Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1796

Hoë hakke met hoogwater deur Jacolet van den Berg: ’n boekbespreking

$
0
0

Hoë hakke met hoogwater
Jacolet van den Berg
Uitgewer: Kwela
ISBN: 9780795708183

Hierdie bespreking word aanbeveel vir lesers wat reeds die boek gelees het, aangesien sommige kinkels van die verhaal verklap word.

Hoewel Jacolet van den Berg reeds in 2008 begin skryf het, is dit in 2011 waar sy haar eerste spoor binne die Afrikaanse prosa agterlaat. In hierdie jaar loop dié oud-Vrystater met die louere weg toe sy die ATKV-Woordveertjie vir romanzas vir Lied in jou hart (LAPA) inpalm. ’n Hart vir stories het dié skrywer, wat ’n BSc-graad in Dieetkunde aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf het, beslis. Hiervan getuig die string Romanzas wat onverpoos die afgelope paar jaar uit haar pen voortvloei. Onder andere kan daar hier na Adam se Plan (2011) en Eva se Appel (2015) verwys word. Dit is egter in 2017 wat Van den Berg Hoë hakke met hoogwater as haar eerste vollengte roman publiseer. Wéér stel sy nie teleur nie.

Wat het ’n sorgelose surfer, ’n wulpse huisvrou en ’n gedienstige weduwee in gemeen? Op die oog af nie veel nie. Maar op ’n dag besluit die noodlot om dié oppervlakkige persepsie vinnig te verander. In ’n ou kombi word dit vinnig duidelik: Dalk is Simone nie so sorgeloos nie. Dalk skuil daar ’n weerloosheid onder die wulpsheid van Andrea. Dalk is Maggie na 19 jaar moeg daarvoor om die rol van mev Gedienstig en Gedwee te vertolk.

Want niemand bly altyd kop bo water nie. Veral as die water hoog raak. Op dié dag leer drie vroue een ding: Jy swem nie alleen in hoogwatergety nie. Jy pak hom saam met ander aan. Al is dit met hoë hakke en aanvanklik hinkepink.

Sewe jaar lank het sy na sy pype gedans. Was sy wat Anton Stander wou hê sy moes wees. Simoné Stander. Die mediese student. Maar na universiteit het Simoné genoeg gehad. Verby is die dae wat sy gehoorsaam wanneer Anton Stander sê: “Spring!” Sy vra nie meer: “Hoe hoog?” nie. Dit is eerder op die see waar sy haar hoë branders aandurf. Tussen son, see en strand is dan ook waar Simoné haar geluk uiteindelik vind. Binne The surf hub, haar en Zane se eie branderplankwinkel. Dis hiér waar Simoné haar droom leef. Of dis hoe sy aanvanklik dink. Maar na twee jaar moet Simoné een oggend ontdek: Die tyd het uitgespoel vir haar en Zane. Blindelings kies sy na dié ontdekking met haar kombi koers. Weg van die branderplankwinkel. Weg van Zane.

Dit is op die einste oggend wat Andrea en Henko hulself by McLeod’s Unbelievable Circus bevind. Vir Andrea word dit moeilik om die harde werklikheid langer te ontken. ’n Paar uur vantevore het Henko haar aan die keel gegryp. Vir die eerste keer na ’n afgesaagde roetine van sestien jaar van werk, kinders en slaap. Nou het die roetine duidelik sy tol geëis, is Andrea moeg van vloerlap wees en voel sy nostalgies oor ’n blikkerige kombi wat sy van veraf op die sirkusgronde sien. Toe sy en Henko getroud is, het hy immers vir haar een as trougeskenk gegee.

Sy vang nie onbesonne dinge aan nie. Nie sy wat Maggie is nie. Maar dit was voordat Karen Loock haar lewe ongenooid binnegewals het.  Want sekere geheime het ook net ’n rakleeftyd van 19 jaar. Nadat Maggie haar man se geheim na 19 jaar ontdek, klim sy in die turkoois kombi – min wetende dat die lewe daardie selfde dag ook nie die ander twee vroue in die turkoois kombi veel vriendeliker behandel het nie ...

