Johan Rabie Murray
intussen
’n Fine Music Radio-resensie deur Danie Botha. Uitgesaai in Boekkeuse onder leiding van Amanda Botha op 17 April 2019.
Johan Rabie Murray se tweede digbundel het onlangs verskyn. Dit heet intussen.
Net soos met sy eerste bundel, geskoei, van 2017 bewonder ’n mens dadelik die gefotografeerde kunswerke op die omslag. Op die voorblad is Elaine Schraader se Vlug van 2008 en op die agterplat Niel van der Linden se Middeleeuse markplein van 1972.
Murray se bundel bestaan uit 79 gedigte. Hy deel dit nie formeel in tematiese afdelings in nie. Maar daar is beslis groeperings oor die bundel heen.
Die openingsgedig is “snoer” en daarmee begin die natuurgedigte. Die gedig is soos ’n vlakby-opname wat met ekonomiese taalgebruik geskep is. Dit is ook die eerste voorbeeld van die talle gedigte met lieflike binnerym.
snoer
gesnoer skitter druppels aan ’n halm
sidder liggies wanneer die wind roer
en val ...
In “renosterbos” kontrasteer hy die renoster as dier met die soort plant:
renosterbos
’n magtige kolos die renoster
nederig die renosterbos
wat in die diep voue tussen heuwels
en op rotsrante oorleef
die renoster se horingkrag is sy ondergang
buite bereik van ploeg en skaar
uit die oog, skaars geag, bly groei die bos
Murray se “glo my vry” is ’n voorbeeld van sy genoeglike taalspel.
glo my vry
die vinke gaan sit op die seldery en dit knak nie: Jeanne Goosen
daar’s kokkerotte in my krot
vlooie in ons kooi
kalanders in die meel
en die kar is ’n krok
die heuning sandsuiker
sout raak laf
daar’s klonte in die pap
hadidas op die dak, en
’n slang onder die yskas
al lê die hoenders weg
en is die kalf in die put
en is daar brommers in die sop
glo my vry:
môre kom die son weer op
moeder aarde moet net
haar draai mooi kry.
Met “met toenemende bravade” kom ons by Murray se treffende gedigte oor ouer word, hoe ’n mens “die voorlaaste dae van jou lewe” deurbring. Terselfdertyd gaan dit ook om die skryfkuns en sluit dit byvoorbeeld aan by “redakteur tot redding”, “my woorde praat my aan” en “ek sê hulle binnetoe”.
met toenemende bravade
in die voorlaaste dae van my lewe
geniet ek met bravade al meer
die klein eskapades van my daaglikshede
korter van gedagte lei tot kortbegrip
pleks van behepte biografie
ek verkneukel my in die lukrake verrassing
van stukkies geluk
soos die onbekende boek
wat tussen uitskot vir liefdadigheid
my ten deel val
ek registreer al meer “toeval”
ek, ’n hamel van hierdie jare,
aan vele moers gesuip,
gaan op my oudag
hanser om met my taal.
In “met die jare” en “jaarringe” beskryf hy hoe vriendskappe lewenslank gevorm word.
In “bewaar die knikkertjie” rig hy hom tot sy neef Pieter Viljoen. Hy gee insigte in die probleme met geheue wat ’n mens op hierdie leeftyd self ervaar of hoe jy dit by ander moet hanteer.
bewaar die knikkertjie
vir my neef Pieter Viljoen
met weersiens is daar in jou oë
geen vrae meer, herkenning
en onthou is uitgeknikker
ons goeie jare en drome,
gedeelde verlede, vonk nie meer
in jou neurone, spring nie meer
ligvoets sinapse oor
jy het ons verloor, en nou is soveel
eensydig in my alleen gestoor
kom ons speel ’n speletjie
uit vroeë tyd: bewaar die knikkertjie
ek sal demonstreer
– as ék nog reg onthou –
dan raai jy in watter hand
ek ons froetankie bewaar;
daarna ruil ons om
en kry jy jou beurt
onthou om albei vuiste styf
toe te hou, en net oop te maak
as ek reg wys, en wen ...
In “oujong” en “kleingoed” word die oudag sonder eie kinders en dié mét kleinkinders gekontrasteer.
oujong
sonder kooigoed van vlees en bloed
duur ons rustig sonder kleingoed, sommer
lekker oujong solank die lewe hou
kleingoed
uitgelate trappel kleingoed vol vertrou op ouma af,
spring teen haar op, en klou met taai handjies
waar hulle vatplek kry; sy moet hóú, wat sy regkry
danksy genade, rekverbande en fisio; rustig sit
haar gade, hou die gedoe dop met ’n boetman op
sy skoot wat net vir “Oupa!” oë het.
“jongbloede” gaan oor hoe jeugdiges ’n padongeluk veroorsaak.
jongbloede
roekeloos bestorm jongbloede
die lewe, en jaag opgewarm
in hoogste rat
reg van voor ín hom in
troosteloos verbleik langs die pad
gerfies plastiekblomme aan pale en drade.
Die laaste beweging in die bundel handel oor ons land se geskiedenis en oor die wreedhede, oor die misdade.
Sy “uittelrympies” handel oor mense wat ’n kragtige stryd gevoer het. Soos Steve Biko, Chris Hani, Neil Aggett en ...
Suna Venter, Suna Venter
10 letters, 4 lettergrepe
ontvoer, die veld
om jou brand gesteek
jy het vas bly staan
jy het geleef vir mense
se reg om te weet.
In “toe hy weer sien ...” word getoon hoe ’n seun volwasse word tussen al die gebeurtenisse oor die jare heen – van ’n lewe van CSV-kampe tot die skiet van vryheidsvegters en die aanpassing by die Nuwe Suid-Afrika.
In “een aand op ’n trein” word ’n seun slagoffer van ’n pedofiel en jare later soek hy rigting in psigoterapie.
Johan Rabie Murray sluit die bundel met “dis ’n vrydagaand”, ’n liedteks wat volkspelelaers “vryskeppend en uitbundig na eie choreografie” kan dans, en “op eie maat en wysie” kan sing. Die Volkspelebeweging het ’n baie lang geskiedenis. Ek moet erken ek moes naslaan om te sien of dit nog bestaan. In 2004 is daar nog handboeke daaroor vir skole uitgegee. Maar hier is gedeeltes in die liedteks wat, in vergelyking met die ander gedigte, te “outyds” en “kinderlik” voorkom: “boemsedeisie”; “woertswarts hier / en ’n tjoef-tjaf daar”; “’n kansie-vat-aand”, ens.
Ten slotte, “kardoesie”:
liefde kan mens nie hoes nie
seer is nie om oor te proes nie
teen die lewe help koes nie
geluk g’n gratis in ’n kardoesie
- Johan Rabie Murray se intussen kan bestel word by http://groep7-selfpublish-books.co.za. Dit kan ook gereël word dat die drukkers (Groep 7 Drukkers en Uitgewers CC Pretoria, www.groep7.co.za ) ’n uitdruk van die bundel stuur.
The post <em>intussen</em> deur Johan Rabie Murray: ’n FMR-resensie appeared first on LitNet.