.............
Kassie dool omtrént tussen dié skare, een en elk met ’n motief vir moord. En natuurlik, in ware Rudie-styl, is dit maar net die begin van die legkaart, en wanneer die ondersoekspan twee treetjies vorentoe beweeg, gly hulle vyf agteruit.
.................

https://www.nb.co.za/af/view-book?id=9780795802553
Titel: Doolhof – ’n Kassie Kasselman dossier
Skrywer: Rudie van Rensburg
Uitgewer: Queillerie, 2022
Prys: R330.00
ISBN: 9780795802553
Epub ISBN: 9780795802560
Wanneer ’n omstrede oudpolitikus en skatryk sakeman van Kaapstad, die karakter Armand Deysel, vermoor word, moet hoofkarakters Kassie en Rooi baie vinnig agter die kap van die byl kom. Die media-aandag is aanhoudend; die druk van die base bó Kassie en Rooi se koppe is baie groot en gou het hulle niks minder nie as ses verdagtes.
Daar is die vermoorde se eggenoot wat so ’n ongewone huweliksverhouding met Armand gehad het dat sy dadelik na die skuldige lyk; die vermoorde se minnares met die bedenklike verlede en die argument in die motor voor sy dood; ’n verregse, onstabiele pa en seun wat baie rede het om weer te wou probeer om Armand uit die weg te ruim; ’n glibberige kalant in die uitsmyterbedryf; én ’n man wat glo dat sy broer se selfdood Armand se skuld is.
Kassie dool omtrént tussen dié skare, een en elk met ’n motief vir moord. En natuurlik, in ware Rudie-styl, is dit maar net die begin van die legkaart, en wanneer die ondersoekspan twee treetjies vorentoe beweeg, gly hulle vyf agteruit.
Intussen is ’n Britse ondersoeker op die spoor van die waardevolle Doolhof-halssnoer wat miljoene ponde werd is, en ’n platsakman wat sy selfrespek moet herwin, steier telkens terug van ’n onsimpatieke samelewing se dwarsklappe. Hy glo hy is gedoem om soos sy ma aan ’n balk te swaai – onwaardig om te leef.
NB-Uitgewers se persverklaring beskryf ’n gedeelte van die intrige soos volg: “Kassie en Rooi pak hul moordondersoek sonder veel forensiese rugsteuning aan – die polisie se sake is maande agter – en al die verdagtes hardloop kringe om hulle.” Dis die heeltyd net doodloopstrate en syspore, ’n ware doolhof om hom en Rooi.
Dan is daar nog die lokval waar daar op Kassie geskiet word; sy liefde wat waarlik begin blom en Rooi se moeilike vroulief wat soms dié speurder soos ’n brombeer met ’n seer toon laat rondloop en hom moeilik maak om mee huis te hou by die kantoor.
............
Gaan iemand dié keer vir Kassie en Rooi ore aansit en met die perfekte moord wegkom? Want dat die moordenaar uitgeslape is, is gewis.
...............
Gaan iemand dié keer vir Kassie en Rooi ore aansit en met die perfekte moord wegkom? Want dat die moordenaar uitgeslape is, is gewis.
Daar is ’n definitiewe storieontwikkeling in Rudie se boeke wat jou dwing om aan te hou lees: nie alleen raak jy elke keer ’n bietjie meer betrokke by die persoonlike lewens van Kassie en Rooi nie, maar elke verdagte wat voorgestel word, kry genoeg bladsyruimte dat jy óf glad nie van hulle hou nie en hoop dis die skuldige óf soveel simpatie het met die persoon dat jy hoop dis nie hy of sy nie.
Dit laat jou omblaai tot in die nanag wanneer jy weet jy gaan dit die volgende oggend ontgeld.
Daar was baie minder van Kassie en sy stiltetyd met sy seëls in sy woonstel en dit was interessant dat sy nuwe liefde die hele tyd oorsee was, maar net genoeg dat die leser kan verstaan hoe hy oor haar voel en dat daar dalk in die volgende Kassie-avontuur ’n lekker liefdeselement kan wees.
Ek was verstom oor hoe Rudie die soektog na die halssnoer slim verweef het, maar dit ook vir ’n hoofstuk of twee laat staan. Net voor jy vergeet die boek moet die halssnoer se geskiedenis verklaar, kom daar weer ’n melding en die intrige duur voort.
Hoe dit uiteindelik ontknoop, is iets wat ek glad nie voorsien het nie en ek hou van sulke lekker verrassings wanneer jy dink dat die verhaal se geheime eintlik almal klaar ontrafel is.
Rudie skryf hom al dieper in hierdie genre in en die ontwikkeling van sy storielyne is diep, vervleg en noukeurig nagevors. Bliksis! Dis geloofwaardig en lekker en ’n mens is spyt as die laaste bladsy onder jou vingers verbygly.
En natuurlik moet daar weer ’n karakter wees wie se sêgoed jou fassineer en jou laat lag of jou so irriteer (soos vir Rooi), want dit voel asof die man te veel nonsens praat en net waardevolle tyd mors.
Doolhof is soos sy vorige boeke heerlike leesstof vir Kassie-aanhangers, maar staan lekker op sy eie voete vir nuwelinge wat nog nie voorheen paaie gekruis het met Kassie en Rooi nie. Daar is net genoeg agtergrond oor Kassie se anderster lewe (hy is nie die gebruiklike suiplap-pierewaaier-speurder nie) sonder om aanhangers wat al glo hy is ’n regte persoon, te verveel.
Ek het een of twee hinderlike klein jakkalsies opgetel, waarvan die eerste een vroeg in die boek plaasvind oor die skraps tydlyn van Armand se vrou en haar vriendin wat gaan uiteet én ’n halwe teatervertoning kyk in ’n onmoontlike kort tydjie. Dit het my effe irriteer en ek was bang dit beïnvloed my houding jeens die geloofwaardigheid van die res van die boek, maar dit het gelukkig nie. Dit was gou vergete en ek was goed vasgenael.
The post <em>Doolhof</em> deur Rudie van Rensburg: ’n doolhof van gebeure en juwele appeared first on LitNet.