Chrisalis
Christo van der Westhuizen
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781928426950
Christo van der Westhuizen se debuutbundel Chrisalis (2019) handel onder meer oor die metamorfose van die digter. Daniel Hugo merk op die flapteks dat Van der Westhuizen ’n digter is “wie se taal- en versvernuf die leser meevoer en meermale ook ontroer.” Ek is geneig om met dié stelling saam te stem. Van der Westhuizen se benadering tot gelaaide onderwerpe soos liefdeloosheid, siekte en die dood, bied ’n nuwe perspektief en maak die leser attent op die uiterse sensitiwiteit en teerheid van die digter in die 21ste eeu.
Die titel van dié bundel is in die besonder opmerklik. Die woord “chrisalis” verwys na die papie-fase van ’n insek, spesifiek motte of skoenlappers. Dit is die fase waartydens ’n ruspe in ’n harde buitelaag aan ’n blaar of ’n tak vasgeheg is. Dié buitenste laag word die chrisalis genoem. Binne-in die chrisalis vind groei en transformasie plaas totdat daar ná ’n bepaalde tydperk, ’n mot of ’n skoenlapper uit die papie te voorskyn kom.
Dié metafoor van die chrisalis is beslis geskik as die titel van ’n debuutbundel soos dié van Van der Westhuizen. In die woorde van Hugo: “Soos die skoenlapper uit sy papie breek, so kom Christo van der Westhuizen te voorskyn uit die chrisalis van sy vers.” Dit is dan dié debuut wat dien as Van der Westhuizen se chrisalis. Die indruk word hierdeur geskep dat die digter nog groot dinge gaan bereik – met elke gedig kom hy ’n stappie nader aan die ontketening van sy volle potensiaal.
Van der Westhuizen het ’n skerp oog en hy skroom nie om onderwerpe aan te raak wat moontlik die meer sensitiewe leser of die “liggeraaktes” (13) sal ontstel nie. Die grensoorlog, die apartheidsregime, religie, die impak van die mens op die planeet, selebriteit en menslike selfbeheptheid word onder meer opgebring – keer op keer met ’n satiriese kinkel en ’n sterk metrum. Let byvoorbeeld op die tong-in-die-kies aanbieding van ’n ritmiese kwatryn:
die seleb het tienduisend vrinne
soos jy
wat meen
julle voltooi mekaar se sinne (40)
Ook die slotgedig waarin die digter krities is oor die redes waarom mense kies om ’n spesifieke religie aan te hang, kan hier oorweeg word:
god is as’t ware uit stof
tot nadenke opgetower
deur geneeshere en ringkoppe[...]
om ons hoe gouer
hy weer kom hoe beter
van onsself te verlosskape ons god
immer
na óns beeld (102)
Verder blyk dit dat Van der Westhuizen se verhouding met taal ook ’n besonderse rol speel in die ontwikkeling van sy digterlike vaardighede. Om te skryf is vir die digter ’n soort toevlug:
my pyn het ek vir kunsgrepe verruil
nou blink my wonde in rym
in die raaisel van die poësie
sal ek met behae
tot in lengte van dae
tussen die lyne skryf (44)
In die gedigte waarin die digter se dikwels moeilike verhouding met taal bespreek word, onder meer “Фабула и Суджет (fabula en sujet)” (43) en “Die skoot hoog deur” (46), word die funksie van taal dikwels gerelativeer en die gebruik van geykte uitdrukkings bevraagteken:
wat rym met skoot –
liefde, of dood?is die antwoord streng
argaïes, of blote sleng?en berym dit elke soort
naam- en werkwoord? (46)
Ook die motto van Paul Valéry weerspieël al reeds van meet af aan dié digtersintensie om taal vreemd te maak en te relativeer: “[...] poësie berus / op die wanorde wat dit skep in die / verwagte ordening van betekenis.” In die konteks waarin hierdie relativering geskied – in ’n talige gedig wat deel uitmaak van ’n ganske talige bundel – weerspreek die digter inderwaarheid homself. Wat is die punt daarvan om ’n gedig te skryf as dit nooit werklik die werklikheid kan weergee nie? Is sy verse dan nie as’t ware reeds by die ontstaan daarvan dood nie? Die bemoeienis met dié filosofiese vraag dui op die digter se deurdagte en taktiese benadering tot die onderwerp van futiliteit. Net soos die sterflikheid van die digter se vleeslike liggaam, is sy verse ook verganklik.
Alhoewel Van der Westhuizen ’n besonderse debuut maak in die Afrikaanse poësie met sy bundel (veral wat betref sy speelse benadering tot taal) kan daar wel gemerk word op die soms onsuksesvolle gebruik van enkele clichématige uitdrukkings en neologismes. Ten spyte daarvan is hierdie bundel beslis ’n moet-lees, veral vir sommige Suid-Afrikaners wat nog so dikwels oortuigings aanhang wat in vandag se politieke klimaat eenvoudig nie aanvaarbaar of relevant is nie.
Met Chrisalis voldoen Christo van der Westhuizen absoluut aan die vereistes daargestel vir die poësie soos dit saamgevat is in die motto van Paul Valéry – van die herhaaldelike losmaak van taal en die betekenis daarvan, tot die vernuwende blik wat gewerp word op tydlose onderwerpe soos dié van die dood en die liefde.
The post Resensie: <em>Chrisalis</em> deur Christo van der Westhuizen appeared first on LitNet.