Titel: Toy van Carnarvon
Skrywer: Stephen le Roux
Uitgewer: Naledi
ISBN 9781928518044
Hierdie resensie is op 15 Januarie 2020 in Boekkeuse olv Amanda Botha uitgesaai.
Ek wil sommer my bespreking van Stephen le Roux se Toy van Carnarvon begin met ’n uitdrukking wat die hoofkarakter Toy dikwels gebruik: Om hierdie ware verhaal te lees, was vir my sommer “vet pret”!
Stephen le Roux, alias Toy, roep vir ons sy skoolloopbaan – van sy voorskoolse tyd tot matriek – in die jare sewentig en tagtig op Carnarvon in die Karoo voor die gees. Sy pa het spoorlyne op afgeleë plekke deur die Karoo help bou, maar was toe reeds oorlede. Ma Kate is die ferm versorger en hou vir Toy, soos die ouer kinders Babs, Willem, Ockie, Ernie en Marietjie, op die regte pad. Hier is ook tonele met die onderwysers en hulle interessante gewoontes en byname soos Jassie, Tieties, Pannetjies, Koos Lyf en Fossiel. Die inwoners van die dorp en van elders tree op. Ook die plaasmense.
Toy beleef avonture saam met sy tjommies, soos Gotie, Tarzan, Pierre, Tjommie-Jan, Theo, Poensie en Pokkels en die hakkelende maar wyse Wilro. Dan kom ons uit by Toy se seksuele ontwaking saam met meisies soos Isabel, Retha en Zelda as hulle hul so vas teen hom aandruk, so wonderlik met hulle tonge kan werk. Ná ’n vryery met Zelda op die grasperk en ook op die rusbank op ’n Saterdagaand glo hy: “Vroumense is genoeg om ’n mens van jou kop af te dryf en beheer te laat verloor” (222).
Die skrywer, Stephen le Roux, gebruik kontrasterings baie goed in die intrige. Toy kon met geld van vakansiewerk en sy hardwerkende ma die begeerlike tweedehandse Honda-motorfiets by oom Frikkie koop. Toy ervaar die vreugde só: “Toe ek ’n paar uur later in die bad lê, voel ek soos die rykste man op aarde” (214). Toy sê vir sy geliefde hond Laska wat hom langs die bad met valkoë dophou: “Wat wil ’n man nou meer hê? ’n Mooi bike en ’n mooi hond, dis seker al? ’n Mooi girl daarby sal seker die cherry op die koek wees.”
(Terloops, hy en Laska ervaar iets heel ongewoons langs die dorpsdam. Oumeneer Hough, “amper negentig en pankop, maar nog kiertsregop en lank soos ’n paal”, daag met sy vroutjie met die grys bolla daar op. Oumeneer doen dan iets onbesonne. Wees op die uitkyk daarvoor teen die einde van die boek!)
Aan die een kant die genietinge. Nou die kontras daarmee (bl 226 tot 228):
Die sirkus kom na Carnarvon. Toy gaan kyk na die diere agter tralies. Die ape veg om die toffies wat hy vir hulle voer. Dan oorreed die besonder vriendelike sirkusakrobaat hom om hom na sy groot woonwa te vergesel en hom daar met ’n klein werkie te help in ruil vir toegangskaartjies.
Die akrobaat laat hom eers na Playboy-tydskrifte kyk voor hy eers sy hand op Toy se been sit en toe sy arm om Toy se lyf.
Toy as die ek-verteller vereenselwig hom so met sy jeugervarings dat dit jou absoluut oortuig, laat glimlag of ontroerd laat.
Dit is bv so oortuigend dat die leerders in die laer grade (toe standerds genoem) nog nie té gewaagde uitdrukkings gebruik nie. Maar hoe ouer hulle is, hoe krasser en lekker gekruie raak die uitdrukkings.
Dis ’n boek vir hondeliefhebbers (kyk hoe hy sy honde hanteer; vir Witvoet, Bollie en Laska). Bollie beskryf hy as “die pragtigste, wollerige, goudbruin hondjie” met “lang, sagte ore wat teen die kant van sy gesiggie afhang” en “met die twee mooiste, grootste ligbruin oë” (85). Dis ook ’n boek vir mense wat in stoomtreine belangstel (bv bl 71, 72, 75, 76 en vanaf bl 88), of graag op motorfietse by strande opdaag (bl 156, 157, 163 en 164).
Voor ek nog lof gee, moet ek net gou kla dat die teksversorging dikwels onbevredigend is. Hier lees jy vas teen anglisistiese konstruksies en leestekens wat ontbreek of verkeerd gebruik word. Tydspronge word wel soms met ’n wit reël aangedui, maar ’n volgende keer weer nie, sodat ons die gedeelte moet herlees om uit te vind wat gebeur wanneer waar. Vreemdtalige woorde word net soms gekursiveer. Woorde word ongemotiveerd binne dieselfde sin of paragraaf herhaal.
............
“Wat wil ’n man nou meer hê? ’n Mooi bike en ’n mooi hond, dis seker al?”
............
Ek is beïndruk deur Le Roux se vermoë om jou as leser deur ’n toneel te neem en jy dan ’n bietjie later in ’n volgende toneel besef hoe alles eintlik subtiel op ’n klimakssituasie afgestuur het. Ek volstaan met ’n enkele voorbeeld. Juffrou Esterhuizen, of dan die kwaai juffrou Essie met die skerp gesig “soos ’n kwartpond kaas”, raak bekommerd omdat die leerders bang is om Engels te gebruik (60).
Toy word bv vir lesse by tant Sielie gestuur. Dié is ’n stokou, afgetrede Engels-juffrou wat in ’n bouvallige huisie woon. Die leser beleef hoe Toy baie onwillig die kursus volg in die vertrek wat so oud en muf ruik. Tog verbeter sy Engels. Tant Sielie kom ’n rukkie later te sterwe.
Ná heelwat ander gebeurtenisse kry ons op bl 70 die toneel waar Toy in die Engelse kerk moet sing, op die klavier deur die “ronde” sangjuffrou begelei. Sy moed wil-wil hom begewe. Maar aan die einde klap die gehoor vir hulle hande. “Toe ek gaan sit, tik iemand my met ’n stokkerige vinger op die skouer. Toe ek omdraai om te sien wie dit is, kyk ek vas in ons kwaai juffrou Essie wat van oor tot oor glimlag. ‘Mooi gesing, Toy,’ fluister sy toe die pastoor weer begin praat.”
- Stephen le Roux se Toy van Carnarvon is ’n publikasie van Naledi.
The post FMR-resensie: <i>Toy van Carnarvon</i> deur Stephen le Roux appeared first on LitNet.