Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1795

Katelknaap deur Leon van Nierop: ’n resensie

$
0
0

Katelknaap
Leon van Nierop

Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781485903550

So driekwart deur Katelknaap het ek begin dink ek lees ’n chicklit, maar vir dudes (sal dit dan dudelit wees?). Soos ons nou al weet, fokus chicklit op die wedervaringe van die vroulike hoofkarakter, maar ook haar groei deur die verhaal. Alhoewel daar romanse voorkom, is dit nie die hoofdoel van die boek nie en is dit beslis nie ’n gegewe dat die man en die meisie op die ou end by mekaar gaan uitkom nie. Goeie voorbeelde van chicklit is Candice Bushnell se Sex and the city of Helen Fielding se Bridget Jones’s Diary.

Met hierdie definisie in jou agterkop is dit dan nie verbasend dat mens foutiewelik kan dink dat jy met ’n dudelit te doen het nie. Katelknaap kom ná Plesierengel, wat in 1998 verskyn het, en dan weer in ’n herskrewe weergawe in 2013. Ek het nie Plesierengel gelees nie en kan glad nie kommentaar lewer oor die verwantskap, al dan nie, van die twee eendersbenoemde hoofkarakters nie. Katelknaap word vertel vanuit die perspektief van die manlike hoofkarakter, Tristan Hansen, en daar was nog nie so baie romans wat ek gelees het wat so fokus op die diepste gedagtes, vrese en onsekerhede van ’n man nie.

Partymaal was dit vir my vreemd – die man is duidelik superaantreklik, sportief en gewild, en hy kom uit ’n redelik normale, middelklas huis. Geen geraamtes, geen mishandeling en geen groot krisisse wat hom so kan laat twyfel in homself nie. Totdat jy agterkom dat die man wel kan wroeg met ’n hoofletter-W. Sy pa het kennelik selfmoord gepleeg, wat hom, volgens sy innerlike dialoog, hard getref het. Sy ma kom voor of sy ’n godsdienstige feeks is, maar teen die einde is hul verhouding en sy heel normaal en is hy tog lief vir sy ma. En dan is daar die sinistere blindheid wat hom bekruip na aanleiding van een of ander geneties-oordraagbare, naamlose siekte. Hierdie siekte is klaarblyklik verantwoordelik vir die depressie in beide Tristan en sy pa.

Leon van Nierop (Foto: Joanne Olivier)

Die boek is vir my interessant en dit gee ’n nuwe perspektief op die idee dat seks vir mans partymaal bloot om die fisieke gaan en dat emosie beslis nie vir hulle ’n rol speel nie. Tristan “doen” emosie. En gevoel en romanse, en neem jou die onweerstaanbare, ekstatiese hoogtes in. Maar hy is nie slegs ’n katelknaap, prostituut, gigolo of plesiertier nie; hy is ’n metgesel, gaan opera toe saam met sy kliënte en gee werklik vir elkeen van hulle om. Daar was tye wat ek gewens het ék kan Tristan bestel vir die aand (en ja, die sekstonele is veelvuldig en bevredigend goed geskryf).

Jare gelede was daar ’n roomys op die mark met die naam Maxibon. Ek weet nie of dit meer op die mark is nie, maar dit was twee roomyse wat aan mekaar vasgeplak was. Soos ’n pizza wat ’n Hawaiian is op die een helfte en ’n Siciliana op die ander helfte. Twee smake in een. Dit is hoe ek Katelknaap ervaar het. Aan die een kant is daar die lekker, lawwe seksknaap wat weet net wat om met sy tong te maak, maar aan die ander kant probeer iemand hom doodmaak, klaarblyklik vind hy self nooit liefde nie, en hy word stelselmatig blind. Die man se lewe is ’n gemors!

Die wending of onderliggende diepte in die boek pla my as leser, want ek wou tog net hê die mooie Tristan moet ook uiteindelik sy geluk of vrede vind. Aan die ander kant is dit dalk ’n teken van ’n boek met meer diepte en dimensie, omdat ek konstant vandat ek die boek klaargelees het, daaraan dink. Ek dink wel dat die balans effens uit is tussen die seks en saffier aan die een kant en die intriges aan die ander. Ek sou beslis meer besonderhede oor sekere karakters en gebeure wou gehad het en die optimis in my weier om te glo dat ’n mens in hierdie moderne era nie iets aan sy misterieuse oogsiekte sou kon doen nie. Daar is ook einde ten laaste te veel los drade rondom die vrouens in sy lewe (of uit sy lewe), wat my effens onbevredig gelaat het. En dis jammer, want Tristan laat geen vrou ooit onbevredig nie!

The post <i>Katelknaap</i> deur Leon van Nierop: ’n resensie appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1795


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>