Vlug van die gees
Cas Vos
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781928426943
Cas Vos het bekendheid verwerf as digter en as vertaler van Fragmente uit die Ilias, Fragmente uit die Odusseia en Il Paradiso. Vlug van die gees is sy 11de digbundel.
Die bundel is keurig uitgegee en toon op die voorblad ’n swaan, getitel Die bedreigde zwaan, ’n bekende skildery deur Jan Asselijn. Die kunswerk kom uit die Nederlandse Goue Era, ca 1650. In die vers "Die bedreigdes" (108) verwys die spreker na die kunswerk – die laaste strofe:
Hoe kan ’n bedreigde swaan haar
teen die blaffende en ongetemde
hond verdedig? Hoe kan óns uitsig
kry in ’n bestaan van sluipende gevaar?
Miskien wag die uit-koms in die misterie
van die paradys waar die oerchaos verdwyn.
Die bundel is verdeel in 11 afdelings. Die inleidende motto van Jorge Luis Borges heel voor in maak aanspraak op die genesende waarde van die woord. Die spreker-digter poog om met dié bundel Borges se siening gestand te doen.
In "Die fisika van ’n gedig" (2–3) word kwantumfisika as metafoor in die digterlike skeppingsproses betrek, ’n gedig wat gerugsteun word deur beeld en toepassing. Die stuwende enjambement wat die gedig laat voortdu, spoel oor in "Woordgolwe" (4), ’n vers wat eweneens op evokatiewe vlak handel oor ars poëtikale prosesse. In "Skeppergees" (5) kom die digter-god as skepper aan bod, ’n tema wat eindelik uitmond in "’n Verjaardaggedig (Vir Breyten 16 September 1939–) (13–15), waarskynlik die hoogtepunt van dié afdeling. Breyten Breytenbach se lewe word in ’n bestek van drie bladsye aangebied in kroniekvorm. Die spreker se bewondering vir Dante Alighieri blyk ook uit die gelyknamige vers (10–11). Ongelukkig gaan van die verse in deel een se "Woordmakers" mank aan konkreetheid en mis dit die nodige verheldering. ’n Mens kry die gevoel dat die spreker poog om ’n groot, goddelike klank te skep – maar ongelukkig vertroebel van die verse bloot in retoriese segginge.
In afdeling twee, "Armsalige wêreld", kom maatskaplike probleme soos werkloosheid, armoede en die vrees vir die naderende dood aan bod. "Werkloos" (18) beskryf ’n bedelaar by die robot, asook die motoriste se reaksie op hierdie man. Die ironie is dat die spreker as afsydige en onbetrokke waarnemer nét so skuldig is aan die voyeurisme as die ander motoriste: "’n Gesin wag vir die oorskot / en ek vir ’n wonder" (18).
Die volgende gedig, "Verlies" (19) vat die essensie van die tweede afdeling vas – strofe 3:
Ons is homunculus, homo corruptus:
afknouers van mekaar, besmet met korrupsie.
Mag ons gesuiwer word van skandes en skades voor ons sterwe,
laat kykers vol trane droom van skure en volop koringgerwe.
Op die agterflap verneem die leser dat Vlug van die gees vertalings van Griekse en Egiptiese gedigte bevat, asook sonnette en ’n ballade van Dante. Die bundel bevat ook heelwat omdigtings, toespelings, intertekstuele gesprekke en vertalings van Engelse gedigte. En dit is hiér waar die verwarring intree: Die totale aanbod van die verse neig na willekeur. Op sommige plekke word daar uitdruklik vermeld dat van die verse vertalings is, byvoorbeeld in deel vier en vyf ("Vertalings van Dante Alighieri se sonnette" en "Vertaling van ’n ballade van Dante Alighieri"). Waarom die slordige redaksionele versorging – by ’n direkte vertaling van "Kerse" (82) uit die Grieks, word "Konstantinos P Kavafis" byvoorbeeld in ’n subhofie aangedui. By "Wyse manne" van dieselfde digter (23) is dit weer die geval. Die toespelings op Ohara Hale se kinderboek Be still, Life (77) word op dieselfde wyse aangegee. Die vertalings, asook die omdigtings, van anderstalige verse loop lukraak deur die hele bundel en die leser loop die risiko om die Afrikaanse vertalings as Vos se eie werk te lees. In "Gedigte langs die Nyl" in deel agt word daar geen verwysing na die vertaling van hierdie Egiptiese gedigte aangegee nie – die leser lees dit terloops op die agterflap. Selfs al versny Vos se idiolek met dié van ander skrywers, is dit stééds protokol om op behoorlike wyse erkenning te gee aan die oorspronklike outeurs. Die bundel getuig van inkonsekwenthede en ’n roekelose omgaan met brontekste. Die "Literatuur geraadpleeg" agter in die boek is nie voldoende nie. Dit is nie die eerste keer dat die uitgewer en teksredakteur hul skuldig maak hieraan nie – in ’n resensie op Versindaba het Marlies Taljard die partye reeds oor die vingers getik oor die gebrekkige teoretiese verantwoording en toeligting in ’n resensie oor die Neruda-vertalings uit Spaans.
