Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all 1806 articles
Browse latest View live

Oor en weer deur Trisa Hugo en Analize Viljoen, ’n lesersindruk

$
0
0

Titel: Oor en weer
Skrywers: Trisa Hugo en Analize Viljoen
ISBN: 9780639605654
Uitgewer: LAPA

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.

Daar is iets vry en wild omtrent ’n vriendskap tussen vroue. Enigiets kan daar uitbroei. Spesifiek omdat dit gewoonlik ontwikkel buite die sfeer van mans. As ’n tema van ’n boek is dit dan ook die ideale dryfveer om kommentaar te lewer op vrouwees en die samelewing waarin hulle hul bevind.

Oor en weer deur Trisa Hugo en Analize Viljoen is eintlik ’n vriendskap binne ’n vriendskap, ’n wonderlike vermenging van realiteit en fiksie. Want toe dié twee begin het met die skryf van die boek, het hulle mekaar nog net twee keer in lewende lywe gesien. Die boek is in “real time” geskryf met behulp van Google docs, en hul storie en werklike vriendskap het so saam-saam verder ontwikkel.

Die karakters in die boek, Billie en Manda, is op die oog af teenpole van mekaar. Die geskeide Billie het kinders en is verlief op ’n Irakkese skoonheid, Amani. Manda is weer die ene neurose en alleenlopend (behalwe vir ’n ongesonde verhouding met ’n getroude man).

Waar die verlede (’n uiters traumatiese tragedie) Manda se lewe swart inkleur, is dit weer haar stormagtige verhouding met Amani in haar onmiddellike hede wat Billie omvergooi.

Onderliggend aan al dié verskille is daar wel ooreenkomste … albei vroue is inherent alleen en sonder ’n beste vriendin. Albei word gelei deur die hart en onder elkeen se intrige draai ’n manlike duiwel rond – die arrogante verneuker Danie wat Manda vir sy seksuele bevrediging gebruik en Amani se man wat bereid is om tot uiterstes te gaan om haar te behou.

En ja, weerloosheid bring hulle dalk bymekaar, maar die resultaat is weerbaarheid en waagmoed. Dis dan ook nie lank nie of die poppe begin dans. Want hierdie is nie ’n oppervlakkige boek met anoreksiese karakters nie. Dié girls het vleis om die lyf.

Manda kyk pornografie en beoefen Japannese bondage of sjibari met haar getroude minnaar. Sy sukkel met posttraumatiese stressindroom en is verslaaf aan Xanor. Billie sukkel om die balans te handhaaf tussen ma- en vrouwees. Dié gay karakter is nooit ’n karikatuur nie en die sekstonele is romantiese realisme op sy beste.

Dié twee karakters is iets vars in Afrikaanse literatuur. Ons almal ken iemand wat getroud was en nou borrelend baljaar tussen die vrouelywe. Ek self was lank deel van ’n groep wat pornografiese materiaal en foto’s gedeel het op Tumblr. En wie weet nie van iemand wat Xanor drink soos Smarties eet nie?

Tog word daar selde oor geskryf – maar dit is juis waar vrouevriendskapboeke so ’n belangrike rol kan speel – om die kollig te plaas op presies wat gebeur agter daardie toe deur wanneer al die girls saam badkamer toe storm …

Interessant genoeg het die vrouevriendskapboek nie altyd bestaan nie. Voor die 20ste eeu was boeke oor vrouevriendskappe so ’n onding soos ’n vrou in ’n kroeg. In die 1800’s het Jane Austen oor susterlike bande begin skryf en in Jane Eyre het Charlotte Brontë geraak aan vriendskap, maar dit was eers hier van die sestigs af dat skrywers begin het om vrouevriendskappe ten volle te ontgin.

Om te skryf oor vrouevriendskappe is ontsettend belangrik in vandag se tyd van toenemende geweld teen vroue en ’n seksistiese atmosfeer wat nog maar dik lê in hierdie land van ons.

Vrouevriendskappe kan ’n veilige ruimte bied waar vroue se letsels kan genees. Dit is dan ook wat gebeur met Billie en Manda. In mekaar se huise, dikwels oor ’n bord kos en ’n glas wyn, word hul psiges en harte gesonder.

Boeke soos Oor en weer is belangrik. Daar is so baie stereotipes van jaloerse en vyandige vrouevriendskappe in flieks en boeke wat nuttig te pas kom in ’n patriargale omgewing waar mans juis nie wil hê vroue moet saamstaan nie. Kyk na #metoo. Kyk wat gebeur as vroue wel hande vat.

Oor en weer is darem nie net derms uitryg nie. Dit is vol verrassings en interessante wendings en humor wat ingemeng is in die boekbrousel so tussen die gekokery deur.

Die boek het my half leeg laat voel ná die tyd – nie oor die inhoud nie, maar omdat Manda en Billie ook my vriendinne geword het – en nou is ek klaar gelees en sonder my pelle. Wat gaan nou verder gebeur? Ek wil weet!

Erger nog … ek gee om. Ek hoop dus daar is ’n opvolg. Anders is my persoonlike vriendskap met die skrywers op die spel.

The post <em>Oor en weer</em> deur Trisa Hugo en Analize Viljoen, ’n lesersindruk appeared first on LitNet.


Sights, sounds, memories. South African soldier experiences of the Second World War: ’n lesersindruk

$
0
0

Titel: Sights, sounds, memories. South African soldier experiences of the Second World War
Redakteur: Ian van der Waag

Uitgewer: African Sun Media
eISBN: 9781928480914 

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.

........

Wanneer ’n boek verskyn oor die persoonlike belewenisse van soldate van die destydse Unieverdedigingsmag (UVM) tydens die Tweede Wêreldoorlog, is dit voorwaar ’n seldsame verskynsel. Indien die publikasie hierbenewens ook tegnies baie goed versorg is, die drukwerk (deur Africa Sun Media) puik gedoen is, die navorsing portuurgeëvalueerd is, dit grootliks gebaseer is op argivale bronne en uitgevoer is onder redakteurskap van die bekende militêre kenner en historikus Ian van der Waag, word die weg gebaan vir ’n bron wat op menige belangstellende leser se boekrak behoort te staan.

..........

Wanneer ’n boek verskyn oor die persoonlike belewenisse van soldate van die destydse Unieverdedigingsmag (UVM) tydens die Tweede Wêreldoorlog, is dit voorwaar ’n seldsame verskynsel. Indien die publikasie hierbenewens ook tegnies baie goed versorg is, die drukwerk (deur Africa Sun Media) puik gedoen is, die navorsing portuurgeëvalueerd is, dit grootliks gebaseer is op argivale bronne en uitgevoer is onder redakteurskap van die bekende militêre kenner en historikus Ian van der Waag, word die weg gebaan vir ’n bron wat op menige belangstellende leser se boekrak behoort te staan.

Die boek het sy oorsprong in ’n seminaar wat op 6 September 2019 op die Saldanha-kampus van die Universiteit Stellenbosch gehou is ter herdenking van Suid-Afrika se toetrede tot die Tweede Wêreldoorlog 80 jaar gelede.

Die inligting op grond waarvan die ervaringslewe van soldate asook mediese en ondersteuningspersoneel se blootstelling aan aktiewe oorlogsvoering in Afrika, Europa en Madagaskar beskryf word, is onder andere verkry uit persoonlike briewe, dagboeke, verslae en rekords wat deur die soldate self geskryf is. Hierdie metodologie herinner baie aan dié van Spiers (2010) wat in ’n ander konteks ook van die verhale van ooggetuies gebruik gemaak het. Sy boek handel oor Britse soldate wat die situasie aan die front beskryf gedurende die beleg van Ladysmith tydens die Anglo-Boereoorlog.

Sights, sounds, memories het as volume 3 in ’n reeks publikasies onder die sambreeltitel African Military Studies verskyn. Volume 2, In different times. The war for South Africa (redakteurs Ian van der Waag en Albert Grundlingh), is in 2019 gepubliseer. Volume 1, African military geosciences. Military history and the physical environment (redakteurs Jacques Bezuidenhout en Hennie Smit) is in 2018 bekendgestel.

Volgens van der Waag (2021) word beplan om volume 4 van African Military Studies, wat handel oor die belewenisse en ervarings van Suid-Afrikaanse krygsgevangenes tydens die Tweede Wêreldoorlog, binnekort te publiseer.

’n Buitestander (soos wat ek self is) sonder persoonlike ervaring van en blootstelling aan militêre veldslae en/of oorlogvoering moet versigtig te werk gaan wanneer kommentaar en indrukke oor gespesialiseerde militêre publikasies gelewer word. Hierdie lesersindruk is dus in die eerste plek gerig op lesers uit die algemene publiek, en is nie bedoel vir professionele soldate, oorlogsveterane of militêre historici nie. My opmerkings moet dus teen hierdie agtergrond vertolk word.

Akkuraatheid van persoonlike dokumente

.......

In hoofstuk 1 fokus Van der Waag op die voor- en nadele van gewone soldate op die slagveld se persoonlike narratiewe in die vorm van dagboeke, briewe, herinneringe en outobiografieë as metodes van inligtinginsameling om die soldate se persoonlike belewenisse te boekstaaf.

........

In hoofstuk 1 fokus Van der Waag op die voor- en nadele van gewone soldate op die slagveld se persoonlike narratiewe in die vorm van dagboeke, briewe, herinneringe en outobiografieë as metodes van inligtinginsameling om die soldate se persoonlike belewenisse te boekstaaf.

Volgens Van der Waag is die onder-na-bo-metode veral nuttig om die humanitêre aspekte (maw wat presies op die slagveld ervaar word) uit te lig. Die individuele stemme van menige UVM-soldaat is destyds ongelukkig onderdruk deur die praktyk van sensorskap van inligting tydens die oorlog, deur die gebrek aan simpatie van die nuwe Nasionale Party-regering wat vanaf 1948 aan bewind was, asook die wyer internasionale marginalisering van die UVM se oorlogspoging.

Sommige soldate het ook verkies om na demobilisasie nie te praat oor hul ervarings aan die front nie. Dit mag wees dat doelbewuste rasionele besluite vooraf hieroor geneem is, of dat verdedigingsmeganismes soos repressie, ontkenning of sublimasie ’n rol sou kon gespeel het in die soldate se gedrag.

Indien persoonlike dokumentasie as bronne van inligting gebruik word om gevolgtrekkings te maak oor die belewenisse van soldate tydens ’n oorlogsituasie, ontstaan verskeie metodologiese kwessies.  Die inhoudsgeldigheid van die dokumentasie kan byvoorbeeld in die gedrang kom. Is die dokument(e) ’n presiese weergawe van wat in die praktyk of die bepaalde domein gebeur het? Indien enige twyfel bestaan oor die akkuraatheid van die dokumentasie, kan die inhoudsgeldigheid bevraagteken word, wat beteken dat ’n bron nie as ’n akkurate weerspieëling van die gebeurtenis(se) beskou kan word nie.

Die betroubaarheid van verslagdoening word ook bepaal deur die mate van ooreenstemming tussen die rapportering van twee of meer waarnemers oor ’n bepaalde situasie, gebeurtenis of voorval. Hierdie standaard van meting staan as interbeoordelaarsbetroubaarheid (of interwaarnemersbetroubaarheid in hierdie spesifieke konteks) bekend. Perseptuele verskille wat gebaseer is op vorige kennis en ervaring, persoonlikheidsverskille, houdings, verwagtings en doelstellings asook geloofsoortuigings en emosies veroorsaak dat sekere dinge die aandag trek en ander uitgesluit word. Die resultaat hiervan is dat dieselfde gebeurtenis verskillend deur twee of meer waarnemers geïnterpreteer kan word. Gevolglik word die interwaarnemersbetroubaarheid van die gegewens verlaag.

Spiers (2010:173) sluit hierby aan: “Briewe is dikwels selektief, dit beklemtoon huidige aktiwiteit en kan selfs as verskonings vir soldate se terugval (reverse) of krygsgevangeneming dien. Briefskrywers is geneig om gebeurtenisse te teleskopeer (met ander woorde te fokus op die finale fases van gebeurtenisse, terwyl omstandighede gedurende die eindfase met die aanvangsfase na regte gebalanseer behoort te word). Oordrywing van getalle, gevolge en gebeurtenisse kan ook in hierdie tipe dokumente voorkom.”

Van der Waag beklemtoon gevolglik dat persoonlike rapportering deur soldate nie op sigself as alleenstande inligting vir militêre geskiedskrywing gebruik kan word nie. Historici maak sover as moontlik gebruik van ʼn breë spektrum bronne om sodoende ʼn betroubare en geldige vertolking van die “ewig ontwykende” historiese waarheid beskikbaar te stel.

Temas en hoofstukke

In hoofstuk 2 bespreek Carl Punt die wel en wee van die Lugg-gesin wat twee van hul vier seuns (wat almal vrywillig vir militêre diens aangemeld het) aan die dood moes afstaan. Cyril Lugg is in ’n vliegtuigongeluk in Soedan oorlede, terwyl Harry as vlieënier oor die Middellandse See afgeskiet is. Die ander twee seuns – Eric (wat krygsgevange geneem is) en John – het ná demobilisasie op wonderbaarlike wyse weer veilig na Suid-Afrika teruggekeer.

Hoofstuk 3 handel oor die militêre hospitale in die Midde-Ooste gedurende die oorlog.  Karen Horn beklemtoon dat die aanpassing in totaal nuwe omgewingstoestande geweldig uitdagend was en vernuwing, asook ’n goeie humorsin, noodsaaklik was vir oorlewing en om die siekes, gewondes en dooies doeltreffend te hanteer.

Bladsye 80–81 bevat interessante inligting oor psigiatriese-gevalle-werk en die gepaardgaande diagnose, “not yet diagnosed functional”, wat onder sulke omstandighede gemaak is.

Dit is nie alombekend dat die Unie-troepe by die ontsetting van Madagaskar betrokke was nie. In hoostuk 4 vra Evert Kleinhans of hierdie gebeurtenis dalk eerder as ’n “langdurige piekniek” beskou moet word, veral nadat die manskap Bintliff se persoonlike korrespondensie ontleed is.

Die ontplooiing van die Sesde Gepantserde Divisie in Italië en die rol van Eric Axelson, wie se komplekse opdrag dit was om hierdie geskiedenis behoorlik te boekstaaf, kom hierna aan die beurt.

In hoofstuk 6 verduidelik Frankie Monama waarom kolonel Ernst Malherbe, hoof van die destydse UVM-opleidingsdiens, se programme met die fokus op moreelbevordering van die UVM-soldate oor die algemeen onsuksesvol was.

In die volgende hoofstukke word onderskeidelik die rol van die Suid-Afrikaanse Kleurlingkorps, die belewenisse van geïnterneerde korpslede, asook die rol en impak van vroue in die UVM se oorlogspoging bespreek.

Die laaste twee hoofstukke handel onderskeidelik oor vrywilligers in die UVM, en oor die na-oorlogse ervarings en strewes van soldate wat na demobilisasie na Suid-Afrika teruggekeer het.

Enkele verdere opmerkings

  • Die samevattende gevolgtrekkings aan die einde van elke hoofstuk is veral nuttig om ’n vinnige oorsig oor die boek in sy geheel te kry.
  • Die akademiese besonderhede van die skrywers word in die vorm van ’n bylae aangebied, asook die besonderhede van 53 gepubliseerde persoonlike narratiewe oor die oorlog.
  • ’n Register agter in die boek om die naslaan van persoonlike name, plekname en terme in die teks te vergemaklik, ontbreek ongelukkig in hierdie publikasie.
  • ’n Resensent moet te alle tye daarteen waak om pedanties te wil wees, maar die hooftitel van die boek, Sights, sound, memories, sal vir sommige lesers dalk eienaardig voorkom. Hoekom word die rol van die reuk- en die tassintuig uitgesluit? Die reuke en smake van Kaïro byvoorbeeld, die geure van die woestyn en die dooies op die slagveld moes as intense prikkels in kombinasie met visuele en ouditiewe inligting sekerlik ook blywende indrukke op die geheuefunksies van menige soldaat gemaak het. Ook die tasruimtelike sensasies wat die greep van ’n aanvalsgeweer skep, die gevoel om aan die binnekant van die Sesde Gepantserde Divisie se tenks onder aktiewe vuur te sit, en die intense pynsensasie tydens verwonding sou bygevoeg kon gewees het. Die subopskrif van die boek is egter treffend en selfverduidelikend.
  • ’n Verdere vraag ontstaan of die volgende teksgedeelde (hoofstuk 6, inteksverwysing nommer 35: Davie en Dubow) werklik ’n billike interpretasie van die gevolge van die Carnegieverslag is: “The Carnegie Report, which came out in 1932, became a reference point for ultra-nationalistic Afrikaners who exploited its findings to agitate for an ethno-exclusivist agenda in the 1930s, to the annoyance of Malherbe” (bl 186). ʼn Ander perspektief sou wees dat die Carnegie-verslag aangewend is om stappe te doen om die armblankevraagstuk in Suid-Afrika te hanteer. Die regering het daarna toepaslik op die Carnegie-verslag reageer deur die Departement van Volkswelsyn te stig.
  • Ek is as leser in die duister gelaat of die inhoud van hoofstuk 6 gedeeltelik of geensins op die PhD-proefskrif (https://scholar.sun.ac.za/handle/10019.1/86202) van Monama gebaseer is. Omdat ’n verwysing na die proefskrif met die titel “Wartime propaganda in the Union of South Africa, 1939–1945” nie in die bronnelys voorkom nie, word vir alle praktiese doeleindes aangeneem dat hoofstuk 6 en die proefskrif losstaande van mekaar is.
  • Wat kon die persoonlike narratiewe van vrywilligers verbonde aan die Suid-Afrikaanse Vloot, asook die verhale van soldate en vlieëniers verbonde aan die Suid-Afrikaanse Lugmag gedurende 1939–45 behels het? Hoe sluit dit by die narratiewe van die grondmagte aan?
  • Dit sou ook interessant wees om te bepaal hoeveel oorspronklike briewe en dokumente van psigiatriese ongevalle uit hierdie periode in die argiewe beskikbaar is, en wat die inhoud behels.
  • ’n Relevante bykomende bron tot hoofstuk 10 (wat meer spesifiek oor demobilisasie en die na-oorlogse politieke bedrywighede van die soldate handel) is die werk van Greenbank (1995). Hierdie MA-verhandeling in geskiedenis (Universiteit van Kaapstad) handel oor ’n wye spektrum persepsies van 22 Tweede Wêreldoorlog-veterane met wie die navorser persoonlike onderhoude gevoer en hul response sistematies opgeteken het.

Samevattend

Sights, sounds, memories is ’n bron waarin die persoonlike belewenisse van Suid-Afrikaanse soldate aan die front tydens die Tweede Wêreldoorlog bespreek word. Dit is in die eerste plek ’n akademiese teks van hoogstaande gehalte, maar is beslis ook vir die algemene publiek toeganklik. Die boek word sterk aanbeveel.

Eindnotas

  • Ian van der Waag (Fakulteit Krygskunde, US), Ina Botes (bibliotekaresse, Fakulteit Krygskunde, US) en Wikus van Zyl (publikasiebestuurder, Africa Sun Media) word bedank vir hul positiewe reaksies en hulp tydens my navrae oor die beskikbaarheid van Sights, sounds, memories, asook volume 1 en 2 van die African Military Studies-reeks.
  • Wessel Pienaar word bedank vir sy waardevolle insette oor die hergebruik van akademiese teks.

Bronne geraadpleeg

Greenbank, K. 1995. “You chaps mustn’t worry when you come back”: Cape Town soldiers and aspects of the experience of war and demobilisation 1939–1953. MA-verhandeling, Universiteit van Kaapstad.

