Shéri – Nes ek is
Shéri Brynard
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796320308
Baie Suid-Afrikaners is bewus van Shéri Brynard, die vrou met Downsindroom van Bloemfontein wat ’n naskoolse kwalifikasie behaal het, wat ’n onderwysassistent is – die enigste persoon met Downsindroom wat dit ooit bereik het. Des te meer is jy van Brynard bewus as jy self eenmaal ’n Bloemfonteiner was en ook self ’n toespraak van haar by jou eie gradeplegtigheid gehoor het. O ja, sy is natuurlik ook ’n motiveringspreker en het ’n hele rits ander prestasies agter haar naam, onder meer Bloemfonteiner van die Jaar en Vrou van die Jaar, om maar enkeles uit te sonder. Haar CV is 70 maal 7 keer langer as myne. Die belangrikste item daarop is vir my die feit dat sy die internasionale ambassadeur van mense met Downsindroom is. Sy het die taak om alle persone met Downsindroom op aarde se belange te bevorder, maar in die proses is sy ook gemoeid met die motiveringsvlakke van die res van ons.
Maar daar is natuurlik veel, veel meer aan Brynard. Sy is ook ’n aktrise, iets waarvan ek onbewus was, omdat dit vir my niks minder as ’n straf sal wees om sepies op televisie te kyk na ’n harde dag op kantoor nie. Maar nie net is sy ’n TV-ster nie, sy het ook sukses behaal met verhoogproduksies. En nou is sy ook ’n skrywer van ’n boek oor haar eie lewe, wat veel meer besonderhede verskaf oor die omvang van haar werk en die lewe met Downsindroom.
Dit is ’n boek wat my baie geleer het. Natuurlik was ek nog altyd bewus van Downsindroom. My eerste kennismaking daarmee was waarskynlik as kind met die Amerikaanse TV-reeks Life goes on, wat hier as Môre is nog ’n dag oorgeklank is en waarna ook in hierdie boek verwys word. Die temalied was nog ’n opname van daardie bekende lied van die Beatles, “Ob-La-Di, Ob-La-Da”. Natuurlik het ek ook iets van die biologie van Downsindroom verstaan, maar daar het my kennis geëindig. En dit is hier waar Brynard se boek van soveel waarde vir my was. Die boek bespreek in besonderhede die idees en uitdagings rondom Downsindroom en hoe die idees oor die jare ontwikkel het. Daar is vandag baie wat die mediese wetenskap kan doen om mense met Downsindroom se lewensgehalte te verbeter, hoewel die meeste mense met Downsindroom nie toegang tot hierdie prosedures het nie, weens finansiële koste.
Die boek is in twee dele verdeel , met Shéri wat eerste aan die woord is, en daarna haar moeder, Susette, wat haar perspektiewe deel. Daar is ook addisionele insetsels deur ander familielede. Godsdiens speel ’n sentrale rol in die familie se lewens, en neem baie bladsye in beslag. Dit is miskien soms bietjie oordonderend, maar beklemtoon waarskynlik op akkurate wyse die familie se verhouding met die Christelike godsdiens. Die boek bevat ook agt bladsye se foto's, waarvan die meeste volkleur is. Dit vertel nie net die storie van die Brynard-familie nie, maar dien ook as platform vir bewusmaking van mense met Downsindroom en hulle uitdagings, is ’n godsdienstige getuienis, en dien ook as ’n verdere platform vir Brynard se werk as motiveringspreker. Aan die einde verskyn daar ook ’n lys met vrae en antwoorde deur Susette Brynard, wat ten doel het om haar kennis te deel met ander families wat ook lede met Downsindroom het.
Brynard se verhaal is merkwaardig, en dit is ’n goeie ding dat dit op skrif gestel is. Dit bied prikkelende leesstof oor ’n ernstige onderwerp. Mense met Downsindroom daag die “normale” mense uit. Dit is en was al baie in die verlede die praktyk dat babas met Downsindroom geaborteer word. Maar daar hang ernstige vraagtekens oor die gebruik. Persone met Downsindroom kan ook ’n sinvolle rol in die gemeenskap speel. Elke persoon met Downsindroom is ’n unieke en kosbare individu, nes ander “normale” lede van die gemeenskap, en dit is hoe hulle beskou en hanteer moet word.
The post <i>Shéri – Nes ek is</i> deur Shéri Brynard en Colleen Naudé: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.