Titel: Baas Baba
Skrywer: Marla Frazee
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485307211
Hierdie prenteboek bring ’n ietsie ekstra na die kinderkamer benewens net blote vermaak. Baas Baba (2016) probeer op ’n grappige manier die koms van ’n nuwe baba in die huis aankondig.
Die skrywer, Marla Frazee, is afkomstig van Amerika en illustreer self die boek. Sy het al vele pryse vir haar werk ontvang, soos die Boston Globe Horn-boekprys vir ’n prenteboek, en is op die New York-topverkoperlys vir haar Clementine-reeks. Van haar ander werk sluit in A couple of boys have the best week ever (2008) en The farmer and the clown (2014).
Baas Baba is uitstekend vertaal deur Amelia de Vaal en sy transponeer dit effektief uit die oorspronklike teks.
As daar enige spesifieke kritiek gelewer moet word teenoor die teks, is dit slegs ’n enkele beswaar, spesifiek vir ’n Suid-Afrikaanse konteks: die geel New York-taxi waarin Baas Baba arriveer, is ’n bietjie verwyderd van die Suid-Afrikaanse konteks. In Suid-Afrika sou ’n taxi bietjie gevaarlik wees vir selfs die Baas Baba. Dit behoort egter nie die leser en kind te veel te pla nie, omdat New York se geel taxi’s ikonies is en dus nie verwarring behoort te skep nie.
Die illustrasies is groot en waarskynlik met potlood en waterverf gedoen. Die karakters staan uit teen die agtergrond en die algehele bladuitleg is nie te besig nie.
Baas Baba is ’n lekker tong-in-die-kies boek vir toekomstige mammas, veral as daar ’n boetie of sussie betrokke is.
Hierdie eenvoudige prenteboek kan as satiriese kommentaar en ’n parodie van ouerskap beskou word.
Eerstens is die satire ’n gevestigde skryfvorm wat uit die Romeinse tyd dateer, waar Horatius se werk ’n goeie voorbeeld is. Horatius se tipe satire is vriendelik en handel nie onder die verstandhouding dat die mens van nature boos is nie, maar dat foute geremedieer kan word (Pretorius 2013a). Sy humor is aangenaam en vriendelik en dryf wel die spot met dwaashede, maar nie met kwade motivering nie (Pretorius 2013a). Hierdie tipe satire wil eerder oorreed as oordeel, en is ’n goeie voorbeeld van die verskil tussen “ek lag vir jou” en “ek lag saam met jou” (Pretorius 2013a).
Baas Baba raak al die frustrerende aspekte van ouerskap op ’n humoristiese manier aan, maar sonder om negatief te wees.
Satire kan in drie hoofvorme gegroepeer word: monoloë, parodieë en verhalende of dramatiese vorm. Baas Baba kan as beide ’n monoloog en ’n parodie beskou word, omdat die verteller die storie aan die leser vertel, maar hy bly onbetrokke.
Die satire is dus ’n manier om kommentaar te lewer op menslike dwaashede of wanpraktyke deur die subtiele gebruik van humor en ironie. Die parodie is in hierdie spesifieke boek die tegniek van keuse.
Die parodie dui oorspronklik op ’n lagwekkende nabootsing van ’n bekende, ernstige gedig (Pretorius 2013b). Die verskynsel behoort oorspronklik tot die digkuns, maar is ook ’n algemene stylverskynsel binne die postmodernisme.
Binne die raamwerk van die satire het die parodie ’n dubbele taak: om met die oorspronklike teks te spot en dit terselfdertyd te herskryf en te herdefinieer (Hambidge 1995:19; Pretorius 2013b).
Baas Baba kan moontlik kommentaar lewer op die tradisionele bababoeke of stereotiepe kinderboeke wat handel oor ’n nuwe baba in die huis of oor waar babas vandaan kom. Hier kan verwys word na die ooievaarnarratief wat tot ’n mate sprokiesagtig is, maar in dié verhaal kom die baba self met ’n taxi en ’n aktetas by die huis aan.
Hierdie herkontekstualisering en herskrywing maak die volwasse leser (of voorleser) bewus van die geykte manier waarop die onderwerp hanteer word. Dit verskaf daarom meer diepte aan wat met die eerste oogopslag as net nog ’n prenteboek oor babas beskou sou word.
Die herkontekstualisering van ’n baba wat, soos ’n belangrike sakeman, met ’n taxi by sy nuwe gesin aankom, is ironies en snaaks. Dit kan as satiriese kommentaar op ouerskap beskou word, sonder om aanstoot te gee. Die parodie word ingespan om kritiek te lewer op hoe die onderwerp van ’n nuwe gesinslid tradisioneel hanteer word.
Baas Baba skep ook die geleentheid vir ouers om die gesprek oor ’n nuwe gesinslid met ’n boetie of sussie aan te knoop.
Beslis ’n oulike prenteboek wat goed transponeer uit ’n ander konteks en taal vir die Afrikaanse kleuter.
Bibliografie
Hambidge, J. 1995. Postmodernisme, Pretoria: JP van der Walt.
Pretorius, R. 2013a. Literêre Terme en Teorieë. Beskikbaar aanlyn: http://www.literaryterminology.com/index.php/25-s/320-satire1 [Afgelaai op 8 April 2017]
—. 2013b. Literêre Terme en Teorieë. Beskikbaar aanlyn: http://www.literaryterminology.com/index.php/trefwoordelys/33-p/161-parodie [Afgelaai op 8 April 2017]
The post Baas Baba deur Marla Frazee: ’n resensie appeared first on LitNet.