Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1790

Die Heimat Projek deur André de Villié: ’n resensie

$
0
0

Die Heimat Projek
André de Villié
Naledi

Met Die Heimat Projek neem André inderdaad die leser op ’n reis van toeka tot toekoms.

Die storie wentel rondom Konrad Geyer, ’n Suid-Afrikaanse ingenieur wat vir DMK, ’n Duitse vervaardigingsonderneming in Darmstadt, Duitsland, werk. Hy ontvang opdrag om as deel van ’n vakansiereis in sy Heimat (tuisland) ’n voorlopige ondersoek na twee moontlike beleggingsgeleenthede te doen. Hy en sy vier metgeselle beleef ’n nostalgiebelaaide reis deur Suid-Afrika. Hy ontmoet verteenwoordigers van die San- en Khoekhoen-gemeenskappe. Die besonderse natuurskoon en die interessante geskiedenis van sy geboorteland beïndruk hom weer eens. Sy belangstelling in gholf en stoomlokomotiewe dra by tot ’n genotvolle reis. Daarby is een van sy reisgenote ’n aantreklike mediese dokter en sy skep vir hom ’n liefdesdilemma, want tuis het hy reeds iemand.

De Villié skryf gemaklik, met kleurvolle beskrywings en duidelike, vloeiende dialoog. As leser klim ’n mens saam in die boek en vertrek op reise na die Grens waar jy Ouma-beskuit en koffie saam met Konrad en sy kamerade geniet. Trouens, jy wag saam vir die radiobevele met opdrag vir optrede. Van die Grens tot Duitsland, Frankryk en terug na sy geboorteland, Suid-Afrika. Dit is duidelik dat die skrywer hom deeglik vergewis het van die grootste kwessies van die afgelope eeu, maar veral wat die afgelope dekade afspeel en die meeste bekommernisse en kopsere besorg in ons tuisland. Dis inderdaad die gevoel van baie mense in Suid-Afrika, veral met die huidige opstandtendens, asof dit ’n nuwe mode is dat in plaas van om iets op te los, dit eerder verder afgebreek word totdat dit begin om te herinner aan vervloë dae met ruïnes.

Die geskiedenisreis deur Konrad se lewe is deeglik deur die skrywer verweef met fiksie en ’n lewendige geskiedkundige ondertoon. Soos uit die mond van die suigeling, slaan hy die spyker vierkantig (alhoewel met pynlike eerlikheid) op sy kop. Sy spitsvondige skryfstyl en die feit dat hy glad nie op sy mond geval is nie en ’n eerlike vertolking lewer, laat die leser die storie maklik volg en waardeer.

De Villié raak baie teer punte aan met sy karakter en die land se agteruitgang van toeka tot vandag. Om maar ’n paar te noem: renosterstropery, emigrante, plaasmoorde, kritieke waterbesoedeling en waterskaarste, grondeise, BEE, politieke twis. Ook ander geskiedkundige plekke, gebeurtenisse en kwessies word aangeraak wat inderdaad alles al hofies op ’n koerantvoorblad was.

Alhoewel dit inderdaad ’n geskiedenisverhaal is, is dit ’n storie wat maklik oorgedra en gevolg word, maar dit maak dit tog ietwat van ’n minder ontspannende leeservaring, al is die dialoog dikwels op ’n ligter trant om die spanningslyn te onderbreek. Dis ’n interessante reis deur Afrikanerland en roer daardie teer patriotiese snaar aan.

Ons gaan draai by die Wieg van die Mensdom, tot by die internet-era en selfone en die ondergang van familiebande as gevolg van tegnologie.

As jy as Afrikaan ’n wyle oorsee was, is dit die ideale boek om mee by te kom oor die stand van sake in die huidige Suid-Afrika. Die boek mag dalk meer manlike lesers geval, maar vrouens kan ook aanklank daarby vind. Die Heimat Projek is ’n aangename leeservaring en die lees werd.

André de Villié was ’n skeikundige by die destydse Departement Landbou, ’n tegno-ekonoom by die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad (WNNR) en professor in strategiese bestuur aan die Universiteit van Pretoria. Hy is medeskrywer van Tincture – passing the buck and bucking the system, wat stelselagteruitgang in Suid-Afrika onder die loep neem. Hy is ’n aktiewe dendroloog.

The post <em>Die Heimat Projek</em> deur André de Villié: ’n resensie appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1790

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>