Van kant gemaak deur Kris van Steenberge. Fanie Olivier het die verhaal uit Nederlands vertaal en Protea Boekhuis is die uitgewer.
Die roman speel grotendeels af in Woesten, ’n dorpie naby Ieper in Wes-Vlaandere. In daardie deel van België het ’n aantal skrikwekkende veldslae van die Eerste Wêreldoorlog plaasgevind.
Hoewel die geskiedenis ’n beduidende rol in die roman speel, is Van kant gemaak eerder ’n verhoudingsroman.
Elizabeth, die dogter van ’n smid, is tot haar ouers se afgryse verlief op Hendrik uit die laer stand. Sy trou later met Guillaume Duponselle, ’n jong mediese dokter. Elizabeth se ryk, maar moeilike skoonma, weier om hulle finansieel te ondersteun en die egpaar se droom om ’n lewe ver van Woesten af te bou, sneuwel daarom. Albei is onvervuld en Elizabeth vul haar dae met kantkloswerk.
Hendrik bly nooit ver van haar gedagtes nie, maar dis Guillaume wat haar swanger maak. Hul verhouding is van meet af aan kompleks, veral nadat Elizabeth aan ’n tweeling geboorte skenk. Die eersgeborene, Valentyn, is sy pa se trots, maar ook die een wat die ouer man se drome sal moet uitleef. Groot is Guillaume se verbasing wanneer hy nóg ’n seun moet verlos. Dinge loop skeef en die kind is so misvormd dat Guillaume weier om hom ’n naam te gee. Naamloos sal tog vroeg sterf, reken sy pa.
Teen alle verwagtinge in leef die seun, al moet hy gesluierd deur die lewe gaan. As Valentyn ook maar net so slim soos Naamloos kon wees! is sy vader se versugting. Naamloos leer via sy broer meer van die lewe daar buite ken. Die tweeling vorm ’n hegte eenheid teen die aanslae van die gemeenskap.
Dinsdae wanneer meneer Funke (soos sy haar ouer vriend noem) kom kuier, kry Elizabeth se onvervulde lewe kleur. Funke ontsluit haar vervelige wêreld deur middel van boeke en intellektuele geselskap.
Die Eerste Wêreldoorlog tree op die toneel. Valentyn ondergaan fisieke en geestelike verandering. Teen die verwagting in leer hy van voor af liefde ken. Ondertussen wonder die leser wat sal gebeur wanneer die twee broers mekaar weer ná jare ontmoet.
Hierdie bekroonde roman (wat in 2013 onder die titel Woesten in Nederlands verskyn het) is in vyf dele verdeel. Die afdelings word om die beurt uit die perspektief van die verskillende hoofkarakters vertel. Gebeure volg nie chronologies nie. Hierdie vorm van aanbieding hou jou vasgenael.
Die hoofstukke waarin Naamloos aan die woord is, ontlok empatie. Veral omdat hy nie kan praat nie, maar tog slim is. Hy word ook seksueel misbruik.
’n Besliste hoogtepunt is die deel wat vanuit Guillaume se perspektief vertel word. Mens wil tog weet hoe dit gekom het dat hy in ’n dronkaard ontaard en ’n mislukte chirurg geword het.
Die karakterisering is ’n faset van die roman wat lof verdien. Die karakters kom in al hul glorie voor jou te staan. Guillaume se ma, die juweelbehangde madame Duponselle, word byvoorbeeld beskryf as “’n (h)ooghartige, sleg-geparfumeerde dame ...”
Naamloos is die karakter wat jou sekerlik die langste sal bybly. Hy is die sagsinnige teenwoordigheid wat ’n simbool van vervreemding word. Die kwessie van identiteit word só belig. Verskillende voëls word weer simbole van gebeure wat sal volg.
Die taalgebruik is uitstekend en die roman besonder ryk aan beeldspraak. Soos: “Hulle sou juig omdat hulle uiteindelik ontslae is van die vel wat hulle vir jare reeds probeer afkrap omdat die lewe so verskriklik jeuk as jy dit nie kan bykom nie.” Die sekstonele is andersoortig, maar treffend. Só eindig een: “Op sulke oomblikke asem die lug die mense in en nie andersom nie.”
Die Afrikaanse titel, Van kant gemaak, verdien melding. Nie net verwys dit na kantwerk én die dood nie, maar die diggeweefdheid van die verhaal met sy onverwagse moordkinkel word ook so weerspieël.
’n Oop einde kenmerk meestal goeie hedendaagse letterkunde. Dis egter verfrissend dat die slot van hierdie roman die leser se vrae beantwoord en jou bevredig en vervuld laat. Van kant gemaak het ’n hegte struktuur en die verskillende verhaallyne word soos kantwerk afgerond.
Indien jy nog nie ’n leser van Nederlandse letterkunde is nie, sal hierdie roman jou waarskynlik inspireer om meer hieroor uit te vind. Van kant gemaak is Van Steenberge se eerste roman. Wat ’n meesterstuk is dit nie! Hopelik sal sy tweede verhaal, Blindelings, ook die lig in Afrikaans sien, weer met Fanie Olivier as puik vertaler.
FMR-boekkeuse-resensie, uitgesaai op Woensdag 15 Augustus 2018
Aanbieder: Amanda Botha
The post <em>Van kant gemaak</em> deur Kris van Steenberge: ’n FMR-resensie appeared first on LitNet.