Mister Angelo Alzheimer
Jef Geeraerts
Naledi aanlyn
............
Kan moord met ’n beroep op ’n breinkwaal regverdig word? Dit is die morele vraagstuk in Jef Geeraerts (1930-2015) se Mister Angelo Alzheimer (vertaal deur Fanie Olivier). Watter misdade kan toegeskryf word aan kranksinnigheid en watter is bloot ’n “simptoom van ’n gewelddadige samelewing” (Geeraerts 2022:326)? In dié spanningskrimi word reëls relatief en word skuld slegs op grond van konkrete bewyse van onskuld onderskei.
..............
Kan moord met ’n beroep op ’n breinkwaal regverdig word? Dit is die morele vraagstuk in Jef Geeraerts (1930-2015) se Mister Angelo Alzheimer (vertaal deur Fanie Olivier). Watter misdade kan toegeskryf word aan kranksinnigheid en watter is bloot ’n “simptoom van ’n gewelddadige samelewing” (Geeraerts 2022:326)? In dié spanningskrimi word reëls relatief en word skuld slegs op grond van konkrete bewyse van onskuld onderskei.
Die ondersoekspan, Commissaris Eric Vincke en sy assistent, inspecteur Verstuyft van die Gerechtelik Politie, tree weer op die voorgrond om misdade op te los in hulle strewe na reg en geregtigheid. Geeraerts skryf in sy kenmerkende kru diskoersformaat, deurspek met beskrywings van bloed en binnegoed en gepas vir ’n misdaadmilieu. Vincke met sy “vulgêre mallemeule van die hoertjies” (82) en die massamoordenaar (“’n manlike paranoïede skisofreen” met sy vuurwapen as “verlenging van sy penis”; 102) sorg vir vele obseniteite. Nes met die ontvangs van die oorspronklike teks, De Zaak Alzheimer (1985) by konserwatiewe Vlaamse lesers, sal die vertaalde Mister Angelo Alzheimer daarom ook nie sensitiewe Afrikaanse lesers geval nie.
Uit die staanspoor ontvou die plot met die pas van ’n masjiengeweer en presisie van ’n sluipmoordenaar; “pakkend” en “met ’n vaart”, soos Hambidge (2022) dit beskryf. Die oerdrang om te jag, asook die vrees vir vervolging, word met stiptelikheid en presisie uitgebeeld. Nes ’n tipiese Sherlock Holmes-raaiselverhaal is Mister Angelo Alzheimer ook propvol ooreenstemmende eksentrisiteite en aardighede waar die makabere hand aan hand met filterlose eerlikheid en intense spanning loop. Dié snellerpas, waar elke minuut geld, word egter plek-plek vertraag wanneer daar “hoegenaamd niks” (21) gebeur nie – welkome verligting van die daaglikse donder en adrenalien.
In kamer 312 ontmoet ’n geharde dienaar van die gereg en ’n giggelende moordenaar mekaar. Een vereis antwoorde en boetedoening. Die ander hou sy ondervraers vir die gek (386). In die lig van dié fel kontras tussen onderwerp en styl in Mister Angelo Alzheimer manifesteer ’n eiesoortige burleske humor as literêre stylmiddel. ’n Winkelpop staan starend op een van die moordtonele, lagwekkend geklee in ’n bloedrooi broekie (213), gekontrasteer met die donker, gewigtige interieur en die grudade wat daar gepleeg is. Geeraerts neem verhewe, vreesaanjaende temas soos reeksmoord en chroniese siekte en verwring dit met ligsinnigheid en donker humor wat lei tot ’n “enorme verskil tussen die inhoud en die vorm van die relaas (353),” soos Vinke tereg waarneem.
Die burleske – ’n koepelterm vir ’n verskeidenheid humormodi soos karikatuur, parodie en travestie – is ’n literêre stylmiddel waar ’n diskrepansie tussen die onderwerp en die stilistiese hantering daarvan bestaan. Swaar onderwerpe word dusdanig, nes in Mister Angelo Alzheimer, spottenderwys versag (Nieuwoudt 2018). “Dit word eentonig,” merk Verstuyft op, nadat hy die derde lykskouing op een dag moes bywoon, en slaan só ’n “ironiese koers (168)” in. Die burleske beïnvloed nie slegs die leser se interpretasie van die teks nie, maar verbreed verwagtingshorisonne, en verskaf bowenal ’n tikkie psigose aan karakters wat die leser laat bly blaai.
