Liefde in die tyd van die internet
Fransi Phillips
NB-Uitgewers
ISBN: 9780795801686
Liefde in die tyd van die internet is nie ’n tipiese liefdesverhaal nie, en tog is dit ook doodgewoon. Die boek vertel die verhaal van ’n vrou se vlug van haar gewelddadige minnaar na eksotiese Rusland, waar sy ’n Engels-onderwyser word en dan ’n verhouding aanknoop met een van haar studente, ’n welgestelde Russiese man, wat haar uiteindelik red nadat haar wrede voormalige minnaar haar ontvoer.
Maar Phillips probeer op onkonvensionele wyses die verhaal kleur en geur gee. Die boek word beskryf as “net vir volwassenes”. Dit bevat wel ’n vlugtige sekstoneel of twee, maar ek sou dit glad nie as ’n hygroman beskryf nie. En dis hoogs twyfelagtig of dit wat daarin geskryf staan, nou juis enige moderne tiener van sy of haar trollie sal laat afval. Die vreemdste, mees onkonvensionele eienskap van die boek is die manier waarop die skrywer en die karakters met mekaar dialoog voer. Die manier waarop die karakters tydelik “uit die storie klim” is iets wat mens wel soms in films sien, waar die storie byvoorbeeld sal stop en die akteur jou as kyker direk aanspreek, en dan net oomblikke later weer die karakter word, weer deel van die storie.
Maar dit gaan verder in hierdie boek. Hanna, die hoofkarakter, voer by tye selfs debatte met Phillips oor die storielyn. Op haar beurt is Phillips self ’n karakter in haar eie boek, en haar karakter help vir Hanna om haarself in Rusland te vestig. Maar voor dit gebeur, werk Hanna eers in Pretoria vir ’n prokureur wat haar arbeid nou nie juis na waarde skat nie en haar eerder in sy praktyk verduur net vir die seksuele gunste wat sy hom aanbied. Uiteindelik besef Hanna sy moet uit die verhouding kom, veral nadat sy die slagoffer van die prokureur se geweld word. Die internet speel deurentyd ’n belangrike rol in die verhaal, en dien dikwels as platform vir waar die karakters met mekaar kontak maak.
In Rusland gee Hanna Engels, en raak deurmekaar met ene Wolf79, met wie sy later ’n vurige verhouding begin. Wolf79 praat Engels presies nes Clara Vasilesko (Angelique Gerber) van 7de laan. (Jare gelede was ek nog ietwat van ’n 7de Laan-kyker.) Nietemin, Hanna se verlede haal haar natuurlik uiteindelik in, maar gelukkig brand Wolf79 se liefdesvlam so sterk dat hy haar uit die bose kloue kom red.
Liefde in die tyd van die internet is nie ’n boek wat almal sal geval nie. Benewens Phillips en Hanna se redenasies, lewer Phillips ook liberaal kritiek op haarself in die boek, en verklap ook ruimskoots waar haar politieke lojaliteite lê. Op bl 129 verklaar sy byvoorbeeld dat die Amerikaanse politikus Hillary Clinton eintlik in die tronk hoort, en dat die Russiese president Vladimir Poetin eintlik oor die hele aarde moet regeer. Die boek bevat heelwat kru woorde, asook dialoog wat meer aan normale spreektaal herinner as aan die Kanselafrikaans waaraan meer tipiese Afrikaanse skryfwerk gekenmerk word. Liefde in die tyd van die internet is egter waarskynlik meer bedoel as ’n boek wat mens vir ontspanning moet lees. Om iets meer as dit te verwag sal jou bloot opstel vir teleurstelling.
Liefde in die tyd van die internet: ’n onderhoud met Fransi Phillips
The post <em>Liefde in die tyd van die internet: ’n stadsprokie</em> deur Fransi Phillips: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.