Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all 1790 articles
Browse latest View live

Koms van die motman deur Chris Karsten: ’n lesersindruk

$
0
0

Koms van die motman
Chris Karsten

Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798176224

Daar word gesê dat die grens tussen spanningslektuur en letterkunde in Afrikaans besig is om mee te gee. Daar word die laaste tyd groot pryse vir misdaadfiksie toegeken – pryse wat voorheen slegs vir “letterkunde” beskore was.1

Maar is pryse ’n aanduiding?

Ek is nie so seker nie. Hoewel misdaadfiksie ’n groot deel van my aandag geniet, en gereeld op my leeslys is, weet ek al uit ervaring dat hierdie tipe boeke nie oor tien of selfs vyf jaar meer veel gelees word nie. Dat baie van hierdie boeke kunstig geskryf is, is ongetwyfeld, maar die oues word vinnig vervang deur nuwes.

Koms van die motman word beskryf as die “slotroman in die jongste Ella Neser-trilogie”. Maar ons het reeds vir Neser leer ken deur die “Abel Lotz-trilogie” – wat na Abel vernoem is, nie na Ella nie. Hoe dit ook al sy, Ella is ten minste ’n veel minder ongure karakter as Abel, en in Koms van die motman hou sy haar lyf natuurlik weer speurder, maar dié keer gaan dit oor die dood van haar eie vader, wat vir elf jaar lank al in ’n koma was. Neser is dus nie self deel van die amptelike ondersoek nie, maar benewens dat sy die polisie op hulle tone hou, stuur sy natuurlik haar eie ondersoek van stapel.

Haar verhouding met Lou Pepler worstel voort, maar nou is daar ook nog die aantreklike staatsaanklaer, Fred Lange, wat betrokke was by die verhoor van Ella se hoofverdagte, Arthur Wilky. En tussendeur hou sy die agterdeur oop met ’n beplande nuwe loopbaan op ’n boot.

Baie tyd word spandeer aan Wilky, en daar word tereg gepraat van die “digte detail”2 van Karsten se boeke. Wilky met sy liefde vir klassieke musiek en plante is ’n figuur vol nuanses en misterie, en hy word ’n kleurryke gevangene in die tronk waar hy ’n vonnis uitdien vir ’n misdaad wat hy volhou hy nooit gepleeg het nie.

Die ontknoping van die boek is so onvoorspelbaar dat niemand dit kan voorsien nie, maar dit is wat my betref ’n bietjie onoortuigend. Tog bly die boek ’n aangename leeservaring.

Tussendeur die verhaal is daar ook “interludes” – soos die verhaal van ’n Zoeloeman, Mzuzepi, wat geassosieer word met die ontstaan van Suid-Afrika se bendestelsel in die tronke. Wat wou die skrywer met hierdie “tussenspele” sê?3 word daar gevra. Daar is skynbare ooreenkomste tussen die verhale van Wilky en Mzuzepi, maar iewers vervaag hierdie skynbare ooreenkomste.

Hierop het ek nie antwoorde nie. Die tussenspele het my gedagtes ver laat dwaal, want ek lees al baie jare misdaadfiksie, spesifiek na die boek Coldsleep Lullaby van Andrew Brown (Zebra, 2005), wat ook in Suid-Afrika afspeel, en ook so wissel tussen ’n verhaal van eeue gelede en die hede. Maar daar is die ooreenkomste veel duideliker as in Koms van die motman. Mzuzepi Mathebula se verhaal, wat na bewering elemente van die waarheid bevat, was totaal onbekend aan my voordat ek hierdie boek gelees het, en dit het ten minste my belangstelling in die saak geprikkel.

Koms van die motman is nie vir my ’n hoogtepunt uit Karsten se pen nie. Daardie eer behoort aan Abel Lotz en dié se manewales. Maar die boek het my ook darem glad nie teleurgestel nie. Koms van die motman is goeie misdaadfiksie, en bied prikkelende vermaak en ontspanning. Dis niks meer nie, maar beslis ook niks minder nie.

Eindnotas

1 D Steinmair, Chris Karsten se nuwe “kat-en-muis”, Rapport Weekliks, 5 November 2017, bl 13.

2 Ibid.

3 C van Rensburg, Motman se gefladder geen ligte musiek nie, Volksblad, 13 November 2017, bl 7.

Foto van Chris Karsten: Brenda Veldtman

The post <i>Koms van die motman</i> deur Chris Karsten: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.


Per ongeluk deur Lloyd Zandberg: ’n resensie

$
0
0

Per ongeluk
Lloyd Zandberg
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624082552

Die lewe is kleurryk waar dié debutant aan sy stories kom. Nog minder vervelend. Ook goed so.

Karakters kan ’n storie maak of breek. Hierdie karakters ís die storie – geskryf met ’n pen vol kleur.

En wat ’n welkome nuwe stem uit Namibië is Lloyd Zandberg. 

Ek gee graag jong of nuwe stemme ’n kans, ons wil immers nie die kraan van waardevolle Afrikaanse letterkunde laat leegloop nie. En soms sluit jy ’n skatkis of juwelekissie oop.

Hier is ’n wapad waar die lig helder flonker.

Met die lees van sy kortverhaalbundel Per ongeluk klink Zandberg veel ouer as sy 26 jaar.

Sy verwysingsraamwerk, sy ervarings, die goed waarna hy verwys, dit alles spreek van iemand ouer.

Maar dis sy fyn waarnemingsvermoë en waarskynlik goeie geheue wat hierdie stories so kosbaar maak.

Vermaaklik is hulle gewis, ek het myself ’n hele paar keer vang hardop lag (wat het die ander mense in openbare plekke van my gedink?).

Tog het die stories baie subteks en substansie.

Soms lees ek sekere goed van myself raak en ek is baie ver van Namibië gebore.

Ander stories weer maak dat jy wens jy kan dit sien afspeel, maar gelukkig het ons almal verbeelding.

Maak gereed vir:

Aunty Ash wat saam met die skrywer se oom op skool was en later soos familie beskou is en selfs ook die Duitse dubbelken ontwikkel het.

Of ’n meisietjie met te veel tande in haar mond op Usakos. Kyk uit vir waarmee hy haar voorkoms vergelyk.

Of die ontnugtering as jy verneem (nogal jou ma vertel jou dit) dat die tandmuis nie bestaan nie.

Of ’n pa wat hom “voos suip” as die ma met ’n ander man by die huis opdaag en dit net nadat hulle aangebou het en eintlik nou weer gelukkig moet wees.

Hy het ’n lekker familiêre trant. Val met die deur in die huis in ’n storie oor die en daai of so en so, asof jy ook die karakter jou lewe lank ken.

En dis wat dit so ’n plesier maak om die stories te lees.

In die eerste verhaal “Amper normaal” (ek wonder al my lewe lank wat normaal nou eintlik is) is ’n huldeblyk aan Minnie, die Zandbergs se huiswerker, kompleet met ’n gedig ook ingesluit. Zandberg sê ook dat die verhaal eintlik ’n huldeblyk aan alle huiswerkers is.

Zandberg het skreeusnaakse beskrywings. ’n Mens wonder hoe lank hy aan elke storie gewerk het.

Die drie goed wat Zandberg ontstel bespreek hy op bl 106 en dis nie naastenby wat ’n mens sou verwag nie.

Tot aan die einde kry hy dit reg om die leser te verras. Jy dink jy het al alles gehoor, dan kom nog ’n kwinkslag of haas onmoontlike absurditeit.

Hy beeld mense en die lewe uit in vele skakerings met gepaste kommentaar, as ’n mens dit so kan stel.

Dit is goeie debuut, beide wat die genre en skrywer se ouderdom betref. Mense is altyd bly en dankbaar vir nuwe goeie stemme in die letterkunde.

Lloyd Zandberg se naam moet weer op ’n boekomslag pryk.

The post <i>Per ongeluk</i> deur Lloyd Zandberg: ’n resensie appeared first on LitNet.

’n Leeftyd later deur Marthie Prinsloo-Voigt: ’n resensie

$
0
0

’n Leeftyd later. Herinneringe aan Angola
Marthie Prinsloo-Voigt
Uitgewer: Protea Boekhuis

ISBN: 9781485307686

’n Leeftyd later is Marthie Prinsloo-Voigt se stip herinneringe aan Angola. Dit is verstommend dat hierdie skrywer die pen opgeneem het op die ouderdom van 85 en elke bestemming, insident, verlies, avontuur en mense wat oor haar pad gekom het met soveel helderheid, deernis en presisie beskryf het. Plekke soos Congo, Cusese, Panguelo, Monguavolo, Caprici en Tzaneen.

Vir die skrywer, haar sussie en vier broers is die rondtrek ’n oneindige avontuur. Tyd het hulle nooit verveel nie. Daar was altyd iets nuuts om te ontdek. Hulle beleef die Ossewatrek van 1938 met ’n ossewa wat van Angola af gekom het. ’n Tentseiltjie word deur haar ma met die hand gemaak. So ook die bulsak-matrasse. Hulle help met die kuipe en die watervaatjie aan die onderstel van die waentjie. As die sweep klap, word die briek losgemaak en die wiele rol ’n vreemde toekoms in.

Elkeen van die gesin was raakvatters. Telkens word daar in ’n kort bestek van tyd lande geploeg, gesaai en ’n hartbeeshuisie gebou. Op hulle plaas in Angola is die wêreld geil en vrugbaar. Die skrywer se pa ry transport vir die Portugese winkeltjies vir ’n ekstra inkomste. Die kinders melk die koeie, ry water aan na die huis. Hulle versorg hoenders en varke en beeste. En hulle jag met vernuf. Dis is ’n vry buiteluglewe van kruisbessies pluk, doringboomgom vind, tarentaaleiers soek en om omring te wees van voëls, hasies, duikers en jakkalse. Later ook wildehonde en leeus.

Die Prinsloos hou getrou aan tradisies vas. Op die 15de Desember trek die Dorslandmense saam onder ’n reuse-maroelaboom op Tunda. Die jongklomp hou hulle besig met volkspele, jukskei gooi en toutrek. Die vroue kook en saans om die kampvuur trek die stories terug na die geskiedenis van Bloedrivier.

Op 12 Januarie 1949 tydens die trek na Gaingongo, word die skrywer se suster, Nanna, siek. Op 15 Januarie, is sy op die ouderdom van 19 oorlede aan malaria. Dit is ’n verlies wat diep sny en die eerste van die hopies rooi grond wat die skrywer moes agterlaat tydens hulle omswerwinge.

Op Cusese is almal gelukkig. Die kinders haal heuningneste uit en soek heeldag na veldvrugte. Dis ook hier waar die plaaslike mense vir hulle ’n baba-blouapie, met sy naeltjie nog nat, aandra. Hy word Adoons gedoop. Die gesin leer praat die plaaslike taal vlot. Werkers dra vir hulle soetriet en groenmielies aan. Die lande lyk goed en die tuin staan in blom. Die selfversorgende Prinsloos maak hulle eie kaas en verkoop aan die Portugese winkels.

Maar die winters is nat en mistig en ongesond vir die diere wat brandsiek opdoen. “Daar kom ’n tyd wanneer ’n mens moet besluit en handel, en ons het altyd geglo dat ons Vader met alles ’n doel het, en later sou ons baie daaroor praat. Ons maak klaar, span die osse in, en die trek terug suide toe begin.”

Die skrywer se eerste werk, as jong volwassene, is as kelnerin in Otjiwarongo se Astoria Kafee. Dit is hier waar DF Malan haar bedank vir flinke diens en groet met die woorde : “Mik altyd hoër, my kind, jy hoort nie hier nie.” Later word sy opgelei as verpleegster op Outjo en hierdie beroep sou haar goed te staan kom regdeur haar lewe. Haar pad kruis in dié tyd met die Duitser Carl Wilhelm Voigt en hulle gaan boer saam op sy familiekoffieplaas in Angola. Hier speel die skrywer ’n belangrike rol as tolk en verpleegster vir honderde Angolese vlugtelinge. Sy versorg, met toewyding, die siekes en hanteer geboortes in moeilike omstandighede. In die proses hoor sy ook die gruwelstories van die oorlog aan. Sy verloor self familie in die oorlog. Haar geliefde skoonpa word op 25 Augustus 1975 op Monguavolo vermoor.

Sy beskryf die verskrikking van die oorlog: hoe huisgesinne in die nag aangeval en gemartel is, vroue verkrag is en swanger vroue se mae oopgesny is. Sy self word in ’n stadium saam met haar huishulp aangerand en vir dood agtergelaat. Die oorlog laat sy merke.

Maar telkens is daar ’n nuwe hoofstuk met nuwe uitdagings in haar lewe. ’n Leeftyd later is die memoires van ’n besondere sterk vrou wat haar nooit laat onderkry het deur ontbering, geweld en verlies nie. 

The post <i>’n Leeftyd later</i> deur Marthie Prinsloo-Voigt: ’n resensie appeared first on LitNet.

Rooi haring deur Schalk Schoombie: ’n FMR-resensie

$
0
0

Rooi haring
Schalk Schoombie
Uitgewer: Human & Rousseau 
ISBN: 9780798175654

Schalk Schoombie se Rooi Haring word as ’n speurroman beskryf.

Ons belewe die openingsaand van ’n nuwe restaurant. Dit is nog ’n toevoeging tot  die veelbesproke en perfeksionistiese sjef Hartman Swiegers se suksesondernemings.

Een van die genooide kosjoernaliste is Latoya Jones. Haar grys kapsel het rooi en pienk strepe in. As dit skeefgedruk word, lyk dit “effe rotgevreet”. Sy en haar man, Bromley, hou hulle huwelik lewend met “(g)algehumor, bitsigheid en ’n skeut vodkatini”. Sy raadpleeg hom of sy sonder onderklere sal gaan en net in haar swart nommertjie. Terwyl sy wipneus kreukel van haar “wit walms reukweerder” en sy “poedelkaal klerekas toe trippel” is sy raad: “Jy weet jy lyk soos ’n afgedwaalde non in swart, baby doll.” (Lees alles vanaf bl 41.)

Die oggend ná die funksie besluit Latoya: Almal het gedink dis die wederkoms. Net nie sy nie.

Greta Burger, wat ook oor kulinêre vreugdes skryf, se lewe as alleenstaande word verander. Sy, die besonder lang vrou wat al Kameelperd as bynaam gedra het, sal gedurende die aand en daarna sowaar liefde vind by een van die oorsese sjefs wat vir die geleentheid uit Australië gekom het. Wat sal haar ta’ Geitjie van so ’n soort man sê?

Die jonge Wickus Gericke, so lank al ’n metgesel  van die uiters onvoorspelbare Hartman, Wickus wat so hard vir Hartman werk, hy met die stroopsoet seunsglimlag en “die woelige boudjies”. Sy toekoms word bedreig gedurende ’n uitval met Hartman op die belangrike aand. Schoombie stel dit so: “Seksuele gunste wat wegsyfer in verwyte en venyn”.

Op dié aand bots Hartman ook met sy ouer broer Darius. Darius wat beskryf word as ’n verloorder. Schoombie slaag telkens daarin om  karakters se verledes duidelik en dramaties by die hede uit te bring. Hier is ’n voorbeeld daarvan: In  hulle skooljare het kleinboet Hartman vir ouboet Darius geboelie voor die ander leerders wat dit geniet het. Darius word op bl 63 ook beskryf as “die bonkige kêrel met die rooi boskasie en deurskynende bakore”. Hy kyk “verwilderd” onder “ruie rooi wenkbroue” deur.  (Sien hoofstuk 4 vanaf bl 28.)

Schalk Schoombie (Foto: verskaf)

’n Mens kry ook insae in Hartman se personeel se verledes. Bv sterkgeboude Willing Dlamini en sy voorvaders se invloed op hom. Daar’s ook Lina Draai wat almal se ma is, wat “nie griewe koester nie” en wat seerkry saam met ander wanneer Hartman in “’n bitsige bui hom losbandig aan een van sy tirades oorgee”. En “ liewe, soete Marie-Louise, klein en plomp,  ... soos ’n kwartel altyd aan ’t skarrel”.

Dis asof ’n ingeligte verteller ons opwindend voorstel aan die karakters en gebeurtenisse dramaties beskryf. Schoombie is ’n ervare en bekroonde dramaturg, akteur en joernalis. Dit blyk uit die uitstekende dialoog, hoogs geslaagde beeldspraak, toeganklike paragraafbou en ritmiese sinne waarin sommige woorde rym of allitereer. Sien dit bv in die aanhalings hierbo.

Spanning word geskep wanneer ’n toneel afsluit met iets wat verswyg word, en wat dan later vollediger opduik. In die ondervragingstonele van die speurders kry die leser by die ondervraagdes inligting wat hulle in die voorafgaande hoofstukke reeds uitgebeeld gekry het. Dis  geheuestutte en ons kan ook ons eie speurwerk na aanleiding daarvan doen.

Greta Burger het die hele aand aangevoel dat onheil wag om te gebeur. Dit het wel op daardie glansaand gebeur. In die laatnagure.

Stilisties en taalkundig is Schalk Schoombie se Rooi haring uiters voortreflik. Jy kry hope voorbeelde van besonder geslaagde skryfwerk. Die spitsvondighede en die humor is heerlik om te ontdek.

En ook kookkunswenke. Hier’s selfs enkele spyskaarte en resepte. Vele aspekte van die restaurantbedryf word beslis sterk realisties opgeroep. Wat gebeur in die kombuis? Hoe geskied die bediening? In die propvol eetplek “gons” dit “soos ’n gerookte bynes” en “agtergrondmusiek” is “nog net hoorbaar in die crescendo’s”.

Op bl 50 is ’n sin wat ook toegepas kan word op ’n mens se waardering vir Schalk Schoombie se Rooi haring: “Die steltlopers strooi blinkers oor stralende gesigte.”

  • Hierdie resensie is oorspronklik in Boekkeuse onder leiding van Amanda Botha op 15 November 2017 op Fine Music Radio uitgesaai.

Lees ook:

The post <i> Rooi haring</i> deur Schalk Schoombie: ’n FMR-resensie appeared first on LitNet.

Skepelinge: Aanloop tot ’n roman deur Karel Schoeman: ’n resensie

$
0
0

Skepelinge: Aanloop tot ’n roman
Karel Schoeman
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN:  9780798176101

Met die (ontydige) dood van Karel Schoeman op 1 Mei 2017 het Afrikaans een van sy grootste literêre geeste verloor – miskien selfs die wêreldliteratuur, want moes hierdie letterkundige reus nie dalk al vir ’n Nobelprys gekwalifiseer het nie? Maar ook die Suid-Afrikaanse historiografie is armer. Schoeman se nalatenskap leef egter voort en sal waarskynlik vir altyd voortlewe, ook danksy die feit dat sommige van sy boeke in ander tale vertaal is – en meer hopelik sal volg. Dit leef ook voort danksy sy nagelate manuskripte, wat óf reeds kort na sy dood gepubliseer is, óf in die jare wat voorlê gepubliseer sal word.

