Quantcast
Channel: Resensies - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 1813

Die Poort: Krygers deur Nelia Engelbrecht, ’n resensie

$
0
0

Die Poort: Krygers
Nelia Engelbrecht
NB-Uitgewers
ISBN: 9780624077565

Reeds in 2007 debuteer Nelia Engelbrecht as kinder- en jeugboekskrywer met Alicia en die Zitstappers en sedertdien het sy geen bekendstelling meer nodig nie. Haar jeugboeke en liefdesverhale vir tieners is opwindende en broodnodige toevoegings tot die Afrikaanse fiksiemark.

Gedurende 2016 verskyn die eerste in ‘n fantasievierluik uit Engelbrecht se pen. Die Poort: Bewakers is ‘n behoorlike lusmaker en ‘n belofte vir nog ure se meesleurende leesgenot in opvolgtekste wat realiseer in Die Poort: Reisigers (2016), Die Poort: Helers (2017) en nou ook Die Poort: Krygers in ‘n reeks wat duidelik-herkenbare ooreenkomste toon met gewilde internasionale reekse soos die Twilight-sage van Stephenie Meyer, JK Rowling se Harry Potter en selfs met Tolkien se Lord of the rings en The Hobbit. Soms word daar wel in die teks na hierdie reekse verwys, maar dit is nie vir die leser moeilik om self parallelle tussen die onderskeie reekse te herken nie.

In hierdie finale aflewering van die avonture van die jong Bewakers bevind Kali Theron en haar vriende hulle in ‘n Middeleeuse kasteel in Ierland, waar hulle moet leer om hulle magte en kragte te beheer. As sterk vroulike hoofkarakter ontwikkel Kali tot ‘n gedugte leier van die groep en staan sy nie ‘n tree terug vir enige vyand nie. Veral nie nou dat haar superkragte in oortreffende trap aanmeld nie. Die “merke” op haar lyf brand en gloei by die teenwoordigheid van gevaar en haar oë glim pers wanneer woede ‘n “wit lig” in haar word wat “by elke sweetgaatjie uitbars”. Behalwe dat sy vreemde tale soos Mitigons verstaan, haal Kali onder water asem, “heel” sy beserings aan haarself en aan ander met yssplinters wat uit haar vingers flits, en ... wait for it ... sy vlieg. Nie soos Superman wat skielik die bloute in opwip nie; nee, sy vlieg as Chikawa, haar totemdier, die arend.

Behalwe dat hulle mekaar se gedagtes kan lees en sodoende in die geheim kan kommunikeer, is elk van die Nuweling-Bewakers verbind aan ‘n oernatuurkrag. Kali s’n is vuur, Tara s’n is lug, Leonardo s’n is water, en tot haar ontsteltenis is Nomsa s’n grond. Die belangrikste supermag van Kali-die-Kryger, Leonardo, die slim, arrogante, maar sjarmante Italianer, Tara die Ier en Nomsa, die Afrika-koninklike, is egter dat hulle kan reis. Op verskillende maniere en uit verskillende situasies kan hulle plaaslik op aarde (Gaia) van plek verwissel en deur middel van die Portaal rondreis, maar hulle kan ook deur ‘n Poort gaan en sodoende (met behulp van hulle magte en kragte) ongesiens op Planeet Mitigon tussen die Ander gaan rondsluip.

Soos in die vorige drie boeke in die reeks is daar opnuut in hierdie finale toevoeging ‘n hele string naelbytkonfrontasies met die Ander. Veral wanneer die bewoners van Mitigon vir Zak ontvoer en Kali en haar groep Bewakers hom moet gaan terugsteel. Verder los hulle ook talle raaisels op, soos dié van die verdwynende vroue, en hulle uitoorlê die slinkse Chanda-Mundia en sy trawante, selfs daar op die vyand se eie tuisplaneet.

In die liefdesdriehoek tussen Kali, haar kindervriend, die aantreklike Zak, en die vurige Italianer, Leonardo, kom die seksuele ontwaking van die tienerkarakters in ‘n warboel van komplekse gevoelens en verlangens ter sprake. Die intensiteit waarmee elkeen van die jong gemoedere hierdie emosies ervaar en die eise wat dit aan hulle onderlinge vriendskappe stel, word met deernis en begrip aan die leser weergegee. En “shitters” is die taalgebruik in hierdie boeke nie lewensgetrou en uiters oortuigend nie! Die natuurlikheid en gemak van die tipiese tienerdialoog tussen die karakters maak hierdie boeke uiters toeganklik vir die jong leser.

Tieners lees dikwels eerder Engels as Afrikaans, waarskynlik omdat die genres wat hulle verkies (soos fantasie, wetenskapfiksie en futuristiese verhale), nie geredelik in Afrikaans beskikbaar is nie. Juis om hierdie rede is die Poort-reeks so ‘n lekkerlees- en uiters waardevolle toevoeging tot die fantasiegenre in Afrikaans.

The post Die Poort: Krygers deur Nelia Engelbrecht, ’n resensie appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 1813


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>