Dance with a poor man’s daughter
Pamela Jooste
Uitgewer: Black Swan
ISBN: 9780552997577
Soos ’n pragtige, handgemaakte lappieskombers, so is dié boek van hierdie Suid-Afrikaanse skryfster. Haar boek is ’n kunswerk, veral weens die skryfstyl om momente weer te gee in klein brokkies wat later ’n geheel vorm. Dit word aanmekaargeflans met humor – eg Suid-Afrikaanse sêgoed eie aan die bruin gemeenskap. Daar is interessante en lewendige karakters met wie ’n leser kan vereenselwig. Die kombers vou knus en warm om jou en is perfek om byderhand te hê op ’n bedlê-, reëndag.
Pamela Jooste se Kaapse agtergrond kom duidelik na vore in haar boek. Die verhaal word vertel uit die oogpunt van ’n bruin 11-jarige meisie, Lily Daniels, in lang ononderbroke sinne so eie aan ’n kind. Dit vertel eerlik van die lewe van haar familie en gemeenskap. Die jong en ongekunstelde, hoewel wys-vir-haar-ouderdom, Lily woon in Distrik Ses waar sy beide swaarkry en vreugde ondervind.
Ander karakters wat dien as die uiteenlopende woldraadjies in die lappieskombers, is haar familielede en verskeie ander mense van haar gemeenskap: haar besonderse ouma, wie se blaf erger is as haar byt, haar hopelose dromer-oom, en haar nostalgiese, dog praktiese tante. Verskeie ander kleurvolle karakters in die gemeenskap, van ’n ou Joodsemusiekliefhebber tot “gangsters” en ’n arm weduwee in die “laer Vallei”, vorm ook deel van Lily se ragfyn wêreld.
Deur Lily se oë leer ons ook haar eens vervreemde, maar pragtige, moeilike en dinamiese ma ken. Na 11 jaar se afwesigheid uit haar dogter se lewe keer Gloria terug, vasbeslote om vir haar geliefdes te veg. Sy veg teen die gelykmaking van Distrik Ses, apartheid en bloot die onregverdigheid van die lewe. In die proses trap sy op baie tone en veroorsaak plofbare oomblikke. Die leser leer beide die jong en uiterlik koue Gloria ken; haar jongmeisie-liefde en drome. Sy verander in ’n deftige dame met ’n ysere wil en haar karakter dra hoofsaaklik die storielyn.
Wanneer verskeie skokkende gebeure, soos dood, ’n ongeluk en die wegtrek van ou bekendes, Lily se wêreld omkeer, word die leser diep geraak. Gloria en haar familie se goeie en slegte eienskappe word hierdeur uitgelig en karakterverandering vind plaas. Lesse van vergifnis en die belangrikheid van familie, wat soms verswelg word deur die harde werklikheid, het my as leser getref. Alhoewel dit soms soetsappig en prekerig kan voorkom, word lewenswaardes waarmee elkeen kan identifiseer, uitgelig.
Die lappieskombersboek raak gewigtige kwessies aan sonder dat dit te swaar leeswerk word. Die lewe onder apartheid bied uitdagings vir Lily en haar geliefdes, veral toe bekendes moet wegtrek as gevolg van die Wet op Groepsgebiede wat toegepas is. Lily se gunsteling-oom, James Scheepers, en sy vriende bied weerstand hierteen en word daarvoor gearresteer. Die stryd teen rasseskending, vir goeie onderrig en die uitleef van drome eindig onvervuld in sjebeens, dobbelary en “gangster”-bendes. Saam met die Kaapse Klopse en die dorre Kaapse Vlaktes dien dit as ’n kleurvolle agtergrond vir die intrige.
Die feit dat Gloria se storie deur Lily aan die leser voorgehou word, maak die lappieskombers knus en uniek. Jooste se vermoë om karakters te beskryf, nie deur lang beskrywings nie maar eerder deur hul dade en kenmerkende sêgoed, speel seker die kernrol om van haar boek ’n sukses te maak. Die uiteenlopende karakterbeskrywings dra swaar gewig in die boek.
Die verhaal is maklik om te lees en boeiend, maar die leser moet kophou met al die uiteenlopende karakters. Jooste maak gebruik van verskeie weefpatroontegnieke soos terugflitse, uitsteltegniek en merkwaardige karakterskepping. Haar vernuf as skrywer is nie net uniek en bewonderenswaardig nie, maar dien as ’n goeie leerskool.
Ek beveel die boek aan vir oud en jonk en is oortuig daarvan dat dit vir jou ’n waardering sal laat koester vir Suid-Afrika en sy diverse mense.
Vou gerus die lappieskombers om jou skouers en verbeel jou in ’n wonderwêreld in van vrolike Kaapse staaltjies, aanmekaargeflans met treffende intriges en kleurvolle karakters.
The post Jong lesers: <i>Dance with a poor man’s daughter</i> deur Pamela Jooste appeared first on LitNet.