Die roman begin belowend. Dit is veral die kleurvolle karakters en die eiesoortige intrige wat die aandag vinnig trek. Dit is immers nie elke dag wat ’n mens hoor van ’n hartseer vrou wat twee ander wildvreemde vroue in ’n kombi oplaai om dan doodluiters die aand op Bloubergstrand deur te bring nie. Die leser het ook nie hier te doen met ’n gevaarlike psigopaat wat haar tande in afwagting slyp om die een of ander bloederige ritueel op Bloubergstrand te gaan uitvoer nie. Nee, dit is die sonverbrande, fikse dr Simoné Stander. Tussen die koue vier mure van die hospitaal is egter nie waar Simoné beplan om die res van haar lewensdae te slyt nie. Tot groot ontsteltenis van haar pa is dit eerder by The surf hub en met haar branderplankrylesse waar sy kies om haar brood en botter te verdien. Dié ongewone en interessante keuse sorg van meet af aan vir ’n geskakeerde karakter en ’n unieke scenario wat die leser blitsig boei.

Reeds met die intrapslag maak ander karakters hulself ook moeiteloos voor die leser tuis. Vanaf bladsy een is dit veral die pittige beeldspraak en karakters se fyn waarnemingsvermoë wat dadelik aan die karakters ’n besondere vitaliteit verleen. In dié verband dien Anton Stander, die pa van Simoné, as sprekende voorbeeld. Wanneer Simoné die bultende aartjie langs haar pa se slaap in die begin beskryf, doem die intimiderende beeld van Anton Stander onwillekeurig voor die geestesoog van die leser op: ’n bombastiese man wat vereis dat sy dogter na sy pype dans. Tog was dit verfrissend om te sien dat Anton nooit as die spreekwoordelike genadelose patriarg uitgebeeld word nie.  Al heers daar ’n merkbare stram verhouding tussen hom en Simoné, erken sy dat niks vir haar pa op ’n skinkbord aangebied is nie. Ondersteunende ouers het ook by hom ontbreek. Reeds vanaf die begin is dit dus opmerklik dat karakters nié net op hul baadjies getakseer word nie.

Ironies genoeg val Zane, al verskil hy en Anton Stander soos dag en nag, in dieselfde kategorie. Simoné betrap vir Zane saam met Sandra op die strand. Maar dit stop allermins hier. Na twee jaar moet Simoné ook ontdek dat haar ongeslypte diamant se vingers bietjie langer is as wat hulle moet wees. Zane se twee groot misstappe bied op sigself vir die skrywer alle rede om hom vinnig tot die spreekwoordelike vark in die verhaal te verdoem. Dit sou die maklike uitweg wees. Tog is die voor die hand liggende uitweg nie die een wat Van den Berg kies nie. Hoewel Zane se dade en gedrag nooit goedgepraat word nie, word hy meer as die vark in die verhaal. Eerder raak hy ’n misterieuse soort afvlerkkarakter wat die leser partymaal moeilik vind om te peil. So sorg Van den Berg dat sy fassinerende newe-karakters skep wat die leser meer bied as wat op die bedrieglike oppervlak sigbaar is.

Dit is dan ook die hoofkarakters se interne konflik en voortdurende selfondersoek wat dié roman iets meer om die lyf gee. Nadat Zane en Simoné se paadjies skei, begin belangrike vrae ineens in haar binneste woed: Waarom gaan sy so min huis toe? Hoekom is daar so ’n  groot afstand tussen haar en haar ouers? Is dit werklik net haar pa se skuld? Wat wil haar pa regtig van haar as sy dogter hê? Maggie worstel self ook met ingewikkelde vrae waaroor sy moet duidelikheid kry: Was Jannie se dwalende oë te wyte aan haar? Wil sy werklik nog haar waardigheid na haar skokontdekking behou?

