Die kortlyste is pas bekend gemaak vir vanjaar se kykNET-Rapport Boekresensent van die Jaar-pryse waarmee erkenning gegee word aan die room van Afrikaanse resensies wat in 2017 verskyn het. Twee pryse van R25 000 elk is op die spel vir Afrikaanse resensies oor Afrikaanse fiksie en niefiksie onderskeidelik.
Dié jaarlikse pryse is ingestel om die belange van boeke en die leesgenot van boekliefhebbers te bevorder deur die wêreld van Afrikaanse boeke vir die breë Suid-Afrikaanse publiek toeganklik te maak. Dit dien ook as aanmoediging om hoë standaarde in die Afrikaanse boekjoernalistiek te handhaaf.
Vanjaar se keurders was Bibi Slippers, Danie Marais en Loftus Marais.
Die kortlyste, wat uit 99 inskrywings saamgestel is, is in alfabetiese volgorde soos volg:
Fiksie:
- Ronel Foster – “Die gedig as karapaks” (oor Krap uit die see deur Fourie Botha, LitNet, 11 Desember 2017)
- Charl-Pierre Naudé – “Jong digter verskalk haar leser behoorlik” (oor Radbraak deur Jolyn Phillips, Media24-dagblaaie, 24 Julie 2017)
- Deborah Steinmair – “Slagoffer in haar eie ‘seepbel’ kon net sowel jý gewees het” (oor Web deur Naomi Meyer, Rapport Weekliks, 19 Maart 2017)
Niefiksie:
- Willie Burger – “Kies ’n boek” (oor Op pad deur Dana Snyman, Vrouekeur, 13 Oktober 2017)
- Jean Meiring – “Skitterende kleinood van ’n vol lewe geleef” (oor Elsa Joubert se Spertyd, Media 24-dagblaaie, 27 November 2017)
- Louise Viljoen – “Die boegbeeld van die Afrikaanse letterkunde” (oor Gespreksgenoot: ’n Brieweboek, saamgestel deur Heilna du Plooy, Media24-dagblaaie, 16 Oktober 2017)
Volgens die sameroeper van die keurpaneel, Bibi Slippers, was dit ’n aangename verrassing om inskrywings van soveel nuwe resensente te ontvang. “46 mense het ingeskryf, 13 meer as verlede jaar. Die feit dat dit ’n klompie gesoute resensente is wat op die kortlyste verskyn, wys maar net weer dat die resensiekuns met tyd en baie oefening en probeerslae bemeester word. Ons hoop hierdie pryse dien as aansporing vir nuwe en jonger resensente om ook hulle stemme te laat hoor – dis lekker om te sien hoe die peil van sekere resensente se inskrywings jaar ná jaar verbeter, en met volgehoue toewyding sal die jonges in die nabye toekoms meer gevestigde resensente die stryd behoorlik begin aansê.”
Die keurders is dit eens dat daar ’n groot klomp uitstekende resensies onder vanjaar se inskrywings getel het. Danie Marais sê: “Die inskrywings getuig van ’n lewendige Afrikaanse uitgewersbedryf en leeskultuur. Al die resensies op die kortlyste is ’n verhelderende plesier om te lees en elkeen van hierdie kritici lewer gereeld sprankelende bydraes tot boekeblaaie. Daar was verskeie ander inskrywings wat waardige pryswenners sou wees.”
Natuurlik is daar ook ruimte vir verbetering. “Daar is ongelukkig ’n aantal resensies wat lees soos boekverslae eerder as lewendige besprekings wat op sigself onderhoudend en boeiend is,” sê Danie Marais verder. Loftus Marais som die keurders se belangrikste punt van kritiek as volg op: “Mens kry tog wel soms die indruk dat die Afrikaanse resensiekunde te suutjies trap. Hier en daar wonder mens: Maar wat is jou óórdeel nou eintlik, presies waar werk dinge, en waar het hulle nie gewerk nie? Die toets van openbare kritiek is ’n belangrike ene – ook vir die skrywer.”
Die wenners word op Saterdag 22 September 2018 saam met die wenners van die kykNET-Rapport-boekpryse in Kaapstad aangekondig.
The post kykNET-Rapport Boekpryse 2018: Kortlyste vir resensiepryse bekend appeared first on LitNet.