Spiers, E. 2010. Letters from Ladysmith. Johannesburg: Jonathan Ball.

Van der Waag, I. 2021. Persoonlike kommunikasie. 1 Mei.

Van der Waag, I (red). 2020. Sights, sounds, memories. South African soldier experiences of the Second World War. African Military Studies, Volume 3. Stellenbosch: African Sun Media.

 

The post <em>Sights, sounds, memories. South African soldier experiences of the Second World War</em>: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.

Wanneer gode slaap deur Erwin Mortier: ’n FMR-resensie

$
0
0

Wanneer gode slaap
Erwin Mortier
(uit die Nederlands vertaal deur Fanie Olivier)

.......

As jy vanjaar net één Afrikaanse roman lees, kies dan hierdie meesleurende herinneringe aan die Duitse besetting van België tydens die Eerste Wêreldoorlog.

.........

As jy vanjaar net één Afrikaanse roman lees, kies dan hierdie meesleurende herinneringe aan die Duitse besetting van België tydens die Eerste Wêreldoorlog. Wanneer gode slaap word bestempel as ’n “sielkundige oorlogsroman”, maar inderwaarheid is dit ’n bespiegeling oor hóé herinneringe ontketen en geteken word, want die gebeure speel af op die raakvlak tussen die groot geskiedenis en die klein menswees; tussen taal en wêreld; tussen verbeelding en werklikheid en tussen geskiedskrywing en verhalende prosa.

Erwin Mortier is in 1965 in Hansbeke, Oos-Vlaandere, gebore. Volgens hom is hy as kind deur sy grootouers saamgesleep na die jaarlikse Ijzertoren-byeenkoms wat die Groot Oorlog herdenk en het hy geruime tyd gedink aan ’n roman wat afspeel in die hede sowel as die belle époque, die Franse kulturele bloeitydperk van 1871–1914. Geleidelik het hy besef dat die Groot Oorlog onvermybaar is aangesien dit die kulturele, maatskaplike en politieke klimaat van sy land diepgaande verander het, en tog het daar geen groot Belgiese roman daaroor bestaan nie – vermoedelik omdat die land té getraumatiseerd, verniel en geplunder was vir sy inwoners om daarna te wíl terugkyk. Hy het toe besluit sy boek moet dié ontbrekende roman wees – “’n geskenk aan ons kollektiewe geheue”.

Godenslaap is Mortier se vyfde roman en is in 2008 met die gesogte AKO Literatuurprys bekroon. Die titel verwys na die verteller se besef aan die einde van haar lewe (311): “Die grootste gedeelte van ons gees is ’n Indiese god wat hom uitstrek in die wakker slaap van ’n kat, met stomheid geslaan, maar allesbehalwe doof, en alsiende as dit moet.” Sy verwys waarskynlik na die Hindoe-god Vishnu, wat beskou word as die bewaarder van die heelal. Tydens die reënseisoen, of Chaturmaas, wanneer die aarde nat, donker en hartseer is, verval Vishnu in ’n diepe slaap terwyl die Daityas, oftewel demone, oorneem – soos die besetters wat die koringlande tydens aanhoudende reëns tot ’n modderslagveld bombardeer en die oorstroomde loopgrawe waarin lewendes en dooies saam verdrink. Modder vorm gevolglik ’n sterk metafoor en leitmotief dwarsdeur die roman.

Volgens Mortier het Helena Demont, ’n amper-honderdjarige weduwee, haarself vroeg in die skryfproses as verteller aangemeld. Ná sy aanvanklike verbasing het hy besef dat ’n oumens kon regverdig waarom hy dié roman nou eers skryf en dat ’n vroueverteller hom sou toelaat om ’n sekere afstand te skep, aangesien ’n vrou die oorlog anders as ’n soldaat sou ervaar het. Helena verklaar die akronologiese aanbod wanneer sy sê sy wil soos die skilders ook ’n taal hê wat jy nie soseer moet lees nie, maar moet “bekyk met die geletterdheid van die oog”. Dan sou sy daardie woorde en verhale nie tuisbring in ’n boek nie, maar in ’n soort album of sketsboek.

........

Wanneer gode slaap word bestempel as ’n “sielkundige oorlogsroman”, maar inderwaarheid is dit ’n bespiegeling oor hóé herinneringe ontketen en geteken word, want die gebeure speel af op die raakvlak tussen die groot geskiedenis en die klein menswees; tussen taal en wêreld; tussen verbeelding en werklikheid en tussen geskiedskrywing en verhalende prosa.

.........

Die roman is in vyf genommerde dele verdeel. Dele I en V speel hoofsaaklik in die hede af en vorm ’n raamvertelling vir Helena se herinneringe en mymeringe. Dié struktuur vind weerklank in talle verwysings na harde uiterlikes met sagte innerlikes – byvoorbeeld bros wafels “met ’n hart van witwarm deeg”, stywe korsette wat letterlik sagte lywe ingord en figuurlik eng denke voorstel, gewonde skedels en liggame wat sagte harsings en ingewande blootlê, ens.

Die ruimte van die raamvertelling is Helena se slaapkamer op die boonste verdieping van haar “kolos van ’n huis ’n ent buite die stad met ’n groot tuin langs ’n rivier” in Vlaandere, waar sy bedags beurtelings versorg word deur die deernisvolle Frans-Marokkaanse Rachida en die ongevoelige “moddervet teef”, Christine – waarskynlik ’n metafoor vir die Duitse besetters wat “varke” genoem is.

Snags word die bejaarde Helena oorval deur “taallose beelde” wat dan die verskeidenheid ruimtes van die binneverhaal as ’t ware “beset”, naamlik die Vlaandere van haar jeug, haar oom Théo se landgoed in Noord-Frankryk waar hul jaarlikse somervakansies deurgebring is en waar sy deur die oorlog vasgekeer word; die slagvelde en oorspoelde loopgrawe waarvan haar broer, Edgard, vertel; die grafte en geplunderde dorpe wat haar man, Matthew, fotografeer; en dan ook die innerlike ruimte van Helena se filosofieë en emosies wat sy in haar notaboeke opteken.

Helena beskryf haarself as ’n bejaarde vrou met vertederende selfspot – ’n “gevreet met die gryns van ’n mummie wat my elke oggend in die badkamerspieël met my eie vergeelde tande uitlag. Daardie karkas wat bespotlik genoeg nog steeds die luste van ’n meisie herberg en by die sien van die ruitwassers in hulle hysbak voor die vensters nog steeds na hulle kruis loer soos ’n bakvis na ’n suigstokkie” (21). Asof ons saam deur haar album blaai, leer ken ons haar Franssprekende Katolieke ma, ’n edelvrou wat met ’n droë altstem staccato bevele snou, en haar sjarmante pa, vasgevang tussen die gegoede klas wat op hom as kruidenier neersien en die “altyd honger” sosialisties-geïndoktrineerde werkersklasklante wat hy vrees.

Helena is op háár beurt vasgeknel tussen ’n meedoënlose ma en ongeërgde dogter met eenderse korsetbekrompenheid. Wanneer Helena byvoorbeeld as kind filosofeer oor dinge soos die dood, God en boeke wat “naamloos deur die wêreld behoort te waai”, sê haar ma (19): “Die lewe is eenvoudig. Ek het geen groot woorde daarvoor nodig nie. Dis soos om skottelgoed te was. ’n Mens maak borde vuil, was hulle skoon, droog hulle af, bêre hulle en haal hulle weer uit die kas, en op ’n dag val die hele spul uit jou hande.” Sy geniet dit om haar ma te irriteer, maar besef dan as oumens (38): “Dit is vreeslik dat ek myself nou eers, noudat sy al jare onder die sooie lê, kan omdraai om haar skim te verwelkom in die ryk van die feilbares, en myself met daardie selfde gebaar absolusie kan skenk vir die feit dat ek ’n mens is.”

Die pseudoadellike leefstyl van haar ma se familie in hul halfgebakte herehuis in Noord-Frankryk weerspieël die klasverskille tussen die houtgeruste grondeienaars in die fluweelbedekte leefvertrekke en hul wrewelige bediendes in die kelderkombuis met sy ongepleisterde mure en skoongeskropte hout. Dan breek die oorlog onverwags uit en word Helena en haar ma in Frankryk vasgekeer terwyl die 18-jarige Edgard op die front gaan veg.

In 1914 kyk die opgeskote Helena met ’n teleskoop na die soldate wat op ’n afstand na die front beweeg. Die volgende jaar ry sy en haar ma op pad dorp toe deur ’n soldatekamp en word die gebou waar hulle oornag, deur ’n bomaanval geruk. Helena word egter gerusgestel deur ’n Britse oorlogsfotograaf, Matthew Herbert, haar toekomstige man.

Soos die oorlogsellende vererger, word die leser toenemend betrek totdat Helena ons direk aanspreek en aandring dat ons kyk hoe ’n spelende dogtertjie deur ’n bomskerf getref en op ’n koue klipaltaar uitgelê word. Nou kyk ons met ’n “geletterde oog” na die verslaentheid van die modderbesmeerde soldate en sug ons verlig saam met die vroue by wie oom Théo, die bode van die doodstyding, dié keer verbystap. En ons kyk hoe Helena en Matthew in die puin van ’n verwoeste gebou liefde maak – en hoe sy tydens ’n vrolike fotonemery besef sy en haar broer bemin dieselfde man.

Wanneer die oorlog ná vier jaar van skaakmatgevegte sonder oorwinnaars beëindig word, keer Helena en Matthew terug na België. Edgard oorleef die oorlog met leë oë en ’n letsel dwarsoor sy lyf wat op koue dae spookpyne veroorsaak en lewenslank só jeuk dat hy dit krap totdat dit weer bloei. As gay man was hy vir Helena “altyd in ’n spottende geheimsinnigheid gehul”, maar ná die oorlog gaan wys hy haar die pleine waar oudsoldate hul gewonde en verminkte lywe verkoop. Matthew neem haar saam om slagvelde en oorlogsgrafte af te neem. Helena kyk vererg hoe “routoeriste” oor die loopgrawe klouter en merk sinies op dat die grafskrifte eufemismes is omdat dit verswyg dat die grafte net liggaamsbrokke bevat. Matthew verwoord die futiliteit van oorlog dalk die skreiendste met sy opmerking oor die oorlogsmedalje wat hy ontvang nadat hy gly en sy arm breek: “They hand ’em out like cookies these days.”.

Tussen twee wêreldoorloë het Helena getrou, ma geword, geskiedenis studeer, gereis en van al haar geliefdes afskeid geneem. Sy en Matthew het steeds elke somer die familiehuis in Frankryk besoek totdat sy vyf jaar na sy dood finaal van die toe bouvallige plek afskeid geneem het met die woorde: “Maar ek het nie gekom om verstom rond te kyk nie. Ek het gekom om te rou, daardie huis is my grafkapel, die bêreplek van al my dooies, wat ek net daar kon beween.”

Die roman eindig met Rachida se slaaptydstorie oor haar oeroupa Saïd al Amrani wat as soldaat in die Noorde gesneuwel het en sy seun, ’n mynwerker, se eed dat hy hom in die grond sal vind en boontoe sal bring – net soos Helena die geskiedenis met hierdie verhaal wou uitgrawe en na die oppervlak bring. En dan trek Rachida die gordyn oop sodat Helena na die sterre kan kyk terwyl sy aan die slaap raak.

Hoewel Godenslaap in Nederlands geskryf is, is dit volgens Mortier geanker in die belle époque van Helena se jeug toe daar hoofsaaklik in Frans geskryf is. Hy wou dus die frankofiele kultuur in die Nederlandse atmosfeer “insuig” om ’n roman te skryf wat “eg Belgies” is. Fanie Olivier se sensitiewe vertaling maak hierdie grootse roman toeganklik vir Afrikaanse lesers en hy sê tereg (Voertaal, 24 September 2020): “Dit is die wyse waarop Mortier sy hoofkarakter in taal gestalte laat kry wat hierdie roman ’n onvergeetlike ervaring maak. […] Maar ek dink nie ek het ooit iets probeer ver-Suid-Afrikaans om dit ’makliker’ of ’verstaanbaarder’ te maak nie. ’n Roman van hierdie statuur verdien dít nie.” En dáárvoor is die Afrikaanse literatuurskat hom groot dank en erkenning verskuldig.

Ns. Vir treffende visuele agtergrondmateriaal kan lesers gerus op YouTube kyk na die video getiteld “Passchendaele: The bloodiest battle of World War I”.

  • FMR Boekkeuse, aangebied deur Amanda Botha. Uitgesaai in Mei 2021.

Lees ook:

"Wanneer gode slaap": Fanie Olivier deel sy ervaring van vertaalwerk aan ’n groot Belgiese Eerste Wêreldoorlog-roman

 

 

The post <em>Wanneer gode slaap</em> deur Erwin Mortier: ’n FMR-resensie appeared first on LitNet.

Na ’n plaas in Afrika deur Irma Joubert, ’n resensie

$
0
0

Titel: Na ’n plaas in Afrika
Skrywer: Irma Joubert
ISBN: 9780639606262
Uitgewer: LAPA

...
Daar is ook geen morele oordele nie. Maak nie saak hoe mens voel oor Hitler en sy verfoeilike politiek nie, sowel die Nazi-soldaat Oswald as Rudolf Hess se verhale word so vertel dat die leser op die karakters kan fokus sonder om eers aan die politiek te dink.
...

Laat my van die begin af my belange – of gebrek daaraan – verklaar: Ek is nie die wêreld se grootste leser van historiese fiksie nie. Maar daar is sekere eras in die geskiedenis wat vir my geweldig interessant is, en daar is ’n handvol skrywers wat geskiedenis só kan oopskryf dat mens na die tyd lus voel om alles wat jy daaroor in die hande kan kry te bestudeer.  Die Tweede Wêreldoorlog is een tydperk wat my nog altyd fassineer het, en sedert my kennismaking met Irma Joubert se Tussen stasies (ek was bevoorreg om dit reeds in manuskripvorm te lees) was ek ’n aanhanger.

Na ’n plaas in Afrika tiek al die kassies vir enige Irma Joubert-aanhanger, maar daar is ook heelwat in hierdie lekker dik roman (557 bladsye) wat dalk vir haar ’n paar nuwe aanhangers kan besorg.

Twee dinge het van meet af aan opgeval: die feit dat Irma vir die eerste keer ’n seuntjie as hoofkarakter gebruik, en die kykie na ’n stuk WO2-geskiedenis waarvan ek maar min geweet het (en ander lesers dalk ook). Ek het geskiedenis as matriekvak geneem, maar kan nie onthou dat daar veel uitgebrei is oor Hitler se magte se inval in Rusland nie. Nog minder oor al die ontberings wat hulle moes verduur. Die fokus was meestal – soos dit sekerlik hoort – op die verskriklike lyding wat Jode in konsentrasiekampe moes verduur weens Hitler se antisemitiese beleid.

Van Hitler gepraat: Het jy geweet dat Hitler se tweede in bevel, Rudolf Hess, heeltemal ’n ander idee as sy Führer gehad het oor hoe die Duitsers die oorlog moes aanpak as hulle wou wen? Weer eens: Ek kan glad nie onthou dat ons matriekgeskiedenis enigsins hiervan melding gemaak het nie, maar hier leer ek dit danksy Irma. En hoe klein Charles, een van honderde kinders wat uit Londen ontruim is om bomaanvalle vry te spring, se storiepaaie in ’n klein dorpie in Skotland kruis met dié van Rudolf Hess, is iets wat jy maar self moet gaan lees. Dis maar een van talle redes hoekom ek dit moeilik gevind het om hierdie roman neer te sit.

...
Een van die grootste redes vir Irma Joubert se gewildheid is dat sy oor die gawe beskik om die geskiedenis te laat lééf. In hierdie geval word die geskiedenis – nes die ruimte – as’t ware ’n karakter in die verhaal eerder as net blote vervelige agtergrond vir die storie.
...

Een van die grootste redes vir Irma Joubert se gewildheid is dat sy oor die gawe beskik om die geskiedenis te laat lééf. In hierdie geval word die geskiedenis – nes die ruimte – as’t ware ’n karakter in die verhaal eerder as net blote vervelige agtergrond vir die storie.  ’n Fiksieskrywer sal altyd vir jou vertel dat wys belangriker is as vertel, maar hoe vertel ’n mens ’n groot stuk geskiedenis net deur dinge te wys? Irma slaag egter wel daarin om die perfekte balans tussen wys en vertel te kry en sodoende te verhoed dat die leser in ’n vervelige geskiedenisles vasgevang word.

Daar is ook geen morele oordele nie. Maak nie saak hoe mens voel oor Hitler en sy verfoeilike politiek nie, sowel die Nazi-soldaat Oswald as Rudolf Hess se verhale word so vertel dat die leser op die karakters kan fokus sonder om eers aan die politiek te dink. Oswald is nie juis ’n aangename karakter nie, maar selfs vir hom ontwikkel mens later empatie en – heelwat later – selfs simpatie.

Daar is ’n lekker wisseling in tempo en ook tussen die storielyne van die karakters dwarsdeur die roman. Net voordat die lotgevalle van die arme Duitse soldate in Rusland jou terneergedruk kan maak, verskuif die kamera na klein Charles in Skotland vir ’n heel ander perspektief op dieselfde oorlog. (Nie minder ernstig van aard nie, maar beslis minder somber.) 

Terloops, Irma het die dorpie Eaglesham besoek. Dis hier waar Charles, wat losweg gebaseer is op ’n man wat by Irma se pa op die plaas gewerk het in haar kinderjare, tydelik kom woon nadat sy pa hom uit Londen wegstuur. Irma skep die dorpie so duidelik dat my belangstelling behoorlik geprikkel was om te sien hoe dit daar lyk, en te oordeel aan Google Earth is haar beskrywings 100% in die kol. (Eaglesham se geskiedenis speel ’n sentrale rol in die verhaal, maar gaan lees gerus self.)

Na ’n plaas in Afrika is die derde boek in Irma se oorlogstrilogie (dis voorafgegaan deur Immer Wes en Mentje – Kind van die Pas-Opkamp), en in al drie beleef ’n mens die oorlog ook deur ’n kind se oë. By terugskoue is dit dalk deel van die sukses van hierdie trilogie – kinders kyk anders na oorlog as die volwassenes in die onderskeie romans. Die kinderlike perspektief onderstreep die onbegryplike waansin van oorlog met ’n dik rooi pen, wat dit des te meer boeiende leesstof maak.  Al drie romans het heelwat volwasse karakters, wat uiteraard sorg vir ’n heel ander perspektief op die oorlog.

Nog ’n interessante invalshoek is die gebruik van Ilse Hess, Rudolf Hess se vrou, as een van die hoofkarakters. Mens leer meer oor Hess, die man agter die politieke persona, en beleef nog ’n stuk minder bekende wêreldgeskiedenis, die Nuremberg-verhore van die oorlewende Nazi-leiers na afloop van die oorlog, deur Ilse Hess se ontnugterde oë. 

Die storie kry ’n verrassende kinkel wanneer klein Charles na familie aan die suidpunt van Afrika gestuur word toe die tante by wie hy weens die oorlog gaan woon het, te oud raak om na hom om te sien. So beland hy in Botswana. Hoekom juis Botswana? wonder jy dalk. Wel, ek het ook, en in ’n onderhoud met Irma het sy vertel dat sy die kollig ook wou laat val op die Europese lande in die trilogie se “kolonies” of “protektorate”. Hoewel die gedeeltes waar daar na Seretse Khama en die geskiedenis van Botswana verwys word, maklik geforseerd sou kon voorkom, word hierdie slaggat netjies vermy deur dit te knoop aan die tragedie in Botswana wat uiteindelik Charles se hele lewe sou verander.

