Where's Zuma?
Kobus Galloway
Uitgewer: Zebra Press
ISBN: 9781770228849
Met Where’s Zuma? slaan Kobus Galloway, die bekende skepper van die Idees Vol Vrees-spotprente, ʼn nuwe rigting in.
Sy kenmerkende kleurvolle sketse is steeds daar, maar moenie slim woordspelings verwag nie. Where’s Zuma? herinner in inhoud veel meer aan Zapiro as aan Idees Vol Vrees. Galloway bult hier sy spiere as politieke kommentator met groot sukses. Verrassend genoeg het hy besluit om hierdie boek in Engels te laat uitgee.

Kobus Galloway (foto: Twitter)
Die hardeband-, koffietafelgrootte-boek gee ʼn skalkse kopknik na Where’s Wally?, die gewilde kinderboek. Hierdie boek is egter veel eerder gemik op die volwasse leser wat polities op hoogte van sake is en ten spyte daarvan steeds ʼn sin vir humor besit. Where’s Zuma? gee ʼn kronologiese rekord van feitlik elke skandaal waaraan ons president se naam gekoppel is oor die twee termyne van sy leierskap. Kyk gerus uit vir verwysings na sy betrokkenheid by die kunste, die bouprojek om sy huis te beveilig en veel meer.

Foto: Kobus Galloway, Twitter
Anders as Zapiro en ander satirikusse verkies Galloway om sy sketse vir hulself te laat praat. Daar is nie woordborrels of enige kommentaar nie. Ek reken egter dat dit die sketse soveel meer oemf sou gegee het. Dis asof Galloway versigtig is om sy nek te ver uit te steek.

Foto op @IdeesVolVrees - Twitter - gedeel (uit: The Sunday Times)
Hierdie kritiek doen egter nie afbreuk aan ʼn boek wat sal sorg vir vele lagbuie nie. Dis ʼn lekkerlees-tekenboek wat nie sal teleurstel nie.

Met erkenning aan Kobus Galloway (Idees vol vrees)
Where’s Zuma? is in November 2015 deur Penguin Random House uitgegee, en kos R150.
The post Resensie: Where’s Zuma? deur Kobus Galloway appeared first on LitNet.