Titel: 'n Brief vir Reina
Skrywer: Elsa Winckler
Uitgewer: Lux Verbi 2018
ISBN: 9780796321008
Haar ouma sterf op dieselfde dag wat Reina Sauer se lewe weer eens inmekaar val. Sy skei na ’n kortstondige huwelik met Bert Naudé, wat haar verneuk het.
Toe haar ouers albei vyf jaar tevore in ’n motorongeluk oorlede is, was ouma Reina nog daar om te troos, maar hierdie keer moet Reina alleen die stukke van haar lewe optel.
’n Ontwikkelaar kontak haar: hulle het planne om haar ouma se huis op McGregor deel van ’n sekuriteitskompleks te maak. Sy los haar oudhedewinkel in die Kaap in Bippie, ’n student wat oor naweke uithelp, se hande en vertrek na McGregor. Sy wil die verkoop van haar ouma huis so gou as moontlik afhandel, sodat sy met haar lewe kan voortgaan.
Maar dinge is nie heeltemal so eenvoudig nie. Wat maak sy met tant Cora Verwey en tant Trina van Zyl wat skynbaar die afgelope jaar by haar ouma gebly het, waarvan sy niks geweet het nie? En hoe gemaak met oom Fred Bouwer wat elke dag iets in en om die huis kry om reg te maak?
En daar is daar die ontwikkelaar, Derek Retief, wat haar ouma se huis wil koop, maar haar vlinders op haar maag gee. Maar hy is ontnugter, sinies en kwaad. Sy vennoot het hom ingeloop; sy verhouding met sy familie is aan flarde, en van verlief raak is daar geen sprake nie.
Reina begin die huis opruim en kom in die solder op ’n boks vol briewe af. Met verstomming lees sy hoe haar ouma dit reggekry het om ’n onmoontlike besluit te neem wat uiteindelik haar kleindogter se lewe moontlik gemaak het.
Iewers langs die pad het sy wat Reina is, ophou bid, ophou glo, maar terwyl sy deur haar ouma se lewe blaai, ontdek sy weer haar behoefte aan die Here.
Elsa Winckler is ’n internasionaal-gerekende romanseskrywer wat oorsee ook in Engels uitstekend verkoop. Sy het met haar eerste romanse, Tussen jazz en rock, in 2008 die rooi rose/LAPA-liefdesverhaalkompetisie gewen. Elsa het ook die jaar daarna met dieselfde boek die ATKV-Woordveertjieprys vir Romanses gewen. In 2014 het sy nog ’n ATKV-Woordveertjie vir die Satyn-romanse, Te eenders, te anders gewen en in 2016 weer met Liefde in laslap. Sy haal die kortlys in 2017 met Liefde deur ’n lens.
Sy het al verskeie liefdesverhale op haar kerfstok en is dus geen vreemdeling vir hierdie genre nie. Met elke boek wat sy skryf, is haar skryfwerk meer afgerond; die lae word meer en dieper.
In hierdie boek verweef sy geloof en vertwyfeling baie slim deur die verhaal, sonder om die pap te dik aan te maak, wat dalk nie-Christene sou kon vervreem het. Die interessante storielyn is iets anders en dis verfrissend dat ’n klein Karoodorpie soos McGregor gasheer vir soveel intrige kan speel.
Die boek is lekker vermaak en die wisselwerking tussen goed en kwaad word goed geïllustreer. Dit wys hoe ons almal maar net menslik en feilbaar is.
Ek het die boek in een aand deurgelees – en het dit die volgende oggend berou toe ek lusteloos van die min slaap uit die vere moes klim.
Die enigste leemte in die boek is ’n meer omvattende blik op seerkry en verlies. Ek voel dit raak te ligtelik aan die kompleksiteit van verhoudings – veral mislukte verhoudings en die skending van vertroue. Vertwyfeling, berading en die besluit om jou in ’n huwelik te begewe, word te oppervlakking en oorsigtelik benader. Daardie eendimensionele emosies het ons almal op hoërskool agtergelaat.
Ek het die gevoel gekry die skrywer wil net die boek klaarkry.
Miskien is dit die genre hiervoor, maar die boek kon vir my baie meer pitkos gelos het as dit die karakters se sielestryd ernstiger opgeneem het. Ek dink byvoorbeeld aan haar benadering vir ’n volwasse man met diep letsels van sy kinderdae wat berading gaan soek; hom in ’n verhouding begewe en dan so maklik alles oorboord gooi. Of die kits-oplossing vir ’n jong swanger meisie wat haar toekoms wil skoei op iets wat iemand anders jare vantevore gedoen het, net omdat dit ’n gelukkige einde gehad het.
As dit ligte vermaak is waarna jy soek, is dit die boek vir jou. Maar ek glo dit kon soveel meer gewees het.
The post <em>'n Brief vir Reina</em> deur Elsa Winckler: ’n resensie appeared first on LitNet.