Mentje,  Esther en dié se halfbroer Oswald is enkele van die karakters van die vorige twee romans in die trilogie wat weer hul verskyning maak, maar dis glad nie nodig vir ’n leser om die vorige twee romans te lees om te verstaan waar hulle inpas nie. Hierdie roman staan stewig op sy eie storiebene. (Hoewel ek egter sou aanbeveel dat jy wel al drie boeke in volgorde lees  – dis heerlike leesstof vir die koue wintersaande.) 

As jy hou van ’n lekker storie en ’n interessante stuk wêreldgeskiedenis wat vanuit ongewone hoeke belig word, kan ek Na ’n plaas in Afrika sonder skroom aanbeveel.

Lees ook:

Irma Joubert (1947–)

Boekresensie: Immer wes deur Irma Joubert

Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Mentje, kind van Pas-Opkamp deur Irma Joubert

The post <em>Na ’n plaas in Afrika</em> deur Irma Joubert, ’n resensie appeared first on LitNet.

’n Baie lang brief aan my dogter deur Marita van der Vyver: ’n resensie

$
0
0

’n Baie lang brief aan my dogter
Marita van der Vyver
Tafelberg
ISBN: 9780624090014

........

Marita van der Vyver se jongste boek, ’n Baie lang brief aan my dogter, word as jeugmemoires beskryf. Die skrywer self verwys daarna as ’n “outobiografiese boek”. Dit ís een. Maar wat is die verskil tussen ’n outobiografie en memoires eintlik?

.........

Marita van der Vyver se jongste boek, ’n Baie lang brief aan my dogter, word as jeugmemoires beskryf. Die skrywer self verwys daarna as ’n “outobiografiese boek”. Dit ís een. Maar wat is die verskil tussen ’n outobiografie en memoires eintlik?

’n Outobiografie kan oor ’n hele leeftyd strek, terwyl memoires op ’n spesifieke deel van die skrywer se lewe fokus. Memoires het, soos hierdie een, ook ’n meer persoonlike aanslag.

Hoewel Van der Vyver se lang brief aan haar Franse dogter, Mia, gerig is – en dís die samebindende faktor – is dit vanselfsprekend op ’n wyer lesersgehoor gemik. Dis ’n samevatting van ’n stuk Suid-Afrikaanse geskiedenis. Die belang daarvan mag nie onderskat word nie. Mens kan tog nie vorentoe beweeg as jy nie weet wat agter jou lê nie.

Van der Vyver belig onder meer die wreedheid en hartseer van die apartheidsbestel in die sestiger- en sewentigerjare van haar jeug. Ook deur die ervaringe van hul destydse huishulp, Dolly Titus van Kenhardt. Titus en haar rasgenote is nie eens toegelaat om boeke by die biblioteek uit te neem nie.

Hoewel die euwel van apartheid onvermydelik deel van baie van ons se teer en seer weefsel geword het, handel hierdie memoires nie net daaroor nie. ’n Lang brief aan my dogter is eerder ’n verhaal oor taal, woorde en boeke, spesifiek oor die leeswerk wat die skrywer se lewe beïnvloed het.

.......

’n Lang brief aan my dogter is eerder ’n verhaal oor taal, woorde en boeke, spesifiek oor die leeswerk wat die skrywer se lewe beïnvloed het.

.........

Die rol van taal, spesifiek Afrikaans, val dadelik op in hierdie memoires wat só begin: “Eintlik behoort ek hierdie brief in Frans te skryf, maar ’n tweede of derde taal sal altyd ’n taal van die verstand eerder as die hart wees. En wanneer ’n ma haar eie storie vir haar dogter vertel, moet sy dit in die taal van haar hart doen.”

Van der Vyver “eis” haar eie taal “op”. “Ek wil lankal nie meer Engels, of selfs Frans, wees nie. Ek het onbeskaamd Afrikaans geword,” skryf sy.

Die taal skitter, soos hier: “Ek is gebore uit woorde. Nie boekwoorde nie, dit het eers later gekom, toe ek begin lees en skryf het ... Maar in die begin was dit praatwoorde en luisterwoorde. Rymwoorde en toorwoorde. Liedjies wat Pa vir ons gesing het en sprokies wat Ma ons vertel het.”

Kom dit by die verhaal self, vind lesers uit hoe Van der Vyver van ’n skugter boekverslaafde uit ’n middelklasgesin ontwikkel het tot ’n (bekroonde) skrywer. Die leser word ’n soort voyeur wat van buite af inkyk na die skrywer se lewe, haar verhouding met haar dogter en ’n gewese Suid-Afrika.

Mens het nog nie werklik gelewe as jy heeltyd op die reguit pad gebly het nie, skryf sy. Haar eie lewe het soms teen die norm ingedruis. Dit was nie destyds aanvaarbaar om in enige ander plek as die kerk te trou nie. Van der Vyver het haar sitkamer in Kaapstad verkies. Haar tweede huwelik het in ’n Franse burgemeesterskantoor plaasgevind. Om nie te praat van die “sonde” wanneer ’n kind buite die eg gebore word nie! Haar dogter, Mia, het op nege maande in haar ouers se arms die seremonie bygewoon.

Volgens Van der Vyver klink sy vir haarself “soos ’n sletterige sukkelaar uit ’n storieboek” wanneer sy vertel dat sy drie kinders by drie mans gehad het. Maar die lewe werk mos nie altyd uit soos mens dink dit sal nie, skryf sy ook.

Sy vertel oor liefdesverhoudings wat nie uitgewerk het nie, oor tradisioneel ongemaklike onderwerpe tussen ma en dogter, soos seksualiteit, en deel ook die skokkende feit dat sy as kind op ’n keer betas is.

Só beskou Van der Vyver haar ontboesemings: “Uiteindelik is eerlikheid steeds vir my die grootste toets vir wat ek ook al skryf – en selfsensuur waarskynlik die grootste slaggat waarin ek kan val. As jy eers met selfsensuur begin, word daardie slaggat weldra ’n bodemlose put waaruit jy nie weer kan klim nie.

“En dan is alle eerlikheid in elk geval daarmee heen.”

.......

Sonder emosionele skrywery val die hegte band tussen ma en dogter op. Daarby is Van der Vyver manhaftig genoeg om om verskoning te vra vir die kere dat sy reken sy haar dogter teleurgestel het.

.........

Sonder emosionele skrywery val die hegte band tussen ma en dogter op. Daarby is Van der Vyver manhaftig genoeg om om verskoning te vra vir die kere dat sy reken sy haar dogter teleurgestel het.

Soos baie van die vroue in hul familie is ma en dogter duidelik geestelik sterk: “Dis jou tribe, my kind, vroue wat hulle voete kan neersit.”

Reis is ’n opvallende tema. Nie net letterlik nie, maar ook die lewe as reis. In hierdie verband haal die skrywer vir William Shakespeare uit The Tempest aan: “What’s past is prologue.”

As jy self jonk was in die sestigs en sewentigs, sal jy met die lees van ’n Baie lang brief aan my dogter ’n nostalgiese reis soos min onderneem. Die skrywer slaag goed daarin om die destydse milieu weer te gee. Nie net wat plek- en ook omgewingsbeskrywings betref nie, maar ook deur middel van rolprente, musiek, modes en natuurlik boeke.

As jy self toe jonk was, sal jy sekerlik die telefoontjiespeletjie, outydse papierpoppe en LM Radio (onder die kombers) onthou. Kapenaars sal natuurlik ook nie Adderleystraat se ou, statige Stuttafords met sy bejaarde hysbak-“bestuurder” vergeet nie.

Jy roep waarskynlik soms juffrou se liniaalhoue op jou handpalm in herinnering, of, as jy manlik is, dalk die lyfstraf wat Pa jou gegee het.

Besonder insiggewend is die skrywer se kommentaar oor die dun lyn tussen werklikheid en fiksie. In hierdie verband haal sy soms uit eie publikasies aan.

Briewe, waarvan hierdie boek ’n voorbeeld is, is ’n gereelde verskynsel in Van der Vyver se romans, soos Grensgeval (2019). Sy het behoorlik naam gemaak met die oopskryf van (warm) sensualiteit in Griet skryf ’n sprokie wat in 1992 verskyn het. Dié verhaal was haar eerste roman vir volwassenes.

Wie sou kon dink dat Van der Vyver as tiener Mills & Boon-liefdesverhale gelees het? Deesdae voel sy vanselfsprekend meer tuis in die wêreld van letterkunde, “die nimmereindigende vreugde van lees, van boeke, stories, ware stories en liegstories, fiksie en niefiksie”. Sy sien egter nie neer op ander se leessmaak nie, maar gun trouens elke diertjie sy leesplesiertjie.

........

’n Baie lang brief aan my dogter weerspieël die voltooiing van lewensiklusse, geboorte en dood. Van der Vyver se ma is oorlede kort ná Mia se geboorte. Later lees jy iewers dat haar pa oorlede is toe sy die eerste eksemplare van dié boek ontvang het.

.........

’n Baie lang brief aan my dogter weerspieël die voltooiing van lewensiklusse, geboorte en dood. Van der Vyver se ma is oorlede kort ná Mia se geboorte. Later lees jy iewers dat haar pa oorlede is toe sy die eerste eksemplare van dié boek ontvang het.

’n Baie lang brief aan my dogter skitter van spatsels humor. Van der Vyver skryf byvoorbeeld dat haar suster geweier het om haar ouma Tina te soen omdat die ouer vrou in die laaste dekade van haar lewe ’n stekelrige snor ontwikkel het.

Met die reis deur hierdie brief besef mens dat jy dit wat eie is aan jou land, jou kultuur, jou agtergrond en jou taal as vanselfsprekend aanvaar. Wanneer jy egter jou verkyker uithaal en in hierdie geval deur ’n Afrikaans-Franse lens kyk, tree vervreemding in. Alles lyk nuut, soms selfs eienaardig. Soos ook die eenvoudige sêding oor Dog wat ’n veer geplant en gedink het dat daar ’n hoender gaan opkom.

Skuif vir eers alle moet-doen take opsy en lees gerus hierdie lang brief van ’n besonderse ma aan haar dogter. Dit is onteenseglik die moeite werd. Veral as jy ook in die sestigs en sewentigs jonk was.

The post <em>’n Baie lang brief aan my dogter</em> deur Marita van der Vyver: ’n resensie appeared first on LitNet.

Leef lig – vyf gewoontes van die Vroeë Kerk en wat dit vir ons vandag beteken deur Jaco Strydom: ’n lesersindruk

$
0
0

Leef lig: Vyf gewoontes van die Vroeë Kerk en wat dit vir ons vandag beteken
Jaco Strydom
ISBN: 9780796322555
Lux Verbi

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.

Die Bybelse boek Handelinge van die Apostels was nie ’n boek waaruit ou Dominee juis graag gepreek het nie. Later sou ek mense hoor opmerk: Dominee is mos ’n Ou-Testamentikus, ’n kenner van die Ou Testament. Maar ek onthou wel preke uit die Nuwe Testament, maar dan eerder uit Romeine, die Evangelies, praktiese riglyne vir die Christelike lewe, dié soort van ding. Maar in dié nuwe boek van Jaco Strydom, wat ’n historiese argument oor die kerk wil maak, word daar sommer weggespring met Handelinge om vir ons te wys dat die vroeë kerk ’n beweging van aksie was, eerder as van net praat.

Daar is inderdaad veel te sê oor die vroeë kerk. Daar is veel om wys te word uit ’n studie van die vroeë kerk. Daar is nogal vreemde materiaal in dié boek. Wat duidelik is van hierdie mense in Handelinge, is dat hulle nie werklik Christene was nie. Die woord Christen word natuurlik die heel eerste keer aangetref in hierdie einste boek. Mens moet natuurlik nou ook hier in ag neem dat die Bybelse boeke nie gerangskik is in die orde waarin hulle geskryf was nie. Nietemin, ’n mens sou soort van verwag dat die woord Christen ook in die vier Evangelies sou voorkom, of ten minste die woord Triniteit of Drie-eenheid. Maar nee, daardie woorde vind mens nêrens in die Bybel nie. Teen hoofstuk 15 van Handelinge vind ons egter die vroeë kerk in ’n bittere stryd oor die saak van besnydenis. Die rede hiervoor is natuurlik dat die kerk as ’n Joodse splintergroep begin het, en nie as ’n nuwe godsdiens nie, en dat daar daarom lelik kopgestamp is oor die nakoming van die wet – iets wat Jesus geleer het.

Maar so gepraat van die vroeë kerk: ’n Goeie begin wat die moderne kerke gerus kan oorneem by die antieke kerk is om eerder weer die vis as simbool te gebruik in plaas van die kruis. Maar dit sal natuurlik nie akkordeer met die kerk se soenofferteologie nie ...

Getrou aan Strydom se aard is hy ook in hierdie boek nie ’n man van ’n stortvloed woorde nie. Sy hele boek beslaan so 175 kort bladsytjies. Maar wat hy te sê het, is briljant geformuleer. Eenvoudig en kragtig gestel. Hy loop nie draaie nie en draai nie doekies om nie. Mens hoef nie eens met hom saam te stem om sy vermoë met die woord te bewonder nie. Mens wil telkens stop en iets onderstreep of neerskryf. Dit is die een pittige uitdrukking na die ander. Hy begin dan ook sy relaas met ’n aanhaling deur ene Richard Bohr wat na bewering gesê het: “We do not think ourselves into new ways of living, we live ourselves into new ways of thinking” (13). Die kerk het natuurlik ook ’n “vloekwoord” vir mense met hierdie soort denke. Dit staan bekend as die “emerging church”. Daardie spontane beweging van kerkmense wat skynbaar meer begaan is oor hoe geloof jou lewe verander as oor “korrekte” teologie.

Jesus: Strydom se grootste woordwapen is Jesus. Spesifiek Jesus se lewe. Jy kon na Jesus luister, sê Strydom, maar jy kon ook presies dieselfde boodskap kry deur na Jesus se lewe te kyk. By implikasie verskil Jesus en sy vroeë volgelinge dus van die moderne kerk: “Daar word baie gepraat in die kerk en in die teologie. Maar wat maak dat die wêreld dit wat ons sê ernstig opneem” (26).

Die eerste deel van Strydom se titel is meerduidig, vir dié wat dalk wonder of daarvan onbewus is. Aan die een kant is daar die ooglopende: Leef lig, leef sonder bagasie. Moenie materialisties wees nie (Matteus 6:19). Die teologie self is ook soms vol onnodige bagasie wat mense en gemeenskappe rem. Maar belangriker, vanuit die perspektief van wat Strydom probeer argumenteer, is ook die onderliggende verwysing na Jesus se woorde: “Julle is die lig vir die wêreld” (Matteus 5:14). Dit is die ou, gedurige armdruk in die kerk. Geloof of dade. Maar Strydom sê: Leef lig en lééf lig.

Van die ander juwele in Strydom se boek:

Suid-Afrika het nie ’n tekort aan kerke nie, maar ’n reusetekort aan liefde (56).

Die teenoorgestelde van liefde is nie haat nie; die teenoorgestelde van liefde is selfsug (74).

Die uitdaging is om te streef na verhoudings wat uiteenlopende interpretasies en opinies oor die waarheid kan hanteer (94).

Hoe sukkel ons nie met laasgenoemde nie. En hierdie is nie iets waarmee slegs die Christendom sukkel nie. Inteendeel. Dis so in die mens se aard om nie mekaar te wil verdra nie! Ons kanselleer mekaar. Ignoreer mekaar. Ons stry oor onbenullighede. Nie net in kerke nie, maar oral.

Tien uit tien vir Leef lig deur Jaco Strydom. Ek lees graag wat hy skryf, al deel ek nie sy godsdiens en geloof nie. Want oor so baie van wat hy skryf kan mens net sê wow! Hier is ’n stem wat sê wat gesê moet word!

The post <em>Leef lig – vyf gewoontes van die Vroeë Kerk en wat dit vir ons vandag beteken</em> deur Jaco Strydom: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.

Drie dekades van verandering – die NG kerk se pad van verruiming deur Neels Jackson: ’n lesersindruk

$
0
0

Drie dekades van verandering: Die NG kerk se pad van verruiming
Neels Jackson
NB-Uitgewers
ISBN: 9780796322654

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.

Dit is absoluut verstommend hoeveel boeke daar oor die Afrikaanse kerke, en dan meer spesifiek die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk), geskryf was in die onlangse verlede en steeds geskryf word. En uiteenlopend! Dink maar net aan titels soos Die opkoms en ondergang van die NG Kerk (Penguin Random House 2018) deur Jean Oosthuizen; Ben du Toit se God: Is daar ’n ander antwoord? (Lapa 2020); en Frits Gaum se Kerk oor die muur of oor die Rubicon (Naledi 2020). En hierdie is maar net enkele voorbeelde. Daar is nog baie ander boeke wat aspekte van die kontemporêre verlede van die NG Kerk dek. Kerksake skyn steeds hoog op die agenda van mense te wees! ’n Ander interessante voorbeeld wat ook miskien vermelding verdien, is Wat moet ons met ons kerk doen? deur Jurie van den Heever (Naledi 2017).

Wat maak Jackson se boek dan enigsins anders?

In vergelyking met byvoorbeeld Oosthuizen se boek kan mens Jackson se weergawe beskryf as ’n “mooi storie” van die NG Kerk se kontemporêre verlede. Beide Oosthuizen en Jackson skryf vanuit ’n joernalistieke perspektief. Beide was voorheen verbonde aan die kerk se mondstuk, Kerkbode. Maar twee meer uiteenlopende boeke oor dieselfde onderwerp sal jy sukkel om op te spoor.

Ter inleiding sal ek dit moet stel dat ek Jackson se boek werklik geniet het. Daar is aspekte van die boek wat dit ’n besonderse publikasie maak. Daar is Jackson se wye ervaring as joernalis. Hy het die kerk deur baie seisoene beleef. Hy is hoogs ingelig oor die kerk en die kerk se leierskap en hoe die kerk oor dekades ontwikkel het. In die boek onthul en dokumenteer hy gebeure wat mens waarskynlik nêrens elders te lese sal kry nie. Dit sal ook onwaar wees om te wil beweer dat Jackson nie erns maak met die omstrede sake in die kerk nie. Inteendeel word die taai toffies almal deurgedraf. Dit is ook aangenaam geskryf in toeganklike Afrikaans. Om al hierdie redes is dit ’n boek wat ek sonder twyfel sal aanbeveel vir enigiemand met ’n belangstelling in die onderwerp. Ter versagting sal mens dit ook moet stel dat Jackson dit duidelik maak dat sy boek nie ’n akademiese boek is nie. Dit is nie ’n volledige geskiedenis van die kerk nie. Dit is eerder ’n memoir en ’n persoonlike besinning oor sy ervaringe as lidmaat van die kerk en latere koerantman oor kerksake. In sy eie woorde is die boek sy “indrukke van die belangrikste tendense en ontwikkelings van wat van 1990 tot 2020 in die NG Kerk plaasgevind het” (9).

