Die braambos bly brand: Nie-teoloë se perspektiewe op Bybelverse
Samestellers: Pieter Malan & Chris Jones
Naledi, 2018
ISBN: 9781928426295
Wat het hierdie boek met Jean Oosthuizen se Die opkoms en ondergang van die NG Kerk en die feit dat Marlene le Roux vanjaar se Russel Botman-gedenklesing gegee het, in gemeen? In al hierdie gevalle begewe nie-teoloë hulle op wat tradisioneel as teologiese terrein beskou is. Waaraan is hierdie nuwe vrymoedigheid te danke dat dié terrein wat vroeër streng bewaak en vir die ingewydes bewaar is, nou met “leke” gedeel word?
Enersyds kan ’n mens vermoed dat dit te doen het met die geloofwaardigheidskrisis waarmee baie gesagsinstansies steeds stoei, so ook in kerklike kringe in besonder die afgelope tyd. Andersyds kan dit toegeskryf word aan ’n “demokratisering” van hierdie ruimte naas ander ruimtes. Dit het aan die een kant baie positiewe gevolge, maar het aan die ander kant ’n toetrede van stemme tot die openbare gesprek tot gevolg wat allermins verantwoordelik met byvoorbeeld die Bybel omgaan.
In Die braambos bly brand is daar gelukkig min sprake van laasgenoemde. Dis ’n besondere samestelling van oordenkings na aanleiding van Bybeltekste aansluitend by die “preek van die leek” waarmee al op Stellenbosch geëksperimenteer is. Uit die versameling van bydraes kan gesien word dat dit alte strenge grense tussen geloof en ongeloof uitdaag, siende dat baie van die skrywers hulle iewers op die spektrum tussen dié twee pole bevind. So word gesorg vir vars perspektiewe en opwindende leesstof.
Dit word meer as eenkeer genoem dat die Bybel die mees invloedryke “boek” van alle tye is. Uit hierdie bydraes is dit duidelik dat tekste uit die Bybel bly inspireer maak nie saak uit watter hoek jy na die Bybel kom nie. Dis verder duidelik dat die Bybel steeds ’n gemeenskaplike verwysingsraamwerk vir meeste van die skrywers bied hoewel almal nie meer tradisionele vorme van die Christelike geloof aanhang of kerk toe gaan nie. Enkele van die bydraes bied ’n refleksie op die skryfproses van hul bydraes tot hierdie bundel. Vir Hunter Kennedy voel dit soos ’n “opdrag”. Joan Hambidge het dit oor “synchronicity”. Ander vind aanknoping by die keuse wat hul moes maak om ’n teks te vind om oor te skryf. Rachelle Greeff skryf aangrypend só.
Dit herinner my aan die pad wat ’n predikant gewoonlik weekliks met ’n Bybelteks stap op pad Sondag-toe. ’n Dinamiese dans met daai teks het gewoonlik vir my die beste vrugte afgewerp, in plaas daarvan om met jou neus te plat teen die ruit van ’n teks te staan en so uitsig te verloor. Omdat baie van die skrywers hier self kreatief met ander tekste omgaan, vind hulle maklik ritme. Hulle vertellings, staaltjies en stories laat die Bybeltekste nuwe asem kry.
Van die wegspring af sit Julian Jansen dinge op ’n hoë noot in; Wilhelm Jordaan bied ’n diep oordenking oor die aard van geloof in ’n uitdyende God; vanuit ’n longue durée (op-die-lange-duur) “pragmatiese, ekonomiese perspektief”, lees Dawie Roodt persoonlike eiendomsreg as feitlik normatief raak in die Bybel. Ek sou sê die bril waardeur hy na die teks kyk is beslis Westers gekleur wat dalk nie so getrou is aan die Ou Nabye-Oosterse Bybelse wêreld nie; Jean Oosthuizen kom ook hier aan die woord; Koos Kombuis se bydrae is ’n parodie op die bekende “Voetspore in die sand”-gedig; Nadia Goetham bevind haar op die drumpel van die dood; Karel de Pauw skok oor die verband tussen die eerste kernbomontploffing en die wederkoms.
Lizette Rabe vertel dat sy universele waardes en beginsels omhels het wat nie geloofsgebonde is nie, maar “juis dit (is) wat die kruispunte tussen gelowe is”. Valda Jansen is noemenswaardig. Pik Botha se bydrae (wat onlangs in Rapport verskyn het) verwoord die verlange wat volgens die teoloog Denise Ackermann die begin van die inniger reis na God is.
Churchil Naudé loop jou tromp-op; Flip Buys gee fassinerende ervarings met rylopers weer; in Piet Croucamp se nadenke oor godsbeeld is Jesus die een wat die verlossing van ’n deterministiese God bring en “in stryd (is) met die genadeloosheid van God en die natuur”. Valiant Swart vertel hoe sy pad in Amerika gekruis het met die storie van die legendariese blues-musikant Robert Johnson.
Riku Lätti vra: “Was (die verandering van water in wyn) ’n wonderwerk? Ek weet nie, ek was nie daar nie. Was KPMG daar om die kruike heeltyd dop te hou om te sien dat Jesus nie kroek en skelm-skelm die kruike met bokswyn vul nie? Kan mens KPMG vertrou? Maak dit saak? Jesus het die wyndroogte laat end kry, gee hom bietjie krediet, los die feite, geniet die wyn.”
In Luke Alfred se verhaal oor sy oupa hoor jy die melancholie. Nathan Trantraal sit sy vinger op die seer van hipocracy in die kerk wat hom nie eers meer uit morbid curiosity soontoe laat gaan nie. Christi van der Westhuizen doop die teks vry om vrysprekend en vrymakend te wees en te bly.
Wat vir my opvallend met die lees van Braambos is, is hoe min “aggressiewe ateïsme” daar tussen die blaaie van hierdie boek te vinde is. Die samestellers Pieter Malan en Chris Jones verdien ’n pluimpie vir die produk wat hul aanbied: dis kraakvars en propvol. Ek gaan nou eers ophou lees voordat ek nog iets vind wat ek net móét sê of names kry wat ek wil drop. Die braambos bly brand gaan jou kerskous propvol maak. En baie daarin gaan lank bly eggo.
The post <em>Die braambos bly brand</em>, saamgestel deur Pieter Malan en Chris Jones: vars uitkyk van nie-teoloë appeared first on LitNet.