Een van Schoeman se manuskripte het, danksy Human & Rousseau, pas verskyn, en wel as Skepelinge: Aanloop tot ’n roman. Hier is die enigmatiese Schoeman, met sy unieke uitkyk op die geskiedenis (en die lewe en menseverhoudinge), weer eens op sy (vanselfsprekende) beste. Soos die uitgewer dit tereg op die voorste klapperteks stel:

Skepelinge is ’n impressionistiese betragting van die vroeë koloniale tydperk in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, gebaseer op Schoeman se uitgebreide kennis van die VOC [Vereenigde Oostindische Compagnie]-tydperk en meer spesifiek die skeepvaart.

Of soos Schoeman dit self in die koda aan die einde van die boek stel (hoewel hierdie sleutelonderafdeling van die publikasie dalk heel voor in die boek geplaas moes gewees het):

Die boek is saamgestel uit histories en wetenskaplik verantwoorde tekste, wat egter op suiwer subjektiewe en onwetenskaplike wyse gebruik is om ’n bepaalde siening van die verlede oor te dra, verweef met insidentele persoonlike betragtings oor geskiedenis, navorsing en skrywerskap. Die resultaat is ’n hibriede skepping, êrens in die middel tussen fiksie en niefiksie, en sou as “historiese improvisasie” beskryf kon word; of hoogstens, soos sy uiteindelike ondertitel lui, “aanloop tot ’n roman”. (Bl 535)

Bostaande verklarende nota verduidelik nie slegs aan die leser van Skepelinge die doel van en werkwyse ten opsigte van hierdie unieke publikasie nie, maar sê ook (onbedoeld?) veel omtrent Schoeman se benadering ten opsigte van sy navorsing vir, en aanbieding van, baie van sy ander literêre en historiese produkte.

Voortvloeiend uit die invalshoek soos in bostaande aanhaling uiteengesit is, stel Schoeman dit voorts in die koda duidelik dat “[s]over doenlik is jaartalle weggelaat ten einde die ooreenkoms met ’n stuk geskiedskrywing te vermy. Die gebeurtenisse van bykans tweehonderd jaar wat behandel word, is aangebied asof dit gelyktydig was” (536)

As historikus sou ek uiteraard datums verkies het, en sou meer volledige bronverwysings vir my ook nuttig te pas gekom het. Schoeman het dié kritiek verwag:

Vir heelwat van sy potensiële lesers sou die werk vermoedelik “nuttiger” gewees het, soos die wêreld dié begrip hanteer, as sy uitsprake deur bronnote gestaaf en die teks van persoonlike menings gesuiwer was. In dié geval sou dit egter nie die boek gewees het wat hom aan my voorgedoen het om geskryf te word nie. (536)

Ek respekteer Schoeman se standpunt en Schoeman se persoonlike menings is genadiglik nie geskrap nie!

Wat voor die leser ontvou, is ’n unieke teks wat die leser onder meer daaraan herinner dat baie Suid-Afrikaners van die voorsate van Nederlandse (en ander) seevarende moondhede afkomstig was en dat as dit nie vir seevaart, die strategiese Kaapse seeroete en die botsende ekonomiese, politieke en strategiese belange van Portugal, Nederland, Brittanje en Frankryk was nie, die geskiedenis van wat vandag Suid-Afrika is, waarskynlik heel anders sou verloop het. Die VOC se halfwegstasie aan die Kaap het immers in 1652 tot stand gekom as ’n gevolg van seevaart en ekonomiese wedywering tussen die destydse groot moondhede van Europa. Die Napoleontiese oorloë en die daarmee gepaardgaande stryd om (onder meer) oppermag ter see (tussen Frankryk en Brittanje) het in 1795 tot die eerste Britse besetting van die Kaap gelei, en in 1806 tot die tweede sodanige Britse besetting. Teen die 19de eeu was die Britse Ryk in beheer van die wêreld se seewaartse handelsroetes, met die Royal Navy se vlootbasis te Simonstad ’n belangrike strategiese sleutelpunt in die Britse imperiale web. Meer as 100 jaar later, tydens die hoogbloei van die Koue Oorlog, was dié vlootbasis steeds van groot belang in die stryd tussen die supermoondhede. Vandag (2017) het die Kaapse seeroete steeds groot strategiese belang en behoort die Suid-Afrikaanse Vloot se Simonstad-vlootbasis steeds strategies aangewend te word. Die klein en onderbefondste Suid-Afrikaanse Vloot se vermoëns is egter beperk – al vaar hulle onder moeilike omstandighede goed. Net jammer so min Suid-Afrikaners het begrip vir maritieme sake; so jammer so baie Suid-Afrikaners ly aan wat as seeblindheid beskou kan word. Ons is immers streng gesproke ’n seevarende moondheid; of altans, ons behoort dit te wees. Dan moet ons egter méér weet omtrent die seevaarders wat ’n rol in ons geskiedenis gespeel het (en ja, hulle kan as kolonialiste en koloniste getipeer word, maar hulle is deel van álle Suid-Afrikaners se gedeelde verlede).

Dit bring ons weer terug by Karel Schoeman en sy skepelinge. Hy skets in breë trekke die geskiedenis van die VOC en die vestiging aan die Kaap (kyk in hierdie verband ook Schoeman se omvangryke reeks boeke oor die kolonie aan die Kaap) en beskryf die VOC se skepe (“seekastele”). Dan identifiseer en skryf hy oor die bemannings van hierdie skepe. Wie was hierdie mense? Wat was hul herkoms? Hoe het hulle die vaarte na die Kaap (en soms ook terug na Europa) beleef? En wanneer hulle in Tafelbaai anker gegooi het en aan land gegaan het, wat was hul indrukke van die Kaap (de Goede Hoop)? Wat was hul ervaringe? Wat was hul neerslag? Nie almal het die Kaap gehaal nie. Daar was storms, skepe het vergaan en daar was sterftes – en oorlewende skipbreukelinge.

Feite en indrukke word opeengestapel. Soos gewoonlik is Schoeman se navorsing indrukwekkend (kyk byvoorbeeld die geselekteerde lys van geraadpleegde bronne, ble 557–73, asook die 552 eindnotas), maar hy is byna verskonend as hy sê:

Hoe wetenskaplik my oorspronklike bedoelings ook was, kan die boek waarin hierdie proses vasgelê is dus nie anders as subjektief, eensydig en willekeurig wees nie, en die proses self is tentatief en aarselend, ’n huiwerige afdaal in die skag van die verlede. (13)

Die leser word geensins teleurgesteld gelaat nie. Soos in sovele van sy ander werke, gee Schoeman ook hier stem aan die gemarginaliseerdes; hier in die besonder die anonieme opseilendes van die 17de en 18de eeu – skepelinge onderweg na die Kaap. Ongelooflik baie inligting en indrukke word verskaf. Ideaal gesproke moes daar ’n persoons- en skeepsregister gewees het ten einde die belangstellende leser, maar veral die navorser, in staat te stel om dié omvangryke teks makliker en beter te kan ontgin. Dit sou ook gaaf gewees het indien daar, afgesien van die treffende skildery wat op die boek se omslag afgedruk is (Willem van de Velde die Jonge se Het IJ voor Amsterdam met de Gouden Leeuw, het voormalige vlaggenschip van Cornelis Tromp, 1686) ook enkele ander illustrasies ingesluit was, en dalk ook ’n kaart of twee.

Hoe dit ook al sy, Skepelinge: Aanloop tot ’n roman is ’n besonderse werk en vorm deel van Karel Schoeman se unieke nalatenskap. Dit bied veel stof tot nadenke, en werp lig op die wyse waarop ’n briljante romansier stof versamel en met die geskiedenis worstel met die oog op die skryf van ’n roman. ’n Mens kan maar net bespiegel en bly wonder hoe die roman wat veronderstel was om uit Skepelinge te vloei, sou gelyk het. Maar soos wat die geskiedenis ’n debat sonder einde is en geen skryfwerk dus eintlik ooit voltooid is nie, moet die leser ook hier self die roman verbeeld, die legkaart voltooi, die karakters verder uitbou, en ook onthou dat ons ’n noue band met die see het. Met dank aan Karel Schoeman.

André Wessels

Departement Geskiedenis, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein, en besoekende professor, Australian Defence Force Academy, Canberra

The post <i>Skepelinge: Aanloop tot ’n roman</i> deur Karel Schoeman: ’n resensie appeared first on LitNet.

Die vrou in die blou mantel deur Deon Meyer: ’n lesersindruk

$
0
0

Die vrou in die blou mantel
Deon Meyer
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798176903

Die ink is nog nie eens behoorlik droog nie, en Deon Meyer se nuwe publikasie, Die vrou in die blou mantel, word reeds as ’n meesterstuk beskryf.1 Bennie Griessel is terug, maar dié keer vir slegs 121 bladsye. Meyer se vorige boek, Koors, het nogal baie uiteenlopende reaksie ontlok. Maar ek dink die enigste klagte teen Die vrou in die blou mantel gaan wees dat dit so kort is. Hiervoor gee Meyer ’n verduideliking is sy voorwoord: Die vrou in die blou mantel is in die formaat van ’n novelle, wat ’n betreklik onbekende formaat is in Afrikaans. Die boek is die resultaat van ’n versoek aan Meyer om ’n “geskenkboek” te skryf in die vorm van ’n novella vir die 2017 Spannende Boekeweek in Nederland. Vir die Afrikaanse uitgawe is sowat 7 000 ekstra woorde geskryf.

Soos die meeste van Meyer se boeke, speel ook die nuutste een af in die Kaapse Skiereiland, van waar kaptein Bennie Griessel en sy kollegas as die Direktoraat vir Prioriteitsmisdade werk. Majoor Mbali Kaleni en Vaughn Cupido keer ook natuurlik terug, en dan is daar Alexa, Bennie se lewensmaat, met wie hy deesdae trouplanne koester.

Die krag van Meyer se boeke lê vir my veral in die medekarakters, spesifiek Cupido. As ek vir Vaughn Cupido in my geestesoog probeer voorstel, dan sien ek die akteur Alvin Bruinders toe hy ’n polisieman was in Vetkoekpaleis. Vol pittighede. Hy is glad nie ondersteunend teenoor Bennie se trouplanne nie. En tog is hulle verhouding baie sterk. Cupido beskou nie vir Bennie as ’n wit mens nie, want wit mense wat al swaargekry het, is nie wit mense nie: “Colour only applies to whites who have never suffered. Jy’t nie kleur nie, Benna” (47).

Die verhaal sentreer rondom die dood van die 43-jarige Alicia Lewis – ’n geheimsinnige kunskenner, wie se oorskot op Sir Lowryspas ontdek word. Omdat die oorledene nie ’n Suid-Afrikaner is nie, is die polisie onder meer druk om haar dood so spoedig as moontlik op te los. Met net 120 bladsye vloei die verhaal natuurlik vinnig, en net toe die storie vir my wil-wil bietjie geloofwaardigheid verloor, verander ’n verrassende kinkel aan die einde die hele verhaal.

Deon Meyer het die kuns vervolmaak om baie slim met toeval om te gaan in sy boeke. Hy gebruik ook toeval in Kobra met dramatiese effek.

’n Klein “meesterstuk”? Ek gaan 100% akkoord daarmee! Die korter formaat gaan ook moontlik die boek toeganklik maak vir potensiële “nuwe” lesers van Meyer se werke.

Agter in Die vrou in die blou mantel is daar ten slotte die aankondiging dat ons weer van Bennie Griessel sal hoor in Oktober 2018, wanneer Prooi die lig sal sien – voorwaar ’n aangename vooruitsig!

1 F Bekker, "Dié Griessel-dossier ’n klein meesterstuk", Volksblad, 20 November 2017, bl 7.

The post <i>Die vrou in die blou mantel</i> deur Deon Meyer: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.

Die onaantasbares deur Steve Hofmeyr: ’n lesersindruk

$
0
0

Die onaantasbares
Steve Hofmeyr

Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781776092680

Ek was nooit van plan om ’n boek te lees wat deur Steve Hofmeyr geskryf is nie. Ek het nog nooit een van sy boeke gelees nie. Ek is ’n ywerige leser van boeke, en daar is hordes en hordes boeke wat meeding vir my aandag. Dan is daar ook so baie publikasies deesdae. Mens kom nie eens by die helfte uit van wat jy graag wil lees nie. Maar die resultaat van my snoeperigheid is dat ek selde regtig teleurgestel word deur boeke. Teen die tyd dat ek betaal, dan het daar reeds genoeg kritiek plaasgevind in my kop om te weet dat ek die boek waarskynlik, ten minste tot ’n mate, sal geniet.

Daar word baie gepraat oor die sogenaamde politieke inkorrektheid van Hofmeyr se Die onaantasbares. Ek het ’n probleem met die term polities korrek. Wat beteken dit presies? Dit hang maar af van in watter geselskap jy verkeer. Met polities korrek verstaan ek dit is ’n stelling wat verswyg word omdat dit nie gewild is nie. Polities inkorrek is dus ongewilde dinge wat gesê word. Taboes waaroor gepraat word. Dinge wat gewoonlik onder die mat ingevee word. Maar wat polities korrek is in een gemeenskap, is glad nie polities korrek in die volgende nie, en andersom. Die begrip is vir my vaag en ek stel die vraag aan almal wat hier lees: verduidelik asseblief vir my wat presies is so kwansuis polities inkorrek aan Die onaantasbares? Is dit omdat Hofmeyr op een stadium oor homoseksualiteit skryf? Want daar is mos nog baie kritiek teen homoseksualiteit uit sommige behoudende dele van ons land. Maar nee, ek het my vermoedens. Hierdie “politieke inkorrektheid” waarvan gepraat word, is seker maar die onvleiende dinge wat oor ’n sekere heersende politieke party kwytgeraak word. Dit is skynbaar nou skielik vreeslik “polities inkorrek” om sulke kritiek te lewer. Blykbaar. In hierdie tye van The President’s keepers nogal. En voor 1994 is alle kritiek teen die owerhede natuurlik met ope arms verwelkom.

En ja, ek is natuurlik eintlik Clark Kent en nie Vannemerwe nie.

Maar laat ek nou nie vasbrand by kleinighede nie. Die onaantasbares was vir my ’n heel stimulerende leeservaring. Dit is misdaadfiksie, maar dis nie die gewone geval van ’n speurder wat ’n moordenaar jaag nie. Dit gaan in hierdie boek oor ’n huurmoordenaar. ’n Ongure karakter wat op ’n wraaktog gaan. Glad nie ’n held nie. ’n Vroueslaner. Wat nogal ongewoon is vir misdaadfiksie. Baie skrywers van misdaadfiksie se hoofkarakters is helde met foute. Die jare van die onberispelike helde soos die Jessica Fletchers van die wêreld is al lankal grootliks iets van die verlede. Ons nuwe misdaadbestryders is gewoonlik alkoholiste en egbrekers. Met uiters vuil monde. Maar hulle motiewe is gewoonlik edel, al is hulle vol karakterfoute. Maar nie in Die onaantasbares nie. Hier is vuilspel deel van die hoofkarakter se agenda en psige. En mens wonder soms hoekom so ’n smerige karakter se storie vertel? Maar dit doen weinig afbreuk aan die spanning van die verhaal.

Die verhaal word ook in die eerste persoon vertel – weer eens ongewoon vir misdaadfiksie.

Ek is altyd krities oor boeke waar die skrywer se naam groter op die voorblad is as die titel van die boek self. Maar Hofmeyr is ’n baie begaafde woordkunstenaar, soos ons reeds weet uit sy musiek. Sy taalgebruik is keurig. Dis gelaai met Bybelse metafore. Die verhaal vloei vinnig. Jy gaan nie baie lank aan die boek lees nie. Dit het my maar een en ’n halwe aand geneem. Ek hou boonop van kort hoofstukke soos diés wat mens in Die onaantasbares aantref. Dit por my altyd aan. Nog enetjie. Nog enetjie. Net nog enetjie voor ek insluimer. Dalk nog een … Maar wees gewaarsku, die boek is kru. Vol geweld en vloektaal. En nie almal gaan daarvan hou nie.

Ek het Die onaantasbares gekoop hoofsaaklik omdat die buiteblad my aandag getrek het. Natuurlik is mens ook nuuskierig om te sien hoe iemand soos Steve Hofmeyr se boek nou sal lees, maar dit is die manier waarop die boek vertoon wat my, as jare lange leser van misdaadfiksie, laat koop het. En dit was geen teleurstelling nie. Hofmeyr het sy eie styl en dit is wat ek die meeste waardeer het. Ek sien daar is diegene wat die boek vergelyk met die boeke van ander skrywers. Ek self sien nie hierdie vergelykings raak nie.

Ek het Die onaantasbares geniet, en ek vermoed daarom baie ander lesers van misdaadfiksie sal ook.

The post <i>Die onaantasbares</i> deur Steve Hofmeyr: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.

Krap uit die see deur Fourie Botha: ’n resensie

$
0
0

Krap uit die see
Fourie Botha
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485307570

Die gedig as karapaks

“The world dies over and over again, but the skeleton always gets up and walks”.

So lui die programmatiese motto van Fourie Botha se tweede digbundel, Krap uit die see. Dit is afkomstig uit Henry Miller se bundel verhale en essays The wisdom of the heart. In samehang met die foto van ’n reusespinnekopkrap op die omslag is die motto – en trouens, ander werk van Miller – rigtinggewend by die lees van die gedigte in Botha se bundel.

Die skeefloop van die krap dien as verleiding om hierdie resensie op ’n sywaartse trajek te begin, op die spore van Miller langs.

Deur sy revolusionêre en destyds omstrede skryfwerk oefen Miller ’n beduidende invloed op Krap uit die see uit, veral wat betref temas soos verhoudings, die erotiek, kreatiwiteit, verganklikheid, verderf en hernuwing. Sy semi-outobiografiese debuutroman, The Tropic of Cancer (1934) – waarvan die eerste uitgawe op die voorplat ’n illustrasie van ’n krap met ’n vrou in sy knypers het – en sy latere The Tropic of Capricorn (1939) getuig van sy belangstelling in die astrologie. In ’n brief aan een van sy geliefdes, Anaïs Nin, skryf hy:

For me Cancer means the crab – the creature which could move in any direction. It is the sign in the zodiac for the poet – the halfway station in the round of realization. Opposite Cancer in the Zodiac is Capricorn, the house in which I am born, which is religious and represents renaissance in death. Cancer also means for me the disease of civilization, the extreme point of realization along the wrong path ⎯ hence the necessity to change one’s course and begin all over again. Cancer then is the apogee of death in life, as Capricorn is of life in death.

Hierdie aanhaling bied waardevolle toeligting by die krapsimboliek in Botha se digbundel. In ’n onderhoud met Joan Hambidge (Woorde wat weeg, http://joanhambidge.blogspot.co.za/­2017/07/onderhoud-fourie-botha.html) verduidelik Botha dat hoe meer hy “oor dié gedierte gedink het”, hoe meer het dit hom aan die digkuns herinner: “die idee dat die intieme gebeente aangebied word as sigbare karapaks”.