Daar is egter ’n duidelike poging om ’n “mooi storie” te skryf waar dinge by tye werklik nie so mooi was nie. Om weer vir Oosthuizen by die saak in te sleep: Daar word byvoorbeeld in hierdie boek niks geskryf oor die sogenaamde Woordfeesdebakel van 2013 nie. Daar word egter wel oor verskeie van al die ou bekende kopsere geskryf. Dit sou ook nie anders kon nie. Daar is die kerk se apartheidsverlede. Die kerk se onderdrukking van vroue. Die kerk se onderdrukking van gay mense. Die kerk se swak verhoudinge met ander kerke. Die versplinterheid van die kerk. Jackson probeer deurlopend argumenteer dat dit die kerk was wat verruim het en so “verander” het oor die afgelope drie dekades. Maar die vraag wat telkens vir my ten hemele skree, is: Het die kerk nie eerder maar net die staat nageloop nie? Dit is so dat die kerk reeds in 1986 met die dokument Kerk en samelewing die beleid van apartheid gekritiseer het, spesifiek die toepassing daarvan, maar Suid-Afrika was toe reeds op ’n onomkeerbare pad met die Driekamerparlement. Vroue is toe ook later in die leierskap aanvaar. Gay mense moes nog 25 jaar wag, eweneens lank nadat homoseksualiteit reeds polities aanvaar was, en eers na ’n lelike hofsaak waaroor die kerk vandag nog verdeeld is.

.......

Hoekom lyk dit asof die kerk, keer op keer, maar net verander het omdat die regering en die samelewing verander het?

........

Die grootste stilte wat regdeur hierdie boek eggo, en ’n saak wat veel deegliker in Ben du Toit se boek deurgetrap word, gaan oor die vraag: Waar was God? Met apartheid, met die onderdrukking van vroue, met die onderdrukking van gay mense, met die verdeeldheid in die kerk. Hoekom lyk dit keer op keer so asof God maar verdag lank geneem het om in mense se harte te werk? Hoekom lyk dit asof die kerk, keer op keer, maar net verander het omdat die regering en die samelewing verander het?

Die hoofstukke in die boek word afgewissel met kort profiele van bekende kerkleiers. Dit is ’n wonderlike toevoeging tot die boek en gee mens ’n perspektief op Jackson se indrukke van al die mees prominente leiers in die kerk. Weer eens, wanneer mens Jackson se weergawe van byvoorbeeld Johan Heyns (1928–1994) vergelyk met hoe Heyns voorgestel word deur Du Toit in sy boek, dan is Jackson se voorstelling veel meer rooskleurig as dié van Du Toit. Sommige van die profiele is glad nie eens van mense wat lidmate van die NG Kerk was nie, of dit net tydelik was. Beyers Naudé (1915–2004) was byvoorbeeld, soos die meeste mense seker weet, vir die grootste deel van sy lewe nie baie gewild in die NG Kerk nie. Nico Smith (1929–2010) is iemand wat Jackson goed geken het, maar Smith het nooit heeltemal versoen met die NG Kerk soos wat Naudé het nie.

Het die NG Kerk werklik so baie verruim oor die afgelope drie dekades? Of het die kerk maar net so saam met die wêreld verander? Die NG Kerk het nog ’n rol om te speel in die lewens van baie lidmate, veral ouer lidmate wat nog die kerk koester. Omdat dit steeds grootliks ’n volkskerk is, sal die kerk waarskynlik ook, net soos die meeste van sy lidmate, uiteindelik grootliks in metro’s aktief wees soos wat die kerke op die platteland leegloop. Dit gaan die toekoms egter tegemoet onder ’n wolk van omstredenheid. Aan die koloniale verlede kan daar nie meer veel salf gesmeer word nie. Dit is wat dit was. Die kerk het wel baie bagasie afgeskud, maar die verlede gooi steeds ’n groot omstrede skadu op die kerk, en laat ’n mens maar met baie vrae oor God; vrae wat nie in dié boek aangespreek word nie. 

The post <em>Drie dekades van verandering – die NG kerk se pad van verruiming</em> deur Neels Jackson: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.

Resensie: Dinge van ’n hond deur SP Benjamin

$
0
0

Titel: Dinge van ’n hond
Skrywer: SP Benjamin
Uitgewer: Penguin
ISBN: 9781485903314

Wat het ’n voormalige boer, oudpersfotograaf, polisiesuperintendent en ’n gestremde man wat ’n bestaan vanaf ’n vullishoop maak gemeen?

Grond.

Oor die eeue en oor vele geslagte heen is oorlog gemaak, moord gepleeg en onmin tussen familielede gesaai as gevolg van grond. Binne die konteks van die Suid-Afrikaanse geskiedenis des te meer nog, met grondhervorming wat gemoedere aan beide kante van die politieke spektrum laat opvlam. Met die beoogde verandering van die grondklousule in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika wat tans in die parlementêre ad hoc-komitee gedebatteer word, verskyn SP Benjamin se nuutste roman Dinge van ’n hond op ’n tyd wanneer moeilike besluite met verreikende gevolge geneem moet word.

Benjamin debuteer in 1997 met Die reuk van steenkool, waarvoor hy die Sanlam/De Kat-debuutprys ontvang, gevolg deur ’n kortverhaalbundel, Die lewe is ’n halwe roman, in 1999 wat in 2000 met die gesogte Eugène Marais-prys bekroon is. Na ’n stilswye van meer as twee dekades verras Benjamin met ’n post-1994 plaasroman wat skrywers soos CM van den Heever, DF Malherbe en Jan van Melle se tradisionele plaasroman op sy spreekwoordelike kop keer.

Alhoewel die titel van die roman heel onskuldig mag voorkom, is dit allesbehalwe die geval. Na afloop van die eerste demokratiese verkiesing in 1994 word die Fouries se familieplaas, Gatlek, deur die staat aangekoop as deel van die grondhervormingsproses. Die nuwe eienaars woon egter nie lank op die plaas nie en die plaas verval in onbruik met die grond wat braak lê. Terwyl die eertydse plaaseienaar, Dawid Fourie (of Druiwe, soos die plaaswerkers na hom verwys het), van die verlede probeer ontvlug deur grafstene in sy agterplaas te maak, kan sy seun, Jan-Vlok, nie aanvaar dat hy van sy erfporsie ontneem is nie. Jan-Vlok se donker verlede en sadistiese dade spook by hom. Hy moet dit wat op Gatlek gebeur het, ten alle koste geheim hou. Sy oom, Outa, is vasbeslote dat die waarheid moet seëvier. Die leser word met indringende vrae gekonfronteer: Het Sunshine Solani in die plaasdam verdrink? Waarom sal iemand honde doodslaan en jong meisies seksueel misbruik? Wat het tydens die laaste groot vleisbraai op Gatlek gebeur? En waarom lê daar ’n swart plastieksak met ’n dooie seun daarin op die vullishoop? Sulke vrae laat die spanning stelselmatig opbou totdat Gatlek se geheime ontbloot word.

Klippies, Jan-Vlok se eertydse jeugvriend van Gatlek, is ’n sagmoedige man wat ten spyte van sy gebrek, armoede en weerloosheid die stem van rede en vergifnis in die roman is. Sy empatie met sy medemens en die roerende liefdesverhaal tussen hom en Bettie Rondganger skep lig in die spreekwoordelike donker van die narratief. In die proses moet Bettie haar eie duiwels uit haar verlede konfronteer wanneer Abie onverwags met haar vervreemde suster en susterskind by Klippies se huis opdaag. Ook sy moet, soos Jan-Vlok, haar gevoelens van woede en verontwaardiging teenoor haar familie, maar veral haar pa, verwerk.  

Met Dinge van ’n hond ondersoek Benjamin die baas-klaas-verhouding wat kenmerkend is van talle Suid-Afrikaanse plaasgemeenskappe. Die roman bied ’n perspektief op die verlede en dwing die leser om krities te besin oor onregte wat gepleeg is en steeds gepleeg word. Dit is egter nie ’n politiese teks nie, maar eerder ’n roman wat die sosiopolitieke gebeure van die verlede op ’n eerlike wyse ontleed sonder om vingers te wys of te blameer.    

Benjamin beskik oor die vermoë om deur middel van sy taalgebruik, geloofwaardige karakterisering en die gebruik van verskillende vertelperspektiewe ’n narratief weer te gee wat lesers tot selfrefleksie dwing te midde van die sensitiewe en soms omstrede onderwerpe wat in die roman aan bod kom. Dinge van ’n hond neem bestek op van Suid-Afrika se geskiedkundige verlede. Gatlek was nie net ’n plaas nie – die sleutels tot die slotte van die verlede lê in die grond opgesluit en soos Druiwe, Outa, Klippies en Bettie moet ons nog baie gesprekke oor grond asook die onregte van die verlede voer. Miskien was NP Van Wyk Louw se woorde profeties toe hy in “Klipwerk” (1954:43) opgemerk het:

die swart klip waar jou vuur was
is byna dood gereën
hierdie grond was nie gekoop nie
sommer maar geleen 

Bronnelys:

Louw, NP Van Wyk. 1954. Nuwe verse. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

The post Resensie: <em>Dinge van ’n hond</em> deur SP Benjamin appeared first on LitNet.


Kom hier dat ek jou soen deur Griet op de Beeck: ’n lesersindruk

$
0
0

Kom hier dat ek jou soen
Griet op de Beeck
Protea
ISBN: 9781485309925

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.

Kom hier dat ek jou soen het reeds in 2014 in Nederlands verskyn as Kom hier dat ik u kus. Dit is een van daardie fênsie hogere letterkundige werke. Nie jou tipiese Deon Meyer-boek nie. Beslis nie die soort van ding wat ek tipies sou lees nie. Maar ek glo daaraan om so af en toe wyer as die eie smaak te lees. Ek hou boonop ook daarvan om boeke te lees wat gewild is, want so kan mens ’n bietjie begin verstaan wat aan die boek dit so geliefd maak onder so baie mense, al is dit nou nie noodwendig jou smaak nie. So leer jy dalk ook iets van hoe die mensdom rondom jou dink, en klim jy ook ’n bietjie uit jou eie kop uit vir ’n wyle, en so ook uit jou eie klein wêreldjie. Kom hier dat ek jou soen is in hierdie opsig ’n klassieke geval. Dis ’n boek waaraan ek maar langtand begin lees het. Dis een van daai boeke wat nie ’n sterk storielyn het nie. Dis vir my vreeslik om die woord te moet gebruik, maar die boek is skynbaar wat ons in letterkundeklas geleer is, ’n tipiese “postmoderne” boek. Dit is postmodern omdat dit so gemoeid met die alledaagse, die doodgewone. Daar is nie ’n held wat die wêreld red nie. Geen aksie en jaagtogte en geweld nie. Die held is maar Mona, en die stryd is om haar geluk in die lewe. En dis merendeels ook maar ’n stryd met die self.

Miskien moet ek liewer sê daar is wel geweld. Die geweld van gewoon wees. En hoewel die “verhaal” begin met die karakter Mona as kind, is dit ook asof dit in ’n sekere sin in medias res begin. Want dit begin as net nog ’n generasie wat voortsleep met die bagasie en trauma van die vorige een. Trouens, die boek word op die agterblad beskryf as ’n verhaal “oor stukkende mense en hoe hulle ook ander mense onbedoeld verwond”.

So gewild is hierdie boek dat daar ook ’n film daarvan gemaak is, wat in 2020 verskyn het. Die Afrikaanse vertaling is ook van besondere belang vir ons, omdat dit deur wyle Christine Barkhuizen-Le Roux vertaal is.

Die boek is in drie dele verdeel. Die eerste deel skets die kinderjare van Mona, met haar vader, ’n tandarts, wat in ’n nuwe verhouding beland na die afsterwe van haar moeder. Die verhaal word deurgaans vertel vanuit Mona se perspektief. Sy is die verteller, en sy skets die aanpassing van die gesin by die veranderende lewensomstandighede. In deel twee is Mona volwasse. Sy werk nou in die vermaaklikheidsbedryf en knoop verhoudinge aan. Tot hier was dit maar moeilike leesstof, maar in deel drie begin die verhaal wel werklik skop kry. ’n Belangrike aspek van hierdie verhaal, en ook een van die redes waarom dit miskien so gewild is, is dat dit die onderwerp van genadedood aanroer. Die mensdom het nog lank nie klaar gedink oor genadedood nie, en dit maak gevolglik goeie stof vir fiksie. Dan is daar ook die ontwikkeling van die karakter Mona. Sy bly nie dieselfde nie. Sy verander met tyd, en die roman eindig dan ook waar Mona beheer neem van haar eie lot.

Alles in ag genome kan ek nou verstaan hoekom die boek so gewild is. Mens sal die boek maklik kan neersit as jy soos ek is. Ek is nie die soort leser wat gedurig fiksie lees nie, en nog minder die hogere literatuur wat professore en doktore en lektore lees. Ek is meer ’n misdaadfiksie soort mannetjie, maar om so nou en dan een van die professore se boeke te lees, doen gewis geen skade nie. As mens vasbyt met Kom hier dat ek jou soen, dan lê daar dalk vir jou ook ’n beloning en wag, soos wat daar vir my was. Vir my was die boek uiteindelik ’n aangename verrassing.

The post <em>Kom hier dat ek jou soen</em> deur Griet op de Beeck: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.

When they came for me: The hidden diary of an apartheid prisoner by John R Schlapobersky: a book review

$
0
0

When they came for me: The hidden diary of an apartheid prisoner
John R Schlapobersky
Jonathan Ball Publishers
ISBN: 9781776191031

In his second year at Wits, John Schlapobersky was summoned by a university administrator from a lecture hall, and handed over to South Africa’s notorious security police. It was mid-winter, 1969.

This book tells the story from the build-up to that event, to what happened to him in police custody, and draws out the lessons he learnt. But it is many things besides a linear narrative drawn from apartheid’s darkest moments.

......

Schlapobersky is not interested in revenge, but in answering those who tormented him with understanding and reconciliation, if not quite forgiveness. It is no surprise, then, that Albie Sachs – who has championed the idea of “soft vengeance” – has provided the foreword to the book. This is delivered in Sachs’s infectious style and, as ever, with near-breathtaking leaps of legal and political faith.

.......

Schlapobersky is not interested in revenge, but in answering those who tormented him with understanding and reconciliation, if not quite forgiveness. It is no surprise, then, that Albie Sachs – who has championed the idea of “soft vengeance” – has provided the foreword to the book. This is delivered in Sachs’s infectious style and, as ever, with near-breathtaking leaps of legal and political faith.

The “hidden diary” in Schlapobersky’s subtitle is a 100-odd page account of his 56-day interrogation, torture, solitary confinement, negotiation, release and path to exile. The bulk of the account is constructed from memory and fragmentary jottings, because – so he reports – the state archives yielded very little on the case.

The inner journey that carried Schlapobersky through the various stages of the ordeal is, in contrast, recorded with close attention. For communion, he reached for the Old Testament; for comfort, he turned to Simon & Garfunkel’s “The sound of silence”; for recreation, he recited and wrote poetry – while mostly, he simply marvelled at the sheer incomprehensibility of the apartheid system.

The torture included sleep deprivation and standing on a brick for hours – sometimes days (and nights) – but perhaps worst of all was the slow realisation that the mournful singing which echoed throughout the prison at night was a signal that executions would follow in the morning light. Mixed in with all this was the “good cop/bad cop” routine of questioning, which was tasked, among others, to the infamous “Rooi Rus” Swanepoel and the urbane – but no less notorious – Johan Coetzee.

If this was all to be expected in an account of treatment at their hands, what is not anticipated were the issues that seemed of interest to the security police. Was he a terrorist? Did he help an acquaintance skip to Lusaka? Who was the friend he drove half-way to Swaziland?

In the context of the struggle for South Africa, of course, these might seem to be routine questions. But what particularly interested this reviewer was the timing of these interests. Remember that all this took place in mid-1969, and that these strands were then not as closely linked as was later to become plain. Although the Terrorism Act was passed in 1967, terrorism – as an analytical category – rose to prominence only in the 1970s; while Zambia became independent in 1964, Lusaka only became a factor – in the sense that it was a base for “the struggle” – much later; and Swaziland’s independence in 1968 rested on the understanding that the country posed no security threat to the apartheid state.

A resourceful mother and not a little diplomatic intrigue smoothed the way for Schlapobersky’s release, which was conditional on his expulsion to Israel. This involved that country’s consul general in South Africa – who lectured the young man on the tarmac before putting him on the flight to Tel Aviv.

This entire unfolding follows a first-hand account of the life journey that had brought the then 21-year-old to Wits. This is as tender a telling of a boy who was raised by Johannesburg’s then bustling Jewish community as will ever be written. Even the family’s move to Swaziland, and his acquisition of British citizenship, didn’t change the sense that he belonged to Johannesburg – a city whose suburbs, streets and cultural delights are lovingly recalled.

A revealing and informative epilogue points out the lessons of those not-forgotten days in the hands of an authoritarian state. As psychotherapist, Schlapobersky has helped to establish a centre (in the UK) for political refugees who have, in other troubled polities across the world, experienced the same torture as did he. Six brief case-notes provide evidence that telling stories of torment – as he has in these pages – can help to free the many who have been tortured by authoritarianism.

........

Accounts of imprisonment and torture under apartheid all too readily serve narrow political ends – but this book is the exception which proves the old rule. As such, this story will need to do much heavy lifting on that never-ending South African agenda of understanding and its twin, forgiveness.

..........

Accounts of imprisonment and torture under apartheid all too readily serve narrow political ends – but this book is the exception which proves the old rule. As such, this story will need to do much heavy lifting on that never-ending South African agenda of understanding and its twin, forgiveness.

And this work may well begin with a near-hidden thread that runs through these pages, the issue of language. Together with Yiddish, Afrikaans was the tongue of Schlapobersky’s mother on Syferbult, the kosher dairy near Krugersdorp where she spent her childhood – and yet, Afrikaans was also the language which imprisoned her son and was to change the course of his life.

Peter Vale, Senior fellow, Centre for the Advancement of Scholarship, University of Pretoria

The post <em>When they came for me: The hidden diary of an apartheid prisoner</em> by John R Schlapobersky: a book review appeared first on LitNet.

Onverskrokke vroue. Uitdagings en oorwinnings vanaf Bybelse tye tot vandag deur Bettina Wyngaard: ’n resensie

$
0
0

Titel: Onverskrokke vroue. Uitdagings en oorwinnings vanaf Bybelse tye tot vandag
Skrywer: Bettina Wyngaard
Uitgewer: Lux Verbi, 2021
Prys: R250
ISBN: 9780796322364
EPUB ISBN: 9780796322371

Mens kan nie hierdie boek begin lees sonder om die agtergrond van die skrywer in ag te neem nie. Bettina Wyngaard is ’n gekwalifiseerde prokureur en het vir etlike jare by die Anglikaanse Kerk aan die mensehandelprojek gewerk, veral met Wêreldbeker 2010 in Suid-Afrika. Sy het ook as prokureur baie met jong mishandelde vroue in die Oos-Kaap gewerk. Bettina was die eerste vrou wat ’n regspraktyk op Grabouw begin het.

........

Op 29 word sy die jongste JCE (Justice Centre Executive) ooit van die Regshulpraad in Grahamstad. In Januarie 2007 word sy die nuwe direkteur van die Women’s Legal Centre in Kaapstad, waar haar doel is om vroue van hulle regte bewus te maak.

.........

Op 29 word sy die jongste JCE (Justice Centre Executive) ooit van die Regshulpraad in Grahamstad. In Januarie 2007 word sy die nuwe direkteur van die Women’s Legal Centre in Kaapstad, waar haar doel is om vroue van hulle regte bewus te maak.

Haar kennis van en passie vir die vrou in die samelewing kom ook in haar boeke tot uiting. Vandag dien sy steeds as regskonsultant vir haar gemeenskap.

Haar eerste boek, Troos vir die gebrokenes, handel oor verdrukking vanuit die vrugtepakkers se oogpunt op Grabouw en is met die Jan Rabie-prys vir vernuwende prosa vereer. By die US Woordfees word Bettina saam met Karin Brynard aangewys as wenner in die debuutteksskrywer-kategorie.

