Skrywer: Marc Cameron
Titel: Tom Clancy’s chain of command
Uitgewers: Penguin Random House UK
ISBN: 978-0-241-48167-7
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Ek het die karakters Jack Ryan en sy vrou, dokter Cathy, in Patriot Games ontmoet. Ek kon ongelukkig nie Tom Clancy se Jack Ryan-reeks in volgorde lees nie, maar was bevoorreg om ten minste almal te lees. Selfs dié wat Clancy saam met Grant Blackwood en Mark Greaney geskryf het, asook sommige van die boeke wat ná sy dood in 2013 verskyn het. Van die nie-Clancy-boeke is Greaney my heel gunsteling, ek volg sy Gray Man-reeks slaafs.
Chain of Command is die vyfde Clancy-boek uit die pen van 61-jarige Marc Cameron. Hy het Greaney met Power and Empire in 2017 opgevolg. Ek stem saam met Publishers Weekly: van al die skrywers wat aan die “Clancy universe” geskryf het, is Cameron die beste. Cameron is aan my bekend vir sy internasionale blitsverkoper National Security, wat Brad Thor met groot lof besing het. Na dese sien ek nie net uit om die voormalige polisieman met ’n swart belt in jujutsu se vorige vier Clancy-boeke te lees nie, maar ook sy Jericho Quinn-reeks.
In Chain of command hardloop ’n paar storielyne langs mekaar met ’n magdom karakters. Van my gunsteling-Clancy-karakters soos John Clark (The Cardinal of the Kremlin), Bartosz “Midas” Jankowski (Command Authority) en Jack Ryan Jr (The Teeth of the Tiger) maak almal hulle verskyning. Cameron stel ook nuwe lede van The Campus, ’n off-the-books quasigovernmental intelligence organization, bekend.
Terwyl Ryan poog om die Kongres te oortuig om ’n wetsontwerp op medisyne (Pharma Independence bill) goed te keur, maak die gewetenlose farmaseutiese biljoenêr Harjit Malhotra planne om die VSA-mark met counterfeit dwelms te oorspoel. Malhotra huur ook vir Gil, die stigter van ’n groep huursoldate genaamd Camarilla, om die presidentsvrou te ontvoer. Gaan die Camarilla-moordbende dit regkry? Om die spanning op te bou, sterf die adjunk-presidentkarakter Tony Hargrave vroeg in die boek.
Die post-Clancy-boeke is nou weliswaar nie so dik en met detail deurweek nie, maar steeds propvol aksie. “Men of the Camarilla,” erken Gil op bladsy 66 aan Malhotra, “fight for the joy of the conflict itself.” As jy van konflik- en aksie-leesstof hou, gaan Chain of command nie teleurstel nie. Die boek kan op sy eie staan, maar as dit jou eerste kennismaking met ’n Jack Ryan-boek is, stel ek voor dat jy heel voor begin.
Lesers wat van Nelson DeMille se John Corey-reeks en David Baldacci se The Camel Club gehou het, sal Chain of Command se 497 bladsye verslind.
Lees ook:
The post <i>Tom Clancy’s chain of command</i> is steeds propvol akskie, ’n lesersinkdruk appeared first on LitNet.