My storie van hoop
Hykie Berg
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796320551
Hykie moes ’n boek skryf. En ek moes die boek klaar lees, want ek was so bang dit het nie ’n gelukkige einde nie. Eintlik wil ek die hasepad kies as ek ’n hoop-storieboek moet lees, want dis gewoonlik ’n bietjie grillerig. Hykie het nie teleurgestel met die einde nie, hoewel ek hier in die middel rond getwyfel het: my ore en oë het omtrént getuit, want ek het nog nooit in my lewe so ’n stoutgat teëgekom of van een gehoor nie: hy doen dinge rêrig in die oortreffende trap. Tog het hy so ’n vars manier om dinge te stel dat ek soms wou hardloop om ’n potlood en papier te gaan haal om my eie notas te maak, boekblaaihoekies om te vou om die bladsy te onthou en hier en daar ’n traan weg te pink.
Glo jy in duisendste kanse? Van opstaan en voortbeur, liefde vind en ’n God soek wat wag en langs jou loop? Dit is Hykie se storie. ’n Ware inspirasie. Ek was saam met hom in die hole van Hillbrow en het saamgesoek na die volgende rand vir sy heroin fix. Dit was ’n hand-na-die-mond-ervaring: ’n rotwieletjie waar die lig nie kom nie en die liefde nie is nie. Dan verstaan ek beter hoe dit is om so vasgevang te wees in ’n tonnel waar die enigste hoop is: iemand wat jou teen alle gesonde verstand en denke in kan liefhê en ’n hand na jou toe kan uitreik: in jou sien wat waaragtig nie op daardie stadium in jou lewe manifesteer nie.
Dit het my laat dink aan die probleme van ons land in Suid-Afrika: hoë werkloosheidsyfers, mense wat hoop soek in bottels en hole met tik en dagga, mense sonder rigting. En ek wens ek kan in elkeen se hand ’n Hykie-hoopboek stop sodat hulle kan lees van die ander kant en dat dit 12 baie presiese nuanses van stappe kos om die lig te sien. Vir ouers en mense wat in staat is om liefde te gee (al is dit al wat dit is) om gemeenskappe weer heel te maak sodat die stukkend weer heel kan raak, mense hulle passies en roeping op die aarde kan vervul.
Nou verstaan ek beter van tieners wat beur, skop en skree met uitdagende gedrag en vir aandag vra. Dis baie moeilik om die rebelle lief te hê, en tog, as hulle omdraai, raak hulle die leiers en fondamente waarop ’n hele gemeenskap en volk hulle toekoms kan bou. Louwarm is nie goed genoeg nie, halfpad is nie ’n opsie nie. Dit is mense met passie en ’n behoefte om voluit te gaan: of dit nou is vir dwelms of ’n doelgerigte lewe saam met God.
Jy het jou Oscar, Hykie: dis mense wat jou op die hande dra en weer in jou glo, dis verhoudings wat herstel is en jy wat as ’n leier, briljante skrywer en spreker die wêreld om jou gaan heel maak juis omdat jy die ander kant gesien het en verstaan wat dit is om bewustelik die lewe te kies.
The post <em>My storie van hoop</em> deur Hykie Berg: ’n resensie appeared first on LitNet.