Travels into the interior of Africa via the Cape of Good Hope Volume 2
Francois le Vaillant
Vertaal en ingelei deur DJ Culpin
Die Historiese Publikasies van Suid-Afrika (HIPSA)
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Francois le Vaillant (1753–1824) se 1790-reisverslae van Suid-Afrika getiteld Voyage dans l’intérieur de l’Afrique was ’n blitsverkoper wat in sewe Europese tale vertaal is, en dit word beskou as die eerste boek oor Suid-Afrika wat wyd gelees is en wat ’n reuse-invloed op groot getalle latere tekste sou uitoefen. Le Vaillant het sy reise tussen 1780 en 1785 onderneem. Hy het die Kaap op 14 April 1781 bereik en sy eerste reis was na Saldanhabaai in Mei 1781, waarna hy teen Augustus 1781 terugkeer. Die omvangrykste van sy reise onderneem hy van 18 Desember 1781 tot 2 April 1783 na die Groot-Visrivier, wat hy opvolg met ’n verdere reis na Namakwaland van Junie 1783 tot Junie 1784. Die twee volumes reisverslae van 1790 dek egter slegs sy reise na Saldanhabaai en die Groot-Visrivier. Die Van Riebeeck Vereniging het die eerste volume van Le Vaillant se reisbeskrywinge opnuut laat vertaal in Engels en dit is in 2007 gepubliseer. In die inleiding tot volume 1 skryf die 2007-vertalers dat “South African literature came, more or less literally, out of Le Vaillant’s trunk.”[1] Dit is veral na aanleiding van die roman Makanna, wat in 1834 gepubliseer is en waarvan die hoofkarakter, ene Paul Laroon, skynbaar losweg gebaseer was op die lewe van Le Vaillant. Maar Le Vaillant se reisbeskrywinge word ook in verband gebring met verskeie ander literêre genres, onder meer die jagnarratief, die safari as ’n spirituele jagtog, avontuurverhale en die antropologiese veldrekord.
Le Vaillant is gebore op 6 Augustus 1753 in Suriname as Francois Vaillant (die “le” van “Le Vaillant” sou eers later kom), waar hy ’n belangrike deel van sy jeug spandeer. Die gesin trek terug na Frankryk in 1763, maar Le Vaillant se jeugjare sou deurslaggewend wees vir sy latere reise na die Kaap. In Suriname, ’n eertydse kolonie van Nederland van 1667 tot 1954, leer Le Vaillant Nederlands en hy ontwikkel ook ’n lewenslange belangstelling in eksotiese plante en veral diere. Hy word ook blootgestel aan die kuns van die preservering van dierespesies. Sy koloniale ervaringe het waarskynlik ook sy uitkyk op en benadering tot inheemse mense sterk beïnvloed, en ewe belangrik, sy standpunte oor Suid-Afrika, slawerny, sy skryfwerk, ens. Hy studeer dierkunde in Parys en poog sonder sukses om vir homself ’n posisie as militêre amptenaar te verseker.[2] Hy reis dan na Suid-Afrika in 1780 op die VOC-skip De Held Woltemade op die ouderdom van 27 en onderneem uiteindelik drie reise deur die grootliks onbekende binneland om dierspesies te versamel wat hy preserveer. Gedurende dié tyd verander hy sy van van Vaillant na Le Vaillant.
Van besondere belang is die kritiese ingesteldheid wat Le Vaillant in sy reisbeskrywinge openbaar teenoor Europa. Die Historiese Publikasies van Suid-Afrika (HIPSA), wat die opvolger is van die Van Riebeeck Vereniging, het die tweede volume van Le Vaillant se reisbeskrywinge in 2021 gepubliseer. Le Vaillant se reisbeskrywinge is twee keer tevore in Engels gepubliseer. Die eerste twee vertalings verskyn reeds in 1790, en word beskryf as mededingers, die een ’n anonieme vertaling, en die ander deur Elizabeth Helme (1743–1814). Helme se vertaling word as minder gesaghebbend beskou, veral omdat Helme graag gedeeltes van die teks uitgelaat het wat as vulgêr of eksplisiet beskou is, of wat kolonialisme in ’n te slegte lig gestel het. Dit was glad nie ongewoon vir die tyd nie, en selfs William Shakespeare se dramas is in 1818 in familievriendelike vorm deur Thomas Bowdler (1754–1825) gepubliseer. Benewens die feit dat die bestaande vertalings van Le Vaillant se reisbeskrywinge vol vertaalfoute is, is hulle ook moeilik bekombaar, en die Engelse taal het ook aansienlik ontwikkel sedert die 18de eeu.
