Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1806

Gert & Joey deur Pieter van Zyl: ’n resensie

$
0
0

Gert & Joey
Pieter van Zyl
Penguin Random House South Africa
ISBN: 9781776093144

Dit is glad nie verbasend dat Gert & Joey – nuwe lig op ’n raaisel van dertig jaar, so gou ’n tweede druk beleef het nie. Die verhaal oor twee van Suid-Afrika se berugste misdadigers laat mense al dekades lank ril, gril en wild bespiegel.

Hierdie ware lewensdrama bevat immers al die elemente van ’n spanningsverhaal — ’n bizarre liefdesverhouding, tergende raaisels, kinderontvoering, perverse seks en onverklaarbare, onopgeloste misdade waaroor al jare lank bespiegel word.

Sommige bronne verwys selfs na Gert van Rooyen as ’n “reeksmoordenaar”, hoewel die ses meisies se lyke nooit opgespoor is nie en ander meen hulle leef nog.

Pieter van Zyl is ’n bekroonde, bekende en gerespekteerde joernalis wat met deernis en empatie skryf. Hy is self so diep geraak deur die gebeure dat hy prontuit op die gewilde televisieprogram, Kwêla, vertel het dat hy nadat hy die boek geskryf het, geknak het en sielkundige behandeling moes kry.

Die boek is danksy van Zyl se aanslag boeiend, sal geen leser koud laat nie en lees maklik.

Wat my egter pla is die subtitel; “Nuwe lig op ’n raaisel van 30 jaar.” Ek vind die subtitel iewat opportunisties, maar nouja, uitgewers moet seker ook ’n bestaan maak en soveel as moontlik aandag met die voorblad trek.

Die waarheid is dat daar egter myns insiens nie veel nuwe lig op die gebeure gewerp is nie, want daar is swaar gesteun op bronne in die gedrukte media (van so ver terug as 1994) waaruit lang dele aangehaal is. Dis net vir my ietwat misleidend, want die titel laat jou dink dalk, net dalk, is daar betroubare leidrade of groot nuwe onthullings oor wat met die dogtertjies gebeur het sodat die diep beproefde ouers uiteindelik kan afsluiting kry. Van hulle is natuurlik al oorlede sonder dat die saak opgelos is (ook weens gebroke harte, is al vertel) omdat Suid-Afrika se berugste pedofiel en Joey, sy medepligtige, die donker geheime saam graf toe geneem het. Ek beskou die boek dus eerder as ’n puik samestelling van die gebeure.

Natuurlik is dit moeilik om die opspraakwekkende saak byna 30 jaar na die tragedie te ondersoek. Polisielede het al vertel dit kan jare duur, sal baie duur wees en daar is geen waarborge dat die waarheid ooit ontrafel sal word nie. Baie van die mense wat dalk betrokke was of meer kennnis oor die gebeure gedra het, leef nie meer nie, terwyl ander glo doodeenvoudig te “bang” is om te praat. Dit is dus ’n reuse en eintlik onbenydenswaardige taak om so ’n ambisieuse projek aan te pak.

Ek is een van die mense wat oor die jare elke moontlike artikel oor Gert en Joey gelees het, en ek kan baie van die inligting in die boek onthou. Vir jonger mense wat destyds nog nie gebore was nie of kinders was, sal die inligting nuut wees. Ander herleef dit weer in besonderhede.

Om en by die tyd van die bekendstelling, is daar op sekere facebookblaaie gal gebraak oor die boek wat kwansuis “sensasioneel” is en daarom sal mense nie daaraan raak nie. Toe nou nie. Verkope toon die teendeel.

Die woord “sensasioneel” op sigself, is ook vir my problematies. Wat is sensasie? Dit gaan tog oor vraag en aanbod. Dit gaan sekerlik ook eerder oor die “scoop” as oor die mense se gevoelens. Maar Van Zyl is glad nie harteloos nie. Hy haal nie die menslikheid uit mensestories uit nie.

Van Zyl gaan op ’n reis wat hom in Gert en Joey se spore laat stap. Hy besoek die Moot, gesels met kennisse, vriende en familie, die slagoffer wat weggekom het en die polisie om soveel as moontlik inligting te kry. Maar helaas, daar is nog geen behoorlike leidrade nie. Net baie botsende teorieë, menings en wilde gerugte.

Een van die dinge waaroor die meeste deur die jare gegis is, is hoe die berugte paartjie gesterf het. Amptelik het hulle selfmoord gepleeg, maar hardnekkige gerugte doen steeds die rondte dat die Polisie hulle uitgehaal het. Polisielede met wie van Zyl gepraat het, beskou dié bewering as verregaande.

Hoekom, wonder ‘n mens, sou Joey dit op skrif in ’n roerende brief aan haar ma stel dat die Bybel ’n mens leer dat daar nie vergifnis is as jy jou eie lewe neem nie? Ander glo steeds dat daar ’n pedofielsindikaat in die land was waarby parlementslede betrokke was.

Gert, die walglike psigopaat vir wie talle gegril het en wat met seks sowel as godsdiens behep was, se persoonlikheid word goed in die boek geskets. ’n Mens haat hom net meer as ooit. Dit is verblydend dat die sieners wat die meisies probeer opspoor het, ontbloot is. Hulle het vals hoop vir die geliefdes gegee wat na die laaste strooihalm gegryp het. Daar was ook talle ander wat met die bedroefde familie se koppe gesmokkel het.

Maar soos een van die familielede opgemerk het: “As jy emosioneel by iets betrokke is, hoor en sien jy wat jy wil.”

Van die interessantste hoofstukke in hierdie boek is dié oor Suid Afrika se dodelikste liefdes en mees toksiese paartjies waarin na hierdie misdadigers se psige gekyk word en die menings van sielkundiges en kenners oor psigopate wat totaal gewetenloos en onrehabiliteerbaar is.

Sal die saak ooit opgelos word?

Ons weet steeds nie wat feit en wat fiksie is nie. Die hoop beskaam egter nie want so ’n boek plaas weer eens die fokus op hierdie ondenkbare misdade. En dalk is dit ’n goeie ding. Dalk kom iemand, met ’n gewete, met sinvolle inligting vorendag. Soos oor die geheimsinnige aantreklike blonde soldaat wat saam met Gert-hulle rondgehang het, waaroor geskryf word. Sodat die meisies se geliefdes finaal kan afskeid neem en broodnodige afsluiting kan kry. Bygesê, as hy ooit bestaan het.

Dis in elk geval bemoedigend dat die saak, soos van Zyl skryf, steeds oop is.

Die boek sal dalk ook ouers meer bedag maak op die veiligheid van hul kinders. As hierdie grusame misdade in die relatief veilige tagtigs gebeur het, hoeveel te meer nie vandag in ons misdaadgeteisterde land en inligting wat vrylik op sosiale media beskikbaar is nie?

Sou ek die boek aanbeveel? Ja. Dis krimi-geesdriftiges se kos.

  • Carla van der Spuy is ’n skrywer van onder meer Mishandel, Misbruik, Misken – Joey Haarhoff was my ma, Lapa-uitgewers 2016

The post <i>Gert & Joey</i> deur Pieter van Zyl: ’n resensie appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1806