Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1797

Elf dae in Amsterdam deur Elizabeth Wasserman: ’n resensie

$
0
0

Agtergrond: https://pixabay.com/vectors/amsterdam-netherlands-houses-street-4167026/; boekomslag: NB-Uitgewers

Elf dae in Amsterdam
Elizabeth Wasserman
NB-Uitgewers
ISBN: 9780624093329 

Elizabeth Wasserman het reeds met haar jeugreekse soos Anna Atoom, Die Dingesfabriek en Speurhond Willem bewys dat sy feit en fiksie baie slim en kreatief kan kombineer om lekker en boeiende stories te skryf. Dit is dus geen verrassing dat toe sy ’n reeks vir ouer lesers aangepak het, sy dieselfde wenresep sou gebruik nie.

Die Elf dae-reeks is reis-cum-avontuurverhale, met ’n skoot magiese realisme hier en daar, waarin die hoofkarakter deurgaans in moeilike situasies geplaas word en op interessante avonture moet gaan om raaisels op te los. Die feit bly wel staan dat geen leser hierdie boeke gaan neersit sonder ’n wegneempakkie nie, wetend of onwetend. Moontlik een van daardie situasies waar jy op ’n dag, dalk tydens ’n vasvraspeletjie, ’n antwoord ken en nie weet hoekom jy dit weet nie. Seker die lekkerste manier van leer.

In ’n onderhoud met Naomi Meyer op LitNet noem Wasserman dat die meeste lesers ná die lees van die Elf dae-reeks die stories as romantiese avontuurverhale beskryf. Dit het my laat dink aan daardie Engelse slapbandboekies wat die biblioteektannie destyds vir my onder die toonbank deur aangegee het omdat ek op daardie stadium al alles in die tienerafdeling van die biblioteek gelees het. Danksy daardie (baie voorspelbare) Engelse boekies, waarop daar, moet ek byvoeg, baie neergesien is, het ek Europa op 14 deurkruis, en die kersie op die koek was natuurlik klokslag ’n soen op die tweede laaste bladsy. Het ek maar boeke soos die Elf dae-reeks gehad, sou ek nie net ’n paar vrae oor Europese lande kon beantwoord nie, maar moontlik ook “instinktief” meer empatie met ander se lewenservaringe hê. Jong lesers sal met die baie tipiese, sestienjarige hoofkarakter identifiseer en veel meer van hulle leeservaring wegneem as die destydse veertienjarige uwe (wat byvoorbeeld bitter min gemeen met ’n au pair wat op ’n knorrige wewenaarboer in Italië verlief raak).

Elf dae in Amsterdam is die vyfde titel in die Elf dae-reeks. Soos in die ander boeke is die hoofkarakter ’n sestienjarige meisie, maar Millie, die middelste van vyf kinders, het niks met Emma, Danika, Alycia en Frances, die hoofkarakters van die vorige vier boeke, te make nie. Elke storie staan op sy eie bene, maar in elkeen reis die hoofkarakter na ’n onbekende plek om daar nuwe dinge te beleef en oor die omgewing sowel as hulleself te leer. 

Hierdie keer reis lesers saam na Amsterdam, waarheen Millie se ouers haar gestuur het om haar tante ná ’n knie-operasie te gaan bystaan. Toe sy daar aankom, is haar tante egter steeds in die hospitaal en moet sy die eerste paar aande op ’n huisboot saam met veertien katte oorbly. Die Poezenboot, of Katboot, is ’n katskuiling en bedags ’n toeriste-aantreklikheid. Alles by tante Agnata se huis lyk boonop ook nie pluis nie, en met behulp van haar ouma se dagboek, wat haar ma in haar tas gesit het, begin sy raaisels van die verlede met gebeure in die hede met mekaar verbind. Uittreksels uit die dagboek ondersteun die verhaallyn in die teks toeligtend. Sy ontmoet ook vir Pim, wie se Nederlands baie naby aan Afrikaans klink en oor wie Millie uitvind dat sy ’n Suid-Afrikaanse ma het en in Bloemfontein gewoon het.

