Donderslag
Wilbur Smith, vertaal deur Zirk van den Berg
NB-Uitgewers
ISBN: 9780795707544
Wilbur Smith het sy Afrikaanse debuut met Witwatersrand (Kwela, 2014) gemaak. Die oorspronklike titel was When the lion feeds (1964), en The sound of thunder (1966), nou vertaal as Donderslag (Adamastor, 2015), het daarop gevolg, met hoofsaaklik dieselfde karakters. Hierdie keer is die Suid-Afrikaanse Oorlog, of Anglo-Boereoorlog, van 1899–1902 deel van die aksie, wat die hoofkarakter Sean Courtney, ‘n amperse karikatuur van die alfa-man-held wat oral waar hy kom die natuur, vyande en beeldskone vroue ewe gemaklik oorwin, oorleef en ‘n vreemde stryd met sy broer, die skynheilige, haatdraende Garry, voortsit. Soos die verhaal ontplooi, kom allerhande vriende en vyande na vore, want Sean is geen diplomaat nie en mense hou van hom of haat hom; skynbaar is daar skaars ‘n middeweg as dit by dié bobaas vegter en minnaar kom. En al sy passievrugte, soos by sy einste broer se vrou én sy beste vriend s’n, skyn eenvoudig deel van die legende van Sean Courtney te wees. Smith slaag daarin om die onwaarskynlike en clichéagtige so aanloklik aan te bied dat die leser dit met sonder eens ‘n skouerophaling aanvaar. En gretig verder lees.
Natuurlik word sy amoreuse eskapades so uitgebeeld dat die leser self wens hy of sy kon daarin deel, eerder as om terug te deins vir die etiese dilemmas wat dit skep, vir Sean self en ook vir diegene wat hy willens en wetens aanraak. So nonchalant as wat hy sy manlike teenstanders in die stof agterlaat, so passievol stof hy sy minnaresse af. Wat ‘n man! wil ‘n mens uitroep, die soort waarop die Britse Empaaier mos gebou is – of op gebou móés gewees het? Ironies lyk dit egter asof die Ryk se vuurvreters eerder dun gesaai was en die slinkse en die immorele, verpersoonlik deur die boelieagtige generaal Buller en sy sikofant Garry Courtney, nogal die draer van die Victoria Cross, eerder die botoon gevoer het. Die leser weet sommer die skurke sal uiteindelik aan die pen ry en geregtigheid sal seëvier – indien nie destyds nie, wel in fiksie, en op Smith se genadelose manier. Soos sy karakters draai hy nie doekies om nie en is sy graaf se naam Gatskop Fieniesenklaar.
Soos in al sy romans, spin Smith nogmaals ‘n web van intrige wat swaar leun op toeval en ‘n tikkie melodrama om ‘n roman uit die ware “bestseller”-gietvorm te skep; dis aksie en romanse, nimmereindigend en in die oortreffende trap, en daar is skaars kans vir die karakters en die leser om asem te skep. Reg van die begin van Smith se loopbaan het hy reeds uitstekende ontspanningromans geskryf en die trefferformule behendig aangewend. Sy familiesages met die Courtneys en Ballantynes herinner sterk aan Louis L’Amour se pioniersavonture waarin verskillende generasies van die Sacketts en Chantrys mens en dier getem en hul fortuine gemaak het. Soos L’Amour is Smith ‘n meesterstorievertellers wat ook heelwat van hulle gekose milieus en geskiedkundige periodes bekendmaak: dis vermaaklik en leersaam, die basiese elemente van ‘n goeie historiese roman.
Tussen When the lion feeds en The sound of thunder het Smith The Dark of the sun (1965) geskryf en toe ‘n paar ander boeke – persoonlike gunstelinge is Eagle in the sky (1974), Eye of the Tiger (1975) en Hungry as the sea (1978) – voordat hy na die Courtneys teruggekeer het met A sparrow falls (1977). Altesaam het hy 13 boeke in die reeks geskryf uit sy meer as 30 romans sover. Daar is ook ‘n reeks van ses oor die Ballantynes wat min van die Courtneys verskil – duidelik versinnebeeld hierdie karakters Smith se ideaal van die koloniale droom, van vreeslose en kreatiewe baanbrekers wat selfs die mense wat hulle onderwerp se bewondering afdwing, in hierdie geval “big bwana” Sean Courtney se eie Tonto, die gedugte Zoeloe Mbejane.
Ek wonder waarom ‘n boek uit Engels in Afrikaans vertaal word – dis tog nie dat Afrikaanssprekendes nie Engels kan verstaan nie. Of het ons te min Afrikaanse historiese romans? Hoop die uitgewer om ‘n nuwe mark te bereik of te skep? Dat die vertaler wel daarin slaag om die oorspronklike teks in Afrikaans om te skakel sonder dat aan die vertellerstem afbreuk gedoen word, is egter waar – ek het The sound of thunder maklik 40 jaar gelede gelees, en geniet Donderslag net soveel. Smith het my weer ingetrek, en hoewel ek deesdae meer krities lees as ’n kwarteeu gelede, en soos Mark Twain glo dat ‘n mens clichés moet vang en doodmaak, is Smith se oorbekende oorlogstonele van stink derms en blink dapperheid steeds kleurvol genoeg om te geniet, en selfs die scenario van die koppige heldin wat daarop aandring om saam te reis na die dal van doodskaduwee en teen die aanvanklike weiering van die deurwinterde held tóg saamgaan en almal se harte met haar onverwagste vaardighede en verruklike skoonheid verower, bied Smith so vernuftig aan dat die meer ervare leser nogmaals stadig en genotlik aan dié ou winddroog bokkompie suie.
Met When the lion feeds / Witwatersrand het Smith ‘n heerlike stel karakters in ‘n redelik bekende omgewing (ons Afrikaanses kan uiteraard daarmee identifiseer) laat liefhê, moor, verneuk en roof en die pad nie net vir The sound of thunder / Donderslag oopgestel nie, maar ook vir ‘n hele gelid van soortgelyke avontuurverhale wat nou ook deur ‘n jonger generasie in Afrikaans geniet kan word. Altans, ‘n mens neem aan daar sal nog ‘n hele paar volg, in Afrikaans.
Ek glo nie ek wil regtig L’Amour se boeke in Afrikaans lees nie, maar ek kan Smith s’n tog aanbeveel, want Zirk van den Berg het dit baie oortuigend vertaal. En die vertalers hoef nie ‘n Afrikaans-vreemde milieu te verafrikaans en terme soos “gunslinger”, “bushwack”, “cowboy” of “sidewinder” te vertaal nie. Nee, inderdaad pas Donderslag heel goed in sy nuwe vel. Geluk aan Adamastor, en sukses toegewens met nog ’n paar pyle uit ou Wille Wilbur se koker. Ons geniet ook die Courtneys, hoewel net iemand soos Cecil John Rhodes regtig op hulle sou kon trots wees. Veral deesdae.
The post Boekresensie: Donderslag deur Wilbur Smith appeared first on LitNet.