
https://www.flyleaf.co.za/kruger-se-goud/
Kruger se goud
John Buchan
Flyleaf
ISBN: 978-0-6397-2238-2
In Kanada dien John Buchan (1875–1940) van 1935 tot en met sy afsterwe die Britse Ryk – met die goewerneur-generaal se septer in die hand. Maar dit was ’n ánder uithoek van Empaaier wat sy verbeelding, nes sy fiktiewe karakter Richard Hannay s’n, lewenslank in sy greep had: Suider-Afrika.
Dis daardie einste bemoeienis met hierdie wêrelddeel wat helder deur Kruger se goud straal, ’n vertaling deur Marietjie Delport van ’n teks wat aanvanklik, in 1996, deur JDF Jones as The Buchan Papers geredigeer is en wat die uitgewery The House of Emslie nou saam met die oorsetting in Afrikaans as Kruger’s Gold die lig laat sien.
In 1901, toe die Suid-Afrikaanse Oorlog, of die Boereoorlog, soos hy dit toe geken het, “in sy laaste fase” (bl 6) was, het die jong Buchan, met Skots-Presbiteriaanse bloed wat sterk in sy are stoot, sy weg van Oxford, waar hy in die klassieke onderrig is, en die Londense regswêreld na die herehuis Sunnyside in Johannesburg gevind, waar hy hom as private sekretaris van Lord Milner gewy het aan die heropbou van die land, wat toe reeds ’n aanvang geneem het.
Dis daardie prille, grootoog Buchan – anders as die meeste van Milner se kindergarten geen adellike nie – wat die leser in die openingstoneel van Kruger se goud ontmoet, waar hy terugkeer, ná ’n rit uit om “sekere van die minder tegniese aspekte van grondtoekenning” (bl 1) in ’n afgeleë deel van die eertydse Transvaal te ondersoek. Hy kom by die oase van Sunnyside aan, in daardie “onbeskaafde dorp” (bl 5), om met Milner en Joseph Chamberlain, die besoekende Britse minister van buitelandse sake, te vergader. Chamberlain laat gou blyk dat dit nie administratiewe nietighede is wat hom kwel nie: “Dit gaan oor ’n klein en hoogs vertroulike probleempie wat ’n oplossing nodig het …” en waarvoor hy “’n man met verbeelding en inisiatief” benodig (bl 5) – ’n man nes Buchan.
Reeds in September 1900 het Paul Kruger, die ZAR se president, talmend deur Komatipoort sy geliefde land verlaat en uit Delagoabaai op ’n skip van die Nederlandse koningin sy Europese ballingskap nader gevaar. Kort ná die ou president se vertrek uit Pretoria, is die staatskas wat van goudstawe en munte oorloop per trein agter hom aangestuur, rigting Machadodorp. In die jaar daarop loop die legende reeds dat die leeuedeel daarvan deur ’n “ongeïdentifiseerde mag swartes” gebuit is en êrens in die Laeveldse lower versteek lê (bl 9).
Só kry Buchan dan by Chamberlain die hoë opdrag om die Krugermiljoene vir die Britse bewindhebbers op te spoor vóór dit in die hande van die Boere-bittereinders of van gryplustige avonturiers kan val. In die gees van die tyd, toe die Britse Ryk, die teëspoed in die Boereoorlog ten spyt, nog in hoogbloei was, was dit ’n taak waarvoor “geen regdenkende man” sou nee sê nie (bl 10).
Buchan bruis van die opwinding. Hy word van ’n leidraad én ’n kameraad voorsien. Die Britte het ’n jong swart man teëgekom wat vertel het dat hy weet waar die buit weggesteek is. Voor hy aan ’n siekte omkom, laat hy kripties val dat die skat “anderkant die waterval” is (bl 13). Buchan se kom-en-gaan-vertroueling op die tog sal Schalk Minnaar wees, “’n Boerevriend” van die Britte wat hy met sy lewe kan vertrou (bl 14).
En só ontplooi ’n avontuur – vol spanning, agterdog en verraad – so reg in die kraal van die tipe boek waarvoor Buchan gou bekend sou word. In Rekonstruksie (2021), sy geskiedkundige werk oor hierdie tydperk, merk Karel Schoeman op: “Meer literêr van aard [as die werke van onder meer GA Henty], maar grotendeels op dieselfde vlak, was die avontuurromans van Rider Haggard en John Buchan, wat albei terloops as amptenare in Suid-Afrika gewerk het; en dieselfde gees is geopenbaar en gepropageer in die gewilde seunstydskrifte van die tyd soos The Boy’s Own Paper, wat in 1879 van stapel gestuur is” (bl 129).
Ná hy etlike ander baantjies in die koloniale staatsdiens verrig het, word die jong Henry Rider Haggard (1856–1925) in 1878 die griffier van die Transvaalse hoërhof, ’n pos wat hy tot in 1882 sou beklee. Met sy terugkeer Engeland toe skryf hy ’n boek oor die politieke opset in Suid-Afrika, voor hy twee van die bakens in die Victoriaanse avontuurromankuns pen – King Solomon’s Mines (1885) and die opvolg, Allan Quatermain (1887).
