Titel: Lang pad onnetoe
Outeur: Jason Reynolds (vertaal deur Nathan Trantraal)
Uitgewer: Lapa
ISBN: 9780799388800
Om van die Kaapse Vlakte te kom en Lang pad onnetoe deur Jason Reynolds (oorspronklik Long way down en vertaal deur Nathan Trantraal) te lees, is soos om ’n splinter uit jou voet te haal met ’n skerp spyker. ’n Leeservaring waarin jy jou eie wonde verder oopkrap omdat die storie só bekend en close to home is. Ek moes plek-plek die boek neersit om asem te skep, want ek is (veral nou met die bendegeweldkrisis op die Kaapse Vlakte) uiters sensitief oor die onderwerp. Dis ook waarom hierdie boek so relevant is. Alhoewel Jason Reynolds Amerikaans is, is die temas van die boek universeel en lees dit asof die boek in die Kaap afspeel. Dis natuurlik te danke aan Nathan Trantraal se sublieme Kaapse Afrikaanse vertaling van die boek.
Lang pad onnetoe vertel die storie van ’n 15-jarige seun, Will Holoman, wie se ouer broer twee dae vantevore doodgeskiet was en daarom moet hy die reëls wat van generasie tot generasie aan veral seuns oorgedra word, toepas. Die reëls is: Moenie huil nie, moenie piemp (vir die polisie sê wie die moordenaar is) nie, en neem wraak vir die bloed van jou bloed.
Die hele storie word vertel met vryeversgedigte en dit begin met agtergrond oor Will se lewe. Verder sien die leser onder andere hoe sy verhouding met sy broer was voor sy dood, sy gemoedstoestand na sy broer se dood, refleksies oor die dag waarop sy broer vermoor was, hoe die gemeenskap reageer as iemand vermoor word, en wie hy dink sy broer vermoor het.
Will besluit dis tyd om reël nommer drie toe te pas nadat hy sy broer se geweer in sy stukkende laai kry. Hy klim in die hysbak van hul gebou op die 7de vloer, en dis hier waar dinge vreemd begin word. Op elke vloer op pad af stop die hysbak en klim daar ’n karakter in wat op een of ander manier aan Will en die situasie waarin hy hom bevind, verbind is.
Die rit af tot op die 1ste vloer neem 67 sekondes en die inhoud pas by die vertelde tyd, want die gedigte is kort en ritmies. Vir Will voel dit soos ‘n ewigheid, omdat hy gekonfronteer word deur die karakters en nuwe informasie in die hysbak. Op die 1ste vloer staan Will by ’n kruispad en moet hy een van die belangrikste keuses van sy lewe maak …
Die titel van die bundel, Lang pad onnetoe, sluit aan by die feit dat Will nie kan wag om uit die hysbak te kom nie, maar dit het ook ’n dubbele betekenis: disfunksionele besluite en reëls wat van generasie tot generasie oorgedra word en uiteindelik die ondergang van mense veroorsaak. Die gebruik van Kaaps vir die vertaling is uiters geslaagd, veral as jy dit met die oorspronklike teks vergelyk. Reynolds gebruik ebonics (African American Engels) en daarom maak die boek vir my meer sin in Kaaps (eerder as Standaardafrikaans). Die Kaapse vertaling behou die nodige ritme van die oorspronklike teks. Die titel van elke gedig vloei in die gedig en moet dus nie apart van die inhoud van die gedig gelees word nie.
Van die hooftemas is die trauma en effek van bendegeweld op die individue maar ook gemeenskappe, die rouproses van diegene wat familie en vriende weens bendegeweld verloor, en die rol wat dwelms en dwelmhandel speel. Die boek verf ’n algehele prent van hoe die sogenaamde gangster tot op die punt kom om iemand anders se lewe te vat. Dit ontmasker die gangster en laat jou die kind agter die masker raaksien.
Lang pad onnetoe sou ’n uitstekende voorgeskrewe boek wees vir skoliere. Die inhoud is maklik om te volg en na aan baie leerders se verwysingsraamwerk. Dit spreek die realiteite van leerders aan en behalwe dat dit vir hulle interessant sal wees, sal dit hulle ook moontlik kan beïnvloed om beter keuses te maak. Dis ’n uitstekende en broodnodige teks wat gesprekke rondom bendegeweld en ander sosiale euwels in die klas kan laat begin. Wat baie leerders nodig het, is dat iemand na hulle moet luister en moet verstaan waarmee hulle daagliks te kampe het, en die inhoud van die boek sit die fynste besonderhede in konteks sodat die leser Will se situasie sien vir wat dit regtig is. Die boek is beslis ’n moet-lees, nie net vir skoliere nie, maar enigeen wat graag wil verstaan wat regtig agter die skerms van “skollies” se lewens gebeur.
The post Resensie: <em>Lang pad onnetoe</em> deur Jason Reynolds, vertaal deur Nathan Trantraal appeared first on LitNet.