand van die uitvoering propvol met die “who’s whos” van die musiekwêreld. Terwyl Wessels “Brand, fakkel, brand” (die woorde van die eerste staatspresident, CR Swart) sing, gaan die ligte opeens af. Wessels bring toe ewe ’n flitslig van agter haar rug uit en sing ongestoord voort. Sy het hierdie stukkie dramatika glo skelmpies vooraf met die saalopsigter gereël. Veldsman noem dat hy aan die einde van die program die begeleier, Helena van Heerden, jammer gekry het, want Wessels het uitasem geraak en begin note sny. Die gehoor het egter hulle ondersteuning aan Wessels bly gee en aangedring op nie minder nie as drie toegifte. Hy skryf: “Die laaste item was Brahms se bekende wiegieliedjie. En skielik was die groot kunstenaar wat Cecilia was dáár en sing sy met ’n teerheid wat die gehoor tot trane beweeg.”
Die leser reis ook saam met Veldsman na verskeie Europese lande om hier die een gastronomiese ondervinding ná die ander te hê en ook saam met hom na wêreldklas musiekuitvoerings te luister. Hy besoek selfs Taiwan.
Daar is nie ’n vervelige oomblik in dié boek nie. Veldsman het inderdaad ’n baie vol, interessante en suksesvolle lewe gelei. Hy skryf dan ook op bl 250 as ’n nabetragting: “Om te kan werk, om my kennis te vermeerder, maar ook om uit te reik en die sterre te soek sodat ek dit met ander kan deel – dít is wie ek is.” Wat ’n besonderse mens – ’n legende!
Wat die hart van vol is is ’n uiters diggeweefde onthoureis. My lesersindruk skiet ver te kort om hierdie boek na behore aan die leser voor te hou. Skaf dit gerus aan indien jy ’n blik wil kry op ’n bekroonde fynkok se ongelooflike lewenspad waarop hy geweldig baie vermag het en ook skouers geskuur het met begaafde, mooi, bekende en skatryk mense van oor die wêreld. Die verwysings na onder meer Jonker, Oppermann, Breytenbach, Brink en ID du Plessis het my aandag as liefhebber van die letterkunde gehou. Eweneens sal die boek interessant wees vir fynproewers van kos, wyn en musiek. Om van die versameling wonderlike foto’s nie eens te praat nie! Maar dit laat ek vir die leser om self te ontdek. Ek hoop dat ek eendag vir Veldsman kan ontmoet sodat hy my kopie van Wat die hart van vol is kan teken.
The post Lesersindruk: <em>Wat die hart van vol is</em> deur Peter Veldsman met Elmari Rautenbach appeared first on LitNet.