Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1795

Resensie: Dwaalgedagtes op ’n fiets deur Pieter Loots

$
0
0

Dwaalgedagtes op ’n fiets
Pieter Loots
Uitgewer: Groep 7 Drukkers
ISBN: 9781928456902

Dis nie meer ongewoon om fietsryers op swaarbelaaide toerfietse op die hoofpaaie of selfs agterpaaie van ons land te sien nie. Soos fietsry se gewildheid toeneem, het fietstoere ook gewilder geraak. As dié langpadgogga eers gebyt het, is fietsry deesdae die ideale manier om jou eie land of verre lande te verken – kyk maar net na die talle blogs, beskrywings en foto’s van fietstoere op sosiale media deur hierdie nuwe geslag avonturiers.

Die skrywer van Dwaalgedagtes op ’n fiets is nie net nog ’n langsafstandfietsryer nie. Pieter Loots het op sy dag aan verskeie sportsoorte deelgeneem en was onder meer ’n kranige tennisspeler, vlerkswewer, langsafstandatleet en stapper wat al verskeie kere die Visriviercanyon gestap het.

Hy is nou in sy laat sewentigerjare, en is steeds ’n ywerige fietsryer, want hy het lankal besef fietsry is vergewensgesind as jy ouderdomskwale en ou sportbeserings het. Soos jy ouer word, hou fietsry jou nie net gesond nie, maar laat dit jou toe om steeds nuwe avonture aan te pak, en suiwer vir jou eie plesier, veral as jy nie meer mededingend ry nie.

In sy boek gee hy praktiese wenke oor hoe om vir fietstoere voor te berei, hetsy jy op jou eie gaan ry met al jou bagasie op jou fiets, of wil toer met ’n goedingerigte steunvoertuig wat jou bagasie saam karwei sonder vooruitbesprekings vir verblyf.

Dit is egter die dagboekinskrywings van twee goed-beplande togte die afgelope paar jaar, die eerste een op die ouderdom van 75 van Kimberley na Langebaan en toe, skaars ’n jaar later, ondanks ’n heupvervanging, ’n ellelange 1 500 km-rit van Windhoek na Hermanus, wat die kern van die boek vorm.

Hy hou getrou dagboek van sy daaglikse skofte en hoe hy elke dag wind en weer en opdraandes en terugslae trotseer. Op beide togte het sy vrou Ella hom vergesel met hul “ryhuis”, want saans het hulle in woonwaparke of plase of selfs langs die pad uitgekamp.

Bedags ry hy op sy eie en dit is wanneer sy gedagtes dwaal. Veral die tweede rit deur Namibië word ’n nostalgiese reis, want in die vorige eeu was hy ’n vakadviseur van onderwys in die ou Suidwes-Afrika (nou Namibië) en het hy die land deurkruis om skole te besoek. Nou wek bekende bakens en dorpies herinneringe, party aangenaam en ander minder aangenaam, wat hy tesame met staaltjies en lewenslesse met die leser deel.

Weens sy deeglike voorbereiding voltooi hy albei hierdie uitdagende toere soos beplan en met min teëspoed, en nog beter, sonder enige nuwe skete.

Die skrywer slaag daarin om fietsryers, oud en jonk, wat steeds droom van avonture, aan te moedig om nuwe uitdagings aan te pak en die langpad aan te durf. Saal op en ry saam, is sy aanbeveling, en ontdek jou land op hierdie gesonde wyse.

The post Resensie: <em>Dwaalgedagtes op ’n fiets</em> deur Pieter Loots appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1795


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>