Verder was dit ook funksioneel dat die drie vroulike hoofkarakters elkeen so baie van mekaar verskil wat onder andere hul ouderdomme, waardestelsels en lewensuitkyk aanbetref. Hul verskille sorg plek-plek vir heelwat prettige oomblikke binne die roman. So moedig Simoné, met haar lewenslustige en borrelende lewensaard, byvoorbeeld vir Andrea en Maggie aan om elk met ’n bottel wyn in die hand vanaf die strand na die eilandjie oorkant te beweeg. (Andrea nog boonop met haar stiletto’s in die ander hand.) In dié toneel slaag Van den Berg om ’n bepaalde lewensvreugde en vryheid vernuftig vas te vang. Dít te midde van elke karakter se unieke seer.

Wat haar vernuftige aanslag aanbetref, beïndruk Van den Berg verder ook met haar oorspronklike beeldspraak. Toe sy met ’n traanbevlekte gesig op die sirkusgronde stilhou, dink Simoné byvoorbeeld dat sy soos ’n spook met ’n vinger in ’n plug lyk. In dié verband imponeer Van den Berg ook met haar kreatiewe aanslag. So dink Andrea byvoorbeeld die volgende: “Sy het genoeg gehad, sy is op die punt om te snap en sy het al haar selfbeheersing nodig om die pawpaw terug te hou, want dis ’n haarbreedte van die fan af.”

In die geheel beskou, is vrouwees en die ervaring van lewensteleurstellings prominente temas wat binne die roman figureer. Verder word die belang van ’n gesonde gesinstruktuur en hegte bande binne die familie ook van nader met ’n skerp oog betrag. Juis effektief binne-in die roman is dat daar uit verskillende perspektiewe, dié van Simoné, Andrea en Maggie, na hierdie temas gekyk word. Wanneer Simoné byvoorbeeld sin van Zane en sy gedrag probeer maak, dink sy aan die belangrike invloed wat ’n gesonde of ongesonde gesinstruktuur op die lewe van ’n kind kan uitoefen. Andrea herontdek ook die belang van hegtheid binne die familie wanneer sy vir die eerste keer in ’n lang tyd ’n besoek aan haar ouers, sowel as haar suster aflê.

Uiteenlopende perspektiewe word wel nie slegs tot temas en kwessies beperk nie. Van den Berg gebruik ook Simoné, Andrea en Maggie se waarnemings oor mekaar om die leser uit meer as een hoek na elkeen van hulle te laat kyk. Soms sal Simoné, Andrea of Maggie byvoorbeeld ’n terloopse opmerking oor die ander waag. Uit die aard van die saak bevat dié opmerkings dikwels waardevolle inligting vir die leser. Hulle laat die leser toe om elkeen van die karakters op ’n ander vlak te leer ken  – ’n vlak wat die karakter moontlik self nog nie ontdek het nie of doodeenvoudig net nie aan erkenning wil gee nie.

So merk Simoné byvoorbeeld op dat Andrea, ten spyte van haar noupassende jeans en parmantige stiletto’s, eintlik nogal weerloos is. Bietjie later sien Simoné ook iets breekbaar in die oë van Maggie. Maggie hoor weer op haar beurt dat Simoné se ligte toon in haar stem geforseerd is. Hier kyk Van den Berg met die nodige deernis na die vermoë van mense om te midde van hul eie seer steeds ook ander se pyn te kan raaksien.

Ten opsigte hiervan het karakters se vermoë om uit die bloute te verras ook dikwels opgeval. So verras die oënskynlike bleeksiel, Danté de la Harpe, met sy droë en eerlike mening oor die Simoné-situasie. Hy sê die volgende aan Simoné: “Ek het nie gesê jy het ’n identiteitskrisis nie. Jy wil heeldag op die strand lê. Dis oukei. Jy kan dit bekostig. Doen meeste ryk poppies dit nie maar terwyl hulle vir ’n ryk man wag nie?”