Hierna volg Vuilspel, ’n speurroman wat om speurkaptein Nicci de Wee draai. Dit word die eerste in ’n reeks – daarna volg Slaafs en Jagter, waar Nicci nie net misdade oplos nie, maar ook haar eie rol as bruin, gay polisievrou probeer navigeer.

Die uitgewersnota oor Bettina se nuutste boek sê: “Vroue speel nog altyd ’n sentrale rol in ons samelewing, beide in die openbare en private sfeer. Hul rol as versorgers word geredelik erken, maar wat van in die kerk, politiek, die sakewêreld, sport en wetenskap? En het die vrou se rol oor die jare verander?

“Sy gaan kyk spesifiek na die sogenaamde tekste van verskrikking (‘texts of terrors’) en beskryf die omstandighede waarin vroue sedert die Bybelse tye leef en hoe die vrou op talle vlakke tot vandag steeds misbruik word.

Onverskrokke vroue is ’n omvattende opgaaf van die vrou se uitdagings en oorwinnings sedert Bybelse tye. Dit is ’n goed nagevorste naslaanbron wat nog vir etlike jare relevant sal wees.

“Daar is dikwels steeds pogings om vroue se regte weg te kalwe. Hul moet konstant waaksaam wees om seker te maak hul verloor nie die vordering wat gemaak is nie. Maar ons kan ook nie vergeet hoeveel vordering wel gemaak is nie.

“Maak nie saak hoe stadig ons vorentoe beweeg nie, ons beweeg. Ons dogters en hulle dogters en hulle dogters bedank ons. Van huisvrou na werkende ma na wêreldleier het ons vir onsself en vir dié wat na ons kom, ’n weg gebaan.”

Ek het aanvanklik gedink die boek gaan fokus op onverskrokke vroue in ons samelewing, van toeka tot nou: voorbeelde, dalk onderhoude of gedagtes van geliefdes om hierdie vroue wat hulle tot hul regmatige status in die samelewing sal uitlig. Daar is immers genoeg onverskrokke vroue deur die eeue wat hierdie hulde verdien en dalk nie voorheen behoorlik geëer is nie.

Die boek is egter meer ’n samevatting van die onderdrukte vrou deur die eeue, van die Bybelse tyd tot vandag, waar sy dalk meer as haar eggenoot verdien, maar steeds die verantwoordelikheid van ma, vrou, dalk tuisonderwyser en kollega moet balanseer. Soos die persvrystelling tereg sê: “’n goed nagevorste naslaanbron”.

........

Dit dek ’n wye verskeidenheid onderwerpe, van die vroue in die Bybel, tot selfdegeslaghuwelike; sekswerk; die arbeidsmark; kinderarmoede; reproduktiewe regte; en die vrou in die openbare lewe.

.........

Dit dek ’n wye verskeidenheid onderwerpe, van die vroue in die Bybel, tot selfdegeslaghuwelike; sekswerk; die arbeidsmark; kinderarmoede; reproduktiewe regte; en die vrou in die openbare lewe.

Dit gee insig en agtergrond, wat selfs vir my as vrou van onskatbare waarde is. Al is dit net om weer te besef waar ons vandaan kom; hoe ver ons al deur die woestyn gestap het en hoe elke klein oorwinning as oase op die reis dien. Maar dat ons steeds in die woestyn is, is onbetwisbaar waar.

Daar is vele plekke tussen die paragrawe waar my moed in my skoene sak – die feit dat statistiek verklaar daar word elke 26 sekondes ’n vrou in Suid-Afrika verkrag, maar die polisie betwis dit deur te sê dis elke 36 sekondes. Genade, 10 sekondes maak nie dié getal minder verskriklik nie. En is dit nie tipies van hoe ons geweld teen vroue benader nie: Kom ons kibbel eerder oor getalle of wat sy gedra het toe sy verkrag is, as om te fokus op die euwel self?

Ook die feit dat slegs een uit nege verkragtings rapporteer word en net 14% van alle mans wat van verkragting beskuldig word, skuldig bevind word.

Of dat mans tot redelik onlangs wraakpornografie oor hulle bedmaat, eggenoot of geliefde kon versprei ná hul paadjies skei en die vrou se lewe en loopbaan vernietig is, maar die man skotvry wegstap.

........

Die inperkings het baie vroue gedwing om as’t ware tussen hul gesin en hul werk te kies, omdat voltyds werk, die gesin emosioneel bymekaarhou, tuisonderrig gee en huishou net te veel geword het. Werkloosheid onder vroue het die hoogte ingeskiet.

.........

Die inperkings het baie vroue gedwing om as’t ware tussen hul gesin en hul werk te kies, omdat voltyds werk, die gesin emosioneel bymekaarhou, tuisonderrig gee en huishou net te veel geword het. Werkloosheid onder vroue het die hoogte ingeskiet.

Bettina sê dit was nou “die ideale tyd vir kerke om hul rol as vegters vir sosiale geregtigheid uit te leef. Kerkgeboue en sale het leeg gestaan, maar is by uitsondering gebruik as plekke waar vroue in nood veilig kon gaan bly ...” Dra die kerk dus meer blaam as net diskriminasie teen vroue op die kansel of in bestuursposisies? Kan ons baie meer van vandag se sosiale kwessies voor die kerk se deur gaan lê? Dis alles aangeleenthede wat sy ondersoek en bevraagteken.

Bettina sê tereg dat wetgewing net woorde op papier is. “Om ware betekenis daaraan te gee, moet oortreders weet hulle sal aan die pen ry. Hierdie versekering bestaan nie in ons land nie.” Maar waar begin ons? Haar opinie oor moontlike oplossings mag dalk nie met almal s’n strook nie, maar dat dit debat sal stimuleer, is gewis.

Sy skryf dat daar nog nooit in die geskiedenis van die wêreld enige groep hul voorregte sonder ’n geveg prysgegee het nie, “was daar ’n geval waar die bevoorregte groep nie bygestaan en ondersteun is deur lede van die onderdrukte groep nie”. Sosiale verandering kom wanneer genoeg onderdruktes weier om langer daaraan mee te doen. Tog beklemtoon sy dat hoewel daar in ander dele van die wêreld gereeld opgestaan word – soos die hutsmerkveldtogte, waaronder #MeToo – kom daar weinig verandering in ons land.

Sy verwoord haar versugting oor “die enorme verskil wat dit aan geweld teen vroue in ons land sou maak indien elke man in ’n geloofsgemeenskap hom tot ’n weergawe van hierdie plegtige belofte (Suid-Afrika en Nieu-Seeland se plegtige beloftes jeens geweld teen vroue en kinders) sou verbind en tot positiewe aksie aangespoor sal word”.

Sy skryf dat howe versigtig is om nie een reg te beskerm en in die proses moontlik ’n ander mededingende reg te onderdruk nie. Dit laat my wonder of die fout vir ons hoë misdaadstatistieke dalk lê by hoe ons howe bestuur word. As die howe en die kerke en die staat dalk hul eie binnekamers ondersoek en skoonmaak, kan geweld teen vroue en kinders dalk begin afneem.

Iets waaroor ek en vriende (van wie heelwat nie gelowig is nie) gereeld debatteer en ’n kwessie is wat Wyngaard in die boek aanraak, is wat “aanvaarbaar” is wat tussen generasies verskil, maar om die status quo te bevraagteken, is nooit aanvaarbaar nie.

........

Vir baie gelowiges is die Bybel die handboek oor wat reg en verkeerd is, maar vir vele is die kritiek dat die Bybel bloot menslike interpretasie en oorvertellings is en baie feilbaar is. Waar kry ons riglyne oor aanvaarbaarheid en wie bepaal die status quo en wie gee hulle die reg?

..........

Vir baie gelowiges is die Bybel die handboek oor wat reg en verkeerd is, maar vir vele is die kritiek dat die Bybel bloot menslike interpretasie en oorvertellings is en baie feilbaar is. Waar kry ons riglyne oor aanvaarbaarheid en wie bepaal die status quo en wie gee hulle die reg?

Met kerke wat leegloop, weet ons dat dit nie net te wyte is aan mense wat lui word vir kerk toe gaan nie; daar is groter kwessies daaragter.

Die boek is uit ’n Christelike oogpunt geskryf en dit mag niegelowiges dalk aanvanklik ontmoedig om die boek te lees of hulle maklik die verskoning bied dat dit nie hul plig is om deel te word van die gesprek nie, want hulle is nie by die kerk betrokke nie.

Die stelling dat die verhouding wat vroue met hul huishulpe het, seker een van die ingewikkeldste arbeidsverhoudinge is wat vandag bestaan, tref ’n kolskoot. Dis die eenvoudigste vorm van arbeidsverhouding, maar dikwels die ingewikkeldste een, omdat die werknemer in die werkgewer se intieme lewe inkyk.

Tog lig sy uit dat dele van die arbeidswetgewing wat huishulpe uitsluit, eers in November verlede jaar ongrondwetlik en diskriminerend verklaar is, terwyl huishulpe al sedert slawerny in 1834 verban is, deel van ons samelewing is.

Mens kan net hoop dat die inligting in die boek oor hoe vroue verdruk word, oor die volgende paar jaar geskiedenis sal word, ’n naslaanbron oor hoe dinge was; dat die narratief kan verander. Dat ons die juk van ’n verkragtingsvatbare samelewing kan afskud; dat die sekondes tussen verkragtings ure en dae en weke en jare word tot dit ’n raar verskynsel is soos in baie ander lande.

Dat jong meisies ongeskend, onverhandel en ongebruik hul lewensmaats én loopbaan kan kies, of dit ’n sekswerker of president is. Dat jy kan woon waar jy wil, stap waar jy wil, glo wat jy wil.

En dat dié kwessie geskei kan word van geloof. Dat dit deel van elke lewende wese op aarde se DNS sal word om vroue as gelykes – en met respek – te behandel.

Lees ook:

Jagter: ’n onderhoud met Bettina Wyngaard

Bettina Wyngaard se Troos vir die gebrokenes ’n welkome bydrae tot die Afrikaanse prosa

The post <em>Onverskrokke vroue. Uitdagings en oorwinnings vanaf Bybelse tye tot vandag</em> deur Bettina Wyngaard: ’n resensie appeared first on LitNet.

Dominique deur Erla-Mari Diedericks: ’n resensie

$
0
0

Agtergrondfoto: Gerd Altmann | Pixabay

...
Dis ’n uitnodiging om te kyk. En dus begin die erotiese riller Dominique met ’n kunsuitstalling met die besliste uitnodiging om te kyk.
...

Titel: Dominique
Skrywer: Erla-Mari Diedericks
ISBN: 9780639607078
Uitgewer: Wenkbrou

Wanneer Dominique du Randt, skilder en sekswerker, by die sielkundige Martin du Plessis aanklop, het sy ’n ongewone versoek. Sy word bekruip, sê sy, en het Martin se hulp nodig om die boosdoener se identiteit vas te stel.

Maar die aksie begin al vroeër, in ’n kunsgalery.

Die skilderkuns is sedert antieke tye met voyeurisme vervleg, en alhoewel nie alle kuns voyeurisme uitlok nie, het alle kunssoorte dít gemeen: Dis ’n uitnodiging om te kyk. En dus begin die erotiese riller Dominique met ’n kunsuitstalling met die besliste uitnodiging om te kyk. Skilderye bedek met naakte kurwes, kruis en dwars oortrek met die knope en toue van erotiese Japannese bondage.

Die sjibaribondagebeeld van die openingstoneel is gepas vir hierdie roman met sy kinkels en kabels, maar meer as dit, met verstrengeldheid en kompleksiteit. Ja, die roman lees seepglad, maar die ontknoping is nie sommer so eenvoudig nie – die leser bly raai, bly dink, bly honger vir nog. Dominique is self so kompleks soos sjibari, en soos wat dié kunsvorm knoop op knoop gebruik word om die genot te verhoog, is Dominique en haar verhaal meer ingewikkeld as wat ’n mens met die eerste oogopslag mag dink. Die teks se sentrale paradoks lê in die gebondenheid én vryheid wat Dominique ook as sekswerker ervaar.

Wat vryheid betref, sien ons hoe Dominique haar beroep gebruik om ’n nuwe identiteit vir haarself te skep. As kind, en in haar huwelik, is sy gebreek, en nou neem sy beheer van haar lewe en haar lyf. Dis die eerste knoop – aan die een kant die idee dat iemand gebroke moet wees voordat sy (of hy) sekswerk oorweeg, maar aan die ander kant vertel Dominique hoe sy die werk geniet. Dit maak van haar ’n interessante en menslike karakter, wat die leser laat raai oor haar ware gevoelens en motivering.

Oor die genot sê Dominique dat om ’n courtesan te wees, vryheid meebring (57.) “Ek hou van die geskiedenis daaragter. Jy weet, daardie tyd, in die sewentiende eeu was die beroep van courtesan die enigste manier hoe ’n vrou dieselfde vryheid as ’n man kon geniet het” (57). Sy gaan voort: “Baie van die courtesans het daardie tyd ook dagboek gehou en een ding is baie duidelik – dié vroue was mal oor seks. Moenie vir een oomblik dink ek hou nie van seks nie. But it’s on my terms.”

Net soos Dominique se sielkundige, Martin, wonder die leser oor die “on my terms”. Dié vraagstuk verhoog die spanning baie doeltreffend. Martin, ’n kenner op die gebied van bekruipers, en die leser, wat darem ook gereeld koerant lees, weet dat sekswerk lewensgevaarlik kan wees. Dominique se vasberadenheid dat sy die … nou ja ... hef in die hand het, maak haar kwesbaar. Die vraag of seks teen betaling, selfs in 2021, überhaupt “on my terms” kan wees, is ’n geldige een. Veral terwyl sekswerk teen die wet is en geweldplegers dus nog makliker kan vryspring, is sekswerk “on my terms” waarskynlik ’n luukse waaroor ’n minderheid oor beskik.

Nogtans, die gegewe van sekswerker wat die werk geniet, herinner aan Belle de Jour se The Intimate Adventures of a London Call Girl (Orion Publishing Group, 2005). Dié boek is gegrond op werklike gebeure, en die skrywer was inderdaad van 2003 tot 2004 ’n hoëklasgesellin in Londen. (Belle is intussen ontmasker as dr Brooke Magnanti, ’n navorser en aktivis met ’n doktorsgraad in forensiese patologie, maar haar verhaal bly feitelik.) Belle begin haar vertelling heel blasé:

The first thing you should know is that I am a whore. Prostitution is steady work. I open my legs. And then I close them. It beats working in an office. After leaving university, I applied for a number of jobs that I never got and watched my savings steadily dwindle. So when a friend gave me the phone number of a madam, I decided to become a call girl. Like you do.

In haar woorde aan Martin blyk Dominique ook redelik blasé te wees oor haar loopbaan, maar haar beskrywings elders weerspreek haar nonchalante uitinge. Oor haar eerste kliënt vertel sy byvoorbeeld: “Alles gebeur te vinnig, te veel, te …”; die man is “slu, suigend, slurpend”; en dan die woord “forseer”, wat die idee van gemak of genot weerspreek (54). Ons sien dus dat Dominique se inlywing in die beroep nie so maklik is soos Belle s’n nie; inteendeel, hierdie eerste kliënt praat vooraf met smaak oor vernedering, en tydens die voorval dink Dominique: “Haal asem, haal asem, haal asem. Om godsnaam, hou net aan met asemhaal” (54). En dan ná die tyd: “Naarheid skok in haar maag” en “vernedering slaan haar vol in die maag. Dit ruk aan haar stukkend gesuigde borste en ontplof in haar mond” (55).

Ná hierdie episode neem Dominique beheer van haar situasie. Mettertyd ontwikkel sy haar sekswerkpersona Courtesan, die alter ego vir die Dominique wat as kind verneder is en deur haar aanneemma as hoer uitgekryt is: “Jy is ’n hoer nes jou ma” (61). Nou is Dominique (onder andere) dominatrise. Die gebruik van die woord “hoer” herinner weer eens aan Belle de Jour wat die woord “heropeis” met haar “The first thing you should know is that I am a whore.” En só besluit Dominique self om “hoer” te word, maar “on my terms”.

Oor Dominique as voyeurisme kan ’n mens heelwat sê. Daar is kunstenaar-Dominique wat bondagetonele skilder waarvoor sy model speel; ’n galery vol “kykers”; Dominique se bekruiper; Martin, wat haar flamenko-passies in die vierkant van die mediese gebou waarneem; en boonop die leser. ’n Mens sou kon vra: “Wie kyk nou eintlik vir wie?” Die effek is soos ’n kamer vol spieëls.

’n Uitbeelding tel as voyeuristies, sê Elisabeth Schellekens, professor in filosofie aan die Universiteit van Uppsala in Swede, as die kyker ’n spesifieke soort plesier of genot daaruit put:

That delight must at least partly be grounded in the fact that we are witnessing something that, in some sense, we shouldn’t be witnessing. In other words, the particular frisson that voyeuristic works give us relies fundamentally on breaking a moral taboo or crossing the line of what is traditionally regarded as morally acceptable. … What in the end distinguishes voyeurism in art from voyeurism in non-artistic contexts is that in art we are invited to simultaneously occupy the point of view of the voyeur and observe ourselves qua spectator from an external point of view so as to reflect on our morally problematic indulgences. Ordinary voyeuristic records, much like ordinary pornographic pictures and films, do not tend to invite the viewer to reflect on their broader context, or on their underlying meaning but rather offer something more instrumental and one-dimensional.

Volgens Schellekens se definisie is hierdie teks dus voyeuristies, maar binne die artistieke konteks, want Dominique nooi die leser juis om hom- of haarself in die spieël te ondersoek, en na te dink oor “our morally problematic indulgences”. Ek wil dit duidelik stel dat ek nie hier ’n stelling maak oor die morele implikasies, al dan nie, van sekswerk nie. Waaroor dit wel vir my gaan, is die kliënt se optrede teenoor die sekswerker, want dít is waar die indulgence moreel problematies kan raak. Wanneer Dominique byvoorbeeld sê dat sy geensins “golden showers” gee of ontvang nie (226), en die kliënt hierdie grens oorskry, is die kliënt se dwang moreel problematies.

...
Hierdie teks is juis nie pornografie nie, want die leser word uitgenooi om oor Dominique se motivering, selfbeskikking (“agency”) en selfverwesenliking te besin, asook oor wat haar kliënte dryf.
...

Terug na Schellekens: “Ordinary voyeuristic records, much like ordinary pornographic pictures and films, do not tend to invite the viewer to reflect on their … underlying meaning but rather offer something more … one-dimensional.” In die ontleding van ’n teks soos Dominique is hierdie punt veral belangrik, omdat lesers maklik uitbeeldings van lyflike plesier afmaak as pornografie. Hierdie teks is juis nie pornografie nie, want die leser word uitgenooi om oor Dominique se motivering, selfbeskikking (“agency”) en selfverwesenliking te besin, asook oor wat haar kliënte dryf. Inderdaad, Diedericks skryf eksplisiet sonder om kru of geyk te wees – en dít sit nie sommer in enige skrywer se broek nie. Ek wil my verder verstout om te sê sy kry dit reg om taal te gebruik wat nog nie holrug gery is deur ander in die genre nie.