Soos van ’n reisverhaal verwag sou word, trakteer Elizabeth Wasserman haar lesers op ’n aantal kosbare aardighede oor Amsterdam en ook Amsterdam tydens die Tweede Wêreldoorlog. Die Poezenboot bestaan wel. Anders as wat baie mense glo, is dwelms nie wettig in Amsterdam nie. ’n Mens moet ook baie seker van jou saak wees voor jy sê iemand kom van Holland af, omdat Holland ’n provinsie in Nederland is. Hoekom die hoë geboue langs die kanale so hoog is en lyk asof dit vorentoe hel en daar hake bo-aan hulle geswels is, gaan ek wel nie verklap nie.

Soos die ander hoofkarakters in die Elf dae-boeke, beland Millie ook ’n paar keer in fisieke gevaar, en dís waar die moeder van Speurhond Willem die lyne tussen realisme en fantasie effe laat vervaag en Leeu, ’n reusegemmerkat, ’n rol laat speel as deel van haar redding- of ondersteuningspan. Ouma Hettie skryf in haar dagboek ook baie oor ’n groot rondloperkat, skynbaar die ewebeeld van Leeu, wat hulle ook Leeu genoem het – die Leeu van Amsterdam, nes een van die twee op Amsterdam se wapenskild. Teen die einde hoor Millie dat die “hedendaagse” Leeu Kater Murr heet, maar sy glo heimlik dat Kater Murr dalk sy agste of negende lewe beleef.

Hoewel daar ’n sprankie romanse op die horison tussen Millie en Pim wink en sy tydens haar vakansie in Amsterdam besluit dat seuns glad nie so sleg is nie, is dit die liefdesverhaal tussen Ouma Hettie en haar dagboek-Niels, wat tydens die oorlog verdwyn het, wat die hartsnare die meeste gaan roer soos wat Millie en haar nuwe vriende se navorsing kloutjies by ore bring. Jong lesers gaan, ten spyte van die tydvak, maklik met Ouma Hettie se verhaal identifiseer, omdat sy ook hulle ouderdom was toe sy die dagboek bygehou het toe sy en haar suster in Amsterdam vasgekeer was tydens die oorlog.

...........
Boodskappe van die afgryslikheid van oorlog en die ewigdurende gevolge en invloed daarvan word realisties dog sensitief en met ’n versigtigheid dwarsdeur die verhaal oorgedra, meesal reguit, maar partykeer sorg dit selfs vir ’n skoot humor.
...............

Boodskappe van die afgryslikheid van oorlog en die ewigdurende gevolge en invloed daarvan word realisties dog sensitief en met ’n versigtigheid dwarsdeur die verhaal oorgedra, meesal reguit, maar partykeer sorg dit selfs vir ’n skoot humor. Pim vertel byvoorbeeld aan Millie dat daar altyd tydens sokkerwedstryde tussen Duitsland en Nederland iemand is wat skree: “Ik wil mijn fiets terug!” omdat die Duitsers tydens die oorlog die Nederlanders se fietse gekonfiskeer het. Wanneer Millie aan die kwaai mevrou Pan, die buurvrou, noem dat die oorlog tog verby is en dat die twee gesinne as bure nie meer kwaaivriende hoef te wees nie, antwoord mevrou Pan: “de oorlog is nog lang niet voorbij!” Pitkos wat moontlik deur jong lesers verteer sal word om empatie met verskillende standpunte oor gebeure van die verlede te kweek.

Wasserman noem in haar LitNet-onderhoud dat sy wil hê haar lesers moet “bewustelik of onbewustelik voel dat hulle effens ryker is” ná hulle een van haar boeke gelees het. Vir lesers wat egter nie in wegneempakkies geïnteresseerd is nie, kan Elf dae in Amsterdam ook net ’n lekker storie wat goed geskryf en slim aanmekaargesit is, wees. Maar sterkte daarmee om dié boek “leë hande” neer te sit.

Lees ook:

Elf dae op ’n eiland: ’n onderhoud met Elizabeth Wasserman

 

 

 

 

 

The post <em>Elf dae in Amsterdam</em> deur Elizabeth Wasserman: ’n resensie appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1797


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>