Ná sy terugkoms in Engeland sou Buchan, nes Rider Haggard, eers The African Colony: Studies in Reconstruction (1903), ’n boek oor die sosiopolitieke situasie in Suid-Afrika ná die oorlog, die lig laat sien. Teen die tyd dat The Thirty-Nine Steps, die roman waarvoor hy waarskynlik die bekendste sou bly, in 1915 verskyn het, had hy reeds sewe romans (sommige daarvan studentewerke) en talle niefiksietitels op sy kerfstok. ’n Loopbaan as joernalis, skrywer en parlementariër volg.
Maar dit is met sy ligte romans, wat hy self “shockers” gedoop het, dat hy durende gewildheid verwerf: stories wat propvol hoogdrama is, wat net-net binne die grense van geloofwaardigheid dartel.
Maar hierdie teks, wat nóú gelyk in Engels en in Delport se kenmerkend treffende Afrikaanse vertaling verskyn, was vir dekades, nes Kruger se goud, weggesteek. Die Britse joernalis JDF Jones, wat in die 1980’s uit Suid-Afrika verslag gedoen het en ’n versengende biografie oor Laurens van der Post geskrywe het, meld in die voorwoord van The Buchan Papers hoe hy op die teks afgekom het.
Uitgewer Trevor Emslie som in die voorwoord van hierdie vertaalde uitgawe daardie verhaal op, naamlik dat Jones “toevallig die handgeskrewe manuskrip in ’n bokslêer met persoonlike geskrifte van die ‘Randlord’, sir Lionel Phillips, vir die jare 1904–1907 in die Johannesburgse argief van die Suid-Afrikaanse maatskappy Barlow Rand ontdek het” (bl vii). Buchan se naam verskyn nie op die teks self nie; in ’n nota in dieselfde handskrif wat die manuskrip vergesel en wat aan sir Lionel gerig is, staan onderaan die voorletters JB.
Op grond hiervan en in die lig van sy eie navorsing was Jones self oortuig dat dit ’n Buchan-teks is. Sekerlik behoef die amperse vergetelheid van die teks verdere studie. Uit hoeveel dele waarheid en hoeveel fiksie dit bestaan, is egter nie volkome duidelik nie. In sý voorwoord tipeer Emslie die teks as ’n roman, maar sit – al die baie eienskappe van die shocker-genre daarin ten spyt – daardie woord tussen suggestiewe hakies.
..........
Daar is voorwaar baie redes om Kruger se goud te lees. Delport is ’n werklik bedrewe vertaler. Sy sit die oorspronklike Eduardiaanse Engels, wat uiteraard vir die hedendaagse oor bepaalde koddighede vertoon, in ’n skoon en spierige Afrikaans oor wat volkome oortuigend is. Kortom: Die verhaal lees maklik en toeganklik.
..............
Daar is voorwaar baie redes om Kruger se goud te lees. Delport is ’n werklik bedrewe vertaler. Sy sit die oorspronklike Eduardiaanse Engels, wat uiteraard vir die hedendaagse oor bepaalde koddighede vertoon, in ’n skoon en spierige Afrikaans oor wat volkome oortuigend is. Kortom: Die verhaal lees maklik en toeganklik.
Natuurlik vra die shocker-genre dat lesers ’n spel met “suspension of disbelief” speel. Wanneer hulle wel bereid is om só spelenderwys te lees, bied die storie heelwat leesplesier. Daar is kinkels in die storiekabel wat toon dat Buchan vroeg al oor die vaardighede beskik het om ’n storie kleurryk en lewendig uit die ink te lig.
Natuurlik lê daar in die leeservaring selfs nog meer gô vir diegene wat in die sosiopolitieke geskiedenis van die tyd belangstel. Dis nie sonder rede nie dat Schoeman in al die bande in sy Imperiale somer-reeks wat oor dieselfde tydperk handel, sterk op populêre en literêre tekste steun. Sulke tekste bied immers ’n sonderling onbevange blik op die houdings en gewoontes van die dag.
Boonop bied die boek ’n interessante perspektief op die vroeë boustene van populêre lektuur in Suid-Afrika. Daar is veral baie raakpunte met van die boeke wat tans die heel gewildste onder Afrikaanse lesers is.
So ook is dit vir Afrikaanse lesers ’n poort na die werk van ’n boeiende en grootliks vergete skrywer wat tot in lengte van dae, soos Richard Hannay, wat in The Thirty-Nine Steps en in etlike latere romans die waaghalsige held is, knaend moeg geword het vir die lewe in ’n wêreldstad en teruggehunker het na die ooptes van hier, waar minstens ’n karakter genaamd Buchan met ’n skeut heldhaftigheid en dalk ’n nog groter skeut onbesonnenheid op soek gegaan het na goud wat kletter.
The post <em>Kruger se goud</em> deur John Buchan (vertaal deur Marietjie Delport): Veldponde en klatergoud appeared first on LitNet.