Netwerk24 in samewerking met NB-Uitgewers en PEN Afrikaans het onlangs twee resensiekursusse aangebied. Alta Cloete het die Kaapse kursus bygewoon en deel haar indrukke van Alles begin met Anna – ’n opdrag wat sy voor haar bywoning van die kursus moes skryf. Lees ook Liné Enslin se indrukke van dié boek.
Alles begin met Anna
Annemari Coetser
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798176170
Dis nie enige skrywer wat suksesvol tussen genres kan beweeg nie. Annemari Coetser kry dit uitmuntend reg. Alles begin met Anna is ’n opwindende toevoeging tot haar uiteenlopende lys publikasies, wat benewens romans vir volwassenes ook ’n jeugverhaal, kinderversies en verskeie kortverhale insluit.
Die verhaal volg die lewensloop van verskeie karakters met die naam Anna, wat soms ietwat verwarrend kan wees. Aanvanklik word die storie afwisselend uit die perspektief van Anna Nienaber en haar dogter Poppie (ook Anna) vertel. (Poppie het ook ’n sussie Anna, wat vir haar ’n moederfiguur word by afwesigheid van haar werklike ma.) Dié gemaklike vertelritme word egter onverwags verbreek wanneer Poppie se pa se verhaal en dié van haar uiteindelike geliefde ook bygebring word. Die suksesvolle opbou van spanning in die eerste deel van die verhaal word hiermee verbreek.
Die leser kan hom afvra of nog ’n weergawe van die bekendste gebeure van die Anglo-Boereoorlog en Tweede Wêreldoorlog werklik ’n doel dien. Aan boeke oor dié twee oorloë is daar immers in Afrikaans geen tekort nie. Die groot veldslae van veral die Anglo-Boereoorlog is al oor en oor in die Afrikaanse literatuur geveg. Die bevestigende antwoord lê in heelwat besonderhede wat vir lesers nuut kan wees. Die belewing van die twee broers in ballingskap op Ceylon en die opleiding van die latere vrywilliger in die Tweede Wêreldoorlog voor sy ontplooiing in Noord-Afrika is voorbeelde hiervan.
Een van die sterkpunte van die roman is die manier waarop die ouwêreldse atmosfeer vasgevang word deur die gebruik van outydse taal, asook beskrywings van die omgewing en sosiale gewoontes. Dit skep ’n outentieke atmosfeer wat aan die roman ’n besondere bekoring gee.
Die lyding wat oorlog veroorsaak, en veral die lyding van soldate se geliefdes, word ’n sterk tema wat deurgaans na vore tree. Telkens is dit die vroue wat die manlike geslag se geneigdheid tot oorlog bevraagteken en wens daar kon alternatiewe gevind word. Die ouer Anna beleef die trauma van ’n konsentrasiekamp asook die swaarkry na die oorlog. Die jonger Poppie leef in die tyd van die opkoms van Afrikanernasionalisme en word telkens verskeur tussen die uiteenlopende sienings van die mans in haar lewe en hulle geneigdheid om klakkelose navolging van haar te verwag.
Die belangrike manlike karakters wat in die oorloë betrokke is, word nie noodwendig as groot helde uitgebeeld nie. Die eerste gewonde (Laatste Steenkamp) het sy wond op ’n besonder nieheldhaftige manier opgedoen. Wanneer die Anglo-Boereoorlog sloer, keer die swaers terug huis toe en is nie besonder gretig om weer te gaan veg nie. Dit is dan eintlik die vroue wat hulle oorreed om weer te gaan. Die jong Anna (Poppie) se vriend bely later dat hy nie oortuig is van die meriete van die Tweede Wêreldoorlog nie en dalk selfs ’n verraaier sou kon wees. Die oorloë word ook nie as skouspelagtig en vol avontuur uitgebeeld nie. Afgesien van die beskrywing van veldslae, word telkens van die gesloer, die lang wagtye en die ewige administrasie melding gemaak.
Die tweede belangrike tema is die kwessie van geestesiektes en die stigma wat destyds (vroeg in die 20ste eeu) daaraan gekleef het. Hierdie tema loop subtiel maar dodelik deur die hele verhaal en beïnvloed uiteindelik al die belangrike karakters se lewens. Die ouer Anna se verhaal spreek van die lyding van ongelukkiges wat as “mal” gesien is en destyds eenvoudig uit die samelewing verwyder is. Die gevoel van verwerping wat Poppie ervaar weens die gebrekkige en foutiewe inligting oor haar ma se toestand, gooi ’n skadu oor haar ganse lewe. Anna se verhaal en die invloed op haar kinders is ’n skreiende voorbeeld van die skade wat stilswye en onkunde in mense se lewens kan veroorsaak.
Die harde werklikheid is natuurlik dat hierdie stigma vandag steeds tot ’n groot mate aan psigiese siektes kleef. Hoewel spesifieke toestande soos depressie, bipolariteit en skisofrenie vandag met meer openlikheid in die pers aangespreek word, is daar baie ander toestande wat steeds onder die mat ingevee word. Die werklikheid van baie psigiatriese pasiënte is steeds ’n kille, ongenaakbare werklikheid. Niemand hoef herinner te word aan die onlangse dood van ’n groot aantal van hierdie pasiënte nie. Dit bly ’n aanklag teen die samelewing sowel as die gesondheidsdienste van die land. Die destigmatisering van psigiese siektes is steeds ’n groot dringendheid in ons samelewing.
Die grootste waarde van hierdie roman lê in die oopskryf van die lyding en psigiese ineenstorting van ’n enkeling en die langdurige uitwerking daarvan op haar nasate. Dis ’n tragiese verhaal, ja, maar dis eintlik verfrissend dat ’n stoere Boervrou in haar menslike swakheid uitgebeeld word. Die trefkrag word oneindig verhoog wanneer die leser besef dis geen blote verhaal nie, maar dat die roman op die werklikheid geskoei is. Deur die jare het ons immers oorgenoeg gelees van Boervrouens wat die lyding van die Boereoorlog en die swaarkry daarna stoïsyns deurstaan en anderkant uitgekom het. Alles begin met Anna toon dat hierdie vroue ook net mense was vir wie die vrag soms te swaar geword het.
Alles begin met Anna is ’n welkome toevoeging tot Afrikaanse ontspanningsfiksie vir lesers wat toeganklike, maar oortuigende leesstof soek. Dit word sterk aanbeveel.
The post <i>Alles begin met Anna</i> deur Annemari Coetser: ’n lesersindruk deur Alta Cloete appeared first on LitNet.