For the love of the land – being a farmer in South Africa today
Ivor Price and Kobus Louwrens
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624088998
Wanneer ’n mens omsingel voel deur die felle nasionale debat oor grondonteiening sonder vergoeding, bring innige kreatiewe samestellings soos Price en Louwrens se bundel niefiksie ’n behaaglike oomblik van ontspanning. Om werklik die murg uit hierdie boek te suig moet ons egter vir ’n oomblik reflekteer oor die agtergrond waarteen die nasionale grondgesprek afspeel.
Ten spyte daarvan dat grondhervorming oor veel meer as net landbougrond handel (stads- en streeksbeplanners sal jou verseker dat Suid-Afrika blitsig aan die verstedelik is), het die debat soos ’n koppige wilde perd sy eie rigting ingeslaan en ’n retoriese trom begin slaan oor plaasgrondonteiening, herverdeling van grond in landelike streke, uitsettings en begrafnisregte, plaaswerkerwelsyn en landelike onveiligheid weens plaasaanvalle.
Daar is iets onheilspellend subtiel aan die landbougesentreerde grondhervormingsdebat. Ek vermoed dat indien jy gewone mense hieroor pols, die meeste jou sal meedeel oor hul vrees dat Suid-Afrika ’n herhaling van Zimbabwe se wettelose weergawe van grondhervorming sal word.
Oor grond en eiendom het die radikale Franse filosoof Jean-Jacques Rousseau geskryf dat eiendomsreg ’n mensgemaakte konvensie is wat aan wetgewende konsensus uitgelewer staan. Dit is in kontras met die siening van die Engelse filosoof John Locke, wat iets vaag metafisies rondom die besit van eiendom aangevoer het. Vir Locke was eiendomsreg nie afhanklik van die wil en weë van ’n demokratiese wetgewende gesag nie, maar was dit iets wat oorspronklik ontstaan het wanneer die eienaar sy hande letterlik vuilgemaak het deur sy arbeid met die besitting te vermeng. Hierdie twee filosowe se denke het revolusionêre in onderskeidelik die Franse en Amerikaanse revolusies geïnspireer.
In ’n mate kan die breuklyne in die Suid-Afrikaanse gronddebat rofweg tussen hierdie twee filosowe getrek word: In die rooi hoek het ons ’n radikale en revolusionêre, selfs sosialistiese, kamp wat soos Rousseau die demokraties-verkose wetgewer wil aanwend om ingrypende grondhervorming teweeg te bring. In Locke se blou hoek het jy ’n sameflansing van tradisionele en matige groepe wat respek vir individuele eiendomsbesit as basiese mensereg beklemtoon. Vir hierdie groep, wat meesal klassiek-liberale en konserwatiewe politiek beoefen, is daar meriete in gevestigde grondhouerskap en kan die maatskaplike probleme wat grondhervormingsbeleid poog om op te los, op ander maniere (onder andere ’n vryemarkstelsel) aangespreek word.
Dit is tussen hierdie braaklande van politieke absolutes deur waar Price en Louwrens se versameling verhale soos ’n vars reënbriesie deurskemer.
Tussendeur die blindelings-transformatiewe en die totaal teen-transformatiewe loop ’n lyn van insig oor die menslike werklikheid agter grondbesitpatrone in Suid-Afrika, aldus die rugkant: “Away from the heated political debates, in the shadow of uncertainty and shifting policies, farmers are planting seeds into the earth in what seems like forgotten parts of the country. Who are they?”
In die voorwoord deur medesamesteller Ivor Price word die verhaal vertel van Price se ongenaakbare en hardvogtige predikant-oupa, wat die imperatief vir sy nageslag gestel het: “Die enigste goeie boer is ’n dooie boer”, ’n eggo van ’n stelling deur die ontslape Zimbabwiese diktator Robert Mugabe.
Maar Price gebruik hierdie verhaaltjie as ’n vraagstuk eerder as ’n ideologiese of moorddadige oproep. Wat beteken dit om ’n “boer” te wees? Kan ons “boer” en “Boer” van mekaar losmaak? Watter stories lê anderkant hierdie ontknoping?
Dan volg ’n totaal van 30 stories, saamgestel deur verskillende vertalers en skrywers; die produk van Price, Louwrens en hul span wat die land deurkruis het op soek na die verhale van diegene wat naby aan die grond leef. Daar is stories oor onteiendes en ongekendes, rykes en armes, misbruikers en misbruiktes. Landbouers, kleinletter-boere, van alle kleure en geure. ’n Motief bo-oor alle grense heen is die hoop en optimisme oor die land se grond-toekoms; dieselfde hoop-gedrewenheid waarmee die boere in hierdie verhale elke dag douvoordag opstaan vir hul dagtake.
Wadea Jappie (24, “The accidental farmer”) se verhaal is een van ’n Moslem-vrou wat, ten spyte van armoede op die Kaapse Vlakte en ’n geskiedenis van diskriminasie, vurig vertel hoe sy as vrou skouer aan die wiel gesit het om ’n top groenteboer in Philippi te raak. Siviwe Tikana (30, “They call me the black boerseun”) van die Wildekus noem homself ’n “black boerseun”. Hy vertel van diskriminasie deur sommige van sy Afrikaanse en Engelse wit bure, wat glo selfs die DBV sou bel om te kla oor die toestand Tikana se melkbeeste. Hy bedryf egter ’n suksesvolle melkplaas en getuig van die meerderheid helpende wit hande en dat hy nie die landbougemeenskap as onbegaanbaar wit beskou nie.
