Image may be NSFW.
Clik here to view.
Die hart het geheime
Malene Breytenbach
LAPA
ISBN: 9781779870858
Louise Viljoen van Jeffreysbaai het pas Malene Breytenbach se splinternuwe Romanza, Die hart het geheime, gelees. Dit word deur LAPA uitgegee. Sy skryf ’n resensie van die boek hier onder.
..............
Die boek het my enduit geboei en ek was spyt toe ek dit soms moes neersit om aan ander aktiwiteite aandag te gee.
..........
Malene het aan die Universiteit van Pretoria die grade BA en BA(Hons) (Engels) behaal. Later het sy na Stellenbosch verhuis en daar die grade honneurs, magister en DPhil in joernalistiek, MA (Ou Nabye Oosterse Studie) en MPhil (Antieke Studie) behaal. Malene is ’n bekroonde, deurwinterde en baie gewilde skrywer. Haar debuutromanse, Palmyra herleef, is reeds in 2005 deur LAPA gepubliseer. Tans het sy meer as 50 boeke op haar kerfstok, waaronder romanses (kontemporêr, medies, histories, Romanza en Superromanza), romans en historiese fiksie. Sy het ook al onder die skuilnaam Marilyn Bennett vir Tafelberg Uitgewers romanses geskryf.
Met haar moderne Romanza, Die hart het geheime, bewys sy dat sy op 76 jaar steeds liefdesverhale skryf wat deur lesers opgeraap word. Ek het heerlik aan hierdie boek, wat gerieflik in my hand pas, gelees. Dit beslaan 189 bladsye en bevat al die bestanddele vir ’n lekkerleesliefdesverhaal. Daar is ook genoeg drama en spanning in om die leser te noop om nuuskierig om te blaai en aan te hou lees, tog bly dit ligte ontspanningslektuur wat mens graag op die strand wil lees of jouself ná werk mee wil bederf. Die voorblad wys net die gesig van ’n aantreklike brunet wat breed glimlag. Weliswaar ’n mooi voorblad, maar ek sou darem graag ’n paartjie daarop wou sien. Mens wil jou mos darem die held kan voorstel soos jy lees.
.............
Weliswaar ’n mooi voorblad, maar ek sou darem graag ’n paartjie daarop wou sien. Mens wil jou mos darem die held kan voorstel soos jy lees.
.................
Claire Odendaal wil graag ’n sielkundige word en moet geld verdien om vir haar verdere grade te betaal. Sy word ’n au pair vir die elfjarige stiefdogter van ’n skatryk wewenaar, Adrian Lawrence, wat nie net op ’n droommooi landgoed teen ’n berg woon nie, maar boonop sy eie internasionaal suksesvolle tegnomaatskappy bestuur.
.............
Adrian is ’n onkreukbare sakeman wat waarde aan sy reputasie heg. Dieselfde kan ongelukkig nie van sy oorlede ouers en twee sibbe gesê word nie. Die bedenklike verlede waarvan Adrian so hard probeer wegkom, haal hom mettertyd in ....
.............
Adrian is ’n onkreukbare sakeman wat waarde aan sy reputasie heg. Dieselfde kan ongelukkig nie van sy oorlede ouers en twee sibbe gesê word nie. Die bedenklike verlede waarvan Adrian so hard probeer wegkom, haal hom mettertyd in wanneer sy skelm broer kom kuier en boonop by die nuwe au pair aanlê. Adrian is 36 en het bagasie. Claire is 21 en lugtig vir mans. Haar onderwyseres-enkelma herinner haar gedurig daaraan dat mans nie te vertrou is nie.
Die verhaal word uit beide Adrian en Claire se perspektiewe vertel en maak die leser deel van die aantrekkingskrag wat daar van die begin af tussen hulle is. Reeds tydens hulle eerste handskud lees ons: "Nog nooit het sy gevoel dat haar knieë van ’n man se aanraking lam word nie. Dis mos iets wat eintlik net in soetsappige stories gebeur. Nou gebeur dit sowaar met háár" (8). Hierdie gewaarwording van Adrian as man neem heel geloofwaardig in intensiteit toe soos die storielyn vorder. Natuurlik is Adrian ook hiperbewus van Clair as vrou – hoe dan nou anders? Tog probeer hy die edele ding doen en sy begeerte onder beheer hou. Die skrywer hou die leser heeltyd aan die raai oor wanneer die tweetjies se passie dan nou uiteindelik gaan ontbrand en daar geen keer meer aan gaan wees nie. Die "gaan hy?" en "sal sy?"-momente word heerlik uitgerek en skep verwagting, afwagting en spanning. Net ’n baie ervare skrywer soos Malene sal egter daarmee wegkom dat daar gereeld gesinspeel word op die heldin se jonkheid, onskuld en kwesbaarheid. (Sy is wel al ’n gegradueerde persoon en reeds mondig.) Die leser sien dit as bedagsaamheid van die held se kant af, omdat hy nie die heldin uit die staanspoor oorrompel nie, maar die feit dat hy haar werkgewer is, wil respekteer. Die byvoeging van interessante newekarakters sorg vir oomblikke van jaloesie en twyfel, wat die leser se nuuskierigheid net meer prikkel.
Die hart het geheime is nie in suiwer Afrikaans geskryf nie. Die interaksie met die verwende voortiener, ’n probleemkind, word veral in gemengde taal weergegee om die manier waarop jong kinders deesdae met mekaar praat uit te beeld. Woorde soos "bestie", "cool", "fabulous" en “gorgeous" vorm deel van die dialoog. Ek het egter gevoel dat die jonge Lily se taalgebruik nie altyd by so ’n jong kind pas nie. As voorbeeld: "... het ek afgesluip en die oorblywende wyn gaan drink". Maar dan lees ek weer ’n meer oortuigende sin soos: "Mamma het altyd so bored gelyk. Claire is ’n fun person." Op die keper beskou, sorg die gemengde taalgebruik egter vir ligter oomblikke in ’n verhaal wat weens misdadige elemente en die gevolglike toetrede van die polisie dalk té ernstig sou kon geraak het.
Die boek het my enduit geboei en ek was spyt toe ek dit soms moes neersit om aan ander aktiwiteite aandag te gee. Dis ’n lieflike verhaal. Modern, ja, maar tog met ’n tydlose elegansie wat my aan die verhale van Susanna M Lingua en Ena Murray herinner het. Lees dit gerus.
Lees ook:
Boekevat met Deborah: Mevrou Smit se reëls vir goeie gedrag, An act of murder en Outopsietafel
The post Die hart het geheime deur Malene Breytenbach: ’n resensie first appeared on LitNet.
The post <em>Die hart het geheime</em> deur Malene Breytenbach: ’n resensie appeared first on LitNet.