Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1796

Dubbelspiraal deur André Jansen: ’n resensie

$
0
0

Dubbelspiraal
André Jansen
Queillerie
ISBN:  9780795801808

Met ’n meesterlike ratatata-inleiding neem die skrywer die leser in hierdie roman (speurrroman?) op ’n vinnige, intense voëlvlug oor  vier vurige dekades van die afgelope Suid-Afrikaanse geskiedenis.

Die skrywersnaam, Andre Jansen, is ’n skuilnaam, wat jammer is. Duidelik is die manuskrip dié van ’n ervare, belese en besonder nougesette ondersoekende skrywer.

Nietemin. Koos Jordaan, geheime polisieagent, is tam van moegheid, ’n persoonlike tragedie, ’n verbrokkelende huishouding toe hy in 1976 ’n ervaring vreemd aan hom beleef. Hy kon die jongman doodgeskiet het, maar hy het nie. ’n Tartende, lang verhouding begin.

Die teks bevat die essensie van ’n riller: spanning, styl, seks. Tog, ten diepste, is dit die verhaal van die eksistensiële bestaan in hierdie geteisterde land. Koos Jordaan sien dit nie so nie. Hy is net bewus van sy eie feilbare lewe en sy lewe in Wachthuis, die oorbekende polisiehoofkwartier van die ou regime – en toe van die nuwe. Vandaar kry Koos opdragte. Daar word hy uitmergelend ondervra.

Na ’n filosofiese, tergende inleiding word die leser onmiddellik geduik in die slag van Cassinga, 1978.Vernietiging, ratels, lyke, ellende. Die teks word op knetterstyl gelewer. Eenwoordsinne. Uitroeptekens. Asof die vertelling nie net visueel nie, maar ook hoorbaar moet wees.

Dan, vreemd, in ’n latere hoofstuk is daar een van die langste sinne wat enige leser kan raaklees. In ongeveer 2500 woorde beleef Koos Jordaan ’n soort Molly Bloom alleenspraak (vgl James Joyce se Ulysses). Dié mymering geskied terwyl Koos in ’n tou staan om in 1994 in  Mtubatuba te stem. Digterlik. ’n Bietjie uitmergelend. Nogtans ’n goeie oorsig van sy denke en lewe.

Tot hiertoe het Koos reeds Amsterdam, Parys en Boiphatong beleef.

Hoewel Koos hoegenaamd nie ’n romantikus is nie, lei die skrywer lesers op sy togte met ’n amper nougesette reisbeskrywing. Koos sien karaktereienskappe vlymskerp raak. Mevrou Simons in Amsterdam is ’n bejaarde flerrie. Jaques Pelous ’n straatagent/krimineel. Hy herken ’n gesig in ’n koffiewinkel. Kan dit wees? Hy?

Dan kan die leser met Koos die Franse moltrein meemaak van Opera tot Rue Anatole France. Ook die beskrywings van ’n Paryse agterbuurt.

Later ook ’n verskrikkingsnag in Boipatong in 1992 met beskrywings van die huise, die stegies, die vlugtende mense. Ook reis die leser later die lang pad saam van Bettysbaai oor Constantia na Kaapstad en dan weer terug langs die onvergelyklike pragtige pad tussen Gordonsbaai en Bettysbaai.

Intussen word die kruisverhore, agterdogtige ondervraery in Wachthuis  dringender. Onrus word skerper.

Die Quatro-strafkampe van die ANC kom onder die oog. Ongenadig. Die ANC se onmenslike optrede teen diegene wat hulle baie maklik, sonder verhore, sou verdink het as verraaiers.

Orals duik Peter Ndlela op. Eintlik Xolisa Ndlela, Xhosa. Van Cofimvaba in die Transkei. Is hy vriend? Is hy vyand?

Koos moet hom uithaal. Maar dis Florence April wat sterf.

 (Die leser word dadelik herinner aan die werklike moord op die ANC kader Dulcie September in Parys.)

In Boipatong sit Koos in ’n beknopte Casspir wat deur die strate van die township kruip. Die angs in die voertuig is voelbaar. Buite vlug mense uit hul huise, word geweerskote gehoor, sien hulle die geweervuur. Ontploffings. Het  Xolisa Ndlela veilig uit sy huis gevlug?

Die verweefdheid van regeringsmagte en Inkatha-eenhede dui sterk op die wedersydse begrip van stamkultuur. Die Zoeloe-impi’s kniel, hurk in ou ingewortelde vegkuns. Vreesloos. Immers is hulle Zoeloes.

Dis op stemdag, 27 April 1994 op Mtubatuba dat Koos en sy ontwykende vriend/vyand ontmoet.

Koos, op die ingewing, bied aan om die motorlose Xolisa na sy geboortedorp Cofimvaba te neem. ’n Lang reis wat goed gedokumenteer word deur suikerrietlande, gehawende dorpies.

Hulle kon vriende geword het.

Uiteindelik kom die onvermydelike. Die staat se masjinerie van inligting kom in werking.            

Miskien het die skrywer reeds die filmregte op die roman verkoop. Dit sal nie verbasend wees nie.

The post <em>Dubbelspiraal</em> deur André Jansen: ’n resensie appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1796


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>