Christo Wiese: risiko en rykdom
TJ Strydom
ISBN: 9780624085881
Tafelberg
Die storie van Christo Wiese is redelik bekend. Enige mens met ’n lekseltjie belangstelling in die ekonomiese geskiedenis van die land sal waarskynlik iets van hom weet. Wiese se grootwordjare in Upington. Die opmars van die ikoniese PEP-winkels. Die nederige begin daarvan in die stowwerige Noordkaap. En die sakeryk wat gevolg het. En uiteindelik die drama met Steinhoff. Al hierdie dinge is redelik goed gedokumenteer in verskeie ander boeke. Wat ’n mens laat wonder hoekom nog ’n boek? Biografieë is oor die algemeen, wat my betref, maar in eie reg omstrede. Of geskryf vir ’n bepaalde soort teikenmark, waarvan ek beslis nie lid is nie.
Strydom gaan haal die verhaal ver terug in die verlede met ’n uiteensetting van die
Wiese-familie se genealogie. Hy vertel die hele verhaal van hoe die Wieses in Upington beland het, en van hulle voorsate wat met skape geboer het. Op die positiewe front is daar ’n goeie balans tussen die biografiese details en Wiese se loopbaan as sakeman in die boek. Ek reken laasgenoemde is die eintlike rede wat belangstelling in die boek sal prikkel – die ontwikkeling van die sakeryk. Die familie was "Sappe", ondersteuners van generaal Jan Smuts se Suid-Afrikaanse Party, en dit het na bewering ’n invloed gehad op Wiese se keuse van universiteit. Wiese studeer regte aan die Universiteit van Kaapstad, maar voltooi nie sy studies daar nie. Hy gaan later weer universiteit toe, die keer na Stellenbosch, waar hy weer in die regte studeer en die keer sy studies voltooi. Die verbintenis met Stellenbosch is belangrik, soos wat menige ander skrywers ook gereeld aandui, want van Wiese se medestudente sou ook in sy sakeryk ’n invloedryke rol speel.
Die res van die boek is ’n byna eindelose bespreking van saketransaksies. Dit word later ’n bietjie soos ’n marathon en ’n mens voel skoon uitasem. Daarmee sê ek nie die boek is oninteressant nie. Dalk net effens oorweldigend. Daar is darem ook heelwat interessante inligting oor PEP. PEP het ’n interessante geskiedenis as ’n kettinggroep wat laerinkomsteverbruikers geteiken het en vandag nog op hulle gemik is. Die eerste takke van die groep het nie die naam PEP gehad nie – dit het eers later gekom. Die boek gee detail oor hoe PEP as kettinggroep gevestig is en uitgebrei het tot die ikoniese Suid-Afrikaanse handelsmerk wat dit vandag nog is. PEP word beskryf as ’n winkel wat ook apartheidspraktyke ignoreer het, deur byvoorbeeld nie aanpaskamers vir verskillende rasse te hê nie. Revolusionêr was dit sekerlik nie, maar tog. ’n Mens kan vandag nog winkels kry wat die storie vertel van verskillende ingange vir verskillende rasse, veral ou plattelandse bottelstore.
Die boek dek natuurlik Shoprite en Checkers, waarin Wiese ’n sleutelrol gespeel het. In hoofstuk 10 is daar ’n bespreking van Wiese se rol in die bankwese van Suid-Afrika – hierdie hoofstuk is ’n persoonlike hoogtepunt in die boek en dek aspekte van Wiese se sakeryk waarvan ek veel minder geweet het. Dan was Wiese in sy leeftyd ook ’n wynboer, waarvan ’n mens ook heelwat meer kan lees in die boek. Na 1994, en veral tydens die jare van Thabo Mbeki se presidentskap, het Suid-Afrika ekonomies gebloei, maar met die verkiesing van Jacob Zuma het die ekonomie begin steier – weliswaar nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd. Dan is daar ook meer oor die sowat agt miljoen rand wat die Britse doeanebeamptes by Wiese gevat het, Wiese se stryd om dié geld terug te kry en natuurlik ’n bespreking van die Steinhoff-inploffing, waar Wiese self ’n fortuin verloor het.
’n Mens sal kan argumenteer dat Christo Wiese: risiko en rykdom ’n boek is wat in sy doel slaag – en as die onderwerp jou prikkel, is dit die lees werd. ’n Mens kry die idee dat die boek ver van volledig is, maar volledigheid was waarskynlik nie die oogmerk nie en as die boek veel langer aangehou het, was die moontlikheid ook daar dat die leser belangstelling kon verloor. Biografieë is maar eintlik lekkerleesboeke, wat die meeste van die tyd ’n mooi storie wil vertel deur die hooftrekke van die bepaalde mens se lewe te dokumenteer. Dit is presies wat in hierdie boek gebeur.
The post <em>Christo Wiese: risiko en rykdom</em> deur TJ Strydom: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.