Spertyd
Elsa Joubert
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624084327
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.
Hierdie bekroonde skrywer se mees onlangse werk, Spertyd, is die kulminasie van haar outobiografiese trilogie wat begin het met Wonderlike geweld (2005) en Reisiger (2009). Joubert, 94, skryf sonder pretensie en sentiment oor ouerword. Niks van Eugenia Price, Helen Steiner Rice of ander inspirasieskryfsters is te vinde in die deel van haar ervarings nie. Sy romantiseer nie ouerword of aanvaar goedskiks die ongerief, pyn en verlies wat met ouderdom gepaard gaan nie. Haar beskrywing van ’n ete-afspraak saam met drie negentigplussers is meesterlik. Sy wag by die aftreeoord se elektroniese hek vir die vriendin, wat darem nog kan bestuur. Die tierende swart suidooster waai verwoed en sy klou verbete aan die tollende Stomjapie, die vierwielkontrepsie om staande te bly. Met die huis toe gaan is dit byna ’n krisis om haar vriendin betyds by die hek uit te loods voordat dit haar met kar en al “soos ’n konsertina papdruk”. Sy beskryf haar ervaring by die tandarts soos volg: “Dis oorgawe, dis geloof. En die bore druis en donder deur jou kop, dan skril dit weer, prik, prik dit; dan fluit dit; dis soos ’n orkes-uitvoering, dink ek; die viole is die klein, gladde boortjies, die tjello’s is die grotes en nog donkerder die kontrabas, die slat van die simbale; ek probeer die temamusiek uit al hierdie verskillende oorde uitken, maar verniet.”
Joubert beskryf met patos die “skimwêreld” waarin die ouerwordende persoon hom/haar al hoe meer bevind: die verwarring, die vergeet van die alledaagse gryp jou aan die hart. Die prentjie wat sy skilder van die bejaarde inwoners wat reg oorkant die hospitaal woon sodat hulle sommer self kan oorstap/oorgedra word terwyl die helper die verkeer vir ’n minuut of wat tot stilstand bring, wil-wil ’n glimlag ontlok; en tog – die weerloosheid van die persoon in die hospitaalsaal, ook haar eie ervarings, herinner jou aan jou broosheid, afhanklikheid en verganklikheid.
As jy vanjaar net een boek lees, laat dit hierdie een wees!
The post <i>Spertyd</i> deur Elsa Joubert: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.