Die krap se monsteragtige uiterlike (ongeag grootte), ongewone, aweregse beweeglikheid (die meeste krappe loop skeef, maar sommiges kan na alle kante skarrel) en kamoeflering (bruin, blou, rooi) is ’n besonder geskikte simbool vir die digter en die digkuns. Die reusespinnekopkrap op die omslag is ’n skrikwekkende gedrog. Dit lyk soos ’n enorm groot spinnekop, met agt pote en ’n paar buitengewoon lang en dun knypers. Die aggressiewe vertoon van krappe is dikwels ’n blufspel – ten spyte van sy vreesaanjaende voorkoms is die reusespinnekopkrap glo ’n heel saggeaarde siel. Die eksoskelet, met sy harde, knobbelrige en stekelrige karapaks – wat die sagte binneste omhul – bied beskerming teen predatore soos seekatte. Uit hierdie eksoskelet moet die krap herhaaldelik met moeite ontsnap ten einde te kan groei. Met sy nuwe, sagte dop is hy dan besonder weerloos. Die oranje en wit kleur van die skelet dien as kamoefleermiddel waar hy op die seebodem aas, terwyl hy homself op byna kreatiewe wyse met sponse en seewier tooi ten einde met sy omgewing saam te smelt. Hy skuil graag in holtes en gate diep in die see.

Met die vindingryke uitbuiting van hierdie assosiasies, sowel as die uiteenlopende wyses waarop eksistensiële en metafisiese kwessies vanuit die perspektief van ’n jong gay man belig word, lewer Fourie Botha bewys dat die beloftes van sy debuutbundel in vervulling gegaan het. Vyf van sy gedigte is reeds in 2010 in Nuwe stemme 4 opgeneem. ’n Jaar later het hy gedebuteer met Donkerkamer, die produk van ’n MA in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad onder leiding van Joan Hambidge. Donkerwerk was ook op die kortlys vir die Ingrid Jonker-prys.

Krap uit die see bevat etlike boeiende, aangrypende en onthutsende verse wat ’n breë spektrum onderwerpe en temas dek, soos die inlywing van die kind in die leefwêreld van volwassenes; die dinamiek en problematiek binne gesins- en familieverband; seksuele ontwaking, homoseksualiteit en erotiek; psigiese ontwikkeling, ontnugtering, verwonding en dood; maar ook die moontlikheid van heling en herstel. Dit gaan gepaard met ’n uitgebreide register emosies, wat behendig in toom gehou word. Die “slobberige kwyldrade van die bibberende mond” – waarteen Opperman so gewaarsku het – tref mens nie in hierdie bundel aan nie.

Anders as in Donkerkamer kom daar geen foto’s in die bundel voor nie. Dit word aan die leser oorgelaat om speurtogte te loods, soos in die geval van gedigte met ’n ekfrastiese strekking, byvoorbeeld Annie Leibovitz se foto van ’n rok van Emily Dickinson (“Rok”), ’n foto van Margaret Atwood (“By ’n foto van Margaret Atwood”), ’n kunswerk deur Georgia O’Keeffe (“Cow’s skull with calico roses”) en Judith Mason se skildery Wild dog (“Die onpaar paar”). Meestal dien die beeldmateriaal slegs as prikkels vir hierdie knap gedigte en is hulle nie minusieuse beskrywings daarvan nie.

Die bundel word ingelei deur ’n programgedig, “Krappegesang”, wat in die slotafdeling ’n eggo kry in “Reusespinnekopkrap”. “Krappegesang” is ’n vreemdsoortige loflied oor hierdie potsierlike artropood; ’n byna totemistiese vereenselwiging met dié wanstaltige gedierte:

Krappegesang

Ek besing my bloedbroer, die krap:
sy pootjies soos breipenne,
hy met die rooi hakskene,
die ogies tandestokkies met olywe.

Skeef-skeef kom hy oor die korrels
soos ’n rilling teen ’n ruggraat op,
die mandibels ’n gekoek
vol hengelaas en visstront.

Waarom bemin ek hom so,
wil ek sy harde karapaks poets,
die knypers vryf tot ’n vonk spat,
hom met ’n hamer oopbreek?

Hier in sy gat wil ek inkruip;
vir hom wil ek aan die bors voed;
hoor hoe hy sy dekplate vir my
laat kerm soos geroeste slotte.

Jirre, hoe jeuk, hoe krap dit nie
in hierdie skedelpan van my kop?
Ek wil jou skud soos ’n blik spykers,
witvleise uit jou doppe skraap.

Die sterk homoërotiese inslag van Botha se debuut is ook in hierdie vers te vinde. Die krap het immers “rooi hakskene” en veroorsaak ’n “rilling teen ’n ruggraat op”, sodat die spreker-digter sy “harde karapaks [wil] poets” en sy “knypers [wil] vryf tot ’n vonk spat”. Die reëls “Hier in sy gat wil ek inkruip;/ vir hom wil ek aan die bors voed” hang hiermee saam. Uiteraard wil die vers ook iets te kenne gee omtrent die aard van die bundel en digterskap in die algemeen, sodat dit as ’n metapoëtiese gedig beskou kan word. Die jukstaposisie sowel as die oormekaarskuif van man en krap groei mettertyd uit tot botsende emosies soos aantrekking en afsku; bewondering en weersin; liefde en haat. Die “skedelpan” van die spreker se kop is vol kriewelrige gedagtes wat uiting soek en hom feitlik tot raserny dryf. Daarom wil hy dit (sowel sy kop as die krap) skud “soos ’n blik spykers,/ witvleise uit jou doppe skraap”.

Die pendant van “Krappegesang” is “Reusespinnekopkrap”, die inleidende gedig van die laaste afdeling, “Dryf”. Die gedig het as motto ’n reël uit Margaret Atwood se gedig “Landcrab I” uit True stories (1981): “The truth is we are born from stones.” Die gedig lui soos volg:

Reusespinnekopkrap

The truth is we are born from stones
Hier in die akwarium beloer ek jou agter glas.
Kan jy my bespeur?
Jammerlik lelik: net ’n ma
sal dié gevreet kan liefkry.
Jy dra jou skelet op die mou,
knypers soos knuppels in die lug.
Skuins-skuins roer jy, hensop kastig,
lek jou kliplippe af.
Waarom krabbel almal so oor jou?
In jou pype is daar g’n murg –
jy is ’n bal gekoude papier,
maar ook ’n boodskap, ’n gedig –
my krapperige tweelingbroer.

Die reusespinnekopkrap met sy klipperige voorkoms word met behulp van geykte segswyses beskryf: “net ’n ma/ sal dié gevreet kan liefkry”; hy dra sy “skelet op die mou”; en in sy “pype is daar g’n murg”. Sou hierdie retoriese, gefossileerde uitdrukkings verband hou met die skynbare onvermoë van die spreker-digter om iets nuuts en verbeeldingryks oor die krap te skryf, teenoor vele digters voor hom? Hy wonder immers: “Waarom krabbel almal so oor jou?” Dus: waarom word daar so dikwels oor krappe geskryf? Onder die krabbelaars is daar, naas Margaret Atwood, ook die reeds genoemde Henry Miller (vergelyk die reël “I am Chancre, the crab” uit sy roman Black Spring, 1936), en hier te lande Wilma Stockenström met haar gedig “Die kluisenaarskrap op my kriewelrige palm” in haar bundel Monsterverse (1984). Ten slotte is die krap vir die spreker-digter in “Reusespinnekopkrap” ’n voos-ontginde en wegwerplike onderwerp, verwysende na al die pogings om dit wat raar, afwykend en ontstellend is, te probeer omskryf. Maar desondanks is die krap ’n waardevolle vorm van kommunikasie – ’n gedig oor en aan sy “krapperige tweelingbroer”. Dit gaan waarskynlik ook hier om ’n dialoog met die alter ego.

Naas hierdie twee sleutelgedigte oor die krap is daar heelwat ander wat oor krapperighede, frustrasies en verlies handel. Die bundel bestaan uit vier afdelings: “Laagwater” (10 gedigte), “Vuisneste” (12), “Rakende” (8) en “Dryf” (11 verse). Die eerste afdeling handel oor die verhoudingsproblematiek van ’n argetipiese familie in ’n landelike, Calvinistiese omgewing: ’n bakleierige, besope pa; ’n sorgsame, maar veroordelende ma; ’n geroetineerde, standvastige oupa; ’n dapper, maar brose ouma; en ’n onbegryplike broer, met ’n byna fundamentalistiese religieuse ingesteldheid. Midde-in die familiedramas is daar ’n noulettende en sensitiewe waarnemer, wie se lewensverhaal op ’n losweg chronologiese wyse aangebied word deur middel van herinneringe en drome. Die afdelingtitel, “Laagwater”, suggereer nie net die ebgety as aanduiding van die ritmes en siklusse van die heelal nie, maar ook die oersee waaruit alle bestaansvorme ontwikkel het; asook die blootlegging van dit wat soms onsigbaar is. Die donker kante van die familie word met bruuske eerlikheid geopenbaar, in ’n poging om tot begrip te kom. ’n Hoogtepunt in die afdeling is die onheilspellende slotgedig, “Die koms”, waarin allerlei gediertes (soos Van Wyk Louw se Raka en sy strandjutwolf) snags buite rondsluip en die mens bedreig.

Die tweede afdeling, “Vuisneste”, bevat hoofsaaklik gedigte met ’n gay-tematiek. Die titel sinspeel op “muisneste” en het duidelik homoërotiese assosiasies. Die gay jong man se toevlug en troos is nie Psalm 23 nie, maar sy slimfoon, waarop hy obsessief en met “bloederige duime” nuwe moontlikhede verken. Sy pogings om weer in sirkulasie te kom, word in “On the rebound” as ’n allesverterende vuur uitgebeeld. NP Van Wyk Louw se “Piromaan”, asook dié van Johann de Lange, gloei mee, terwyl die diefstal van Peter Blum se wartaalwoord “foknakwyf” die seksuele en die poëtiese tot op die rand van die waansin dryf. Fantasieë oor mans strek vanaf ’n hunkering na “afvlerkmans” in “God complex” en ’n “leër knopgatsoldate” in “Die generaal, my geliefde”, tot ’n voetfetisjisme in “Podofiele”. Die “Vuis” van die afdelingtitel het uiteraard ook assosiasies met aggressie en geweld, wat in verskeie gedigte na vore kom – dikwels in die vorm van sadomasochistiese praktyke. Wanneer daar uiteindelik “huis-huis” gespeel word met ’n geliefde, neem jaloesie, verveling en ontgogeling oor, sodat die wellustige drome van vroeër vervang word met ’n vernietigingsdrang. In “Bed”, die laaste gedig in die afdeling “Vuisneste”, klink dit so:

Onder jou vlerk lê ek en broei
oor die dag wanneer ek
ons bed petrol gooi,
afbrand soos ’n wilg
van vinkneste vervuil.

Die semantiese verwantskap tussen die woorde krap en kanker speel ook ’n opmerklike rol in die tematiek van die bundel. In die aangrypende “Might he but moor tonight in me” (’n aangepaste aanhaling uit Emily Dickinson se “Wild nights – wild nights!”) weet die spreker “lank voor” die minnaar se dokter van die “kanker/ soos sagtedopmossels aan sy ballas”.

Die titel van die derde afdeling, “Rakende”, het verskeie betekenismoontlikhede. Dit kan beteken “betreffende”, “aangaande” of “met betrekking tot”; byvoorbeeld: rakende geweld kan verwys word na die kwatryn “Koolkoppe”, oor 13 verkoolde mensekoppe wat in Mexikostad gevind is. Die afdelingtitel kan terselfdertyd ook verwys na dit wat ’n mens raak en ontstel – dit wat Miller as die kanker van die samelewing voorstel. Voorbeelde is gewelddadige gebeure hier te lande en elders: die moord op Juliet Haw, ’n kopieredakteur van Hermanus; asook die gruwelike selfdood van die Tibettaanse non Qiu Xiang, waarskynlik uit protes teen onderdrukking deur die Chinese regering. Die afdelingtitel kan ook beteken “aangrensende” of “naasgeleë”. In die geval van die Siamese tweeling Chang en Eng Bunker verkry die titel ’n skrynende waarde. Ná hul dood is hul saamgegroeide lewer gepreserveer en in ’n museum in Philadelphia, Pennsilvanië uitgestal. Dit wat privaat en intiem is, word sodoende voyeuristiese geweld aangedoen. Die tradisionele tafelgebed “Vir spys en drank” word in die gelyknamige gedig tot ’n uiterste geparodieer deur ’n oordadige enumerasie van kossoorte en eetplekke, met die volgende ontstellende (selfs gewelddadige) versoek ter afsluiting:

Voer hom, Here: dié man wie se ribbebene
sedert sy diagnose maergesuig word van binne.
Stop hierdie geraamte aan tafel se smoel vol kos.
Here, druk u gavage in sy gorrel af soos ’n kruis.

Die laaste afdeling het ’n besonder veelduidige titel: “Dryf”. Dit vat die belangrikste temas in die bundel saam, maar wel op ’n minder woedende manier. Ten spyte van al die krapperighede is daar tog die wonder van “geheime kodes/ ’n dol Fibonacci” wat gestamel word (“Afasie”). In “Mondwerk” word die voorneme uitgespreek om die “vitte” (waarskynlik die kritici) behoorlik “onder ink [te] steek onder klippe” en aan te hou om in ’n eie kodetaal te “sing” – al sou dit vir ander onverstaanbaar wees. Meevoerende gedigte in hierdie afdeling is “By ’n foto van Margaret Atwood”, “Cow’s skull with calico roses” en veral “Die onpaar paar”. Oor die twee slotgedigte, “See” en “Mosambiek”, wat albei siklies aansluit by die programgedig, sê Botha in ’n onderhoud aan Louis Esterhuizen (http://versindaba.co.za/­2017/07/17/onderhoud-met-fourie-botha-krap-uit-die-see/):

Die ou idee van die ouroboros, die slangetjie wat sy eie stert sluk, was in my gedagtes toe ek dié twee gedigte gekies het om die bundel mee af te sluit. Ek wou ’n swaar, seer bundel met ’n korrel hoop eindig. Met ’n weerbegin. Dieselfde truuk as met die slotgedig in Donkerkamer. Om iets uit te krap is nie net seer nie, dit bring ook verligting.

Krap uit die see is ’n treffende bundel wat oorwegend somber en donker gedigte bevat. Die digter slaag egter daarin om ’n afstand te bewerkstellig ten opsigte van sy onderwerpe deur die gebruik van kragtige en verrassende beelde, die implementering van ’n verskeidenheid toonaarde (saaklik, sardonies of ironies) en die uitbuiting van verstegniese aspekte. Hy oorspeel nie sy hand met die simbole en intertekste nie en laat genoeg aan die verbeelding van die leser oor. Ten slotte is dit ’n bundel met die harde karapaks van ’n krap wat die intieme binneste beskerm en telkens weer hernuwe kan word.

The post <i>Krap uit die see</i> deur Fourie Botha: ’n resensie appeared first on LitNet.


Paulus deur Adrio König: ’n lesersindruk

$
0
0

Paulus: Die indringer-apostel wat die evangelie gered het
Adrio König
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM)
ISBN: 9781431615285

In sy boek Op pad skryf Dana Snyman oor sy ongewone belangstelling in ’n boek van die teoloog Ferdinand Deist, en hoe hy sy belangstelling in die boek probeer wegsteek het vir sy intellektuele vriende. So het ook ek maar my eie Deist in die vorm van Adrio König. En deurgeloop het ek al deurgeloop. Die feit dat ek raak aan enige boek van König is te veel vir sommige mense, dit het ek al agtergekom.

My belangstelling in König se boeke het begin in my studentejare, toe ek twee van sy boeke op ’n uitverkoping gekoop het. Daar is niks aan König se teologiese idees wat my interesseer nie. Ek is ’n ongelowige mens. Maar met elkeen van sy boeke wat ek gelees het, het ek veel geput uit sy insigte in die uitleg van die Bybelse tekste, en dit het my ook beter laat verstaan hoe andere dink. Daarby vind ek ook ’n sekere behae daarin om die geskiedenis van die antieke Israeliete te bestudeer, omdat dit so vol drama en menslikheid is.

König sê die skryf van sy boek oor Paulus was “een van die opwindendste tye in my hele lewe” (13). Lank voordat ek hierdie boek gelees het, het ook ek verskeie boeke oor antieke Judea gelees wat ek ook besonders opwindend gevind het. Ons is nooit geleer dat die kerk so verdeeld was nie. Ons is nooit op Sondagskool geleer van die konflikte tussen die Israeliete nie. Die ou storie wat ons geleer is, was dat die Jodedom en die Christendom geskei het omdat die Jodedom nie vir Jesus as die Messias aanvaar het nie. Maar die breuk het eintlik weinig hiermee te doen. Dit het te doen met die wette van die Tora en die besnyding. Die verhaal van die ontwikkeling van die kerk is die verhaal van ’n klomp mense se stryd rondom hulle eie en hulle medemense se identiteit, asook hoe om met hulle erfenis te versoen.

Daar was Jesus en sy volgelinge. Ongeletterde plattelanders. Wetsonderhoudende Jode. Behoudend. En dan was daar Paulus. ’n Romein en ’n stadsjapie. En hoogs geskool in vergelyking met Jesus se volgelinge. Paulus had twee name. Dit is nie waar dat sy naam verander het nie. Sy Hebreeuse naam was Saulus, en sy Roomse naam was Paulus. En uiteindelik het sy briewe, en veral sy teologiese idees, die kerk oorheers, en dit is vandag nog so. Aanvanklik vervolg Paulus natuurlik hierdie volgelinge van Jesus, maar later word hy self ’n volgeling van Jesus nadat Jesus na bewering aan hom verskyn het. Maar dit was nie die einde van die drama nie. Inteendeel. So begin Paulus toe ’n ander weergawe van die Jesus-beweging-teologie verkondig, en sy pad kruis toe natuurlik ook met dié van die eerste volgelinge van Jesus in Jerusalem. Dit was nie lank nie of die vet was in die vuur, aangesien die “Jerusalem-gemeente” nie saamgestem het met Paulus se idees nie. König beskryf dit as “twee evangelies” wat verkondig is. Aan die een kant was daar Jesus se oorspronklike volgelinge met hulle weergawe van die evangelie, en aan die ander kant Paulus en sy weergawe: “Die verskil was so radikaal dat hulle gesamentlik besluit het daar sal twee evangelies verkondig word, vir die Jode Christus én die wet, vir die heidene Christus sonder die wet” (37). Maar daar het dit ook nie gebly nie, want Paulus was oortuig dat ook die Jodedom die wet uiteindelik moes laat vaar.

Mense gebruik ongetwyfeld te maklik die word “Jode”. Dit is duidelik dat die antieke Israeliete ’n doodgewone diverse klomp mense was. Hulle het verskillend gedink oor dinge, nes elke volk en nasie voor en na hulle. Dat daar ’n nasionalisme onder hulle bestaan het, is gewis, een wat geworstel het in die skadu van die erfenis van Dawidiese koninkryke, met die Tora en die wet as kompas. Daar was in die 1ste eeu egter verskeie groepe in antieke Israel (87), elk met sy eie interpretasie. Dit is in hierdie omgewing waar die stryd vir die behoud en die opgee van die Tora-wet gewoed het.

