Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1806

Boekresensie: Slaafs deur Bettina Wyngaard

$
0
0

Foto van Bettina Wyngaard: Naomi Bruwer

Slaafs
Bettina Wyngaard
Umuzi
ISBN: 9781415207536

Bettina Wyngaard is stadig maar seker besig om een van Afrikaans se mees gerekende misdaadfiksieskrywers te word. Haar jongste roman Slaafs is die bewys.

Misdaad is deel van talle Suid-Afrikaners se daaglikse bestaan. Dit is ingeweef in ons samelewing en meeste Suid-Afrikaners het al met een of ander vorm van misdaad kennis gemaak. Dit is dus geen verrassing dat lesers misdaadfiksie behoorlik opslurp nie – ’n tendens wat ek effens vreemd vind gesien die sosio-politiese bestel waarin inwoners hulself bevind.

Nogtans spreek verkoopsyfers vir hulself. Misdaadfiksie floreer en dit is een van die min genres wat in die Afrikaanse (en Engelse) letterkunde uitgewers se bankbalanse laat klop. Deon Meyer het met sy misdaadfiksie talle mense weer na boeke laat gryp. Dit is ’n wenresep en Wyngaard bou hierop voort.    

Wyngaard debuteer in 2009 met die roman Troos vir die gebrokenes wat met die Jan Rabie Rapport-prys bekroon is. Die roman het talle lesers diep aangeraak en spreek vele sosiale kwessies aan. In 2013 verskyn Vuilspel – die voorganger van Slaafs. In Vuilspel word die leser bekend gestel aan talle van die karakters wat in Slaafs aan die bod kom. Lesers hoef egter nie bekommerd te wees dat hulle nie Slaafs se storielyn sal kan volg omdat hulle nie Vuilspel gelees het nie. Soos met talle van Deon Meyer se romans, staan Wyngaard s'n onafhanklik van mekaar ondanks dieselfde karakters wat weer in die teks figureer.

Reeds met die eerste hoofstuk het Wyngaard my in vervoering gehad. Dit was soos om ’n goeie aksiefilm te kyk. Die leser wag letterlik vir die spreekwoordelike bom om te bars, net om agter te kom dat die skrywer jou op ’n slim wyse effens om die bos gelei het. Kaptein Nicci de Wee en haar kollega, sersant Blackie Swart, is ’n gedugte span. Die twee speurders hou hulself aanvanklik met alledaagse polisiesake besig. Nicci en Blackie het ’n spesiale werksverhouding en Blackie se sin vir humor verleen ekstra stukrag aan die boeiende narratief.  Soos met enige goeie misdaadroman, begin die poppe behoorlik dans sodra die eerste lyk ontdek word.

Slaafs as roman ondersoek die aspekte rondom mensehandel en Wyngaard poog om hierdie opspraakwekkende kwessie onder lesers se aandag te bring. Met oorloë wat in talle lande reg oor die wêreld woed, is mensehandel ’n ernstige misdaad wat daagliks plaasvind. Onskuldige meisies, vroue en soms ook seuns word ontvoer om as sekswerkers en selfs slawe deur sindikate misbruik te word.

Hierdie onderwerp figureer sentraal in die narratief. Nicci de Wee en Blackie Swart word op ’n rondomtalierit deur Kaapstad en die omliggende streke geneem om die skuldiges vas te trek. Vanselfsprekend moet hulle allerlei uitdagings te bowe kom en word hul eie lewens telkens in die spervuur geplaas. Die aksie en spanning is aansteeklik en Wyngaard slaag daarin om die leser aan die raai te hou tot met die laaste sin van die roman.

Wat Slaafs effens anders maak as sy voorganger, Vuilspel, is die feit dat daar meer aandag aan die persoonlike lewens van die hoofkarakters gegee word. Waaroor is Blackie so bekommerd? Hoekom het hy soveel opgekropte woede? En wat het van Nicci se gay minnaar geword? Boonop daag ene doktor Gigi Gerber by die polisiekantoor op net om gebeure lekker aan te stook. Hierdie meer persoonlike aspek van die narratief word op geslaagde wyse by die hooftema geïnkorporeer.

Wyngaard het haar huiswerk deeglik gedoen. Geen moeite is ontsien om elke aspek rondom die werk wat deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens verrig word tot in die fynste besonderhede uiteen te sit nie. Die karakters is geloofwaardig en die prosedures wat beskryf word besonder insiggewend. Die leser verkry opnuut respek vir die soms ondankbare taak wat soveel polisiebeamptes daagliks verrig om Suid-Afrikaners teen misdadigers te beskerm.

Slaafs is ongetwyfeld ’n hoogtepunt in Wyngaard se oeuvre tot op hede. Die roman raak interessante onderwerpe aan en die narratief is so verslawend soos ’n dwelmmiddel. Hierdie roman moet eenvoudig gelees word.      

The post Boekresensie: Slaafs deur Bettina Wyngaard appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1806

Trending Articles


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


Die kuns van koeksisters bak


7 vlekke wat ’n student moet kan verwyder


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Vrou vas wat glo baba ontvoer


Hygliteratuur: Buurtwag II


LêNet: Onbeplande oornag


Graad 3: Toetse, vraestelle en memoranda (beskikbaar in Afrikaans, Engels,...


'n Knippie sout


Mikrogolf-wortelkoek



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>