Die roman het ’n goeie spanningslyn, veral te danke aan die rillerelement. Die raaisel rondom die bekruiper, die atmosfeer van gevaar rondom beide bekruiper en sekere kliënte, verskaf spanning wat die erotiek alleen nie sou bied nie. Die einde is verrassend, maar soos met ’n goeie riller of horror die geval is, bly daar ’n mate van prikkelende onsekerheid agter: die hoendervleisgevoel waar die leser wonder tot hoe ’n mate die verteller betroubaar/onbetroubaar is, en tot hoe ’n mate ons met iets meer onheilspellend te doen het. Die feit dat die slot nie in kruike en kanne aangebied word nie, is ’n plus.

Die boek lees maklik, en Diedericks skryf met flair. Enkele beelde wat uitstaan, is: “Die lug is donker gevlek met die skemerte se smerige vingers” (18) en die beskrywing van glase in ’n dekorwinkel: “Koeldrankglase. Whiskeyglase. Glase met tuitlippe. Oopmondglase, langbeenglase. Kristal en lood. Lood en kristal. Glase wat wag om gevul te word” (191) – die subtiele vergelyking tussen vrou en glas is aangrypend. Nog ’n beeld (ook klankbeeld) wat opval, is die beskrywing van Dominique se aanneemma se suurstofmasjien nadat ons hoor hoe sy Dominique van kindsbeen af afkraak daarvoor dat sy ’n “hoer” is soos haar biologiese ma: “Soms verbeel sy dat die masjien vir haar fluister: Sjeeeh … sjaaaaa … Jy’s ’n hoer, nes jou ma” (70). Dit is ’n beeld vol patos, maar die rymelement dui op ’n donker humorsin. Verdere humor, heelwat ligter, is op bl 101 te sien, waar Dominique met vroue in haar oefengroep gesels en seks bespreek word: “Blow jobs is vir negotiations. … Vra vir Cathy. Sy het haar hele huis so laat renovate.”

Wat karakterisering betref, het die skrywer moeite gedoen om beide mans en vroue volledig uit te beeld. As kunstenaar fokus Dominique op die vrou, met net enkele mans wat in fokus kom. Oor ’n skildery by haar uitstalling: “In kontras met die detail waarmee die vrou uitgebeeld is, is die mans se gesigte gedeeltelik geverf” (8). Dis net die man wat as “roofdief” beskryf word wat in detail geskilder is. Dit laat ’n mens wonder hoe mans oor die algemeen geskets gaan word in die roman, maar anders as in Dominique se kunswerk, sien ons ook die binnewêreld van ’n aantal mans, spesifiek dié van haar sielkundige, Martin, wat sit met enorme geestelike letsels rondom seks. Hierdie uitbeelding sorg vir nuanse in die werk. Ja, ons sien die roofdier(e), die uitbuiters, die mans wat (in die woorde van Charlie Sheen) vroue nie soseer betaal vir seks nie as om ná die tyd spore te maak. Danksy Martin, en ook Dominique se kliënt Danie, sien ons hoe mans ook seergemaak word, verneder word, deur mans sowel as vroue. ’n Enkele aspek van karakterisering waaroor ek wonder, is die oudpolisieman Phillip – ook ’n kliënt – se gewoonte om “Oh my word” te sê. Phillip is ’n interessante, goedgevormde karakter, maar dié sêding pas nie lekker in sy mond nie.

Hierdie boek is een wat ek glo enige aanhanger van rillers of erotiek sal geniet. Die skrywer is ’n ervare verteller, die teks is knap geredigeer, en met dié publikasie bied Wenkbrou, ’n druknaam van Penguin, die Afrikaanse leser iets heeltemal nuuts.

Bronne:

Belle De Jour. 2005. The Intimate Adventures of a London Call Girl. 2005. Orion Publishing Group.

Elisabeth Schellekens, 2012. “On voyeurism in art.” In. Hans Maes & Jerrold Levinson(Reds). Art and pornography: Philosophical Essays. Oxford University Press.

The post <em>Dominique</em> deur Erla-Mari Diedericks: ’n resensie appeared first on LitNet.

Robert: A queer and crooked memoir for the not so straight or narrow deur Robert Hamblin: ’n resensie

$
0
0

Robert: A queer and crooked memoir for the not so straight or narrow
Robert Hamblin
Melinda Ferguson Books, NB Uitgewers
ISBN: 9781928420972

In die vroeë oggendure van Saterdag 28 Junie 1969 doen die polisie een van hul gereelde strooptogte op die Stonewall Inn in Greenwich Village, New York-stad. Hierdie keer verduur diegene wat dikwels hierdie gaykroeg besoek het, nie so gelate die brutaliteit waaraan hulle blootgestel is vanweë hulle gay-oriëntasie en oortreding van die kleredragsedes van die dag nie. Soos meme dit die afgelope tyd wil hê, lei transgenderpersone van kleur die verset wat tot die volgende dag duur. ’n Jaar later word die eerste Pride-parade gehou. Oor die volgende dekades sou dit oor die wêreld uitbrei met Juniemaand wat vanjaar, terwyl parades in baie gevalle onmoontlik is as gevolg van die pandemie, in navolging van die VSA wêreldwyd as Pride-maand herdenk word.

Dis die moeite werd om daarop te let dat daardie eerste verset gedurende dieselfde Amerikaanse somer as Woodstock plaasgevind het. In daardie konteks is die burgerregtebeweging van die ’50’s gevolg deur die Swart Mag- en teenoorlogbewegings, terwyl die Vrouebeweging op die seksuele revolusie uitgeloop het.

.......

Waarom met hierdie geskiedenis begin in ’n resensie van Robert Hamblin se formidabele outobiografie, Robert? Indien dit wat met die gaybevrydingsbeweging van genoemde tyd begin het, vandag ook transregte bevorder en sigself trots min of meer queer noem (as sambreelterm vir die alfabetsop LGBTQIAA2++), is Robert beslis die testament daarvoor, veral binne die Suid-Afrikaanse konteks.

........

Waarom met hierdie geskiedenis begin in ’n resensie van Robert Hamblin se formidabele outobiografie, Robert? Indien dit wat met die gaybevrydingsbeweging van genoemde tyd begin het, vandag ook transregte bevorder en sigself trots min of meer queer noem (as sambreelterm vir die alfabetsop LGBTQIAA2++), is Robert beslis die testament daarvoor, veral binne die Suid-Afrikaanse konteks. Maar “testament” klink veels te staties en stowwerig hiervoor; tog is dit ook nie “manifes” of “handboek” of wat ook al nie. Dis ’n storie wat onthuts en meesleur, prikkel en doelbewus uitdaag en oortree; plofbaar is.

Maak jou in hierdie teks gereed vir genderbending soos jy waarskynlik nog min belewe het en die beste met ’n vloekwoord kan beskryf. Jou kop kan af en toe ’n bietjie tol om te besef wie doen wie en hoe steek dinge inmekaar, of nie. Terwyl Hamblin, getrou aan queer-wees, die seksuele sentraal stel en verken, is dit per slot van rekening gender wat hier aan bod kom en van verskillende kante bekyk en beskryf word. Dit laat bogenoemde ongemak met wie nou eintlik wie is, reflekteer op die lesers met bewuswording van hulle eie voorveronderstellings en sosialisering.

Hamblin se gay pa, Billy, is ’n kernkarakter in die boek, en Hamblin se worsteling met hom ’n kerngegewe. Dis Billy wat hom eerste bekendstel aan queerheid, maar van wie hy ook moet afskeid neem. Die Masada-huis waarin Billy aanvanklik woon en wat later ander vorme aanneem, is die soort Tales of the city-huis van ’n gekose familie wat dikwels vir LGBTIQ+-persone die veilige ruimte bied om tot hulself te kom. (Dink ook aan die Netflix-reeks Pose, of vogue- of ballroom-kultuur). Terwyl Robert ’n tot-jouself-kom-verhaal is, word die skadukant van queer-wees gewys in bitchiness wat gebruik word as performatiwiteit om die pyn af te weer. En pyn is daar baie, deur die genderdisforie wat Hamblin belewe en die alleenheid wat dit meebring.

Wat Billy betref, kom die skrywer aan die hand van regter Edwin Cameron tot die skerp formulering van die pyn: “Queer people have to live within a series of lies to stay alive and to continue their legacies” (268). Billy se dood aan Vigs word vir Hamblin polities in die lig van die samelewingsameswerings en -verwagtings wat sóveel dooddruk. Vir diegene wat binne hierdie dwangbuis kan “pass”, is dinge aansienlik makliker; dis waarom transpersone dikwels stealth gaan sodra hul kan en binne die voorgeskrewe reëls versmelt.

Dat LGBTIQ+-persone dikwels oor die jare in dieselfde asem as seksuele afwykings genoem word, is ’n tema wat deurlopend in die boek eggo, in hierdie geval dat persone wat die norme só uitdaag om te waag om van geslag te verander, van pedofilie verdink word.

.......

Dat LGBTIQ+-persone dikwels oor die jare in dieselfde asem as seksuele afwykings genoem word, is ’n tema wat deurlopend in die boek eggo, in hierdie geval dat persone wat die norme só uitdaag om te waag om van geslag te verander, van pedofilie verdink word.

.......

Die grootste krag van Hamblin se boek, wat dit ook universeel geldig maak (en dus meer as ’n uitbreiding van transletterkunde), is sy besonder oplettende blik van verskillende kante van die genderrivier (soos hy dit noem). Hy beskryf sy ervarings voor, gedurende en na sy oorgang sekuur, dop die genderlens waarmee hy en ander kyk om, en is sensitief vir al die nuanses wat saamgaan met hoe sy perspektief en gepaardgaande geposisioneerdheid verander. Dit is alles natuurlik nou verweef met hoe mag in die samelewing funksioneer – wie dit het en hoe dit gebruik word. Ek was onder meer gefassineer deur die beskrywing van hoe Hamblin ’n nuutgevonde manlikheid navigeer, maar ook die toksiese aard daarvan wat hy vroeër as nuusfotograaf by Afrikaanse koerante belewe het en aan deelneem (toe vanuit ’n lesbiese hoek).

Hamblin se skerp oog kom egter van sy kunstenaarskap as fotograaf en skilder. In Robert bewys en vestig hy homself as woordkunstenaar. Die toonaard van die werk is dié van ’n kunsstuk met amper liriese beskrywings wat my by tye aan Hooglied laat dink het. Daarom voel dit of die grense versit word tussen boek, outobiografie, testament, manifes … In die pleeg van sy kuns bly Hamblin dus ontwrig soos wat genre en kunsvorme vervloei. Hy gee ons ’n tintelende blik op waar queerheid sigself tans bevind, beleë insig in hoe dit die afgelope dekades veral in ’n wit Suid-Afrikaanse konteks gevorm is, en weerkaats die reënboog van hoe die nabye toekoms kan lyk. Maar tog vertel Robert eenvoudig hoe dit is en was in die lyf van een mens, en oorrompel jou met ’n storie wat anderkant Pride-maand bly verlos.

The post <em>Robert: A queer and crooked memoir for the not so straight or narrow</em> deur Robert Hamblin: ’n resensie appeared first on LitNet.

Die waarheid oor duiwe deur Gisela Ullyatt: ’n resensie

$
0
0

Die waarheid oor duiwe
Gisela Ullyatt
Protea Boekhuis
ISBN: 978 1 4853 1066 2 

Gisela Ullyatt (1977-2020) was ’n Afrikaanse digter, literator en resensent, ook bekend vir haar gereelde blogbydraes op die poësiewebwerf Versindaba. In 2014 was sy betrokke by die vertaalprojek In a burning sea: Contemporary Afrikaans poetry in translation, waarvan Marlise Joubert die samesteller was. Sy het die grade MA (Duits) en MA (Engelse taalstudie) aan die Universiteit van die Vrystaat behaal. Haar PhD-proefskrif (NWU) het gehandel oor die digter Mary Oliver, soos gelees vanuit ’n Boeddhistiese raamwerk. Van haar gedigte is in New Contrast en Nuwe stemme 5 opgeneem voor sy met Die waarheid oor duiwe (2020) gedebuteer het. Ullyatt, ’n geliefde figuur in die literêre landskap, het verlede jaar haar stryd teen kanker verloor. Haar debuutbundel is gekortlys vir die Ingrid Jonker-prys.

Tematies handel die verse oor die broosheid van die liggaam, verlies, pyn, geestesgesondheid, familie, verganklikheid, die dood, verwording, ontnugtering, asook ’n fusie van Oosterse geloofsienings met die populêre kultuur. Die bundel se toonaard is oorwegend somber en die “waarheid” van die duiwe word, na analogie van die titel, verbeeld as prosesse van ontgogeling en nihilisme. Die treffende omslagontwerp toon ’n porseleinduif, ’n kunswerk van Toni Pretorius. Die motto voor in open die verse se mineurstemming:

die dae het onrustig geword
met die pote van duiwe
op die windgrys dak

dit het onherroeplik winter geword

 – Johan Myburg, Vlugskrif

Waar duiwe tradisioneel gesien word as ’n simbool van vrede, werk Ullyatt met die teenpool, naamlik onrus: ’n inversie van die vertroostende konnotasies geassosieer met duiwe. Reeds met die programgedig in “een”, “die waarheid oor duiwe”, word die agtjarige spreker se ontnugtering geskets wanneer die bure na ’n swanky suburb verhuis, maar hul duiwehok in die agterjaart los:

die hok my ogiesdraadkasteel
die lemoenduiwe royalty    (bl 8)

Die kind se verwondering met die magiese duiwe en hok is egter van korte duur as die bure die hok kom terugvat en daar net ’n vergeelde vierkant op die gras oorbly. Hierdie aangrypende vers skakel met “nawoord” (83), waar die spreker erken dat sy haar nooit van die duiwehok kon losfletter nie. Die mens dra altyd die verwondering en pyn van sy jeug met hom saam. Die leefwêreld in die bundel is dié van kleinhoewes; dit is landelik, en die verse berig oor die wel en wee van arm kleinboere en plotbewoners.

Die volgende vers, “karoo-pasga” (9), word vergesel van ’n motto van Thomas Harris, die skrywer en skepper van Dr Hannibal Lecter-faam. Die blêrende lammers roep Silence of the lambs voor die oog, en ’n brandarm vrou is besig om ’n maal vir pasga voor te berei.

’n dun bars loop deur haar kosyn
in donkerte gedompel
in die leivore voor haar huis
net riool waarin skoongevrete bene
van ’n eersgebore lammer dryf.

Die vers is enersyds ’n verontheiliging van die lammer (Lam), maar dui ook op die brutaliteit van oorlewing én die eise wat aan geloof gestel word as suggesties van kannibalisme geaktiveer word. Hierdie onheilspellende gegewe kom weer later voor in “pâté de frois gras” (26). “bangmaaksprokies” (10) onthul die “waarheid” van sprokies as ontstellende leesstof vir grootmense, met verwysing na The Blair witch project.

Ullyatt is ’n fyn waarnemer van mense en situasies. “Postpartum” (11) verbeeld die chaotiese en selfs vuil huishouding van ’n vrou wat gereed maak om haar baba te bad. Haar nageboortelike depressie word skreiend – en tragies – gejukstaponeer met die onskuld van die kind: “die baba brabbel in sy biesiemandjie / sy skiet die water uit.” Die aanbod van bykans alle verwysings uit die Bybel in hierdie bundel is wrang. Die nugtere realiteite waarmee die jong moeder te kampe het, is inderdaad ook ’n verwringing van die Moses-in-die-biesiemandjie-verhaal. Ook in “vir ’n uiltrein” (12–3), ’n gedig in ses dele wat oor Helen Martins handel, vorm die engel by die bad van Bethesda ’n gelyknamige spel met Nieu-Bethesda:

so when at last the angel of the darker drink

dan roer die engel van Bethesda die water
voor sy daardeur waad
sing haar oogholtes
sonder die groen van glas.

Die opeenvolgende elegieë “in die tyd van die kiewiete” (14–5) en “vir liam” (16) is fyngetekende portretstudies van ’n “boere-john wayne”, en vervolgens die dood van ’n agt dae oue baba.  Musikale intertekste kom voor in “vir eppy” (17), (Pink Floyd), asook latere verse oor die rocklegende Kurt Cobain waarin die pyn en verset van die tagtigerjare uitdrukking vind. En binne ’n biografiese register: Dit is musiek wat resoneer met die spreker-digter (toe ’n tiener) se persoonlike emosionele wroeginge. Verse oor selfdood, byvoorbeeld “agter gordyne” (18), na analogie van ? regte frase? Ingrid Jonker, word grimmig verbeeld as ’n geliefde in ’n staatshospitaal sterf. “september” (21) skryf hierdie wondbaarheid (“waarheid”) verder in ’n ontroerende vers oop:

skeef lê die kransduif
op septembergrond
geen geheime oopgeskarnier
slegs ’n stringetjie lentemiere
intieme besoekers
op terra incognita.

Géén sentiment nie – die afstandelike waarneming, die onderbeklemtoning verhoog die skokwaarde of pyn. Ook die dood van ánder voëls in die bundel dwing die leser tot die besef hoe broos die lewe eintlik is.

“twee” bring ’n intensivering van die somber gang in die verse. “beendigtheid” (24), een van die sterkste gedigte in die bundel, spot met die geveinsdheid en gulsigheid van mediese personeel (wat privaat mediese fondse verteenwoordig). Die kritiek word voortgesit in “my naam” (25), waar pasiënte bloot as produkte binne ’n bedryfsisteem behandel word. Die hope administrasie (wat die kapitalistiese mediese praktyke voorstel), word afgespeel teen die gebrek aan empatie en uiteindelike identiteitloosheid van die pasiënt. Hoe meer sy haar naam op mediese vorms moet invul, hoe meer anoniem raak sy. Die opeenvolgende vers, “pâtá de fois gras” (26), lewer kritiek op psigiatrie en op dokters wat pasiënte “vet voer” met “pil-orgies”. Die vers neem ’n makabere wending en herinner aan die kannibalistiese vergrype van Hannibal Lecter (Lecter was ook ’n psigiater):

stetoskopies luister jy
met jou koue pote oor my
smeer my dun vreet my op
met kraakbeskuitjies

vir my volgende afspraak
lui die voorskrif: 1 x lewer in netvet.

Die verorbering van die self as ‘n tipe kannibalisme skakel met die gedigtitel en die Thomas Harris-diskoers, soos vroeër genoem. Die psigiater onder bespreking nuttig sy maal (’n pasiënt), met ’n duur bottel wyn. Ullyatt se gedigte, wat hulle uitspreek teen die mediese bedryf, lewer ’n belangrike bydrae tot ’n diskoers wat nog onderverteenwoordig is in Afrikaans en aansluit by die poësie van Karen Kuhn, Aniel Botha en Jeanne Goosen.

Die sardoniese aanbod van Bybelse verwysings is volop in “jy omsingel my” (28), wanneer die spreker-digter op die moontlike diagnose van leukemie wag. Die lees van hierdie verse is ’n katarsis vir beide digter en leser, soos hierdie smartvolle fragment getuig:

dalk wel leukemie meen die spesialiste
die moontlikhede legio
wanneer jy jou tentpenne
daagliks in my steek

jy het my by my naam geroep. 

En wanneer die blootlegging van die self, die ondraaglike pyn nie erger kán nie, projekteer die spreker-digter haar lyding op ’n terugflits aan haar sterwende vader in “intensiewe sorg” (30–1). Die intensiewe-sorg-eenheid word “die tempel”, maar die verpleegsters is vyandige “priesteresse in uniforms”. Die vader, die offerlam, sterf, en sy uittog word ontroerend beskryf. Ullyatt jukstaponeer die stoïsynse kilheid van die hospitaal meesterlik met dié van ’n levitiese tempel:

jy is ’n piramide van rites en stiltes
jou papirusboot navigeer jy
uit die rietlandskap se slik

pa jy is ’n heilige kewer
skuifel-skuifel
reis jy die skitterende dagbreek in.