Paulus se briewe was egter nooit bedoel om heilige tekste te word nie (90). En daarby is die briewe ook nie chronologies georganiseer in die Bybel nie – dit is eenvoudig gerangskik van die langste na die kortste (131). Dit is belangrike inligting wat elke leser van die Bybel moet weet, want Paulus se idees het ook volgens König ontwikkel soos wat die tyd aangestap het (210) – en dis minder duidelik te bespeur uit die bestaande manier waarop die briewe gerangskik is.

König se boek oor Paulus is glad nie meesleurende prosa nie. Dit is geen chronologiese narratief oor Paulus en sy lewe nie, hoewel daar wel ’n hoofstuk gewy word aan “Paulus se lewe en werk” (hoofstuk 2). Die patroon van al König se vorige boeke word in hierdie een herhaal, en dis geskryf in beredenerende styl aan die hand van die Bybelse boeke. Die krag van sy boeke lê presies daar, by sy indrukwekkende kennis van die Bybel en al die vertalings daarvan. Aan die einde van die boek verskyn daar ook ’n uitgebreide bibliografie, en dit is duidelik dat König wyd oor die onderwerp gelees het, maar dis tog jammer dat daar eintlik weinig na al hierdie werke, waaronder ’n boek van Marcus Borg, verwys word. Mens mis ook ’n deeglike ondersoek na die historikus Flavius Josefus (37–100 nC) se boeke. König beroep hom in sy ondersoek uitsluitlik op die Bybel, waarvan sy uitleg altyd prikkelend is, maar die ondersoek sou veel ryker kon gewees het deur meer ondersoek na tekste buite die Bybel, hoewel dit die lengte van die boek dalk aansienlik sou verleng het.

En daar word ook feitlik niks eintlik geskryf oor die rol van kolonialisme nie, wat ’n ernstige leemte is. Dit is ’n feit dat die Israeliete se idees nie stagneer het nie. Hulle is beïnvloed deur ander kulture. Op bl 230 skryf König dat bose magte “nie so dikwels in die Ou Testament ter sprake (is) nie. Dit is eers tussen die Ou en die Nuwe Testament dat hulle sterk na vore kom.” Is dit dan toevallig? Ek dink glad nie so nie. Dit is in hierdie tyd dat die Israeliete geheleniseerd geword het. En later ook deur die Romeine gekoloniseer was. Die kerk is juis die produk van die verspreiding van ’n weergawe van die Israelse geloof na “heidene”, maar hierdie “heidene” het op hulle beurt weer ’n invloed gehad op hoe die teologie ontwikkel het. En die nasionalisme van die Israeliete was ook altyd daar, sluimerend onder hulle, maar ’n wesenlike faktor.

In hoofstuk 12 is daar ’n interessante bespreking oor vroue in antieke Israel, en dan spesifiek Paulus se idees oor vroue en die huwelik. König probeer sy bes om die seksisme van hierdie patriargale gemeenskappe te verbloem, maar slaag nie besonders daarin nie. Elders aanvaar hy dat sekere praktyke van die vroeë kerk vandag eenvoudig geïgnoreer word, soos byvoorbeeld die verbod op die eet van bloed. Miskien moet daar ook maar aanvaar word dat daardie gemeenskappe vroue nie werklik as mans se gelykes gesien het nie. Dat daar moontlik ’n vooruitgang in Paulus se denke oor die saak was, is seker moontlik, maar dit bly maar ten beste spekulasie vir my, en grens aan ’n apologetiese uitleg.

Die skramse verwysing na die Jakobusbrief het my ook opgeval. Jakobus is een van die mees omstrede Bybelse boeke in die kerk. Martin Luther (1483–1546) was glad nie lief vir die Jakobusbrief nie, omdat dit met sy idees gebots het. In haar boek The reluctant parting skryf Julie Galambush oor die Jakobusbrief dat “James [Jakobus] unambiguously substantiates the claim that not only Jesus himself but also his followers were and continued to be Jews.”1

Met hierdie boek oor Paulus het König ’n belangrike publikasie in Afrikaans die lig laat sien oor ’n onderwerp waarvan baie mense hopeloos te min weet, en hoewel ek nie met baie van sy idees saamstem nie, het ek dit weer eens verrykend gevind om te lees wat hy alles oor Paulus se twis met die vroeë kerk te sê het. Dit is interessant om gereeld sy kommentaar te sien op die vertalings van die Bybel, waaroor hy soms skerp kritiek lewer. Vir my woed daar egter steeds die diskrepansie tussen die historiese Jesus en sy volgelinge aan die een kant, en die beeld van hulle wat later deur die kerk ontwikkel is. Maar vir König is die saak veel meer eenvoudig. Volgens König verstaan Paulus “die evangelie beter as Jesus se eie dissipels” (374), en sou die kerk nooit ontwikkel het sonder Paulus nie. Die Jesus-beweging sou ’n klein Joodse beweging gebly het. Met laasgenoemde gaan ek akkoord, maar eersgenoemde laat my koud.

1 J Galambush, The reluctant parting: How the New Testament’s Jewish writers created a Christian book. Harper Collins, 2005, New York, bl 244.

The post <i>Paulus</i> deur Adrio König: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.

1795 deur Dan Sleigh: ’n lesersindruk

$
0
0

1795
Dan Sleigh
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624073307

Moenie nalaat om Dan Sleigh se 1795 (weer) te lees nie. Veral as jy, soos ek, nie eintlik geweet het wat in daardie beslissende jaar gebeur het nie. Dit was my lekkerste leeservaring van die afgelope jaar, ’n boek om lank te onthou en een wat gelei het tot interessante gesprekke oor dekolonisering, kapitalisme, megamaatskappye, korrupsie en wat ’n goeie mens nou eintlik is.

Sleigh vertel op pakkende wyse hoe die Britte as’t ware die Kaap bekruip, die goedgelowigheid en gelatenheid van die Kapenaars uitbuit en met die slinkse kolonel Robert Gordon en lamsakkige goewerneur Abraham Sluysken konkel met die gevolg dat die Kaap vir die eerste maal in Engelse hande beland. Deurgaans bly mens vol hoop dat die aanval afgeweer kan word, want ons het gebiedsvoordeel en die burgers is begeesterd. Maar daar is iets onheilspellends, amper fiktief, aan die manier waarop elke goeie plan in die wiele gery word tot daardie ondenkbare, skandalige oorgawe by die kasteel op 16 September 1795. Dit het my telkens met ’n gevoel van verlamming gelaat.

In die hande van ’n meester van historiese fiksie word so ’n dramatiese stuk geskiedenis omgetower tot iets wat eenmaal met regte mense gebeur het. Historiese en fiktiewe karakters word mense wat regte lewens op herkenbare plekke lei, want, soos ons, wil die skrywer weet hoe hulle dit beleef het, wat hulle gevoel en gedink het.

Dus is dit eintlik die storie van alle Kapenaars en in besonder dié van William van Oudshoorn, die redelik onbekende seun van baron Pieter van Reede van Oudshoorn wat bestem was om goewerneur te word, maar wat tragies aan rotkoors gesterf het op pad Kaap toe. William is die laaste goeie man van die oorspronklike titel. Hy is ’n gesiene lid van die Politieke Raad en administrateur van die Kompanjie se graanvoorrade; welgesteld, wellewend, ingelig en in voeling met die buitewêreld, maar ken ook die vryburgers en het simpatie met hulle probleme. Hy is ’n regte vaderlander wat groot ideale koester vir sy dorp en land om op die patroon van Amerika te ontwikkel. Oor die verloop van die storie doen hy alles in sy vermoë om die Britse inval te stuit en weier uiteindelik om die eed van trou af te lê.

Will is ’n magneet vir ander patriotte en eerbare mense soos Louis Thibault, die bekende argitek, Anton Anreith, die beeldhouer, en die Van Reenens van die plaas Ganze Craal. En natuurlik Francine-Marie de Remony, die Franse weduwee op wie hy verlief raak. Sy is ietwat te goed om waar te wees: slim, wel-opgevoed, stylvol en gekultiveerd, maar ook vrolik en gesellig, bekend met ou beskawings en nuwe vryheidsideale. Kortom, ’n vars bries te midde van die opgesmukte Kaapse vrouens. Met groot vernuf word hierdie liefdesverhaal met die bekende geskiedenis gekoeksister. Die afloop is ewe dramaties en tragies, want naas die goed/kwaad-tema is dit ’n boek oor verlies: van liefde en geliefdes, van ’n land, van ideale en moontlikhede, van vryheid en menswaardigheid, van eer en respek, van taal en kultuur.

My geliefkoosde karakter is Louis Thibault. Met sy vurige geaardheid en afkeer van misplaaste grootdoenerigheid is hy William en Francine se bondgenoot. Ek het veral gehou van die episode waar hy en Vogler die klavier in William se huis stem (385–6). Hy sit die bladmusiek triomfantelik voor Francine neer met ’n “Voilà” en verwag dan dat sy Mozart se klavierkonsert nr 25 sommer net so moet speel. Wanneer William daarna kyk en luister hoe sy die wysie neurie, herinner dit hom aan “’n wolk swart spreeus oor ’n koringland in die Koeberg een hete somermiddag, die duisende voëls wat saambondel, styg, golf, daal, swiep, swaai, swenk asof deur ’n hemelse hand gedirigeer”. Luister na die musiek:

Sleigh het meermale gesê dat dit sy laaste boek is. Hy stel dus al sy bekende talente ten toon, amper asof hy ons vir oulaas wil bekoor en iets wil doen aan verdomming, wat hom so dwars in die krop steek. Naas die geskiedenis van die VOC-tydperk is sy vertelling deurspek met die besonderhede van die Kaapse leefwyse en die skeepvaart, wat my laat voel het of ek self daar was. Hy skilder wonderlike woordprente. Wanneer William die Britse oorlogskepe vir die eerste maal sien, lyk hulle vir hom soos “drywende katedrale met hulle rooi-wit-en-blou vlae op toringhoë maste” wat hom herinner aan hoe luitenant Veegezak die Politieke Raad daarvan vertel het. “Ek praat van die aandson op die seile. Bloedrooi teen die berg anderkant die baai. Wat ’n gesig, sê ek vir die seun.” Daar is ook die menigte feite oor taal, kultuur en natuur wat terloops ingewerk word (hoewel ek saamstem met Micky Badenhorst dat dit vir party lesers net te veel is). ’n Mens lees van plekname en woorde wat in onbruik geraak het en ander waarvan die herkoms verduidelik word. Lees byvoorbeeld op bl 17 waar die word babelas vandaan kom en eina op bl 151. Ganze Craal, Gantouw, Groene Cloof, Keert de Koe is van hierdie mooi ou name. Gelukkig het Poespaskraal, vandag bekend as Sunnydale Farm, nie heeltemal verdwyn nie. Iemand behoort eintlik ’n Googlekaart te maak wat aandui waar hierdie plekke is.

Historici word soms warm onder die kraag oor sg feitefoute en verkeerde interpretasies van die geskiedenis in historiese romans. Dan vergeet hulle dat wat ons nou terugskouend as die geskiedenis ken, saamgestel uit ’n verskeidenheid bronne, op daardie stadium die karakters se belewenis was, vanselfsprekend eensydig en onvoltooid. Maar dit kan ook tot interessante gesprekke lei. Sommiges voel dat Robert Gordon nie so ’n skurk was nie, dalk eerder ’n tragiese figuur, ’n slagoffer van omstandighede. Wat dan van sy ontdekkingsreise waarvoor hy in Europa geëer is, en was die oorname nou so ’n ramp, gesien die feit dat die VOC besig was om te Vergaan Onder Corruptie. Hy kon San, Koi en Xhosa praat en het goed met inheemse mense klaargekom. Die mening is bevestig deur die groot Goede Hoop. Zuid-Afrika en Nederland vanaf 1600-uitstalling vroeër vanjaar by die Ryksmuseum in Amsterdam met Gordon se groot kaart as middelpunt. Maar vir die Kapenaars was hy die een wat die Kaapse lewe verpes het en op hulle neergesien het. Uiteindelik die verraaier – dis hoe hulle hom geken het.

Dis ’n leesavontuur en nog meer

Ek hou van boeke wat my prikkel om ander boeke te lees, om na musiek te luister, om kunswerke te bekyk en plekke te besoek wat in die teks genoem word en wat my nuuskierig maak. 1795 is so ’n boek.

Vanselfsprekend wil ’n mens weer Eilande lees om ’n gevoel te kry vir waar alles begin het. As jy meer wil weet van die VOC – en die stamina het – is Karel Schoeman se Swanesang insiggewend. So ook Die VOC aan die Kaap en Luc Panhuysen se Ontdekkingsreisiger of soldaat wat ’n meer genuanseerde beeld van Robert Gordon gee.

’n Mens lees so ’n boek met die internet byderhand, want daar is baie waarvan jy meer wil weet. Daar is wonderlike kaarte en tekeninge wat jou herinner dat dit ’n manier was om mag en besit te bevestig. By http://www.tanap.net/content/activities/documents/resolutions_Cape_of_Good_Hope/index.htm is drie van my gunstelinge: ’n stadskaart wat selfs aandui wie waar gewoon het, een wat ook die tuine aanwys en ’n kaart wat byna die hele wêreld van die storie insluit.

Die Stadskaart wat aandui wie waar gewoon het

Dan is daar is ook die wonderbaarlike Gordon-webwerf, waar ’n mens sy joernale, tekeninge (sommige deur ander kunstenaars) en sy groot kaart kan sien (https://www.robertjacobgordon.nl). Ook prente soos van die kameelperd (Toeka in Moetjoänaas) en baie van plante- en dierelewe soos ’n verleë luipaart en die halfmens.

Baie mense wonder oor William, wie hy was en wat van hom geword het. By https://www.wikitree.com/wiki/Van_Rheede_van_Oudshoorn-2 en http://databases.tanap.net/mooc/main_article.cfm?id=MOOC8/37.51 kan jy sien dat Neeltje nie bestaan het nie, dat hy en Geesje waarskynlik nie van tafel en bed geskei was nie en dat hy 40 slawe in sy besit gehad het toe hy in sy eie huis oorlede is.

Plekke kry nuwe betekenis

Wees verseker dat jy met nuwe oë na bekende plekke in en om die Kaap gaan kyk, soos:

  • Die kasteel waar baie van die dramatiese gebeure afspeel.
  • Die Chavonnes Battery Museum in die Waterfront, waarvan my kleindogter my vertel het.

  • Op die kusroete van Muizenberg na Simonstad ry jy verby die Muysenburg Posthuys waar William, Louis en Jan op hulle verkenningstog aandoen (159). Daar bo in die rante, onthou jy, het die pandoers vir die Britse soldate lê en wag, en wanneer jy die laaste draai vat voor Vishoek, wonder jy hoe die Britse soldate daar verbygekom het.
  • Die gebou van die Hugenote Museum in Franschhoek was oorspronklik William se huis, Saasveld, wat in 1957 hier herbou is. Lees die interessante storie by http://www.hugenoot.org.za/huge3.htm. Die grafkelder waarin William homself afgesonder het, staan vandag op die terrein van die Monte Rosa-aftreeoord in Faurestraat.

Foto: Adri Alb, Wikimedia Commons

Foto: Dolores Coullie, Wikimedia Commons

As jy van ’n goeie storie hou en as die geskiedenis steeds met jou praat, is dit ’n boek om nie mis te loop nie.

The post <i>1795</i> deur Dan Sleigh: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.

Nou, hier deur Corné Coetzee: ’n resensie deur Heilna du Plooy

$
0
0

Nou, hier
Corné Coetzee
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798176200

Die bundel Nou, hier is Corné Coetzee se debuut as digter. Die bundel as geheel, die fisiese voorkoms, die ordening in afdelings en die temas wat in die gedigte ter sprake kom, vertoon ’n duidelike samehang. Die eerste betekenis van die titel van die bundel, naamlik die verankering in die hede en ’n spesifieke plek, word ondersteun deur die afbeelding van ’n ry huise op die buiteblad. Dit is gewone huise wat die bestaan van gewone mense in vooruitsig stel. Maar ’n baie groot deel van die afbeelding bestaan uit blou lug wat dadelik suggereer dat hierdie huise nie beklemmend of afgeslote is nie. Die motto voorin die bundel lui verder soos volg: “Wees gegroet, skone oggend, wat soos ’n vlam oor die aarde val”. Dit kom uit ’n Middeleeuse Ierse gedig soos vertaal deur Karel Schoeman, naamlik “Die oggendgesang van St. Ceallach”. Die motto verwys na die vroeë dag soos dit elke dag aanbreek – dus die doodgewone elke dag se begin, maar gesien op ’n uitsonderlike manier: in die alledaagsheid, in die herhaling, is daar nogtans vir ’n bepaalde waarnemer ’n jubeling opgeslote.

Wanneer mens dan die gedigte begin lees, kom verdere verbande na vore. Die gedigte het telkens ’n ek-spreker, of daar is sprake van ons, en daar is dikwels ’n jy of julle wat aangespreek word of waaroor geskryf word. Die afdelingstitels bevestig ook die sentrale tematiek: “Nymphaea gloriosa” (waterlelie wat ’n verband met ’n tuin lê); “die vreemdeling in ons arms” (oor kinders en geliefdes); “oos, wes” (wat met reis en tuiste te make het) en so gaan dit aan rondom die tema van belewenis as werklikheid. Daar is dus ’n duidelike samehang in aanbieding en materiaal en die betekenis van die stof wat hanteer word.

Nou is dit sekerlik waar dat samehang nie as ’n maatstaf vir letterkunde of die poësie beskou sou word in die postmodernistiese denkpatrone van die afgelope dekades nie, maar in die meta-modernistiese of post-postmodernistiese denke wat tans al hoe duideliker na vore kom, is daar juis ’n verskuiwing na ander en vreemd genoeg gemakliker en dus oper vertrekpunte waarmee daar na die poësie gekyk kan word. Binne hierdie raamwerk van denke pas Coetzee se bundel gemaklik in. Die onpretensieuse maar sterk gerigtheid op wat menslik relevant is – die mens gebonde aan tyd en plek, aan omstandighede en die mense rondom die enkeling en die skerp visie op hierdie onmiddellike omgewing en omstandighede – wat sowel krities as empaties en sensitief is, toon myns insiens in die eerste plek dat die digter op ’n volgehoue wyse haar materiaal deurdink het totdat daar ’n bepaalde rypwording plaasgevind het en samehangende kwessies na vore gekom het, en in die tweede plek dat die bundel in die deurlopende fokus op verhoudinge aansluit by die kontemporêre bewustheid van relasionaliteit in die literatuur.

