Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1796

Lesersindruk: Uit die hart van ’n vrou deur Rozaan de Wet

$
0
0

Uit die hart van ’n vrou
Rozaan de Wet
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9781920156220

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

“Die Here weet, ’n verkeerde man is die ergste ding wat jou kan oorkom. Dit is erger as die dood. Want dit is ’n langsame marteling” (bl 272).

Uit die hart van ’n vrou is die debuutroman van Rozaan de Wet. Die skrywer het duidelik baie moeite gedoen met die skryf van hierdie boek. Die storie van Claire speel deels af in die strate van Kimberley, daardie stowwerige klein hoofstad van die Noord-Kaap, waar Claire se man Kris ’n kettingwinkel bestuur. Maar Kris kyk tog te graag diep in die bottel, en Claire se hart trek eintlik na die suidwestelike Kaap, waar die strandhuis staan wat sy by haar ouers geërf het. Kris, daarenteen, is gevestig in Kimberley, gevestig in sy drinkpatrone, gevestig in sy huis en beroep, en deel nie Claire se entoesiasme vir haar lewe by die see nie. Dan is daar Claire se vriendin Wanda. Wanda se man Sephus is ’n narsis. Sy oë dwaal gedurig rond na ander vroue. Hy is ’n baie suksesvolle sakeman en vervul al Wanda se materiële behoeftes. Maar sy streke laat haar miserabel. Soos wat die verhaal voortsleep, kom Sephus se geraamtes in die ope. Sy losbandigheid haal hom in.

Die  hele boek sentreer dus rondom die twee vriendinne, Claire en Wanda, hulle vriendskap en hulle onderskeie pogings om hulle huwelike te laat slaag. Dan word die verhaal ook verder ingekleur met twee ander belangrike storielyne, naamlik die homoseksuele kind en aborsie, waarmee die skrywer ’n bietjie “toy”. Verskoon maar die Engels – die boek word ook hier en daar so met Engelse woorde geskryf in die mix, en laat ek sê, vir die taalpuris sal dit seker hoofbrekens besorg, maar vir my verskaf dit eerder ’n lekker aardse gevoel aan die boek. De Wet slaag nogals daarin om die karakters heel oortuigend te laat voorkom. Daar is deurgaans ’n ligte lagie Christelike pedantisme, maar ook baie menslikheid, vergifnis, tweede en selfs derde kanse, en ook die toepaslike vloekwoord op sy tyd.

Om boeke te publiseer moet baie, baie moeilik wees. Ek haal my hoed af vir sulke mense. Die kritiek sal nooit ophou nie. So het ek byvoorbeeld my vrae oor die gebruik van die woord “imbesiel” op bl 258. Dit is darem nie ’n mooi woord nie. Noem my nou maar “polities korrek”, of dalk “sielkundig korrek”, maar nou ja, dit is heel moontlik vir ’n karakter om dalk so te praat. Ek sien net nie in my geestesoog hoe die liewe Wanda van Mosselbaai so ’n woord sal gebruik nie. Hopelik vergeet die hele mensdom eendag sommer heeltemal dié woordjie tesame met “idioot” en “moroon”. Daar is beter maniere om iemand te beledig.

Alles in ag genome, sou ek sê ek het Uit die hart van ’n vrou as ’n heel aangename en interessante boek ervaar. Ek dink daar sal nog baie goeie boeke uit hierdie skrywer se pen vloei. Uit die hart van ’n vrou is ’n boek van geloof, hoop en liefde. Dis daai soort boek. Die titel gee dit ook eintlik soort van te kenne.

The post Lesersindruk: <em>Uit die hart van ’n vrou</em> deur Rozaan de Wet appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1796


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>