Die rivier Styx, as oorgang tussen die lewe en dood, word gesuggereer. Die kewer onder die soeklig is waarskynlik ’n liewenheerbesie wat simboliese konnotasies met God en Christus deel. 

Deel drie, “al daardie dae” (36–7), dui op traumatiese ervarings as jong kind. In  “gebedjies in die klas” word die onderliggende onheil en geweld in ’n skoolsisteem verwoord aan die hand van AG Visser se “Biesie-biesie-bame”, wat as makabere parodie ’n ontluistering van kinderlike onskuld voorstel.

“vier” handel oor triestige winterlandskappe, en “ontgogeling” (42) tree intertekstueel in gesprek met Cussons se “die swart kombuis” en “die woedende brood”, ’n vers wat terugreik na die grieselrige kombuis in die reeds genoemde “karoo-pasga”. Die morbiede gang van die verse bereik ’n klimaks in “onteer” (43), waarin ars poëtikale prosesse as die vernietigende gevolg van ’n rooftog verbeeld word. Die emosionele laagtepunt word in die volgende vers, “kaddisj vir kristallnacht” (44) voortgesit en getransponeer na die pyn en verskrikking van die Jode wat met die Kristallnacht van November 1938 die vandalisering van hulle sinagoges aan die hand van Nazi’s beleef het. In “boomvers” (48) word erotiese verwonding van ’n kind via assosiasie met die fluitspeler van Hamelin gesuggereer: “ek hoor jou towerfluit vanaand / in die mik van ons boom / jy speel ongesteurd voort / maar die takke / verstrengel my.” 

“vyf” bekoor met 20 haikoes, getitel “vir ’n zoeloeland-boeddha (58–60), na aanleiding van ’n besoek aan ’n Boeddhistiese sentrum. Hierdie Oosterse meditasies bring ’n welkome afwisseling, ’n vars bries te midde van die swaar melankolie van die bundel.

In “ses” kom verse oor die grunge-rocker Kurt Cobain aan die beurt. Die angsgedrewe, anti-establishment musiek, waarvan Cobain die gesig van generasie X verteenwoordig, resoneer met die algehele gevoel van ontnugtering in die bundel. Cobain se selfdood word in “die dag toe kurt cobain gaan slaap het” (63), beskryf:

jy word afgemeet

onder ’n stil wilg
in lake washington boulevard 171 se herehuis
in new york vermeng met tibettaanse klei
namgyal monnike dreunsing jou bardo

[…]

brandende lotus
versengende nirvana.

“courtney love” (64), met verwysing na Cobain se vrou en weduwee, sorg vir nóg ’n sensitiewe digterlike portret van dié vermaaklikheidskunstenaar – sy sal “vir ewig / in kurt se skootknal- / skaduwee” leef (Cobain het homself geskiet).

Naas die fusie van Oosterse sienings en populêre kultuur skryf Ullyatt ook ’n vers getitel “mystic boer” (68), ’n heerlike vers; pure boerevintage. Die digter gee vervolgens ’n kopknik in die rigting van André P Brink en Karina Szczurek (69), die digter Wilhelm Knobel (70) en Ernst van Heerden (71).

In die laaste deel, “sewe”, skryf die spreker-digter oor haar ouma en oupa en hulle afsterwe. In “om ’n vrouetafel” (79) merk die jong spreker dat daar geen manlike familielede aan die feestafel teenwoordig is nie:

tóg
om hierdie tafel onthou sy
geen oupa
geen oom
geen vader nie. 

Die tragiese disfunksionaliteit van die familie word ook in ander verse belig. Wat aanleiding tot Ullyatt se poësie gegee het, was emotiewe impulse, dit wat persoonlike betekenis het. Die waarheid oor duiwe is ’n sterk en onthutsend-eerlike bundel oor die prosesse van verontmensliking wat die dood voorafgaan. Alhoewel die digter se oeuvre uit net een solobundel bestaan, is haar nalatenskap ’n seminale een.

altyd in pretoria-wes

pa
in jou kop lê ’n laskombers
toegehekel in lusse
van verrafelde jare
en jou vader se soveelste huis
is iewers in christoffelstraat of prospectstraat

een vir een
sement hy bakstene opmekaar
verpand sy brouwerk
om dan die volgende spoorweghuisie
toe te messel met sy woede

waar jy fraiingrig droom
met ’n verbode flits
onder jou deken
oor die huis van die vier winde
verskeur in jou vader se snippermandjie

ja pa jy hang geketting
in jou ewige herhaalpatroon
jy heg jouself af van die hede
oral krap jy foto’s uit

al vang jy ’n knewel van ’n vis in lourenço marques
al vang jy hoeveel grade
selfs wanneer jy voorlees uit die kinderbybel
die 1981-uitgawe

al sing jy hallelujaliedjies op een noot
die hekelpen is bedraad met jou kortbeendae
jou leghorns verkwansel aan die buurtkinders
jou verskifte trui jou dikwielfiets jou gekraakte ribbes

jou broers wat grynslag soos pampoenspoke
nog ’n wedergeboorte
in ’n voorhuis gedurende ’n apostoliese biduur die erwe van jou vader
waar daar altyd ’n wrak lê om aan te karring

pa die lusse trek noustrop met die tyd
jy’s ’n bywoner
in jou eie
lewe.  (76–7)

The post <em>Die waarheid oor duiwe</em> deur Gisela Ullyatt: ’n resensie appeared first on LitNet.

Pienk Ceramic-hondjies deur Ryan Pedro: Poësie oppie man af, broos en grensverskuiwend

$
0
0

Pienk ceramic-hondjies
Ryan Pedro

Uitgewer: Kwela
ISBN: 9780795709869

Is dit ’n digter of ’n hip-hop artist? Is dit verse of verses? Hoekom kan dit nie albei wees nie?

Dit sou ’n netelige poging van enige iemand wees om die debuutbundel, Pienk ceramic-hondjies, in enige literêre boks te plaas. Vanuit die staanspoor maak die digter dit duidelik dat hy glad nie op soek is na enigiemand se aanvaardiging of verstandhouding teenoor homself, sy mense en sy werk nie. Inteendeel, myns insiens, kom dié jong digter, Ryan Pedro, ingemasjeer met al sy weerlose introspeksie, oorrompelende beeldvorming, en ’n djass beat wat druk op sy headphones.

Pienk Ceramic-hondjies is op die oog-af aangebied as ’n lens waardeur die digter sy lesers inlaat oor vraagstukke rondom coloured masculinity, kultuurkodes, familie, identiteit, ras en klas. ’n Lens wat nog nie vantevore op só ’n manier aangebied was nie; deurdat die digter met die byvoeging en interteksualiteit van (hip-hop) songs, nie net ink op papier inspan om sy praatverse te laat leef nie, maar ook om sodoende ’n sensories ervaring te skep vir sy lesers. ’n Manier wat veral dalk jong lesers sal interesseer en waardering sal laat betoon.

Dis veral skoolbanke waarna mens dink met die lees van Pienk Ceramic-hondjies – hoeveel jong bruin laaities en girlies nog nie hulself raakgelees het in Afrikaanse poësie nie. Hul lewenservarings, hul verwysingsraamwerke en ’n konfrontasie met kwessies waarmee hul dalk kan vereenselwig.

Pedro wat dig “kobus, no offence, truth is / my hond hou maar net nie van wit mense nie.” En “as my ma-hulle begin stry, en ek myself verloor” of “vasgenael op die mat oor die tv / jou oë fixed op die screen/toe krillin in die lug opgesuck word.” En dan in die aangegrypend trilogie-gedigte – vrydag, saterdag en sondag - waarin hy veral manlikheid in aanskou neem. Hierin is ’n slim-pa wat op sarags by die huis bly en uncles in die “backyard” met “rye rye / bruin / empties”.

Dit sou nie regverdig wees om te dink dat Pedro slegs ’n negatiewe kant van manlikheid uitbeeld nie. Inteendeel, nes alles uit lig en skadu’s bestaan, wys hy ook die gelykstaande bewondering en glory daarvan. Mens kon ook verderaan dink aan Pedro as digter self wat juis beide kante hiervan uitbeeld. En dis meer as net performative ...  

Dis ook die gebruik van ’n laaitie wat deur waarnemings sy hele wêreld probeer verstaan, waarin die onskuld met die durf mekaar ontmoet

Jonger-hy in ’n skoolsaal wat nie verstaan hoekom hy uit die FAK-bundel moet sing nie terwyl die een laaitie wat as “die second coming van haban” gesien met sy “mooi afrikaans” en wie “naweke oorgenoo i... word” buitekant staan en tjank:

sy vacant oë gerig op die primary school
aan die anderkant van die draad
waar ’n rusty swing
soos iemand wat vergeet is
huil in die wind.

Die verwikkelheid van klas in die uitmergeldende nabyheid van witheid in veral plattelandse dorpe, is waarop die digter ’n tipe identiteitskrisis ondersoek. Binne homself, sy gesin en sy dorp. Dalk is die hele bundel soos die titel van die eerste gedig ’n "portret van ’n coloured laitie as ’n mixtape" en hoe daai mixtape sou klink, is dalk huiswerk vir die leser.

Pedro is doelgerig in sy verse en dis veral die stiltes tussen verse waarin mens steeds ’n meesleurende dryfkrag aanvoel. Hy gaffel jou veral in slotreëls en neem jou deur ’n reis wat baie fyn beplan en kordaat uitgestal is. Aan die een kant, kan dit jou laat voel dat die reis se intimiteit so oorweldigend is dat dit jou flenters deurboor maar aan die ander kant is daar ook ’n grootsheid wat gemaklik op sy eie staan.

My grootste bewondering en Pienk Ceramic-hondjies is vir seker die manier hoe Pedro taal aanwend en plek-plek rinneweer (op ’n goeie manier). Afrikaans was nog nooit in enige kettings geplaas in terme van die evolusie van die taal in die jeug se mond nie. Dit kan ook aangevuur wees deur  bruin digter soos Nathan Trantraal, Ronelda S Kamfer, Jolyn Phillips, Shirmoney Rhode, om ’n paar te noem, wat binne hulle werke konstant die maatstaf van Afrikaans en AfriKaaps soos hy oppie tong en innie hart lê, uitgedaag het. Dalk nie met opset nie maar dis juis daarom dat jonger digters soos Pedro ’n plek tussen hulle kan inneem met ’n bundel wat Afrikaans binne homself uitdaag.

Pleinweg, is dit net op so ’n manier geskryf en verweef dat juis daai jong bruin laities en girlies meer gemaklik daarmee voel – want wie leef regtig in vandag se tyd – die “standaard beskaafde” Afrikaans voluit in mond en hart uit.

In Pienk Cermanic-hondjies is die barber, die minoras, ’n ouma se huis, die gameshop, die old-school uncles, ’n hond aan ’n ketting, die jaart ...  heilige goed in ons kultuur. En dalk bowenal als, die ceramic-hondjies wat in soveel bruin gesinne se voorkamers prontuit staan. En dis juis in hierdie bekende plekke en dinge waarin Pedro sy digterlike vakmanskap so skerp aanwend. Soveel so, dat jy jou eie relatiewe verhoudings daarmee bevraagteken. Of, dalk herbesin ... En skep ’n ander tipe emosionele verantwoording om elke hoek en draai wat ek nog in min poësie ervaar het.

Ten slotte, Pienk ceramic-hondjies is ’n meesterlike debuutbundel van ’n opwindende jong digter wat onbeskaamd sy eie plek in Afrikaanse letterkunde inneem.

Lees ook:

Pienk ceramic-hondjies deur Ryan Pedro: ’n onderhoud

The post <em>Pienk Ceramic-hondjies</em> deur Ryan Pedro: Poësie oppie man af, broos en grensverskuiwend appeared first on LitNet.


Waar kom ons vandaan? Van die begin van die heelal tot vandag deur Andreas Engelbrecht, Schalk Engelbrecht en Marleen Visser: ’n lesersindruk

$
0
0

Waar kom ons vandaan? Van die begin van die heelal tot vandag
Andreas Engelbrecht, Schalk Engelbrecht, Marleen Visser

Tafelberg
ISBN: 9780624090809

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.

Waar kom ons vandaan?, pryk dit op die voorblad, met die res van die titel in klein skrif daaronder. Met so ’n titel verwag jy amper ’n prentjie van ’n ooievaar wat jou tienerjare in herinneringe roep, met titels soos “Wat seuns wil weet”. Maar nee, dit gaan hier nie oor die individu nie. Dit gaan hier oor ons spesie, homo sapien sapien, en sommer oor al die ander spesies ook. Die ganse fauna en flora.

Hierdie vraag, die een van waar ons vandaan kom, is baie oud. Verskillende mense het oor die millenniums verskillende antwoorde aangebied. Vir die grootste deel van die mens se opgetekende bestaan is die oorsprong van mens, plant en dier toegeskryf aan die bonatuurlike ingryping van ons gode, elkeen na ons eie kultuur en tradisie. Maar mettertyd het die stories oor gode net nie meer geklop nie. Met elke gaping wat die wetenskap vul, verdwyn die hand van God stelselmatig.

So bestaan daar dan ook ’n reusetekort aan sekulêre kinderboeke in Afrikaans. Boeke wat vir jongmense die verhaal van die oorsprong van ons planeet en ons spesie in eenvoudige en toeganklike taal vertel. En nou is dit ook so dat ek sowat 20 jaar gelede op skool laas in die natuurwetenskappe onderrig is. En sedert daardie jare het daar ook al heelwat dinge verander. Die atoommodel van desjare staan vandag glo nie meer op presies sulke vaste fondasies nie, danksy al die nuwe navorsing wat veral deur die Europese kernnavorsingsraad in Switserland gedoen word, so het ek al gelees. Tog word dieselfde ou basiese model steeds gereeld gebruik om die basiese begrippe oor te dra. Wat die evolusie van ons spesie betref, het wetenskaplikes egter skouspelagtige kennisspronge die afgelope drie dekades gemaak. Dit wat wetenskaplikes vermoed het aan die begin van my lewe ten opsigte van menslike evolusie, is vandag in baie opsigte met nuwe insigte vervang. Die soektog na die oorsprong van die kosmos en lewe op aarde is egter nog ver van voltooi, en opwindende ontdekkinge wag nog op die opkomende generasies. Dan is daar ook nog geologie, die sterrekunde en die kosmologie. Ook in dié dissiplines geld die basiese vertrekpunte soos die oerknal steeds, soos wat die evolusieleer se basiese leer, naamlik dat die mens uit ouer spesies ontwikkel het, die biologiese wetenskappe se fondasie bly.

Hierdie kennis syfer egter steeds nie vinnig genoeg deur na ons jongmense nie. ’n Mens sou dink dat 30 jaar na die einde van ons isolasie weens apartheid, waar mense se lewens deur die kerk en staat regeer was, ons darem nou al lankal by die punt moes gewees het waar die kennis van die natuurwetenskappe al algemeen aanvaar word. Tog is dit nie aldag die geval nie. Selfs die meeste Bybelwetenskaplikes aanvaar vandag dat die skeppingsverhale in antieke godsdienstige geskrifte nie feitelike waarhede is nie, maar dit is asof hierdie algemeen-aanvaarde kennis nie aldag lekker deursyfer na die gemiddelde mens op straat nie. Om hierdie redes is dit so belangrik dat boeke soos hierdie die lig sien. Die boek is ryklik voorsien van illustrasies. Dit vertel die verhaal van ons heelal vanaf die oerknal sowat 14 miljard jaar gelede, deur die kontinentale skuiwing en uiteindelik die evolusie van die spesies.

’n Heel verfrissende eienskap van hierdie boek is dat dit nie net terugkyk in die verlede van ons heelal, ons planeet en ons spesie nie, maar daar word ook vorentoe gekyk, die toekoms in. Die skrywers eindig hulle boek met die waarskuwing dat die mensdom diep, diep in die moeilikheid is. Ons spesie vermeerder te vinnig en ons is besig om ons natuurlike hulpbronne uit te put. Daar word vervolgens twee versugtinge uitgespreek. Die een is die hoop op “slim” politici, en die tweede is die hoop op “slim” wetenskaplikes (bl 108) wat die uitdagings van die toekoms vir ons spesie met wysheid en toewyding sal kan bestuur. Vir laasgenoemde (die slim wetenskaplikes) het ek self ook darem nog ’n bietjie hoop, maar die politiek is ongelukkig geneig om die onguurste van ongure karakters te lok …

Tereg waarsku Engelbrecht en Engelbrecht dus die opkomende generasies: “Vir jou lê daar voorwaar ’n uitdagende toekoms voor. Die wêreld waarin jy as volwassene gaan leef, kan baie anders lyk as vandag” (109).

Die wêreld sal verander, ja, dit glo ek ook. Maar moenie te veel verwagtinge koester oor die politiek nie. Politici sal politici bly.

Waar kom ons vandaan? is ’n boek wat eintlik bedoel is vir jongmense, maar ek het net so lekker aan die boek gelees, en beveel dit dus aan vir enige persoon wat in die onderwerp belangstel. ’n Mens kan maar net die hoop uitspreek dat die boek wyd en syd gelees sal word en dat veral die jongklomp die inhoud daarvan ter harte sal neem.

The post <em>Waar kom ons vandaan? Van die begin van die heelal tot vandag</em> deur Andreas Engelbrecht, Schalk Engelbrecht en Marleen Visser: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.

Arendsvlerke vir Siebert deur Elsa Winckler: ’n lesersindruk

$
0
0

Arendsvlerke vir Siebert
Elsa Winckler
LAPA
ISBN: 9780639607139

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.

Aan die hand van ’n vinnige internetsoektog kan mens gou vasstel dat Elsa Winckler die skrywer is van boeke soos Omdat jy my gesoen het en Omdat jy die een is. Omdat ek niks van hierdie boeke weet nie, aangesien ek nie in die teikenmark daarvan val nie, kan ek nie hierdie vorige werke met dié een vergelyk nie. Maar my vermoede is dat Arendsvlerke vir Siebert waarskynlik ’n ietwat meer genuanseerde boek is as sommige van die ander titels.

Nie dat die liefde ooit ongekompliseerd is nie. Kyk, evolusie het ons gestraf met die liefde –  ek jok, ons is vervloek met verlief word, wat ook eintlik weinig met liefde te doen het. Ons praat maar net so en noem dit liefde. En selfs al stap die jare aan, as jy verlief raak, dan is jy verlief. Daar is weinig salf aan te smeer. Jy verloor jou kapasiteit vir nugtere denke vir ’n sekere tyd. Maar laat staan die liefde; dit is nie die sentrale motief in hierdie boek nie. Die onderwerp van hierdie boek is iets veel meer droewig – dit is die saak van verslawing. Die verhaal sentreer rondom ’n voorstedelike Afrikaanse familie, en hulle is woonagtig in die skone Somerset-Wes. Ma Katinka heers met liefde oor haar kroos, haar lewe omgekeer deur die ontydige heengaan van haar jare lange lewensmaat, Barend, wat gesterf het weens ’n hartaanval.

Dit is ’n gelukkige, liefdevolle en vooruitstrewende gesin van vier. Daar is Talia, die dogter van Katinka; Rikus, die een seun; en dan Siebert. Siebert is die gesin se “sensitiewe kind. Hy trek hom dinge maklik aan, kry maklik jammer en ervaar emosies soveel meer intens as haar ander twee” (2). Die gesin reageer met skok op Barend se dood en dit is veral Siebert wat skyn te sukkel om pa Barend se dood te verwerk. Katinka wend haar ná Barend se dood tot die onderwys, maar Siebert word uiteindelik vir sy geliefdes ’n vreemdeling. Stories begin die ronde doen dat hy met dagga en heroïen eksperimenteer. Die hele gemeenskap praat daaroor, maar ma Katinka se eerste reaksie is ontkenning (dit is mos hoe die geleerdes sê die mens graag reageer).