Die gedigte handel oor die gewone bestanddele van ’n mens se lewe, oor die huis waarin iemand woon as koestering én as troosteloosheid, oor geliefdes en kinders en ouers – afskeid van ouers, uitstuur van kinders – met al die ekstases en ontnugteringe wat sulke verhoudinge kenmerk, oor die diere en goggas (blattodea sluit kakkerlakke en termiete in – vgl p 88) wat werklik en metafories die tuin betrek, selfs oor die mense wat mors (waarteen Gaia dreig om op te staan – vgl p 90), oor stede en strate, oor binne- en buiteruimtes. En alles draai om die verhoudinge tussen enkelinge en dinge rondom hulle, en die verhoudinge tussen enkelinge en tussen alle dinge onderling. En soos die groot stuk lug op die buiteblad, oorstyg die gedigte dan ook telkens die beperkinge van die plaaslike en onmiddellike omgewing.

Die spreker in die bundel is dikwels in gesprek met ’n “jy”. Soms is “jy” ’n deelgenoot, iemand in dieselfde posisie of omstandighede, “’n mens”, ’n “jy” soos in “Maak jy magic of speel jy net” (p 10) waarin verskillende troostelose scenario’s beskryf word waarin ’n vrou haar dae kan slyt. Maar die “jy” is dikwels ’n geliefde in baie mooi liefdesgedigte, soos in “atoomkunde” (p 11) (“maar jy is ’n kraan/ in ’n bekwame munisipaliteit/ jy maak my leegtes boordensvol/ dié dat ek lammerig en simpel/ sit en smile vandag”) of “Een nag” (p13) of “Onthou” (p 15) waar die spreker onthou hoe sy in ’n soel somernag haar “oë toemaak/ teen die blou van jou oë/ om te keer/ dat ’n wilde oseaan/ met g’n agting vir huis of heining of bloudruk/ my goedsmoeds verdrink”.

Wat my boei is dat die beskrywings in die gedigte oorkom asof dit self-beleef is en tog voeg die digter agterin die bundel ’n nota in wat ontken dat die gedigte outobiografies of biografies is. Miskien kan mens die aard van baie van die gedigte probeer benader deur die verhouding tussen die teks en die referensiële werklikheid te kwalifiseer: die belewenisse sou outobiografies/biografies kon wees soos fiksie “waarder as die waarheid” kan wees: die gedigte gaan oor universele sake maar word relevant juis op grond van die unieke blik van die een wat die ervaring beskryf. Soos die spesifieke wyer getrek word, word die algemene telkens gekwalifiseer deur iets individueel, wat nie net die unieke blik behels nie, maar ook ’n nugter-ironiese kwalifikasie, ’n bewustheid van die kraak in alle verhoudinge en belewenisse. Die gedig “kombuis (p 29) beskryf hoe die vrou “werk en bak en brou” maar uiteindelik besef ”Die krane drup so droef./ Alles is skoon, die werk gedaan./ Die hele besigheid verkeerd verstaan.” Selfs in ’n liriese liefdesgedig wat beskryf hoe die geliefdes mekaar se holtes ken (p 21) eindig die gedig met die suggestie dat dieselfde kennis van mekaar ook die moontlikheid inhou om mekaar op die dodelikste manier te tref. Die bewustheid van die gebrokenheid van alle ervarings, maak die mens eintlik ook selfs onbedag op geluk. In die gedig “Een nag” (p 13) word ’n wonderlike liefdesnag beskryf: “die ekstase soos springende vlamme/ die pyl wat swiep tot in die blonde son/ beaam/ en met mekaar se tonge gefluister:/ Jy. Net jy. Ewig.”  Maar die volgende oggend “het al twee geskrik/ en onderskeidelik tranerig en verbouereerd/ begin rusie maak.”

Die spreker in die gedigte, wat meestal duidelik vroulik is, gee nêrens haar individualiteit of outonome denke prys nie en sien rondom ’n bepaalde fokus, weldeeglik ’n wyer beeld. Dit maak die gedigte psigologies oortuigend. Wat Friedman (1998:76) skryf van outobiografieë van vroue (al is die gedigte juis nie streng outobiografies/biografies nie) het my bygebly by die lees van die bundel, veral as mens die klem plaas op die gedig as iets wat geskryf is eerder as op die referensiële aanleiding tot die gedig:

In taking the power of words, of representation, into their own hands, women project onto history an identity that is not purely individualistic. Nor is it purely collective. Instead, this new identity merges the shared and the unique. In autobiography, specifically, the self created in a woman’s text is often not a “teleological entity”, an “isolated being” utterly separate from all others, as Gusdorf and Olney define the autobiographical self. Nor is the self a false image of alienation, an empty play of words on the page disconnected from the realm of referentiality, as a Lacanian and post-structuralist critic of autobiography might say. Instead, the self constructed in women’s autobiographical writing is often based in, but not limited to, a group consciousness – an awareness of the meaning of the cultural category WOMEN for the patterns of women’s individual destiny. Alienation is not the result of creating a self in language, as it is for Lacanian and Barthesian critics of autobiography. Instead, alienation from the historically imposed image of the self is what motivates the writing, the creation of an alternate self in the autobiographical act.

Hierdie bundel is ook nie vir my feministies nie, maar beskryf tog vroulike situasies vanuit ’n vroulike hoek. Dit geskied egter met balans en soms tong in die kies en met ’n rypheid van denke waarin vir my ’n groot wins lê. Die “self”-bewussyn is nie ’n negatiewe uitsluitende bewussyn nie, maar juis relasioneel en inklusief, in menseverhoudinge sowel as wat die omwêreld betref. In die gedig “kliprivier” word ’n rusie in terme van ’n rivier in vloed beskryf en dan sluit die gedig só af: “en toe die gemaal my velle begin stroop/ kyk ek jou weer aan/ en sien jy bloei” (p 33). In “Aard” (p 45) weet die spreker hoe die geliefde ly aan ’n “geknelde albatrosvlerk”, maar “[d]eesdae let ek teen laatwinter op/ hoe jy soms jou kop skeefdraai,/ asof jy luister.” Die ek-spreker in die gedigte is dus nie verleë of geïntimideer deur die aanwesigheid en selfs die noue nabyheid van die A/ander nie, sy kan haarself en die ander in verhouding tot mekaar beskryf en daardie verhouding ook relativeer. Net so is die spreker in die gedig “Staangemaak” (p 60) sterk bewus daarvan dat die gewone tekens van lewe wat waargeneem word tydens ’n straatwandeling, “staangemaak” is “op die rûe van die skares ongeteldes,/ dié sonder straat of lig of wandeling/ of ledige uur.”

Die laaste afdeling in die bundel is getiteld “Die leemte in die kern” en die vermoede en gesuggereerde leemtes waarna in soveel voorafgaande gedigte verwys is, word hier direk aangetoon soos beleef deur Siddharta. Die afdeling begin met ’n meer algemene vers oor die eksistensiële bestaan, die absolute dáár wees van kersietamaties en twee wit hoenders in ’n tuin soos gesien deur die vierkant van die agterdeur. Daarna volg die verse oor Siddharta: eers soos gesien deur sy ma, dan vanuit sy eie oogpunt en daarna sy pa se belewenis van sy seun. Dan volg die gedig “Nou, hier” waarin beskryf word hoe Gautama as jong mens deur baie drade gebind, begin losraak het deur sy ervaring van smart en swaarkry: toe “hy agterkom hoe wyd is verdriet/ wou hy vlug uit die alewige wederkeer/ en oplos in tydlose lig” (p 98). Maar toe hy wou losglip, het “die aarde … sag geroer” en sy antwoord op die roep is om ’n bakkie rys nou en hier te eet. In die volgende gedigte word die “leemte in die kern” verder uitgewerk, onder meer in “Kokon” (p 101) en “Trilling” (p 103) waarin tyd ’n oomblik huiwer “en die wonderbaarlike rangskikking/ van koppie, boek en hande wat vashou/ heerlik/ laat skyn”. Die leemte in die kern is dus allesbehalwe leeg, maar ’n juis vrugbare leemte om gevul te word, beleef te word, telkens opnuut. Die boeddhistiese siening van Siddharta Buddha, om in die oomblik en ín ’n bepaalde werklikheid ín te leef, word veralgemeen en veral in die slotgedig “Doekvoet” (p 105-107) word daar eintlik ’n lofsang op die aarde geskryf: vir die een wat “lank genoeg stilsit, doodstil, klipstil” en stom word, sal tyd sy hek oopmaak.

Jy sal die goue kleed van die aarde sien
en weet die bewoners besit haar nie.
Sy bring haar kinders voort,
sy laat hulle gaan …

Die slotsom is:

Jou groet is geen afskeid nie
maar omhelsing, kén.

Nou, hier is ’n stewige bundel, netjies uitgegee deur Human & Rousseau. Vir my ontwikkel hierdie eenvoudige vloeiende verse met goeie ritmiese gang, ’n merkwaardige diepgang op verskillende maniere. Ek hoop dat baie ander lesers dit ook so sal ervaar.

Bibliografie

Friedman, SS 1998. Women’s Autobiographical Selves: Theory and Practice. (In SMITH, S & WATSON, J, eds 1998. Women, Autobiography, Theory: A Reader. Wisconsin: The University of Wisconsin Press. p 72-82)

Foto van Corné Coetzee: Naomi Bruwer

The post <i>Nou, hier</i> deur Corné Coetzee: ’n resensie deur Heilna du Plooy appeared first on LitNet.

Die boosaardige broers Botha deur Adeline Radloff: ’n boekresensie

$
0
0

Titel: Die boosaardige broers Botha
Skrywer: Adeline Radloff
Illustreerder: Alex van Houwelingen
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624081883

’n Lekker Afrikaanse boek vir 'n Suid-Afrikaanse konteks. Hier het ons te doen met ’n boek vir ’n multi-kulturele en diverse Suid-Afrika.

Die verhaal is kort, maar is steeds van gepaste lengte vir die ouderdomsgroep ses tot nege jaar, soos aanbeveel deur die uitgewer. Dit is ideaal vir beginner-lesers asook vir voorlees vir die jongspan. Die illustrasies is van hoogstaande gehalte. Die waterverf-medium werk baie goed saam met die teks. Die illustrasies wat geïntegreer is met die teks as geheel maak dit interaktief genoeg vir die jonger lesers en storie-luisteraars. Tog is daar genoeg teks vir dié wat self wil lees om die storie te geniet sowel as om hul leesvaardighede te verbeter.

Hierdie spesifieke teks bring ’n belangrike gesprek na die tafel, te wete of kinders hierdie boek sal lees en hoe die mark lyk vir sulke boeke.

Daar is ’n tekort aan boeke wat die diversiteit van die Suid-Afrikaanse samelewing aanspreek en op verteerbare manier aan kinders voorstel. Terselfdertyd moet dit nie deur politieke korrektheid oorheers en in kinders se kele afgedruk word nie – hierdie boek hanteer Suid-Afrika se multikulturele identiteit op ’n geïntegreerde manier, sonder om politieke argumente op die voorgrond te plaas.

Edward en Ngwaru (2010) se verslag omtrent die publikasie en gebruik van Afrika-tale vir kinderliteratuurtekste wys op verskeie interessante tendense.

Volgens hulle verslag, inaggenome dat hul data tussen 2007 en 2009 ingesamel is, is daar hoofsaaklik een klagte vanaf uitgewers van Afrikataalboeke: “Publishers complain that booksellers do not stock African language books and booksellers counter that this is because they do not sell” (Edward & Ngwaru, 2010: iv).

Tesame met hierdie klagte meld die verslag ook dat “Africans dó read when the content is affordable, accessible and of interest” (Edward & Ngwaru, 2010: v). Hier dink ek oorbrug Die boosaardige broers Botha (2017) hierdie gaping tot ’n mate, omdat dit nie in ’n Afrika-taal geskryf is nie, maar steeds die multikulturele aard van die hedendaagse Suid-Afrikaanse samelewing voorstel.

Ter verduideliking en om nie te veel van die storie weg te gee nie: Bulelani is die jongste Botha-boetie. Sy drie veel ouer broers Breker, Brom en Buskruit Botha is baie anders as hy. Hulle verteenwoordig die tradisionele manlike stereotipes. Bulelani is aangeneem deur die Bothas nadat sy gesin verongeluk het. Hy is deel van wat sommiges ’n gemengde gesin sal noem.

Aanvanklik lyk dit of die broers glad nie goed oor die weg kom nie; hulle raas en skel op Bulelani en hy probeer hulle met allerhande planne terugkry en hul ’n les leer. Later in die verhaal kom dit aan die lig dat Bulelani by die skool geboelie word. Wanneer die ouer broers daarvan uitvind, besluit hulle om vir Bulelani te help. ’n Tipiese net-familie-mag-mekaar-terg verhaal.

Die verhaal maak breedvoerig gebruik van die parodie asook die literêre tradisie van die satire wat dateer uit die antieke Griekse en Romeinse literatuur. Dit word gebruik om ernstige dinge soos tradisies en stereotipes op te stuur, sonder om afbreuk te maak daaraan. Alhoewel die spot met hierdie stereotipes gedryf word, is dit gewoonlik ter wille van ’n goeie uitkoms.

Die satire is ’n literêre kunsvorm wat dateer uit die Latynse en Griekse poësie. Die etimologiese agtergrond verskaf ’n goeie omskrywing oor dit wat Die boosaardige broers Botha (2017) is – ’n satire wat die parodie suksesvol ontgin.

“Satura” en later “Satira” (Latyn) beteken “’n bonte mengelmoes, ’n deurmekaarspul” (Pretorius 2013). In dié Latynse poëtiese vorm word menslike swakhede en wanpraktyke in ’n gemeenskap uitgewys en die spot daarmee gedryf (Pretorius 2013).

Lucilius word as die pionier-digter van die satire beskou (Pretorius 2013), alhoewel die satire soos dit vandag gebruik word, na die Latynse digters Horatius en Juvenalis se werk verwys.

In die geval van Die Boosaardige broers Botha (2017) is Horatius se tipe satire toepaslik. Horatius is optimisties en hy het geglo die mens is nie van nature boosaardige nie, maar dat hul tekortkominge genees kan word (Pretorius 2013). Hy benut eerder humor as sarkasme wat Juvenalis se voorkeur tegniek is (Ackerman 2010:6–7). Hy lag saam met dié wat hy spot en hy rig sy satire op stereotipes eerder as herkenbare individue. Hy wil sy gehoor oorreed om hul swakhede te oorkom. Sy lag is vriendelik en nie veroordelend nie.

Laastens kan ’n satire in hoofsaaklik drie vorme voorkom. Eerstens as ’n monoloog waar “Doemanie” deur Adam Small ’n relevante voorbeeld uit die digkuns is. Tweedens kan ’n parodie by uitstek ’n goeie satire skep; DJ Opperman se parodie “Met Apologie” illustreer dit duidelik. Derdens kan ’n satire ook in ’n verhalende of dramatiese vorm voorkom. Magersfontein, O Magersfontein (1976) deur Etienne Leroux is ’n voorbeeld van ’n satire in verhalende vorm.

Die boosaardige broers Botha (2017) val tussen ’n parodie en verhalende satire. Dit is opmerklik ’n verhaal. Die satire sal nie suksesvol wees indien die hele verhaal nie gelees word nie. Tog parodieer die verhaal verskeie stereotipes in die Suid-Afrikaanse samelewing. Ons het die drie broers wat die tradisionele manlike kwaliteite van jag, fisieke krag en uithouvermoë voorhou. Hulle stel die stereotipes daar, maar teen die einde van die verhaal word die einste stereotipes op hul kop gedraai.

Die boek verras die leser op ’n ongewone manier deurdat Bulelani se broers hom boelie, maar die hele verhaal verander van perspektief met die laaste tien bladsye. Dit is juis dit wat van hierdie kinderboek ’n suksesvolle teks maak. Dit laat die leser aanvanklik ongemaklik voel totdat die perspektief op die gebeure in die verhaal verander word.

Hierdie teks is besonders en is ’n waardevolle bydrae tot die Afrikaanse kinderliteratuurkorps.

Bibliografie:

Ackerman, M.F. 2010. Satire, spraakvryheid, sensuur en siviele aanspreeklikheid – Portretjie en ander verhale. MA-verhandeling. Universiteit van Pretoria. https://repository.up.ac.za/bitstream/handle/2263/26105/dissertation.pdf?sequence=1 (3 Desember 2017 geraadpleeg)

Edwards, V. & Ngwaru, J.M. 2010. African Language Publishing for Children: Where next? University of Reading: National Centre for Language and Literacy, VK. http://www.praesa.org.za/files/2012/06/Africanlanguage-Publishing-where-next.pdf (14 Junie 2016 geraadpleeg)

Pretorius, R. 2013. Satire. http://www.literaryterminology.com/index.php/lemmas/25-s/320-satire1 (3 Desember 2017 geraadpleeg)

The post <em>Die boosaardige broers Botha</em> deur Adeline Radloff: ’n boekresensie appeared first on LitNet.

Oor berge en dale deur Jackie Grobler: ’n resensie

$
0
0

Oor berge en dale. Op reis met ’n monumentjagter
Jackie Grobler
Jonathan Ball
ISBN: 9781868427826

Weet jy waar lê Sarie Maré begrawe? Of Prins Napoléon Bonaparte? En wie was Aia Jana en Stanza Bopape werklik? En waarom is hulle van belang? Het jy verder geweet dat die Boeregeneraal Christiaan de Wet, die latere Indiese politieke leier Mahatma Gandhi en Nelson Mandela almal in die Ou Fort in Johannesburg aangehou is?

Man, ek hou van reis. En van die geskiedenis. Oor berge en dale is ʼn deeglike oorskou van Suid-Afrika se geskiedkundige monumente en terselftertyd ʼn storiereis deur ons land se onstuimige eeue heen. Want daar is min monumente wat vir vrede opgerig is.

Ek stel veral belang in die verhale wat aanleiding gegee het tot ʼn stukkie geskiedenis wat dan verenig word in die granietblok wat ons daaraan moet herinner. Én hierin lê die waarde van die boek vir my.

Die meeste monumente is opgerig ter nagedagtenis aan individue, groepe of gebeure tydens die Anglo-Boereoorlog en die Struggle-jare, maar daar is nog baie ander wat ander tye van ons geskiedenis dek. Die verhale is meestal aangrypend soos jy kan verwag wanneer ʼn monument daarvoor opgerig is. Ons geskiedenis is ryk aan hierdie monumente. So staan daar byvoorbeeld in die dorpspark van Cradock ʼn Groot Trek-eeufeesmonument en ʼn Struggle-monument naby mekaar. En dit is goed só.

Ek het self ʼn paar dinge geleer of weer onthou, soos dat die Portugese reeds op 3 Februarie 1488 op die strand van vandag se Mosselbaai vir die eerste keer voet aan wal gesit het. Dit was ʼn hele eenhonderd vier en sestig jaar voor ene Jan van Riebeeck sy verskyning gemaak het. Die horlosie het tydens die jare van ontdekking stadig gedraai. Die Portugese seevaarders het ook name aan ons kuslys gekoppel wat ons vandag nog gebruik, soos Kaap Agulhas.