Op die man af en prontuit. Danté se eerlike mening vang vir Simoné, asook die leser, onkant. Veral in ag geneem dat Van den Berg juis Anton Stander se blue eyed boy gebruik om vir Simoné anders na haar omstandighede te laat kyk. Danté se ek-draai-nie-doekies-om-nie-benadering is egter juis geskik om self ook die leser ’n bietjie nuut oor die Simoné-situasie te laat dink.

Dit is ook sinvol dat Van den Berg plek-plek van innerlike monoloë gebruik maak om die leser dieper insig in elk van die drie vroulike hoofkarakters se psige te bied. Hoewel dié gedeeltes nie in eerstepersoon deurgegee word nie, bevat dié monoloë belangrike gewaarwordinge, verwyte en selfs onsekerhede wat afsonderlik binne Simoné, Andrea en Maggie woed. So dink Andrea byvoorbeeld die volgende wanneer sy oor haar en Henko se huwelik nadink: “Vir die eerste keer het sy besef dat sy hulle saamwees as vanselfsprekend ervaar het. Dat sy die klein dingetjies wat haar darem soos ’n vrou laat voel het, mis. Henko het tog soms dinge gedoen, al was dit op sy manier, om haar te laat voel hy soek haar. Flip, sy mis dat hy in die verbygaan aan haar vat, al is dit dan nou aan haar boude en het dit haar byna altyd irriteer. Sy mis dit dat hy haar staaltjies van sy dag vertel. Sy mis dat hy vir haar petrol gaan ingooi het, sonder dat sy vra, omdat hy weet sy haat dit om by die petrolstasie te stop en gewoonlik ry tot sy byna gaan staan.”

Doeltreffend hier is dat ’n ander dimensie van Andrea sigbaar word. ’n Dieper dimensie by ’n karakter wat ’n mens aanvanklik slegs aan die hoogte van haar stiletto’s en die grootte van haar borsmaat wil meet. Hoewel die innerlike monoloë dikwels karakters se diepste onsekerhede blootlê, was dit opmerklik dat dié gedeeltes steeds besonder lekker lees. Dit is juis omdat Van den Berg daarin slaag om die karakters nie binne ’n poel van selfbejammering te laat wegsink nie. Al maak hulle hul diepste begeertes en onsekerhede bekend, word dit nooit ’n oordrewe sentimentele of soetsappige affêre nie. Eerder behou sy steeds ’n tong-in-die-kies en simplistiese aanslag wanneer karakters hul dieper gevoelens blootlê.

Inhoudelik is daar tog spesifieke gevalle waar die geloofwaardigheid van gegewens bevraagteken kan word. Myns insiens is dit te betwyfel of iemand regtig net mense regs en links sal oplaai – veral in ag geneem dat Simoné ’n uur of twee vantevore nog net op haar ouma se bed wou gaan lê en huil. Om in so ’n reddelose en ontnugterde toestand dan ewe skielik nog genoeg energie vir algehele vreemdelinge oor te hê, is ietwat vergesog.

Van den Berg se moeite om te verseker dat die toneel op Bloubergstrand (nadat Simoné vir Andrea en Maggie opgelaai het) met oortuigende hale vir die leser geskets word, is wel opgemerk. Op Bloubergstrand sukkel die karakters aanvanklik om gepaste woorde te vind om mekaar te troos. Aangesien Simoné, Andrea en Maggie eintlik in die toneel as wildvreemdelinge teenoor mekaar staan, is hul onbeholpenheid om mekaar te troos geloofwaardig. Die “ongemaklike stiltes” wat tussen hulle heers, oortuig ook. ’n Mens het immers nie noodwendig altyd iets te sê vir iemand as jy hom/haar pas ontmoet het nie.