Aan die een kant (hoë burleske) val ’n irrasionele hoeveelheid fokus op iets onbenulligs, soos die “bietjie pyn in [sy] eie arm” eerder as op die “weersinswekkende dinge wat ander aangedoen word” (356). Aan die ander kant (lae burleske): die trivialisering van ’n verhewe onderwerp – om “iets belangrik tot onbeduidend te reduseer” (365). Die huurmoordenaar daag die polisie tergend uit, ”for the kicks (351)”. Daar hang ook byna “permanent ’n spotlaggie” (297) om sy mond gedurende die ondervragingsproses. In die lig van hiérdie gebeure word Vincke verstom deur die kontras tussen die inhoud – die “verskriklike feite” (350) van die huurmoorde – en die moordenaar se ongeërgdheid met sy dade; sy absoluut “ontspanne sfeer” (350) tydens ondervraging, “asof hy by ou vriende kuier” (273). Gesondheid word met siekte gejukstaponeer, reg met verkeerd, en erns sit regoor ’n giggel.
Ter wille van spanning en die akkurate weergee van die spesifieke Europese tydsgees van die oorspronklike teks, het Fanie Olivier ook geen nut daarin gesien om eufemismes te gebruik nie. Elke daad word op die naam genoem. Dusdanig het Olivier onomwonde reg aan die vertaling van hierdie “knap gekomponeerde” (Hambidge 2022) krimi laat geskied. Olivier verwoord egter vooraf dat hy tydens die vertaling, ter bevordering van die verstaan van die teks, kultuurspesifieke betekenisse moes opoffer. Die misdaadintrige kom egter steeds tot sy reg in die tegniese plot, spannende sluiptonele en kenmerkende plat taalgebruik van dikvellige mans.
.............
Die leser kan nie verhelp om te simpatiseer met iemand wat besig is om ’n kritieke vaardigheid, soos geheue, te verloor nie. Geeraerts delf diep in die psige van ’n reeksmoordenaar asook die beweegredes vir sy absolute minagting van dekorum.
.............
Die leser kan nie verhelp om te simpatiseer met iemand wat besig is om ’n kritieke vaardigheid, soos geheue, te verloor nie. Geeraerts delf diep in die psige van ’n reeksmoordenaar asook die beweegredes vir sy absolute minagting van dekorum. Hy bring sodoende enkele lesse by die leser tuis: Reg en geregtigheid sit nie altyd langs dieselfde vuur nie en die soepel arm van die gereg kan gedraai word. Laastens: Die waarheid is geneig is om altyd kop uit te steek en die grens tussen onthou en vergeet, asook tussen feit en versinsel, is net so ragdun soos die lyn tussen lewe en dood.
Die film The Alzheimer Case (2003) is op dié fiksieverhaal gebaseer, asook die 2022-spanningsaksie Memory (met Liam Neeson en Guy Pearce).
Bibliografie
Geeraerts, J. 1985. De Zaak Alzheimer. Antwerpen, België: Uitgeverij Monteau.
—. 2022. Mister Angelo Alzheimer (Vertaal deur Fanie Olivier). Naledi.
Hambidge, J. 2022. Woorde wat weeg: resensie | Jef Geeraerts – Mister Angelo Alzheimer (vertaal deur Fanie Olivier) | Naledi. http://joanhambidge.blogspot.com/2022/08/resensie-jef-geeraerts-mister-angelo.html. Datum gebruik: 1 November 2022.
Nieuwoudt, HW. 2018. ’n Tragikomiese moeder-seun-relaas: Die manifestasie van die burleske in Sprakeloos (Lanoy) en Moedervlekken (Grunberg). MA-verhandeling: Noordwes-Universiteit.
The post Jef Geeraerts se <em>Mister Angelo Alzheimer</em>, vertaal deur Fanie Olivier: ‘n resensie appeared first on LitNet.