Ons land se storiereis bestaan ook uit die verhaal van 63 000 slawe, wat tussen 1658 en 1808 na die Kaap gebring is van Maleisië, Indonesië, Indië, Sri Lanka, Madagaskar, Mosambiek en Angola. Hulle word wel by die Slawelosie-museum in Kaapstad gedenk. Ongelukkig is daar nie soveel gedenkplekke vir die San en Khoi-Khoi as eerste inwoners van Suid-Afrika nie. Hulle het self hiervoor vergoed deur hulle verhaal met rotstekeninge deur die ganse suidelike Afrika te vertel. Grobler dek dit nie in hierdie publikasie nie. Een amptelike monument vir die San en Khoi-Khoi is die Volksmoordmonument (1702 – 1809) buite Graaff-Reinet.

Die vraag bestaan tog seker of die monumente nog bestaansreg het. Grobler is telkens verbaas oor die skending van nasionale monumente. Ook dat hy en sy vrou telkemale die enigste besoekers aan die monumente is. Sommige monumente is moeilik om te vind en ander is afgeskeep deur die owerhede. Volgens my moet ons meer moeite doen om sulke terreine te besoek en die bestaan van monumente, en ons geskiedenis, te verseker.

Grobler verdien vermelding vir die feit dat hy so groot deel van sy lewe gebruik om die land se monumente te gaan soek en te dokumenteer. Dit is tog snaaks dat daar nie ’n nasionale register hiervoor is nie.

Sy vertelling van Soweto en die monumente wat hier gevind kan word, het my geïnspireer om my internasionale toeriste volgende keer op ʼn veel langer en in-diepte-ontdekking van Soweto en sy herdenkingsplekke te neem. Ek is selfs lus om die Boeregeneraal Koos de la Rey se grafsteen in die begraafplaas by Lichtenburg te gaan soek.

Die monumente word volgens provinsie ingedeel. Aan die einde van die boek is ’n lys van GPS-koördinate. Daar is ook ʼn indeks met die herdenkingsplekke volgens provinsies en dorpe of stede asook ʼn alfabetiese indeks. Ek sou graag die aanwysings wat in die teks aangedui word as ʼn aparte lys wou hê sodat mens die geskiedenisverhaal op sy eie kon lees. Die vertelling kom soms saai voor, maar meestal het Grobler hier ʼn boeiende verhaal uit niks geskep.

Hierdie boek hoort in die voertuig wanneer die gesin dié Kersfees die lang pad vat Stilbaai toe. Stop gerus by een van ons land se geskiedkundige plekke en waardeer die lang reis wat ons saam afgelê het.

The post <em>Oor berge en dale</em> deur Jackie Grobler: ’n resensie appeared first on LitNet.

Shéri – Nes ek is deur Shéri Brynard en Colleen Naudé: ’n lesersindruk

$
0
0

Shéri – Nes ek is
Shéri Brynard
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796320308

Baie Suid-Afrikaners is bewus van Shéri Brynard, die vrou met Downsindroom van Bloemfontein wat ’n naskoolse kwalifikasie behaal het, wat ’n onderwysassistent is – die enigste persoon met Downsindroom wat dit ooit bereik het. Des te meer is jy van Brynard bewus as jy self eenmaal ’n Bloemfonteiner was en ook self ’n toespraak van haar by jou eie gradeplegtigheid gehoor het. O ja, sy is natuurlik ook ’n motiveringspreker en het ’n hele rits ander prestasies agter haar naam, onder meer Bloemfonteiner van die Jaar en Vrou van die Jaar, om maar enkeles uit te sonder. Haar CV is 70 maal 7 keer langer as myne. Die belangrikste item daarop is vir my die feit dat sy die internasionale ambassadeur van mense met Downsindroom is. Sy het die taak om alle persone met Downsindroom op aarde se belange te bevorder, maar in die proses is sy ook gemoeid met die motiveringsvlakke van die res van ons.

Maar daar is natuurlik veel, veel meer aan Brynard. Sy is ook ’n aktrise, iets waarvan ek onbewus was, omdat dit vir my niks minder as ’n straf sal wees om sepies op televisie te kyk na ’n harde dag op kantoor nie. Maar nie net is sy ’n TV-ster nie, sy het ook sukses behaal met verhoogproduksies. En nou is sy ook ’n skrywer van ’n boek oor haar eie lewe, wat veel meer besonderhede verskaf oor die omvang van haar werk en die lewe met Downsindroom.

Dit is ’n boek wat my baie geleer het. Natuurlik was ek nog altyd bewus van Downsindroom. My eerste kennismaking daarmee was waarskynlik as kind met die Amerikaanse TV-reeks Life goes on, wat hier as Môre is nog ’n dag oorgeklank is en waarna ook in hierdie boek verwys word. Die temalied was nog ’n opname van daardie bekende lied van die Beatles, “Ob-La-Di, Ob-La-Da”. Natuurlik het ek ook iets van die biologie van Downsindroom verstaan, maar daar het my kennis geëindig. En dit is hier waar Brynard se boek van soveel waarde vir my was. Die boek bespreek in besonderhede die idees en uitdagings rondom Downsindroom en hoe die idees oor die jare ontwikkel het. Daar is vandag baie wat die mediese wetenskap kan doen om mense met Downsindroom se lewensgehalte te verbeter, hoewel die meeste mense met Downsindroom nie toegang tot hierdie prosedures het nie, weens finansiële koste.

Die boek is in twee dele verdeel , met Shéri wat eerste aan die woord is, en daarna haar moeder, Susette, wat haar perspektiewe deel. Daar is ook addisionele insetsels deur ander familielede. Godsdiens speel ’n sentrale rol in die familie se lewens, en neem baie bladsye in beslag. Dit is miskien soms bietjie oordonderend, maar beklemtoon waarskynlik op akkurate wyse die familie se verhouding met die Christelike godsdiens. Die boek bevat ook agt bladsye se foto's, waarvan die meeste volkleur is. Dit vertel nie net die storie van die Brynard-familie nie, maar dien ook as platform vir bewusmaking van mense met Downsindroom en hulle uitdagings, is ’n godsdienstige getuienis, en dien ook as ’n verdere platform vir Brynard se werk as motiveringspreker. Aan die einde verskyn daar ook ’n lys met vrae en antwoorde deur Susette Brynard, wat ten doel het om haar kennis te deel met ander families wat ook lede met Downsindroom het.

Brynard se verhaal is merkwaardig, en dit is ’n goeie ding dat dit op skrif gestel is. Dit bied prikkelende leesstof oor ’n ernstige onderwerp. Mense met Downsindroom daag die “normale” mense uit. Dit is en was al baie in die verlede die praktyk dat babas met Downsindroom geaborteer word. Maar daar hang ernstige vraagtekens oor die gebruik. Persone met Downsindroom kan ook ’n sinvolle rol in die gemeenskap speel. Elke persoon met Downsindroom is ’n unieke en kosbare individu, nes ander “normale” lede van die gemeenskap, en dit is hoe hulle beskou en hanteer moet word.

The post <i>Shéri – Nes ek is</i> deur Shéri Brynard en Colleen Naudé: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.

Liewer deur Tertius Kapp: ’n boekresensie

$
0
0

Foto van Tertius Kapp: http://www.litnet.co.za/litnet-akademies-resensie-essay-oorsee-deur-tertius-kapp/

Liewer
Tertius Kapp
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624084389

“Die liefde is ’n vreemde ding. Dit bestaan net as jy daarin glo.” (2017:50)

Lief. Liewer. Liefste. Die liefde is blind. Die hart is ’n idioot en moet liefs meer na die brein luister. Maar wanneer vlinders in die maag begin fladder, word logika bysaak.

Tertius Kapp, tesame met Willem Anker en Wessel Pretorius (om maar enkeles te noem) is die nuwe generasie “Wunderkinders” van die Afrikaanse drama. Kapp is in 2015 met die Hertzogprys bekroon vir sy dramas Rooiland (2013) en Oorsee (2014). Hierdie jong dramaturg beskik oor die verstommende vermoë om grensverskuiwende tekste te skryf wat gehore se emosies uit hul derms gaan krap, skok, debat teweegbring en diep ontroer.    

2017 was ’n droë oesjaar vir gepubliseerde Afrikaanse dramatekste ten spyte van die groot aantal puik dramaproduksies wat vanjaar by kunstefeeste aan bod was. (Sal dit nie wonderlik wees indien toneelstukke soos Neil Coppen se Buite Land en Wessel Pretorius se Klara Maas se hart is gebreek in gedrukte formaat gepubliseer kan word nie?) As literator, letterkundedosent en resensent vind ek dit kommerwekkend dat daar jaarliks minder dramatekste gepubliseer word. Drama is immers naas prosa en poësie een van die drie genres binne die letterkundige sfeer. Finansiële oorwegings word aangevoer vir die afname in gepubliseerde dramatekste – kruissubsidiëring kan sekerlik deur uitgewers toegepas word om die publikasie van meer dramatekste moontlik te maak? Alhoewel dramatekste meestal gepubliseer word vir die voorskryfmark, het die gebrek aan gepubliseerde dramatekste ’n negatiewe invloed op die toekoms van dié letterkundige genre. Dit bemoeilik navorsing indien dramas nie gepubliseer word nie. Die Afrikaanse letterkunde word sodoende verarm en individue wat nie die toneelstukke by kunstefeeste kan kyk nie, word van die ryk ervaring ontneem. Wat gaan van die Hertzogprys vir drama word indien daar nie meer gepubliseerde dramatekste is wat vir dié gesogte letterkundeprys in aanmerking geneem kan word nie? Ek is bevrees die toekoms van gepubliseerde dramatekste in Afrikaans sien alles behalwe rooskleurig daarna uit. “Die hemel help ons” – om Koos Prinsloo aan te haal. Gevolglik is die publikasie van Liewer ’n welkome sonstraaltjie op die donker horison.

Liewer het vanjaar op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn gedebuteer. Met ’n gesoute rolverdeling en Jaco Bouwer as regisseur het dié dramaproduksie gehore in vervoering gehad en nie minder nie as ses Kanna-benoemings ontvang.

Die teks tree intertekstueel in gesprek met die Britse dramaturg Patrick Marber se Closer (1997). Marber het die teks tot draaiboek verwerk en in 2004 is die film met dieselfde titel vrygestel met Julia Roberts, Jude Law, Natalie Portman en Clive Owen in die hoofrolle. Alhoewel Liewer met Marber se Closer in gesprek tree, hoef die gehoor of leser nie oor kennis van Marber se teks te beskik om Kapp se drama te kyk of lees nie. (Letterkundiges sal egter die intertekstuele spel verrykend vind.)

In Liewer plaas Kapp die liefde onder die vergrootglas. Daar word onder die oppervlak gedelf en ondersoek ingestel na die vele fasette van die liefde – beide aangenaam en onaangenaam. Hier is geen sprake van die spreekwoordelike liefdesdriehoek nie, maar eerder ’n komplekse vierkant wat so ingewikkeld soos die liefdesverhoudings van die antieke Griekse en Romeinse gode is. Annie, Vincent, Beatrice en Xander se paaie kruis op ongewone (toevallige) wyse en die soeklig word op hul onderskeie verhoudings geplaas. Alhoewel die  struktuur van die teks met die van Marber ooreenstem, het Kapp talle veranderinge aangebring om sy eie stem te laat hoor. Opvallend is die Suid-Afrikaanse stempel wat Kapp op Liewer afgedruk het presies twintig jaar na die publikasie van Marber se Closer. Op vernuftige wyse word Suid-Afrika se sosio-ekonomiese probleme, komplekse rasseverhoudings en geskiedenis by die teks geïnkorporeer.

Kapp se fyn sin vir humor is treffend, dog is die teks ryk aan lewenslesse wat amper filosofies daarna uitsien. Die komplekse verhoudings tussen die vier karakters dissekteer as’t ware elke faset van die liefde. Liefde is ’n gewaagde onderwerp aangesien dit maklik in clichés verstrengel kan raak. Met Liewer is dit nie die geval nie en word liefde as tema op eerlike wyse ondersoek.

Maja Jagielska se omslagontwerp is treffend. Die teks bevat egter twee foute naamlik “Teksnota’s” (sic) en die herhaling van “ons” op bl 19.  

Liewer is geen soetsappige liefdesverhaal nie. Die dramateks vertel die waarheid oor die liefde. Soos die karakter Vincent tereg opmerk: “Op elke straathoek ’n toneelstuk.” So is die liefde ook. ’n Begin en ’n einde. Die een drama gevolg deur ’n ander.

Met Liewer bewys Kapp weer eens waarom hy die Hertzogpys waardig is.   

The post <em>Liewer</em> deur Tertius Kapp: ’n boekresensie appeared first on LitNet.


Spertyd deur Elsa Joubert: ’n resensie

$
0
0

Spertyd
Elsa Joubert

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624084327

Spertyd van Elsa Joubert kan gesien word as ’n vervolg op haar ander twee outobiografiese boeke, ’n Wonderlike geweld en Reisiger. Tog is dit meer as ’n vervolg; dis eintlik ’n teks wat op sy eie staan. Dit handel oor die belewing van ’n hoë ouderdom, maar die ouderdom is verstrengel met die verhale van vroeër. In die afsluiting van haar lewe is ’n ganse leeftyd opgeneem.

In haar resensie in Rapport (26 November 2017) wys Louise Viljoen daarop dat die woord “spertyd” verskillende betekenisse kan hê. “Spertyd” dui op tyd wat verbygaan, op ’n taak wat betyds voltooi moet word. ’n Mens dink aan die Engelse woord “deadline”, wat vir hierdie boek baie relevant is, want die dood is hier die finale sperdatum. Dit speel ook mee in die titel van die eerste hoofstuk, “Doodloopstrate”. Viljoen wys egter daarop dat “sper” ook etimologies met “wyd oopmaak” verband hou; dink maar aan “oopgesperde oë”. Ook dié betekenis is hier van belang, want Spertyd is ’n boek oor sowel die afsluiting van die lewe as dinge waarvoor die oë in die laaste lewenskof oopgaan.

Die begin van die boek handel oor die vertrek van Elsa Joubert na ’n aftreeoord. Dit voel vir haar aanvanklik of sy ’n gevangene in haar kamer is. Sy het haar man Klaas aan die dood afgestaan en sy sien nie kans vir ’n nuwe lewenswyse nie. Sy word oorweldig deur die aanskoue van oumense se nimmereindigende pyn, “dagin, daguit, nagin, naguit” (42). Alles maak haar angstig; dit is net die verlede wat met minimum angs aangepak kan word. Daarom glip sy, veral in die eerste hoofstuk, telkens oor van die hede na die verlede. Maar ook die verlede bring nie altyd troos nie; dit bring herhaaldelik herinneringe van diskriminasie teenoor bruin mense. Wanneer sy terugdink aan “n episode toe sy as kind ’n hoender wat nie goed genoeg vir die gesin was nie, vir ’n bruin kind moes gee, is sy vol woede en berou: “Ek wil om vergifnis vra oor die vir-ons-bedorwe hoender wat ek vir die karretjiemense gegee het” (80). Die ouderdom word ’n tyd van selfkonfrontasie wat nuwe perspektiewe vir haar oopmaak: “Die valsheid van my selfregverdiging al die jare val van my af” (116).

Soms kom daar uitvlug uit haar benouende situasie, maar die uitkoms is nie permanent nie. Haar vriendin Hanna neem haar na die Donderdagaandse orkesuitvoerings in die Kaapstadse stadsaal en sy word meegevoer deur die musiek, maar met verloop van tyd neem haar angs toe wanneer sy die stadsaal binnegaan; en wanneer haar rug haar al hoe meer begin pla, sien sy nie meer kans vir die uitvoerings nie. ’n Ander vriendin, Isobel, oorreed haar om saam te gaan op ’n toer na Namibië, maar ook dit loop uit op ’n mislukking wanneer die ritte per trein en bus haar duiselig maak. Oral is daar hindernisse; keer op keer word ’n opflikkering van vreugde deur teleurstelling gevolg.

Verlies staan geskrywe oor die lewe van oumense, verlies in verskillende vorme: “Eintlik kan Verlies die naam van al sulke oumensgeboue wees. Elkeen kom hierheen omrede verlies. Óf sy lewensmaat, óf sy gesondheid. Of ’n lam been of ’n beskadigde kop, ’n kop wat soos ’n gieter met lekplekke is” (154).

Besonder frustrerend is die verlies van woorde en van gedagtes. Dit gaan gepaard met ’n nuwe perspektief wat ontwikkel moet word, die besef “jy staan nie meer in die hoofstroom nie. Jy het jou kans gehad. Dis verby” (65). Sy het ’n randfiguur geword.

Tog vind daar ’n geleidelike ontwikkeling in haar plaas, ’n wegkeer van die verlede en ’n aanvaarding van die hede en die toekoms. Die ontwikkeling word onder andere deur die eerste paar hoofstuktitels gesuggereer. Die titel van die eerste hoofstuk is “Doodloopstrate”, en dit eindig soos volg:

Ek sê vir my dogter: My lewe is nou ’n doodloopstraat.

My dogter sê vir my: Ma, mens bly nooit in ’n doodloopstraat nie. Jy draai om, ry terug en kry ’n nuwe koers.

Dit klink baie dapper, maar ek is nie meer dapper nie. (45)

Na hierdie vertwyfeling het die volgende hoofstuk ’n meer belowende titel: “Hobbels in die pad”. Daar is nog allerlei struikelblokke, maar die reis word begin, die reis op die laaste pad wat uitloop op die dood. En die volgende hoofstuk is getitel “Kamp opslaan”. ’n Tuiste is nou gevind, al is dit maar ’n tydelike een.

Die ontwikkeling wat plaasvind, kan goed geïllustreer word deur haar worsteling met identiteit. Die Nuwe Suid-Afrika het gekom, en daarmee saam ’n nuwe perspektief op die verlede. Die verlede moet nou herbeleef en herbedink word. Wanneer Freek Robinson haar nader om deel te neem aan ’n besprekingsprogram oor Afrikaner-identiteit, is haar antwoord: “Ek dink die spieël waarin ons altyd gekyk het om onsself te sien, is flenters gebreek. En nou sien ons niks. Daarom praat ons so baie daaroor” (123). ’n Deel van die identiteit waarvan sy afskeid neem, is die begrip wat deur Van Wyk Louw geformuleer is: lojale verset. “Verset moet nie lojaal wees nie. Verset moet skril, sterk, afbrekend wees” (120).

Sy ontmoet ’n verskeidenheid mense in Berghof, die aftreeoord, ook mense wat nie dieselfde verbintenis met Afrikaans as sy het nie, en voel daardeur bevry: “’n Verbintenis met die ander mense wat saambly hier in Berghof. ’n Verskeidenheid van mense wat ons grense uitstoot. Ek voel ’n band wat wyer strek as taal. Ek is bly om bevry te wees van die ou dinge van die inperkende verlede” (126–7). En tog bestaan die band met Afrikaans nog wanneer sy tot die volgende gevolgtrekking kom:

Ek is ’n Afrikaanse taalpatriot. Sy woorde, woorde, woorde staan soos ’n geil veld spaansriet om my en soos ek nader stap, neem hulle my dieper en dieper op my tog. Geen ander taal se woorde sal ooit so staan nie.