Wat inhoudelike kritiek egter verder aanbetref, het die volgende gedeelte, geskryf asof uit die perspektief van Simoné, ook gepla: “Ineens lyk Andrea meer mens vir Simoné. Dis asof sy op ’n manier wie sy is met die stiletto’s wegsteek, maar kaalvoet haar skanse laat sak.” (p52) 

In dié gedeelte trek Andrea haar stiletto’s uit en staan dan kaalvoet saam met Simoné en Maggie op die strand. Hierdie toneel speel af op Bloubergstrand – die dag toe Simoné, Andrea en Maggie die eerste keer met mekaar kennis maak. In hierdie verband is dit wel waar dat Andrea haar hemelhoë stiletto’s gebruik om iets van haar eintlike weerloosheid en broosheid weg te steek. Tog is dit iets wat Simoné en Maggie, eers namate die roman vorder, geleidelik ontdek. Daarom is dit onrealisties dat Simoné al op bladsy 52 tot dié wonderbaarlike insig kom. Eerstens ken sy nog glad nie regtig vir Andrea nie en tweedens het Andrea pas haar skoene uitgetrek. Gevolglik het Simoné nog nie eers die kans gehad om werklik vir Andrea sonder haar stiletto’s te leer ken nie. (Op dié punt is hulle drie nog nie eers saam oor die eilandjie nie.) Problematies dus is dat die alomteenwoordige verteller háár kennis reeds veels te vroeg op Simoné af forseer.

By tye word dit ook effe hinderlik dat dieselfde gedagtes en uitdrukkings gedurig woordeliks herhaal word. Die leser word net té dikwels ingelig dat Andrea ’n vloerlap in haar eie huis geword het en dat Maggie so gedienstig en waardig in haar huwelik van 19 jaar was.

Ek het ook soms ook swaar daaraan gesluk dat die “waardigheidsbeginsel” so dikwels oorspeel word.  In die roman kom die gedagte sterk na vore dat ’n vrou steeds haar waardigheid na ’n krisis moet behou.  Heel voor in die roman word die volgende gedeelte uit Spreuke 31:25 (in Engels) aangehaal: “She is clothed with strength and dignity, and she laughs without fear of the future.” Komende uit Spreuke is die waardigheidsbeginsel mooi en ook stewig gegrond. Tog word die gedurige verwysings na die behoud van waardigheid binne die roman later te opsigtelik en ook steurend. Indien minder gebruik, sou die “waardigheidsbeginsel” meer van sy oorspronklike trefkrag deurlopend behou het.

Die kortstondige liefdestoneel tussen Maggie en Wynand is ook nie strategies goed geplaas nie. Al was Maggie op die einste aand emosioneel gedreineer, was dit moeilik herkoubaar dat sy in ’n man se arms val wat keer op keer haar man se buite-egtelike verhouding probeer verdedig – nog slegs ’n paar minute vantevore word daar pertinent genoem dat sy min beïndruk met Wynand se voortdurende verdediging was. 

Aan die begin beïndruk die roman met sy oorspronklike inslag en interessante karakters. Aanvanklik is dit ook moeilik om te bepaal waarheen dié verhaal nou eintlik gaan lei wat vir ’n lekker onvoorspelbare element sorg. Ongelukkig wou dit later blyk asof die intrige effe afgewater raak en iets van sy onvoorspelbare element inboet. Tog is Hoë hakke met hoogwater in die geheel ’n aangename leeservaring met optimale karakterontginning en die uiteenlopende perspektiewe op menswees en temas as sterkpunte.

Ten slotte is Van den Berg se eerste vollengte roman ’n genotvolle een waar die belang van ’n gesonde gesinslewe, hegte families en lojale vriendskappe voorop geplaas word. Die suksesvolle integrering van bogenoemde drie aspekte werk dan ook daartoe mee om ’n verrassende skoonheid en diepte aan die verhaal te verleen. Die roman word aanbeveel vir veral vroulike lesers wat hou van lekkerlees-literatuur met iets meer om die lyf.

The post <i>Hoë hakke met hoogwater</i> deur Jacolet van den Berg: ’n boekbespreking appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1796


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>