Swanesang: Die einde van die Kompanjiestyd aan die Kaap 1771–1795
Karel Schoeman
Protea Boekhuis
EAN: 9781485300984
In die afgelope paar jaar het ’n aantal uitstaande publikasies oor die nedersetting aan die Kaap in die 18de eeu die lig gesien en hierdie “swanesang” is ’n gepaste afsluitingsverhaal uit die pen van ’n befaamde verteller met ’n ensiklopediese kennis van ons vroeë geskiedenis. Hierdie is deel 8 van die reeks Kolonie aan die Kaap. Die skrywer se verteltrant en vermoë om talle klein verhale en gebeure aaneen te skakel en verwantskappe tussen mense aan te dui, het my as leser so betrek en geboei dat ek die verhaal intens beleef het.
Die vertelling begin in 1771 met die dood van Rijk Tulbagh en die tydelike aanstelling van baron JA van Plettenberg in afwagting op die aanstelling van ’n permanente goewerneur deur die Here XVII. Die persoon wat aangewys word, baron Pieter van Reede van Oudtshoorn, het vroeër reeds 25 jaar aan die Kaap diens gedoen. Die meeste van sy 13 kinders is aan die Kaap gebore en sommige van hulle het nog daar gewoon en gewerk. Op die skip De Azië, waarmee die baron en sy gevolg na die Kaap gekom het, het siekte uitgebreek en Van Reede was een van dié wat gesterf het. Sy lyk is in ’n loodkis verseël, formeel aan land gebring en met gepaste seremonie in die Groote Kerk ter ruste gelê. ’n Uitgebeitelde grafsteen beskerm steeds een van die buitemure van die Groote Kerk. Hierdie onverwagte sterfte was toevallig die begin van die einde van ’n tydperk.
Die hoofstuk “Verkenning” is werd om gelees te word deur enige persoon op soek na geskrifte aangaande die vroeë nedersetting aan die Kaap. Hier vind mens verwysings na die werke van ontdekkingsreisigers, wetenskaplike en ander besoekers aan die Kaap wat met groot insig en sorg bespreek word.
In hierdie werk slaag die skrywer in ’n besondere mate daarin om die veelvuldige faktore wat die nedersetting aan die Kaap – op daardie stadium ’n uithoek van die wêreld – beïnvloed het, aan te dui. Die vernuwing van denke in Europa en Noord-Amerika oor kolonies en die regte van koloniste het ook aan die Kaap inslag gevind en die “revolusionêre” denke uit Europa se waardes het ook hier weerklank gevind. Oorloë, revolusies en nuwe politieke bedelings het aan die Kaap ook sigbaar geword met die skielike aankoms van vreemde leëreenhede om die Kaap “te help beskerm” teen moontlike aanvalle deur “die vyand”, wie dit ook al mog wees. Kapenaars is hierdeur bewus gemaak van die strategiese posisie van hul eensame en moeilik-verdedigbare nedersetting. Die ekonomie is so gestimuleer deur hierdie aansienlike byvoeging tot die bevolking dat die leefwyse (veral dié van die blankes) verander het. Hierdie verandering van gedragspatrone en mores, met daarmee saam ’n toename in statusbewustheid, het die reël geword, sodat daar gepraat is van die “Kaapse Parys”. Dit was wel ’n oordrywing, maar daar was duidelike morele verval.
Na die Britte se roemlose uittog uit Noord-Amerika het hul Oos-Indiese Kompanjie vir hulle al hoe belangriker geword, en daarmee saam die Kaap as ’n moontlike nuttige Britse besitting. Intussen het die VOC magteloos agteruitgegaan en die oorlog van 1793 tussen Frankryk en Nederland het die einde beteken van die Nederlandse Republiek en ook van die VOC.
Die Britte se eerste besitname van die Kaap word weer eens deur die skrywer op sy eie besondere manier vertel met ’n helder insig in die bedrog van Britse kant, die verraad, onbeholpenheid, afguns en verwaandheid aan die kant van die verdedigers, en ook klein juwele van dapperheid en verset wat onthou word uit die verhale van mense en gebeurtenisse. Dit moet gelees word om na waarde geskat te word en kan eintlik nie betekenisvol opgesom word nie.
Willem Ferdinand van Reede van Oudtshoorn, seun van die goewerneur wat op pad na die Kaap gesterf het, het te alle tye die Kaap eerste gestel, nooit verengels nie, maar mettertyd vereensaam, en het in 1822 gesterf as een van die laaste verteenwoordigers van die Nederlandse adel aan die Kaap.
Op bl 462 sê die skrywer: “Waar die gebeure van hierdie tyd terugblikkend so onherroeplik en finaal lyk, is dit moeilik om in gedagte te hou hoe onseker selfs die mees finale reëlings in daardie era van revolusie en oorlog werklik was.”
The post Swanesang deur Karel Schoeman: ’n FMR-resensie appeared first on LitNet.