My standpunt het nou helder geword: Los die groepdenke of groepsidentiteit. Bewerk die klein erfie wat jou toebedeel is, en alles sal daarmee saamkom. (128)

Die gevolgtrekking waartoe sy kom, toon aan die een kant ’n verbondenheid met haar taal, maar daarnaas ook ’n besef dat taal alleen nie haar identiteit bepaal nie: “Taal alleen is nie ek nie” (126).

Te midde van alles wat verbygaan, wat is van standhoudende waarde? Verskeie dinge: haar kreatiewe vermoë; haar humorsin; haar vriende en ander medemenslike verbintenisse; haar familie; haar geloof. Op hierdie dinge wil ek vervolgens ingaan.

Een van die eerste dinge wat in die hoofstuk “Kamp opslaan” ’n wending in haar lewe bring, is dat sy weer begin skryf. Sy het haarself leer ken en besef dat sy haar verknies as sy nie skryf nie (61). Wanneer sy begin skryf, ervaar sy:

Dit is om weer binne-in my aan die lewe te kom, asof ’n droë plek weer water kry [...] Soos Klaas van die kat gesê het: Dit lyk asof die masjinerie weer werk, dit spin. So sê hy van my as hy deur die sitkamer loop en my masjien is aan en ek is aan die werk. Dit spin weer. (61)

Dit is hierdie wending wat tot die skryf van Spertyd sou lei.

Wat ook behoue by haar bly, ten spyte van teenslae, is haar humorsin. Kostelik is die beskrywing van die eetmaal wat vier negentigjariges saam geniet. Alice Goldin, een van die vier, kry swaar met die kos, maar volhard: “Met die een hand, sy sien sleg, die ertjies hardloop weg van haar vurk, die klein tamaties weier om vasgedruk te word, maar sy hou vol tot die bord leeg is” (169). Wanneer die gaste per motor vertrek, kry hulle teenspoed met die outomatiese hek:

Die motor is op die streep wat die hek beheer, die hek begin rukkerig beweeg en afsluip op die motor. Kitty is gebuig oor Alice, sien niks raak nie. “Los Alice se gordel, Kitty, trap die petrol.” Maar dis te laat, die hek sluip by hulle verby, onkeerbaar as dit eers begin roer het. “Trurat so ’n bietjie, Kitty!” skree ek. “Terug op die streep, maar ry dan, los die gordel, ry net!” Maar sy hoor my nie, sien my nie waar ek in die loeiende wind my arms ’n oomblik losmaak van StomJapie, voor die voorruit waai, en StomJapie dan begin rondkatrol nie. (171)

“StomJapie” noem sy die loopkarretjie wat sy kry wanneer sy nie meer op haar eie kan loop nie. Wat baie mense neerslagtig sou maak, word vir haar ’n bevrydende en humorryke ervaring. Die karretjie kry ’n naam en word ’n vriend, ’n mens met voete en kuite (163), iemand met wie sy gesels:

“Ek is gʼn rolstoel nie,” protesteer StomJapie.

“Moenie jou ontstel nie,” sê ek, “hulle weet nie waarvan hulle praat nie.” (164)

Vriendskappe bied vir haar ’n besondere vertroosting. Hierin verskil Spertyd radikaal van Slot van die dag van Karel Schoeman, wat ook oor die ouderdom handel, maar waar die skrywer se lewe uitloop op totale eensaamheid, met die internet as enigste stimulerende geselskap. Elsa Joubert was aanvanklik ook eensaam, maar dan kom daar ’n verandering: “En stadig, versigtig jou voelers uitsteek na ’n ander een, wat alleen op die stoepie op die vierde vloer sit, net sit, hande op die skoot gevou” (36). Wanneer sy bereid raak om na ander se stories te luister, ook hul hartseerstories, gebeur daar iets van groot belang: “En asof jy op ’n roltrap vervoer word van een vloer na die ander, en nie kan afklim nie, so vervoer die tyd jou onversetlik weg van jou man se dood” (36).

Ou vriende kom na Berghof en die vriendskappe word hernu – mense soos Jo Struik en Attie en Audrey de Villiers (Blignault). Jo, wat verskriklike traumas in Java beleef het, wie se lewe uitmekaargeruk is en wat tog nog glimlag, is vir haar ’n voorbeeld; sy inspireer haar om sin uit haar lewe te maak (63). Ook Attie is vir haar ’n inspirasie: sy sorgsaamheid teenoor Audrey (87); sy lewensvreugde, selfs wanneer sy been geamputeer word (88). Elsa en ander vriende maak ’n plan om hom, met rystoel en al, die skoonheid van Berghof se tuin in die lente te laat beleef. Dit word ’n feestelike middag, met twee bottels vonkelwyn; maar Attie gaan daarna steeds meer agteruit, totdat hy nie meer asem kan kry om te praat nie. Hy moet pal in die bed bly; tog kom daar nooit ’n klagte uit sy mond nie (90). In diepe neerslagtigheid dink Elsa, wanneer sy hom op ’n sonskyndag in sy siekekamer besoek:

Jy is ’n goeie mens, jy het nie gemaak dat jy so moet lê nie, hierdie sonskyn is vals, dit is twee simbale wat klink, wat die skelste, aakligste klank voortbring, dis nie die werklikheid nie, die werklikheid is swart, pikswart en rou. Hierdie mooi gebou en die groot uitsigte na buite probeer net vir ons wegsteek dat die donker en die koue op ons wag. Hoe kan jy so dapper wil wees? Sê dit. (90)

Selfs goeie vriende wat steun bied, bring dus terselfdertyd verdriet, omdat vriendskappe verganklik is. Maar die feit dat Elsa Joubert vir Jo Struik en Attie de Villiers in haar boek gedenk, gee tog vir hulle ’n blywende bestaan na hulle dood, ’n bestaan deur die woord.

’n Besondere soort vriendskap word deur middel van boeke gesluit. Wanneer sy vir ’n aantal dae in die hospitaal moet bly, is lees vir haar ’n uitvlug. Skynbaar lees feitlik niemand meer boeke nie; maar by haar is dit anders. Sy haal uit die boekrak ’n boek wat in 1926 verskyn het, begin daarin lees en vind veel troos daaruit. Daar ontwikkel ’n “diep, stil band” tussen haar en die skrywer (151), ’n band wat die verganklikheid trotseer.

Een van die wonders van oudword is die steun wat sy van haar drie kinders ontvang. Die rolle is nou omgeruil; die mantel van sorgsaamheid wat deel van haar ouerskap was, het nou op die skouers van die kinders geval (135). Wanneer sy intens verdrietig voel oor Attie se lyding, is dit twee kleinkinders wat balans in haar uitkyk bring, ’n neef en ’n niggie wat liefderik in hulle ouma se teenwoordigheid teenoor mekaar optree. Elsa besef dan dat die jeug ook ’n werklikheid is, net soos die ouderdom – die een ontken nie die ander een nie. Sy sien in: “Die toneel van die kinders in die son wat ek voor my sien afspeel het, was waar, realiteit van son en vlees en bloed” (93). Attie se sware ouderdom is nie die enigste realiteit van sy lewe nie:

Ek moet aan Attie op die tennisbaan dink, nie vermink en verwring op sy sterfbed nie. Die tennisbaan is net so ’n sterk waarheid. Realiteit. Sy heldemoed sou kon wees dat hy self die perspektief ingesien en beleef het. (94)

Naas kinders en kleinkinders, is daar ook die wonder van agterkleinkinders:

Een wonderlike ding wat op hierdie leeftyd met my gebeur: agterkleinkinders [...] Dit is asof my lewe ’n nuwe dimensie bygekry het, asof ek en my kinders en kleinkinders almal ’n trap vorentoe geneem is. (95)

Op haar negentigste verjaardag is sy vervul met verwondering oor die fyn, ingewikkelde web van familieverwantskap (143). Sy besef dat al hierdie mense uit haar en Klaas se verbintenis ontstaan en bymekaar gekom het (142); op dié manier leef daar iets van hulle twee voort in die nageslag. “Is dit onsterflikheid, die blik uit Timo se oë, waarmee Klaas my aankyk?” (143).

Maar wat het dit te make met diegene wat nie getrou en kinders gekry het nie? Ook onder hulle is daar mense met ’n “nageslag”, soos die ongetroude vrou wat onderwyseres was en wat ’n groot rol in soveel kinders se lewe gespeel het – sy vertel van haar 21 “kleinkinders”, en dat die jaar te kort is om by almal te kuier (174).

Soos reeds genoem, is daar ’n geleidelike ontwikkeling in die boek van mismoedigheid na vertroosting. Aan die begin is die fokus op belemmeringe en frustrasies; dit word gevolg deur innerlike konflikte tussen hoop en teleurstelling, tussen verlies en troos; die boek eindig met vertroosting wat oorheers.

Die tweede laaste hoofstuk, met die titel “Stilte”, handel oor spiritualiteit. Ook wat hierdie tema betref, het daar ’n ontwikkeling plaasgevind. Die vroeëre hoofstuk getitel “Stranddienste” vertel van die stranddiensleidster wat net daarop uit is om “siele te red”, maar wie se vrolikheid vals is. Later word genoem dat min van die inwoners van Berghof nog kerk toe gaan, en een van hulle vertel aan Elsa dat haar man voor sy dood sy twyfel uitgespreek het of dit wat die kerk verkondig, nie blote versinsels is nie. Maar wanneer doodsangs haar skoonsuster Maxie tref, vra Elsa dat ’n gelowige vrou vir Maxie uit Johannes 14 voorlees, en sy sê in haar gedagtes die woorde saam: “Laat jou hart nie ontsteld wees nie, glo in God, glo ook in My.” En sy besef: in tye van droefheid en spanning kan dit wat in die kerk en die Sondagskool geleer is, tot vertroosting dien.

Die hoofstuk “Stilte” handel oor ’n spiritualiteit wat oor die grense van denominasie strek. Dit behels ’n mistieke verkeer met die Onsienlike (189), ’n essensiële deel van haar identiteit (188). Sy verklaar:

Ek kan myself net vind as ek stil is.

Ek glo daar is ’n Skeppende Krag. Ek glo dat die Krag partydig is teenoor ons en dat elke persoon die vermoë het om kontak te maak deur die stukkie stilte binne-in ons.

Ek glo dit is vir my ten goede, nee, essensieel, om daardie kontak lewend te hou.

Elke uur van die dag.

Ek kan dit net doen deur my eie Binnestilte. (190)

Hierdie mistieke eenwording met die Krag is ’n louterende ervaring, dit suiwer van alles wat nie lig en liefde is nie. Dis ’n ervaring wat geen einde ken nie en wat die dood sy verskrikking ontneem: “Elke sekonde van my lewe is die Krag by my. En as ek sterf, sal ek net dieper daarin glip” (192).

Die laaste hoofstuk, getitel “Stofdeeltjie”, bring nog ’n groot waarheid by haar tuis, miskien die belangrikste waarheid van almal. Sy is 93 jaar oud en moet weer hospitaal toe gaan, waar twee medepasiënte met groot deernis versorg word: die een deur haar kinders, die ander een deur ’n simpatieke fisioterapeut. En dan kom sy tot die gevolgtrekking:

Wat vir my die simbool van hierdie siekekamer word, is ’n uitgestrekte hand. ’n Soekende gebaar. Maar nie vertikaal nie, horisontaal. (205)

Dit gaan hier om ’n uitgestrekte hand wat ’n stut soek sowel as ’n uitgestrekte hand wat die nodige ondersteuning verleen. Die mens mag ’n nietige stofdeeltjie wees, maar deur so ’n liefde en empatie word ’n goddelike heerlikheid verkry.

Spertyd is ’n wonderlike boek, ryk aan insigte en met ’n verskeidenheid van emosies. Dis ’n boek wat ontstel maar ook inspireer; wat die leser ontroer en laat glimlag; wat die skok van die mens se verganklikheid balanseer met die troos van dinge wat standhoudend is.

The post <i>Spertyd</i> deur Elsa Joubert: ’n resensie appeared first on LitNet.

Lore of nutrition – Challenging conventional dietary beliefs deur Tim Noakes en Marika Sboros: ’n resensie

$
0
0

Lore of nutrition – Challenging conventional dietary beliefs
Tim Noakes en Marika Sboros
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781776092611

Opspraakwekkende uitsprake in die wetenskap wat teenstrydig is met die konvensionele opvattings word dikwels met groot teenkanting ontvang. Ortodokse opvattings veroorsaak hewige reaksies teen nuwe bevindings wat bestaande dogma bevraagteken. Ons dink maar hier aan enkele voorbeelde soos Galileo se uitspraak dat die aarde rondom die son wentel, en Semmelweiss se kiemweringsprosedures wat vir die mediese gemeenskap nie aanvaarbaar was nie.

Die nuwe boek van Tim Noakes en Marika Sboros, Lore of nutrition – Challenging conventional dietary beliefs, kan in dieselfde lig gesien word as bogenoemde voorbeelde waar wetenskaplikes se bevindings wat strydig is met huidige opvattings bekend gemaak word. Hierdie publikasie moet gesien word as ’n wetenskaplike relaas van die polemiek rondom huidige dieetaanbevelings, wat met reg deur die skrywers bevraagteken word, en sal verreikende gevolge vir dieetaanbevelings vir die mens hê indien hulle algemeen aanvaar sou word.

Die boek bevat ook ’n volledige weergawe van die tugverhoor wat deur die dieetkundige vereniging aanhangig gemaak is aan die Mediese Beroepsraad (HPCSA) teen Noakes. Volgens hulle het hy onkonvensionele raad verskaf aan ’n persoon wat hom op sosiale media gekontak het rakende dieetverwante vrae vir haar baba nadat die baba gespeen is. Die gevolg was ’n drie jaar lange hofsaak wat in die guns van Noakes beslis is. Ons sien hierdie uitslag as ’n oorwinning van die krag van die wetenskap wat staan by die waarheid wat spruit uit verskeie vooraanstaande navorsingspublikasies wat wys op die gevare van die hoë-koolhidraat-lae-vet-dieet wat oor die afgelope 40 jaar misleidende dieetriglyne aan die publiek verskaf het in die ontwikkelde Westerse wêreld. Die gevolg was ’n ongekende toename in vetsug, insulienweerstandigheid, hartsiektes, kanker, demensie en ander chroniese siektes.

Die waarde van hierdie publikasie lê in die feit dat dit aan die leser insig gee in die wetenskaplike proses wat in wese altyd op soek is na die waarheid, en indien nodig antwoorde bevraagteken. Soos wat beter insigte verkry word uit gevorderde navorsingsmetodes, word bestaande dogma bevraagteken en dikwels weerlê. Wetenskaplikes luister ook na wat mense intuïtief sê uit eie ondervinding. Hierdie anekdotiese verslae spoor oplettende wetenskaplikes aan om dieper te delf in hierdie tradisionele kennis van mense. Die ontwikkeling van die pokke-entstof deur Edward Jenner het gevolg nadat Jenner geluister het na die relaas van Sarah Nelmes, die melkmeisie wat beweer het dat sy nie bang is om pokke te kry nie aangesien sy koeipokke gehad het. Op die gebied van menslike voeding het ’n Amerikaanse joernalis, Michael Pollan, ’n boek saamgestel uit anekdotiese opmerkings van mense oor wat gesond is om te eet wat die toets van die tye deurstaan het. Baie van die tradisionele gelowe kon wetenskaplik bewys word. Uit ondervinding het ons oumas geweet wat gesond was sonder dat hulle noodwendig wetenskaplik onderleg was in dieetkunde.

Die moderne mediese wetenskap het groot vordering gemaak in die bekamping van akute mediese en chirurgiese noodgevalle. Dieselfde kan nie gesê word van die beheer van die chroniese en degeneratiewe siektes as gevolg van ’n ongesonde lewenstyl nie. Die beskikbare behandeling van siektes soos diabetes, kardiovaskulêre siektes, osteoporose en kanker het dikwels ernstige newe-effekte. Daar het ’n klemverskuiwing gekom na die voorkoming van hierdie toestande deur lewenstylaanpassings. Een van die belangrikste omgewingsaanpassings wat gemaak is, was op die gebied van voeding. Hippokrates, wat allerweë beskou word as die vader van moderne geneeskunde, het groot klem op dieet gelê. Ons keer weer terug na sy doktrines, en dit is goed dat ons krities sal kyk na die huidige dieetpatroon van die mens om te sien of dit nie die oorsaak is van die siekteprofiel wat oor die afgelope 40 jaar ontstaan het nie. Wetenskaplikes het met reg die huidige dieetriglyne begin bevraagteken. Hierdie riglyne was gebaseer op die navorsing van Ancel Keys wat die verkeerde afleiding gemaak het dat hoë cholesterol die oorsaak van hartaanvalle is en dat versadigde vette uit die dieet geneem moet word. Nuwe navorsing het egter begin bewys dat cholesterol slegs geassosieer is met hartsiektes en nie die oorsaak is nie. Die groot inname van suiker, eerder as vette, word aan hierdie verwante siektetoestande gekoppel.

In hierdie boek bevraagteken Noakes en Sboros twee diepgewortelde dogmas: die rol van koolhidrate in voeding, en die hipotese dat versadigde dierevette die oorsaak van hartaanvalle is. In Suid-Afrika, waar ons so ’n hoë voorkoms van hartaanvalle het, sal die inligting in hierdie boek die leser in staat stel om ingeligte keuses te maak oor sy of haar eie gesondheid. Ons kan ons hoed afhaal vir Tim Noakes wat gestaan het by sy beginsels, en met groot wetenskaplike integriteit sy standpunt verdedig teen sy eie kollegas en akademiese instellings wat hom ongenaakbaar gekritiseer het. Ons glo dat hierdie dieetbenadering belangrike gevolge sal hê vir die siekteprofiel van die moderne mens. Hierdie boek is ’n “moet lees” vir almal wat erns het met hulle gesondheid.

The post <i>Lore of nutrition – Challenging conventional dietary beliefs</i> deur Tim Noakes en Marika Sboros: ’n resensie appeared first on LitNet.

Maria se armoire deur Johan en Ode Krige: ’n lesersindruk

$
0
0

Voorblad en agterblad van die boek. Op die foto verskyn Ode en Johan Krige met Mietsie Andrag in die middel.

Maria se armoire
Johan en Ode Krige
(Geen uitgewers – geborg deur Stellenbosch Moederkerk se Historiese Bediening)

Die woord armoire vind sy oorsprong in Frans en verwys na ’n groot (sieraad)klerekas of -kabinet, oorspronklik vir wapens gebruik. In Maria se armoire was daar nie wapens gestoor nie, maar het die kas vir ses generasies as ’n trousseaukis gedien.

Johan en Ode Krige vertel met die hulp van Mietsie Andrag (die vierde Maria-erfgenaam) ’n storie wat die oorsprong van die kas aan die leser ontvou. Die projek het begin toe Mietsie vir die NG Moederkerk vra of Maria se armoire in die kerk kon staan, omdat sy na ’n tehuis sou trek en daar nie plek vir die kas sou wees nie. Ongelukkig het die Historiese Bediening van die Moederkerk bevind dat die kas te groot is. Hulle neem toe die verantwoordelikheid om die historiese verhaal van hierdie trousseaukis op te teken.