Die verhale gee ook filosofiese gewig aan die middeweg tussen radikale rooi en liberale blou grondpolitiek, omdat hulle vertel van ’n omgang met die grond wat ten diepste ’n eksistensiële band vergestalt. Soos die Afrikaanse plaasroman, waarvan Van den Heever se Laat vrugte ’n voorbeeld is, praat hierdie verhale van ’n spesiale klas mense wat dag na dag aan die genade van die weer en die omgewing uitgelewer staan. Die gereguleerde konflik tussen mens en natuur skep ’n afhanklikheid en ’n stel vermoëns en kundigheid wat uniek aan boere is.
Hierdie mense, soos die Nama-boer Jakobus Cloete (102, “It’s our land. Where else?”) se storie gaan oor 'n verbintenis tot die grond wat vir generasies reeds gevestig is en wat ’n kleinood vir hul menswaardige voortbestaan is. Cloete se storie is een van ’n man wat boer op die dorre vlaktes van Steinkopf in die Noord-Kaap; ’n omgewing wat boonop omgedolwe is deur die mynbedryf se honger na koper en yster. Volgens radikales in die rooi hoek is Cloete ’n lid van die proletariaat wat gered moet word uit sy armoedige bestaansboerdery; volgens die blou hoek sal die markte seker vir Cloete sorg deur sy oneffektiewe plasie uit te koop.
Maar vanuit die ongemaklike posisie op die doringdraad tussen die rooies en die bloues, is swaarkry nie wat boere soos Cloete definieer nie: Dit is eerder die hoop en geloof van elke dag se opstaan en stry met die natuur; dit is die trots van generasies voorvaders wat hierdie stryd om oorlewing gevoer het; dit is die sin vir waardigheid en selfbemagtiging wat te vinde is in die lewe van diegene wie se hele bestaan deur hul landbougrond omgord word.
Die grond los jou nie.
Pieter Prinsloo (15, “Memories of my late father”), ’n voormalige tandarts en seun van ’n Oos-Kaapse melkboer, skryf roerend oor sy nare verhouding met sy pa wat hom van die familieplaas weggedryf het. Maar jare later trek die grond hom weer in, en bedryf Prinsloo ’n suksesvolle vleisbeesboerdery in samewerking met sy Xhosa-bure.
Veral die dooies herinner ons aan ons band met grond. Mthakathi Makhanya (84, “Land gives us life”) vertel oor sy familie se terugkeer na hul voorvaderlike grond teen die Krokodilrivier in die Laeveld. Makhanya vertel dat sy mense die grond teruggekry het ingevolge ’n suksesvolle grondeis. Op soek na die familiegrafte op die plaas, het sy een oom glo ’n gees gewaar, wat toe by nadere ondersoek blyk bo-oor die vergete familiegrafte verskyn het. Makhanya vertel ook hoe soveel van sy familielede hulself dood getreur het nadat hulle destyds van die grond verskuif is ingevolge die Groepsgebiedewet.
Grond is dalk nie metafisies met die Makhanya’s van die wêreld vermeng of bestand teen magsmisbruik nie, maar dit is beslis deel van ons psige as mense wat afhanklik is van die grond en in die unieke posisie is om daagliks met die natuur te stoei.
Die eksistensiële band met die grond is wat van boerdery oplaas ’n suksesverhaal maak. Deursettingsvermoë en ’n diep waardigheid is in elkeen van Price en Louwrens se versamelde verhale te vinde, selfs in die tragiese storie van Mxolisi Mvaba (40, “Nobody knows about me”), ’n persoon wat onder hierdie skuilnaam vertel hoe hy die buite-egtelike kind van ’n ryk boer in sy omgewing en ’n plaaswerker-ma is. Ten spyte daarvan dat hy onder sy pa se neus in anonimiteit werk, is dit die waardigheid van landbouer wees wat hom regop hou en bo die samelewing se persona non grata-toekenning laat leef.
Daar is dalk kritiek te lewer dat boeiende menseverhale geen politieke grondkwessies opsigself oplos nie en dan eerder draadsitterswerk is.
Soos oudregter Albie Sachs skryf, is die doringdraad tussen ekstreme ideologiese posisies dalk die plek van draadsitters, maar die draadsitter sit juis geweldig ongemaklik. En die ongemak met trotse sekerhede en ’n instink om altyd vrae te vra, altyd die teendeel te opper en om die mees diepgesetelde vertrouens aan twyfel en falsifikasie uit te lewer, is tog seker moediger as om dogmaties in ’n rooi of blou hoek te gaan sit?
As jy dalk die laaste klompie jaar vasgehaak het in die vae etiese vraagstukke wat voortspruit uit die immergewilde kritiese ras- en dekoloniale teorie wat as dryfveer van radikale politiek dien, is hierdie boek ’n ideale terugkeer na die konkrete, omdat dit menseverhale – geleefde ervaringe, ook oor die geweld van die menslike en natuurlike omgewing op die boeregemeenskap – na die voorpunt van ons aandag bring.
Ek hoop van harte dat hierdie boek ook in ander Suid-Afrikaanse tale vertaal sal word. Ek sou dit graag in Afrikaans wou lees, omdat die plaasomgewing vreemd lees op Engels alleen. Maar andersins is die hoop daarin aansteeklik. Dit wys dat veralgemening se behoorlike limiete in die tussenspel van luister en vertel te vinde is. Dit forseer jou tot positiewe en kreatiewe aspirasie om anders te wees; om Suid-Afrika weer van voor af uit te pak en te probeer verstaan.
Want wat is al die kritiek en revolusie in die wêreld werd as daar geen aspirasie na ’n beter toekoms is nie?
Lees ook:
For the love of the land: ’n onderhoud met Ivor Price en Kobus Louwrens
The post Resensie: <em>For the love of the land</em>, saamgestel deur Ivor Price en Kobus Louwrens appeared first on LitNet.