Die skrywer werk vanaf die uitgangspunt dat verslawing ’n siekte is. Natuurlik sal nie almal daarmee saamstem nie, maar dit is die heersende gebruik ook in die heersende psigologiese paradigmas.  Wat ook op interessante manier deurskemer, is dat die skrywer die verskillende benaderings tot verslawing in die boek erken en ondersoek. Benewens die kwessie van verslawing, is daar natuurlik ook ander onderstrominge in die verhaal, soos die spanning tussen kinders en stiefouers. Die boek het ’n sterk Christelike ondertoon en sal waarskynlik veral tot daardie gehoor spreek. Die titel van die boek is juis oorgeneem uit die Bybelse boek Jesaja: “Maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke (Jesaja 40:31). Die Christelike ondertone speel ook uit in die patriargale karakter Tertius, wat die situasie as’t ware “red” vir die gesin. Jou ekstreme feminis sal dalk nou nie baie beïndruk wees nie, maar ’n Christelike feminis dalk wel. Ten minste word die hele verhaal nie vertel vanuit Tertius se perspektief nie. Katinka is die sterk vrou in die verhaal. Sy is ook die hoofkarakter, hoewel nie ’n perfekte heldin nie, een wat gedurig Siebert se probleem wil ontken.

Die boek se einde het my werklik verras. Ek was verbaas dat die onderwerp van die LGBTQI+-gemeenskap ook by die onderwerp betrek is. Vir die wis en die onwis, en voordat die leser aannames maak, Siebert verval nie in dwelms omdat hy self lid is van die LGBTQI+-gemeenskap is nie, hoewel Katinka dit op ’n stadium begin dink. Al wat ek eintlik wil sê, is dat dit uiters verfrissend is om Christelike lektuur te lees wat nie, soos in die geval van verslawing, ook na LGBTQI+ kyk as ’n “siekte” wat “genees” moet word nie. Die tegniek wat die skrywer egter gebruik, naamlik om sekere inligting tot aan die einde van die leser te weerhou, veroorsaak dat geen vermoede aan die kant van die leser eintlik moontlik is nie. Aan die een kant doen dit ietwat afbreuk aan die deurlopende spanningslyn, want die leser is nie deurlopend vertroud met die besonderhede nie, maar aan die ander kant maak dit die einde heeltemal onvoorspelbaar.

Arendsvlerke vir Siebert word beskryf as ’n “verhaal van genesing en hoop”. Ek kan dit beaam en dit is heel prikkelende leesstof. Die karakters se dialoog was vir my soms ’n bietjie onoortuigend, maar die onderwerp van verslawing sorg dat die verhaal genoeg gewig het om die aandag te behou. Ook ietwat steurend is hoe die teks dit soms wil laat skyn asof Katinka na Barend se dood haar Bybel vermy, en amper wil suggereer dat haar vermyding van die Bybel ook deel is van die groter chaos in die familie. Nietemin, ek dink veral mense wat worstel met die dood van ’n geliefde, veral ’n geliefde vaderfiguur, sowel as mense wat die hel van verslawing ken, of dalk net in dié onderwerpe belangstel, sal die boek baie geniet.

The post <em>Arendsvlerke vir Siebert</em> deur Elsa Winckler: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.

Soe rond ommie bos deur Veronique Jephtas: ’n resensie

$
0
0

Soe rond ommie bos
Veronique Jephtas

Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485312246

Soe smaak die digbundel van Veronique Jephtas: ’n shot brandewyn met extra versterkdruppels. Piepie op jou tong? Nee, fok, hierdie engel pis in jou gorrel af tot die prikkels jou ingewande skroei soos brandnetels op jou kale vel.

Maar laat soe ’n bek stroep kry virrie manier waarop sy die olifant in die kamer opsny in ’n three-course meal plus barakat met die akkuraatheid van ’n chirurg in vlot non-fictional, uncensored Afrikaaps.

Soe rond ommie bos draai die derms behoorlik van elkeen wie se verbeelding en gewete deur die digter se woorde besit word. Letsels van ’n dysfunctional familie, toxic masculinity, gedwonge verwydering en die voetspoor van die dopstelsel verskyn in al drie chapters van hierdie dun maar gewigtige bundel. Sy tref jou met kwinkslae wat jou gewete vir ’n lang tyd knaag nadat jy die boek neergesit het, soos met die beelde van:

’n afwesige vaderfiguur

ek was chilled oo my sperm donor wattie ytgestiek hettie
nou, 24 jaar later, praat ek en jy glattie (born free)

die antie wat heeltyd suip

en al waarmee antie gerty nou sit –
is vyf empties en fokkol om te vriet
wanne sy ytie tiep yt opstaan

en toxic masculinity

maa ek het gewiet wattie menee nou doen is vekeed
hy is vandag ’n pastor
en ek was lanklaas innie kêk (man staan)

om jou derms ’n twist te gee!

Ja, naai, dié innerlike kind is moer toe kwaad. Haar perspektief se kam is fyn en jou hare is fokken kroes. Die system wat haar grootgemaakit se asem stink na patriargie, selfhaat en rassisme. Ken jy die kinderspeletjies van destyds? Maak weer kennis daarmee, maar hierdie keer sonder die naïwiteit van tienerskap wanneer die digter jou terugvat met anecdotes uit haar kinderjare. Die onmiskenbare aktivisme bloei oor die blaaie soos Veronique aspekte van haar marginalised gemeenskap in bright colours paint. Gou kom jy aangesig tot aangesig met die beseffing dat heroes ook unconventional is, dat die ouer generasie in hul eie onkunde gevange bly en dat hierdie land (Suid-Afrika, indien jy nog wonder) in net nege punte opgesom kan word! Indien die ongemak jou noggie oorreed dat jy te doene het met unfiltered en skroeiende werklikheid nie, tjek hoe sy onsmaaklike lede vannie gemeenskap ophef oppie onwaarskynlikste manier:

ek is vandag nog hie
nou kan ek my kinnes eendag vetel
not all heroes wear capes
hulle roek lollies en dra dieselfde klere virrie afgelope ses wieke (golfie)

Met die kalmte van ’n petrolbom loods Veronique ’n aanval wat jou laat sidder in jou salige bourgeoisskap:

geagte wit mense
hou op sê ek is odentlik virre coloured (ek is moeg van suid-afrika)

En in ’n ander paar strofes:

hulle skrik as hulle ôs sien
ses wit mense het in my vasgeloep
een tannie het groot geskrik
sy het besef
sy is in my pad (innie pad)

Jy het nie ’n groot verbeelding nodig om te begryp wat die digter vir jou opskep nie. Elke sarsie word sorgvuldig voorgesit soos ’n koue skottel vol wonde en pyn. Jy might as well wurmstroep ingejaag is, want:

somehow symbolize bloed dat jy groot is
jy kry ’n pep talk oorie birds ennie bees
voëls vlieg
en bye stiek

Ten slotte, maak kennis met die nuwe generasie se sjambokbek wat vir niks en niemand terugstaan nie. Soos tradisie dit wil hê belowe Soe rond ommie bos niks behalwe oephand klappe vir bevoorregte bloeddorstiges en ammunisie virrie innerlike aktiviste in ons nie.

Straight up en in jou tjat!

The post <i>Soe rond ommie bos</i> deur Veronique Jephtas: ’n resensie appeared first on LitNet.

Floreer deur Ilse Salzwedel: ’n resensie

$
0
0

Floreer
Ilse Salzwedel
Lux Verbi, 2021
ISBN: 9780796322685

Die meeste mense, hetsy as individue of as deel van ’n groep wat gesamentlik funksioneer, ervaar dat dit moeilik is om aan die eise van die lewe te voldoen. Dit is alom bekend dat mense universeel sukkel om die aanhoudende, en soms klipharde, gehamer van die lewe suksesvol die hoof te bied. Ons natuurlike gebrek aan ’n suksesvolle strategie om terugslae suksesvol te hanteer word wêreldwyd weerspieël in die hemelhoë voorkoms van angs- en depressieverwante toestande.

Te midde van die COVID-19-toestande wat vanaf 2020 as aktiewe bestanddeel borrel in die kollektiewe drukpot van dit wat die lewe moeilik maak, verskyn Ilse Salzwedel se boek Floreer as ’n rigtingwyser na waar die probleem eintlik lê. Sy voer tereg aan dat die suksesvolle hantering van die lewe se eise primêr afhang van veerkragtigheid, “daardie iets wat jou laat opstaan wanneer die lewe jou asem uitslaan”. Sielkundiges, dokters, onderwysers, dosente en vele ander in die hulpprofessies is deeglik bewus van die één eienskap wat weerbare mense onderskei van diegene wat onder druk verkrummel: veerkragtigheid. Salzwedel se boek spreek dus ’n uiters relevante onderwerp aan, in ’n tydperk waartydens die bestuur van geestesgesondheid sterk in die kollig is.

Die konsep van veerkragtigheid behoort in wese tot die gedragswetenskappe, en is ’n onderwerp waaroor daar gereeld bespiegel en verskil word. Dit is ook ’n onderwerp waaroor daar baie navorsing bestaan. Om ’n sielkundig-nagevorste konsep suksesvol aan Jan Publiek oor te dra is soms ’n moeilike balanseertoertjie. Te veel vervelige akademiese terme en beskrywings, en die gemiddelde leser word gewoonlik verveeld en/of ongeïnteresseerd gelaat. Word die “vervelige” feite en wetenskaplike navorsing egter nie in ag geneem en erken nie, kan die outeur dalk as ’n “pienkboekieskrywer” vertoon – met ander woorde onderhoudend of selfs interessant, maar sonder veel substans. Salzwedel slaag daarin om die ewewig te behou en die leser op ’n verstaanbare vlak te betrek terwyl sy duidelik haar huiswerk vooraf gedoen het. Sy verkies om sekere invalshoeke meer te ondersteun in haar benadering (byvoorbeeld dié van die Amerikaanse sielkundige George Bonanno), maar hou die leser deurentyd bewus van verskillende relevante (en interessante) navorsing oor die onderwerp. Alhoewel Floreer nie ’n akademiese werk is nie, vertoon Salzwedel dus ’n kernbelangrike aspek van ’n outeur in die selfhelpgenre: Sy het haar onderwerp deeglik onder die knie.

.......

Alhoewel Floreer nie ’n akademiese werk is nie, vertoon Salzwedel dus ’n kernbelangrike aspek van ’n outeur in die selfhelpgenre: Sy het haar onderwerp deeglik onder die knie.

.........

Floreer word in kort, leesbare hoofstukke aangebied. Die hoofstukke bestaan deurgaans uit onderwerpe wat direk van toepassing is op veerkragtigheid, onder andere die konsepte van aanvaarding, stres, eie keuse, vrees en selfs digitale uitbranding. Individuele hoofstukke bestaan deels uit inligting, agtergrond en navorsing aangaande die onderwerp wat met ’n gemaklike, informele gesprekstyl voorsien word. Salzwedel verwys ook deurentyd na relevante geskiedenis en voorbeelde in die lewe van bekende persone soos Thomas Edison, Raymond Ackermann en Edith Eger, die ballerina wat as tienermeisie vir Mengele in die konsentrasiekamp moes dans. Daar is ook konstante verwysings na verskillende kenners se navorsing oor verwante temas.

Opmerklik is hoe openlik Salzwedel vanuit haar eie lewenservaring met die leser deel hoe sy telkemale uit die lewe se stofpad moes opstaan – ’n ernstige motorongeluk waartydens haar ma in haar arms oorlede is en haar pa gebroke gelaat is; ’n huwelik wat op die rotse beland het; finansiële probleme en om alleen vir twee kinders te moet sorg; en veral die ontdekking dat haar dogter op sesjarige ouderdom seksueel gemolesteer is. Salzwedel se eerlike aanbieding van haar eie swaarkry in die verlede (en die oorkoming daarvan) laat die leser met die ervaring dat die outeur self in die arena gebloei en gesweet het, en dat sy nie vanuit ’n gekoesterde-toeskouer-oogpunt probeer adviseer nie. Soms voel dit egter wel of klem op haar persoonlike geskiedenis plek-plek in die pad kom van die onderwerp, en dat sommige van haar vertellings oor haar verlede meer soos ’n persoonlike joernaal oorkom sonder om altyd noodwendig sterk relevansie te behou met die onderwerp wat bespreek word.

.......

Elke hoofstuk eindig met ’n bondige raamwerk waarin praktiese inligting en wenke vervat word. Die leser kan gevolglik maklik ’n opsomming lees oor die stel karaktereienskappe wat by veerkragtige mense waargeneem kan word.

........

Elke hoofstuk eindig met ’n bondige raamwerk waarin praktiese inligting en wenke vervat word. Die leser kan gevolglik maklik ’n opsomming lees oor die stel karaktereienskappe wat by veerkragtige mense waargeneem kan word. Of vier eenvoudige wenke raadpleeg om ’n gesindheid van dankbaarheid aan te leer. Onder andere kan lesers ook hulle eie stresvlakke meet, asook praktiese, plat-op-die-aarde wenke kry oor hoe om weer op te staan na ’n terugslag en sodoende weer met oorgawe te leef. Salzwedel beroep haar byvoorbeeld op ’n kombinasie van verskillende akademici se bevindings oor hoe om weer die stof af te skud nadat die lewe jou platgeklap het. Wenke sluit byvoorbeeld “lag ’n slag” in, waar daar na die belangrikheid van humor verwys word. Verdere wenke behels onder andere “los die martelaarskap”, “skryf oor die trauma”, en “doen net iets”. Dit lyk soms met die eerste oogopslag na boereraat, maar tog pluk Salzwedel nie hierdie wenke lukraak uit die lug nie.

Die sestien hoofstukke in Floreer volg op mekaar sonder dat ’n koherente verband tussen die hoofstukke altyd duidelik is of aan die leser aangebied word. Dit sou dalk die leser kon gehelp het om ’n oorhoofse greep op die hoofstukke te behou as daar ’n aanduiding van afdelings of onderafdelings was waarbinne hoofstukke gerangskik was. Die kort en kragtige aard van die hoofstukke vergoed egter vir die oorhoofse gebrek aan struktuur en verleen ook aan die boek ’n gemakliker, lekkerlees-ervaring.

.......

Floreer sal geen leser se tyd mors nie. Ilse Salzwedel slaan die spyker op die kop met hoe belangrik die konsep van veerkragtigheid is en behoort te wees.

........

Floreer sal geen leser se tyd mors nie. Ilse Salzwedel slaan die spyker op die kop met hoe belangrik die konsep van veerkragtigheid is en behoort te wees. Sy bespreek en beskryf die onderwerp van veerkragtigheid deur middel van ’n ingeligte, gemaklike en praktiese boek wat net so tuis in die dokter se spreekkamer as op die kortlys van ’n boekklub behoort te wees.

The post <em>Floreer</em> deur Ilse Salzwedel: ’n resensie appeared first on LitNet.

Bure van nature: Waar mens en natuur skouers skuur deur Hennie van Deventer – ’n resensie

$
0
0

Bure van nature: Waar mens en natuur skouers skuur
Hennie van Deventer
Uitgewer: Protea Uitgewers
ISBN: 978-1-4853-1217-8

.......

Ken jy die Laeveld, sal jy Bure van nature baie geniet. Was jy nog nooit daar nie, sal jy stomgeslaan wees oor die leefstyl in die bos.

........

Ek was baie geseënd om as kind baie tyd in die Krugerwildtuin te kon deurbring. My oom was die hoof van spyseniering in “die wildtuin". In ’n tyd van buffelvleispasteie met slaptjips vir middagete en wit lapservette. ’n Tyd voor kettingwinkels. My oom-hulle het in die personeeldorp in Skukuza gebly. Ben was ’n koedoe wat elke dag oor die lae heining gespring het om in die tuin aan allerlei groen blare te kom peusel. Die heining was eerder daar om nuuskierige hiënas saans uit die werf te hou. Soms kon my neef nie met sy fiets na die laerskool toe ry nie, want daar was manne met tanne op die dorp se gholfbaan of krieketveld. Dikwels was dit ’n seekoei of rooibok wat in die slag gebly het. Ouers is dan baie mooi gevra om die kinders maar self by die skool se hek te kom besorg. Ek het vele sorgelose dae in die bos tussen die huise spandeer. Dit was vir my nooit genoeg nie.  

Almal wat al tyd in die Laeveld spandeer het, sal jou kan sê dit is sintuigwêreld. Die flikkerende vlamme van ’n Combretum- (kierieklapper-) vuurtjie, die vroegoggendgeluide, soos dié van ’n fisant wat lank voor sonsopkoms die nag se nuus uitblaker, die laatmiddagreuk van oewerbos, en die rillings langs jou ruggraat as jy skielik bewus raak van die hiëna agter jou kampstoel. 

Hennie van Deventer se Bure van nature: Waar mens en natuur skouers skuur is ’n boek vol stories van ontmoetings met wilde diere in ’n wilde wêreld. Die verhale wat Van Deventer, lank verbonde aan Naspers, hier deel, is oor ’n tydperk van 20 jaar in Sabiepark, ’n privaat natuurreservaat teenaan die Sabierivier en aangrensend aan die Krugerwildtuin, versamel.

Ek het van die beskrywing van die gebande muishonde gehou. "Die bangjanne in hulle geledere sal sommer ’n agteroor-salto uitvoer as hulle ’n mens sien. Daardie stukkie gimnastiek word met skril uitroepe van skok en verontwaardiging begelei." 

.......

Die hoofstukke is kort en die vertellings humoristies, en die boek lees dus maklik. Dit is perfek vir diegene wat in die wintermaande saans knus in die bed lê en na die Laeveld verlang.

........

Dan is daar nog stories van likkewane in die dak, leeus op die wandelpad, luiperds op die stoep en hiënas wat alles vreet wat in sig is. Natuurlik ook slange: luislange, Mosambiekse spoegkobras en die gevreesde swart mamba. Vir iemand wat daar huis moet hou, is die streke van blouape en bobbejane dalk nog erger.  

Diep binne-in ons is daar tog ’n heimwee, ’n tipe verlange na so ’n lewe in die bos. Watter ander woonbuurt kan dan spog met ’n inwonende luiperd? Nogal met ’n naam soos Vin Diesel. Dit is net jammer dat die buurt se vlakvark, Brood, ook onder Diesel moes deurloop. En wie kan die vloed van Februarie 2000 vergeet?

Die hoofstukke is kort en die vertellings humoristies, en die boek lees dus maklik. Dit is perfek vir diegene wat in die wintermaande saans knus in die bed lê en na die Laeveld verlang. Ek ruik en proe en sien "die tipiese Laeveldse natuurskouspel van blitse teen die donker naghemel" wat oorslaan in ’n sagte reën. En dan verlang ek ook. 

Sabiepark klink vir my soos die ideale woonplek (as jy die insekaanvalle en breekskade van viervoetiges ignoreer). Jou huis is in die wildtuin en die wildtuin in jou huis. Duikertjies en bloukuifloeries word bekendes en kameelperdgeboortes kan van die stoep waargeneem word.

Ken jy die Laeveld, sal jy Bure van nature baie geniet. Was jy nog nooit daar nie, sal jy stomgeslaan wees oor die leefstyl in die bos.

The post <em>Bure van nature: Waar mens en natuur skouers skuur</em> deur Hennie van Deventer – ’n resensie appeared first on LitNet.

Viewing all 1806 articles
Browse latest View live