Die verhaal begin in die jaar 1824 toe ’n mjinheer Stegmann vir sy dogter, Maria Stegmann, ’n trousseaukis maak as trougeskenk vir haar huwelik met Andrew Murray, ’n Skotse predikant wat na Suid-Afrika immigreer het en die stamvader is van baie Suid-Afrikaanse NG Kerk-predikante wat daarna sou volg. Murray en sy agt seuns (van wie vyf predikante was) het ’n beduidende rol in die stigting van nuwe gemeentes in Colesberg (1826), Middelburg (1852), Aliwal-Noord (1852), Murraysburg (1855), Aberdeen (1855) en Dordrecht (1856) gespeel.

Hiervanaf word die kas van een generasie Maria na die volgende Maria-erfgenaam oorgedra. Alhoewel die kas se eerste staanplek in die voorportaal van ’n pastorie in Graaff-Reinet was, het die kas hoofsaaklik ’n staanplek in historiese plekke in Stellenbosch gehad.

Die kas se tweede staanplek was in die NG Moederkerk se pastorie in Stellenbosch, aan die bopunt van Dorpstraat. Daarna word dit verskuif na Vredelust, ’n huis in Die Laan 8 langs die Eersterivier wat nou bekend staan as Moedersloon. Die vierde staanplek was in Gearholm (nou bekend as Saxenhof), een van Stellenbosch se historiese geboue in Dorpstraat. Daar het die kas vir twee generasies gebly totdat dit later na Dennerandweg in Dalsig verskuif is.

Maria se armoire sluit egter teleurstellend af, aangesien die kas nie meer ’n staanplek by ’n Maria-erfgenaam het nie. Tans staan dit in Utopia, ’n huis vir bejaardes, waar die oorspronklike pastorie, die kas se tweede staanplek, was.

Die boek bestaan uit twee dele. Die eerste helfte bestaan uit die vertelling oor die verskillende staanplekke en wie die kas elke keer geërf het. Hierdie vertelling word deur middel van die ek-verteller vanuit die oogpunt van die kas vertel, terwyl die tweede gedeelte van die boek, met die gebruik van ’n derdepersoonsverteller, geskiedenisdokumente oor die families en Stellenbosch aan die leser voorlê. Dit kom in die vorm van addendums voor, maar word in die boek as “laaie” uitgeken, asof die geskiedenis in die laaie van die kas weggebêre is.

Die gebruik van die ek-verteller kan dalk ’n kinderlike gevoel skep, wat nie noodwendig gepas is by die aanbieding van ’n historiese verhaal nie. Dit dra wel by tot die sterk waardevolle band wat sigbaar is tussen families, erfgoed en die herinneringe wat daarmee geassosieer word.

Maria se armoire is ’n boek wat uitbeeld hoe die samelewing met die jare verander het. Families en gesinne wat kleiner word, doopname wat hul waarde verloor, erfgoed wat agtergelaat word weens die kleiner leefareas van vandag se lewe.

Dit is verder ook gevul met waardevolle inligting oor prominente figure in Stellenbosch se geskiedenis, soos Andrew Murray en ds Johannes Henoch, van wie daar ’n standbeeld by die Fakulteit Teologie opgerig is. Die boek is verder gevul met inligting oor die ontstaan van historiese geboue (Bloemhof, Paul Roos, die Kweekskool en die Universiteit) in Stellenbosch. Net soos hierdie prominente figure en geboue vorm ook Maria se armoire eintlik deel van Stellenbosch se geskiedenis, omdat dit by sommige van hierdie prominente figure gehuisves was. Daarom is ook die geskiedenis daarvan veronderstel om bewaar te word.

(Die foto’s kom uit die boek.)

Foto van die ou pastorie in Dorpstraat

Foto van die kas se derde staanplek langs die Eersterivier

Foto van die kas se vierde staanplek in Dorpstraat

Foto van die huis in Dalsig wat die kas se vyfde staanplek was

Foto van Utopia, tehuis vir bejaardes, die kas se huidige staanplek

The post <em>Maria se armoire</em> deur Johan en Ode Krige: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.

Weerlose weerstand – Die gaydebat in die NG Kerk deur André Bartlett: ’n lesersindruk

$
0
0

Weerlose weerstand – Die gaydebat in die NG Kerk
André Bartlett
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485307877

’n Aantal jare gelede het ek op ’n stadium by myself gedink iemand moet eendag ’n boek skryf oor die NG Kerk se pad met homoseksualiteit. Nie ’n suiwer teologiese boek nie, maar ’n boek wat die historiese ontwikkeling van die saak in besonderhede uiteensit. Dit was nog voor die dramatiese “spesiale sinode” van die kerk in 2016, waar die kerk die sogenaamde inklusiewe besluit van die 2015-sinode herroep het en daardeur verbintenisse tussen homoseksuele mense as strydig met die kerk se teologiese boodskap verklaar het. En nou het daar presies so ’n boek verskyn, en wie beter om so ’n boek te skryf as André Bartlett, die teoloog wat hom vir soveel jare met die saak bemoei het.

Bartlett begin sy boek by die jaar 1986. As mens die NG Kerk se pad met homoseksualiteit wil verstaan, dan moet mens ook die NG Kerk se verhouding met apartheid verstaan. Die kerk het apartheid skriftuurlik en teologies goedgekeur, en in die proses redelik goed onder skoot gekom vanuit die ekumeniese gemeenskap, spesifiek vir die manier waarop daar met die Bybel omgegaan is, met ander woorde die soort Skrifgebruik soos wat mens dit vind in die beleidsdokument “Ras, Volk en Nasie en Volkeverhouding in die lig van die Skrif”, wat in 1974 verskyn het. En so, tesame met die herroeping van die Bybelse regverdiging van apartheid in 1986, het die NG Kerk ook op nuwe maniere begin omgaan met die Bybel. Daar het ’n paradigmaverskuiwing plaasgevind wat ook uitgekring het na buite die NG Kerk.

Maar dit is asof sekere groeperinge binne die kerk agterweë gebly het, veral ten opsigte van selektiewe sake. Selektief, want die patriargale gemeenskappe waarin die Bybelse tekste geskryf was, het nie dieselfde as moderne mense oor gender en oor vroue gedink nie. En daarom is die kerk se beleid ten opsigte van vroue vandag baie anders as in die jare voor 1986. Maar waar dit by seksuele oriëntasie kom, daar brand die kerk vas. Daar diskrimineer dit nog. Daar gaan dit selektief om met die Bybel – ’n boek wat heelwat mense binne sowel as buite die kerk nie meer as ’n wetboek beskou nie.

Ek het nog nooit Calvyn se Institusies deurgelees nie. Ek wonder of dit vir my fisies moontlik sal wees om so ’n dik boek oor teologie deur te lees. Maar dit lyk vir my asof daar binne die Gereformeerde teologie onderskei word tussen “perifere” sake en die hoofsaak: die liefde en verlossing van God. Ek het al voorheen teoloë hierdie onderskeid hoor tref en ek vermoed dit kom van ver uit die verlede. En hierdie beginsel is skynbaar ook die basis vir die pleidooi van Bartlett en verskeie ander om te sê daar behoort juis ruimte te wees vir verskillende opinies. Die kenmerk van Gereformeerde teologie is daarvolgens dus juis die erkenning en akkommodering van verskille, in die besonder vir daardie sake wat as op die “rand” van die kerk se boodskap beskou word.

Laasgenoemde is miskien die grootste openbaring wat ek uit Weerlose weerstand neem, en wat nou vir my in veel groter perspektief gestel is as voorheen. Na die lees van hierdie boek verstaan ek die kerk waarvan ek self eens lidmaat was, sommer veel beter. Ek kon byvoorbeeld nooit verstaan hoekom die NG Kerk ruimte laat vir mense om te kies of hulle in die bestaan van Satan glo of nie, maar ek vermoed nou dit kom op dieselfde argument neer.

Dinge kom gewoonlik iewers vandaan. Niks val uit die lug uit nie. En toe daar in 2016 in die media berig word van een afgevaardigde na die 2016-sinode se gebruik van die woord “kernhomo”, het ek, met my amateuragtige belangstelling in etimologie, lank na die tyd nog stilgestaan by dié interessante woordjie. Groot was my verbasing om te lees dat die kerk ’n verslag in 1986 getiteld “Homoseksualiteit: Wat sê die kerk?” aanvaar het. Dié verslag was ontwikkel uit ’n handleiding met die titel “Pastorale sorg aan die homoseksueel”, wat op sy beurt gebaseer was op ’n doktorale proefskrif met die titel “Pastorale sorg aan die homoseksuele mens”, wat in 1975 aan die Universiteit van Pretoria voltooi is deur ene Albert Botha. En in hierdie verslag word daar glo onderskei tussen “kernhomoseksualiteit” en “periferiese homoseksualiteit”.

Bartlett se boek volg die spoor van die sinodesittings en studiekommissies wat oor die jare in die NG Kerk gehou is rondom die kwessie van homoseksualiteit, en al die drama en intrige wat daarrondom ontvou het. Een van die skokkendste stukke besonderheid in die boek was vir my dat homoseksuele mans in Suid-Afrika gedurende die 20ste eeu onderwerp is aan ’n praktyk bekend as “elektrokonvulsiewe aversieterapie”, wat ten doel gehad het om hierdie mense van homoseksualiteit te “genees”. Hierdie “terapie” het dan behels dat daar aan die manlike “pasiënte” naakfoto's van mans gewys is terwyl hulle met elektrisiteit geskok is. Dit is dan afgewissel met naakfoto's van vroue, wat vergesel was van strelende musiek en positiewe woorde. Hierdie “behandeling” was gedoen met die medewete van ten minste sommige kerkleiers, en een van die “terapeute” wat hierdie metodes gebruik het, is uiteindelik in 2013 self skuldig bevind aan seksuele misbruik van sy manlike pasiënte. Maar mens moet ook in gedagte hou dat die kerk se standpunt op daardie stadium deel was van die breër Suid-Afrikaanse standpunt, ook van die owerhede, dat homoseksualiteit onwettig is, en strafbaar volgens Suid-Afrikaanse wetgewing van die tyd. Trouens, dit was eers teen 1973 dat homoseksualiteit in die Psigologiese Vereniging van die VSA nie meer as afwykende gedrag beskou is nie.

Daar is ’n aantal dinge aan die boek wat ek mis, soos ’n saakregister, want daar is altyd daardie een onderwerp waarna jy weer later soek, maar jy weet nie meer mooi waar jy daaroor gelees het nie. Dan is daar hier en daar enkele voetnote, maar so min dat mens dit amper nie kan verreken nie. Natuurlik gaan die een kritikus ’n teks sonder voetnote verwelkom, en sê dit verbeter die vloei van die teks, maar die volgende een, soos ek, sou dit tog geniet het om meer verwysings na tersaaklike bronne te sien. Daarby sou ek ook ’n lys met afkortings en akronieme voorin geplaas het, want ek kan nooit byhou met al die afkortings en akronieme wat deur kerke gebruik word nie. Daar is geen bibliografie nie, wat aansluit by die afwesigheid van voetnote/eindnotas. Die oorweldigende meerderheid van Bartlett se verwysings is in elk geval na die kerk se studiestukke, wat opgeneem is in die agendas en notules van die kerk.

Wat die slegste smaak in my mond gelaat het, is die wete dat die kerk, deur die aandrang op selibaatheid van homoseksuele mense, eintlik vir baie jare lank mense versoek het om mekaar nie lief te hê nie. Met reg word die saak van homoseksualiteit vergelyk met die Cottesloe-beraad en die 1857-besluit oor die "swakheid van sommige". Dit is goed dat die NG Kerk se “reis met homoseksualiteit” nou saamgevat is in hierdie boek. Weerlose weerstand is in ’n boeiende styl geskryf, en die spanning bou op soos wat mens voortlees, en die kerk uiteindelik in die derde laaste hoofstuk die sinode van 2015 se besluit herroep, by ’n vergadering gekenmerk aan ’n “toksiese atmosfeer van onderlinge wantroue en ’n ondertoon van aggressiewe onverdraagsaamheid” (239). Die skade wat in die proses veroorsaak is, gaan nog baie jare gevoel word, want die NG Kerk het weens die gebeure ’n reuse-stuk gesag en waardigheid verloor. En vir die kerk moet die pynlikste miskien wees die wete dat die saak, na alles, nog steeds nie opgelos is nie.

The post <i>Weerlose weerstand – Die gaydebat in die NG Kerk </i> deur André Bartlett: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.

Penseel studentebundel: ’n resensie

$
0
0

Penseel
Penseel is die Departement Afrikaans en Nederlands (US) se studentebundel en word saamgestel en uitgegee deur die VER[r]AS-komitee (VER[r]AS – die Vereniging vir Afrikaansstudente)

Teoretici wat hulle met identiteitskwessies besig hou, noem drie aspekte wat gebruik kan word om identiteit te beskryf: die statistiese en feitelike gegewens oor die betrokke saak of groep, die manier waarop die saak of groep van binne uit beskou word, en die siening van buite oor die saak of die groep. Dit sou net so van toepassing gemaak kan word op taal en tale, maar by ’n taal kom daar, soos ek dit sien, nog iets belangriks by. Al sou daar statisties baie sprekers van Afrikaans wees en al sou Afrikaanssprekendes baie positief voel oor die taal, is dit ook belangrik en betekenisvol wat en hoe en hoeveel daar in daardie taal geskryf word. Die Afrikaanse letterkunde is in hierdie opsig ’n belangrike merker oor die vermoë en ook oor die stand van Afrikaans. Amptelik, dus van buite gesien, is die taal nie gewild nie, word die taal geknyp en afgeskaal, en tog word daar baie “letterkunde” oor ’n wye spektrum geskryf in Afrikaans – as mens natuurlik die begrip letterkunde oop en los opneem: gevestigde skrywers skryf voort en is produktief; dit is opvallend hoe daar in Afrikaans baie skrywers is wat tot op ’n hoë ouderdom aktief skryf; op die internet word daar baie Afrikaans gepubliseer; baie mens sing in Afrikaans (ook op verskillende vlakke van geslaagdheid); studente en jongmense skryf en wil skryf; skryfskole, veral nie-akademiese skryfkursusse, gedy en skryfkuns as vak groei.

Daarom is dit verblydend dat studente op eie stoom en uit eie geledere hulle skryfpogings bymekaarbring en uitgee. Dit gebeur by verskillende universiteite en is iets wat aangemoedig en aangeprys behoort te word, want hierdie onselfbewuste en selfs naïewe skryfoefeninge verskaf nie net ’n breë basis waarop latere skryfwerk as ’n piek kan voortbou nie, maar is as ’n oefenskool baie nodig. Jong skrywers skryf hoofsaaklik uit emosionele opwelling, hetsy ontroering of ontsteltenis, maar om jou eie skryfsels op papier en meer nog in boekvorm te sien, verskaf ’n bepaalde afstand wat die skrywer self (soms) laat sien wat kan werk en wat glad nie werk nie.

Hierdie bundel vertoon dan ook inderdaad al die eienskappe van sulke studentewerk. Die onderwerpe en temas val in twee groepe uiteen: sosio-ekonomiese en sosio-politieke kwessies en persoonlike emosies en ervarings. Uiteraard sal die Suid-Afrikaanse politieke agtergrond en die vroeëre en huidige stand van kulturele en politieke verhoudinge prominent figureer. Daar is dan ook in die bundel heelparty gedigte oor sosiale ongelykheid, identiteitskwessies, armoede en swaarkry, maar die meeste verse gaan oor persoonlike belewenis: selfontdekking, persoonlike en seksuele identiteit, teleurstelling, liefdesontnugtering en afskeid. Dit is natuurlik dat hierdie soort tematiek oorheers, maar jong digters moet wel bewus gemaak word daarvan dat die woordjie “ek” liefs nie oorgebruik moet word in die poësie nie. Dis ’n woord wat gou die oë van die leser vermoei!

Wat die toonaard van die gedigte betref, vind mens ook die jeugdige oormoed en selfversekering wat tekens is van lewenskragtigheid en die strewe en vermoë om nuut te kan kyk en dink. Daar is ook jeugdige sinisme en ontnugtering, die skerpheid waarmee jongmense dinge beleef. Jongmense hoef nog nie die probleme op te los nie – hulle kan dit ontmasker, dit uitlewer; hulle kan aankla en sinies wees met oorgawe. Dis hulle reg om deur hierdie fase te gaan. Wat mens veral opval, is die tydgenootlike ingesteldheid om liewer te ontluister as om te waardeer of aan te prys, en dit kan begryp word, want dit is inderdaad die toonaard waarin Suid-Afrikaners tans leef. Ook die voorliefde vir skoktaktiek en skokkende gegewens en ’n skokkende houding teenoor die werklikheid, ook ’n voorkeur vir die dramatiese, kom bykans regdeur voor.

Dit is wel jammer dat as mens na die bundel in sy geheel kyk, daar baie min tekens is dat die skrywers iets van die poësie as ’n genre of gewoon net as ’n bepaalde soort taalaktiwiteit weet, want daar is bloedweinig tekens van poëtiese werkwyses of strategieë (en ek praat nie van gevorderde poëtiese tegniek nie). Ek begryp dat hierdie skrywers nie noodwendig taalstudente of self skryfkunsstudente is nie, maar enige mens kan lees, en as jy, selfs net op ’n gematigde manier, die behoefte aan skryf of die belangstelling in skryf het, behoort jy te lees, veral in die genre waarin jy graag wil skryf. Die enigste bewys dat die skrywers wel lees, is enkele verse waarin mens die invloed van ’n bekende digter soos Antjie Krog kan raaklees (in ’n enkele geval is die gedig ook direk in gesprek met Krog, wat wys dat hierdie skrywer Krog se werk goed ken). Daar is ook gedigte wat, hoewel naïef, ’n opregtheid weerspieël en so aantreklik is, maar baie van die gedigte is gewoon prosaïese uitsprake wat in versreëls aangebied word.

Hiermee wil ek die pogings glad nie afmaak nie – juis nie – maar dit is belangrik dat publikasies soos hierdie vir die skrywers as ’n leerskool en as ’n oefengeleentheid sal werk. Hierdie jong skrywers wíl skryf, en hulle doen dit ook inderdaad; die drang en die toewyding is daar, maar die poësie is ook maar ’n bedryf met sy eie moontlikhede (en beperkinge). En elke vakman moet sy vak verken en leer ken om dit goed te kan beoefen. Met eksperimentering en oefening kan baie van hierdie skrywers goeie gedigte maak en ek hoop van harte dat dit sal gebeur.

Die bundel is betreklik goed versorg. Setfoutjies sal daar altyd wees, hoewel ek nogal gewonder het of “skyfdeur” en “maaitjies” setfoute of spelfoute is.

Ek wil VER(r)AS gelukwens met die bundel en mens hou duim vas dat hulle in die toekoms steeds die energie en toewyding sal vind om nog baie sulke bundels te laat verskyn.

The post <i>Penseel</i> studentebundel: ’n resensie appeared first on LitNet.

Viewing all 1790 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>