Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1795

Boereverneukers deur Izak du Plessis: ’n resensie

$
0
0

Boereverneukers: Afrikaanse swendelaars, swierbolle en swerkaters
Izak du Plessis
Penguin Books
ISBN 9781776092185

Hierdie bundel van 14 boereverneukers bied lekkerlees.

Wat ook jammer is. Du Plessis is ‘n storieverteller, vlot, verknog aan woorde soos swerkater, gebruik graag die woord glo om sekere feite te staaf of nie heeltemal te staaf nie.

Moenie onthullings verwag nie.

Du Plessis gebruik reedsbekende feite, koerantargiewe en ‘n aantal publikasies, en herinner aan goeie ondersoekende joernaliste soos Martin Welz, Herman Jansen en Jacques Pauw. Huisgenoot is ‘n sterk bron. Moenie na psigoanalitiese, geskiedkundige of belangrike vernuwing in misdaadoplossings soek nie.

Jy gaan wel weer opnuut verbaas wees oor die Garies-gebore Adriaan Nieuwoudt se skouspelagtige vrotmelk-piramideskema. Die blote vindingrykheid en verneukery sal jou laat kopskud, en ook met 'n greintjie bewondering vir die aantreklike ou jakkals laat.

Jy gaan miskien nog meer verbaas wees oor die omvang van oom Paul, die nimlike staatspresident van die Transvaal, se jakkalsdraaie. Du Plessis toon geen genade vir Kruger se nepotisme, sy knoeiery met konsessies (laat jou dink aan hedendaagse staatskaping) of sy noue bande nie met Joodse grootgeld (nee, nee, ek dink nie aan die Guptas nie, maar kan dit nie verhelp nie). Du Plessis herinner ons ook hoe lank presidensiële ondersoeke in daardie republiek kon duur!

Om weer oor die Groot (en mislukte) Trustbank-rooftog van Derek Whitehead en Willem Antonie van der Merwe in die jare 1971 te lees, klink hartseersnaaks soos die twee uit hul verknorsing wou kom – grootse planne, grootse flaters. Amper op ‘n Keystone Cops-vlak.

Martin Radloff, die Houdini van die misdaadwêreld, herinner aan die negentigerjare toe Radloff nuwe betekenis aan die woord skurk gegee het met die beplanning van sy eerste vrou se moord deur sy tweede vrou (hy het tydens sy tweede vrou se moordverhoor met ‘n derde vrou getrou). Radloff het selfdood gepleeg en is nooit verhoor nie.

“Dr” André Esterhuizen het agt jaar lank as pediater en weermagkolonel sonder enige skoling gepraktiseer en die dood van baie babas veroorsaak.

Gervan Lubbe, van die destyds befaamde pynstillermasjientjie, het ook sonder geleerdheid en as aanvanklike Telkom-tegnikus die land en die VSA laat gons met sy mediese “uitvindings”. Ongelooflike rykdom, ongelooflike idees het van Lubbe ‘n koerantsensasie gemaak totdat ‘n ondersoekende joernalis, Elsabe Brits, agter die kap van die byl gekom het.

Arno Smit, die sg beesbaron, het in die VSA sy streke utigehaal – ook vroue gesjarmeer en toe verneuk; en Derek Haynes, die godfather van die Wes-Rand, het in ’n Ford Bantambakkie verdwyn, nadat hy ‘n nes van geld, dwelms en seks in sy besige onderwêreld bedryf het.

En dan, en dankie daarvoor: Du Plessis se herhaling van die vreemde verwagte opstanding van oom Paul Meintjies van Hertzogville. Die skurk agter hierdie amperse Middeleeuse verhaal was die evangelis David Francis, wat glo deur God meegedeel is dat oom Paul uit die dood sou opstaan. Vir meer as 60 dae het oom Paul se lyk in die dodehuis gelê tot die regering hom as armlastige laat begrawe het. David Francis het by oom Paul se weduwee, tannie Anna ingetrek.

Die oorbekende en ongeloofwaardige storie van Ruitertjie Ruiters word vertel, asook dié van die bekende Scotty Smith en die minder bekende Cecil Barnard se oorgrensmanewales. Du Plessis herhaal die lang, immer weer ondersoekte storie van Fritz Joubert Duquesne wat hom as Duitse spioen daarop geroem het dat hy die sinking van die HMS Hampshire en die gevolglike verdrinking van lord Kitchener georkestreer het.

Dy Plessis herinner ons ook dat Chris Barnard volgens Gervan Lubbe R10 000 betaal is vir sg publisiteit vir Lubbe se werk.

Ook dat Winnie Madikizela-Mandela 50% van die aandele in Martin Radloff se saak Professional Builders vir haar dogter wou koop. Mandela was toe adjunkminister vir kuns, kultuur, wetenskap en tegnologie. Sy het die trekpas uit die kabinet gekry en die koopsaak teen haar is later teruggetrek.

Die leser sal enduit lees, en vir Du Plessis vergewe vir sy soms te gemoedelike styl. Dis dalk die geselligste manier om oor boereverneukers te praat.

The post Boereverneukers deur Izak du Plessis: ’n resensie appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1795


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>