Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1796

Lesersindruk: Die seders van Libanon deur Adriana Faling

$
0
0

Titel: Die seders van Libanon
Skrywer: Adriana Faling

Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 978-796321510

Die seders van Libanon is skynbaar Faling se tweede poging. Dit sou ideaal gewees het om haar vorige boek, Rewolusie van die hart, met hierdie boek te kon vergelyk, maar ongelukkig het ek nog nie daardie boek onder oë gehad nie. Om die waarheid te sê is hierdie tipe boeke nie my tipiese leesstof nie, en ’n titel soos Rewolusie van die hart laat reeds die rooi ligte flikker. Ons is juis mos nou in die maand Februarie. Die sogenaamde maand van die liefde. Maar daar was iets wat my tot Die seders van Libanon aangetrek het, en dit is die feit dat die verhaal deels in die oorlogsgeteisterde Sirië afspeel, waar die militante groep ISIS (Islamitiese Staat van Irak en Sirië) die afgelope dekade berugtheid verwerf het. Die oorlog wat in hierdie wêrelddele woed is ’n onmenslike tragedie. Die mense se lewens word totaal deur die oorlog ingesluk. Dit is ’n wêreld waarvan ons in sonnige Suid-Afrika maar min weet of verstaan. Ons het ons eie kopsere hier. Ons krane loop droog en die vullis hoop op en die liggies gaan af. Maar ons ken nie die oorlog op die skaal wat Sirië daaraan gewoond is nie. Nie dat ’n mens seker ooit waarlik ‘gewoond’ aan oorlog kan raak nie.

Falling se boek speel in hierdie chaos af, maar dan ook natuurlik deels in Suid-Afrika. “Vier vroue se paaie kruis; elkeen moet besluit of sy bereid is om te doen wat God van haar vra,” so poog die buiteblad om die leser se belangstelling in die boek te prikkel. Daar is Iilizabith, wat in ’n helhuwelik met ’n ISIS-soldaat vassit, Pascale, wat net sendingwerk wil doen, maar in die proses haar eie kruis moet dra. En dan is daar Talitha en Yasmine, wat mekaar op skool in Pretoria leer ken het, veral op die hokkievelde, maar wie se paaie later weer op ’n verstommende manier sou kruis.

Het die boek aan my verwagtinge voldoen? Daar is werklik baie om oor opgewonde te raak. Faling se boek het uit die aard van die saak ’n baie sterk Christelike aanslag. Tog kry ’n mens die idee dat daar redelik simpatiek oor die Islamitiese karakters in die boek geskryf word. Waar die karakters simpatiek benader word, sou die boek kon baat by ’n meer genuanseerde beeld van Islam. Deur middel van die karakter van Yasmine se gedagtewêreld, verskaf Faling darem heelwat historiese agtergrond oor die oorlog in Sirië en die opkoms van ISIS. Daar moet altyd in ag geneem word dat Islamitiese mense diep verdeeld oor die bestaan van groepe soos ISIS is. Die boek is egter glad nie pretensieus soos sommige godsdienstige verhale nie. Daar is nie hordes vreemde woorde uit Semitiese tale wat die teks futiel probeer interessanter maak nie. So hier en daar sal daar ’n Arabiese woord of spreek verskyn wat reeds oorbekend aan meeste Afrikaanse lesers sal wees. Die boek lees lekker. Die Afrikaans is gemaklik en verteerbaar. Die verhaal wil soms dalk ’n bietjie langdradig raak, maar die laaste hoofstukke bevat ’n klompie kinkels wat ek nie sien kom het nie.

As ’n mens verby al die pedantiese Christelike gedeeltes in die boek kan worstel sonder om die boek neer te sit, dan sal Die seders van Libanon moontlik ’n boek wees wat deur baie meer mense as slegs gelowige Christene gelees kan word. Die onderwerp wat in hierdie boek aangeroer word, naamlik die oorlog in Sirië, wil ek glo is iets ongewoon in Afrikaans, en dit is die krag van hierdie boek. Die swaarkry van die vroue oortuig veel meer as die manier hoe die karakters se lewens uiteindelik ineen gevleg raak. Dit is veral Ilizabith se storie wat die roerendste is. Die spanning bou veral ook op in die storielyn rondom Ilizabith, aangesien sy in die verhaal saam met hul twee kinders van haar soldaatman af vlug, en hoe sy dan heeltyd met die swaard oor haar kop moet loop dat hy haar weer sal opspoor. Die manier hoe hierdie storielyn uiteindelik ontknoop is verrassend, maar oortuig ook nie orals 100 % nie. Die ander drie vroue-karakters het elk hulle eie demone waarmee hulle worstel, en elkeen sal moontlik op ’n ander manier vir die lesers ’n spieël kan voorhou waarin hulle hulself moontlik kan raaksien. Alles in ag genome het ek hierdie boek verbasend baie geniet.

The post Lesersindruk: <em>Die seders van Libanon</em> deur Adriana Faling appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1796


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>