"Kersfees, 1914" (25) verwys na die skietstilstand tussen Engelse en Duitse soldate tydens die Kersfees in die beginjaar van die Eerste Wêreldoorlog. Die skrywer Henry William Williams, toe ’n 19-jarige weerman, het hierdie insident aan sy moeder in ’n brief beskryf. Vos het ’n omdigting daarvan gedoen:
Liewe Ma,
ek skryf tussen gewondes en treurendes
langs loopgrawe vol bloedbelope modder.
Neffens my ’n mistroostige vuurtjie,
Ma weet mos, hier is alles omgesukkel.
(...)
Deel drie, "Binnegloed", handel oor die liefde in al sy fasette. Die gedig "Kom saam" word ’n toespeling om onder meer Dickinson se "Some keep the Sabbath going to church" (31). Vos vertaal en verwerk graag verse van Dickinson: Só ook "'Hoop' is die ding met vere" (107), asook die spel met "The child's faith is new" in "Toe ek eens ’n kind was" (9).
In deel ses, "Twis met God" sit Vos sy literêre spel voort met "As ek saans na die hemelruim opkyk" (70). Die vers paradeer as ’n moderne parodie op en omdigting van bekende Bybelgedeeltes, onder meer Psalm 8. Dieselfde geld vir "Nuusdraer" (68–69), met sy inspeling op Psalm 191, en "Voor die regbank" (71), wat met Hooglied flankeer. Die "twis" met God in hierdie gedeelte kan dui op ’n anachronistiese spanning deur "ou" Skrifgedeeltes in ’n moderne konteks te transponeer. Vos verras deur ’n staning in ’n antieke, sowel as ’n moderne konteks, soos die volgende getuig:
(...)
Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam
oor die ganse aarde en oor die gedruis van die see,
ook in die fabriek, laboratorium en teater,
in die parlement, kombuis, skool en universiteit,
oral, ja oral, waar alles en almal wat van suurstof leef
u Naam met hallelujas deur die kosmos laat galm. (70)
In deel agt, die Egiptiese gedigte, verwys die spreker na Osiris, die god van die dood in die Egiptiese panteon, soos dit dan beslag vind in "Die dood staan voor my" (89) – ’n vers wat ook Breyten Breytenbach se vertaling van die betrokke vers in Boek (deel een) dryfpunt, voor die gees roep. Myns insiens is Breytenbach se vertaalpoging meer geslaagd en minder geforseerd.
Vlug van die gees is ’n ryk en geskakeerde bundel. Naas vertalings van die genoemde Griekse en Egiptiese verse, sonnette en ’n ballade van Dante sorg die digter vir ook afwisseling tussen vaste versvorm, vrye vers en verwerkings en omdigtings van bestaande literatuur. Vos verras plek-plek met ’n treffende gedig, byvoorbeeld "Chathédrale Notre -Dame de Paris" (109):
op 15 April 2019 het ontstoke vuur
wetteloos, soos heiligskenders, verwoed
deur wind aangehits die katedraal binnegeval.
Buite betreur mense verslae die verwoesting
en roep na God vir hulp: Kyrie eleison!
Selfs die engele is deur rookwolke verberg.
Hoe wonderskoon die katedraal ook al is,
ontsien die tohuwabohu geen lof en aanbidding nie.
Die sterre word uitgedoof en die maan is verskrik.
Ongelukkig, en ten spyte van die poging tot ’n veelstemmige aanbod, vervaag die bundel in geheel in eenselwigheid en is dit eerder die verdowende gereformeerde klank wat die leser bybly.
The post Resensie: <em>Vlug van die gees</em> deur Cas Vos appeared first on LitNet.