Meer as die helfte van volume 2 van Le Vaillant se reisbeskrywinge bestaan inderwaarheid uit Le Vaillant se refleksies tydens se verblyf aan die Groot-Visrivier. Sy boeke is geskryf in die vorm van reisverslae, en dit is welbekend dat dit eers na afloop van sy reise geskryf is, en dat dit gebaseer was op ’n joernaal wat hy tydens sy reise gehou het. Die oorspronklike joernaal het sedertdien egter ongelukkig verdwyn. Le Vaillant was sterk onder die invloed van die Franse filosoof Jean-Jacques Rousseau (1712–1778), en sy skryfwerk moet ook teen die konteks van die idees van Rousseau verstaan word. Dit was ’n tyd van toenemende kritiek teen die heersersklas met uiteindelik die Franse Revolusie. Aanhangers van Rousseau se filosofie was van mening dat die Europese samelewing tot ’n groot mate gekorrupteer was, dat die mens van nature “goed” is (in teenstelling met sommige Christelike interpretasies) en veral dat die jeug met onnodige aangeleerde gedrag gekorrupteer word. Le Vaillant se skryfwerk word dan veral ook gekenmerk aan sy kritiek teen die Europese samelewing, teen die verskynsel van slawerny, asook teen kolonialisme in die algemeen. Reisbeskrywinge was ’n besonder gewilde genre gedurende daardie jare en Le Vaillant was goed vertroud met ander reisigers se skrywes, onder meer Peter Kolbe (1675–1726) en Anders Sparrman (1748–1820) wat min of meer dieselfde roete as Le Vaillant gevolg het. Ook teenoor hierdie “voorgangers” van hom is hy krities, veral teen Kolbe.
Maar het Le Vaillant sy boeke self geskryf? Daar is baie spekulasie oor hoe presies sy boeke ontstaan het. Die vrae oor Le Vaillant is ook geen nuwe verskynsel nie. Daar was sedert die eerste publikasie van sy reisbeskrywinge vrae en kritiek oor die inhoud daarvan. Die feit dat hy ’n redelik gekompliseerde karakter was, ’n mens vol teenstrydighede, het ook nooit veel gehelp om die spekulasie oor sy boeke in die kiem te smoor nie. Dit is bekend dat hy homself graag op verskillende maniere geprojekteer het, en nie geskroom het om vir sy gehoor te speel nie. Hy het homself byvoorbeeld graag as ’n natuurmens voorgehou, maar het die grootste gedeelte van sy lewe in die Franse hoofstad Parys gewoon. Sy flambojante skryfstyl word ook dikwels gekenmerk aan oordrywings, en hy span graag sy verbeelding in om sy vertellinge in te kleur. Maar dit is veral ’n noukeurige ondersoek na die inkonsekwenthede in sy beskrywinge wat historici vandag algemeen tot die gevolgtrekking bring dat Le Vaillant waarskynlik nie sy boeke heeltemal self neergepen het nie, en dat ’n medeskrywer, of ten minste ’n redakteur met ’n sware hand, verantwoordelik is vir groot gedeeltes van die teks.
Die feit dat groot dele van Le Vaillant se vertellinge die produk van sy eie of sy medeskrywer se verbeelding is, moet egter nie enige potensiële belangstellende lesers ontmoedig nie – inteendeel. As natuurkundige het Le Vaillant ’n besonder belangrike bydrae gelewer. Tydens sy reise versamel hy groot getalle dierspesies, veral voëls, waarin hy ’n buitengewone belangstelling gehad het. Met sy terugkeer na Frankryk het hy gedurig gepoog om sy versameling van gepreserveerde diere aan die regering te verkoop. Burokratiese rompslomp het die proses lank laat sloer, maar dit is uiteindelik wel verkoop, en het ’n belangrike deel van die regering se versameling gevorm in latere jare. Volume 1 eindig op ’n gespanne moment, in die middel van ’n beweerde flirtasie wat Le Vaillant aangeknoop het met ene Narina, ’n swart Suid-Afrikaanse vrou. Ook hierdie “slim” einde van volume 1 wek die indruk van ’n uitgeslape redakteur wat met ’n plan gewerk het om die leser se aandag te behou. Alhoewel Le Vaillant in volume 2 voortgaan met sy talle beskrywinge van die fauna, flora en die landskap, is daar ’n veel sterker klem op die kulture van die inheemse mense met wie hy paaie kruis. Hy is versigtig om enige kritiek uit te spreek teen die inheemse inwoners, en hou eerder sy kritiek vir die blanke boere aan die Kaap, wat volgens hom gereeld gruwelike misdade teen die inheemse mense pleeg. Die een uitsondering in sy skryfwerk is die sogenaamde San-mense, wat hy beskryf as “gevaarlik” en wat hy beskou as “diewe”, veral omdat hulle geen landbou beoefen nie, en dus geen lewende hawe besit nie. Waar Le Vaillant in deel 1 die mees oostelike punt van sy reise sou bereik, bevat deel 2, benewens sy lang verblyf by die Groot-Visrivier, ook sy terugreis na Kaapstad. Benewens die feit dat die boek talle insigte oor Suid-Afrika dokumenteer, word die leser dus ook getrakteer op die karakter Le Vaillant, ’n kleurvolle en omstrede figuur, wat die skryfkuns onherroeplik sou beïnvloed.
Eindnotas
[1] F le Vaillant, Travels into the interior of Africa via the Cape of Good Hope Volume 1. Translated and edited by Ian Glenn with the assistance of Catherine Lauga du Plessis and Ian Farlam. Van Riebeeck Vereniging, Kaapstad, 2007, bl li.
[2] I Ibid, bl xiv. Die rede hiervoor is later deur historici vasgestel: Le Vaillant was in terme van die minimum vereistes om as militêre offisier te dien, nie lank genoeg nie. Die Afrikaanse Wikipedia-blad oor Le Vaillant beskryf hom egter as “lank en skraal”.
Lees ook:
The post Francois le Vaillant, die safari as ’n spirituele jagtog appeared first on LitNet.